BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 30 Maart 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (8)

- skrikbeelde van diere, koppe, horings...

(Om hierdie studie te benut moet jy 'n oop Bybel voor jou hê)

Waar kom die snaakse beelde van diere, koppe, horings ens. in Openbaring vandaan? Wat wil dit vir ons sê? (As ons weet wat die oorsprong en die oorspronklike kotenks daarvan is, gaan ons dit makliker verstaan)

Kom ontdek self. Lees eers Openbaring 13:1-3,8 en dan ’n stukkie uit die openingsvisioen (Openbaring 1:7,13) en vergelyk dit dan met Daniël 7:1-14 (In Daniël 7:13 staan daar letterlik “Die Seun van ’n mens” Sien OAV)*

Opvallende ooreenkomste nê? (Diere, wolke, Seun van ’n mens)

Die oorsigtelike betekenis van die diere in Daniël (en Openbaring) is duidelik : Dit simboliseer goddelose nasies en hulle magstrukture.

’n Menslike figuur kom dan met die wolke van die hemel (7:13) en die mag van die diere word weggeneem en aan Hom oorhandig. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy. (7:14)

Die sentrale boodskap is helder verstaanbaar : God gaan die goddelose magstrukture van hierdie bose wêreld vernietig! Of dit nou wrede leiers, bose regerings of geheime geldmagorganisasies is... God gaan hulle uitwis deur ’n menslike figuur!

Jesus die Seun van die mens is die OORWINNAAR!

Ons hoop is op Hom!

Openbaring wil presies dieselfde sê as Daniël met die gebruik van hierdie beelde. Jesus vernietig alle teenstand teen God se Koninkryk. Om verder in detail te bespiegel of hierdie dier(e) na Amerika of Rusland, Obama of Putin (ja, hy is blykbaar een van die dae weer aan bewind) verwys, is sinneloos en dit lei net tot subjektiewe wensdenkery! (En eindelose stryery) Elkeen kleur dit in soos wat dit hom pas! Die probleem om spesifieke name van mense of lande aan bepaalde beelde te koppel, is baie duidelik : Elke paar jaar, moet jy erken (as jy eerlik en mans genoeg is) dat jou vorige interpretasie verkeerd was!

Het hierdie beelde dan iets konkreets vir ons vandag te sê? Natuurlik! Dis wel aktueel, maar vir alle Christene van alle tye ... vir Christene in die tyd van Hitler wat swaargekry het onder hom sou dit reg wees om hieruit vertroosting te put, maar net so vir Christene wat vandag verdruk word in Noord Korea of verhonger in Zimbabwe of vervolg word in Iran!

Ja, hierdie goddelose strukture en figure het groot mag en groot invloed. Selfs die mag om wondere te doen en baie mense te mislei.... mens dink sommer aan Hitler se blykbaar bonatuurlike vermoëns om die massas te manipuleer! (13:13,14) Dit was so, is so en sal nog in groter mate in die toekoms gebeur! In die finale Antichris sal dit ‘n topput bereik. Wees gereed!

Maar .....Hierdie goddelose strukture gaan nie vir altyd bly voortbestaan nie, maar vernietig word deur die Seun van die mens wat sal kom met groot krag en heerlikheid. (Markus 13:26) Weereens die klem op Jesus en die evangelie gebeure! Alle mag behoort aan Jesus! (Matteus 28:18!)

Johannes gebruik dus Ou Testamentiese taal en beelde om die voleinding van die geskiedenis te beskryf.

Vir nog voorbeelde van Johannes se gebruik van apokaliptiese beelde, lees en vergelyk : Esegiël 1 en Openbaring 4:6-8 (die lewende wesens wat die almagsheerlikheid van God uitbeeld); Sagaria 1:7-17 en die vier perde in Openb 6:1-8 (simboliseer menslike ontaarding en selfvernietiging)**

Wat is die oorkoepelende funksie van hierdie apokaliptiese beelde? Vanuit verskeie hoeke gebruik Johannes hierdie bekende beelde om woordprentjies te teken van die Dag van die Here! Dis die tyd van konflik, maar ook van Goddelike oorwinning en wraak! Dit gaan oor ’n beligting vanuit verskillende hoeke en het niks met kronologiese volgorde te maak nie. Hierdie oorweldigende beelde laat ons verstaan dat geen enkele beskrywing reg kan laat geskied aan die geweldige omvattende aksie van God as Hy die kosmiese rebellie onderdruk, sy vyande uitwis en sy verlostes red nie! Dis net te groot vir woorde en beskrywing! Ontsagwekkend en verbysterend in die uiterste sin!

Die goeie nuus vir die verdrukte gelowiges in hierdie oorgangstyd is dat die wraak van God geen bedreiging inhou vir die verlostes nie! Hoekom nie? Die wraak van God het reeds neergekom op die LAM wat geslag is in ons plek! Wie aan Jesus behoort gaan dus God se wraak vryspring!

Sien die scenario in die geheel : ruiters, trompette, ongehoorde vernietiging, bakke van wraak wat uitgegooi word, wrede diere en valse profete wat oorwin word... alles is deel van die Dag van die Here! Te midde van dit alles is die gelowiges verseël (7:3,4).... absoluut veilig teen God se wraak! As ons vasval in tydroosters of in detail tegniese ontleding van huidige geskiedenis gebeure mis ons die doel.

’n Laaste vraag : Wanneer gebeur hierdie dinge, hierdie stryd en hierdie oorwinning? Die antwoord is : op die Dag van die Here! Dit gebeur nou reeds voor ons oë en sal ’n klimaks bereik met die wederkoms van Jesus.

Loof God vir sy ewige Koninkryk waarvan elke kind van God reeds deel kan wees! God se Koninkryk is ewig. Alle ander “konings” en hulle ryke....Napoleon, Hitler, Stalin, Saddam... Mussolini, Mugabe en.... ja, Malema is net tydelik en kortstondig!

* OAV = Ou Afrikaanse Vertaling 1933/53

** Du Rand p270 Volgens hom verwys die vier perde na vals propaganda, oorloë, hongersnood en dood

Vir die studie in geheel word hoofsaaklik gesteun op Graeme Goldswothy se "Gospel in Revelation"



Donderdag 29 Maart 2012

SMS : "EK IS SWANGER"

- sonde, skande en skade, maar uiteindelik (en pynlik) triomfeer die GENADE!

“Ag, nee wat sonde is darem nie so erg nie. Om ‘n ou skelmpie te hê is ook nie die einde van die wêreld nie! Kyk nou maar vir ou Dawid. Hy was dan nou kwansuis hierdie wonderlike man van God en kyk wat het hy gedoen en die Here het hom mos darem weer vergewe...!” So ‘n ligtelike houding oor sonde openbaar ‘n groot onkunde! Kom ons kyk bietjie dieper na die saak van sonde en vergifnis vanuit die hartseer geskiedenis van Dawid. (oorsaak, gevolg en vergifnis)

Oorsaak: Dawid was ‘n kind van God. ‘n Man na God se hart. God self het hom geroep daar agter die skape uit en hom geseën in sy koningskap. Hy het ‘n pad saam met God gestap en ondervind hoe die Here hom gehelp het. Hy het geweet wat dit is om op God te vertrou.... (stryd met Goliat). En toe eendag gebeur hierdie vreeslike ding. Dawid op die dak...sien die mooi vrou bad... en die res is geskiedenis! (Ons lees dit in 2 Samuel 11) Hy vlug nie dadelik vir die versoeking nie en hy val!  Moenie vergeet nie, kind van God, ons eie hart soek net ‘n geskikte geleentheid vir sonde. Ons harte is soos petrol en versoekings is soos vuur!
Waarskuwing :

Ek en jy is teen geen sonde immuun nie!

