BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 26 Junie 2019

Die tragedie van Kwa Sizabantu


[Onderstaande is 'n skrywe van Koos Greeff]



Ek was een van hulle wat vir lank op Kwa Sizabantu gewerk het. Om presies te wees vanaf 1977 tot 1994. Aanvanklik met my hele hart en siel maar teen later jare het ek begin besef ietsie is verkeerd hier. So is ons voort in skynbare vrede en het ons ‘n nuwe lewe kom ooptrap teen die Olifantsrivier. Selfs baie in Namibië gekom en oral oor gepreek – selfs op die draadloos. 

Kort voor die wentel van die eeu het ek besef dinge loop skeef op die eens sieraad van die Evangelies-gesindes. So begin ek bronne bymekaar maak en handig ek ‘n navorsing-tesis in oor Kwa Sizabantu. My bevinding destyds was dat daar ‘n oorbeklemtoning van sekere skrifgedeeltes was ten koste van die onderbeklemtoon van ander waarhede. Die gevolg was ‘n skeeftrekking van die Evangelie. Ons word mos opgeroep om die volle Evangelie te verkondig! As mens verder sou wou gaan kon jy net eenvoudig kyk na die sogenaamde 5 “Solas” van die kerk. Daardie waarhede wat ons vasklou wat soos bakens ons op koers hou. Hier het KSB totaal begin skeeftrek want vir die “Solas” van genade en die kruis alleen was daar nie meer plek nie. 

Baie predikante en ander vriende het probeer waarsku maar ongelukkig tree KSB toe terug in ‘n “laer-trek” mentaliteit. In plaas daarvan om in eerlike gesprekke te tree en grondige selfondersoek te doen, beveg die leierskap alle broederlike teregwysings hand en tand. So was dit tot laasjaar. 

Meteens begin Dr Peet Botha, voorheen registrateur van die kollege op KSB skrywe. Aanvanklik pleitend en met “versigtige” stappe. Weereens gaan die leierskap van KSB in die “laer-mentaliteit”. Soos te wagte, ontstaan daar toe ook binne-gevegte en verval die hele werk in spanning en skeuring. 

Een van die groot probleme is natuurlik rondom die leierskap van mnr. Erlo Stegen. Enige mens met bietjie onderskeiding kon sien hoe hy verstandelik agteruitgaan. Die eens vurige prediker wat sommer so uit die vuis gemaklik kon praat staan nou star en lees vanaf ‘n dokument. Ongelukkig is hy onsamehangend en dikwels herhaal hy sinne. Soveel so dat andere al moes ingryp tydens die erediens want mnr. Erlo Stegen kom nie tot by die einde van die voorbereide dokument nie. Dit is so ‘n tragedie en laat dink mens aan die ou sprokie van die koning wat almal om hom oortuig het van die lof van sy pragtige kleed – intussen was hy kaal. Slegs die hofnar het die moed gehad om hom op sy naaktheid te wys. Miskien is ek ‘n nar – dit kan uself oordeel. 

Die hartseer van die saak is dat ‘n sekere Lidia Dube wat beweer sy het eenmaal gesterf en Jesus gesien in die hemel, op die pas afgelope Hemelvaartdag, ‘n skreiende toespraak gelewer het in die pragtige kerkgebou van KSB. Vir ure aaneen besing sy haar eie lof en doen daarna ‘n skokkende aanval op onder andere menere Friedel en Arno Stegen. Laas Vrydag kon die twee eerbare manne nie meer die druk hanteer nie en bedank hulle beide uit leierskapposisies van KSB. So dryf die bootjie nou roederloos verder. 

Intussen word daar in-diepte ondersoeke gedoen na die finansies en bestuur van KSB en skokkende bewyse kom na vore. Miljoene rande se fondse wat net “verdwyn” het, moontlike geldwassery en reuse kontant bedrae wat in sakke heen en weer gevlieg word om aan agente van die “Hollandse koningin” af te lewer. Aan die een kant is dit lagwekkend maar dan kyk mens na die erge hartseer en diepe ontnugtering van baie lidmate en mede-werkers van KSB. In hope verlaat hulle nou die sinkende skip. KSB het verval tot ‘n toksiese kultus. 

Mag die Here ons almal genadig wees en mag ons waak en bid en let op ons leer en lewe. 

U kan gerus meer lees oor die hartseer verhaal op die (kliek) blog van Dr Botha. U is ook welkom om Koos persoonlik te kontak by +27 (0) 83 651 5686        



Koos en Estelle Greeff

Maandag 24 Junie 2019

SAN GESIGTE


Die San (Boesman) mense by wie ons gemeente betrokke is, dra nie meer stertrieme of jag met pyl en boog nie. 



As daar nog mense is wat hulle as lewende kuriositeite wil beskou of behou sal hulle uiters teleurgesteld wees.


Hulle is mense in transito wat sukkel om suksesvol die oorgang tussen ‘n jagter-versamelaars bestaan en die moderne westerse ekonomiese stelsel te maak. In die proses verarm en verwaarloos hulle. Hulle word maklik die prooi van alkoholisme, politieke uitbuiting, diskriminasie en valse godsdiensgroepe. 








Hulle onlangse geskiedenis is besaai met mislukte opheffingsprojekte… Ontnugtering, ontworteling, veragtering en hope misverstande!


Dis alles baie kompleks, maar hulle is MENSE, behorende tot die Hai//om en !Kung groepe, mense wat die Here voor ons deur geplaas het en teenoor wie ons ‘n verantwoordelikheid het. Mense wat die evangelie nodig het net soos ander mense. Mense wat ook slegs troos sal vind en ‘n nuwe toekoms deelagtig sal word as hulle aan Jesus behoort! 


 Andries Gous en Karl Ganseb doen moeite om die evangelie aan hierdie mense te bring. Gaan jy ook betrokke raak?



Hierdie is ‘n paar gesigte wat hulle menswees uitbeeld. 



Baie dankie aan Duncan en Ida Irvine wat die foto’s geneem het.

Sondag 23 Junie 2019

GOD SORG VIR SY KERK

OOK DEURDAT ONS BUITE DIE “BOKS” BEGELEI WORD! 


Die Here sal sy kerk nooit in die steek laat nie. Dit het ons nou weer opnuut ondervind. Juis nou in ‘n tyd van afvalligheid, dwaalleer, valse teologie en ‘n tekort aan getroue Woordbedienaars. Op Sondagoggend 23 Junie 2019 is twee ouderling broers van die NGK Tsumeb, Andries Gous en Herman Fuls amptelik as gemeentebedienaars (met die reg tot Woord en sakramentsbediening onder die toesig van die kerkraad) deur dr. De Wet Strauss van die Kuratorium van die NGKN bevestig. Dit was ‘n heuglike en historiese geleentheid! Nuwe grense is oorgesteek. Dis leraars wat in die hart van die gemeente gegroei en hulle roeping ontvang het. Hulle het binne 'n gemeentekonteks as dienende ouderlinge hulle opleiding ontvang deur ander persone wat in die praktyk van die bediening staan. Ons beleef hierin iets van die besondere leiding van die Heilige Gees waarvan Jesus self gepraat het in Johannes 16. De Wet het hierdie hoofstuk gebruik om op ‘n onderhoudende manier die Woord aan die woord te laat kom en ook op sy eie vars wyse van dinge doen die hele kerkraad en gemeente te betrek. Die twee broers het op die kansel self hulle legitimasie eed onderteken. Die hele kerkraad was betrokke by die handoplegging. In werklikheid is ons hele kerkverband, die NGKN betrokke, want dis nie iets wat ons in Tsumeb bloot op eie houtjie aangepak het nie. Aan God alleen die eer! 




