BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 30 Augustus 2014

WATTER KERK?

- waar moet ek my verantwoordelikheid in die liggaam van Christus nakom?






Met ons onlangse vinnige kuiertjie op die skilderagtige kusdorpie Lüderitz het hierdie drie kerkgeboue by een kruising my nogal opgeval: 






Roomse kerk, Lüderitz.










Charismatiese "sentrum", Lüderitz. (die woord "kerk" klink seker te outyds!)






NG Kerk, Lüderitz.








Juis omdat hierdie drie aanbiddingsplekke die drie hoofstrome in die kerklike wêreld verteenwoordig was dit nogal opmerklik. Wat bedoel ek met hoofstrome? Basies is daar drie uiteenlopende benaderings ten opsigte van normatiewe gesag. Normatiewe gesag gaan oor die vraag wat ons basis en norm is vir leer en lewe. Wat is die gesag wat bepaal wat ons glo en hoe ons lewe? Beide is immers van groot belang, soos Paulus vir Timoteus herinner : “Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister.” (1 Timoteus 4:16)

Die drie hoofbeskouings* oor die bron en standaard van gesag is eenvoudig gestel :

Die Woord plus kerklike tradisie. Dit is breedweg gesien die Rooms Katolieke posisie. Hulle erken die Skrif as bron van gesag, maar daarmee saam ook kerklike tradisies wat oorgelewer is. Daarom onderskryf hulle leerstellings wat geensins vanuit die Bybel gefundeer kan word nie soos die sogenaamde onbevlekte ontvangenis en hemelvaart van Maria.

Die Woord plus subjektiewe ervarings. Breedweg (en in verskillende grade) word hierdie benadering geassosieer met die Pinkster en Charismatiese groeperings. Die Bybel word as bron van openbaring erken, maar in praktyk word baie leerstellings en gebruike gebou op ervarings soos visioene, drome, "besoeke aan die hemel" en profesieë. Hierdie subjektiewe fondasie skemer ook sterk deur in geykte frases soos : “Die Here het vir my gesê.” Bybeltekste word wel kwistig aangehaal, maar dikwels op die klank af en buite konteks.

Die Woord alleen. Dis breedweg die Gereformeerde sienswyse en kom van die Reformatoriese wekroep van Sola Scriptura. (die Woord alleen) Hiervolgens is slegs die Bybel, die finale skeidsregter in leerstellige sake (leer) en kerklike en persoonlike praktyk (lewe). Met Woord alleen word nie 'n rasionalistiese benadering bedoel nie. Die Woord is die instrument in die hand van die Heilige Gees. Sonder die verligting van die Gees kan ons nooit die Woord reg verstaan nie.

Jy sal oplet dat ek telkens die woord “breedweg” gebruik het. Dis omdat hierdie indeling wel nuttig is, maar tog ook mank gaan aan oorvereenvoudiging veral as mens na die verwarrende kerklike toneel rondom ons kyk. Hou daarom die volgende in gedagte :

Binne hierdie groepe is daar groot verskeidenheid en ons moet baie versigtig wees om andere oorhaastig te etiketteer (of te oordeel). Dis moontlik dat ‘n kerk met ‘n amptelike gereformeerde belydenis lankal nie meer in die praktyk erns met die Skrif maak nie. Ja, selfs die Heilige Skrif se betroubaarheid en gesag bevraagteken en dus net in naam nog die Bybel as bron van gesag beskou. Aan die ander kant kan lidmate van Roomse of Charismatiese gemeentes dalk baie groter erns maak met die boodskap van die Bybel. ‘n Mens kan lankal nie meer net volgens kerkname gaan om ‘n plaaslike gemeente te beoordeel nie. Veral in groot denominasies soos die NG Kerk word daar ‘n wye verskeidenheid van benaderings geduld en vind mens dus in een kerkgenootskap die volle spektrum van Skrifbeskouings (en verdraaiings). Omdat leertug iets is wat bykans uitgesterf het, beteken dit dat elke plaaslike gemeente maar sy eie benadering volg, wat in hoofsaak deur die dienende leraar van daardie gemeente bepaal word.

Ons moet ook erken dat selfs in gemeentes wat oënskynlik erns maak met die Woord as enigste norm, daar dikwels ‘n onvermoë en onwilligheid is om te buig voor die boodskap en eise van God se Woord. Die liefde vir geld en populariteit en die vrees om vir Jesus te ly, maak so maklik dat ons blind bly vir duidelike waarhede van die Woord! (Dink maar aan die vereiste van die heiligheid van die kerk en sake soos opsig en tug.) Dis inderdaad tyd vir elke gemeente wat die Woord as onfeilbare norm bely om die hand in eie boesem te steek en onsself af te vra of ons nog die Woord gehoorsaam.

Kerke wat duidelik die Roomse tradisie as bron van gesag verwerp, glo self dikwels in praktyk dinge wat nêrens in die Skrif staan nie, maar eerder gebou is op hulle eie “tradisies”. Beide Gereformeerde en Charismatiese kerke maak hulle hieraan skuldig! Dink aan sienings oor verbondsoutomatisme, geestelike oorlogvoering (gebiedsgeeste?), die ken van God se wil deur allerlei "divinasie praktyke"... en baie ander gebruike en "heilige koeie" wat nie eerlike Skrifondersoek kan slaag nie!

Baie Protestantse Christene wat staan by Sola Scriptura het prakties gesproke in skreiende individualistiese hoogmoed verval, waar daar weinig respek en ontsag is vir die kerk van alle eeue. Elke Christen interpreteer die Bybel heeltemal op sy eie en dit lei tot ‘n oneindige versplintering en reëlmatige stigting van nuwe “kerke” – nuwe denominasies, maar ook ‘n wye verskeidenheid van huiskerke, boskerke, selkerke... wat ‘n vrugbare teelaarde geword het vir ‘n menigte dwaalleringe en ‘n gerieflike wegkruipplek vir almal wat weier om onder gesag te staan en tot verantwoordbaarheid geroep te word. Hierdie toedrag van sake is beslis nie wat die reformatore in die oog gehad het toe hulle die Roomse tirannie verwerp en hulle op Sola Scriptura beroep het nie.

WEEREENS : WATTER KERK?