Wees bedag op die  boosheid van jou eie hart! Vlug, m.a.w. gebruik jou voete. (2 Tim 2:22) Moet nooit mak raak vir sonde nie... Juis op die punte waar ons dink ons staan sterk, kan ons dalk die maklikste val...

 

Gevolge: Na sy geheime owerspel kry Dawid ‘n saaklike boodskap : “Ek is swanger” ‘n Kort boodskappie (in vandag se tyd sou sy seker ‘n SMS gestuur het) met baie lang gevolge! (2 Samuel 11:5) Toe weet Dawid, hier is moeilikheid! Uitgevang! Maar tipies van die sondaar mens, begin hy planne maak om sy sonde weg te steek...Hy laat roep haar man Uria vanaf die gevegsfront, met die hoop dat hy by sy vrou sal slaap en so die bewyse uitwis... maar dit misluk... en toe laat Dawid vir Uria vermoor op ‘n slinkse manier. Kyk wat gebeur : Dawid probeer sy owerspel verdoesel en dit lei tot moord. Sonde lei tot ander sonde. Byvoorbeeld, buite egtelike verhoudings lei dikwels tot dinge soos aborsie, leuens, ongelukkige huwelike of egskeidings wat weer kinders se lewens verwoes... hulle val weer in dieselfde sondes volgens die voorbeeld van hulle ouers. Sonde het skrikwekkende gevolge. God is baie duidelik hieroor by monde van sy kneg, Natan. (Lees 2 Samuel 12:1-10) Natan kondig ‘n vreeslike straf aan. “So sê die Here : ‘Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ellende oor jou bring.’” (Sien vers 12:10-12) Dawid se verdere familiegeskiedenis wys hoe tragies waar hierdie woorde van die profeet geword het. Allerhande ellende het gevolg : bloedskande, broedermoord, sy eie seun Absalom wat in opstand kom teen Dawid en in die openbaar met Dawid se vroue gemeenskap het... Lees dit in 2 Samuel 16:21,22.

Wat sê dit vir ons?

Moenie speel met sonde nie!

Moenie na Satan se slimpraatjies luister nie! Hoe klink dit? “Jy gaan nie regtig gelukkig wees, as jy nie eers aan hierdie of daardie sonde geproe het nie!” Dis ‘n leuen! Niemand is spyt oor ‘n sonde wat hulle nie gedoen het nie! Maar baie mense, ook kinders van God is bitter spyt oor sondes wat hulle wel gedoen het. Die letsels van hierdie dinge gaan nooit weg nie...

Sonde kan nie weggesteek word nie! Toe Uria dood is, toe dink Dawid sy geheim is veilig. Hy sal met Batseba trou en geen haan sal ooit daarna kraai nie. Maar God het al dit tyd geweet...

Sonde is erg omdat dit primêr sonde teen God is! Ons dink gewoonlik aan die menslike skade wat sonde veroorsaak, die ergste is egter die feit dat dit neerkom op 'n minagting van God! (Sien vers 9,10) Dis 'n verwerping van God se Woord en 'n vertrapping van sy eer! Dit moet ons laat sidder!


Vergifnis : Dawid erken sy sonde en toon ware berou. Psalm 51 gee vir ons verdere inligting oor Dawid se diepe berou en gebrokenheid oor sy sonde. God vergewe Dawid volkome. Maar moenie dink vergifnis is ‘n ligtelike goedkoop saak nie. Dawid en Batseba se seuntjie moes sterf, want die eer van die Here is deur Dawid se sonde geskend! (2 Samuel 12:13) Hierdie kind het toe wel gesterf, ten spyte daarvan dat Dawid baie ernstig gebid en gevas het. (16)

Die tragiese gebeure rondom Dawid en Batseba demonstreer die verwoestende uitwerking van sonde, maar dit het ‘n finale heerlike einde.

Die genade triomfeer!

Dawid word vergewe. Maar dis nie al nie. Na die dood van hierdie kind, het Batseba weer ‘n baba seuntjie gehad. En raai wat was sy naam? Salomo! Dawid se troonopvolger en die man wat deur God gekies is om die tempel te bou! Vers 24,25 is aangrypend heerlik : “... sy het ‘n seun in die wêreld gebring, en Dawid het hom Salomo genoem. Die Here het hom liefgehad en het hom deur die profeet Natan, Jedidja laat noem, wat beteken : ‘die Here het hom lief.’” Maar dis nie steeds nie die volle hoogtepunt van God se heerlike genade nie. Uit Salomo se nageslag word die Verlosser Jesus gebore. In Matteus se geslagsregister word daar spesifiek van Batseba (genoem die vrou van Uria) melding gemaak! (Matteus 1:6) Dit dra ‘n heerlike boodskap : Jesus vereenselwig Hom met sondaars! Hy bring hoop vir werklike sondaars!

Twee sake staan uit in hierdie stuk geskiedenis:

Die verwoestende aakligheid van sonde : Sonde bring smarte, skande en skade. Sonde is nie speletjies nie. Dis ‘n slang met dodelike gif en skrikwekkende nagevolge. Vlug weg van alle versoekings en sonde. Veg daarteen al kos dit jou bloed!

Die heerlikheid van genade : Gelukkig is daar iets soos vergifnis. (Psalm 130 is die klassieke antwoord as jy hiermee worstel) Volledige vergifnis omdat Jesus ons sondestraf volledig gedra het. Maar laat ons nooit ligtelik dink oor hierdie vergifnis nie!

Vergifnis het God se Seun groot pyn gekos!

Die pyn van Godverlatenheid aan die kruis om vir ons hierdie versoening te bewerk. Kom, aanvaar hierdie genadige versoening. Wees eerlik voor die Here soos Dawid en ontvang sy vergifnis. By Hom is daar ‘n nuwe begin! Wys dan jou danbaarheid deur ‘n lewe van radikale liefde en gehoorsaamheid!


Maandag 26 Maart 2012

DIE VERBODE ONDERWERP

- waaroor Jesus egter dikwels gepraat het.

Die rubriekskrywer Annemarie van der Walt skryf ’n tyd gelede in BEELD : “Vir die eerste keer hoop ek daar ís ’n hel” Sy maak die stelling na aanleiding van die afskuwelike optrede van ’n pa en ma wat hulle eie dogtertjies vir seks verkoop het. Ek dink alle redelike mense deel Annemarie se weersin in hierdie gruweldade. Ek wonder net hoekom sy sê “hoop”? God se Woord is mos baie duidelik oor die bestaan van ’n hel! Maar ja, dit het bykans ’n verbode onderwerp geword om oor te praat, juis in ’n tyd waar daar nie eintlik meer taboes is nie. Ons mag blykbaar alles bespreek en bekyk, maar daar moet maar liewers geswyg word oor die hel. Dit pas nie in die post-modernistiese konteks van verdraagsaamheid en relatiwisme nie! Die rede vir die hedendaagse stilswye (ook van ons kansels) oor die hel is maklik om te verstaan. Dis uiters ongemaklik vir die arrogante sondaar om van Goddelike vergelding te hoor. Predikers wat dit waag om hierdie waarheid te verkondig, kan ook maar vergeet van gewildheid.

