BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Vreemdelinge. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Vreemdelinge. Wys alle plasings

Vrydag 13 Januarie 2017

REISGIDS VIR GOD SE VOLK

[ ‘n Bybelstudie reeks oor die 1 Petrusbrief]

No1 Seënwense vir God se ware volk op hulle pelgrimstog

Van Petrus, ‘n apostel van Jesus Christus. Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië.

Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus. Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees! (1 Petrus 1:1-2)


Ons leef in ‘n wêreld waar toerisme al ‘n al hoe groter bedryf word. Mense hou van toer en rondreis. Om ‘n vreemde land te besoek en by al die regte bestemmings aan te kom het mens inligting nodig. Hierdie inligting kry mens o.a. in reisgidse. Reisgidse oor allerhande eksotiese lande is baie volop. 1 Petrus kan beskryf word as ‘n reisgids vir God se pelgrimsvolk. Dis dus nodeloos om te sê dat al God se kinders hierdie brief se boodskap as ‘n saak van heerlike, maar ook dringende belangrikheid behoort te bestudeer.

Ja, God het ‘n volk in hierdie wêreld. Dis mense wat God se mense is. Wat ‘n heerlike gedagte - daar is mense wat God se eie mense is. Tussen die gewemel en gewoel op ’n besige straat in ‘n metropool...op ’n groot passasiersboot, in ’n oerwouddorpie...Wie is hulle en waar kom hulle vandaan? Wat word van hulle verwag en waarheen is hulle op pad? En wat van nou? - kyk wat se onaangename dinge gebeur met hulle - hoe moet hulle dit verstaan en hanteer? Wat is belangrik om in ag te neem as ons veilig by ons heerlike bestemming wil aankom, hoe moet ons optree in en teenoor ‘n vyandige wêreld ?

Reeds hier in die aanhef en groete van Petrus se brief kry ons al basiese antwoorde op hierdie vrae. In res van die brief word dit natuurlik al duideliker uitgespel. Die manier waarop Petrus sy geadresseerdes aanspreek en die dinge wat hy van hulle sê gee vir ons alreeds ‘n baie goeie aanduiding wie en wat God se volk is.

Petrus skryf vir die uitverkorenes, dit wil sê die kerk van Jesus in die genoemde gebiede. Dis duidelik nie net Joodse Christene nie, maar die kerk bestaande uit alle groepe, spesifiek ook heidene - mense wat voorheen geen volk was nie, maar nou die volk van God is. (vgl. 2:10) “Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys.”


Hier reg aan die begin gebruik Petrus twee insiggewende terme in verband met die uitverkorenes nl. vreemdelinge en verstrooiing.

Die woord vir verstrooiing is diaspora. Hierdie term is gebruik vir die Jode wat oor die wêreld nadat hulle in 587vC in Ballingskap weggevoer is. Ook het baie vrywillig geëmigreer oor hele wêreld. (orals het mens Jode gekry –dis eintlik vandag nog so.) Werklik ‘n verstrooide volk. Omdat Petrus hier met die kerk as geheel praat sluit hy egter sy heidenlesers in by hierdie term. Alle Christene is as God se volk in die diaspora - verstrooi oor die wêreld heen. Ja, iewers in elke land op aarde is daar van God se kinders te vinde! Al is hierdie mense oor die wêreld heen versprei is hulle deel van God se kudde. Ons as Christene is nie versamel in een land of stad nie, ons is versprei, rondgestrooi oor die lengte en breedte van die ganse aardbol. Natuurlik seker met ’n doel...

Hierdie gedagte sluit baie nou aan by die ander term wat Petrus gebruik. Hy noem die Christene - vreemdelinge. Dit lyk op oog af teenstrydig met die term uitverkore – uitverkore het die konnotasie van spesiaal begunstigde, maar ’n vreemdeling daarteenoor het die konnotasie van asielsoeker, ‘n tydelike gas in ’n vreemde land. (Dink maar aan die Siriese vlugtelinge in Europa) Vreemdelingskap is ‘n deurlopende tema in die brief. (vgl. 2:11) “Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ‘n mens se lewe.” Die gedagte hier is van ‘n vreemdeling wat net tydelik op ‘n plek bly, hy is op pad iewers heen, ‘n persoon in transito. Reisigers. Christene is op pad na hulle nuwe vaderland. Hierdie twee woorde in vers 1 is dus ‘n uiters raak en veelseggende beskrywing van ons as Christene se plek in die wêreld en verhouding tot die wêreld. Ten opsigte van hulle ware tuiste bevind Christene hulle in ‘n diaspora, ten opsigte van ons huidige tydelike woonplek is ons vreemdelinge. Maar ten opsigte van ons verhouding met God - uitverkorenes! 