Alles in ag genome – die verwarring en skynheiligheid inkluis, is dit nog steeds van basiese belang dat elke kind van God by ‘n gemeente sal inskakel en homself aan daardie gemeente se gesag onderwerp. Die Nuwe Testament ken nie die hedendaagse tipe “Lone Ranger” Christenskap waarvolgens ek alleen op die perd van my eie ego en vroomheidsgevoel met ‘n Bybel in my “holster” die Wille Weste vir Jesus moet verower nie! Dis nog steeds God se bedoeling en plan dat mense wat gered word tot ‘n gemeente toegevoeg moet word! “En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.” (Handelinge 2:47)

Maar waar moet ek aansluit? Genadiglik is dit God wat Sy kinders by gemeentes byvoeg, maar soos in elke aspek van ons Christelike lewe het ons ‘n besliste verantwoordelikheid. Die basiese vereiste is dat die gemeente by wie ek my skaar die Woord van God as enigste norm vir leer en lewe sal (probeer) handhaaf! So ‘n gemeente sal noodwendig dus ‘n hoë premie plaas op deeglike, omvattende en suiwer Woordverkondiging. Die fokus sal op die prediking wees, prediking in die sin van uitleg en toepassing van die Skrif! (Daar is tans baie motiveringstoesprake wat deurgaan vir prediking, maar eintlik net egoïstiese retoriek of emosionele opsweping is wat vir die skyn aan ‘n Bybelteks buite konteks aangehaak word.) Natuurlik beteken dit nie dat as ‘n gemeente erns met Skrifuitleg en toepassing maak, als outomaties noodwendig reg is nie. Natuurlik moet die Woord gehoorsaam en geleef word.** Maar ten minste is daar darem ‘n basis. Wat ek wil sê is : Moenie oorkrities wees en na ‘n volmaakte gemeente gaan soek nie. Jy gaan nie een kry nie. Ook nie in die Nuwe Testamentiese kerk was daar sulke gemeentes nie. Moenie verval in eindelose “church hopping”*** nie, maar skaar jou by ’n gemeente waar die skape ten minste uit die Woord gevoed word, al is die prediker nie juis die beste spreker nie, al stel baie lidmate se lewens jou teleur... Ten minste kan jy met erns bid dat God sy Woord wat wel verkondig word, sal gebruik om harte en lewens aan te raak... Dis dalk jou vernaamste plig in jou gemeente, om met erns voorbidding te doen, want onthou jy behoort aan die liggaam van Christus nie om in die eerste plek bedien te word nie, maar andere te bedien met die gawes wat God vir jou gegee het...

Mag die Here ons lei deur sy Woord en Gees in hierdie tye van dwaling, chaos en verwarring. (Kliek ook op VASTE FONDASIE)

*Daar is ‘n al hoe meer opvallende groep wat mens sou kon tipeer as die MENS ALLEEN (vir ‘n norm). Dis mense wat geen Goddelike gesag aanvaar nie, die Bybel as ‘n outydse boek vol fabels beskou en die postmodernistiese siening handhaaf dat elkeen maar vir homself moet besluit. Ek is dus my eie bron van waarheid en gesag. Die Nuwe Hervormers en sogenaamde Renaissance gemeentes is goeie voorbeelde hiervan. Ek bespreek hulle egter nie hier nie aangesien hulle totaal buite die Christelike geloof val.

**Natuurlik is ek deeglik bewus van die feit dat die ware kerk ook uitgeken kan word aan die “suiwer bediening van die sakramente” en die toepassing van die “tug”. Hierdie sake is sonder twyfel van fundamentele belang en word skreiend afgeskeep in die kerk oor die algemeen. Die basis van waaruit dit reggestel kan word, bly egter die eerlike verkondiging van die Woord. Dis daar waar die broodnodige reformasie moet begin.

*** Mense wat in hierdie kategorie val en rondspring van een kerk na die ander se eintlike probleem is dikwels hulle eie rebelse onwilligheid om onder gesag te staan ten spyte van hulle aandoenlike verhale oor hoe hulle “seergekry het” in die een of ander kerk.

Dinsdag 26 Augustus 2014

WONDERBOOM?

- dis nie Jona s’n nie, al groei hy byna net so vinnig!




Ek onthou nog watter groot opgewondenheid die bekendstelling van die sogenaamde “wonderboom” (Leucaena leucocephala) veral bekend om sy verstommende groei ywer en spoed in die negentigerjare op Rundu veroorsaak het. Jy plant hom vandag en een van die dae sit jy in sy skaduwee... In retrospek was dit ‘n misplaaste opgewondenheid. Gaan kyk maar hoe lyk Rundu... Terwyl die pragtige inheemse bome van die Kavango al skaarser word, is die plek besmet met wonderbome van alle grotes. En ek kan maar net wonder wat gaan die effek wees van hierdie vinnig verspreidende pes op die Kavango moerasse...


NUTTIG OF VERNIETIGEND?

“Ja, maar dis tog ‘n baie nuttige boom... brandhout, veevoer...” Heeltemal reg ja, maar die ander groot boombedreiger van die Namibiese ekosisteem, die Prosopis (Suidwesdoring) het ook wonderlike eienskappe, en tog die gevaarlike nadele oortref by verre alle moontlike voordele. Hierdie is ‘n vreemde onwelkome gas (uit Meksiko se wêreld nes die Prosopis) wat amok veroorsaak omdat dit so sterk en vinnig groei en inheemse plante verdring. Dit veroorsaak reeds groot probleme in lande soos Taiwan, die Bahamas, Hawai, Fidji, noordelike Australië en selfs in dele van Europa. En die moeilikheid is, as hy eers groei is dit nie so maklik om van hom ontslae te raak nie. As hy gekap word, begin hy maar net weer... Die feit is Leucaena leucocephala is ‘n uiters bedreigende indringer en dis nie bloot ‘n persoonlike opinie nie. Hierdie plant word gereken onder die 100 ergste indringer spesies deur die Invasive Species Specialist Group van die IUCN Species Survival Commission

SOOS ALLE KITSOPLOSSINGS SKEP HIERDIE "KITSBOOM" OOK MEER PROBLEME AS WAT DIT OPLOS!

Vir die Tsumebers, kyk maar bietjie rond hoe het hierdie boom die afgelope paar jaar begin oorvat in ons dorp. Ek sien nou ook hoe hulle langs die Tsintsabis pad versprei. Dink mooi voor jy hierdie plant op jou plaas en erf gaan plant of toelaat om homself te plant. Dis boonop ook nie ‘n langtermyn boom nie, sy lewensduur is tussen 10 en 20 jaar en verder is dit bekend dat die sade mimosien, ‘n aminosuur bevat wat giftig is vir nie herkouende vertebrata. Nee, wat hier in ons subtropiese omgewing is daar so ‘n verskeidenheid van fantastiese inheemse bome om aan te plant, los die Leucaena!



In sekere dele van Tsumeb begin hulle klaar oorvat! Gaan kyk maar na die sloot oppad riooplaas toe...






'n Nuwe aanplanting van wonderbome op die sypaadjie voor 'n woonhuis in Tsumeb. Hierdie boompies is so jonk, maar dra al klaar saad...








Roei die wonderboom uit en red ons pragtige inheemse plantegroei!

Donderdag 21 Augustus 2014

GOD VOORSIEN ‘N VASTE FONDAMENT

- wat ewige sekuriteit bied in ‘n tyd van misleiding en bedrog.

Aardbewings kan verwoestend wees! In so ’n situasie is dit baie belangrik dat ’n gebou ’n stewige fondasie moet hê! Op geestelike gebied beleef ons ’n tyd van veranderings en omwentelings! Valse leringe, versinsels en verleidings! Aardbewings! Ons geestelike huise word geruk en geskud! Die Goeie Nuus in sulke tye is : GOD SE VASTE FONDAMENT BIED EWIGE SEKURITEIT!







[Brandgeskilderde vensters, Felsenkirche (rotskerk) - Lüderitz. Luther in die middelste venster.]


