BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Kanaän. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Kanaän. Wys alle plasings

Vrydag 01 Augustus 2014

GAZA, ISRAEL EN DIE BYBEL

- hoe behoort evangeliese Christene op dié konflik te reageer?

AAN WIE SE KANT?



“Natuurlik moet Christene aan Israel se kant wees, dis mos God se volk en dis mos die land wat Hy aan die nageslag van Abram beloof het.” Tradisioneel is dit seker die meeste Christene se siening, maar is dit Bybels? Om sommer mee te begin, die nageslag van Abram is volgens die Nuwe Testament nie meer etniese Jode nie, maar almal wat in Jesus glo! “Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.” (Galasiërs 3:7) Wat God vir die volk Israel gesê het na die bevryding uit Egipte, word nou in die Nuwe Testament direk net so van toepassing gemaak op die kerk. (Vergelyk Eksodus 19:4-6 met 1 Petrus 2:9-10)* As ons konsekwent Bybels wil wees, moet ons sê dat ons broers en susters (ook in die konteks van die Israeli – Palestynse konflik), nie die Jode is nie, maar die Christene! En nou mag dit dalk vir sommige nuus wees – nie alle Palestyne is Moslems nie, daar is ook Christene onder hulle. Weliswaar net so wat 'n duisend in Gaza, maar ongeveer 8% in die Wes Bank en byna 10% van Israel se Arabiese bevolking. Om outomaties altyd aan die staat Israel se kant te wees en als wat hulle doen blindelings goed te praat, hou nie rekening met hierdie feite nie. “Ja, maar die land is tog aan die Israeliete beloof en hulle het die reg om dit te vat! Volgens die beloftes van God gaan die tempel ook herbou word.” Kanaän, moet ons goed verstaan was ‘n tydelike fase in God se heilsopenbaring. God se volk, almal wat nou in Jesus glo sien nou uit na die ewige Kanaän! Die beloofde land kan dus nie sommer net klakloos gelykgestel word met die huidige staat Israel nie! Net so is die tempel van God binne die bedeling van die Nuwe Verbond, nie meer ‘n fisiese gebou nie, maar die kerk van Jesus, waarvan Hyself die hoeksteen is. Die ou tempel is vir altyd verwerp soos ons duidelik leer in Markus 11 waar Jesus dit gedemonstreer het met die vervloeking van die vyeboom. Die nuwe tempel waarna alle nasies gaan stroom volgens die profete, is die kerk, waarin daar redding deur Jesus te vind is vir alle volke! Dit het hoegenaamd niks te doen met ‘n gebou in Jerusalem nie. (Kliek ook op Ou Testamentiese profesie)

Wat moet ons as Christene se houding en boodskap wees in te midde van die skrikwekkende geweld?

Christene moet alle geweld veroordeel. Ja, die terroriste organisasie Hamas se vuurpylaanvalle teen Israel is beslis nie aanvaarbaar nie, maar net so kan Israel se oordrewe geweld teen burgerlikes allermins goedgepraat word. Elke kind van God sal ‘n vredemaker wees. Ook in hierdie konflik moet ons ‘n vredesboodskap laat hoor. Vrede wat slegs te vinde is in Jesus vir beide Jood en Palestyn.

Christene sal ‘n besondere liefde vir die Joodse volk hê, ons Verlosser was immers na die vlees ‘n Jood! Nooit sal Christene anti-Semities mag wees nie! Maar presies hoe moet hierdie liefde gestalte vind? Soos Paulus moet dit ons begeerte wees dat hulle tot redding deur Jesus Christus sal kom. “Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word...” (Romeine 10:1) Ons groot verpligting teenoor die Joodse volk is ‘n sendingplig! 

As Christene het ons egter ook ‘n sendingplig teenoor Moslems. As Christene altyd kant kies teen die Palestyne en selfs Palestynse Christene, hoe gaan ons die Moslems oortuig van God se liefde ook vir hulle? Is dit reg dat ons so blind is vir die nood van Palestyne?

As Christene het ons ‘n liefdesplig teenoor alle Christene. Moet ons nie dalk meer ondersteuning uitspreek en hulp betoon aan Palestynse broers en susters wat swaarkry nie?

Hierdie is maar net ‘n paar voorlopige basiese gedagtes. Maar dalk help dit ons om meer Skriftuurlik te dink oor ‘n baie aktuele saak.

*"Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel." (Eksodus 19:4-6)

"Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys." (1 Petrus 2:9-10)

Vir meer inligting, kliek op PALESTYNSE CHRISTENE


 Gaza - PressTV

Vir 'n volledige bespreking van hierdie saak, kliek op UITVERKORE VOLK.