Ons as God se kinders is (tydelike) inwoners van hierdie wêreld maar ons is draers van ‘n vreemde paspoort - die van ons ewige Vaderland.

Dis belangrik dat ons sal sien dat Petrus nie hier iets nuuts sê as hy na God se volk as vreemdelinge, verstrooides en by implikasie pelgrims verwys nie. Die hele Ou Testamentiese heilsgeskiedenis onderstreep al hierdie feit. 

God het Abram geroep tot ‘n pelgrimslewe van vreemdelingskap. As vreemdeling het hy in Kanaän rondgetrek. (Hy moes om sy vrou te begrawe, maar ‘n stukkie grond koop!) 

Eweneens in Egipte was die volk Israel onaanvaarbare vreemdelinge, wat uitgebuit en verdruk is. Persona non grata. Vreemdelinge in ‘n vreemde land!

Nadat God hulle verlos het uit Egipte - word Israel geroep om as ‘n pelgrimsvolk deur die wildernis te trek. Hulle woestyn ervaring dien as model vir ons om ons pelgrimslewe as verlostes te verstaan. God het sy volk in die woestyn versorg, getoets en beproef totdat hulle hulle bestemming sou bereik. 

Ons pad na die volmaakte bedeling is ‘n pelgrimspad, ‘n wildernispad van teenstand en beproewing, maar ook ‘n pad waartydens ons die Here se genadige bewaring en versorging ondervind.

Ook in die verdere Ou Testamentiese geskiedenis kom hierdie beginsel ter sprake. Nadat Israel se sonde weer God se oordeel oor hulle gebring het, het die profete in hulle boodskap van destyds weer by die Eksodus en vreemdelingskap temas aangesluit. Israel was nou weer vreemdelinge in ‘n vreemde land (in ballingskap in Babilonië), maar die profete het aangekondig dat God hulle weer sou verlos soos Hy hulle destyds uit Egipte verlos het. (vgl. Jeremia 23:7,8) God sou weer sy kinders uit ballingskap lei na hulle beloofde land. Hierdie tema kom weer baie duidelik na vore in die aankondiging van Johannes die Doper se bediening in Jesaja 40:3-5. Die belofte van God wat Sy volk na vryheid en ‘n nuwe land lei vind vervulling in Jesus. Hyself is die pad van verlossing. Hy bring ons na ons ewige bestemming. Daarom is dit uiters veelseggend as Jesus juis in die konteks van ons ‘n verwysing na ons ewige tuiste vir Sy dissipels sê : “Ek is die weg, die waarheid en die lewe.” (Johannes 14:1-6) Christene is dus mense wat Jesus in hierdie vyandige wêreld volg na die ewige tuiste wat Hy vir ons deur sy dood aan die kruis berei het. Ons volg Jesus as pelgrims op pad na ewige Vaderland. Ons volg Hom omdat ons deur God in Hom uitgekies is.

Reeds in die aanhef van die brief word die voorreg sowel as die problematiek van die Christene vir wie Petrus skryf aangedui. Hierdie voorreg is die voorreg van elke Christen, maar hierdie probleem is ook die probleem van elke Christen. Dis 'n ongelooflike voorreg om uitverkorene te wees oppad na ’n hemelse erfenis, maar ons beleef ook swaarkry, krisisse, stryd en verguising as vreemdelinge in hierdie bose wêreld waarin ons nie pas nie.

Bevoorregtes wat nou verontregting beleef!

Permanente burgers van die Koninkryk wat nou as pelgrims ‘n tydelike vreemdelingbestaan voer!

Wanneer die Bybel oor God se volk praat - kom die term uitverkore altyd onvermydelik ter sprake. Die wat God se volk is, is God se volk primêr vanweë God se genadige verkiesing. (byv. Abram) Uitverkiesing is nie ’n spekulasiewoord nie, maar genadewoord; dit dui op onverdiende guns. Dis ’n Woord wat eer bring aan God!