Geliefdes soos in min tye in die geskiedenis word ons geestelike huise bedreig deur geweldige skokke en skuddings. Spesifiek die aardbewings van verwarring en valse leringe! Valse leringe wat die waarhede van die Bybel bevraagteken, valse lering wat die opstanding van Jesus betwyfel, valse leringe wat ontken dat daar ’n oordeel en hel is, maar ook valse leringe wat verkondig dat jy maar rustig en lustig kan aangaan met sonde, want die Here sal jou mos genadig wees!

Ook reeds in Paulus se tyd het hierdie valse leringe voorgekom. Hy waarsku Timoteus teen die gevaar van hierdie valse leringe. Hy noem twee valse leraars by die naam: Himeneus en Filetus. Dis ’n baie ernstige saak, want deur hulle valse praatjies vernietig hulle die geloof van sommige Christene! “Maar die onheilige en sinlose praatjies moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval,en hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus,wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daarmee vernietig hulle die geloof van sommige.” ( 2 Timoteus 2:16-18)

Die vraag is nou gaan die kerk van Jesus, gaan ek en jy die skuddende aanslag van valse leringe oorleef?

Die Bybelse vertroosting is : Ja, want God het aan ons ’n vaste fondament gegee!

DIE VASTE FONDAMENT

Dis die bemoedigende versekering wat Paulus aan Timoteus gee in sy tweede brief aan hom. “Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas ...” (2 Timoteus 2:19) Ja, ten spyte van die groot bedreiging, is daar ’n hegte vaste Goddelike fondament! God se fondament staan vas : die duiwel brul, valse leraars spoeg vuur, omstandighede is donker, vyande kan spot... nogtans God se fondament staan vas!

Op hierdie vaste fondament moet ons BOU en VERTROU!

Laat ons prakties raak! Wat is hierdie vaste fondament? LW - dis ’n fondament wat God gelê het! Dit gaan oor ’n vaste waarheid en waarborg wat van God af kom! Hierdie fondament is onvernietigbaar! Dit gee Goddelike troos en versekering! Die fondament bestaan uit twee grondwaarhede. Twee belangrike fasette! Kyk weer na vers 19 – “Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met dié woorde daarop gegraveer: "Die Here ken dié wat aan Hom behoort," en: "Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbreek van die ongeregtigheid." Die volgorde is baie belangrik!
Eerstens : “Die Here ken die wat aan Hom behoort” God weet wie sy uitverkore kinders is! Psalm 1 sê ook : “die Here ken die weg van die regverdiges...” (OAV) Onthou, “ken” beteken hier baie meer as net “weet van” Dit beteken dat God die inisiatief in ons verlossing geneem het en dat Hy ook ons verlossing in stand hou! Dink byv. aan Abram. God neem die inisiatief ... God roep Abram, God maak beloftes aan hom. Ja, Abram antwoord in geloof en gehoorsaamheid, maar al die inisiatief kom van God. Maar dis ook God wat Abram vashou as hy begin wankel en telkens sy beloftes aan hom herbevestig! Ons weet mos Abram se geloof was nie altyd so sterk nie. Hy was ook partykeer ongehoorsaam en wou sy eie planne maak! Maar God bewaar Abram en bereik sy doel met hom ten spyte van sy swakheid! God ken sy kinders : God het sy kinders gered en God sal hulle bewaar deur alle omstandighede en bedreigings! Wat Paulus hier vir Timoteus sê is maar dieselfde waarheid as wat hy in Fil. 1:6 op ’n ander manier sê! “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” Geliefde medegelowige, dis die vertroosting binne in die chaos, teleurstellings en aanvegtinge wat ons beleef. As God my gered het, gaan hy my nie halfpad los nie! Hierdie eerste deel van die fondasie roep ons om weg te kyk van ons swak self en van ons moeilike omstandighede en bedreigings en God in al sy grootheid raak te sien. Die Skepper van die heelal is heeltemal in staat om jou te midde van bedreigings en valse lerings te bewaar en veilig in sy Koninkryk te bring! Dit word so treffend (en triomfantelik) gestel in Judas 24,25! "Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen."

Wees verseker van God se fondasie. Vind rus, vertroosting en veiligheid daarin!

Tweedens : “Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort moet wegbreek van die ongeregtigheid” Ons moet die tweede deel van God se fondasie ook ernstig opneem! Die eerste deel van God se fondasie is ’n versekering, die tweede is ’n opdrag! God betrek onsself ook in hierdie fondasie. Ons het ’n verantwoordelikheid. Maar belangrik, ons kan en moet hierdie verantwoordelikheid nakom juis omdat God sy deel nakom. Omdat God ons gered het en omdat Hy ons redding in stand hou KAN ons erns maak met die opdrag om te breek met alles sonde in ons lewens! Kind van God - die almagtige God het jou uitgekies, Hy het jou sonde op Jesus gelê en dis klaar gestraf en klaar vergewe, Hy het jou deur Jesus verlos van sonde, dood en hel. Hy waarborg jou ewige veiligheid, DAAROM: Raak ontslae van als wat vuil en sleg is! Ons moet sonde aflê nie om onsself te red nie, maar om bruikbaar te wees vir God en sy werk ( dis wat Paulus verder aan sê - vers 22) Hoe bemoedig God ons deur die tweede deel van die fondasie? As jy erns maak met die uitroei van sonde, is dit net ’n verdere bewys dat die eerste deel van die fondasie waar is van jou. As jy daagliks baklei teen sonde en dit uitroei (vgl. Romeine 8:13) is dit mos ’n duidelike bewys dat reeds God reddend in jou lewe ingegryp het en jou dus ook verder sal bewaar! Hierdie ernstige opdragte is juis ook een van die maniere hoe God ons bewaar! 

Hoe moet ’n kind van God wegbreek van ongeregtigheid? Kyk na 2 Timoteus 2:22. “Vermy die begeertes wat ‘n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ‘n rein hart die Here aanroep.” (OAV stel dit sterker - “vlug”) Ja, gebruik jou voete as dit nodig is! Bly ten alle koste weg van sekere mense en sekere plekke – soos die dansbaan en die drinkpartytjie, ja!

Geliefdes, die aardbewings van valse leringe en verleidinge is baie hewig. Maar ons hoef nie verskrik of moedeloos te raak nie! Hou twee sake voor oë! Fokus op twee dinge: 
1) Fokus op God se genade en almag wat jou gered het en jou veilig sal bewaar! Dank Hom daarvoor!
2) Fokus op die uitroei van alle sonde in jou lewe! Haat dit en vlug daarvoor! Ook die klein jakkalsies...daardie ekstra aandag aan die mooi sekretaresse in jou kantoor...daardie sepie in die aande na werk wat jou gedagtes in ‘n verkeerde rigting stuur... God se vaste fondament gee ons vertroue en sekerheid. Dis hoe Paulus dit self in baie moeilike omstandighede aan die einde van sy lewe ervaar het. Luister hoe hy sy vertroue uitspreek in 2 Timoteus 4:18. "Mag ons dieselfde vertoue hê :” Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen.”

OP GOD SE FONDASIE IS JY VEILIG!

Vrydag 15 Augustus 2014

UITVERKORE VOLK EN BELOOFDE LAND

- wie is hulle en waar is die plek?

