BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Vergenoegdheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Vergenoegdheid. Wys alle plasings

Donderdag 08 November 2018

AS DIE BEURSIE LEEGRAAK…

- God het heerlike beloftes gemaak oor geldsake, maar ons moet sy opdragte hieroor natuurlik net so ernstig opneem! 

[Pasop vir die rosyntjiebrood sindroom as ons die Bybel oor geldsake ondersoek. Moenie die Woord hoor soos stout kinders ‘n rosyntjie brood eet nie…. Hulle eet net die lekker rosyntjies en los die res van die brood...] 

DIS MOEILIKE TYE 

Dis geen geheim nie, moeilike finansiële tye is op ons! En die ergste is nog op pad! Die gevolge van die geldmorsmanewales van die korrupte Zuma en die plundering van sy Gupta vriende het ons hier in Namibië ook ingehaal. Natuurlik is nie als hulle skuld nie. Plaaslike spandabelrigheid en korrupsie het ook by ons ‘n verdere spoor van ekonomiese verwoesting nagelaat. Dit gaan nog knyp... 

Die goeie nuus is dat die Woord baie oor geldsake te sê het.

Ons moet  net gehoorsaam luister! Een so ‘n gedeelte vind ons hier aan die einde van Hebreërs. 

Maak gerus self die Bybel oop by Hebreërs 13:1-6. Ons kry hier ‘n hele paar etiese kwessies wat aangespreek word. Praktiese opdragte oor die konkrete uitlewe van Christenskap. Broederliefde, gasvryheid, medelye, reinheid en tevredenheid. As ons regtig die troos wil ervaar van God se beloftes oor finansies moet ons ook erns maak met wat Hy oor hierdie ander sake te sê… Anders gesê, hierdie belofte oor finansiële versorging waarna ons gaan kyk, gaan my niks baat solank ek nie my broers liefhet nie, solank ek weier om gasvry te wees, as ek hardvogtig is, solank ek nie die huwelik respekteer nie en so lank ek deur gierigheid oorheers word nie…

(Wie van ons is nie skuldig nie? Gelukkig vertel hierdie skrywer in die voorafgaande hoofstukke juis va ons Hoëpriester Jesus se volmaakte offer wat ons volkome reinig...)

Kom ons kyk wat sê hierdie gedeelte oor finansies: 

“Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: "Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie." 
Daarom kan ons met vertroue sê: "Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?" (Hebreërs 13:5,6) 

Hier kry ons ‘n OPDRAG, ‘n BELOFTE en die heerlike EFFEK VAN DIE BELOFTE. 

1.OPDRAG 

Wat beteken, "Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het."? Wat is die implikasies op die grond? Paar praktiese opmerkings: 

Leef in onderwerping aan God se soewereine beskikking. Aanvaar geduldig en nederig dit wat God oor jou pad bring. Wees dankbaar vir wat God jou gee. God is in beheer van als, ook jou finansies. Ook wat jy nou beleef ten opsigte van finansies is nie toevallig nie. Hy is besig met jou...

Leef in verantwoordelikheid met wat jy het en pas jou leefstyl daarby aan. Wees eerlik met jouself : "Wat kan ek bekostig en wat het ek regtig nodig? Hoe wil God hê ek moet my geld en tyd en kragte spandeer? Is dit verantwoordelik en bekostigbaar om te gaan uiteet? Is dit verantwoordelik en bekostigbaar om DSTV aan te hou? (Het ek daai sepies nodig in my lewe?) Is dit verantwoordelik en bekostigbaar om lag-lag N$1000 op te rook as daar nie geld is vir basiese behoeftes nie? Is die malle gejaag agter sportbyeenkomste aan terwyl ek nie my skulde kan betaal nie, verantwoordelik?" Verantwoordelike rentmeesterskap – als wat ek het kom van God af, ek moet dit verantwoordelik bestuur soos wat Hy daarvan sal hou… Niks is regtig my eie nie, God leen dit vir my om te gebruik in belang van sy eer en koninkryk.. 

Leef met ‘n gesindheid van vergenoegdheid. (Filippense 4:11,12) “…ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees. Ek weet wat dit is om gebrek te ly en ek weet wat dit is om oorvloed te hê…” (DVL) Maak ‘n punt daarvan om God opreg te dank vir elke goeie gawe! Geniet die klein kosbare dinge wat God ons gee… vars oggendlug, vriendskap, vrede in die huis, die wonderlike skepping rondom ons. (Daar is vreugde in eenvoud!) Laat ons tafelgebede opreg wees… 

Leef volgens ‘n ewige waardebepaling. Het jy skatte in die hemel? Met ander woorde, ken jy Jesus en bedink jy die dinge wat daarbo is? Leef jy heilig, besigmet goeie werke? Hoe beoordeel jy sukses? Is dit net karre, huise en vakansies wat jou opgewonde maak, of is jy opgewonde oor Jesus en die Woord en die ewige teenwoordigheid van God? Onthou Jesus se woorde in Lukas 12:15. “Toe sê Hy vir hulle: "Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie." 