Andries deel iets van die pad wat die Here deur middel van sy kerk met hom geloop het: 

“In Julie van 2012 verplaas die maatskappy vir wie ek werk my na hulle Tsumeb operasies. 

Ons skakel in by die Tsumeb gemeente van 2013 af nadat my familie ook by my aangesluit. Ds. Johannes de Koning besoek ons aan huis en kort daarna ontvang ons huisbesoek van die ouderling verantwoordelik vir die wyk. 

Roelf van Wyk het as ouderling sommer kom koffie drink en het begin gesels oor die bediening onder die San mense en die Wildevy gemeente. Hy prikkel my belangstelling soveel so dat ek daaraan begin dink om betrokke te raak by die San bediening. 

Op die 13de Julie 2014 tydens die oggenddiens hoor ek dat ds. Johannes de Koning iets vertel van die Tsumeb gemeente se betrokkenheid by die Wildevy gemeente op Tsintsabis en ek besluit dat dit sommer die geleentheid is om met hom te gaan praat, en om betrokke te raak. 

Daardie aand gaan woon ek die eerste keer in Tsumeb die aand Bybelstudie geleentheid by en ek gesels met ds. Johannes oor die San bediening en dadelik nooi hy my om die daaropvolgende Woensdag saam met hom te gaan wanneer hy ’n Bybelstudie geleentheid by die Tsintsabis gemeente gaan lei. Dit raak daarna ‘n gereelde instelling om elke tweede Woensdag saam met hom uit te gaan Tsintsabis toe. 

My betrokkenheid by Tsintsabis het dus begin nadat twee broers my bewus gemaak het van die werk en die Heilige Gees my aangemoedig het om my hand op te steek om betrokke te raak. Soos met alles in die koninkryk moes hierdie twee broers die hout aandra deur te getuig en uit te nooi totdat daar genoeg hout was vir die Heilige Gees om die vuur aan die brand te steek binne-in my. 

In die tussentyd oortuig een van die ouderlinge van Wildevy gemeente by name Karl Ganseb my om saam met hom die Woord te begin bring onder gemeenskappe binne die Wildevy gemeente se bedienings area wat nie bereik word deur ds. Josef Gevers op Tsintsabis nie. 

Die bediening saam met Karl groei oor die volgende paar jaar tot 4 bedieningspunte waar die Woord gebring word aan om en by 100 kinders en 120 volwassenes op ’n gereelde basis. 

Die een ding lei tot die ander en ek word saam met Roelf van Wyk afgevaardig om Tsumeb gemeente by DEGNOS se jaarvergadering te gaan verteenwoordig in 2015. Tydens my betrokkenheid by DEGNOS kom ek al meer onder die besef hoe belangrik die rol van toerusting van gemeenteleiers is. Ek kom al meer onder die indruk dat ons die vermenigvuldigings effek ( 1-2-4-8-16-32-64-128-256....ens) benodig as ons regtig effektief diensbaar in die koninkryk wil wees en dit kan slegs behaal word indien daar genoegsame gelowiges toegerus word om verantwoordelik diensbaar te wees in elke gemeente. Dieselfde beginsel geld binne-in gemeentes, waar dit onmoontlik is vir die predikant om alleen die gemeente te versorg as die res van die gemeente nie betrokke is by die versorging van die liggaam nie. 

Ek kom in hierdie tyd agter dat daar min dinge so gevaarlik is soos om mense los te laat om te preek wat nie goeie lering (toerusting) ontvang het nie. Ek sien immers daagliks saam met Karl wat die impak van verkeerde lering is onder die San mense en watse groot verwarring dit veroorsaak. Die situasie lyk ook nie veel beter onder die mense in my direkte omgewing nie. 

Iewers tydens die baie gesprekke van DEGNOS raak ek bewus dat ons as NG Kerk Namibië met ‘n groot probleem sit in die vorm van gemeentes wat nie meer voltydse professionele predikante kan bekostig nie, asook die gebrek aan Namibiese burgers wat opgelei is as predikante. Verder dra die ouer wordende predikantekorps in Namibië ook by tot ‘n krisis wat net wag om te gebeur. Ook sien ek al meer dat daar so ‘n groot braakland bestaan waar mense nie die Woord hoor nie en nie altyd toegang het tot plekke van aanbidding nie. Niemand kan dit beter stel as on Here Jesus self nie, soos opgeteken in Matteus 9:37: “Die oes is groot, maar die arbeiders is min” 

Die besef sink in dat daar ’n groot nood is vir opgeleide bedienaars van die Woord, nie net in kleiner plattelandse gemeentes nie, maar ook in die bedienings areas rondom gemeentes, die gebiede wat braak lê waar daar geploeg en gesaai moet word. 

Iewers in die gange kom ek te hore van die versoek dat ds. Hendrik van Zyl van DEGNOS moet begin met lidmaatbemagtigingsopleiding in Otavi vir die Otavi gemeente juis as gevolg van die bedienings situasie daar waar nie meer ’n voltydse leraar beskikbaar is nie. Hierdie opleiding is dieselfde opleiding as wat die inheemse predikante van die Wildevy, Tsumkwe en Luhebu-Noord gemeentes ondergaan het. 

Na ‘n gesprek met Hendrik waar hy aandui dat dit goed sal wees as Tsumeb ook inskakel, word die uitnodiging gerig aan die gemeentelede van Tsumeb. 

Op die 11de Februarie 2017 meld ons aan saam met lede van Otavi en Grootfontein aan saam met ons lektore, di. Hendrik van Zyl, Dirk de Vos, Lucas van Vuuren en mev. Jeanette Lubbe, wat ons die volgende 30 maande toerus om meer bruikbare instrumente in die hand van die Here te wees. 

Tesame met die amptelike opleiding is daar ook konstante interaksie met ds. Johannes de Koning wat as mentor aktief betrokke is op ’n informele basis met die slyp van my denke en help met die ontwikkeling van my bedienings vaardighede en die groei van my eie teologiese begrip. 

Ons doen onder die vaandel van DEGNOS die Gemeentebou, Prediking en Pastorale sorg programme wat deur DEGNOS ontwikkel is in samewerking met die Departement van Kontekstuele Teologie van die Universiteit van Pretoria, sowel as die Veritas College se vier fondasie modules wat soos volg opgedeel is: Module 1 Uitleg en Vermaning : Paulus se briewe, Module 2 Narratiewe literatuur – Pentateug en Ou-Testamentiese Geskiedkundige boeke, Module 3 Poësie, Wysheidsliteratuur en profete en Module 4 Die Sinoptiese evangelies, Johannes, Handelinge en Openbaring. 

Die klaskamer opleiding was baie belangrik maar sonder die mentorskap van die vier dosente(Hendrik, Dirk, Lucas en Jeanette) en Johannes sou dit nie moontlik gewees het om ’n goed toegeruste bedienaar van die Woord te word nie. Hulle bydra tot my groei en ontwikkeling was van onskatbare waarde en ek dank die Here vir hulle betrokkenheid in my lewe. 