Of ons dit nou wil hoor of nie, die Bybel praat reguit en duidelik oor God se finale straf oor goddeloses wat die evangelie verwerp. Dis veral Jesus self wat nie geskroom het om baie eksplisiet oor die lot van die ongehoorsames te praat nie. Dit moet mens regtig laat dink. Wie het ’n groter deernis en liefde vir stukkende sondaars as Jesus? Daarom moet ons aanvaar, dis juis Jesus se opregte liefde vir mense wat maak dat Hy eerlik oor hierdie moeilike saak praat. Een so ’n voorbeeld vind ons in Lukas 16. Hier vertel Jesus die gelykenis van die Ryk man en Lasarus. Inderdaad is dit ’n gelykenis en kan ons nie elke onderdeel daarvan letterlik opneem nie (soos ’n letterlike kloof tussen hemel en hel), maar as daar nie ’n plek van smart en ’n ewige skeiding sou wees nie, verloor die gelykenis natuurlik sy hele punt. Beslis kan ons vanuit hierdie gedeelte (in samehang met die Skrifboodskap in geheel) ’n paar gevolgtrekkings maak rondom die dood en die mens se voortbestaan daarna.

1. Almal moet sterwe. (Behalwe dié wat by die wederkoms nog sal leef) Natuurlik weet alle mense dit; tog leef baie asof daar nie so ’n moontlikheid bestaan nie. Hulle leef en versamel rykdom asof hulle vir altyd hier sal wees. (Kyk net na die paleise wat sommiges bou!) Hier is dit baie duidelik : beide die ryk man en die arm Lasarus sterf op ’n dag! Die dood is die groot gelykmaker : koning of onderdaan, grondbaron of plaasarbeider, generaal of troep, held of skurk, die ouens wat in vliegtuie rondkerjakker sowel as die wat op krukke voortstrompel! ALMAL moet sterwe!

2. Daar is ’n lewe na die dood vir alle mense. Die mens hou nie net op bestaan nie. Jy is nie bloot ’n hond wat vrot nie. Daar is ’n bewustelike persoonlike voortbestaan. Ek en jy behou ons unieke identiteit. Die Ryk man bly die Ryk man, Lasarus bly Lasarus. Gert bly Gert, en Piet bly Piet... Die ryk man bly bewus van sy familie en wil Lasarus na hulle toe probeer stuur! (Opvallend, selfs na die dood behou die ryk man sy arrogansie en dink hy kan nog steeds vir Lasarus, “rondshunt”! Want, sien, in die hel is daar geen genade en ook geen bekering nie.) Geweldig om te dink : alle mense wat ooit op aarde geleef het, bestaan nog steeds! Ook dié van die verste verlede! ’n Duidelike bewys hiervoor vind ons op die Berg van Verheerliking (Matteus 17), waar Moses en Elia met Jesus gepraat het. Ja, jy sal hulle ook eendag ontmoet as jy by die Here is....

3. Daar kom ’n skeiding na die dood. Almal bestaan voort na hul dood, maar almal gaan nie na dieselfde plek nie!

Onmiddellik na die dood.... en ja, terwyl ons nog besig is met begrafnis hou (en ydele lofredes voordra) is die gestorwene reeds in ’n plek van smart of in ’n plek van heerlikheid en geluk! Elke mens kan net na een van twee bestemmings gaan : ’n bestemming van oneindige ellende en selfverwyt of ’n plek van onbeskryflike heerlikheid en vrede!

Jesus het van twee Griekse terme gebruik gemaak as Hy na die plek van straf na die dood verwys naamlik Hades en Gehenna. (Hy gebruik ook ander beskrywings soos byv. “buitenste duisternis”) Hier in Lukas 16 gebruik Hy “Hades”(doderyk) Dis duidelik, Jesus wend ’n woord wat vir sy hoorders bekend was aan as verwysend na die plek van smarte wat in kontras staan met die hemelse woning van heerlikheid waar God se kinders hulle sal bevind. Dis ’n plek van pyn en ellende. “Ek ly verskriklik in hierdie vuur”, sê die Ryk man.

Die meer algemene woord wat Jesus gebruik om na die bestemming van die ongelowiges te verwys is “Gehenna” Die woord het ’n interessante geskiedenis. Dit verwys na die vallei van Ben Hinnom, suidwes van die stad Jerusalem. In die tyd van die Ou Testament is afgodsoffers hier gebring en dis waar die goddelose koning Manasse sy seuns aan die afgode geoffer het. (Lees ook : KINDEROFFERS) Dit het uiteindellik die ashoop van Jerusalem geword, ’n stink smeulende plek. Karkasse van dooie diere en selfs lyke van kriminele is hier gelaat om te verrot en te verbrand. Inderdaad was dit ’n plek waar wurms bly knaag het en waar die vuur nooit geblus is nie.* Die verkorte naam van hierdie plek in Hebreeus was Ge-hinnom, waarvan die Griekse vertaling Gehenna is. Jesus gebruik dus bestaande en reeds bekende woorde om die konsep van ’n plek van finale ewige straf te verduidelik. In Afrikaans noem ons hierdie plek, hel. (Mense wat grootpraterig en slim wil klink, sê dat daar nie so ’n woord soos hel in die Griekse Nuwe Testament is nie, en daarom ook nie so ’n plek nie. Hulle verstaan regtig nie die basiese beginsels van taal nie. ’n Woord kry sy betekenis vanuit sy gebruik en konteks. Bestaande begrippe kan met nuwe inhoud bekleë word.)

4. Na die dood is daar geen tweede kans nie! (Vergelyk ook Hebreërs 9:27. En terloops reïnkarnasie is ‘n leuen, ’n skim wat Satan aan sotte verkwansel!) Daar is geen moontlikheid om jou bestemming te verander nie. Daar is ’n groot onoorbrugbare kloof tussen die twee bestemmings. Die groot prediker Spurgeon het dit so gestel : “Not even a drop of water could cross the bridgeless gulf.” Diegene wat in die hemel is, is veilig, onaantasbaar vir ewig. Maar net so, dié wat in die hel is, is sonder hoop...!

5. Ons lewe op aarde is bepalend vir ons bestemming. Hierdie lewe nou is deurslaggewend belangrik. Ons aardse paadjie is kort, maar dit het konsekwensies tot in alle ewigheid. Natuurlik, hierdie gelykenis beteken nie, alle ryk mense gaan hel toe en alle arm mense gaan hemel toe nie. Dit wys wel dat God weet wat op aarde gebeur en dat Hy alle onreg sal vergeld. Dis ’n heerlike troos vir al God se kinders wat ly en veronreg word! Dis ’n ernstige waarskuwing vir almal wat hulle nie aan God en sy geregtigheid steur nie. Niemand gaan wegkom met onreg nie, niemand kan God flous of omkoop nie. God se geregtigheid en vergelding word treffend uitgebeeld. Die rolle van die karakters word dramaties omgeswaai. Jesus teken die kontraste skrikwekkend skerp : As Lasarus sterf dra die engele hom weg na Abram. Terwyl hy geleef het moes hy uitgestoot buite voor die poort lê van een van Abram se sogenaamde kinders. Nou kry hy ’n ere ontvangs. Lasarus was buite, nou is hy binne. Die ryke wat als gehad het, is nou buite en in pyn. Lasarus is nou die bevoorregte; die ryke bedel nou ’n paar druppels water! PASOP! Daar wag ’n aaklige verrassing, as ons eendag sien wie gaan ingelaat word en wie gaan buite bly! Die man wat nie eers ’n krieseltjie wou oorlos vir ’n bedelaar nie, wil nou die vinger van ’n bedelaar aflek!** Dis opvallend : die ryk man ken die bedelaar se naam. Dis ’n verswarende omstandigheid! Hy het al die tyd presies geweet wie daar voor sy poort lê en vergaan van die ellende! ’n Skrikwekkende werklikheid onder ons aandag gebring. Wie kontak met die bedelaar wil maak, moet dit nou doen! Daarna is dit vir altyd te laat! Dis nou die kans om barmhartigheid te bewys! Dit bring ons by die laaste beginsel:

6. Tree betyds op! As jy gereed wil wees vir die dood, tree betyds op! Dis nou! Maak betyds voorsiening vir die ewigheid.