Leef vry van die verslawende liefde vir geld. Dis vir jou eie beswil. “Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.” (1 Timoteus 6:10) Die gierige mens is nooit ‘n gelukkige mens nie. Sy hart is altyd met angs vervul. Geldgierigheid is net so ‘n sterk verslawing soos alkohol of nikotien verslawing. Vra die Here Jesus om jou te bevry... 

Leef vrygewig! "Hoe nou? Ek kry dan self swaar", wil jy beswaar maak. Maar hoor die opdrag tot mededeelsaamheid. Gee aan ander wat minder as jy het! Jesus het ‘n duidelike radikale belofte hieroor gemaak. (Sekerlik gaan dit oor gaan oor meer as geldsake, oor barmhartigheid in die wyse sin van die woord “Gee, en vir julle sal gegee word: ‘n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word." (Lukas 6:38) Hierdie beginsel van Jesus word nogal kragtig geïllustreer deur ‘n ondervinding van Martin de Lange wat saam met sy gesin as sendelinge in Turkye gewerk het. Toe hulle moes terugkom na SA het hulle bereken dat hulle so R200,000.00 nodig sou hê vir die verhuising. Na ‘n paar weke het hulle daarin geslaag om so R10,000.00 bymekaar te maak nie eens genoeg vir vliegkaartjies nie. Sekerlik in ‘n half moedelose toetstand het Martin saggies gebid en vir die Here gevra : “Wat is ek veronderstel om te doen met net R10,000.00?” Die verbasende opdrag wat sy maag laat draai het kom toe : “Gee dit weg!” Hulle was gehoorsaam en het die bedrag aan ‘n ander sendeling gegee wat dit baie nodig gehad het, en ja... die Here het voorsien in al hulle kostes!* Hoor wat Jesus sê, konsentreer op gee en nie op ontvang nie! Paulus verwys hierna in sy gesprek met die ouderlinge van Efese. “Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang." (Handelinge 20:35) 

Laat God jou denke oor geldsake verander en begin sy opdragte hieroor gehoorsaam!

2.BELOFTE 

Hierdie vergenoegdheid en tevredenheid waartoe ons opgeroep word, is nie gebou op roekelose ongeergdheid en onverantwoordelikheid nie. Dis nie sommer net ‘n ongeërgde “Don’t worry be happy” houding nie! Dit kom voort uit ‘n doelbewuste nugter intelligente vertroue op God se belofte. En watter heerlike en kosbare belofte is dit nie! Nimmer as nooit ooit! (vyf negatiewe in die Grieks) Sterker kon die skrywer dit sekerlik nie gestel het nie. Daarom vriend : Maak ‘n keuse om God te vertrou! 

3. EFFEK 

Wat is die gevolg van vertroue op God se beloftes? Vreeslose geloofsdapperheid! Wie hierdie belofte van God vir homself toe-eien kan gelowig vreesloos sy vertroue uitspreek in die woorde van die psalmis : “Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan ‘n mens aan my doen?” (Psalm 118:6) 

Finansiële bekommernisse skep vrees, en van hierdie vrees word ons bevry deur God se beloftes soos klein kindertjies te glo! 



SWAARKRY IS ‘N KOSBARE LEERSKOOL VAN GENADE EN VERTROUE! 

Finansiële swaarkry tye is nie lekker tye nie. Vir die kind van God is dit egter ‘n waardevolle leerskool. Dis ‘n skool waar ons leer wat is nederigheid, tevredenheid, afhanklikheid en vertroue. Hierdie vakke kan nie op ‘n ander manier geleer word nie. Laat ons nie klae oor ons swaarkry nie, maar dit sien as ‘n geleentheid om God ons Vader op ‘n nuwe dieper manier te leer ken! Kom ons stort ons harte voor Hom uit…. Filippense 4:6! God verhoor in detail die gebed vir ons praktiese behoeftes.