Christene is vreemdelinge, tydelike reisigers in hierdie wêreld. Dis nie maar toevallig so nie, en dis ook nie maar net waar van sommige Christene in sommige gevalle nie. God se mense kan nie anders as om vreemdelinge te wees in ‘n wêreld wat in rebellie teen God is nie! Hoekom God se kinders is ’n nuwe skepping Dis noodwendig en onvermydelik dat elke kind van God ‘n vreemdeling sal wees, ‘n reisiger wat nie pas en tuis is in hierdie wêreld nie. As jy altyd welkom is in die wêreld, altyd deel voel en hulle ambisies en sentimente deel, kom dit daarop neer dat jyself heel waarskynlik maar nog ‘n rebel teen God is ten spyte van jou sogenaamde Christenskap...

Donderdag 01 Desember 2016

KINDERS VAN DIE STALBABA...

...VREEMDELINGE IN HIERDIE WÊRELD, MAAR JUIS DAAROM HEERLIK ANDERS, POSITIEF VERSKILLEND!



Lukas 2:7 - “Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.” 


Die betekenis is duidelik, daar was (is) nie plek vir Jesus in ons "beskawing" nie, Hy is ‘n buitestaander, vreemdeling, bywoner...

...en Sy volgelinge?

1 Petrus 2:11,12 - “Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ‘n mens se lewe. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.” 

Die afleiding is baie logies. Jesus se volgelinge is dus kinders van ‘n Stalbaba, hierdie Uitgeworpene vir wie daar nie eers as pasgeborene ‘n plek was nie... Ware kinders van God is mense wat ANDERS is... Ons lojaliteit lê by ‘n ander Koning en ‘n ander Vaderland en ons het ‘n ander leefstyl. Daarom is ons ook maar verworpenes en buitestaanders...

Kinders van God is mense wat deur hulle persoonlike geloof in Jesus en sy kosbare bloed, verlos is van hulle ou sondige bestaan en leefwyse en daarom nou ‘n ander leefwyse en leefstyl het. Daar is ‘n reuse kontras en verskil tussen ons manier van dink en doen en die wêreld waarin ons onsself bevind. Hierdie waarheid het Petrus reeds aan die begin van sy brief beklemtoon waar hy die kinders van God as “vreemdelinge” aanspreek. (1:1) Hier stel hy dit nog sterker as hy die Christene pertinent “vreemdelinge en bywoners noem.” Die kontras tussen God se uitverkore kinders en die wêreld waarin ons tydelik woon is seker geen tyd van die jaar duideliker as gedurende die komende feesseisoen en vakansietyd nie! Dis hierdie tyd van die jaar waarin ons so maklik versoek word om vrye teuels gee aan die uitlewing van ons bose begeertes. Christene leef nie veilig in ’n kweekhuis nie maar in ’n rowwe vyandige goddelose wêreld . Ons leef nie afgesonderd eenkant nie, maar onder die kritiese oë van ons medemense. Die ouens “watch” jou as jy al gesê het dat jy ’n Christen is! Ons dryf ook nie bo die wolke nie maar binne die normale maatskaplike en sosiale strukture van ons omgewing. Hoe gaan ons dit regkry om positief anders te wees (met blydskap) in ‘n stukkende vyandige wêreld?

Die eerste stap tot ’n regte lewensstyl is - Onthou wie jy is. Kind van God, hierdie wêreld met hierdie sondige kultuur is nie jou permanente tuiste nie... Deur die WEDERGEBOORTE is jy ‘n burger van ‘n ander koninkryk, jy is ‘n onderdaan van ‘n ander Koning!

Ja, jy is ‘n onderdaan van Koning Jesus wat reeds van sy geboorte af ‘n uitgestotene en verworpene was. 

En daarom is dit normaal as almal in hierdie wêreld nie van jou gaan hou nie. Dis normaal as jy uitgestoot, beledig en vervolg word. Samuel Rutherford, die Skotse Godsman het dit so treffend gestel : “As julle nie vreemdelinge was nie, sou die honde van die wêreld nie vir julle geblaf het nie.”

Hou vas aan jou nuwe identiteit as burger van God se koninkryk. Herinner jouself daaraan. Kom ons wees prakties – die advertensiewese maak ‘n geweldige appèl op ons almal – natuurlik om soveel moontlik geld uit ons te kry. Die advertensies wil ons vertel hoe lyk ‘n suksesvolle man, hoe lyk ‘n mooi vrou, hoe lyk en doen ‘n gelukkige mens - jy moet baie geld hê, jy moet uitlokkende klere dra, jy moet grootpraat en jou prestasies op Facebook uitbasuin... Dis dan wanneer jy vir jouself moet sê : “My geluk en vrede vind ek op ‘n ander manier as wat die reklame wêreld my wil wysmaak. Hierdie advertensies het eintlik niks met my te doen nie, want ek behoort nie aan hierdie verbygaande koninkryk nie, maar aan die ewige koninkryk!” Hierdie wêreld en sy bates en plesiere gaan verby... (lees 1 Joh 2:15-17.)