Dis een van die opvallendste feite in die Heilige Skrif dat God ‘n uitverkore volk het. Om die identiteit van die volk vas te stel is eweneens baie maklik. Dis die volk Israel, die nageslag van Abram. “Die HERE het 'n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met 'n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos.” (Deuteronomium 7:7,8)



Die volk Israel speel ‘n uiters belangrike rol in God se reddingsplan vir die wêreld en is daarom besonder bevoorreg. Paulus verwys hierna as hy sê : “Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes...” (Romeine 9:4) Israel se doel was egter altyd groter as Israel self. Dis reeds in God se belofte aan Abram, dat al die nasies in hom geseën sal word in die vooruitsig gestel.


Hierdie beloftes het in Jesus tot konkrete vervulling gekom.

Jesus het gekom om sy volk van hulle sondes te verlos soos dit duidelik in Matteus 1:21 gestel word. Hy bring dan ook die evangelie eerstens aan sy etniese stamgenote, maar in dieselfde Matteus evangelie maak Jesus dit duidelik dat sy verlossingswerk alle nasies omvat in die bekende sendingopdrag : “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Matteus 28:19)

Deur die sendingopdrag uit te voer waardeur die heidene tot bekering kom, gebeur dit dat mense buite Israel deel aan die seëninge kry wat aan Abram toegesê is!

TWEE VOLKE?

Dit laat mens met die vraag, het God dan nou twee volke? Is daar nou ‘n uitverkore Israel en los van hulle ‘n uitverkore kerk? (en is die een meer of minder uitverkore as die ander een?) Die antwoord wat die Nuwe Testament gee is ‘n duidelike nee! Wat kan duideliker wees as Paulus se dramatiese uitspraak in Efesiërs 2 - "Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word,
dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.
Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.
Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het.  (Efesiërs 2:11-14) Hierdie nuwe mensheid is die bloed gekoopte volk van Jesus, sy kerk! Voormalige heidene wat in Jesus glo is ten volle lid van God se een volk! Dis die groot verborgenheid wat nou geopenbaar is, “dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie.” (Efesiërs 3:6)

Hierdie een volk, die kerk, die Israel van God se eenheid word pragtig geïllustreer deur die beeld van die vyeboom wat Paulus in Romeine 11 gebruik. Die takke van die wilde olyf (heidene) is nou op die mak olyf ingeënt. Dis een boom! Iemand stel dit so:

Israel is nie vervang deur die kerk nie, Israel het ryp geword tot kerk! Of anders gestel, Israel is gesnoei en het gegroei tot kerk. *

Nie net Paulus nie, maar ook die apostel Petrus is baie duidelik oor wie God se volk is! Reg aan die begin van sy eerste brief word ‘n paar dramaties heerlike dinge oor hierdie kwessie kwytgeraak!

“Petrus, 'n apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bithinië, uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word! Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot 'n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons 'n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons...wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word....” (1 Petrus 1:1-5)

Hier word eintlik ingrypend belangrike dinge oor God se volk gesê. Onthou, Petrus skryf vir Christene wat hoofsaaklik uit ‘n heidense agtergrond kom. Hierdie heidene het geen deel gehad aan God se volk nie, totaal goddeloos en onkundig. Hulle het voorheen ‘n sinnelose lewenswandel gehandhaaf. Petrus verwys daarna in 1:18. Hulle was ten volle deel van heidense goddeloosheid en verdorwenheid soos ons kan aflei uit 4:3. Hierdie lesers was dus volbloed heidene, en nou word na hulle as God se pelgrimsvolk verwys. Hierdie voormalige heidene is nou uitverkorenes van God die Vader, geheilig deur die Heilige Gees en besprinkel met die bloed van Jesus Christus. Hulle is nou deel van Israel! En neem kennis : Jesus se koms en die redding van heidene en hulle deel word van God se volk was nie maar net ‘n nagedagte nie, maar van ewigheid af deel van God se plan en bedoeling! (“uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader”) Watter heerlike vertroostende gedagte gee Petrus sommer reg aan die begin hier aan die heiden Christene deur wat so baie vervolging moes verduur. Hulle is werklik deel van God se volk! Van ewigheid af was dit so bedoel. Hulle is wel nie fisiese afstammelinge van Abram nie, maar deur God gekies in Christus om sy volk te wees. Hierdie verloste volk is bedoel om God se spesiale mense, koninklike priesters te wees. Die parallel tussen dit wat God vir etniese Israel sê na die verlossing uit Egipte (sien Eksodus 19:3-6) en dit wat nou vir die kerk (uit alle nasies) gesê word in 1 Petr 2:9,10 is so opvallend dat net hardkoppiges dit kan miskyk!

EN DIE LAND?

God beloof aan sy volk ‘n erfenis. Hierdie belofte is reeds aan Abraham gemaak. Dit was die land Kanaän, maar die grens daarvan was so ver as die Eufraat. (in die huidige Irak) Op daardie dag het die Here ‘n verbond gesluit met Abram en vir hom gesê: "Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van Egiptespruit af tot by die Eufraat, die groot rivier;" (Genesis 15:18) Dit lyk inderdaad of Israel in die tyd van Dawid en Salomo beheer uitgeoefen het oor hierdie groot gebied. (byvoorbeeld 1 Kronieke 18:3; 1 Konings 4:21)

Die hartseer van die geskiedenis is egter dat Israel hulle erfenis verloor het weens God se oordele en selfs na die terugkeer uit die ballingskap kon hulle nooit weer die roemryke dae van Dawid en Salomo beleef nie. Die profete het egter iets heerliker en groter voorsien in terme van die Nuwe Verbond! Die beloftes wat oor die volk en die land gemaak is, het deur die koms van Jesus in vervulling gegaan. Daarom kon Jesus met gesag verkondig : “Die Koninkryk van God het naby gekom...” (Sien verder : LUGFOTO VAN DIE BYBEL)

Maar is die fisiese land Israel en die stad Jerusalem tog nie maar nog steeds baie spesiaal nie? Kyk na die feite van die Nuwe Testament. Jesus het in sy gesprek met die Samaritaanse vrou by die put dit vir eens en altyd duidelik gemaak dat ware aanbidding nie aan ‘n fisiese plek gekoppel is nie. Nie aan die berg Geresim soos die Samaritane gedink het nie, maar ook nie meer die berg Sion waar die tempel geleë was nie! Ware aanbidding is ‘n geestelike saak en geskied nou deur Jesus.

"Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar ‘n mens God moet aanbid, is in Jerusalem."
Jesus sê toe vir haar: "Glo My, Mevrou, daar kom ‘n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie.
Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode.
Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen." (Johannes 4:20-23)

Daar kan dus nooit meer iets soos ‘n fisiese tempel van die ware God op aarde wees nie! Reeds in Johannes 2 het Jesus dit duidelik gemaak dat Hyself die tempel vervang! Verbind aan Jesus is die lewende kerk nou die tempel. Dit en nie ‘n moontlike gebou in Jerusalem is die herstelde tempel waarvan die profete getuig het!

