BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Ses Ses Ses 666. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Ses Ses Ses 666. Wys alle plasings

Woensdag 12 Januarie 2022

HET JY DIE MERK?

Ek gaan nie oor nuwejaarsvoornemens praat nie... ek wil net vir jou vra:


“Het jy die merk?” Gaan jy met die regte merk in die nuwe jaar in? Die kruisie op die voorkop wat tel? Die profeet Esegiël sien hoofstuk 9 ’n visioen van God se oordele oor Jerusalem. Dis ’n oordeel wat almal gaan tref...oud en jonk, man en vrou. Dis ook opvallend dat God se oordele by sy tempel, sy heiligdom begin het. Ja, dis dikwels so - in die aanbiddingsplekke, onder God se mense word die grootste gruwels aangetref! Die goddeloosheid het binne die tempel plaasgevind. Die konteks en agtergrond van die oordeelsaankondigings in Esegiël 9 God se oordeel weens die afskuwelikhede wat in Jerusalem aangaan wat breedvoering in hoofstuk 8 beskryf word.




Almal gaan geoordeel word behalwe diegene wat gemerk is! (6) 








DIE VRAAG

Die interessante en baie belangrike vraag is : Wie is die gemerktes wat die oordele van God sal vryspring? Wie gaan gered word? Waaroor gaan die merk van God?

DIE ANTWOORD

Ons vind die antwoord in vers vier.


 Dis almal wat sug en kla oor die ongeregtigheid. Dis met ander woorde die mense wat ontsteld, verontwaardig en hartseer is oor die sonde wat rondom hulle aangaan. Dis diegene wat nie met die sonde saamstem en kompromie maak nie. Dis diegene wat stroomop swem – en nie saam met die stroom afdryf nie!



God se ware kinders kan uitgeken word aan die feit dat sonde en die gevolge van sonde hulle ontstel, bekommerd maak, hartseer maak, met weersin en afgryse vervul. Sonde is ’n pyniging vir ’n regverdige! Die sonde in die samelewing kan nie ongesiens by God se kinders verbygaan nie. Dit raak ons elkeen wat Jesus liefhet.

Dis ‘n waarheid wat dwarsdeur die Skrif na vore kom. Kyk na 'n paar voorbeelde :

Psalm 119:53 “Woede het my beetgepak oor goddeloses – hulle wat U wet verlaat.”

Lot se siel word gepynig deur die goddeloosheid wat hy moet aanskou in Sodom. 
2 Petrus 2:7 “Terwyl hy (Lot) tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit ‘n foltering was vir sy opregte gemoed.”

Ware kinders van God is ontsteld oor sonde, want....

Ons besef sonde tas God se eer aan. Dis opstand teen God, dis ’n vertrapping van sy goeie en heilige wette. Sonde beteken eintlik dat klein mensies hulle vuis wys vir die Almagtige God en Hom uittart. Skrikwekkend!

Ons weet dat dit Jesus se bittere smart en kosbare bloed gekos het om ons sondes te vergewe. Sonde is dus ’n belediging van Jesus se liefde en genade. Dis ’n gruwelike ondankbaarheid teenoor Jesus wat sy lewe vir ons gegee het. Dis vreeslik en afgryslik ondankbaar as mense onbeskaamd net aangaan met sonde!

Ons beleef en sien sonde is ’n verwoestende en verslawende mag. Dit veroorsaak soveel ellende en hartseer in huwelike, huisgesinne, gemeenskappe. Dit maak mense seer en nog erger dit skend God se beeld in die mens en maak dat ons erger as diere optree. Dis ‘n parasiet wat als besmet...als wat deur God goed en mooi gemaak is ly onder hierdie parasiet – huwelike, gesinne, menseverhoudings, besittings, geluk, vrede.... als word aangetas deur hierdie parasiet. Dis een aaklige toneel van verwoesting en ellende!

Ons weet sonde is gevaarlik want dit bring God se wraak oor mense en lei tot ’n ewige hel. Mense wat aanhou sondig en die plesier van sonde geniet is soos motte wat al nader aan ’n kersvlam vlieg. Die mense wat nou in sonde volhard en sonde geniet is op ’n glyplank wat sonder dat hulle besef eindig in ’n bodemlose afgrond van ewige duisternis en pyn. Onkundig en niksvermoedend is hulle op pad na ’n grusame bestemming!