Hierdie is die begin van ’n opwindende en baie interessante nuwe veld in die bedienings beursie van die NG Kerk en dit is met groot opgewondenheid dat ons uitsien na die pad vorentoe.” 

Ons ander ouderling bedienaar, Herman Fuls beskryf sy pad so: 

“Ek het op 'n stadium in my lewe baie ver van die Here afgedwaal. Dit was grotendeels omdat ek nie betrokke was by 'n groep gelowiges / kerk van die Here nie. Die Here was my baie genadig en het my kom red uit 'n diep verlorenheid. Ek het op 'n harde manier uitgevind wat die waarde van kerkwees is en wat die implikasies is as mens nie deel raak van Christus se 'liggaam' hier op aarde nie. Dis inderdaad net baie gevaarlik om 'n 'randfiguur' te wees en nie voluit betrokke te wees en te leef vir Christus nie. God het my geplaas in 'n klein, wonderlike dorpie - Rosh Pinah. Daar het ek die stryd beleef van 'n gemeente wat geworstel het om 'n voltydse leraar te beroep en te kan bekostig. Vir jare het die NG Kerk Lüderitz (bestaande uit Lüderitz, Rosh Pinah en Aus) deur fases gegaan waar daar een maal 'n maand 'n leraar was wat die Woord kon verkondig en vir lang tye (soms ‘n jaar of twee) waartydens daar glad nie 'n leraar was nie. Die gemeente was aangewese op die kerkraad en gelowiges om eredienste te lei en na gelowiges om te sien. Daar het ek bewus geraak van my eie tekorte (en van gelowiges in die algemeen) om in sulke omstandighede te kan volhard. (Christus was goed en het in daardie moeilike omstandighede die gemeente versorg). Die Here het my en my gesin gelei na Tsumeb. Ons het ons pas in Tsumeb gevestig toe die geleentheid opduik om opleiding te ontvang wat ek met beide hande aangegryp het. Alle lof aan ons Skepper! Ek stap nog 'n pad saam met God om te sien en hoor waar en hoe Hy my wil gebruik vir Sy werk hier. Ek besef vandag dat daar baie gemeentes en gelowiges in Namibië is onder dieselfde omstandighede. Hierdie is 'n geleentheid om ons kerkrade op te lei en toe te rus vir diens aan Christus. Ek nooi ander gelowiges en kerkraadslede uit, wat die roepstem van God gehoor het, om verder toegerus te word vir diens in Sy Koninkryk en na God se kudde om te sien.” 

Die Here Jesus het beloof dat die Gees ons sal lei. Inderdaad het ons hier op Tsumeb sy leiding in hierdie tyd op besondere manier ervaar en ons sien nederig, dankbaar en afhanklik uit na die pad verder wat Hy met ons gaan stap!  Ja, ons weet ons moet nog so baie leer. Daar is soveel dinge waarmee ons sukkel. En tog, wat ‘n voorreg om deel te wees van die liggaam van Jesus! Mag God ons almal maar in besonder hierdie broers bewaar van die Bose sodat daar groot vrug op hulle arbeid mag wees tot eer van God!


De Wet Strauss, Andries Gous, Herman Fuls, Johannes de Koning (Foto's -  Ida Irvine)

Donderdag 20 Junie 2019

HY OF SY?

Mag ons van die Heilige Gees as "SY" praat?

As leraar van die NGK Tsumeb wil ek sonder om in lang redenasies te verval my tog duidelik en openlik distansieer van en uitspreek teen ‘n vroue leraar ds. Hestie Hay-Blaauw se verwysings na die Heilige Gees as vroulik. Die gewraakte uitlatings het sy gemaak tydens ‘n gesprek wat sy en ds. Clem Marais in die program van Kanaal 7, Onder die Kameelboom gehad het oor Johannes 16. 



Dis so hartseer dat Hestie ’n wonderlike hoofstuk en ‘n heerlike onderwerp skade aangedoen het met haar verwarrende opmerkings rakende die Heilige Gees soos : “Dis nogal ‘n sy.” “Sy met ons is.” “Haarself” Die herhaling wys dit was nie ‘n toevallige glips of terloopse opmerking nie! Klink of dit nogal belangrik is vir Hestie.  Wat sou hier agter sit? Feministiese teologie? (Uit die teologiese fakulteite van vandag kan mens enige gogga verwag.) Kom dit uit dieselfde kringe as “Die Shack” met verwysings na God die Vader as ‘n swart vrou (Papa) en die Heilige Gees as ‘n Indiese vrou (Sarayu)? Is dit spekulatiewe teologie wat probeer inval by die tydsgees se geslagsverwarrende agenda? Ek weet nie… Hestie sal moet verduidelik. 

Natuurlik weet ons dat God nie geslagtelik is in die menslike sin van die woord nie. God is immers Gees. (Johannes 4:24) 

En tog het God Homself as Vader (nie moeder nie) geopenbaar en Sy enigste Seun (nie enigste dogter nie) na die wêreld gestuur! 

Dis hoe God self besluit het om Hom aan die mens bekend te stel in Sy onfeilbare Woord. God het dit nodig geag om binne in 'n konteks en omgewing van baie gode en godinne na Homself in manlike terme te verwys. Daar word oorweldigend na God in die Bybel verwys as Vader. En manlike voornaamwoorde word gebruik. “En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.” (1 Johannes 1:3). En ons weet dat die Heilige Gees die Gees van God genoem word, ook die Gees van Christus en spesifiek die Gees van Jesus. (Handelinge 16:7) Om dus van die Heilige Gees ‘n “sy” te maak het nie Skriftuurlike gronde nie! 

Ons moet God aanbid in terme van hoe Hy Homself duidelik openbaar in die Skrif, anders verval ons in "goue kalf godsdiens" waarvan die gevolge skrikwekkend sal wees!

Ja, ons weet dat mens in Hebreeus manlike en vroulike naamwoordvorme aantref en dat “ruach” (gees) ‘n vroulike naamwoord is. Dis natuurlik op ‘n taalkundige vlak, want “ruach” word ook spesifiek gebruik om na die gees van ‘n man te verwys. Grieks (soos Duits) het drie vorms naamlik manlik, vroulik en onsydig. Die Griekse woord vir Gees (pneuma) is onsydig, maar daaruit kan ons niks ten opsigte van geslag aflei nie. Die Duitse woord vir meisie “das Mädchen” is immers ook onsydig! 

Ek betreur Hestie se uitsprake. Dis hartseer dat sy terugval op die holruggeryde slagspreuk van die liberalisme en relativisme dat ons God nie in “boksies” moet plaas nie, asof dit beteken dat ons nou maar sommer kan spekuleer oor Hom. Natuurlik betreur ek ook die feit dat party mense nou weer met leedvermaak en kwaadwilligheid hierdie tipe uitlatings van een persoon gebruik om die kerk aan te val! 

Kliek op KANAAL 7 om self te luister na Hestie.


Donderdag 13 Junie 2019

MAAK VAS; MAAK SEKER! (6)

- Die belangrikheid van HERINNERING EN HERHALING 



Ons tema die afgelope tyd was : “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.” (2 Petrus 1:10) Ons het gesien dat sekerheid iets is wat daagliks uitgeleef moet word. Moenie toelaat dat jou geloof in Jesus stagneer nie. Jy het reeds ALLES van God ontvang! Werk nou doelbewus aan die vrug van geloof... Jou sekerheid sal juis groei as jy erns maak met die opdragte om jou geloof te verryk met... 