Ook Petrus het in die einste hoofstuk waarna ons reeds gekyk het (sien hierbo) uiters belangrike uitsprake oor die beloofde land (erfenis) van God se volk gemaak. Hy kontrasteer doelbewus die hemelse erfenis met die aardse Kanaän. Dit was juis die tragedie met Israel se erfdeel, Kanaän, dat dit weens hulle sonde en God se oordele, ‘n verganklike, besmette (deur hul afgodery) en verwelkte land geword het. Weens hulle ongehoorsaamheid het hulle dus hulle erfenis verloor! Nou verseker Petrus die Christene dat dieselfde nie met hulle erfenis gaan gebeur nie. Hulle erfenis, sowel as hulleself word in die krag van God bewaar en daarom is die finale hemelse Kanaän ONverganklik, ONbesmet en ONverwelklik! Dis duidelik nie ‘n plek iewers op aarde nie, maar ‘n finale heerlike bestemming, inderdaad die BELOOFDE LAND! Watter ander beloofde land kan daar dan wees, oor watter ander plek sou ons kon opgewonde raak?

Die uitverkore volk is nou die Israel van God (Jood en heiden wat aan Jesus behoort); die beloofde land is ons ewige tuiste en nie een of ander Midde Oosterse gebied nie!

(Vir 'n beter verstaan van Ou Testamentiese profesie, kliek op PADSKRAPERDRYWER?)

IMPLIKASIES?

As ons eerlik die Bybelse lering oor die uitverkore volk van God en hulle erfenis, die beloofde land aanvaar het dit wel praktiese implikasies oor hoe ons onder andere oor die magspel en konflik in die Midde Ooste sal dink. Ek noem net ‘n paar :

Huidige etniese Jode kan nie meer aanspraak maak daarop dat hulle God se uitverkore volk is nie. Jode kan wel deur geloof in Jesus weer ingeënt word by God se volk, die Israel van God, die kerk van Jesus. Die huidige Israel is in elk geval nie ‘n Godvresende land nie. Hulle verwerp nog steeds die Verlosser Jesus Christus. Baie Israeli’s is selfs ook nie eens meer getroue Judaïste nie! Trouens die vader van die Sionisme (die beweging wat die Jode se terugkeer na Israel bepleit het) Theodor Herzl was self nie godsdienstig nie. Hy het nie eers sy eie seun laat besny nie! Al hierdie feite maak egter nie dat ons etniese Jode minder moet liefhê nie - nee, ons behoort 'n sendingpassie en liefdesywer te openbaar om ook Jode van die ware Messias te vertel!

Die totstandkoming van die moderne staat Israel is soos alle gebeure van die geskiedenis deel van God se raadsplanne, maar dis nie in die lig van die Skrif die vervulling van God se beloftes oor die koms van die Koninkryk nie. (Dis wel soos die onkundige dissipels in Handelinge 1 gedink het voor Jesus hulle reg gehelp het) Hierdie beloftes is vervul deur Jesus se koms en kom daagliks tot vervulling deur die uitvoering van die sendingopdrag (ja, ook met groot liefde en passie teenoor die Jode) en groei van die kerk.

Het die Jode reg op die hele Palestina of groot dele daarvan? Dis ‘n ingewikkelde vraag, soortgelyk aan ander kwessies en strydpunte in die wêreld rondom verowering en kolonisasie. Dit kan myns insiens nie sommer simplisties beantwoord word met “Kanaän is die beloofde land” nie. Is daar regtig mense wat dink Israel moet beheer gegee word oor die uitgestrekte Midde Ooste van Egipte tot aan die Eufraat in Irak?

Die geskiedenis van Palestina is hoogs ingewikkeld. Net so ‘n paar feite. In die tyd van Jesus was Palestina onder Romeinse beheer en dit was baie duidelik dat Hy nie rewolusie en opstand aangeblaas het om weer die gebied onder Joodse bewind te kry nie. Hoekom nie? Jesus se Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie sos Hy dit duidelik aan Pilatus gestel het - “Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.” (Johannes 18:36) Maar ironies dink baie Christene blykbaar vandag so en beywer hulle vir ‘n Joodse staat! Ons burgerskap is mos nie meer van hierdie wêreld nie, ons sien net uit na die koms van Jesus ons Koning as heerser op die nuwe aarde!

In 70 nC is Jerusalem deur die Romeinse generaal Titus met die grond gelyk gemaak net soos Jesus in sy oordele oor die stad gesê het. Christene se verwagting is nou gefokus op die hemelse Jerusalem. Die aardse Jerusalem het sy betekenis verloor! Daar was in die jare hierna nog steeds Joodse pogings om weer beheer oor die land te verkry, maar alles tevergeefs. ‘n Nuwe wending kom in 636 met die slag van Yarmouk. Van nou af is Palestina onder beheer van die Moslems. Die katastrofiese Kruistogte verander nie veel aan die langtermyn scenario nie, behalwe om aan "Christene" tot vandag toe 'n slegte naam in die Moslemwêreld te besorg. Die Ottomaanse ryk (Turke) verower die gebied in 1516. Die gebied kom eers na die Eerste Wêreldoorlog onder Westerse gesag en word amptelik ‘n Britse Mandaatgebied in 1922.

PASOP VIR OORVEREENVOUDIGING. Wie was in al hierdie jare die inwoners van Palestina? Voor 1850 was daar slegs ‘n handvol Jode tussen die meerderheid van Moslem inwoners. Vir die volgende paar dekades het daar wel ’n paar honderd Jode na die gebied geïmmigreer. Teen 1914 was die bevolking as volg saamgestel : Moslem Arabiere – 657 000, Christen Arabiere – 81 000, Jode – 59 000. Nou waar kom al die Jode wat vandag daar is vandaan? Hulle is immigrante wat op groot skaal uit Europa en ander Midde Oosterse lande geïmmigreer het. Die groot stimulus van hierdie beweging was die Sionisme. Hierin het Theodor Herzl ‘n sleutelrol gespeel. Hy is veral bekend vir twee boeke in die verband wat hy die lig laat sien het, naamlik Der Judenstaat en Altneuland. Hy het geglo dat die Jode hulleself uit Europa moet verwyder en hulle eie staat stig. (Interessant, Argentinië is op ‘n stadium as so ‘n moontlike plek oorweeg en later ook Uganda!) ‘n Belangrike deurbraak ten gunste van die Jode was Brittanje se ondersteuning in die Balfour verklaring van 1917. Die Tweede Wêreldoorlog en die gepaardgaande “Holocaust” het verdere stimulus aan die gedagte van ‘n Joodse staat gegee. Die VN het ‘n partisie van Palestina in ‘n Joodse en Arabiese deel voorgestaan. In 1948 het die staat Israel tot stand gekom. In die gepaardgaande oorlog het die Jode meer grond verower as wat die oorspronklike bedoeling met die partisie was. Honderde Palestynse dorpies is verwoes in wat bekend geword het as die “Nakba” (katastrofe). Hierna sou nog baie konflikte volg in 1956, 1967, 1973 ens. tot en met ons dag. ‘n Eenvoudige oplossing is daar nie. Natuurlik word als meer ingewikkeld gemaak deur Islamitiese ekstremisme soos byvoorbeeld verteenwoordig in Hamas. Die uitdaging vir Christene is myns insiens om soos in alle konflik situasies die evangelie van Jesus te bring as die enigste blywende oplossing. ‘n Eensydige en blinde ondersteuning van Israel op grond van verkeerde Bybelse interpetasies gaan nie die saak van die koninkryk onder beide Moslems en Jode bevorder nie! Christene vir wie die sendingopdrag 'n erns is sal hulle dus van beide anti-Semitisme en Arabiere haat moet weerhou! Sentimente rondom die staat Israel** en die lot van die Palestyne sal wissel na gelang van mens se eie perspektief op die ingewikkelde geskiedenis (en ons kan mekaar daardie vryheid gun), maar as Christene dink ek behoort ons konsekwent Bybels te probeer dink en die saak nie te vereenwoudig tot ‘n kwessie van ‘n “uitverkore volk” wat ten alle koste reg het op ‘n “beloofde land” nie. 