Sonde keer dat ons ons skeppingsdoel bereik naamlik om Hom te eer en te loof en te prys. Sonde keer dat ons ‘n ware loflied met ons lippe en ons lewe tot God kan sing.

Ek as kind van God weet (en dis baie persoonlik) - hoe maklik ekself vir die leuens van die duiwel val en self kan struikel en sondig. En ek weet watter hartseer dit veroorsaak... Daar is NIKS goeds in sonde nie!

Dis waarom die profeet Jesaja so diep bedroef was oor sy eie sonde en sy volk se sonde. Nadat hy die heerlikheid van God gesien het roep hy uit : “Wee my, ek is verlore! Want ek is 'n man onrein van lippe en woon onder 'n volk wat onrein van lippe is;” Jesaja 6:5

ONTSTELD?

Ontstel sonde jou nog? Maak dit jou hartseer en kwaad? As dit nie die geval is nie, moet jy ernstig selfondersoek doen of jy self al die genade van God aanvaar het. Of jy self al vergifnis en bevryding van sonde beleef het. Daar is niks mooi of positief in sonde nie! Ons durf dit nie ignoreer nie, ons durf nie daaroor grappe maak nie! Ons moet dit tog net nooit gewoond raak nie...

MERK VAN DIE DIER


Baie mense is bang vir die merk van die dier. Die eintlike vraag moet wees : "Het ek God se merk? God se merk is presies die teenoorgestelde as die merk van die dier. Die merk van die dier is kompromie- die 666 op die voorkop en op die hand - dink soos die wêreld, doen soos die wêreld. God se kinders wat sy merk dra is die wat NIE kompromie met sonde maak nie, maar daaroor treur, sug, ontsteld en verontwaardig is!

Ontstel sonde ons nog? Maak dit ons nog seer as God se wette vertrap word en sy liefde geminag word? Net ’n praktiese vraag... As sonde jou met afgryse vervul hoe kan jy dit geniet om daarna in die sepies te kyk? Hoe kan jy dit geniet op plekke soos die dansbaan en drinkpartytjies waar sonde uitgestal en gevier word? As ons nie ontsteld is oor sonde nie, is daar net een gebed wat ons moet bid : “O, God skep vir my ’n rein hart!” Psalm 51 Kom ons maak dit ons gebed vir die nuwe jaar! Mag ons die erns van sonde besef en daarvan bekeer. 

Kom ons vlug met ons sonde in berou na Jesus. Sodat Hy ons kan merk met die Heilige Gees... dan alleen is ons veilig teen die oordele van God!

Saterdag 01 September 2012

MERK VAN DIE DIER

- belangrike les van die Ses Ses Ses!

“Het jy gehoor wat gaan hulle in Amerika doen? Die merk van die dier, presies soos die Bybel voorspel het... Dit wys net die einde is nou naby...” 

Die merk van die dier (sien Openbaring 13 :11-18) is seker een van die sake in die laaste boek van die Bybel  wat  die meeste aandag kry en tot die grootste spekulasies lei. Dit  kan ook  onnodige vrese tot gevolg hê in die sin dat party Christene dink dat hulle dalk hulle verlossing sou kon verloor as hulle moontlik nie hierdie gedeelte reg interpreteer en verstaan wat die merk van die dier is en dit betyds weier nie. (Net onlangs het daar weer ‘n e-pos met wilde bewerings in hierdie verband die rondte gedoen, wat ontsteltenis en vrae by mense ontlok het)

Kom ons verstaan net weer twee belangrike beginsels van interpretasie :

~ Openbaring is in die eerste plek geskryf vir sy eerste lesers, om hulle te vertroos en te bemoedig in hulle verdrukking. Dit was veronderstel dat hulle hierdie boek sou verstaan, insluitend die betekenis van  die merk van die dier. Vers 18 skep die indruk dat die verstaan van hierdie simbool nie baie probleme vir die eerste Christene sou inhou nie..
~ Openbaring is ook geskryf vir alle Christene deur alle eeue en nie net vir ons in ons tyd van rekenaars en bankkaarte nie. Kinders van God wat vyf honderd jaar gelede geleef het, sou 'n boodskap kry uit die "merk van die dier", maar daar is ook 'n belangrike les vir elke kind van God, vandag, nou!

