BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Bevry van vrees. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Bevry van vrees. Wys alle plasings

Vrydag 05 Maart 2021

BEGIN BY DIE BEGIN

- DIE BASIESE VERTREKPUNT VAN ALLE WAARHEID!

Waar kry ek ‘n antwoord vir al my baie vrae? Waar kry ek bevryding van al my vrese? Waar kry ek weer hoop in ‘n chaotiese, bose, korrupte en hartseer wêreld?  Begin by die begin! Ons weet daar is groot verwarring in ons tyd. Daar is ‘n ontelbare duisternis van opinies, talryke teorieë, soveel  slimmighede...Jy weet nie aldag wie om te glo en na wie om te luister nie... Waar gaan ek vastigheid kry?  Wat is die eerste heel basiese waarheid? Die fondament waarop alle antwoorde berus? Die basiese vertrekpunt? Begin by die begin!

Ons kry dit in Genesis 1:1!


Hieruit volg ‘n paar basiese vertrekpunte en vaste hoekpenne:


God alleen is die ewige oneindige Skepper.

Alle ander persone of dinge is skepsels of geskape dinge. Daar is ‘n basiese fundamentele onderskeid tussen God en sy skepping. God alleen is van ewigheid tot ewigheid. Sonder enige begin en einde. God alleen kan skep. Iets uit niks. Deur sy Woord. Hierdie unieke andersheid van God word vandag betwyfel deur iemand soos Benny Hinn wat leer dat die mens ‘n klein godjie is*, deur die panteïsme wat leer dat alles en almal goddelik is, ja ook deur die “spreek lewe” beweging wat leer dat die mens se woorde skeppingskrag het! Die basiese oersonde is om God nie as God te dank en te eer nie Om die skepsele te eer in plaas van die Skepper. Paulus skryf hieroor : “Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie, omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister... Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Amen.” (Romeine 1:20.21, 25)

God bepaal die sin van als want Hy het als met ‘n doel gemaak. 

Jy en ek het ‘n doel. Daar is ‘n rede vir ons bestaan. En die rede kom verder in die skeppingsverhaal duidelik na vore. Om God te eer en namens Hom oor sy skepping te heers! Ons as mense is geskape na sy beeld. Dit plaas ons in ‘n ander kategorie as byvoorbeeld diere en plante. Ons het ‘n verstand om God te kan ken, ‘n wil om Hom te kies en ‘n emosie om Hom lief te hê. God self is die doel en die vreugde van my bestaan. Dit word so mooi gestel deur die Westminster Shorter Catechism wat vra : “What is the chief end of man?” (die mens se hoofdoel?) En dan die antwoord : “Man's chief end is to glorify God, and to enjoy him forever.” Dis waaroor alles gaan – om God te eer en te GENIET! 

Geen mens kan ware vervulling beleef sonder die aanbidding van God nie, want dis waarvoor ons ontwerp is!

God alleen is in beheer van sy skepping. 

Die ganse heelal. God bestuur die heelal. Alles gebeur volgens God se raadsplanne. “Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit." (Efesiërs 1:11) Daar is geen mag groter as God nie. En ja, die duiwel is voorwaar soos ‘n brullende leeu, maar hy is ook net ‘n geskape wese. God het ook mag oor die duiwel en daar is nie ‘n kwessie van wie sal wen nie. Die uitkoms van die geskiedenis is nie in die weegskaal nie! Dit bring ontsaglike troos om te weet dat die Almagtige God volkome in beheer is van sy skepping – al lyk dit nie so nie. Dit het nie so gelyk tydens die kruisiging nie – dit het gelyk asof die Satan en bose mense die oorhand het, maar eintlik was hulle besig om God se triomfantlike plan uit te voer. Petrus praat op Pinksterdag met die Jode oor die kruisiging en dan sê hy : “God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak.” (Handelinge 2:23) Ja, die Jode en heidene het verkeerd opgetree, hulle staan skuldig, maar ten diepste het hulle God se raadsplan uitgevoer!

God alleen (as Skepper en Eienaar) maak die reëls en Hy alleen het die reg om sy skepsele tot verantwoording te roep.

Daar SAL dus ‘n oordeel wees en daar is ‘n hel ongeag wat verdorwe mense ons vertel. Paulus praat hiervan in sy toespraak in Athene : “God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan." (Handelinge 17:30,31) 

Dit beteken ons moet so lewe dat ons Hom behaag. Leef - Coram Deo Voor die aangesig van God! God se opinie is al wat tel! En moenie dat dwase mense vir God wil vertel dat sy oordele onregverdig is nie! Hoe kan mense wat absoluut onregverdig is vir die heilige God probeer beskuldig van onregverdigheid? Al God se besluite en oordele is goed, regverdig en volmaak!

God laat vaar nie die werke van sy hande nie. 

Hy gooi nie sy skepping weg nie. Hy onttrek Homself nie aan sy skepping nie. Dit gee vir ons hoop. Ons weet weens die sondeval is hierdie skepping verganklik en uiteindelik gedoem tot vuur! Maar dit gaan nie die einde wees nie. Daar kom ‘n nuwe hemel en nuwe aarde. “Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.” ( 2 Petrus 3:13)

ALLES DRAAI OM JESUS!

Die Bybel se boodskap oor God stop natuurlik nie hier by Genesis 1 nie. Dis maar die begin van ‘n asemrowende en aangrypende verhaal wat uitloop op die hoogtepunt van Jesus Christus se koms en werk. Die Nuwe Testament onthul vir ons die verrassende heerlikheid – die hele skepping draai eintlik rondom Jesus! Dis die heerlike waarheid van die Christelike lied in Kolossense 1:15-20.

“Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.

God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, gesagvoerders of magte. Alles is deur Hom en vir Hom geskep.

Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand.

Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.

God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon

en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.”

‘n Meer verhewe beskrywing van Jesus se persoon en werk kan mens kwalik iewers anders vind! God het deur Hom als geskep, maar alles is ook vir Hom geskep. Alles bestaan dus ter wille van Jesus. En Hy self hou alles in stand! En hier kom die heerlikste - deur Jesus word ons met God ons Skepper versoen. 

Deur Jesus kan ek dus die almagtige Skeppergod my VADER noem.

Deur die vrug van Jesus se volmaakte soenoffer word die beeld van God wat deur die sondeval geskend is weer in my nuut gemaak en herstel. Hoe? Die Heilige Gees kom woon in my en heilig en verhelder my verstand om God te ken, Hy verander my wil sodat ek kan kies om God te eer en te gehoorsaam, Hy gee my ‘n nuwe hart, ‘n nuwe emosie om God waarlik lief te hê!

Kom ons bely met nuwe vreugde en sekerheid en vertroue- die waarheid van Genesis 1:1 : 


Wanneer ons hierdie belydenis regtig glo kwyn ons vrese algaande en groei ons lofprysing tot ‘n heerlike klimaks van aanbidding en bewondering vir ons Almagtige God! AMEN!

*Benny Hin : “May I say it like this? You are a little god on earth running around" (Praise-a-Thon, TBN, 6th November'90)

Donderdag 05 Maart 2020

Koronavirus en vrees

- God se Vaderskap bevry ons van vrees, maar maak ons vreemdelinge in die wêreld!