Die Bybelse boodskap is immers so duidelik - die uitverkore volk van God is nie die etniese Jode nie, (ja, ook nie Afrikaners nie), maar almal wat gewas is in die bloed van die Lam!

 Theodor Herzl (1860-1904)

*Ek kan nie meer die bron onthou nie.
** Ons Afrikaners is weens 'n verskeidenheid van redes nogal sterk pro Israelies. Een rede is omdat ons in die verlede ook die hele wêreld teen ons gehad het!

Vrydag 08 Augustus 2014

NIKS IS VIR HOM ONMOONTLIK NIE

- God se almag en soewereiniteit word vertoon deur Jesus.

Die sin van ons bestaan is om God te dank, aanbid en te bewonder. Ons kan dit net doen as ons sy heerlikheid raaksien. Een faset van God se heerlikheid waarvoor ons Hom moet bewonder is sy ALMAG! Iets van God se almag kan in die natuur gesien word. Psalm 29 herinner ons : “Dit is die magtige God wat die weer laat dreun........ die stem van die Here is vol majesteit.....dit stroop die bosse kaal. In sy paleis roep almal uit : Hoe geweldig!” (Psalm 29:3) Die almagsbewyse van God in die natuur is ‘n algemene tema in die Psalms! Vuur en hael, sneeu en damp, stormwind, wolke en weerligstrale gehoorsaam sy opdragte! (Psalm 135:5-7; 148:7,8) 

Ons het gesien dat Jesus God se heerlikheid vir ons wys. (Kliek op JESUS WYS GOD) Die eienskap/attribuut van God se almag word ook deur Jesus vertoon. Daarom is dit nie verbasend dat toe Christus in die wêreld gekom het, die hele natuur voor sy gesag gebuig het nie. Die doel van sy wonders was om sy Goddelike identiteit te openbaar! Hy beveel die wind en die see en hulle gehoorsaam. "Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: "Hou op! Bedaar!" Die wind het gaan lê en daar het ‘n groot stilte gekom. Toe sê Hy vir hulle: "Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?"Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: "Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?" (Markus 4:39-41) Dis baie veelseggend, want die Jode wat ‘n nie seevarende volk was, was maar baie bang vir die see!

WATER

Water is een van die belangrikste elemente in die natuur en juis water moet maak soos Jesus wil – teen die natuurlike wette. Op sy bevel het dit “solied’ geword onder sy voete en het Hy daarop geloop. Toe sy dissipels dit sien het hulle voor Hom “gekniel” en verklaar: “U is waarlik die Seun van God.” (Matt 14:33) ’n Ander keer by die bruilof te Kana het Hy die water beveel en dit het wyn geword. Daardeur, meld Johannes “het Hy sy mag laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.” (Joh 2:11) Wind en water doen wat Jesus hulle ook al beveel. Word stil, word vas, word wyn.* Die natuurwette is deur Christus vasgelê en word ook op sy bevel verander. Goddelike almag in aksie! God is nie gebonde aan natuurwette nie en kan dit wysig en gebruik soos Hy wil.

Maar dis nie al nie...Oor sterftes en siektes. Oor vis, voedsel, vye bome... bewys Jesus sy Goddelike almag. Noem maar op, Jesus is die absolute heerser oor alle bestaanswerklikheid! Met ’n woord roep Hy dooies op tot die lewe. Die gesagswoord van die Lewegewer : “Lasarus, kom uit!” (Joh 11:43) Jesus bring 'n begrafnisstoet tot stilstand. Hy stop die dood in sy spore, as hy die weduwee se gestorwe seun aanspreek : “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!” (Lukas 7:14) Dis heerlike Goddelike almag! 'n Dooie dogtertjie hoor : “Talita koemi” ,wat beteken : “dogtertjie....staan op! (Markus 5:41) Hy het die koors bestraf en onmiddellik het dit Petrus se skoonmoeder verlaat. (Lukas 4:39) Sy Goddelike almag omvat ontsettende detail. Hy het dit so bewerk dat ’n bepaalde vis ’n muntstuk sou insluk en aan Petrus se hoek gevang word. (Matt 17:27) ‘n Goddelike almag vol goedheid en medelye. Hy het met vyf brode vyfduisend gevoed. (Matt 14:19-21) ‘n Goddelike almag wat ook nie skroom om te oordeel nie. Hy het ’n vyeboom laat verdroog deur ’n vloek uit te spreek. (Markus 11:21)

Die Goddelike almag soos vertoon deur Jesus is allesomvattend en volledig. Die bestanddele van alle dinge is nie slegs deur Christus geskep nie (Joh 1:3; Kol 1:16) maar dit word ook oomblik vir oomblik deur Hom in stand gehou in die ganse heelal deur sy wil. “Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand.” (Hebr 1:3) “deur Hom bly alles in stand” (Kol 1:17)  Sou iets vir Hom dan onmoontlik kon wees?

SOEWEREINE ALMAG

Saam met almag gaan ook soewereiniteit. God is van niemand afhanklik nie, Hy doen wat Hy wil, soos Hy wil en wanneer Hy wil! Niemand kan Hom voorskryf of dwing nie – God is waarlik in die volle sin van die woord – KONING. En dis hierdie koningskap wat ons in Jesus sien. Hy genees soos en wie Hy wil. Die verhaal van Lasarus illustreer dit so duidelik. - “Kon Hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?” (Joh 11:37) Natuurlik, die antwoord op daardie vraag is, ja. Inteendeel, Jesus se tydsberekening was daarop gemik sodat sy vriend sou sterf. ‘n Doelbewuste beplande vertraging. Hy het vir twee dae gewag en gesê: “Lasarus is dood en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo.” Jesus kan deur niks onkant gevang word nie, ook nie deur die dood nie. Jesus het immers self die finale sê oor lewe en dood! : "Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste,die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.” (Openb. 1:17,18) 

Sy soewereine almag kom seker die duidelikste na vore as dit kom by die redding van sondaars. Hy red wie Hy wil. “Soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil."  (Joh 5:21) Jesus is die sterkste! Aan Hom is alle mag in hemel en aarde gegee. En hierdie mag word spesifiek genoem in die konteks van die redding van sondaars! Goeie nuus. “U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee.” (Joh 17:2; ook Matt 28:18) Dis hierdie mag wat Saggeus die gierige skelm uit ‘n boom gaan haal en van hom ‘n kind van Abram gemaak het, dis hierdie mag wat die selfversekerde vyand van die kerk, Paulus in sy spore gestop het en hom tot apostel geroep het! 