Die tweede stap is - Onthou jou van slegte begeertes. Dit lyk my Petrus aanvaar dit as vanselfsprekend dat ons met slegte begeertes gekonfronteer gaan word. Die vraag is net hoe gaan ons dit hanteer? Die Bybelse raad is deurgaans :

Vermy, bly weg van wat verkeerd is. 

Bly weg van verkeerde gewoontes, dinge wat slegte begeertes in jou wek..... Maak werk daarvan : bedenklike tydskrifte, “songs”, TV, ja ook verkeerde vriende... “Vermy die begeertes wat ‘n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ‘n rein hart die Here aanroep.” (2 Timoteus 2:22) Die OAV stel dit sterker – “vlug”. Jesus self was baie radikaal in sy raad teen verkeerde begeertes. "As jou hand of jou voet jou van My afvallig maak, kap hom af en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om vermink of kreupel die lewe in te gaan as om met altwee jou hande of voete in die ewige vuur gegooi te word. En as jou oog jou van My afvallig maak, ruk hom uit en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om met een oog die lewe in te gaan as om met altwee oë in die vuur van die hel gegooi te word." (Matteus 18:8,9) Baie belangrik- ons moet ons nie onttrek aan ons medemense opsigself nie, maar aan hulle verkeerde gedrag. Ons kan egter verwag dat mense ons verkeerd sal verstaan as ons nie saam met hulle die verkeerde doen nie. “In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg— en drinkpartye en afskuwelike afgodery. Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle.” (1 Petrus 4: 4,5)

Die derde stap is - Hou jou lewenswandel skoon en doen goeie werke. Leef ’n voorbeeldige lewe. ’n Heilige en voorbeeldige lewe is ten diepste goed. Gaan uit jou pad uit om goed te doen aan ander! (Titus 3:8) Op die ou end moet mense dit insien en erken. Ons goeie lewens moet mense se kritiek laat omsit in bewondering. Ons lewens moet aantreklik wees vir ander mense. Dis ‘n feit, daar is so ’n tekort aan aantreklike lewens - liefdevolle en getroue huwelike, gelukkige gesinne, rustige hardwerkende mense, lewens sonder allerhande vrese en gejaagdheid...

 Vriendelike heiligheid, nie dikbek heiligheid nie. Vreugdevolle heiligheid, nie ‘n droewige heiligheid nie. Positiewe heiligheid, nie ‘n heeldag geklae oor die regering, die ekonomie en al die slegte mense nie! 

Wys met jou ‘n lewe ‘n positiewe alternatief vir die wêreld met sy skynvreugdes, die ydele gejaag na wins, die verstikkende selfbejammering en selfsug. Ons blye heiligheid moet uitgestal word. Dis in lyn met Jesus se opdrag – “Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en God verheerlik!” (Matt 5:16) So kan mense wat nou nog krities teenoor Christene staan oortuig word en God op die oordeelsdag verheerlik.

Opsommend :

1.Laat ons voortdurend bewus wees van wie ons is - vreemdelinge en bywoners. Ons pas nie hier nie, ons hoort nie hier nie! Maar ons is wel voluit betrokke omdat dit God se wil is dat ek en jy nou hier moet wees!

2.Christene se getuienis sal effektief wees wanneer hierdie getuienis nie net woorde wees nie, maar goeie dade wat sigbaar is. Wat sien mense, wat hoor mense nou op hierdie tyd in jou lewe? Wat gaan hulle in hierdie feestyd van ons sien? Sal dit hulle bring tot verheerliking van God of sal dit hulle nog verder afstoot van God ?

3.Ons wen nie mense vir die waarheid deur te konformeer nie, maar juis deur anders te wees in alle opsigte. Die kerk het net aantrekkingskrag solank ons anders as die wêreld is. Solank ons ‘n alternatief verkondig en uitleef!

GAAN LEEF NOU HEERLIK ANDERS, POSITIEF VERSKILLEND AS 'N VOLGELING VAN DIE STALKIND!


Persoonlik - ons beoog om andere hierdie vakansie 'n draai te maak op Koppies in die Vrystaat waar ons 'n kort maar besondere tydjie in ons lewe kon deurbring... en ja, dis hoe Marisja en Jonette op 'n tyd gelyk het...