Hoe gaan ons nou prakties gehelp word? Petrus se oplossing : Herinnering en herhaling! Dis dikwels vir ons ‘n probleem...Ons wil mos tog so graag iets nuuts hoor! Dis hoekom baie mense eerder na 'n praatjie oor Satanisme of die New Age gaan luister as na die verlossingsboodskap van Jesus Christus. (Ons wil altyd en gedurig iets nuuts hoor soos die filosowe van Athene in Paulus se tyd.) Herinnering en herhaling egter is onmisbaar belangrike Bybelse beginsels vir geestelike gesondheid, ja vir die bou van sekerheid! Petrus sê : "Om hierdie rede sal ek julle altyd aan hierdie dinge herinner, al weet julle dit en al staan julle reeds vas in die waarheid wat aan julle bekend gemaak is.” (2 Petrus 1:12) 

VERGEET IS SO MAKLIK 

Waarom hierdie klem? Mense vergeet. Baie maklik en sommer baie gou. Dis in ons menslike aard. Ons vergeet oor die algemeen baie maklik, maar veral geestelike waarhede en ook opdragte. Hoekom? Ons leef in ‘n wereld wat die teenoorgestelde glo en doen van wat die Woord sê en beveel. Dink aan hoeveel leuens en propaganda ons en ons kinders elke dag blootgestel word. ’n Kerk kwyn, gelowiges raak onseker, afvallig en moedeloos omdat hulle vergeet! Petrus was bewus van hierdie gevaar. (9) Mense vergeet wat God persoonlik vir hulle gedoen het, vergeet wat God vir die gemeente gedoen en geleer het. Ons vergeet veral so makilik waaroor die evangelie nou juis gaan. 

DIE OPLOSSING 

Nou wat is die teenmiddel teen vergeetagtigheid? Jy moet weer onthou. Hoe gaan jy weer onthou? As jy herinner word. Dit is waarna Petrus hier verwys in 2 Petrus 1:12. Hy sê hier: "Ek besef ek sê nie iets nuuts nie, julle weet hierdie dinge alreeds, maar dis noodsaaklik dat julle dit oor en oor moet hoor. En julle moet ook na my dood nog steeds hierdie dinge onthou!" 

Herinnering speel ‘n baie belangrike rol in ons geestelike gesondheid. 

Ons vind hierdie saak orals in die Nuwe Testament: 

“Tog is ek in my brief plek-plek nogal uitgesproke. Dit was maar om julle aan die een en ander te herinner. God het my immers in sy genade die voorreg gegee.” (Romeine 15:15) 

“Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ‘n vuur weer moet aanblaas.” (2 Timoteus 1:6) 

“Hou aan om die gelowiges aan hierdie dinge te herinner....” (2 Timoteus 2:14) 


Ons het die afgelope tyd gepraat oor sekerheid en vastigheid in ‘n kind van God se lewe. Twyfel jy? Die antwoord wat Petrus gee vir mense wat reeds tot geloof in Jesus gekom het is : Leef die Christelike lewe! Werk daaraan in gehoorsaamheid! Moenie by geloof stilstaan nie. (Moenie gedurigdeur as’t ware jou geloof probeer dissekteer en kyk of dit eg is nie – bewys dit met jou dade!) Groei in heiligheid, kennis, selfbeheersing, liefde! Werp alles in die stryd om vordering te maak. 

Hoe gaan ons dit nou regkry? Dit bring ons weereens by die praktiese noodsaaklikheid van herinnering en herhaling. Die Woord is ‘n genademiddel! Die gemeentelike byeenkomste is onontbeerlik op ons pad! Anders gestel dit is ononderhandelbaar belangrik dat God se kinders gedurig aan hulle voorregte en verantwoordelikhede herinner moet word. Wat God gee en wat ons moet doen. ‘n Kind van God mag nooit redeneer, ag , ek weet dit al, nie! 

HOE EN WAAR? 

Hoe en waar gebeur hierdie herinnering? Deur die Woord. Dis immers hoekom Petrus SKRYWE! Waar is die primêre plek waar ons die Woord verstaan? Binne in die gemeente, deur die prediking en die onderstreping van prediking deur die sakramente! 

‘n Kind van God mag nooit moeg word vir of wegbly van die herinnering deur die Woord en die sakramente nie.

Wat is die kern van die herinnering? Die evangelie self. Paulus “herinner’ sy lesers ook in 1 Korintiërs 15:1-4 soos volg:

“Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. 

Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom. 

Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 

Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.” 

Toets jouself. Maak dit jou opgewonde as die kruisdood van Jesus en die implikasies daarvan duidelik uitgespel word in die prediking? Is die Nagmaal vir ou belangrik? Vir die kind van God bly die kruisboodskap altyd vars! As Jesus vir jou vaal geword het en jy net belang stel in praatjies oor die Illuminati, Sataniste of tekens van die eindtye is daar fout. Kyk weer na jou fondasie! Bou op die fondasie van die evangelie. Die feite van die kruis en die opstanding en wat dit vir jou beteken. 

VAN VASTE FONDASIE TOT FINALE HEERIKHEID 

Hoekom is die evangelie ‘n vaste fondasie? Dit gaan nie oor mites en praatjies nie. Die evangelie waarhede berus op ooggetuie verslae, vaste gronde! Petrus verwys na die gebeurtenis by die berg van verheerliking (hyself was daar en het die STEM gehoor!) en verder op die profetiese woord wat deur die bemiddeling van die Heilige Gees tot stand gekom het. Beide het ons vandag in ons Bybels. Dis die getuienis van die apostels en profete. Hier is die lamp wat vir ons in donker tye, ook wanneer ons onseker voel die pad aanwys. Dis hierdie beloftes wat ons sekerheid gee. Hierop moet ons ag slaan, hieraan moet ons getrou en gedissiplineerd aandag gee tot op die wederkoms van Jesus wanneer Jesus finaal alle duisternis sal laat verdwyn uit ons harte! 

“En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig. Hierdie boodskap is soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte.” (2 Petrus 1:19) Alle twyfel en stryd sal dan finaal verby wees! Jesus self is die Môrester!* Ja daar kom ‘n heerlike einde wanneer ons heeltemal verlig sal wees met die heerlikheid van Jesus self! Geloof sal oorgaan in aanskoue! Die finale oorwinning! Tot dan moet ons onbeweeglik vashou aan die Woord! 

Vir die begin van die Pinksterreeks oor SEKERHEID kliek op

*Vervulling van die beroemde profesie in Numeri 24:17



Woensdag 12 Junie 2019

MAAK VAS; MAAK SEKER! (5)


- Maak jou roeping en verkiesing vas deur te DOEN! 



Sal ek die hemelse eindpaal bereik? Hoe weet ek die Here self het my geroep om sy kind te wees? Hoe kan ek seker wees dat ek ook uitverkies is? Hoe kan ek groei in heiligheid? Hoe moet ek volhard? Die Woord van God antwoord vir ons hierdie vrae op baie praktiese wyse. 

Kom ons kyk verder wat sê die apostel Petrus : “As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken. 
Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is. Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie. 
En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.” 2 Petrus 1:8-11 

Dis baie duidelik Petrus praat nie hier van valse Christene en onbekeerde mense nie. HY verwys immers na “reiniging van vroeëre sondes ” Hy praat met Christene. Wat sê hy vir Christene oor sekerheid van ons bestemming? 