Inderdaad, sonder die almag van God sal mense nooit gered kan word nie! Die hartseer verhaal van die Ryk jongman in Markus 10 onderstreep dit baie goed. “En hulle was uitermate verslae en het vir mekaar gesê: Wie kan dan gered word? Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik.” (Markus 10:26,27) Die almag van God word vir ons heerlik gedemonstreer as Hy deur Jesus mense nuut maak – nuwe skeppings! (2 Korintiërs 5:17) Eendag sal die hele skepping weer nuut gemaak word (Rom 8) en sal ons as nuutgemaakte mense dit vir ewig bewoon en God daarvoor loof en prys! 

Het sy genadige almag jou al nuut gemaak? Hierdie almagtige God kan ons maar vertrou, ons kan by Hom skuil, ons kan Hom maar net aanbid en bewonder! Dis so heerlik om te weet, ons aanbid nie 'n swakkeling nie, maar die ALMAGTIGE GOD!

*John Piper. Vir die hele gedeelte is daar swaar (ook woordeliks) geleun op sy SEEING AND SAVORING JESUS CHRIST.


Vrydag 01 Augustus 2014

GAZA, ISRAEL EN DIE BYBEL

- hoe behoort evangeliese Christene op dié konflik te reageer?

AAN WIE SE KANT?



“Natuurlik moet Christene aan Israel se kant wees, dis mos God se volk en dis mos die land wat Hy aan die nageslag van Abram beloof het.” Tradisioneel is dit seker die meeste Christene se siening, maar is dit Bybels? Om sommer mee te begin, die nageslag van Abram is volgens die Nuwe Testament nie meer etniese Jode nie, maar almal wat in Jesus glo! “Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.” (Galasiërs 3:7) Wat God vir die volk Israel gesê het na die bevryding uit Egipte, word nou in die Nuwe Testament direk net so van toepassing gemaak op die kerk. (Vergelyk Eksodus 19:4-6 met 1 Petrus 2:9-10)* As ons konsekwent Bybels wil wees, moet ons sê dat ons broers en susters (ook in die konteks van die Israeli – Palestynse konflik), nie die Jode is nie, maar die Christene! En nou mag dit dalk vir sommige nuus wees – nie alle Palestyne is Moslems nie, daar is ook Christene onder hulle. Weliswaar net so wat 'n duisend in Gaza, maar ongeveer 8% in die Wes Bank en byna 10% van Israel se Arabiese bevolking. Om outomaties altyd aan die staat Israel se kant te wees en als wat hulle doen blindelings goed te praat, hou nie rekening met hierdie feite nie. “Ja, maar die land is tog aan die Israeliete beloof en hulle het die reg om dit te vat! Volgens die beloftes van God gaan die tempel ook herbou word.” Kanaän, moet ons goed verstaan was ‘n tydelike fase in God se heilsopenbaring. God se volk, almal wat nou in Jesus glo sien nou uit na die ewige Kanaän! Die beloofde land kan dus nie sommer net klakloos gelykgestel word met die huidige staat Israel nie! Net so is die tempel van God binne die bedeling van die Nuwe Verbond, nie meer ‘n fisiese gebou nie, maar die kerk van Jesus, waarvan Hyself die hoeksteen is. Die ou tempel is vir altyd verwerp soos ons duidelik leer in Markus 11 waar Jesus dit gedemonstreer het met die vervloeking van die vyeboom. Die nuwe tempel waarna alle nasies gaan stroom volgens die profete, is die kerk, waarin daar redding deur Jesus te vind is vir alle volke! Dit het hoegenaamd niks te doen met ‘n gebou in Jerusalem nie. (Kliek ook op Ou Testamentiese profesie)

Wat moet ons as Christene se houding en boodskap wees in te midde van die skrikwekkende geweld?

Christene moet alle geweld veroordeel. Ja, die terroriste organisasie Hamas se vuurpylaanvalle teen Israel is beslis nie aanvaarbaar nie, maar net so kan Israel se oordrewe geweld teen burgerlikes allermins goedgepraat word. Elke kind van God sal ‘n vredemaker wees. Ook in hierdie konflik moet ons ‘n vredesboodskap laat hoor. Vrede wat slegs te vinde is in Jesus vir beide Jood en Palestyn.

Christene sal ‘n besondere liefde vir die Joodse volk hê, ons Verlosser was immers na die vlees ‘n Jood! Nooit sal Christene anti-Semities mag wees nie! Maar presies hoe moet hierdie liefde gestalte vind? Soos Paulus moet dit ons begeerte wees dat hulle tot redding deur Jesus Christus sal kom. “Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word...” (Romeine 10:1) Ons groot verpligting teenoor die Joodse volk is ‘n sendingplig! 

As Christene het ons egter ook ‘n sendingplig teenoor Moslems. As Christene altyd kant kies teen die Palestyne en selfs Palestynse Christene, hoe gaan ons die Moslems oortuig van God se liefde ook vir hulle? Is dit reg dat ons so blind is vir die nood van Palestyne?

As Christene het ons ‘n liefdesplig teenoor alle Christene. Moet ons nie dalk meer ondersteuning uitspreek en hulp betoon aan Palestynse broers en susters wat swaarkry nie?

Hierdie is maar net ‘n paar voorlopige basiese gedagtes. Maar dalk help dit ons om meer Skriftuurlik te dink oor ‘n baie aktuele saak.

*"Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel." (Eksodus 19:4-6)

"Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys." (1 Petrus 2:9-10)

Vir meer inligting, kliek op PALESTYNSE CHRISTENE


 Gaza - PressTV

Vir 'n volledige bespreking van hierdie saak, kliek op UITVERKORE VOLK.





KYK NA JESUS

- en sien die hart van God!

Om God te ken, lief te hê, te dank en te bewonder is ‘n einddoel opsigself. Weet nou maar vir ‘n feit – geld maak gaan nie vir jou ‘n sinvolle doel gee om voor te lewe nie. Ja, selfs ook nie ons kosbare kinders nie. Dis dalk vir jou nuus, maar jy kan nie vir jou kinders lewe nie – ons is gemaak vir ‘n groter doel as dit. (Hoe ontsaglik belangrik hulle ook al is!)