Betyds, Betyds, Betyds... anders is dit vir ewig te laat!

Daar is veral twee dinge waaraan ons betyds moet aandag gee volgens hierdie gelykenis:

~ Luister betyds na die Woord. Die ryk man se versoek om Lasarus na sy broers te stuur om hulle te waarsku word geweier. “Hulle het mos Moses en die profete!” Dis die Bybel van destyds! God het mos klaar duidelik in sy Woord gepraat. As jy nie daarna wil luister nie, is daar vir jou geen verskoning en geen hoop nie! As jy nie aan die Bybelse boodskap gehoor wil gee nie, sal geen wonderwerk jou in elke geval oortuig nie! Glo die Woord, die Woord is die waarheid! Maak ons erns met die Woord? Het jy jou al bekeer en die heerlike boodskap oor Jesus se kruis en opstanding geglo? Die Bybel sê mos duidelik wat ons moet doen om gered te word. “Bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15)

~ Gee ook betyds aandag aan die bedelaar voor jou deur! Gebuik jou aardse besittings op die regte manier. Geldsake is ’n belangrike tema in Lukas 16. In die eerste gelykenis in Lukas 16 gaan dit ook hieroor en word dit duidelik gestel dat ons nie God én Mammon kan dien nie (vers 13) en net daarna word melding gemaak van die Fariseërs se geldgierigheid (vers 14). Hierdie gelykenis sê nie ek word outomaties gered as ek armes help nie. Barmhartigheid is egter wel ’n noodwendige gevolg van Christenskap! Christenskap en geldsake gaan saam! Barmhartigheid teenoor ander is ’n duidelike bewys dat ekself vergifnis en barmhartigheid by God ontvang het.

 
Is ek gereed vir die dood?


Nog ’n laaste vraag : Sal ’n God van liefde regtig mense tot die hel verdoem?

Ons eie filosofiese redenasies bepaal nie wat God kan en sal doen nie. God openbaar Homself in sy Woord en ons moet dit aanvaar. Nou is die Woord baie duidelik dat God toornig is oor sondaars wat weier om hulle te bekeer en hulle baie swaar oordeel. Ja, inderdaad is God baie genadig. God se genade loop egter in die Skrif parallel met sy oordele. Vat nou maar die Bybelse geskiedenis van voor af. God red Noag en sy familie (net 8 mense!), maar delg die res van die mensdom uit in die sondvloed.  God begenadig Lot en sy gesin, maar wis die goddelose stede van Sodom en Gemorra uit met vuur. God verlos sy volk Israel uit slawerny, maar teister die Egiptenare met skrikwekkende plae! Weens hulle afvalligheid moet Israel later egter self onder God se oordele deurloop soos tydens die verwoesting van Jerusalem en die ballingskap en die profete kondig dan aan dat net ’n klein oorblyfsel gered sal word. Ook in die evangelie bedeling waarin ons nou leef, word beide God se genade en oordele ervaar. Vir sommige is die evangelie ’n lieflike lewensgeur, maar vir ander ’n stank van die dood! (2 Kor 2 :14-16) Dwarsdeur die geskiedenis van die mendom is God die Een wat red, sowel as oordeel! Dit is ’n voorspel tot die laaste oordeel wanneer die geseënde gelowiges die Koninkryk sal beërf en die vervloektes verdoem sal word tot die ewige vuur! (Matteus 25:34,41) Dis wat die Bybel ons leer. Wie van ons durf iets anders verkondig?

Persoonlik dink ek dat die kruisdood van Jesus dalk die duidelikste bewys van ’n hel is. Die feit dat God bereid was om sy Geliefde Seun tot die skandedood van die kruis te verdoem ter wille van sondaars is nie net ’n bewys van God se liefde nie, maar ook van die skrikwekkende plek waarvan daardie liefde ons juis wil red. Waarom moes Jesus die straf van Godverlatenheid (helse straf) ondergaan, as daar dan in elk geval nie ’n hel bestaan waar sondaars gestraf sou word nie? Die kruis van Jesus waar Hy elke gelowige se straf volledig gedra het, was nie net ’n gebaar van welwillendheid nie, maar is ’n eenmalige liefdesdaad wat ons verlos van sonde, Satan, dood... en ja, HEL!

God roep die mens tot verantwoording na sy dood. Daar is ’n plek van pyn soos die poel van vuur. (En terloops, dis nie ’n plek waar die duiwel met ’n drietandvurk in sy hand mense braai nie! Dis God se toorn wat die hel aan die brand steek en dis juis die plek waar die duiwel vir ewig gestraf gaan word volgens Openbaring)

Niemand sal die hel vryspring, bloot deur die ontstaan daarvan te ontken nie. Dis die Bybelse boodskap. Gelukkig is dit nou nog genadetyd. Die Verlosser, Jesus nooi jou uit! As jy meer wil lees oor hoe Hy ons verlos van sonde, Satan, dood en hel, lees gerus : “GOLIAT HET GEVAL!”

* Sien : “Whatever happened to hell?” deur John Blanchard

** Uit die kommentaar van Jakob van Bruggen is heelwat gedagtes oorgeneem

Sondag 25 Maart 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (7)

- briewe wat berispe en bemoedig sodat ons kan oorwin.

Wat is die funksie van die sewe briewe? (Kyk na Openbaring hoofstuk 1-3) Ons is geneig om dit los van die res van Openbaring te lees. Dis egter ’n integrale deel van Openbaring en die boodskap hier is nie iets anders as in die res van die boek nie! Anders gesê, die res van die boek se boodskap sluit aan en vloei voort uit die boodskap aan die 7 gemeentes. As ons dus verstaan wat die Here vir die sewe gemeentes wil sê, verstaan ons ook wat die fokus en kerninhoud van die res van die boek is.

Terloops : hierdie briewe is aan werklike gemeentes gerig! (waar Turkye vandag is) Maar dis ook simbolies bedoel vir die hele kerk. Wat hierdie gemeentes moes hoor moet ons ook hoor. Wat hulle bedreig, bedreig ons ook. Die waarskuwings en aanmoedigings wat tot hulle gerig is, word ook tot ons gerig!

Die inleiding is belangrik vir die verstaan van die sewe briewe self! Let op Openb 1:4 -6 (Lees)

Kyk die klem op die basiese evangelie feite : Vers 5 - “uit die dood opgestaan; verlos deur sy Bloed!” Dis ‘n bevestiging dat die sentrale tema en basis waarop alles in Openbaring berus, die evangelie waarhede van die sterwe en opstanding van Christus is. Die evangelie feite (kruis en opstanding) is die bewys dat ALLE MAG aan Jesus behoort! Dis die boodskap wat telkens na die verdrukte lesers kom en dis wat hulle moes moed gee! (en vir ons wat ly en worstel en wonder...)

Lees nou Openb 1:9-20. Johannes sien ’n visioen van die Verheerlikte Almagtige Christus (onthou die LEEU) en hoor dan die gerustellende woorde : “Moenie bang wees nie” Weereens die praktiese tema van troos! (Vers 17) Dis ’n eggo van die versekering wat ons alreeds in Jesaja 43:1 kry! (Lees)

Sien en oordink die prentjie van Jesus en wees getroos!