Weet jy dat God jou Vader is in die volle sin van die woord? Het jy die versekering dat jy God se kind is? Hierdie feit en wete maak ‘n reuse verskil. 1 Johannes 3:1-3 praat so duidelik oor God se groot liefde en die feit van kindskap. 

Vers 1 "Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie. 

Vers 2 Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. 

Vers 3 Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is." 

NOU REEDS 'N FEIT!

Om kind van God te wees is nie bloot ‘n vroom teoretiese frase nie, maar ‘n werklikheidsbelewenis. Dis ‘n konkrete feit! “en ons is dit ook” (1) En dis nie iets van eendag in die toekoms nie. “nou reeds kinders van God” (2a) 

Hoekom is hierdie saak so belangrik? John Wesley, die latere beroemde prediker was ‘n baie goeie man, nog voor sy bekering. Vir almal sou hy lyk soos ‘n model Christen. Hy was lid van die sogenaamde Holy Club in Engeland wat baie streng Christelike dissipline gehandhaaf het. Hoog op die agenda was gebed, vas, goeie dade... Om alles te kroon het Wesley die oseaan deurkruis en na die Amerikaanse pionierstaat Georgia gegaan om sendingwerk te doen. Dit was egter ‘n groot mislukking. Later sou hy skryf: “I who went to America to convert the heathen, was myself never converted to God.” Met sy terugkeer op ‘n skip na Engeland was daar ‘n gebeurtenis wat sy eie geestelike onsekerheid en armoede ontbloot het. Saam op die skip was daar Duitse Morawiese Christene wat ‘n diep vertrouensverhouding met God beleef het. Sekerheid van hulle kindskap. ‘n Vreeslike storm het oor die skip losgebars. Wesley skryf : “a terrible screaming began among the English”, maar hierdie Duitse Christene, mans, vroue en kinders het kalm ‘n lied van lof en vertroue gesing. Wesley was beide verheug en ontsteld deur hulle optrede. Verheug om te weet dat ‘n verhouding met God soveel vrede kon bring. Ontsteld om te besef dat hierdie Christene iets het wat hy nie het nie. Wesley moes erken ; “I was afraid to die.” Eers ‘n tyd later toe Wesley na ‘n voorlesing uit ‘n kommentaar van Luther geluister het, het die lig van geloof in Jesus alleen in sy hart deurgebreek en het hy sekerheid gekry oor sy kindskap. 

Sekerheid dat God die Lewende God, die liefdevolle God die almagtige God my Vader is, is ‘n ontsagwekkende voorreg en maak ‘n reuse verskil! Kindskap van God (met al die heerlike implikasies) is die uitvloeisel en bevestiging van Goddelike liefde! Dis hierdie feit waaraan Johannes ons herinner. 

Die feit van kindskap maak ‘n verskil aan ons vrese. Vrees vir oordeel, vrees vir die dood, vrees vir ekonomiese swaarkry, vrees vir die toekoms – ja, ook vrees vir die koronavirus*! 

Hoekom maak dit so ‘n groot verskil? Hierdie God wat ons Vader is het ons lief! Met ‘n volmaakte liefde, sonder gebreke en foute soos ‘n aardse pa se liefde. En die wete van hierdie liefde verdryf alle vrees. Johannes brei later spesifiek uit op hierdie gedagte. 

“En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. 

Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. 

Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.” (1 Johannes 4:16-18) 

Hoe meer ons oortuig raak van God se liefde in Jesus, hoe minder word die vrese! 

SY LIEFDE ÉN ALMAG 

Dis nie net bewustheid van God se Vaderlike liefde wat die vrees verdryf nie, maar ook sy Vaderlike almag en alomteenwoordigheid. Kom ons kyk weer na HK vraag 27 en 28. Kyk hoe word die Vaderskap van God ook spesifiek uitgelig. 

Die HEIDELBERGSE KATEGISMUS Sondag 10. 

27 Vraag: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God? 

Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom. 

28 Vraag: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou? 

Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie. 

VREEMD

Natuurlik is hierdie innige liefdesband met die Vader iets vreemds vir die wêreld – vir die mense rondom ons en die hele materialistiese sisteem waarbinne ons leef. Elkeen wat regtig God as Vader ken kom noodwendig in botsing met die wêreld en sy beskouings en waardesisteme. Liefde vir die Vader en liefde vir die wêreld kan immers nie saam bestaan nie. 

“Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. 
Die wêreldse dinge-alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit-kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. 
En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.” (1 Johannes 2:15-17) 

Wie die voorreg het om God as Vader te hê, gaan ook die “voorreg” hê om deur die wereld verwerp te word en vir Christus te ly! 

Om God regtig as Vader te hê is die grootste genade en grootste sekuriteit, wel enigste sekuriteit op aarde! As God jou Vader is kan jy ook maar lofliedere sing te midde van die storms soos die Duitse Morawiese Christene… 

Is God se Vaderskap vir jou al ‘n werklikheid of leef jy nog in vrees soos die res van die wêreld?

*Terloops, vrees vir 'n virus (of wat ook al) is natuurlik 'n erger en meer aansteeklike virus as die virus self!

Saterdag 20 April 2019

DIE MOEDSKEP VISIOEN

(Vir Israel Folau)*

Een prentjie is meer werd as ‘n duisend woorde! Hier in Openbaring 1:9-20 kry ons ‘n besondere prentjie – ‘n Moedskep-visioen** wat die swaarkry Christene van die destydse Klein Asië moes vertroos en bemoedig. En dis heerlik aktueel… dis vir ons! Vir Christene wat ly in Noord-Korea of Iran, maar ook kinders van God wat in die materialistiese en goddelose Westerse wêreld deur hulle eie families of die samelewing gespot, uitgestoot en vervolg word. Ouens soos Israel Folau wat weens hulle getrouheid aan die Woord skade ly en beledig word... 


TROOSBOEK

Onthou Openbaring is ‘n troosboek en nie ‘n detail voorspellingsboek nie. Die Christene aan wie Johannes geskryf het, het ‘n groot behoefte aan troos en bemoediging gehad. Hyself natuurlik ook. (Johannes deel in die swaarkry wat insluit vervolging en onregverdige behandeling, armoede, uitbuiting, geweld – Johannes self is immers verban na die eiland Patmos ter wille van sy geloof) En wat ‘n heerlike troos kry hulle… Dié troos is nie oppervlakkige clichés soos : “Ag, toemaar dinge is nie so erg nie.” Nie, “Ag onthou elke donker wolk het ‘n silwer randjie” nie. Nee! Dit gaan oor grondige evangeliese troos. Die troos wat Jesus se kruis en opstanding en ewige heerskappy ons bied. Die prentjie wat Johannes sien en waarmee hierdie Christene bemoedig word is die prentjie van die verheerlikte en oorwinnende Christus! Hy wat wel dood was maar nou vir ewige lewe! 

JESUS BY ONS!

In hierdie moeilike omstandighede moet kinders van God weet, Jesus is nie ver of afsydig nie, maar midde in sy kerk – tussen die staanlampe! By ons in ons nood en smart! Jesus is vir altyd betrokke by sy kerk en teenwoordig in sy ware kerk! (13) Jesus is die Seun van die Mens – (Daniël 7) Hy is die Messiaanse bevryder wat beloof is! 