Onthou weer God is nie ‘n middel tot ‘n doel nie, maar is self die doel! (Kliek op WAAROM DIEN JY GOD?) Om Hom te bemin en te eer met ’n passie, met ’n volkome hart, met ons lewe en ons energie is die sin en opdrag van ons bestaan. Natuurlik sit ons nou met ‘n praktiese probleem - hoe kan ons God liefhê as ons nie weet hoe Hy is nie? As ons nie sy karakter en persoonlikheid eerstehands van naby ken nie. ‘n Mens raak tog eers regtig lief vir iemand soos jy daardie persoon beter leer ken. Nou is dit ’n feit - ons ken God nie sommer so van vanself nie. (Ons kan wel sekere dinge aflei uit natuur, hoe groot en magtig Hy is.) Maar ons ken nie God se hart en gevoelens nie. Ons ken nie sy persoonlikheid en bedoelings nie. Inteendeel - mense het ’n valse beeld van God. Trouens die Satan skep ’n valse beeld van God juis sodat ons Hom nie moet aanbid en liefhê nie. (Reeds in die paradys insinueer hy dat God ‘n tiran is, wat nie wil hê dat die mens in sy voorregte en kennis moet deel nie) Daar is veral twee valse beelde van God:



Tiran : God is ‘n wrede heerser, ‘n hartelose despoot wat lekkerkry as hy ons kan uitvang of kan straf.

Vader Krismis figuur : Dis die ander uiterste van ‘n skewe beeld van God. Hy is ‘n persoon sonder enige norme en beginsels. God is maar altyd vriendelik en wil net persente uitdeel. Hy is nie konsekwent ten opsigte van sy eie wette nie. Hierdie valse God, wat maar eintlik die mens se eie skepping is, gee nie om as jy ongetroud saambly nie, as jy bedrog pleeg nie, as jy met onvergewensgesindheid en bitterheid loop nie... Hy "smile" net oor als.

MAG GOD ONS BEVRY VAN VALSE BEELDE OOR HOM!

Dis so dringend belangrik dat ons God sal ken, maar waarom ken ons Hom nie? Een rede is - niemand het God ooit gesien nie! Die dieper rede hiervoor is natuurlik dat ons sondigheid dit onmoontlik maak om God te sien. Ons sal sterf as ons Hom sien!  ...en tog dis juis so nodig dat ons Hom "sien".

Vir hierdie dilemma het God die volmaakte oplossing: “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon--en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom--vol van genade en waarheid. Johannes getuig van Hom en roep en sê: Dit was Hy van wie ek gesê het: Hy wat ná my kom, het voor my geword, want Hy was eerder as ek. En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade. Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.” (Johannes 1:14-18)

Dis die heerlike en drastiese stelling wat Johannes hier maak. Jesus het God aan ons bekend kom stel. Jesus het God vir ons kom wys. Jesus wys deur sy lewe en sterwe God se hart vir ons! As ons na Jesus kyk, deur die evangelies te lees dan sien ons God. Dit gaan nie oor ‘n uiterlike fisiese samestelling nie, nee God is Gees. Jesus wys vir ons God se persoonlikheid, sy karakter, sy wense en bedoelings. Anders gestel - Jesus wys God se heerlikheid vir ons. (Ja, Jesus is die finale antwoord op Moses se hartsbegeerte en versoek wat ons in Eksodus 33:18 kry : “Laat my tog u heerlikheid sien!") ’n Heerlikheid vol genade én waarheid. Jesus wys God self vir ons. Omvattend en volledig. Hoor wat sê Jesus vir Filippus in Johannes 14:8-9. “Toe sê Filippus vir Hom: "Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg."En Jesus sê vir hom: "Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’?" Geweldig! Jesus is God wat mens geword het, Jesus openbaar God self aan ons. 

Belangrik : God is nie anders as Jesus nie. Ek vermoed sommige van ons sit met ’n valse teenstelling : God, die Vader is streng en ongenaakbaar; Jesus is sag en vriendelik. God straf sonde , maar Jesus gee nie eintlik om nie. Dis ‘n totale valse persepsie. Jesus sê – “wie my gesien het, het die Vader gesien.” God se karakter verskil nie van Jesus se karakter nie!

Jesus wys God vir ons. Hy verklaar God *, deur sy woorde en dade vertel Jesus as’t ware God vir ons Ook ander NT skrywers bevestig dit : Paulus stel dit so duidelik in Kolossense 1:15 “Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie."  En in Hebreers 1:3 lees ons : “Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God.” “Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese...” (OAV)

JESUS WYS VIR ONS GOD!

Wil jy weet hoe is God? Wil jy sy heerlikheid aanskou? Kyk na Jesus se woorde en dade. Blaai sommer saam met my deur die Johannes evangelie. Sien hoe straal die heerlikheid van God uit Jesus - ’n heerlikheid vol van waaragtige, egte genade. Sien God se liefde vir sondaars raak as Jesus by die put met die Samaritaanse vrou praat. ’n Liefde vir sondaars! (Het jy geweet God het sondaars regtig lief terwyl hulle nog sondaars is. (God is so anders as ons – dis moeilik vir ons om ’n prostituut, verkragter of plaasmoordenaar lief te hê – maar God kan!) Maar kyk hoe gebalanseerd is God se liefde wat deur Jesus gewys word - Jesus bied lewende water aan, maar dit beteken nie sonde word goedgepraat nie – Hy bring haar verborge sondige leefstyl aan die lig, naamlik haar saambly met iemand wat nie haar man is nie!) God is volmaak liefde, ook volmaak heilig en dis deel van dieselfde heerlikheid.

Wil jy weet hoe is God? Kyk na Jesus by die graf van Lasarus. Hy huil, Hy voel saam met mense. Maar sien ook die Goddelike almag. Reddende almag wat ‘n vrot dooie van vier dae tot lewe kan roep!

Wil jy weet hoe is God? Hoor hoe hanteer Jesus vir die diep gevalle Petrus? (lees Johannes 21) Volmaakte vergewende liefde. ’n Liefde wat herstel. Kyk na Jesus, dan “sien “ jy God se genade vir iemand wat gestruikel het. 

Wil jy weet hoe is God? Kyk ook na Jesus as Hy die duiweverkopers en die gulsige “foreign exchange” agente by die tempel uitboender. (Johannes 2) Luister as Hy vir die ongelowige Jode uitkryt: “Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen...” (Joh 8:44) Onthou die heerlikheid van God is vol genade én waarheid... Ja, beslis ook waarheid, die heiligheid van God kan nie sonde en valsheid toesmeer nie, maar ontbloot dit!

Wil jy weet hoe is God? Kyk veral na die kruis, daar word God se volmaakte karakter soos nêrens anders geopenbaar nie. Daar sien ons die volle omvang en intensiteit van God se heiligheid en liefde. Sy intense heiligheid vereis dat Hy sy haat en toorn oor Jesus uitgiet aan die kruis, want op daardie oomblik is Jesus die offerlam wat in ons plek sterf, bedek met ons sonde. Maar juis daar sien ons sy intense onbeskryflike liefde as Hy sy eie Seun ’n martel en vloekdood laat sterf om sondaars te red. God is nie ’n tiran nie, Hy is ook nie ’n beginsellose sentimentele Vader Krismis nie. Hy is die volmaak heilige, die volmaak liefdevolle God wat die wêreld so liefgehad het dat Hy sy eie Seun gestuur het....

Kyk na Jesus dan sien jy wie is God. Kyk na Jesus, glo in Hom wat in jou plek die sondestraf gedra het, dan ontvang jy ’n nuwe hart, wat jou in staat stel om God regtig lief te hê. 

*Die Griekse woord wat hier vir bekendmaak/verklaar gebruik word is die woord waarvan ons begrip “eksegese” afgelei word naamlik εξηγησατο