Maandag 01 Desember 2014

ANDERS!

-maar hoe anders? 


‘n Christen is iemand wat die goeie nuus gehoor het : “Jou sondes is uitgewis!” ‘n Christen is ook iemand wat gereageer het op die daaropvolgende uitnodiging : “Keer terug na my!” (Kliek op UITGEWIS) As die goeie nuus van Golgota my hart gegryp het en ek my bekeer het tot die Here kan ek nooit meer dieselfde wees nie. Die Christen is daarom in wese ANDERS! Die vraag is nou net hoe anders, in watter opsigte? Ons bly tog mos gewone mense, ons werk, ons trou, maak kinders groot, ons is landsburgers, ons het ook ontspanning nodig soos alle ander mense...

Petrus vertel ons...

“Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ‘n mens se lewe. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.” (1 Petrus 2:11,12)

ONS STATUS OP AARDE IS DIE VAN VREEMDELINGE EN BYWONERS!

Hoe moet ons dan anders wees? Petrus beskryf ons andersheid baie treffend deur die woorde vreemdelinge en bywoners. Die term vreemdelinge het hy reeds in 1 Petrus 1:1 in sy aanhef aangeroer. “Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld,...” Die terme sê so baie - ’n vreemdeling en bywoner in ’n land neem voluit deel aan die lewe, maar hy is in wese anders en sy ware lojaliteit lê elders in sy eie vaderland! In alle opsigte verskil hy van die huidige tydelike kultuur en leefstyl - sy waardes, gewoontes, maniere, lojaliteite... selfs kleredrag vertoon ‘n ander invloed. Die punt wat Petrus baie duidelik wil stel is : Kinders van God mag nie konformeer nie, mag nie dieselfde gewoontes hê nie, dieselfde gedrag openbaar as wat in die huidige goddelose wêreld waar ons woon aan die orde van die dag is nie. 

Petrus is nie die enigste Bybelskrywer wat ons verhouding met die wêreld so beskryf nie. Ook die Hebreër skrywer in Hebreërs 11:10,13,14; 13:14 onderstreep hierdie waarheid. “...(Abram) het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is....Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na ‘n vaderland... ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.

Ook Paulus beklemtoon dat ons burgerskap nie regtig hier gesetel is nie! “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.” (Filippense 3:20) 

Petrus lig vir ons drie sake uit met betrekking tot ons andersheid:

~ Die andersheid van die Christen lê dus eerste daarin dat ek my unieke eiesoortige identiteit sal besef. Dus : Onthou wie jy is. ‘n Tydelike vreemdeling en ‘n bywoner! Hierdie wêreld met sy sondige kultuur is nie jou permanente tuiste nie... Dis nie ons finale bestemming en ware lojaliteit nie. (Dis veral belangrik om jouself hieraan te herinner in tye wanneer dit baie goed gaan en jou besigheid net groei en groei. Besef dan – “ek gaan nie vir altyd hier wees nie, ek moet nie perspektief verloor nie”, maar ook in tye wanneer dit sleg gaan, wanneer die besigheid misluk of ek gediagnoseer word met ‘n ongeneeslike siekte... weet dan - “hierdie omstandigheid het nie die laaste sê nie, daar wag vir my ‘n ewige heerlikheid in my ware vaderland...”)

~ Tweedens bestaan ons andersheid daarin dat ons radikaal sal kies teen die slegte begeertes en waardes wat die mense en omgewing rondom ons beheers en bepaal. Verkeerde begeertes wat gestimuleer word deur alles wat ons rondom ons sien en beleef, hou ’n permanente bedreiging in vir die Christen. Die uitspattige leefstyl van die bure, die uitlokking tot losbandigheid op die tydskrifvoorblaaie, elke dag se neagtiewe nuus... Hierdie slegte begeertes was vroeër deel van Christene se lewens, dis nou agtergelaat, maar dit hou nog steeds gevaar in… Vermy dit, bly weg van wat verkeerd is, moenie toegee en swig nie. Tree aktief op en vrae jouself : Moet ek deur daardie tydskrifte op die winkelrak blaai, moet ek na daardie "songs" luister, is daardie sepie op TV bevorderlik vir rein gedagtes? Beteken dit ons moet kluisenaars of nonne word? Nee! Ons moet ons nie onttrek aan ons medemense opsigself nie, maar aan hulle verkeerde gedrag.*  Hierin was Jesus vir ons ‘n radikale voorbeeld en rolmodel. “Die Here Jesus was nie ‘n kluisenaar nie...Hy het Hom nie prakties afgesny van die samelewing nie, maar tog was Hy innerlik vry en afgeskei van die wêreld. Hy was nie afgetrokke of afsydig nie... Om die waarheid te sê, Hy was in so ‘n mate deel van die alledaagse wêreld, dat die godsdienstige mense van sy tyd Hom as ‘n vraat en ‘n wynsuiper beskou het. Tog het ons Here nooit toegelaat dat iets inbreuk maak op die toewyding van sy geestelike krag nie.” (Oswald Chambers) Wees radikaal anders in jou optrede te midde van ander mense. 