In jou moeilike omstandighede, my boer en suster - draai om en kyk na Christus! Besef wie Hy is en.... moenie VREES nie!

Die veiligheid en die waarborg van verlossing lê in dit wat God deur Jesus gedoen het. Die versekerings en aanmanings en alles wat in die briewe staan kom hieruit voort.. Die basis van die briewe is die visioen van die verheerlikte Christus. Dit kan gesien word in die feit dat elkeen van die sewe briewe begin met ’n verwysing na een van die kenmerke van die verheerlikte Christus byv 2:1 en 1:13,16; 2:12 en 1:16 ens. (Gaan bietjie vinnig deur die 7 briewe en kyk of jy dit kan raaksien)

Daar is ’n duidelike eenvormigheid in die basiese boodskap en struktuur van die briewe aan die gemeentes. (Met hier en daar ’n uitsondering)

1. Spreek die leraar aan.

2. Beskrywing van die Verheerlikte Christus.

3. Verwysing na hulle werke wat gevolg word deur aanprysing of kritiek (Dis interessant wat word genoem en nie genoem nie - nêrens word ’n gemeente berispe oor klein getalle of te min geld nie!)

4. Waarskuwing oor die gevolge van ontrouheid. Afvalligheid en laksheid is ’n ernstige saak en het  bitter gevolge!

5. Vermaning om te volhard/Oproep tot bekering (ook binne ’n gemeente moet daar oor bekering gepreek word)

6. Belofte aan die wat oorwin. (Dis die klimaks in elke brief. Dit word geïllustreer deur ’n beeld wat by elke gemeente se omstandighede pas, maar die boodskap is dieselfde : Daar wag ’n heerlike beloning vir elkeen wat vasbyt!)

Wat leer ons samevattend en oorsigtelik uit die sewe briewe?

1. Die klem val op Christus se soewereiniteit en almag. (In elke brief kom dit eerste) Hy hou die gemeentes in Sy hand! Hy het die pryse verwerf wat uitgedeel word. Hierdie almagtige Christus is ’n liefdevolle Christus wat sy lewe afgelê het vir die gemeente. Met sy bloed die verlossing bewerk het. Die groot beklemtoning is dat niemand God se doelwitte kan dwarsboom nie. Dis die groot boodskap aan die verdrukte Christen vir wie dit gelyk het dat heidense heersers wegkom met onreg! (In ons dag net so aktueel)

God is nie bloot ’n argitek met ’n goeie idee, maar magteloos sonder die mens om dit uit te voer nie. HY is die argitek, bouer en voleinder van sy verlossingsplanne! LOOF HOM!

Christus is die regeerder, soewerein, sien dit raak. Die prediking moet mense se oë na Christus toe trek in die eerste plek! (Nie goedvoel boodskappies of net morele opdragte in isolasie nie)

2. Die sewe gemeentes bestaan uit mense wat verantwoordelik gehou word vir hulle dade. Hulle is aanspreeklik!

Hierdie briewe laat ons duidelik sien dat Goddelike soewereiniteit nie onversoenbaar is met menslike inspanning, gehoorsaamheid en goeie werke nie. (Ons moet beide vashou!) Die een sluit nie die ander uit nie. Goeie werke en BELONING vir goeie werke is deel van die Nuwe Testament se lering en staan nie teenoor die vryspraak deur geloof alleen nie! Dit gaan saam soos ons sien in Filippense 2:12-13. (Lees)

3. Volharding in geloof en goeie werke lei tot oorwinning... Uitverkiesing sluit nie die noodsaak tot volharding uit nie! Volharding wat lei tot oorwinning vorm elke brief se klimaks. Om te oorwin beteken dat ons moet volhard in die geloof. Volharding in die geloof beteken prakties dat ons goeie werke in heiligheid en gehoorsaamheid doen. Dit alles is ons reaksie op die liefde van God wat in die evangelie gebeure aan ons getoon is.

Wat sê dit vir ons oor die daaglikse bestaan van die kind van God?

Kyk na die duidelike parallel byv. 3:21. (Lees) Lyding en oorwinning is deel van ons alledaagse Christenskap net soos lyding en oorwinning deel was van Jesus se loopbaan op aarde. Die stryd se uitkoms is nie onseker in die lig van die beslissende slag van die kruis en opstanding nie, maar dis ’n werklike en ’n fel stryd wat sal voortduur tot die finale oorwinning by Christus se wederkoms. Ons word in hierdie wêreld opgeroep om deel te hê aan Christus se lyding sodat ons ook deel kan hê aan sy oorwinning! So baie Christene kyk dit mis en wil net ’n oorwinningspakket hê - dis wat die Amerkaanse TV evangeliste mos aanbied! Maar dis nie Bybels nie!

Wat is die funksie van die briewe en hoe pas dit in by die res van Openbaring? Dit toon aan hoe die Christen se bestaan in hierdie oorvleulingstyd (Die Laaste Dae/Dag van die Here) in spanning staan tussen die soewereiniteit van God aan die eenkant en die verantwoordelikheid van die mens aan die anderkant. Beide waarhee moet ernstig opgeneem word! Dis Christus self wat ons veilig in sy hand hou en tog word goeie werke en volharding van ons geëis! In hierdie oorgang/oorvleuelingstyd het ons ’n stryd om te stry - dis die stryd van heiligmaking! Dis ’n stryd teen teen sonde en teen Satan! Dis ’n fel stryd, maar die uitslag is seker! VOLHARD net! Daar wag ’n heerlike BELONING!


Vrydag 23 Maart 2012

KINDEROFFERS

- pasop wat jy met God se eiendom doen!

Die Here beskuldig sy volk Israel in Esegiël 16 (maak gerus jou Bybel hier oop) van ontrou en afvalligheid. Om dit te verduidelik gebruik God ’n besonder treffende beeld. Israel was soos ’n klein babadogtertjie wat weggegooi is by geboorte. (Vers 4&5) God het haar opgetel en haar onder sy sorg geneem. Toe hierdie meisie groot word, het sy God se eiendom (bruid) geword. (Vers 8) Sy was nou ’n pragtige vrou, geskik om ’n koningin te wees! (Vers 13) Maar Israel het afvallig geword. Met ander woorde, hierdie mooi meisie het ’n slet geword! Ontrou! (Vers 15)

Van weggooikind tot koningin tot slegte vrou!  Wat het sy gedoen? AFGODERY! Israel het in afgodery verval. (Vers 16) Maar dit was nie die ergste van Israel se sonde nie. Dit wat die Here die meeste ontstel was dat hulle nie net self afgode gedien het nie, maar ook hulle kinders aan die afgode geoffer het. (Vers 20-21) Dit was ’n letterlike gebruik onder die heidense nasies en Israel het so ver weg van God afgedwaal dat hulle ook ook aan hierdie gruwel meegedoen het. Selfs die koning van Juda, Manasse was hieraan skuldig. (2 Kronieke 33:6) Dis hoe laag die sondaarmens kan daal : Verbrand my kind vir ’n afgod!

Dis niks anders as Satanisme nie!