KYK!

Nou word sy voorkoms vir ons in detail beskryf. Natuurlik moet ons dit nou nie verstaan as ‘n letterlike foto van Jesus nie, maar as funksionele beeldspraak om iets van sy ONBESKRYFLIKE HEERLIKHEID EN MAJESTEIT EN MAG te beklemtoon! Woorde ontbreek! 

Net kortliks (maak self jou Bybel hier oop by Openbaring 1): 

Die lang kleed en goue band (13) – Jesus se hoëpriesterlike waardigheid! Sy werk as Hoëpriester is voltooi! 

(14) – witheid dui op sy wysheid, insig, kennis. Hy weet van als en Hy het die oplossing en raad wat nodig is. 

Oë soos vuur – deurpriemende insig, alwetendheid, niks bly vir Hom onsigbaar en niks kan vir Hom weggesteek word nie! 

(15) Voete soos gloeiende geelkoper – Gepoleerde kopervoete beeld Jesus se standvastigheid en krag uit. Hy kan nie wankel nie. (Hy sal nie koue voete kry en vlug en ons in die steek laat nie...) Ook sy volmaakte suiwerheid. Wat ‘n troos in ‘n wankelende onsekere en onreine vuil wêreld! Jesus se heerlike andersheid staan uit! ‘n Magtige stem soos baie waters – dink aan die gedruis van ‘n indrukwekkende en asemrowende waterval! ‘n Gerusstellende geluid, God se stem! Goddelike gesag en Goddelike ontsagwekkende heerlikheid. 

(16) Die sewe sterre in sy regterhand – dui op die sewe leraars van die sewe gemeentes. Sy regterhand is sy sterk hand. Hy alleen beskerm en beheer sy kerk, soewerein! ‘n Skerp swaard – Jesus het die bevoegdheid om met sy woorde te oordeel. Jesus is die Een wat sy kerk aanspreek, bemoedig en oproep tot bekering. Jesus se woorde sal uiteindelik staande bly, Jesus het die laaste sê! Sy hele voorkoms is soos die son op sy helderste – Hierdie verblindende heerlikheid van Jesus herinner mens aan die gebeurtenis toe Moses van die berg Sinai afgekom het (toe sy gesig so geblink het) en ook aan die gebeurtenis by die verheerliking op die berg. Jesus se gesig wat van heerlikheid blinkende skyn. (Matt 17) Die onbeskryflike heerlikheid en majesteit van Jesus kan nie met mensetaal geteken word nie! 

Hierdie angswekkend heerlike visioen laat Johannes verstom en verbyster! Geen woorde nie! Hy val neer soos ‘n dooie. 

SY VERTROOSTENDE HAND EN WOORDE

Wat nou? Nou is dit so vertroostend. Jesus vat aan Johannes. ‘n Gerusstellende hand op sy skouer en gerusstellende woorde : “Moenie bang wees nie!” Hoe dikwels het Jesus hierdie woorde vir sy bang dissipels op aarde gesê – nou na sy opstanding hoor Johannes dit weer! Mag ek en jy dit hoor… en moed skep! Mag jy nou op hierdie oomblik in jou toestand van vrees, hartseer, verwerping of eensaamheid sy hand voel, sy stem hoor... 

DIE EERSTE EN DIE LAASTE

Asof die visioen nie genoeg was nie, gee Jesus in woorde weer ‘n bevestiging waarom Johannes en al God se kinders nie hoef te vrees nie. “Ek is die EERSTE EN DIE LAASTE!” Dieselfde betekenis as die “Alfa en die Omega” (8) Hierdie term kom uit die profeet Jesaja. 

Kom ons blaai bietjie na Jesaja: 

“Wie het dit gedoen en tot stand gebring? Hy wat die geslagte roep van die begin af; Ek, die HERE, die Eerste, en by die laaste is Ek dieselfde.” (Jesaja 41:4) 

“So sê die HERE, die Koning van Israel en sy Losser, die HERE van die leërskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie.” (Jesaja 44:6) 

“Luister na My, o Jakob, en Israel, wat Ek geroep het, dit is Ek; Ek is die Eerste, ook is Ek die Laaste. Ook het my hand die aarde gegrond, en my regterhand die hemele uitgesprei; as Ek hulle roep, staan hulle daar almal saam.” (Jesaja 48:12,13) 

In al hierdie kontekste gaan dit oor God wat die Skepper is van als en almal, oor God wat volkome in beheer is van sy Skepping. God is die oorsprong van sy Skepping en bereik self sy doel met sy Skepping. Niks en niemand kan Hom keer om sy doel te bereik en sy planne uit te voer nie. Absolute soewereine gesag. Jesus, as ware God het hierdie Goddelike gesag en mag! 

Jesus se oneindige gesag en onbeperkte mag word bevestig deur die feit van sy OPSTANDING! 

Die opstanding is die onomstootlike bewys van Jesus se Goddelike heerlikheid en almag. Sonder die opstanding sou dit als maar net mooi woorde wees! Niks kan Jesus se gesag en mag inperk of belemmer nie! Hy lewe vir ewig! Hy en Hy alleen het die sleutels van die dood en die doderyk. Juis dit wat die grootste vrees en onsekerheid by die mens bring – die dood, staan nou onder beheer van Jesus! Wat ‘n heerlike troos vir hierdie Christene wat doodgemaak is vir hulle geloof. Jesus het beheer oor die dood, so selfs as ons sou sterf bly die dood skadeloos, want ons is dan by Hom in heerlikheid! Dis nie die duiwel of ander magte of enige aardse tiran wat finale beheer oor die dood het nie. 

Die Opstandingswaarheid bevry ons van 
ALLE VREES! 


(Maar onthou, die duiwel lieg vir ons en wil ons laat glo dat hy in beheer is en dat hy kan dood en verwoesting saai soos hy wil....) 

Al die heerlike waarhede oor Jesus – sy volledige versoeningswerk aan die kruis, sy almag, sy beloftes oor die ewige erfenis en volmaakte heerlikheid wat vir ons wag… is gebou op die kernwaarheid van die letterlike liggaamlike opstanding uit die dood! ( Twyfel jy oor die opstanding? Kliek – ENIGSTE VERLOSSER) Jesus se opstanding uit die dood op die derde dag is die fondasie van die verlossingsevangelie. Omdat dit waar is, is die evangelie waar. Dis waarom ons feesvier. Ons weet Hy het sonde, Satan, dood en hel oorwin! 

Sy dissipels was daarvan oortuig… hulle het aan Hom gevat, gesien hoe eet Hy brood en vis…. Ons is ook daarvan oortuig deur die Woord en die werk van die Gees in ons harte! 

Kyk vandag weer opnuut na die verheerlikte Jesus, voel sy hand, hoor sy Woorde en skep moed! 

* Israel Folau is die Australiese rugbyspeler wat vervolg word, bloot omdat hy Bybelse waarhede op Instagram herhaal het. Dit het die gay aktiviste die harnas ingejaag. Dis ook heel moontlik 'n voorskou van die tipe vervolging wat nog op alle evangeliese en Bybelgetroue Christene wag.
**Jan du Rand, p131


Vrydag 22 Junie 2018

GOD IS NIE MEER KWAAD NIE!