Moenie gaan stilstaan nie! 

Moenie in selftevredenheid verval nie. Moenie fokus op ‘n dag of datum lank gelede nie. Fokus op groei in die voorafgenoemde elemente deugsaamheid, kennis, selfbeheersing, volharding, godsvrug, broederliefe en liefde vir almal. Dis reeds aanwesig, maar dit moet altyd toeneem. Altyd ruimte vir verbetering. Praktiese Christenskap is soos swem teen ‘n sterk stroom. Jy durf nie neutraal bly of laat slaplê nie. As jy ophou swem word jy meegesleur. Leuenstoel Christenskap is uit en dis gevaarlik! 

Hoe gaan dit in jou lewe op hierdie oomblik? Maak jy vordering? Of makeer jy die pas? Het jy dalk al gaan sit? Nee, span jouself in! Werp alles in die stryd. (5) As daar inspanning is sal jy Jesus beter leer ken. Dit bly ons groot ideaal. “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.” (Filippense 3:10-12) 

Weereens, Christen, jou roeping en verkiesing word al duideliker, nie deur ingewikkelde metafisiese redenasies en spekulasies nie. Nie deur gedurig jou ervarings te vergelyk met ander Christene s’n nie. (God werk met elke mens uniek) Nie deur heeltyd die vinger op jou geestelike pols te hou en voel of jy lewe nie. Die beste manier om te weet of jy regtig lewe is om te LEWE! Die beste bewys dat ‘n baba gesond is is as daar groei is! 

Roeping en verkiesing is Goddelike aktiwiteite. God het dit reeds gedoen. Vasmaak (bevestiging) deur vordering in ‘n heilige wandel en groei in gehoorsaamheid is menslike aktiwiteite. 

Hoe kom dit bymekaar? “Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” (Filippense 2:12,13) 

Maak dit vas! Hoe maak ons dit vas, hoe bevestig ons dit? Moenie leef en praat asof jy nog onwedergebore is nie. Onthou jy is nie meer net ‘n natuurlike mens sonder geestelike lewe nie, jy het ‘n wonderwerk beleef – Jy het alles ontvang wat nodig is deur Jesus Christus, jy is ‘n ontvanger van God se kosbaarste beloftes toe jy jou hoop op Jesus geplaas het! Kyk opnuut en daagliks na die kruis, besef daar is alles volbring! Besef die waarheid oor jouself as Christen – dis my sondes wat uitgewis is, my straf wat klaar voltrek is in Jesus. Jy moet wakker word vir die Bybelse feite oor jouself, jou oë moet oopgaan en jy moet weer bietjie onthou! Onthou wat het God vir jou gedoen, onthou dis God Drie enig wat in jou lewe ingegryp het! Konsentreer op die feite wat waar geword het in jou lewe. 

Stop om te kla oor jou tekortkominge en ellendes en raak aktief, maak werk van die opdragte wat na jou as Christen toe kom. 

Stop om passief te wag vir een of ander openbaring of belewenis of teken! Dis opmerklik dat Petrus (maar ook nie een van die ander NT skrywers nie) as hulle met die Christene praat oor heiligmaking en volharding, hulle nooit en nêrens aanmoedig om ‘n nuwe ervaring (second blessing) te soek nie. Al die NT skrywers, as hulle met God se kinders praat herinner (12) hulle aan wat met hulle gebeur het. "Julle is vrygespreek, julle het mos saam met Christus gesterf en saam met hom opgestaan (Romeine 6) , die Gees van God woon mos nou in julle, dieselfde krag waarmee God vir Jesus uit die dood opgewek het is nou werksaam in jou..." 

Besef wie julle is en leef daarvolgens! 

Gaan oor tot aksie. Hou op met verskonings. Hou op met daardie stories van ek is maar net ‘n mens en ons is maar almal swak... Maak dood en trek uit wat verkeerd is. Voeg by en trek aan wat reg is! 

Leef die Christelike lewe voluit en met oorgawe. Doen wat jy weet jy moet doen. Wees hiermee besig dan sal jy nie val nie. 

HOU DIE EINDDOEL IN DIE OOG!

Petrus moedig ons aan deur die einddoel weer voor ons oë te plaas! As julle hierdie dinge doen waaroor ons nou gepraat het, sal julle dood ‘n wonderlike ding wees, dit sal ‘n heerlike en oorvloedige ingang wees in God se Koninkryk. Dit gaan nie ‘n sukkel-sukkel onsekere storie wees nie, maar ‘n triomfantelike intog in God se heerlikheid! Hierdie is ‘n belangrike aspek – ons kyk te veel na onsself, te veel na ons omstandighede, te veel na die wêreld rondom ons. Nee, kyk eerder na die einddoel en laat die einddoel julle gedrag bepaal. Dieselfde tipe argument vind ons ook in 1 Johannes 3:1-3. “Kyk wat 'n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie. Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.” Besef wie jy is, en waarnatoe jy op pad is en dit sal jou gedrag bepaal. En hoe meer jy verander en nuut word, hoe meer gaan dit vir jouself en vir ander duidelik wees waarnatoe jy op pad is. 

SEKERHEID

Sekerheid werk soos ‘n pakkie saad wat jy saai. Jy plant sê nou maar tamatie saad. Jy glo jy het tamaties geplant, want die etiket sê dit duidelik. Dis ‘n belofte op die pakkie. Maar as die plantjies begin opkom en groei, en daar is later blommetjies en vruggies, groei jou sekerheid en vreugde al hoe meer. Dis regtig tamaties! Ons kry sekerheid deur te vertrou op die beloftes van God aangaande Jesus, maar: groeiende vrugte (hierdie eienskappe wat Petrus vir ons sê om by te voeg by die geloof) gee al hoe meer sekerheid en vreugde!


Vir die laaste aflewering in hierdie reeks, kliek op




Dinsdag 11 Junie 2019

MAAK VAS; MAAK SEKER! (4)

WERP ALLES IN DIE STRYD OM JOU GELOOF TE VERRYK EN STAP DIE VOLLE PAD TOT BY LIEFDE VIR ALLE MENSE! 



Ons het gesien, omdat ‘n kind van God reeds als ontvang het wat nodig is (ONTVANGERS), word ons opgeroep tot kragtige aktiwiteit! Dis voortdurende en harde werk om hierdie eienskappe wat Petrus in 2 Petrus 1:5-7 noem by te voeg by ons geloof. Ons het reeds na ‘n paar elemente gekyk, nou gaan ons aan na die volgende: 



VOLHARDING Dis 'n vrug en kenmerk van ware saligmakende geloof. Die kind van God is 'n ster wat jaar na jaar skyn, nie net 'n meteoor wat vir 'n rukkie vir 'n groot skouspel sorg nie. (Pasop maar vir kortstondige opwindende ervarings... Pasop om nie ‘n konferensievraat te word wat by elke geestelike kamp of konferensie in snot en trane ‘n nuwe oorgawe maak, maar telkens maar weer op die ou pad voortploeter nie...) Hierdie volharding is nie net sommer gewone vasbyt nie, maar dis moontlik omdat die kind van God verby stryd en probleme kan kyk en uitsien na die ewige beloning! Soos Jesus dit gedoen het volgens Hebreërs 12:1-3. “Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.” Jesus word hier voorgehou as navolgenswaardige model van volharding. Hoe het Hy dit reggekry? Hy het als verduur ter wille van die vreugde wat vir Hom gewag het! 