Ek wil ‘n aangrypende voorbeeld hiervan met jou deel wat plaasgevind het tydens die Anglo-Boere Oorlog. Ouma Hamman (Anna Elizabeth Retief) was 'n merkwaardige vrou van gebed. Tydens die Boereoorlog was sy in 'n konsentrasiekamp, wat bestaan het uit ontruimde huise in Barberton. Haar suster met haar twee kinders was saam met Ouma Hamman in die huis. Weens die hitte van daardie streek het die suster siek geword. Die kampkommandant het goedgunstiglik besluit om haar na Graaff-Reinet, na haar ouerhuis, toe te stuur. Sy moes net vir haar eie padkos sorg. Ouma Hamman en sy het besluit dit sal die beste wees as sy 'n groot baksel beskuit kan saamneem. Met moeite het hulle die bestanddele vir die beskuitbakkery bymekaar gekry. Die vet wat hulle nodig gehad het, was egter onbekombaar – van botter nie eens te praat nie! Hulle het, soos altyd, hulle toevlug tot die Here geneem. Maar om vet vir 'n baksel beskuit, in oorlogskaarste, in die konsentrasiekamp, te bekom, was nie so eenvoudig nie! Ouma Hamman vertel dit so: 

"Drie dae voor ons sou vertrek, en die laaste dag waarop ek nog kon bak, staan ek voor die kombuisvenster wat op die straat uitkyk met die skottel meel voor my op 'n tafeltjie. Ek bid met 'n swaar hart: 'My Vader, het U my dan hierdie keer vergeet?' Op daardie oomblik kom muilwaens met die troepe se kosvoorraad met groot geraas verbygejaag. 'n Harde klop hamer op die voordeur. Ek gaan maak haastig oop. Voor die deur staan 'n hygende soldaat met 'n yslike blik vet in sy hande. 'Dit het van die wa afgeval. Wil jy dit hê?' Sonder om vir 'n antwoord te wag, rol hy die blik in die gang in en laat vat agter die wa aan."

Voorwaar Goddelike detail op die tyd gebedsverhoring! 

God kan enige tyd en enige plek ons gebede verhoor. Selfs ook in 'n konsentrasiekamp!

*Martin de Lange, Op die rand van die Paradys, p 163,164

Vrydag 12 Desember 2014

FEESTYD!

- vol vreugde en vergenoegdheid!


Hierdie tyd van die jaar is veronderstel om vreugdevol te wees. Ons vier mos immers die geweldige gebeurtenis van die vleeswording van God se Seun.* Vir baie mense is dit egter ‘n hartseer tyd, want dit onderstreep juis een of ander nood, gebrek of gemis. Ander het dalk geld om presente en lekker kos te koop en jy moet droë bek by die huis sit in groot verknorsing oor jou geldsake. Ander is omring deur vriende en familie en jy worstel met jou verwurgende eensaamheid eenkant ver! Ander lag in vrolikheid, jy huil van pyn in die feestyd of treur oor ‘n geliefde wat nie meer daar is nie! Jy plak maar ‘n gedwonge glimlag aan...

Moet ek nou maar bitter en sonder vreugde en vervulling bly? Is daar dan nie tog ‘n manier om jou blydskap te behou nie? Om eg tevrede en vreugdevol te wees ten spyte van een of ander stuk swaarkry nie?

Wees verseker, jy hoef nie ‘n vreugdelose feestyd te hê nie! 

Die brief aan die Filippense gee baie praktiese raad oor blydskap (lees hoofstuk 4) en dis eintlik ironies, want Paulus skryf dit vanuit die tronk. (nie juis 'n vreugdevolle habitat nie) Hy het reeds oor die opdrag tot blydskap geskryf en die belangrike raad in 4:6 gegee. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” Gebed en smeking met danksegging is die pad na blydskap!

VERGENOEGDHEID

Nou kom hy by ‘n verdere aspek en dis vergenoegdheid, tevredenheid. (dit gaan saam met blydskap) Vergenoegdheid is ‘n kosbare juweel wat ‘n Christen dra. Wat uniek is aan die Christen se vergenoegdheid is dat dit ‘n vergenoegdheid behels wat in alle omstandighede teenwoordig is. Hoor bietjie - “...ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.” (11,12 OAV) Vir Paulus was hierdie saak van vergenoegdheid nie ‘n stukke studeerkamerteorie nie, maar praktiese ondervinding. Hoe het hy dit reggekry? Die dikwels aangehaalde vers 13 gee die antwoord. “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” Let mooi op, hierdie krag wat Jesus gee is nie ‘n superkrag om dinge te doen wat my pas nie. Dis nie ‘n towerstaffie wat probleme laat wegsmelt nie. Dis nie ‘n reseppie vir gerief, geld en grootheid nie! Dis nie die sleutel tot menslike ambisie en sukses nie! Dis nie die fondasie van die Prosperity Gospel nie – allermins! In die Nuwe Testament is krag nie selfsugtige middel om vir my dinge maklik te maak volgens my smaak nie! “Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard.” (Kol 1:11) Dis ‘n krag wat my in staat stel om alle omstandighede te verdra met blydskap en tevredenheid! 