Maandag 27 Februarie 2012

VEILIG IN DIE HEMELSE BRANDKLUIS

- moenie twyfel oor jou ewige erfenis nie!

Gestel ‘n brandarm man kry eendag ‘n brief van ’n prokureur. Na jare het iemand iewers ontdek hy is ‘n afstammeling van ‘n ryk koninklike in Europa en die enigste erfgenaam. Die koninklike het al jare gelede gesterf en het ’n kasteel en groot landgoed agtergelaat. Toe die arm man dit lees het daar hoop opgevlam in sy hart... wat ’n wonderlike erfenis! 'n Heerlike vooruitsig!  Maar namate die tyd vorder kom daar allerhande kwellings by hom op : hy het nie geld om te reis nie, hy wonder of die brief hoegenaamd eg is en as dit wel is in watter toestand die erfgoed is. Dalk is alles nou net ruïnes? Hy het steeds ’n mate van hoop, maar dis ‘n taamlik onseker en onrustige hoop. Dit skep eintlik meer onsekerheid as blydskap. Baie Christene se hoop op hulle ewige erfenis vertoon ook so ‘n onsekerheid en onrustigheid. Dikwels is ons hoop maar wankelrig en wek min blydskap.

Kind van God, ons behoort nie onrustig en onseker te wees oor ons ewige toekoms nie!

Kom lees saam met my 1 Petrus 1:3-5 en sien hoekom ons hoop vas en seker is!

God het ’n volk in hierdie wêreld. Dis nie die Jode (of die Afrikaners) nie, maar elkeen wat aan Jesus behoort. Anders gesê, dis die mense wat die wedergeboorte as geskenk ontvang het op grond van die opstanding van Jesus. Hier sien ons alreeds ’n rede waarom ons verlossing vas en onwankelbaar is. Dis nie gebou op ons eie werk of prestasies nie, maar op die heerlike vaste feit van die OPSTANDING VAN JESUS!* Hierdie volk van God is oor die hele wêreld verstrooi. Ons pas ook eintlik nêrens in nie. Ons is soos vreemdelinge. Ons het ’n ander Koning en ’n ander Vaderland! (Vers 1) Maar dit beteken nie ons is doellose swerwers en uitsiglose rondlopers nie. Ons is mense met vaste hoop!

Omdat ons God se kinders is, het hy ’n erfenis aan ons bemaak. Ja, daar is ’n ewige skat vir ons weggelê en dit word spesifiek ’n erfenis genoem. “Erfenis” - lui dit ’n klokkie? Erfenis/besitting is ’n belangrike en deurlopende tema in die Skrif. Dit word spesifiek gebruik ten opsigte van God se beloftes van ’n land aan sy volk Israel. God het ’n belofte van ‘n erfenis aan sy volk gemaak (Genesis 17:8; 28:4 Deuteronomium. 1:8, Psalm 79:1 - God se erfenis is besoedel) Hierdie belofte van hulle erfenis het Israel aan die gang gehou in hulle omswerwinge in die wildernis. Soos Israel is God se Nuwe Testamentiese volk (die Christene) ook swerwers deur hierdie wêreld, maar ons is nie bedelaars sonder hoop en eiendom nie! Ons is titelhouers van ’n erfenis. Hierdie erfenis behoort aan ons omdat Jesus uit die dood opgestaan het, nie omdat ons God self op een of ander manier beïndruk het nie. Ons behoud van ons erfgenaam status is ook nie afhanklik van ons prestasie nie. Hoe belangrik om dit te besef!

Niks kan met hierdie erfenis foutgaan of skeefloop nie, dis nie in die weegskaal nie. Ons erfenis is :

Onverganklik, onbesmet en onverwelklik!

Wat is die betekenis van hierdie drie terme? Nee, dis nie sommer maar net drie mooiklinkende woorde nie. Dis vol gelaai met betekenis vanuit die heilsgeskiedenis! Dit hou verband met die land Kanaän wat die volk Israel se erfdeel was.

~ In teenstelling met die aardse Kanaän, is die Kanaän van die voleinding, onverganklik! (onvernietigbaar) Julle sal onthou die aardse Kanaän is dikwels verwoes en geplunder deur Israel se vyande as ’n straf op hulle sondes. Die beloofde land van die verlede was maar baie kwesbaar! Ons hemelse erfenis daarenteen is egter onaantasbaar veilig. Geen duiwel en geen vyand kan daar bykom nie!

~ Ons erfenis is onbesmet. Dit was juis die tragedie met Kanaän. Israel het met hulle sondige praktyke hulle erfenis, Kanaän besmet en bevuil. Hulle het nie mooi gewerk met hulle erfgoed nie. Dis deur hulle afgodery en sonde bemors. Jeremia 2:7 (lees) In kontras hiermee sal die erfenis wat God vir diegene wat Jesus glo onbesmet en rein bly.