Almal sal egter nie ingenome wees met jou nuwe gedrag nie! Ons kan verwag dat mense ons verkeerd sal verstaan as ons nie saam met hulle die verkeerde doen nie. “Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle.” (2 Petrus 4:4!) Juis die teenkanting en spot wat ons van die wêreld moet verduur is ‘n aanduiding dat ons op koers is na ons ewige Vaderland en nie hier hoort nie! Samuel Rutherford vat dit so raak : “As julle nie vreemdelinge was nie, sou die honde van die wêreld nie vir julle geblaf het nie.” 

~ Derdens moet ons andersheid gekenmerk word deur ‘n positiewe heilige andersheid. Dit gaan dus nie net oor dinge wat ons nie meer doen nie, maar veral oor dinge wat ons nou wel moet doen in ons omgewing waar ons tydelik leef! Leef ’n voorbeeldige lewe. ’n Heilige en voorbeeldige lewe maak ‘n positiewe verskil. Op die ou end moet mense dit insien en erken... en ja, dit kan selfs tot hulle bekering lei! Ons goeie lewens moet mense se kritiek laat omsit in bewondering. (Kliek op AGENDA IN HEIDENSE SAMELEWING) Ons lewens moet aantreklik wees vir ander mense. Daar is juis so ’n tekort aan aantreklike lewens - liefdevolle en getroue huwelike, gelukkige gesinne, rustige hardwerkende mense, eerlike besigheidsmanne, kwaliteit ambagsmanne, lewens sonder allerhande vrese en gejaagdheid, tevrede mense, nederige kampioene, blymoedige pasiënte, eerlike belastingbetalers, gehoorsame landsburgers wat die gesag oor ons respekteer! “omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid,...” (1 Petrus 2:14) Hierdie sigbare leefstyl van anders wees is in lyn met Jesus se opdrag – “Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en God verheerlik.” (Matt 5:16) So kan mense wat nou nog krities teenoor Christene staan oortuig word, hulle bekeer en God op die oordeelsdag verheerlik. 

‘n Wegkruip lewensstyl is nie ‘n opsie vir die Christen nie! ‘n Wegwyser lewe (na ‘n beter alternatief) is ons plig!

Kom ons raak sommer lekker prakties : Ons dra klere nes alle mense, maar ons word nie oorheers en gedryf deur die goddelose kaalgat modegiere van hierdie wêreld nie. Ons versorg ons liggame, maar ons hoef dit nie voor wellustige oë op SKOONHEIDSKOMPETISIES en die strand uit te stal nie. Ons leef gesond en verantwoordelik, maar glo nie in ‘n heidense ideaal van “Forever Young” nie! Ons werk en doen besigheid soos ander mense, maar ons word nie verteer deur geldgierigheid nie. Ons geniet ons kos, maar is nie vrate wat leef om te eet nie! Ons pas ons eiendom op, maar ons blydskap word nie bepaal deur die hoeveelheid van ons besittings nie. Ons bly in huise soos ander mense, maar ons rig nie vir ons kastele op asof ons vir altyd hier gaan bly nie. Ons is burgers van ‘n bepaalde land en lede van ‘n bepaalde volk wat ons pligte nakom, maar ons verabsoluteer en romantiseer dit nie, want ons weet ons ware burgerskap is elders! Maar omdat ons ‘n vaste burgerskap en ‘n ewige sekuriteit het, kan ons juis ook nou vreugdevol, vriendelik, kreatief, entoesiasties, tevrede, sonder vrees en swaarmoedigheid hier en nou leef. 

Dis die aantrekkingskrag en effek van die evangelie – anders, ja, heilig anders, maar juis blymoedig anders!

* Van Houwelingen: “Bepalend voor het christelijk leven is niet de distantie tot de medemens zelf, maar tot het bedorven leven dat hij leidt”.