Ons ervaar krisisse en probleme en hartseer en versoekings soos alle mense, maar ons volhard omdat ons na al hierdie donker onstuimighede kyk in die kalm lig van die ewige heerlikheid wat God aan die getroues beloof. Ons sien die heerlikheid wat wag en daarom volhard ons. Ons moet, kan en sal juis volhard, omdat ons redding nie iets is wat met ons inisiatief en ons krag gebeur het nie. Dis God se uitverkiesende inisiatief en God se krag! (Vers 3) 

GODSVRUG (Godliness) Dis die bewustheid van God en daarom gehoorsaamheid aan God in elke praktiese aspek van my lewe. Godvrugtigheid is die teenoorgestelde van goddeloosheid. Die term  eushbeia word gebruik in kontras met asebeia (goddeloos) in 2:6.  Die goddelose is teen God, die Godvrugtige is op God en sy eer ingestel! Dis baie belangrik, want daar is 'n gevaar dat die kwessie van redding en meer spesifiek geloofsekerheid vir baie mense 'n selfsugtige, selfgesentreerde saak word– Baie redeneer : "EK moet net seker wees van MY polis teen die hel. Christenskap is maar eintlik net nog een van my selfgesentreerde besigheidstransaksies. Of ek God eer en of ek God gehoorsaam en of ek God behaag is van minder belang. Wat met die kerk van Jesus gebeur traak my ook nie juis nie.." Nee vriend, dit mag nie so wees nie! Verander jou gesindheid - fokus op 'n Godvrugtige lewe. Laat God en sy wil vir jou belangrik raak, dan sal jou sekerheid ook groei! Dit sal ‘n duidelike bewys wees van jou redding, want niemand eer God en niemand het God en sy kerk van nature lief  nie! As hierdie dinge in jou groei is dit ‘n onomstootlike bewys van wedergeboorte! 

BROEDERLIEFDE (liefde onder mekaar) Hieroor het die Here Jesus self en die res van die Nuwe Testament baie gesê. Ons hoor dit so baie, die gevaar is dat ons dit glad nie meer ernstig opneem nie. Dit is 'n onontbeerlike kenmerk van elkeen wat deel gekry het van die goddelike natuur. Dit kom egter nie sommer so van self nie, soos die ander trappe, moet ons alles in die stryd werp om dit prakties te implementeer. Dit beteken o.a. om moeite te doen om mekaar te verstaan en ten spyte van foute te aanvaar, om alles moontlik te doen om eenheid te bewaar deur ons te weerhou van skinder, verdagmakery, afguns ens. Kies om te vergewe keer op keer! Dit beteken dat ons praktiese stappe moet neem om mekaar se laste te dra deur te luister, meegevoel te betoon, praktiese en finansiële hulp te verleen ens. Gasvryheid! Broederliefde is ‘n onteenseglike duidelike bewys van ware Christenskap. 1 Joh 3:14,15“Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broer haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie.” 

Broederliefde het ‘n baie direkte relasie tot ons sekerheid van kindskap! 

NAASTELIEFDE (liefde vir alle mense)) Behalwe vir broederliefde, d.w.s. die liefde vir my medegelowiges, moet die kind van God ook liefde in die algemeen beoefen. Dit is so wyd dit sluit my naaste op alle vlakke van kontak in, selfs my vyande! Dis tog letterlik wat Jesus self gesê het. Dis buitengewoon, bonatuurlik! Ook in hierdie opsig moet ons navolgers van God wees, wat sy reën op goeies en slegtes laat val. Navolgers van Jesus wees, wat terwyl Hy in hegtenis geneem word, 'n oor gesond maak en terwyl Hy in pyn aan die kruis hang nog vir sy vyande bid. Jy vra hoe dit moontlik kan wees? Onthou net weer 2 Petrus 1 vers 3 - "Sy Goddelike krag het ons alles geskenk..." Hierdie is nie net maar 'n mooi onbereikbare ideaal nie, deur die eeue het die kinders van God dit reggekry en uitgeleef. George Wishart een van die vroeë Reformators in Skotland was so 'n voorbeeld . Net voor hy verbrand is vir sy geloof het die laksman op sy knieë geval en gevra dat Wishart hom sal vergewe. Wishart het hom toe op die wang gesoen en gesê : "Dis die teken dat ek jou vergewe .... doen jou plig" Naasteliefde het nie grense nie, dis uiters radikaal en vreemd aan die gevalle mensdom!

Wat het al hierdie dinge te make met vastigheid en sekerheid? Soos hierdie eienskappe groei sal my sekerheid groei. Sekerheid kom nie weens passiewe spekulasies en rondkrappery in my siel nie, sekerheid groei as ek aktief by my basiese geloof hierdie dinge byvoeg. Die duidelike implikasie is : 

Sekerheid, vastigheid en vreugde is nie beskore en bedoel vir lui of ongehoorsame Christene nie. Positief gestel, sekerheid is ‘n bonus wat saamgaan met geestelike groei, ywer en gehoorsaamheid! 

Die uitverkorenes se verlossing is vas en seker! God sal die werk wat Hy begin het voltooi en niemand kan Hom dwarsboom nie! “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Rom 8:29-30) Petrus leer dat die uitverkorenes se lewens hiervan ‘n bewys sal lewer deur voortgaande geloof en die dra van vrugte wat by die geloof pas. Hoe meer vrug jy dra hoe sekerder, hoe minder gaan jy struikel... daarom werp alles in die stryd om vrug te dra!

Vir die opvolg, kliek op MAAK VAS; MAAK SEKER (5)


Dit was so wonderlik om tydens Pinkster 2019 vir Christoph Gouws  raak te loop. Die seun van 'n ou vriend en 'n jongman wat die Here dien.

Maandag 10 Junie 2019

MAAK VAS; MAAK SEKER! (3)

- WERP ALLES IN DIE STRYD! 



Die pad na sekerheid, vastigheid en volharding begin om raak te sien wat God gedoen het. Hy het volgens Petrus ons reeds ALLES geskenk wat nodig is om vir Hom te lewe en Hom te dien! Kliek op MAAK VAS; MAAK SEKER! (2)  



Na die wonderlike stellings wat Petrus in die eerste verse (2 Petrus 1:1-4) gemaak het (oor wat God ons geskenk het) sou mens dalk kon verwag, sy raad sou wees : “Ontspan. Let go, let God!” Nee! Toe nou nie! Allesbehalwe. Hoor wat sê hy in vers 5 : “En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk ...” (NAV) En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die..." (OAV) Ontvangers van verlossing word nêrens opgeroep tot passiwiteit, agteroorsit of ontspan nie! Ons durf nie laat slap lê, vir onsself leef of ons besig hou met net geldmaak of rugby speel of kyk nie... 



Daar's harde werk, broer en suster!

In hierdie oproep van Petrus in (2 Petrus 1:5) word die hele Bybelse benadering tot heiligmakig en die Christelike lewe saamgevat. Wat is dit?

Kom ek gebruik ‘n voorbeeld uit die oorlog. 

Twee luitenante moedig hulle manne aan voor ‘n kontak... 