Wie die versoeningswerk van Jesus aanvaar kan weet : “God is nie meer vir my kwaad nie, ek hoef nie te vrees nie, want ek kan Hom vertrou!” 


God werk soms baie hard met die mense vir wie Hy liefhet! Dalk het jy dit ook al beleef? Als loop skeef... "Die Here se hand druk swaar op my..." Die volk Israel het dit deeglik gevoel. Hulle het God se toorn, sy wraak en straf oor hulle sondes aan hulle eie lyf ervaar. Die ballingskap in die verre Babilonië was sekerlik die toppunt van God se oordele! God se oordele is voorwaar skrikwekkend. Tog... Deurgaans maak die profete dit duidelik : God se finale doel is egter nie straf nie, maar redding. Redding vir die oorblyfsel. Hy straf en tugtig mense om hulle tot redding te bring. Sy strawwe is nooit bedoel om ons weg te dryf nie, maar om ons nader te trek. Dis wat die volk Israel telkens beleef het. Dalk kan jy ook getuig : “Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord.” (Psalm 119:67) 

Ons lees hier in Jesaja 12* ‘n danklied vir Goddelike verlossing. God het weer uitkoms en verlossing gebring vir sy volk. Dit beteken dat God nie meer kwaad is nie. Ja, God was kwaad, Sy toorn en wraak oor die sonde was inderdaad verwoestend! Dis geen ligtelike saak nie! Hoor bietjie...

“Ellende wag vir dié wat helde is by wyndrinkery, dapper by die meng van hulle drank, wat die skuldige vryspreek vir omkoopgeld, maar ‘n onskuldige sy reg ontneem. 
Daarom, soos stoppels deur vuur verteer word en hooi in vlamme opgaan, so sal dit met hulle gaan. Hulle sal met wortel en tak uitgeroei word, want hulle het hulle nie gesteur aan die openbaring van die Here die Almagtige nie, hulle het die woord van die Heilige van Israel verwerp. 
Daarom het die Here kwaad geword vir sy volk. Hy het sy hand teen hulle uitgesteek en hulle getref, sodat die berge gebewe het en die lyke soos vuilgoed op die strate gelê het. Ondanks dit alles bedaar die toorn van God nie en bly sy hand uitgesteek teen hulle." (Jesaja 5:22-25) 

HEERLIKE VERLOSSING

Verlossing is dus iets radikaals en onverdiend. Verlossing beteken dat God sy toorn afwend, dat hy volkome vergewe, dat Hy die kwaad nie meer teen ons hou nie. Wat behels dit presies? Die Here sê : “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.” (Jesaja 44:22) Dis wat by die kruis gebeur het! Die dag as jy met ‘n gebroke hart gelowig na die kruis kyk dan beleef jy dit. Dan kan jy ook sê : “"Ek loof U, Here! U was kwaad vir my, maar U is nou nie meer kwaad nie en U het vir my uitkoms gegee.” (Jesaja 12:1) Dis wat mens besef as jy raaksien en regtig glo wat Jesus aan die kruis vir jou gedoen het. As ek dit beleef het sal dit ‘n verskil in my lewe maak.. Ek sal nie meer dieselfde kan bly nie. Hierdie danklied in Jesaja 12 bevat die reaksie van die verlostes op God se verlossingsdade. Dis ‘n noodwendige reaksie - as ek die verlossing raakgesien en beleef het kan dit nie anders nie , ek sal reageer. 

REAKSIE

Ons tref hier 'n drieledige reaksie aan : vertroue, blydskap en dankbare lofprysing. Vandag kyk ons na die reaksie van vertroue in vers 2. “God is my redder; Ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie. Die Here my God is my krag en my beskerming; Hy is my redder." 

Ons gaan twee sake van nader bekyk: 

1) Wat is vertroue? Vertroue behels 'n bewuste daad en ingesteldheid van my denke. Jy weet wat jy doen wanneer jy vertrou. Dis nie maar net 'n lekker of positiewe gevoel nie. Om te glo en te vertrou is min of meer dieselfde ding. Maar hoe sal mens dit nou prakties verduidelik ? 


John Paton (1824-1907), 'n Skot, het na die New Hebrides ('n groep eilande in die suidwes-Stille Oseaan) gereis om die stamme daar oor Jesus te vertel, maar hy het gesukkel om die regte woord vir 'geloof' te vind. Eendag, toe sy inheemse bediende ingekom het, het Paton albei voete van die vloer af opgelig, agteroor in sy stoel geleun en gevra: 'Wat doen ek nou?' In sy antwoord het die bediende 'n woord gebruik wat beteken: ‘om met jou hele gewig te leun op '. Dit het die uitdrukking geword wat Paton gebruik het. Geloof behels om met ons hele gewig op Jesus te leun! 

Dis die betekenis van vertroue op God, ek leun, maak staat eksklusief op Hom, sonder om in die minste op enige van my eie bronne of bates staat te maak. Natuurlik omdat ons onvolmaakte mense is moet ons onmiddelik sê, solank ons in hierdie lewe is, sal ons vertroue in God ook nooit volmaak wees nie. Ja, selfs ons wat volledig vertrou op Jesus vir ons verlossing is nog so dikwels geneig om van ons eie valse selfvertroue en trots, vertroue op die werke van die wet in ons verhouding met God in te dra. Ons moet gedurig daarteen waak en dit uitroei. Met 'n doelgerigte beslistheid moet ek dag vir dag en keer op keer besluit ek gaan op God vertrou ongeag my gevoelens en omstandighede. Ek gaan net op Jesus leuen. Ek gaan glo en nie bang wees nie, al slaan die golwe van die lewe my van my voete af. Al voel ek asof ek wil sink in die branders van vrees... Ek vertrou op God se beloftes en die stellings in sy Woord.... (Terloops dis veral belangrik as jy ly aan Obsessiewe Kompulsiewe Versteuring – die “twyfelsiekte” – kliek op OCD) 

Vertroue, geloof en verlossing is onlosmaaklik aan mekaar verbind. Vertroue is die eerste daad van die wedergebore siel. Ek vertrou die Here. As jy nie Jesus persoonlik vertrou vir jou verlossing nie is jy nie 'n Christen nie. Dis die eerste verskil as ek kind van God word : “Ek vertrou nie meer op my geregtigheid, my gebede, my ordentlikheid, my afkoms, godsdienstigheid of prestasies nie. Ek vertrou op Jesus, ek vertrou op sy prestasie, sy meriete! Ek vertrou dat omdat hy reeds die volle straf vir my eie persoonlike sondes ondergaan het,dat God nie meer vir my ook sal straf nie.” 

Vertroue is 'n opdrag van God wat ons moet gehoorsaam Vertrou God, glo God! Dis die herhaalde opdrag in die Bybel, as ek vertrou doen ek nie iets besonders of snaaks nie (dis nie 'n buitengewone geloofskragtoertjie wat slegs vir 'n paar supergeestelikes beskore is nie), dis maar net die basiese minimum wat God van my verwag. Vertroue op God is die primêre manier, belangrikste manier hoe ons eer bring aan God. 

