BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 05 Oktober 2013

ERGER AS NET OKTOBERTAMHEID

- die gevaar van geestelik moeg word.

Oktober is tradisioneel die maand van tamheid, moegheid en moedeloosheid. Die uitputting van die jaar begin nou ‘n effek op ons hê. Die hitte, droogte en stof help ook nie juis om mens energie te gee nie. Ons raak fisies moeg, maar ons raak ook geestelik moeg. Ons word net moeg om goed te doen...
Ek raak moeg om my wyk getrou te besoek, moeg vir my Sondagskool klas, moeg om gereeld huisgodsdiens vir my kinders te hou, moeg om vriendelik te wees met onvriendelike en ondankbare mense, moeg om mense uit te nooi wat nie belangstel in God se Woord nie, te moeg om entoesiasties kind van God te wees... Moeg vir goeie werke!



Daar kan baie redes wees vir hierdie toestand. Ja, selfs die weer kan ‘n rol speel. Hier in die noorde van Namibië weet ons watter invloed die Oktoberhitte kan hê op ons motivering en gemoedstemming! Maar daar is ook ander dieperliggende faktore : gebrek aan vordering of resultate, ons sondige natuur wat ons verlei tot luiheid en kortsigtigheid... Selfs ook ons fisiese swakheid kan 'n rol speel... Paulus het kennis gedra van hierdie probleem van moeg word om goed te doen en spreek dit duidelik aan in sy brief aan die Galasiërs. (Kyk na Galasiërs 6:7-10)

Hy rig daarom ‘n kragtige uitdaging! 

“Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.” (vers 9)

Hierdie aansporing van Paulus is natuurlik deel van ‘n groter konteks. Dis deel van die groot konflik in die kind van God naamlik die stryd tussen die vlees en die Gees. Hy het reeds hiervan melding gemaak in 5:16,17.  "Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.
Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.”

Ons vergeet so maklik – as jy waarlik ‘n kind van God geword het, woed daar ‘n hewige stryd in jou binneste! Dis ‘n onophoudelike en uitputtende geveg tussen die vlees (ou sondige natuur) en die Heilige Gees wat nou in elke kind van God woon. Dis normaal om hierdie stryd te ervaar. Elke kind van God het die verantwoordelikheid om daagliks en voortdurend te kies teen die ou natuur en myself doelbewus te onderwerp aan die Heilige Gees! “Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.” (5:25) Dis ‘n keuse wat ons moet maak en ‘n keuse wat ingrypende en geweldige gevolge het. (6:8) Dit wat jy saai (jou dade, optrede, gedrag) het direkte gevolge – dis wat jy oes! 

Ons dade nou het ewigheidsgevolge!

Pasop hoe jy optree, pasop wat jy besluit en doen. In hierdie konteks vermaan Paulus ons om te volhard in goeie werke.

Ons moet dus gedurig waak teen die versoeking om te laat slap lê. Geestelike slaapsiekte en lomerigheid is 'n voortdurende ernstige bedreiging. Om dit teen te werk moet ons die waarskuwings en aanmoedigings van die Skrif ernstig opvat. Dit sal ook van ons vereis om praktiese maatreëls te tref. Ek deel met jou ‘n paar moenies en moets wat dr. Martyn Lloyd Jones hanteer in sy boek SPIRITUAL DEPRESSION:

1. Moenie tou opgooi nie. Moenie eers so ‘n gedagte kans gee om wortel te skiet nie! Omdraai is nie ‘n opsie nie. Moenie eers oorweeg om toe te gee aan die versoeking om aan die slaap te raak nie. (Dink aan die gevare van die Betowerde grond in Bunyan se klassieke werk, DIE PELGRIM SE REIS NA DIE EWIGHEID) Spurgeon het gesê: "Continue with double earnestness to serve your Lord when no visible result is before you.” Onthou Markus 13:13! Net diegene wat volhard sal gered word! 

2. Moenie vrede maak met 'n voetesleep toestand nie. Dis nie God se bedoeling vir sy kinders om maar net lusteloos voort te kruie nie. Dit steel jou vreugde en bring oneer op ons Verlosser se Naam. Om die Here met vurigheid en geesdrif te dien is immers ‘n staande opdrag. (Romeine 12:11)

3. Moenie jou wend tot kunsmatige geestelik stimulante nie. Sommige Christene probeer hulleself stimuleer deur allerhande “nuwighede” te probeer, wat hulle uiteindelik wegvoer van die evangelie. (Die HRM met sy sabbatsvoorskrifte en voedselwette is een so ‘n voorbeeld). Ander probeer “church hopping” en word geestelike swerwers sonder roeping en rigting! (dit eindig gewoonlik in 'n kerklose siniese toestand) Sommige kry gunsteling geestelike “stokperdjies” en kry oogklappe aan. (Dis nou soos party wat altyd oor omstrede sake soos doop of wegraping wil stry en hulle sienings op jou wil afdruk)

4. Moenie in selfbejammering verval nie! Murmurering/kla is ‘n ernstige sonde wat God se oordele oor ons bring. (1 Korintiërs 10:10)


POSITIEF!

Daar is beslis ook positiewe maatreëls wat getref kan word, as ek geestelik lam en lui geword het.

1. Doen selfondersoek en vra na die oorsake! Vra jouself:

~ Is die rede vir my tamheid nie dalk fisies nie? (kry ek genoeg slaap, eet ek gesonde kos, sit ek dalk te veel voor die rekenaar... dit dreineer mens se energie) Dit mag wees dat ek dalk moet gaan vir ‘n deeglike mediese ondersoek!

~ Probeer ek dalk om geestelike werk met menslike krag te doen? (Ek hardloop baie rond om dinge vir die Here te probeer doen, maar ek praat nie met Hom nie en my hart is nie op Hom ingestel nie. Ek skeep my persoonlike tyd met Hom af en strompel kragteloos voort, vasgevang in ‘n menigte van sinlose aktiwiteite.) Is ek daagliks in verbinding met die Bron, Jesus?

~ Wat is my motiewe vir my goeie werke? Is dit dalk aktiwiteit bloot ter wille van aktiwiteit? Probeer ek dalk my saligheid met allerhande pligte te verdien of my eie koninkrykie te bou? (naam maak vir myself?) Dalk is ek by baie aksies betrokke net om van die huis af weg te vlug, want ek kom nie met my eie huismense oor die weg nie? Stel eers jou motiewe reg voor God. Onthou dit gaan oor dankbare diens vir ‘n genadige verlossing...

2. Onthou die Christelike lewe is 'n onophoudelike lewe van goed doen - wees daarop voorberei. Wees 'n voortdurende stryd te wagte. Wees realisties soos ‘n marathon atleet – hy weet hierdie wedloop gaan nie binne tien minute oor wees nie, ...ek moet my instel vir ‘n lang stryd...

3. Hou Jesus in die oog! Vra opreg : “Vir wie doen ek alles? Doen ek goeie werke vir mense eer en gelukwensinge of vir Hom wat sy bloed vir my gestort het?” Maak tyd om Hom weer innig en diep te leer ken...

4.Dink aan die oes! Dink aan die beloning. Dis wat Paulus hier sterk onderstreep! Dink jy aan die eindpaal? Is die regterstoel van Christus ‘n werklikheid, is jou oog op die toekoms?


DINK AAN JESUS! DINK AAN DIE BELONING!


Laat Jesus en sy liefde voorop in jou gedagtes staan, skep dan moed en benut elke geleentheid wat Hy oor jou pad bring om goed te doen. Die dag wanneer jy niks meer kan doen nie kom vinnig nader...

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.