Die een is baie positief. “Manne, julle weet ons het als wat ons nodig het. Ons het die beste opleiding ter wereld. Die bete wapentuig en voorrade. Die beste lugsteun en mediese ondersteuning as dit nodig sou wees. Julle weet die vyand is eintlik reeds verslaan en bang vir ons. Ons moet net die opruiming doen. Maar manne, nou moet ons alles gee... geen tyd vir slaplê of stadig en lui wees nie. Voluit, vorentoe!”

Die tweede luitenant het ‘n ander aanslag. “Manne, ek is bekommerd. Die vyand is sterk en het baie geie wapens. Ek is nie seker of ons genoeg ammunisie en ondersteuning het nie. Ek is ook nie seker of ons dit gaan maak nie. Ons moet maar kyk wat gaan gebeur... Ek wonder selfs of als die moeite werd gaan wees...”


Die Bybelse benadering tot die daaglikse Christelike stryd is duidelik die eerste een. God het ons alles geskenk. Werp daarom nou als in die stryd! Doen wat jy kan en moet. Stry hard! Raak gehoorsaam. Verander. Dink nuut, doen anders. Moenie stilstaan by jou aanvanklike geloof en bekering nie. Maak veranderinge in jou lewe, want God het julle reeds als geskenk wat nodig is om vir Hom te lewe! 


Onthou net, hierdie raad is nie vir alle mense nie. Net mense wat reeds kinders van God is, dus reeds vertroue op Jesus geplaas het. Die Heilige Gees woon in hulle. Hier het ons te doen met harde werk van heiligmaking. Dit kom nie sommer outomaties nie, want dan sou die opdragte nie nodig gewees het in die eerste plek nie.


Kom ons kyk net kortliks na die "trappe" wat volg op die basis van geloof. Die dinge waaraan ons hard moet werk... Ja, WERK! Hier is geen sprake van net een ervaring (die Charismate se omval) of ‘n kitsresep tot geestelike oorwinning nie.

Voeg met alle passie en vuur by jou geloof die volgende: 

DEUG/DEUGSAAMHEID Dis 'n skaars woord in die Nuwe Testament, wat eintlik uit die heidense wêreld kom. Dit beteken voortreflikheid, uitnemendheid (excellence). Dit was 'n belangrike kwessie destyds. Voortreflikheid is die volle vervulling van iets, 'n voortreflike mes is 'n skerp mes wat kan sny, 'n voortreflike perd is 'n perd wat vinnig kan hardloop. Maar nou is die vraag , wat is 'n voortreflike mens? Wat beteken deug nou prakties vir ons? Petrus het alreeds vir ons die leidraad gegee want hy gebruik dieselfde Griekse woord (areth) as wat hy i.v.m. Jesus gebruik het (in vers 3) om aan te dui hoe Jesus se heerlikheid , persoon , karakter ons na hom toe aangetrek het. Ware deug, ware voortreflikheid word in Jesus se karakter gevind. Jesus is die ware vervulde mens, wat aan sy Godgegewe doel beantwoord het, die mens par excellence. Ons word dus hier opgeroep om deur ons lewens iets van die aantreklikheid van Jesus se karakter te reflekteer. Maak werk daarvan... verander wat in botsing is met Jesus se karakter in jou lewe... Gesindheid, gewoontes, gedrag, ja selfs kleredrag!... Begin dink en doen soos Jesus gedink en gedoen het... Dit kos als, dit gaan moeilik wees... Dit gaan jou in botsing bring met die wêreld. Die wêreld hou nie van Jesus nie.... daarom het hulle Hom gekruisig... 

KENNIS. Dit gaan nie hier wetenskaplike kennis nie, maar praktiese insig om as Christen te lewe. Om goed van kwaad te onderskei. Vgl. Ef 5:17 “Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.” Petrus gebruik die woord (gnwsiV) ten spyte van die valse leraars se misbruik van die begrip (hulle "kennis" het tot losbandigheid gelei, teenoorgestelde van selfbeheersing soos ons lees in hoofstuk 2) Hierdie ware kennis lei tot heiligheid! Hoe kry dit prakties? Deur die Woord onder leiding van die Heilige Gees te bestudeer en te gehoorsaam!

SELFBEHEERSING. Kies vir selfbeheersing en beoefen dit! Nie net t.o.v. kos en drank nie maar in elke aspek van mens se lewe. Dit kom daarop neer dat ek my drange en begeertes sal beheer, hulle moenie my beheer nie. (Selfbeheersing het skaars geraak onder sogenaamde Christene - "Ag, ons het nie nou geld om te trou nie, maar ons bly maar saam, want dit kan nou nie anders nie... osn het nie selfbeheersing nie...") Vir die Christen beteken selfbeheersing nie maar net blote selfdissipline nie (dit het party heidene ook), maar oomblik na oomblik onderwerping aan die beheer van Jesus wat deur sy Gees in my woon. (Onthou die leiding van die Gees is lei in heiligheid – Romeine 8 vers 14) Petrus beklemtoon hierdie deel van heiligmaking weereens in direkte opposisie tot die valse leraars wat soos redelose diere die natuur volg, “Maar hulle sal, omdat hulle belaster wat hulle nie ken nie, soos redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word, in hulle verdorwenheid te gronde gaan...” (2:12) en wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel. “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel.” (3:3). Dit sien ons elke dag , die onbekeerde mensdom is slawe van elke sondige begeerte , soos diere kan hulle nie anders as om hulle sondige instinkte slaafs na te volg nie. Dis juis sommige van hierdie mense wat spog oor spesiale geestelike insig en allerhande wonderlike ervarings met God wat hulle kastig gehad het. Laat ons dit duidelik weet, enige teologie wat ervaring en kennis losmaak van etiese reinheid en selfbeheersing is kettery. Dis valse lering. Vals lering (soos ons dit helaas ook kry aan ons teologiese fakulteite) lei tot onheiligheid en skynheiligheid! Ware lering wat in opregtheid gevolg word lei to ware heiligheid. Gelykvormigheid aan Jesus!

Selfbeheersing is heeltemal uit pas met die losbandige Huisgenoot en Hollywood leefstyl van vandag! Met selfbeheersing wys jy duidelik dat God jou uitgekies en verlos het!

So baie Christene broei heeltyd oor die kwessie van sekerheid. Gedurig besig met selfanalise, gedurig op soek na een of ander bevestiging – 'n wonderwerk, spesiale teks, visioen of ervaring. Petrus se raad is – Besef wat God jou deur Jesus geskenk het en begin met erns die Christelike lewe leef! Maak erns met hierdie opdragte en die res sal volg. Sit skouer aan die wiel om te vorder op die pad van heiligmaking! Dis hoe jy wys waarheen jy op pad is! Dis hoe jy jou uitverkiesing bevestig! AMEN!

Vir die begin van hierdie Pinksterreeks oor Sekerheid, kliek op MAAK VAS; MAAK SEKER! (1) 

Vir die opvolg op hierdie oordenking, kliek op MAAK VAS; MAAK SEKER (4)


Saterdag 08 Junie 2019

MAAK VAS; MAAK SEKER! (2)

- BESEF WAT HET GOD GEDOEN! 