Christus gee my krag om alles te hanteer en te verduur... meer nog, om in alle omstandighede tevrede en vol vreugde te wees!

In wie werk hierdie krag van Jesus Christus en hoe werk dit? Ons kry reeds in die eerste hoofstuk ‘n praktiese voorbeeld van hoe hierdie krag van Jesus vir Paulus in staat gestel het om vreugde en vergenoegdheid in ‘n Romeinse gevangenis te beleef! Paulus se geheim kry ons in 1:21. “want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.” Sy lewe fokus en draai om Jesus Christus. Jesus self het sy ambisie en doelwit geword. Christus en om Hom beter te leer ken het sedert sy bekering sy hoof ideaal geword. Vat 'n tydjie om hieroor te dink... “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood,” (3:10) Jesus self het sy vreugde geword. Omdat Jesus altyd dieselfde bly in alle omstandighede, stel dit hom in alle omstandighede in staat om vergenoeg te wees. Paulus se lewensgeluk, vreugde en ideale was nie afhanklik van eksterne faktore nie! Hy sê dat selfs al moes hy sterf, dit vir hom wins sal wees , want dan is hy mos by Jesus en dis verreweg die beste. Jy sien as die kosbare Jesus Christus die bron van jou blydskap en inspirasie geword het, dan kan dit nie deur omstandighede verander word nie. As jy oorvloed het, wel dan geniet jy die oorvloed wat die Here jou gee (sonder om skuldig te voel) Maar as jy deur ‘n tyd van gebrek gaan, kan jy nog steeds gelukkig wees. (sonder om verontreg te voel) Want in alle omstandighede bly Jesus jou fokus en heerlikheid!

Hierdie gefokusde afhanklikheid op Jesus, is ook Paulus se wens vir sy weldoeners in die gemeente van Filippi. " En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.” (19) Deur Jesus Christus ontvang ons alles wat God volgens sy wil weet dat ons nodig het. Hierdie oorvloedige rykdom is ‘n rykdom van genade! (vgl. Ef 1:6)

Natuurlik maak hierdie krag van Christus nie dat mens ‘n gevoellose masjien word wat maar alles net met ‘n ystergestel verduur nie. Nee, Paulus het mens gebly en hy het hulp van ander mense ontvang wat hom weer opgebeur en bly gemaak het. Hy het in die tronk ‘n gawe/geskenk van die gemeente in Filippi ontvang en een van die redes vir die skryf van die brief was juis om dankie te sê. Die geskenk was vir hom ‘n bewys dat hulle hom nie hier in die tronk vergeet het nie. “Ek was baie bly in die Here dat julle na so ‘n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink. Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle het net nie die kans gehad om iets te doen nie.” (10) Jesus gebruik inderdaad ander dele van sy liggaam om ons by te staan, te versorg en te bemoedig. (Ja, daardie SMS, Kersmaaltyd, klein geskenkie, glimlag...is kosbare middele in God se hand...) Ons as kinders van God het dus wel ‘n verpligting om die wat minder het, siek is, eensaam is op praktiese maniere te ondersteun, ook in hierdie feestyd... Is jy oop vir die taak wat die Here vir jou het in ander se lewens, juis nou? Jesus gebruik inderdaad mense soos ek en sy om vreugde in ander se lewens te bring, maar die Bron bly Hyself. Ons gawes aan ander, kan juis help dat hulle dit sal besef en die Here meer sal vertrou en dank! En daar is 'n bonus - deur te gee word jyself ryker, ryker in jou belewenis en verstaan van God se genade! Dis waaraan Paulus die Filippense herinner as hy hulle bedank vir hulle geskenk : "Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie, maar om die vrug daarvan: daardeur word julle self ryker." (17)

Paulus sê in wese, “baie dankie vir julle geskenk – dit beteken vir my ontsettend baie, maar ek wil net hê julle moet weet my blydskap is nie afhanklik van uiterlike voorspoed nie, maar van Jesus wat my krag gee om in alle omstandighede vergenoeg en vreugdevol te wees.” Hierdie mense se gawe het Paulus se hart weer opnuut dankbaar teenoor die Here gemaak! Paulus het in die slegste omstandighede vreugde en vergenoegdheid beleef, Jesus gee vir jou ook die krag hiertoe...

WEES VERGENOEGD EN TEVREDE - DIS DIE POSITIEWE VAN DIE TIENDE GEBOD!

*Dit beteken nie dat ons dink Jesus is op 25 Desember gebore nie. (Kliek op KERSKOUS)