In Esegiël 16:20-21 vind ons ten minste twee belangrike uitsprake van God rakende ons kinders :

1. God is begaan oor die kinders van sy verbondsvolk. Hy is besorg oor hulle. Hulle is baie belangrik vir Hom. Hy noem kinders hier “jou seuns en jou dogters wat jy vir My in die wêreld gebring het” (20) en “my kinders”(21) Verbondskinders is God se eiendom. God maak aanspraak op hulle. God is inderdaad ook die God van kinders, selfs die ongebore kinders van sy mense. Psalm 71:6 bevat ’n uiters belangrike waarheid :

“Op U het ek gesteun van die geboorte af, van die moederskoot af is U my bevryder”

Natuurlik bedoel dit nie dat kinders wat in verbondshuise grootword outomaties gered is nie. Geloof en bekering is vir alle mense nodig volgens hulle bevatlikheid. Geloof en bekering is juis ’n vereiste binne die verbond. Dis die noodsaaklike reaksie op God se beloftes. Die punt is net : God is betrokke ook by die kinders van sy mense. Hulle is deel van God se sigbare kudde op aarde. Is dit ook so in die Nuwe Testament, wonder jy dalk? Ja, beslis! Jesus ruim alle twyfel daaroor uit die weg as Hy klein kindertjies seën. Jesus se seën van die kindertjies was tog nie maar net 'n leë gebaar nie, of hoe? Seën is 'n verbondsterm! God se reddingsplan sluit ook kinders in, ook kinders wat nog nie kan verstaan nie.

 Die kinders van God se mense is kosbaar vir Hom!

2. Dis ’n gruwelike sonde om verbondskinders aan die afgode te offer. Nou het dit vandag nog iets vir ons te sê? Daar is darem seker nie meer in ons dag mense wat sulke bloeddorstige barbaarshede aanvang nie. Ja, ongelukkig! Dis ’n feit dat mense vandag nog steeds God se verbondskinders vir die afgode voer. Dit gebeur daagliks, sommer hier tussen ons. Mens sien elke dag die tragiese gevolge daarvan. Laat ek twee praktiese voorbeelde noem van afgode wat ons kinders verteer:

Materialisme. Om sigbare materiële dinge eerste te stel en na te jaag. Gierigheid word pertinent afgodsdiens genoem. (Kol 3:6) Hoe raak dit ons kinders? Ons jaag so rond om geld te maak, ons skeep ons kinders af. “Ja, maar ek werk ekstra hard juis omdat ek vir my kinders lief is en vir hulle ’n toekoms wil skep!” Dis ’n ou leuen wat Satan in ons koppe inprent. Weet jy hoe spel ’n kind die woord liefde? “T-Y-D” Ja, natuurlik het ’n kind kos en klere nodig. Maar hulle het veral tyd en aandag nodig! Jy kan nie ’n kind se hart met geld en duur goed koop nie! Jou kind het saamwees nodig! Onthou : Jy het net 18 jaar om ’n kind positief te beïnvloed en waardes en waarheid te leer!

As ek my kinders liefhet, sal ek tyd maak om die belangrikste aan hulle oor te dra : DIE WAARHEID VAN DIE WOORD!

Deur materialisties ingestel te wees leer ouers van kleinsaf  boonop nog vir hul kinders ook verkeerde waardes. Ons leer hulle om belangrikheid en sukses te meet in terme van welvaart.  Wat 'n leuen! Vra jouself eerlik : "Is sukses baie geld of is dit ’n gesin wat gelukkig saam die Here dien?"

Sekularisme. Om te leef asof God nie bestaan nie of dat Hy glad nie belangrik is nie. ’n Sekulêre mens of samelewing steur hulle nie aan God se reëls en ordes nie. Ons offer ons kinders aan die god van sekularisme as ons woorde en dade die indruk by hulle skep dat God nie belangrik is nie. Ons steur ons nie byv. aan God se reëls vir huwelik en gesin nie. Ouers wat Sondae oggende lê en slaap en net die kinders Sondagskool toe stuur, verkondig luidkeels : "God is nie die moeite werd nie!" In effek verbrand hulle hulle kinders in ’n afgod se arms!

Hoe kan ons die gruwelike sonde van kinderoffers regstel? Deur ons voor God te verootmoedig, berou te toon en te bekeer (ons gedrag te verander). Waar daar berou en bekering is skenk God genade. Die einste slegte koning Manasse het hom voor God verootmoedig en het genade ontvang. 2 Kron 6:12 (Lees) 

God se genade is ook genoeg vir 'n kindermoordenaar! Genade, onbeskryflik groot!

Net as ek my tot Jesus bekeer het en dankbaar ’n nuwe lewe leef, kan ek die regte pad vir my kinders wys. Nie een van ons kan van ons kinders, Christene maak nie. Dis net die Heilige Gees wat hulle van sonde kan oortuig en na Jesus toe kan trek. Maar God gebruik Christen ouers se woorde, voorbeeld en gebede. Christen ouers wat getrou is aan hulle verbondsbeloftes. Christen ouers wat standput ingeneem het teen die afgode van materialisme en sekularisme. Mag God ons die genade skenk om ons kinders aan Hom toe te wy en nie aan die afgode te offer nie. Want onthou hierdie kinders is eintlik God se eiendom! Wee, die een wat God se eiendom vir die afgode voer!

Dinsdag 20 Maart 2012

BEHOUD VAN 'N BEDREIGDE SPESIE

- dit gaan nie net oor renosters nie!

Ja, soos alle natuurliefhebbers is ek besorg oor die omvang van renosterstropery in Suid-Afrika... Dis egter nie net renosters wat tans ’n bedreigde spesie is nie. Ek is veral bekommerd oor die aanslag teen Bybelgetroue kinders van God en Bybelse waarhede in die kerk. Hierdie felle aanslag kom van binne sowel as buite die kerk.

Van watter aanslag en bedreiging praat ons? Die ontkenning van basiese Bybelse waarhede (die liggaamlik historiese opstanding van Jesus, die bestaan van ’n duiwel ens.), die aanslag op die Christelike huwelik en gesin (oor sake soos saambly, egskeiding en homoseksuele gedrag word daar met al minder Bybelse helderheid en beslistheid gepraat), die verkondiging van ’n mensgesentreerde voorspoedsevangelie (die klem val op gesondheid, welvaart en.... goeie seks).... Christene wat nie saam met hierdie stroom wil saamgaan nie word uitgekryt as fundamentalisties en onverdraagsaam. Hierdie valshede en vyandigheid kom soos golwe aangerol op ons. Jy tel dit op in die Afrikaanse koerante en tydskrifte waar daar in briewe kolomme en artikels gal gebraak word teen Christene en die waarheid. Op die internet word daar op die mees platvoerse manier openlik gespot met God en sy Woord. Maar ongelukkig word teologiese fakulteite, kansels en selfs kerklike tydskrifte ook dikwels ingespan om oorlog te voer teen God se kinders en ons kosbare geloof. * Die vyande van die waarheid is nie net openlike ateïsme nie, maar meer subtiele dwalinge soos post-modernistiese teologiese strome, sommige leringe in die “Emerging Church” en die “Spreek Lewe teologie” van die “Word Faith Movement”.... maar laat ek nie verder op die slegte nuus uitbrei nie.

Die goeie nuus is, dat dit nie die eerste keer (en laaste) is dat die kerk van Jesus met die brullende leeu en sy bedreigings te doen kry nie. Die goeie nuus is verder dat God in sy Woord vir ons die duidelike aanwysings gee om nie net te oorleef nie, maar met blydskap te triomfeer!