Een van die grootste foute wat ‘n twyfelende Christen maak as dit by die kwessie van sekerheid kom is om by jouself te begin. Dit lei tot n gedurige wroeging en wankelrigheid : “Was MY besluit, MY bekering eg genoeg, is MY geloof opreg genoeg, is EK heilig genoeg, voel EK goed genoeg...? Niks anders as ‘n gedurige, bykans sieklike introspeksie nie. Redding word deur diesulkes gesien as ‘n groot werk wat ekself moet doen en ek weet nooit of ek dit heeltemal reg of goed genoeg gedoen het nie. Dis natuurlik ‘n doodloopstraat... Dis ‘n resep vir permanente onsekerheid! 



So hoe kry ons sekerheid? Wel, waar begin Petrus? (Hy praat met mense wat reeds Christene is.) Hy begin by die Bron van ons verlossing. Hy verwys ons na wat GOD GEDOEN HET! Dis waar ons elkeen moet begin... 

"Simeon Petrus, 'n dienskneg en apostel van Jesus Christus, aan die wat net so 'n kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van onse God en Saligmaker, Jesus Christus: 
Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here! 
Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, 
waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is."  ( 2 Petrus 1:1-4) 

ONTVANGERS 

'n Kind van God is in die eerste plek 'n ontvanger. Hoor ons dit! Ontvangers, mense wat so gelukkig was om 'n geskenk te kry. En dis deur God so beskik, God wat regverdig is! Dit skakel onmiddelik alle verdienste alle roem uit. Ons is Begunstigdes, begenadigdes, bevoorregtes! God begenadig nie sondaars wat effens beter is as anders sondaars nie. God begenadig soos Hy wil en wie Hy wil. Daarom kan Petrus sê dat sy lesers en ook ons dieselfde kosbare geloof ontvang het as wat die apostels ontvang het. Onverdienstelike ontvangers! Ja, natuurlik ons moet ook doeners wees, ons sal noodwendig doeners word, dit word later aan in die sterkste moontlike taal gesê , maar ons moet eers baie duidelik hoor ons het alles ontvang, alles, alles wat nodig is. 

ALLES! Wat is die alles? Wel, dis alles wat ons nodig het om kinders van God te wees en as kinders van God te leef. Alles! Ja, alles! Glo jy dit? Jy sê : “Ek voel so swak, nietig, my geloof is so klein...Geld hierdie waarheid van 1:3 ook vir my? Ja!                                                                                                     

Dink bietjie aan 'n reuse kremetartboom!

Hierdie boom was eens ‘n klein plantjie wat net ontkiem en sy kop bo die grond uitgesteek het. 


As ’n kremetart saadjie ontkiem het daardie plantjie via sy moederplant al die genetiese materiaal ontvang wat nodig is om ook ’n reuse kremetart te word. Niks DNA hoef bygveoeg te word nie. Ja, daar lê nog baie groei voor, baie gevare en terugslae, veldbrande, droogtes...maar alles is reeds in daardie plantjie aanwesig. 

Kinders van God het alles reeds ontvang. Alles! Wat is die bron van die alles? God self! Goddelike krag. Die krag waardeur die heelal tot stand geroep het en in stand gehou word. Die krag wat sigbaar geword het met Jesus se opwekking uit die dood. Jy wat kind van God is deur die geloof in Jesus, het reeds ’n Goddelike kragtige ingrype beleef. Jy moet dit glo. Jy moet dit gedurig besef. 

KENNIS VAN JESUS 

Wat behels hierdie geskenk, hierdie "ontvang" in die praktyk? Hoe en wanneer gebeur dit? Vers 3b "deur die kennis van Hom wat ons geroep het.” Kennis van Jesus. Dit gebeur wanneer ons Jesus leer ken. Kennis van wie Hy is en wat Hy gedoen het! 


Kennis van Jesus maak iets aan 'n mens. Hier wys Petrus op ‘n tweeledige gevolg

Ons kry deel aan die goddelike natuur, d.w.s. ons word kinders van God. ( Dit bedoel nie dat ons klein godjies word nie. Hy sê maar net in ander woorde wat Joh 1:12 sê. “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.” LW – dis ‘n daad van God! “uit God gebore” 
Daarmee saam draai ons ons rug op die verdorwenheid van hierdie wêreld wat in opstand is teen God. Ware Kennis van Jesus laat my nooit toe om ongesteurd in die gemors voort te ploeter nie. 

Dis duidelik hierdie kennis van Jesus meer behels as om maar net 'n paar Sondagskooltoetse deur te kom, dit behels 'n openbaring van Jesus aan ons. Ek bedoel nie dat jy ‘n visioen van Jesus sal sien nie, maar bloot dat ’n mens geestelik sal sien en glo dat Jesus vir my verlossing vir eens en altyd aan die kruis bewerk het. My sondes was op Hom gelaai en my sondes is dus klaar by die kruis gestraf... Jesus ondergaan die straf en ek is vry. Dit behels ‘n besef van die betekenis en waarde van Jesus se werk, ook vir my. Dit gebeur alleenlik deurdat God my oë daarvoor oopmaak. Die boodskap van die KOPERSLANG! Aan die kruis is als gedoen wat nodig is vir my verlossing, ek kan net glo en kyk! Kind van God, om te kom tot kennis van Jesus is 'n radikale ingryping van God, dit beteken daar het 'n wonder binne in jou gebeur, jy sien iets (Iemand) raak wat ander mense nie raaksien nie al sit hulle in die kerk. Daar het reeds iets wonderliks met jou gebeur. 

Twyfel jy nog? Kyk dan nou gelowig na die kruis en besef jy het deur Jesus klaar alles ontvang wat nodig is! 

GOD SE BELOFTES 

Hier kom ons nou by die basis en fondasie van sekerheid! Deur die kennis van Jesus word die kosbare beloftes van die evangelie myne. Reddende geloof is geloof gegrond op die beloftes van God, wat o.g.v. Jesus se verdienste nou myne is. Die beloftes is nou nie meer net oorbekende droë Bybelversies nie , maar kosbare beloftes wat ek aan my hart druk, wat lewe in my binneste. (As jy kind van God word, kry die Bybel mos lewe) Beloftes van Kindskap, volkome vergifnis, van die Heilige Gees, oorwinning oor die Bose, van finale oorwinning en volharding. Al hierdie beloftes is joune deurdat jy Jesus ken of meer korrek dat hy homself deur jou laat ken. Kind van God jy het iets wat ander nie het nie. Daar is radikale verskille tussen jou en die onbekeerde. 
Onsekere, moedelose en wankelrige kind van God. Hou op wag vir ‘n gevoel of wonderwerk. Hou op wag daar moet iets groots met jou gebeur, een of ander ervaring moet jou te beurt val of dat een of ander teks of teken jou tref. Nee, God wil jou laat besef, jy het alles ontvang wat nodig is om as nuwe mens te leef! Hy skenk dit via eenvoudige vertroue op Jesus. (Goeie raad. Pasop om ander mense se subjektiewe ervarings jou norm te maak. Dis die gevaar van die verkeerde gebruik van Christen biografieë. God werk uniek met elke mens.) Ons plig is om kinderlik die beloftes en waarheidsstellings in Gods Woord, binne konteks te glo. Dis juis Petrus se doel om sy lesers (ons) aan hierdie heerlike waarhede te herinner, hy dink dis nodig, inderdaad nodig. Vers 12! 

Eers as ons besef wat God gedoen het, kan ons nou vra wat ons te doen staan. Daarby gaan Petrus nou kom in die volgende verse... Kliek op Maak Vas; Maak seker (3)