Op wie vertrou 'n mens normaalweg? Jy vertrou iemand op wie jy kan staatmaak, iemand met 'n standvastige karakter. Vol eerlikheid en integriteit. Om God te vertrou behoort eintlik die mees natuurlike ding te wees, want God se karakter is volmaak. Hy is goed, betroubaar, eerlik. Liefdevol, genadig! 

Kan jy iets inbring teen God se karakter? Nou waarom vertrou jy Hom dan nie? 

Waarom vertrou jy nie sy beloftes wat hy maak in Jesus nie? Sy beloftes dat hy al jou skuld kwytskeld, sy beloftes dat niks jou kan skei van sy liefde nie. Om God te vertrou is om eer aan hom te bring, te erken dat hy waarlik die volmaakte God is; om God nie te vertrou nie is 'n mosie van wantroue in Hom. Wat 'n dwaasheid van my 'n klein swak onvolmaakte mensie om die lewende almagtige God nie te vertrou nie! Gaan terug na die Woord, gaan na God se beloftes, sê : "Here ek vat U op U woord, want U is God" U is nie 'n mens dat U sou lieg nie. (Sien Numeri 23:19!) 

2) Die gevolg of uitvloeisel van ware vertroue op God 

“Ek vertrou...ek is nie meer bang nie.” Wat 'n heerlike uitspraak. Hoe wonderlik vir 'n mens om nie meer te vrees nie. Hoekom sê ek so? U sien van nature het ons as mense rede om bang te wees, veral bang te wees vir God vanweë ons sondeskuld (dink aan Adam in die paradys). Sondaars is vreesagtig. Ons is bang want ons dink aan ons sondes, die dwase sondes van ons jeug , die diep verskuilde en partykeer subtiele sondes wat in ons harte skuil, elke dag se sondes - dit laat ons vrees, want ek weet die lewende God sien alles. Ons vrees God, die dood, die oordeel, die ewigheid ....ja, maar as ek op God se beloftes vertrou kan ek sê: “Ek vertrou en is nie meer bang nie." Ja, ek is deeglik bewus van my skuld en ek huil daaroor, maar ek vertrou God se beloftes in Jesus, dat Christus aan die regverdige eis van die wet voldoen het, die doodstraf in my plek gekry het. Ek glo dit , my skuld is betaal ek glo dit en is nie meer bang nie. Nie omdat ek voel my sonde is nie so erg nie, maar omdat daar vir die sonde wat wel baie erg is volkome betaal is. Ek is nie meer bang nie, want God se karakter is volmaak. Hy sal sy beloftes van vergifnis nie breek nie. God sal nie op sy woord teruggaan nie- “EK is die Here, ek verander nie,” sê Hy in Maleagi 3:6. 

Kom ons vertrou God! Vertrou Hom altyd en in alle omstandighede. Vertroue op die volmaakte God wat Sy Seun as offer gegee het. Hy sal jou vrese en angste verban en selfs in die aangesig van die dood sal jy nie vrees nie, maar met verlange uitsien dat Hy jou die kroon van die lewe sal gee. AMEN

NASKRIF

Hoe wonderlik om te kan sê "ek vertrou en sal nie vrees nie" Donald MacDonald sê in aansluiting by hierdie teks dat mens in die lig hiervan eintlik 4 soorte mense kry : 

1) Die wat vertrou en nie vrees nie. (Reeds hierbo bespreek) 

2) Die wat vertrou en tog nog vrees. Ja, ek maak nie staat op myself nie, ek het my vertroue op Jesus gestel, en tog bly ek wonder en verval in ‘n voortdurende sieklike introspeksie: Is ek regtig vergewe, mislei ek nie dalk myself nie? Ek begin weer twyfel soos Petrus op die water... Hou gedurig jou vinger op die pols om seker te maak of ek regtig lewe, i.p.v. te lewe. Ware kinders van God kan twyfel en vrees ervaar. Johannes 5:9-13 is van groot hulp. Vertrou God se beloftes! Jesus het met groot geduld en sagtheid met die twyfelende Thomas gewerk. Vertrou Hom om ook jou vrese weg te neem en vastigheid en sekerheid te gee. 

3) Daar is sommige wat vrees, maar hulle vertrou nie. Jou sonde pla jou, jy weet jy kan nie so voor God verskyn nie, jy weet daar is 'n hel en dit laat jou by tye sidder van vrees en tog weier jy om jou vertroue op Jesus te plaas. Jy kom wel kerk toe , jy hoor die woord, maar jy deins terug van om die stap te neem om jou aan Jesus oor te gee en jou vertroue op Hom te stel. Onthou om bang te wees vir God se oordeel, om jammer te wees oor jou sonde kan jou nie red nie, jy moet by Jesus uitkom - Hy nooi jou! 

4) Laastens is daar die wat nie vertrou nie, maar ook nie eers bang is nie. Miskien is daar diesulkes ook hier. Jou hart is kliphard, jy ken die feite, jy weet jy is nie reg met God nie, jy weet daar is 'n oordeel en tog lewe jy ongesteurd voort. Mag God jou hart laat ontwaak en jou weer leer om te vrees sodat jy Hom sal soek en vertrou vir jou verlossing. 

*In hierdie kort, maar heerlike hoofstuk kry ons twee psalms of liedere, wat ons kan noem lofsange van bevryding of verlossing. Sommige sien hierin 'n verwysing na die wonderbaarlike bevryding van Jerusalem uit die hand van Sanherib die koning van Assirië in die tyd van koning Hiskia toe die engel van die Here 185000 soldate doodgemaak het (hfs. 37) . Dis moontlik, maar dis ook duidelik dat die blikrigting van hierdie vreugdesuitinge verder gaan as net die tyd van Hiskia. Ons kom dit agter as ons kyk na die heerlike beloftes wat hoofstuk 12 voorafgaan. In hfs. 7 kry ons die aankondiging van Immanuel (Jesus) se geboorte, in hfs. 9 'n verdere aankondiging van 'n Seun wat gebore sou word met Goddelike eienskappe, wat nie op 'n gewone aardse koning van toepassing gemaak kan word nie (vers 5) en in die voorafgaande hoofstuk weer 'n duidelike verwysing na die verlossingswerk van Jesus (11:1) Dit gaan dus in hfs. 12 oor iets dieper en heerliker as net Israel se fisiese bevryding.



Vrydag 02 Maart 2018

DIE GEHEIM AGTER DIE DEUR…

WAT ‘N HEERLIKE VERSKIL MAAK AAN ONS VRESE EN ‘N NUWE VISIE OPEN… 


Waarom red God sondaars? Waarom maak God deur Jesus se bloed vrede met mense wat eens sy vyande was? Anders gestel wat moet ons as geredde mense se fokus wees? Nou, maar ook tot in alle ewigheid? Ons het soveel stryd, soveel moeilikheid, soveel dinge wat ons tyd in beslag neem en soveel goed wat ons benoud en bang maak. (Soos daai geluide van Ramaphosa om grond sonder vergoeding af te vat...) Waarop moet ons konsentreer? Waar pas ons in die groot prentjie? Wat is regtig belangrik? My behoeftes, pyne of begeertes of dalk iets groter? 

Kom ons oordink die hooftema : Die hoofdoel van die ganse skepping is aanbidding van Hom wat op die troon is! 