In Handelinge hoofstuk 4 word vir ons vertel hoe die jong Christelike gemeente in Jerusalem met ’n hewige aanslag te doen gekry het. Onthou, die kerk was nog in sy kinderskoene. En toe slaan Satan met volle woede toe... Ons lees hoe twee leiersfigure, Petrus en Johannes deur die Joodse Raad gedreig en verbied is om verder in die Naam van Jesus te preek. Sou die kerk die bedreiging kon oorleef? Wat sou die gelowiges se reaksie wees in hierdie onsekere omstandighede? Kom ons kyk na Handelinge 4:23-31 (Lees en bid hierdie gebed)

Die antwoord is duidelik : Hulle het hulle tot God gewend! Menslike plannetjies sou hier nie help nie! Debatte, studiestukke en sinodes het hulle plek, maar ’n bonatuurlike ingrype van God was nou nodig!

Die oplossing vir die bedreigde Bybelgelowige is, om as ons aan die einde van ons menslike pogings gekom het, weer opnuut erns te maak met God en spesifiek om in die gebed tot Hom te nader. Terug na die Bron! Toe die donker wolke van vernietiging hierdie jong gemeentetjie bedreig het, het hulle nie baie gepraat nie, maar begin BID! Dit was nie net die leiers nie, die hele gemeente was hierby betrokke! Vers 24 “hulle almal saam tot God gebid”

 
IN TYE VAN BEDREIGING EN BENOUDHEID MOET ONS BID

Die inhoud van hierdie gebed is baie veelseggend :

~ Hulle bely hulle geloof in die almag van God! (24) As ons tot God bid moet ons glo dat Hy bestaan as die Almagtige en dat Hy instaat is om ons te antwoord en dat Hy ’n verskil kan maak. (Vgl. Hebr 11:6) Al verander als, God is nog steeds die Lewende Almagtige God! In hulle gebed erken hulle God se almag en soewereiniteit. Als wat gebeur, ja ook die teenstand is maar net die uitwerking van God se besluite en beskikking! (27&28)

~ Hulle hou vas aan God se Woord en maak dit van toepassing op hulle situasie. (25-28) Die Skrifgedeelte wat hulle hier in hulle gebed aanhaal is Psalm 2. Dit bevat die versekering en belofte dat God alle teenstand sal uitwis teen sy Koninkryk! In ons gebede moet ons God herinner aan sy beloftes! (Vgl. Jesaja 62:6) Ons moet die Woord bid! Byvoorbeeld : “Here, U het mos self gesê, dat U die doodsbeendere weer lewend sal maak” of “Here Jesus, U het beloof dat die poorte van die hel U kerk nie sal oorweldig nie” God se Woord bly ewig waar!

~ Hulle bid vir die geleentheid en genade om die Woord met vrymoedigheid te verkondig. (29,30) Dis ’n positiewe gebed dat die Here ’n verskil sal maak deur die verkondiging van die Woord! Hulle vra nie vir verligting in hulle omstandighede nie, hulle bid nie vir “vliegtuigkaartjies” om te kan vlug vir die gevaar nie. Hulle bou nie ’n klooster om in te gaan wegkruip nie! Nee, dis eerder : “Here, gee ons ’n kans om deur U Woord ’n verskil te maak!” In die gebed stel hulle hulself tot beskikking van die Here!

En wat was die gevolg? God besoek en bekragtig hulle weer opnuut deur die Heilige Gees! (31) Hulle gebed word verhoor en te midde van die dreigemente verkondig hulle met vrymoedigheid die Woord! Kyk hoe laat die skrywer die klem op die “Woord” val... (Vers 29 en 30) Die res van die boek Handelinge is in ’n sin ’n bewys dat God hierdie gebed verhoor het, want die Woord versprei onstuitbaar tot binne in die keiserlike hoofstad, Rome! Ja, inderdaad was Paulus later ’n gevangene in Rome, maar Handelinge eindig op triomfantelike toon as daar verklaar word : “Hy het die Koninkryk van God verkondig en die mense alles oor die Here Jesus Christus geleer. Dit het hy gedoen met die grootste vrymoedigheid en sonder enige verhindering.” (Handelinge 26:31) Ja, na die gelowiges se gebed was daar steeds baie vervolging, swaarkry, probleme, misverstande, maar niks kon die voortgang van die Woord stuit nie! Geen omstandighede kon keer dat mense gered en tot God se Koninkryk toegevoeg word nie!

Bid, hou vas aan die Woord en verkondig die Woord - so gee God aan sy kerk die oorwinning in tye van benoudheid en bedreiging!

Skep moed bedreigde kinders van God! Bid en dan bou God self sy Koninkryk deur die bekragtiging van die Heilige Gees wat ons instaat stel tot die bediening van die bevrydende Woord!

God self sal sy kerk behou, bekragtig en bevorder!
* Twee onlangse publikasies wat hieroor handel is “Opgestaan” deur Ferdie Mulder en “Die Trojaanse Perd in die NG Kerk” deur Besorgde Lidmate en Leraars. Ek kan myself nie ongekwalifiseerd vereenselwig met al die nuanses in lg. boek nie, maar beide publikasies is uiters waardevol om oë te open vir die aanslag teen die Christelike geloof in Suider Afrika.

Maandag 19 Maart 2012

BEMOEDIGING UIT BUNYAN SE BEPROEWINGS

- alle Christene beleef versoekings!

John Bunyan, die skrywer van die “Pelgrim se Reis na die Ewigheid” was eerstehands baie goed bekend met geestelike stryd. Dis sekerlik juis hierdie worstelinge wat tot gevolg gehad het dat dié boek so ̕n akkurate beskrywing van die Christen se wel en weë op die pad van geloof is. Aan die einde van “Grace Abounding to the Chief of Sinners” (die boekie wat sy persoonlike getuienis bevat) maak hy ̕n paar slotopmerkings wat vir elke Christen wat deur geestelike stryd gaan tot groot bemoediging en seën behoort te wees. Ek deel dit graag met jou en gee so ‘n kort stukkie kommentaar in hakies:

1. Van al die versoekings wat ek ooit in my lewe teëgekom het, is om die bestaan van God en die waarheid van die evangelie te bevraagteken die ergste en die ergste om te verduur. As hierdie versoeking kom vat dit die gordel van my af weg en verwyder dit die fondament onder my uit.
(Wat ‘n troos om te weet dat die sterkste Christene en geestelike reuse ook soms deur twyfel aangeval word!)

2. Partykeer nadat ek ̕n sonde gedoen het en ek juis harde tugtiging van God se hand verwag het, was ̕n ontdekking van Sy genade wat ek volgende van Hom gekry het.
(God se liefde en genade is verrassend groot, as dit nie daarvoor was nie, het niemand van ons ‘n kans gehad om die wenstreep te bereik nie.)

3. Ek het baie oor hierdie saak gewonder. Wanneer God my siel besoek het met ̕n geseënde ontdekking van Homself, was dit my belewenis dat ek daarna sulke donkerte in my siel beleef het, soveel so dat ek nie eens kon dink wat daardie God en troos was waarmee ek verkwik is nie.
(Met ander woorde, ̕n groot hoogtepunt in ̕n Christen se lewe word dikwels gevolg deur ̕n laagtepunt! Wees bedag daarop. Lees hieroor ook in : PROFEET ONDER DIE BOS)

4. Soms het ek meer in een reëltjie van die Bybel gesien as wat ek kon hanteer. En tog, op ̕n ander keer was die Bybel vir my kurkdroog, of liewer my hart was so dood en droog teenoor die Skrif dat ek nie die minste troos daaruit kon put nie, al het ek oor en oor daarna gekyk.
(Hoe goed kan mens Bunyan se klagte verstaan! Dit wys maar net ons totale afhanklikheid van die Heilige Gees. As Hy my hart nie aanraak nie, bly dit ongevoelig en dood, selfs al lees ek die Bybel.)