~ In teenstelling met die aardse Kanaän is ons erfenis onverwelklik. Dit sal nie uitdroog en verdor soos die land Kanaän destyds onder God se oordeel nie. Droogte was een van die strawwe van God oor sy volk.

Om dit saam te vat : Petrus stel hier die kontras tussen die aardse land Kanaän en ons hemelse erfenis. Israel het maar net die aardse Kanaän as ’n voorafskaduwing ontvang. Ons ontvang die hemelse vervulling daarvan. Israel se Kanaän was maar gebroke, juis vanweë Israel se sonde. Die beloofde land Kanaän was maar soos die geskiedenis dit leer ’n kwesbare stuk besit. Ons erfenis kan egter nie vernietig of besoedel word nie. Ons God beloofde erfenis word in die hemelse kluis bewaar. Dis bestand teen die bederf van die sonde en die bedreiging van dood.

Maar hier kom nou nog ’n verrassing : ons erfenis is nie net iets nie - dis Iemand! Dis God self! Dit wat God vir die hoëpriester Aäron gesê het sal nou waar word van elke gelowige - Numeri 18:20. “Ek is jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel” ** Die priesters van destyds het nie grond in Kanaän gekry soos die ander Israeliete nie, God self was hulle erfdeel! In die nuwe bedeling is alle kinders van God mos sy priesters! (Vgl. 1 Petrus 2:9-10)

God self  is ons ewige erfdeel en rykdom!

Ons weet nie wat ons ewige erfenis als behels nie, maar die essensie daarvan soos Openbaring ook leer is God self. God sal by die mense woon. Ons sal Sy heerlikheid sien! Hyself sal oor ons skyn! 'n Son gaan nie eers nodig wees nie. Hy sal ons volkome vertroos en vervul met sy teenwoordigheid! (Ons hoef dus byvoorbeeld nie debat te voer of ons in die hiernamaals troeteldiere sal hê nie!!)

Ons erfenis word gewaarborg met ’n hemelse sekuriteit.

Maar nou kom daar nog iets by. Ook die erfgename (ons)  word bewaar en beskerm. (Vers 5)  Dit sou maar min troos bied as die erfenis veilig sou wees, maar ons wat moet erf weet nie of ons behoue sal bly om dit in ontvangs te neem nie. Heerlik om te hoor : Ook ons word deur die “Krag van God” bewaar.

Hierdie feit moet ons troos! Wat kan fout gaan met iets wat deur God se krag gewaarborg word? Ons sien tog die tekens van God se krag - die heelal, die detail wondere van die skepping, die mens en veral die opstanding van Jesus!

Dis God wat ons bewaar. God se aksie. En tog ons is in dit alles nie passief en onbetrokke nie. Die manier waarop God ons bewaar vir ons erfenis, is via die weg van ons geloof. (Vers 5) Die krag is God se krag, maar God se krag maak ons nie toeskouers of robotte nie. God sluit die mens in by sy aksies. Ons aksie is geloof, volhardende geloof!

Nou wat staan my as kind van God te doen? Hoe stimuleer ek geloof in my eie eie hart? Hoe bevorder ek geloof?

John Murray gee kosbare insig oor hierdie saak : "It is not by looking within, in the attempts to discover the movements of God’s regenerative grace that faith is evoked. It is preoccupation with the glories of the Saviour that constrains faith.”

Dit beteken prakties : Hou op om te tob oor jouself en jou (swak) geloof en bedink Christus se heerlike persoon en werk! Aanskou en bewonder die afgehandelde werk van Jesus aan die kruis. Dis deur sy kruis en opstanding dat Hy vir ons plek berei het in die Vaderwoning! (Johannes 14:1-6) Sy kruisdood was voldoende. Die volledige prys is betaal. As ek my gedagtes en hoop fokus op Jesus dan sal ek agterkom hoe my geloof en vertroue groei. “Deur te sien op die kruis is daar lewe en heil....”

My broer en suster, jou erfenis word veilig bewaar vir jou! En jy word veilig bewaar vir jou erfenis! Deur die krag van God! Wees hieroor bly en volhard in die geloof.

 

* Lees ook : SPOKE EET NIE VIS NIE

** Ek verkies Numeri 18:20 in die Ou Vertaling. Dit stem ook ooreen met die NIV wat sê : “I am your share and your inheritance among the Israelites” en ook La Bible wat lees : “C'est moi qui serai ta part, ta richesse au millieu des autres Israélites” So pragtig, God self is ons rykdom!