Hierdie fundamenteel belangrike saak is so heerlik duidelik uit Openbaring hoofstukke 4 en 5! Ons gaan net so oorsigtelik daarna loer. Openbaring is in elk geval soos ‘n skildery! Ons hoef nie te veel ons koppe te breek oor elke stukkie detail nie! Dis die geheelbeeld wat ons aanraak en in vervoering en bewondering bring. Ja, tot aanbidding aanspoor! 

Twee belangrike aaneenvloeiende temas is hier ter sprake : God wat op die troon is en die aanbidding (worship) van God. 

GOD IS OP DIE TROON 

Johannes kry ‘n kykie op die hemelse Goddelike werklikheid. Hier sien ons die ware toedrag van sake. ‘n Deur word oopgemaak en dan sien hy iets onbegryplik en onbeskryflik heerlik. “Hierna het ek, Johannes, in die hemel ‘n deur gesien wat oopgemaak is, en die stem, soos die geluid van ‘n trompet, wat ek die eerste keer met my hoor praat het, het gesê: 

"Kom op hierheen, en Ek sal vir jou wys wat hierna moet gebeur." 
Onmiddellik is ek deur die Gees meegevoer. Ek het gesien daar staan ‘n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand. 
Sy voorkoms was soos opaal en karneool. Om die troon was daar ‘n reënboog met die glans van smarag.” (4:1-3) 

Ons wat Openbaring lees word saamgenooi om ook te kyk en ons te verwonder. So wat sien ons deur die oop deur? Die troon van die heelal. Die setel van regering, van mag en gesag, die plek van alle besluite en beslissings. En wie sit op hierdie troon? GOD! Lees saam verder – 4:4,5,6,9,10; 5:1,6,7,11,13 

Dis ‘n kernwaarheid en deurlopende tema in Openbaring. Waarom? Onthou die mense vir wie Openbaring aanvanklik geskryf is, was Christene wat baie swaar gekry het. Verdruk en vervolg, doodgemaak. Dit skep by mense vrees en onsekerheid. Wat gaan met ons gebeur? Het die duiwel en sy bose handlangers al die mag? Gebeur als maar volgens ‘n donkere noodlot? Hoekom gebeur soveel slegte dinge met ons? Is daar enige sin en doel in als? Het God ons nog lief? Is God nog in beheer? Die deurlopende motief van God op sy troon wil duidelik sê : God en God alleen is in beheer! Nie goddelose mense, nie goddelose regerings en tiranne nie, nie die Satan self beheer en bepaal die toekoms nie, maar net God en God alleen. Hy sit op sy troon en heers oor die heelal en die geskiedenis! Maar meer as dit, Hy is in beheer van jou persoonlike omstandighede en toekoms. Laat elkeen dit weet - God is op die troon – ook terwyl jy swaarkry, siek is, alleen voel, benoudheid ervaar… God is op die troon, juig daaroor! 

As jy begin wankel en moedeloos word, kyk deur die oop deur van Openbaring 4! 

AANBIDDING 

Die tweede groot tema is aanbidding. Dis opvallend belangrik. Dit ontwikkel tot ‘n absolute klimaks. Juis omdat God en God alleen op die troon is, maak dit volkome sin om Hom alleen te aanbid. Kyk bietjie wie aanbid God op sy troon: 

Die lewende wesens. (4:8) Die beeldspraak van die lewende wesens kom uit Esegiël en Jesaja. Die vier wesens verteenwoordig die hele skepping. Hulle sien alles raak (die oë) en hulle is oral (vlerke). Hulle observeer die grootheid van God. Dit reflekteer ook God se alwetendheid en alomteenwoordigheid. 

Die 24 ouderlinge. (4:10-1) Hulle is verteenwoordigend van die hele gemeenskap van gelowiges. Die 12 Ou Testamentiese stamme van Israel plus die 12 Nuwe Testamentiese apostels. Saam verteenwoordig hulle die kerk/volk van God van alle eeue! 

Albei groepe. (5:8-9) Let op die gebede van die gelowiges wat nou op aarde swaarkry is ‘n lieflike geur (soos wierook) in die hemel! 

Die menigte van engele. (5:11-12) Die inhoud van hulle aanbidding is lof aan die Lam! 

Dan die klimaks! Die ganse skepping! “Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: "Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid." (5:13) Die hele skepping is gefokus op God! Niks en niemand is wonderliker, heerliker, meer fassinerend en belangriker as Hy nie! 

SKEPPER EN VERLOSSER!

Net nog iets baie opvallend en belangrik! God word aanbid as Skepper in hoofstuk 4. "Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep." (4:11) Ons moenie vergeet om God te prys vir die oneindig wonderlike skepping wat Hy gemaak het nie! Kyk net rondom jou...en loof Hom! 

God word aanbid as Verlosser in hoofstuk 5. Hier word God geprys as die Een wat deur Jesus, die Lam mense gered en bevry en losgekoop het. “Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. U het hulle ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer."* (5:9,10) 

Die hele skepping draai om een saak : die aanbidding van God! 

Ons moet bevry word van ons selfgesentreerdheid en individualisme en inval by en meedoen aan hierdie groot saak. Die aanbidding van God! Soos die aarde om die son draai, draai die ganse skepping rondom die heerlikheid van God! Als het ‘n groter doel! Kyk na die groter prentjie, die prentjie van God op die troon wat aanbid word. Moenie net vaskyk teen die onreg en boosheid van die wêreld nie. Moenie jou blindstaar teen korrupsie en tiranne nie. Moenie vasval in jou klein, persoonlike wêreldjie en agenda en bekommernisse nie. Kyk na die groter prentjie. Sien die groter werklikheid agter die skerms. Ja ons vrese en ellendes en pyne en hartsere is erg, maar as kinders van God, losgekoop deur die bloed van die Lam kan ons verby dit kyk en ons harte en stemme voeg by die aanbidding van God! 

Laat ons fokus op God – God as Skepper, God as Verlosser! AANBID HOM! En mag ons so bevry word van beide vrees en selfbeheptheid! 

*Vergelyk die treffende ooreenkoms met Eksodus 19:4-6, waar dit gaan oor God se doel met die redding van sy volk Israel. Hierdie waarheid word dan deur Petrus in 1 Petrus 2:9-10 op die Nuwe Testamentiese kerk van toepassing gemaak.En nou vind ons dit weer in Openbaring!


Eer Hom as Skepper...


Eer Hom as Verlosser...


Vrydag 19 Januarie 2018

KYK, WAT HET HY GEDOEN!

BEVRY VAN VREES, KAN EK NOU WEER ‘N NUWE  LIED SING!



Is jou Christenskap besig om jou moeg te maak? Voel dit vir jou dis iets wat jy nie regkry nie? Is jou Christenskap besig om jou bang te maak? Jy voel altyd vol vrees en onsekerheid of jy goed genoeg is? Jy wonder : “Is my bekering eg genoeg, is my berou diep genoeg, is my geloof opreg genoeg?” Maak jou Christenskap jou dalk negatief? Dis vir jou ‘n bitterlik sware plig om kerk toe te kom of te bid, en as jy kans kry om dit nie te hoef doen nie, is jy maar net te bly!