5. Van alle vrese is die beste die wat veroorsaak word deur die bloed van Christus; van alle vreugdes is die soetste die wat gemeng is met treur oor Christus. O, dis ̕n goeie ding om op ons knieë te wees, met Christus in ons arms voor God. Ek hoop ek weet iets van hierdie dinge.
(‘n Besef van die werklikheid van Jesus se kruisdood bring ‘n vrees vir sonde. Maar die kinders van God beleef ware vreugde en is op hulle gelukkigste as ons stukkend oor ons sonde net maar krampagtig en desperaat vashou aan Jesus se afgehandelde versoeningswerk aan die kruis.)

6. Tot op hede vind ek sewe afskuwelikhede in my hart: 1) ̕n Neiging tot ongeloof. 2) Om die liefde en genade wat Christus uitstraal te vergeet. 3) Om op die werke van die wet te steun. 4) Koudheid en afdwaling van gedagtes wanneer ek bid. 5) Om te vergeet om uit te kyk waarvoor ek gebid het. 6) Geneig om te klae omdat ek nie het nie, en tog gereed om dit wat ek het te misbruik. 7) Ek kan niks doen van die dinge wat God my beveel sonder dat my verdorwenheid inmeng nie. “Wanneer ek die goeie wil doen is die kwaad by my aanwesig.”
(Tot aan die einde van ons lewens sal ons as God se kinders ‘n stryd hê teen sonde oorblyfsels in ons lewe. Die daaglikse stryd van heiligmaking sal eers eindig by die voleinding. Lees gerus ook PALEISPRINS IN OPLEIDING)

7. Bogenoemde dinge sien en voel ek gedurig en ek word daardeur gesteister en verdruk. Tog laat die wysheid van God dit vir my ten goede meewerk : 1) Dit maak dat ek myself verag. 2) Dit bewaar my daarvan om my eie hart te vertrou. 3) Dit oortuig my van die gebrekkigheid van alle eie inherente geregtigheid/goedheid. 4) Dit wys my op die noodsaak om na Jesus te vlug. 5) Dit dwing my om tot God te bid. 6) Dit wys my op die nodigheid om te waak en nugter te wees. 7) Dit spoor my aan om tot God te bid deur Christus om my te help en deur die wêreld te dra.
(Selfs ons sonde en mislukkings word ook deur God postitief tot ons voordeel gebruik. Hoe meer ons ons eie sondigheid ontdek, hoe meer vlug ons na Jesus met die besef dat sy volmaakte offer aan die kruis ons enigste hoop is!)

(Vry vertaal en verwerk uit “Grace Abounding to the Chief of Sinners” )

Saterdag 17 Maart 2012

VERKLEURMANNETJIES VERLOËN JESUS

- is ek miskien skaam vir my Verlosser?

Is ons geloof nie dalk verkleurmannetjie geloof nie? In Johannes 12:42-43 vind ons so ’n situasie. (Lees dit gerus) Die verkleurmannetjie verander sy kleur na gelang van die omstandighede en probeer doelbewus onopsigtelik bly. En die verkleurmannetjie Christen? Presies dieselfde! Tussen ander Christene praat hy soos ’n Christen, maar tussen mense van die wêreld praat en lyk hy soos ’n wêreldling. As ek saam met die manne gaan visvang of rugby kyk, tydens die maatskappy se spanbou naweek of daar langs die braaivleisvuur waar ons die land se probleme probeer oplos... smelt ek so goed saam met my goddelose geselskap, dat my geloof onsigbaar en onhoorbaar raak. Skaam om Christus openlik te bely en te sê dat ek aan Jesus behoort. Johannes se uitspraak in vers 43, “hulle het verkies om liewer deur mense geëer te word as deur God" impliseer:

Verkleurmannetjie geloof is ’n valse geloof!

Dis ’n soort geloof wat ons nie ver gaan bring nie. Dit wys mense se opinie weeg vir ons swaarder as God se eer. God se eer is nie regtig dan vir ons belangrik nie.

Jy vra : “Kan ek nie maar net in my hart glo en stilbly nie? Moet ek regtig vir my vriende sê en openlik wys dat ek ’n Christen is? In alle omstandighede?”

Wat sê die Woord? Kom ons kyk na Romeine 10:9:

“As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word."

Geloof met die hart en belydenis met die mond gaan saam. Altwee is ewe belangrik, die een beteken niks sonder die ander een nie. Dit help nie ek glo, maar bly stil daaroor nie. Dit help natuurlik ook nie ek sê dat ek glo, maar ek glo nie regtig nie. (Let op -die volgorde in vers 10 word omgeruil.) Belydenis en openlike standpuntinname vir Jesus is ’n integrale deel van reddende geloof. Openlike belydenis is ’n bewys dat ek regtig glo. Dit wys ek is so oortuig wat ek glo dat ek bereid is om gespot te word of watter gevolge ookal te dra.

Belydenis van Jesus is nie opsioneel nie! Die erns van hierdie saak word deur Jesus self in Matteus 10:32,33 gestel:

“Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal ek my ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is."

Skaam stilswye oor Jesus is waarskynlik een van die groot redes waarom mense onseker is oor hulle verhouding met God. Hierdie skaamte is dalk die blok aan my been wat keer dat ek spoed kry op die geloofspad. Reddende geloof is nie ’n wegkruipertjie geloof nie. Dit kom daarop neer, as Jesus my Verlosser is, sal dit openlik sigbaar en hoorbaar word. Hoekom bly ek stil? Dalk bang vir my vriende? Is inwees by vriende vir my belangriker as God se goedkeuring? Ek pas maar aan by hulle en verswyg my geloof in Jesus. Ek maak soos ’n verkleurmannetjie!

Nou hoor ek die algemene beswaar: “Ek is bang om vir ander mense te sê dat ek God se kind is, want ek maak soveel foute!

Onthou net :

~ Christen wees beteken nie dat ek nooit weer foute maak of sondig nie. Die Onse Vader gebed is ’n bewys daarvan, want dit maak voorsiening vir vergifnis van sonde. Jesus weet ons sal nodig hê om vergifnis te vra! Onthou net, Christene is dissipels en ons weet die woord “dissipel” beteken leerling. Tydens ons leerlingskap gaan ons foute maak!

~ Om Christus te bely beteken in elk geval nie dat ek sê dat ek nooit sonde doen nie. Dit bely juis dat ek ’n Advokaat, naamlik Jesus het. (en inderdaad nodig het) Bedink die heerlike waarheid van 1 Johannes 2:1

~ As ek ’n Christen is en bewus raak van ’n sonde moet ek dit nie as ’n verskoning gebruik om stil te bly oor Jesus nie (dan doen ek nou twee sondes in plaas van een!) Nee! Wat moet ek maak? Ek vra vergifnis vir daardie sonde, stel dit reg en roei dit uit deur die krag van die Heilige Gees! As ek mos geval het, hoef ek nie te bly lê nie.....Miga 7:8!

Daar's geen wettige verskoning om stil te bly oor ons geloof in Jesus nie! Om stil te bly oor Jesus is om Jesus te verloën! En as ek hieraan skuldig is? Hou moed! Petrus se verhaal wys daar is radikale vergifnis ook vir hierdie sonde..... Kyk hoe herstel Jesus hom weer ten volle in sy amp in Johannes 21! Vra om vergifnis en moenie langer ’n verkleurmannetjie Christen probeer wees nie. Wys jou ware kleure! Wys en sê dat jy kant gekies het vir Jesus! So stel jy God se eer eerste! Hy sal jou ook eer en seën!  STERKTE!