Die merk van die dier staan teenoor die merk wat God se kinders ontvang. (sien Openbaring14:1) Niemand veronderstel  dat dit beteken dat God se kinders ’n letterlike merk op hulle voorkoppe kry nie. Dit simboliseer sekerheid van die verlossing, gewaarborg deur God, wat ons deur die geloof in Jesus ontvang. Elkeen wat hierdie verlossing deelagtig word, word “gemerk” en kan nie sommer wegraak en verlore gaan nie.  Die Nuwe Testament leer ons dat ons deur die inwoning van die Heilige Gees verseël word. (In ’n sin kan ons sê  dat God ons deur sy Gees merk as sy eiendom - vgl Efesiërs 1:13)

Dis gevaarlik en jammer dat party mense so die klem op die merk van die dier plaas - “solank ons dit net nie kry nie, is ons veilig”, in plaas van positief seker maak : “Het ek al die Here se merk ontvang?”  (Met ander woorde die belangrkste saak om van seker te maak is of ek deel in die wedergeboorte wat God aan ons skenk)

Baie mense bring vandag die merk van die dier met ’n rekenaarskyfie onder die vel in verband en die gevaar is dat mense kan dink solank ons net nie daardie skyfie kry nie is ons saligheid verseker. Terwyl die hele Openbaring die klem laat val op ons verlossing deur die bloed van die Lam.  Die dringende vraag wat ons vandag aan mense moet vra, is nie of jy ’n mikroskyfie onder jou vel het nie, maar of jy weet dat jy gered is deur die bloed van die Lam?

666

Hoe moet die simboliese getal van die trippel ses verstaan word? Ons moet dit verstaan teen die agtergrond van die destydse gebruik van gematria, ’n sisteem waarvolgens elke letter van die alfabet ook ’n getalwaarde gehad het. Dit was gebruik onder die Jode sowel as die Grieke en Romeine. In die welbekende stad Pompeji is daar grafitti gevind wat lees “Ek bemin haar wie se naam 545 is”* As die Griekse woorde “Keiser Nero”, die wrede vervolger van Christene,  in Hebreeus getranskribeer word en dan opgetel word, lewer dit die totaal van 666. Dus is dit baie waarskynlik dat hierdie getal oorspronklik aan Nero gekoppel is en dat die eerste lesers van Openbaring dit so verstaan het. Maar, die getal 666 moet waarskynlik  ook wyer simbolies gesien word as die bose menslike aanslag teen God. Die Goddelike getal van volmaaktheid is  777. Die 666 kan dit nie bereik nie. Die drie bose agente: draak, valse profeet, antichris skiet tekort by God. Die destydse wrede Nero was ’n voorloper, ‘n beeld van alle antichriste en ook die finale laaste Antichris, wie hy of wat sy sisteem ook al sal wees. Dit gee vir ons insig oor hoe die finale Antichris optree.  Goddeloos en wreed. Om met getalle te probeer uitwerk wie die persoon is, lei net tot groot spekulasie. Daar was al ’n verbysterende groot getal kandidate - so het sommige beweer dat die voormalige Amerikaanse president Ronald Wilson  Reagan die antichris was. (Elkeen van die drie name het ses letters!) Die probleem is, elkeen gebruik ’n interpretasie sisteem soos dit hom pas! Die bedoeling van 666  is dus nie om vir ons te sê presies wie die Antichris is nie, maar hoe hy te werk sal gaan.