Daar kan baie redes wees vir hierdie toestand, maar een van die grootste redes is dat jy die evangelie nog nooit verstaan of aanvaar het nie. Jy dink verkeerdelik dat die evangelie ‘n swaar plig is, dat Christenskap ‘n buitengewone harde lewenstaak is of dat daar ‘n groot prestasie van jou verwag word om kind van God te word of te bly. Jy het al soveel keer probeer om ‘n goeie mens te wees, maar telkens misluk… Eintlik, het jy miskien al moed opgegee...

Die heerlike stuk heilsgeskiedenis van die Israeliete se deurtog deur die Rooi See is ‘n besondere duidelike illustrasie van hoe God werk en wat ons reaksie daarop moet wees. (Lees gerus eers Eksodus 14:15-31; 15:1-3) Dis niks anders as die evangelie reeds in die Ou Testament nie! (Terloops, dit illustreer sommer ook vir ons die belangrikheid van die Ou Testament om die werk van Jesus dieper te verstaan.) 

Dit gaan oor Gód se reddingswerk en mense se vreugdevolle en dankbare reaksie daarop. 

GROOT MOEILIKHEID!

God het die volk Israel onder leiding van Moses uit die slawebestaan in Egipte bevry. Ons ken die dramatiese gebeure wat reeds plaasgevind het… Die hardkoppigheid van die farao, die wondertekens en plae... Die feit dat Israel tot hier gekom het, was geensins weens hulle eie prestasies nie… Inteendeel… Maar nou bevind hulle hulself weer in baie groot moeilikheid. Voor hulle is die Rooi See, ‘n verdinkingsdood wat wag! Agter hulle is ‘n oprukkende en wraaksugtige Farao en sy Egiptiese krygsmanne, ‘n dood deur swaard en spies! Groot benoudheid, ‘n benarde situasie, geen uitkomkans! Letterlik tussen die duiwel en die diepblou see!

Elke mens is geestelik ook in hierdie haglike situasie. Die wet is duidelik: “die siel wat sondig moet sterwe!” En dis duidelik dat almal van ons leuenaars, diewe en lasteraars... is, want ons het elke gebod wat daar is reeds in daad of gedagte oortree. Party probeer hierdie feite ignoreer, party maak planne… “Ek hoop maar ek doen meer goeie dinge as slegte dinge, dat my goeie dade die slegtes sal uitkanselleer...” (Dis natuurlike naïewe dwaasheid; probeer bietjie so ‘n tipe argument in ‘n hof…"Ja, edelagbare ek is inderdaad skuldig aan moord en verkragting, maar asseblief onthou net ek skenk gereeld geld vir die kankervereniging en die DBV!") God se geregtigheid soos uitgedruk in sy wet keer ons vas van voor en agter. Daar is geen uitkomkans nie, ons is skuldig, die oordeel hang soos ‘n swaard oor ons… WAT NOU?

Eers, terug by die verskrikte en beangste Israeliete. Moses praat hulle moed in. “Maar Moses het die volk geantwoord: "Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg." (13,14) 

GOD DOEN IETS!

En wat gebeur toe? God bewerk ‘n kragtige verlossing deur middel van sy kneg Moses! Dis Hy wat die verlossing bewerk! Net Hy alleen! Wat sou ongewapende mans, vroue en kinders buitendien teen die magtige Egiptiese leër kon uitrig? Wat sou hulle kon doen om sonder skepe oor die Rooi See te vaar? Niks! Totaal magteloos! Net God kon ‘n reddingswonder doen, net God kon ‘n ramp afweer en uitkoms gee. En Hy het! “Die Here het Israel daardie dag gered van Egipte, en die Israeliete het die Egiptenaars dood op die strand sien lê.” (30)

ONS REAGEER GELOWIG DANKBAAR

En waar kom die Israeliete nou in die prentjie? Wat was hulle reaksie? “Toe Israel sien hoe kragtig die Here teen Egipte opgetree het, is hulle met ontsag vir Hom vervul. Hulle het in die Here geglo en ook in Moses, sy dienaar.” (31) Hulle besef die ontsagwekkende grootheid van God en hulle glo! Bekering en geloof! God het ingegryp en hulle redding bewerk, daarom glo hulle, vertrou hulle. 

Dis nie ons geloof opsigself wat redding bewerk nie, dis nie die kwaliteit van ons geloof wat die verlossing verseker nie. Nee, ons geloof neem net vertrouend en dankbaar kennis van die redding wat GOD bewerk het!

En wat bly oor? Waartoe lei hierdie heerlike verlossing wat God bewerk het? Net meer DANKBAARHEID en BLYDSKAP! Hulle sing nou dankbaar ‘n verlossingslied. 

“Toe het Moses en die Israeliete die volgende lied tot eer van die Here gesing: "Ek wil tot eer van die Here sing omdat Hy hoog verhewe is. Perd en strydwa het Hy in die see geslinger.
Die Here is my krag en my beskerming. Hy het tot my redding gekom. Hy is my God, Hom roem ek, die God van my voorvaders, Hom prys ek.
Die Here is oorwinnaar in die stryd, sy Naam is ‘die Here’! ...(15:1-3ev)

Die evangelie gaan oor God wat deur sy eie Seun, Jesus Christus ‘n magtige verlossingswerk aan die kruis gedoen het. Die duiwel is verslaan. Die vyand is vernietig! By die kruis is ons redding bewerk. Dit gaan nie oor wat ons doen nie, dit gaan oor wat HY gedoen HET! Ja, ons reageer gelowige en dankbaar. Ons buig in nederige dankbaarheid voor die ontsagwekkende almag en heerlikheid van God. Ons word geïnspireer tot lofprysing. Lofprysing met ons mond, hart en lewe!

Die lied wat die bevrydes hier gesing het vind weerklank tot in die laaste boek van die Bybel. In Openbaring 15:3 lees ons hiervan. “Hulle sing die lied van Moses, die dienaar van God. Dit is ook die lied van die Lam: "Groot en wonderbaarlik is u dade, Here God, Almagtige. Reg en betroubaar is u optrede, Koning van die nasies.” Alle gereddes, alle verlostes gaan eendag die lied van Moses sing. Dis die evangeliese lied wat erkenning gee aan die Lam wat ons deur sy bloed vrygekoop het, die lied wat alle eer aan God gee!

Ware Christenskap is nie om een of ander harde werk te doen om God te beïndruk of jouself te red nie. Dit gaan in die eerste plek om vertroue op God, spesifiek geloof in Jesus oor dit wat HY gedoen en afgehandel het aan die kruis. Anders gestel. Die evangelie is nie doen, doen, doen, nie! Die evangelie is, dit is gedoen, dit is gedoen, dit is gedoen!  Ja, klaar gedoen aan die kruis! Wie dit glo en raaksien kan nie anders nie as om ‘n lewe van lof en dank te lei nie. Ja ‘n lewe van lof en dank vereis al ons oorgawe en toewyding, maar dit gaan nie oor prestasie nie, maar oor dankbaarheid! 

CHRISTENWEES IS NIE 'N DIY JOB NIE!

CHRISTENSKAP GAAN DAAROOR DAT ONS DANKBAAR FOKUS OP DIE VERLOSSING WAT GOD SELF REEDS DEUR JESUS BEWERK HET!