Antichris

Wat ons wel moet weet : Die Satan voer ’n hewige stryd teen God en sy mense. Hy gebruik die Antichris en die vals profeet as sy bondgenote om namens hom oorlog te voer. (Weereens die tema van konflik wat so algemeen in die Openbaring boek voorkom)**. Die eerste dier is ’n parodie van Christus - ons kan ook sê ’n na-aper van Christus. Hy is byvoorbeeld ook dodelik gewond, maar genees, dus ‘n na-aping van die opstanding van Jesus. (13:3) Die valse profeet (valse wêreld godsdienste)  probeer mense oortuig om hierdie dier (Antichris) te aanbid.  Hy sal Hom voordoen as ’n alternatiewe Verlosser! Dit klink ook baie soos die keiserkultus van destyds. Die teenstanders van God, die antichriste en die finale Antichris gebruik alle mag van misleiding en selfs ook ekonomiese stelsels om hulle stryd te voer! Kan ’n bose staatsbestel eendag ’n kontantlose stelsel misbruik om totale beheer uit te oefen en mense in die proses  verplig om rekenaarskyfies te dra? Ja, dit sou kon gebeur! Dit bly egter ’n vraag of ons Openbaring se simbole so letterlik moet opvat, want as ons sê dat elke mens letterlik ’n 666 gaan kry, dan beteken dit dat elkeen presies dieselfde getal sal kry en dit gaan nie werk vir doelwitte van identifikasie nie!

Wat van nou?

Gesien vanuit die geheelboodskap van Openbaring en die kontras tussen die Here se merk en die merk van die dier, is die boodskap vir ons uit hierdie gedeelte NOU dat ons getrou moet bly aan die Here en alle ongeloof en onreinheid moet vermy! Anders gesê, ons moet nie meedoen aan die bose sisteme van hierdie wêreld nie (merk op die hand), ons moet ook nie dink soos die bose wêreld nie (merk op die voorkop). 

Moenie doen en dink soos die sondige wêreld nie!

Wie weier om mee te doen aan goddeloosheid en bedrog, wie weier om te redeneer soos hierdie goddelose wêreld sal nou reeds op hierdie oomblik vind dat hy vervolg, uitgesluit en skade aangedoen sal word! Lyding ter wille van Christus is nou reeds vir God se kinders ’n alledaagse werklikheid! (Die Christen besigheidsman wat nie omkoopgeld wil betaal om kontrakte te kry nie, ly finansiële skade ter wille van sy geloof! Die Christen skoolmeisie wat weier om deel te neem aan trompoppies en weens haar standpunt uitgestoot word uit die vriendekring... dis voorbeelde van Christene wat ly omdat hulle nie die merk van die dier wil dra nie!)

Die sentrale tydlose boodskap van die Merk van die Dier is dus : 

Vermy alle kompromieë met sonde en dwaling!

Dis wat so hartseer is : Terwyl Christene stry oor presies wat die merk van die dier sou kon wees, besoedel hulle hulleself met hierdie einste merk, deur kompromie met sonde, wêreldliefde en valse leringe!

Ons moet ons nie laat vang deur mense en sisteme wat Christus na-aap nie!  Pasop veral ook vir “ander evangelies” - al word hulle deur sogenaamde  “wonders” bevestig! (Dink hier aan die Prosperity Gospel, die Hebrew Roots Movement, Word of Faith Movement... en natuurlik alle teologie wat die liggaamlik historiese opstanding van Jesus uit die dood bevraagteken)  Pasop vir die betowerings van die Vals Profeet, in watter vorm ook al!  Valse profete is instaat tot subtiele propaganda en wondertekens! (Maak seker jy lees Openb 13:11,13!) Iemand wat op buitengewone wonders aanspraak maak, is nie noodwendig ‘n leraar van die waarheid nie! Moet geen ander evangelie aanvaar as dié wat deur die apostels aan ons in die Bybel oorgelewer is nie. (Vgl. Galasiërs  1:8)  As ons in heilige gehoorsaamheid aan die Here leef sal ons dan in elk geval ook weet hoe om op te tree in ’n toekomstige kontantlose samelewing, wat dit ook al mag inhou!

Die kind van God het dus niks om te vrees nie, ons hoef ook nie bang te wees dat ons dalk per ongeluk een of ander verdoemende merk sal kry nie. Ons moet net getrou bly aan die evangelie boodskap en in kompromislose heiligheid lewe!

* Vir hierdie feit en ander gedagtes erkenning aan Du Rand, Die A-Z van Openbaring.
** Sien reeks : MAAK OOP BY OPENBARING