Het jy al gelowig die groot verlossing wat God deur Jesus op Golgota bewerk het aanskou? Besef jy dat Hy vir elke sonde, ja, elkeen die volle straf gedra het? Besef jy dat Hy jou bevry het van sonde, satan, dood en hel? Raak dit jou, reageer jy? Gaan jy saam met die groot koor verlostes tot in ewigheid ‘n dankbare verlossingslied sing? God se kinders sing dit nou reeds en gaan nooit ophou nie! 

Sing jy al?

Donderdag 06 April 2017

IN MOEILIKE TYE

- BLY STEEDS BY DIE BASIESE BEGINSELS!



Moeilike tye… dit kan seker baie dinge beteken. Vir verskillende mense verskillende dinge. Vervolging, swaarkry, finansiële druk, diefstal van jou eiendom, ervaring van onreg, gesondheidskrisisse, geestelike stryd…(baie mense in Suider Afrika koppel moeilike tye nou sekerlik aan Zuma se katastrofale besluite...) Hoe moet ons optree in sulke tye? Waarvoor moet ons pasop? Wat moet ons onthou?

Mens sou kon sê dat die brief aan die Hebreërs juis geskryf is vir Christene in moeilike tye. Daar was die groot gevaar van afvalligheid, van afdwaling ("wegdrywe" 2:1), van moedeloosheid... Daar was mense met "slap hande en lam knieë". Daar was ook vantevore reeds fisiese swaarkry. Sommiges is blykbaar van hulle goed beroof en dit lyk ook asof van hulle in die tronk gegooi is.

Die sentrale boodskap aan hierdie Christene was : 

Hou vas aan Jesus die volmaakte hoëpriester!

Jesus is God se finale openbaring aan die mens. (1:1) Jesus oortref die engele by verre in heerlikheid en majesteit. Hy is God! Jesus vervang al die offers, tempeldiens en hoëpriesters van die Ou Verbond. Hy het self die pad na God vir ons oopgemaak. Ons kan weet Hy het medelye met ons en ons kan dus met vrymoedigheid na God se genadetroon gaan. 

 “Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” (Hebr 4:14-16) 

Jy wat aan Jesus behoort moet weet dat Hy ‘n volmaakte hoëpriester, Middelaar is wat vir ons toegang tree tot die troon van God bied. En dis ‘n genadetroon! Maak met vrymoedigheid gebruik van die geleentheid om jou hart voor Hom uit te stort en op die regte tyd sal jy gehelp word. Moenie tou opgooi nie, volhard, moenie eers dink aan omdraai nie, hou die oog op Jesus. Onthou Jesus moes ook eers deur lyding en swaarkry gaan voordat Hy sy beloning gekry het.

En onthou – juis in moeilike tye : 

Jesus het nog nooit verander nie! 

 “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (13:8) 



Jesus is volmaak en algenoegsaam. Dis die hooftema.

Hier aan die einde van die brief in hoofstuk 13 vind ons ‘n paar kort praktiese sake wat eintlik al die aspekte van ons lewe dek en wat juis baie sin maak in die konteks van moeilike tye. Dis waarop ons kortliks wil fokus *:

Beoefen broederliefde. (1) So kosbaar juis in moeilike tye. Dis ‘n opdrag wat ons nie moet vergeet nie. Pasop dat moeilike tye jou nie in ‘n dop van selfsug en selfbejammering laat kruip nie. Reik uit na ander deur broederliefde. Dis nie bloot ‘n gevoel nie, maar om ander prakties te help… “Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie-hoe kan die liefde van God in hom wees. Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.” (1 Johannes 3:16-18) Daar is positiewe krag en genesing in broederliefde, nie net vir die wat die ontvangers is nie, maar juis ook vir diegene wat dit gee… toets dit maar!

Bewys gasvryheid. (2) In moeilike tye moet jy juis jou hart en huis oopmaak vir ander. Ook wat vreemdelinge betref. Die skrywer gee ‘n spesiale aanmoediging tot gasvryheid deur te verwys na Abram wat niksvermoedend engele ontvang het. Die bedoeling van die skrywer is natuurlik nie om te spekuleer of die persoon voor jou deur ‘n engel is of nie. Die punt wat hy maak is, is dat sommige van jou gaste ware boodskappers van God gaan wees wat groter seën vir jou gaan gee as wat hulle van jou ontvang!**

Toon opregte medelye met diegene wat swaarkry selfs ook die wat in die tronk gegooi is. (3) Hierdie lesers het reeds ervaring hiervan gehad. “Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly. Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het. Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ‘n besitting het wat beter en blywend is.” (10:32-4) Weereens in moeilike tye moet ons pasop vir ‘n selfsugtige beheptheid net met ons eie situasie, maar ons ook probeer indink in ander mense se omstandighede.

Betoon respek vir die heiligheid van die huwelik. (4) Moeilike tye plaas huwelike en sedes onder druk. Mense kan redeneer ons kan nou maar ons eie reëls maak. Hier word twee woorde gebruik naamlik pornous en moigous.*** Dit gaan oor meer as net owerspel of egbreuk maar oor die hele spektrum van ongeoorloofde seksuele verhoudings. Die erns word onderstreep deur die spesifieke vermelding dat die oordeel van God oor hierdie mense sal kom! Ook ander NT skrywers verwys hierna soos Paulus in 1 Tess 4:4-7. “Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie. Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys. God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe." 

Die media leer vir ons – “alles is maar reg”, die Woord leer dat God hierdie dinge straf!

Pasop vir gierigheid. (5,6) Hoe groter die nood, hoe groter is die gevaar vir gierigheid en vertroue op geld. (ironies) Paniek en selfsug neem so maklik oor! Hier vind ons ‘n heerlike belofte binne die raamwerk van geldsake. Wat egter belangrik is, die belofte kom saam met ‘n duidelike tweeledige waarskuwing en opdrag. Hou jou lewe vry van geldgierigheid. Dis net ‘n ander manier om Jesus se waarskuwing te herhaal : Julle kan nie God en Mammon dien nie! (baie probeer, maar dit bly vandag nog steeds onmoontlik) Die opdrag gaan oor tevredenheid, vergenoegdheid. Ook in moeilike tye wanneer die skoen druk, moet ons tevrede wees. “Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.” (1Tim 6:6-8) Tevredenheid gaan saam met vertroue op God. Ek vertrou Hom en ek is tevrede met dit wat Hy vir my gee op hierdie stadium van my lewe. Maar juis dan en net dan kan ek verseker wees van sy sorg en nabyheid en hulp. Hy sal my nooit as te nimmer verlaat nie. (Hierdie versekering word baie sterk in die Grieks gestel deur middel van vyf negatiewe) 

As ek hierdie belofte glo word ek bevry van vrees! 



Ja, moeilike tye is nooit maklik nie, maar ook in moeilike tye kan God se kind steeds in blydskap en dankbaarheid lewe sonder vrees! Ja, al maak Zuma nou ook wat...

                                    (foto - Afrisake)                      



*Hier word net aandag gegee aan die opdragte in Hoofstuk 13:1-6. Gaan gerus die hele hoofstuk deur vir die ander opdragte.

**FF Bruce,  The New International Commentary, The epistle to the Hebrews, p391

*** πορνους   en   μοιχους