BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Afrikaanse ateïste. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Afrikaanse ateïste. Wys alle plasings

Donderdag 04 Julie 2013

HELP DIT OM TE BID?

- Ja, selfs ’n diktator kan nie keer dat God sy kinders help nie!

In die media is daar soms ‘n debat aan die gang of gebed enigsens ‘n verskil maak. Die argumente wat rondgestrooi word, ontbloot  natuurlik  net die mens se totale onkunde oor gebed.  Die algemene vertrekpunt is dat gebed ‘n metode is om die lewe hier op aarde geriefliker vir onsself te maak. ‘n Towerstaffie wat  probleme soos armoede, siekte en misdaad van ons voorstoep af moet weghou. Waar hierdie probleme na gebed nie verdwyn nie, gryp godloënaars (en veral die nuwe arrogante Afrikaanse ateïste) dit gretig aan as bewyse dat God nie bestaan of nie gebede kan verhoor nie. Wat ‘n dwase mistasting!  Die hele konteks en aard van gebed soos dit veral in die Onse Vader na vore kom word gerieflikheidshalwe verswyg. Gebed is nie ‘n greep op God om Hom in ons diens te stel nie, maar is juis  die manier hoe ek myself tot sy diens beskikbaar stel, in die groot doelwitte van die eer van sy Naam, die koms van sy Koninkryk en die doen van sy Wil! En ja, wie hiermee besig is, kan inderdaad vir sy Hemelse Vader vra om te voorsien wat ons op hierdie pad nodig mag kry. Ons is mense met fisiese nood en ons mag dus bid vir ons daaglikse behoeftes, ons is steeds onvolmaak en het vergifnis nodig en mag daarvoor bid, ons is in ons oppadwees na God se doelwitte teikens van die Satan en mag daarom bid dat God ons van die bose sal bewaar! (Kliek op U-draai in die Binnekamer)

Ek het onlangs weer ‘n aangrypende voorbeeld van gebedsverhoring raakgelees in Jan Pit se boek, “PARAAT VIR DIE EINDSTRYD”. Dis ‘n dramatiese antwoord op gebed  wat hy en die bekende Broer Andrew van GEOPENDE DEURE destyds in Uganda onder die gruwelbewind van die diktator Idi Amin beleef het. Dis maar net ‘n bevestiging, dat God gebed verhoor, soos Hy wil, maar dit gebeur in die konteks van ons bevordering van sy eer en die beywering vir sy Koninkryk en die doen van sy wil!

Hier is Jan Pit se verhaal:

In 1976 het Broer Andrew en ek die eerste maal Uganda besoek. Ons was daar op uitnodiging van die Anglikaanse kerk om te sien wat ons vir die Christene in daardie land kon doen. Die nood was groot, en na baie gesprekke met die kerkleiers, het ons besluit om 
50 000 Bybels na Uganda te stuur.

Dit was ‘n gevaarlike reis, maar ons het geweet dat daar baie gebedsgroepe was wat saam met ons in die stryd was. Die vrug op hulle voorbidding was ‘n geweldige oorwinning. Die dag voor ons terugreis, het ons na die reisburo in Kampala gegaan om ons vlug te bevestig. Hoewel ons geldige vliegtuigkaartjies gehad het, blyk dit skielik dat ons name op die waglys staan. Ons sê toe dat ons ons terugreis reeds in Kenia bespreek het en dat hulle dit via die rekenaar kon nagaan.

Die dame glimlag net en sê dat daar nie rekenaars in Uganda is nie. Ons name was heeltemal onder aan die waglys, met 16 name voor ons s’n. Die probleem was dat ons visums die volgende dag sou verstryk het. As ons dus nie plek op die vliegtuig kry nie, sou ons die volgende dag onwettig in Uganda wees. Vriende het vir ons gesê dat dit waarskynlik ‘n plan van Idi Amin was om vir ons in die moeilikheid te bring en dat ons daarom op die waglys geplaas is.

Ons kon hoog of laag spring, niks het gehelp nie. “Nou, as hoogspring nie help nie, laat ons dan maar na die Hoogste bid”, het Broer Andrew gesê. Ons het teruggegaan na ons hotelkamer en daar neergekniel voor die Here.

Ons het geweet dat dit ‘n geestelike stryd was. Idi Amin wou ons nie laat gaan nie. Ons gedagtes het uitgegaan na ons gebedsvriende. “Here, lê dit op hulle harte om vir ons te bid,” het ons vir die Here gevra. Ons het gepleit op God se belofte dat Hy in al ons behoeftes heerlik sal voorsien.

Was ons nie dan sy ambassadeurs nie? Dan moet ons tog ‘n ambassadeursbehandeling verwag!

Die vliegtug sou die middag om vyfuur vertrek. Ons besluit om vroeg na die vliegveld op Entebbe te gaan om te kyk of daar nog iets vir ons gedoen kan word. Toe ons daar kom, was daar niemand te sien nie, behalwe twee passasiers wat ook al opgedaag het. Hulle het by die toonbank gestaan waar ons later ons bagasie moes inweeg.

Na ‘n halfuur het nog meer passasiers gekom en agter ons kom staan. Die ry het langer geword. Die dame wat vir ons die sitplekkaartjies moes gee, daag egter nie op nie. Dit was al vyfuur en nog was sy nie daar nie. Gelukkig kon ons die vliegtuig sien, klaar om te vertrek. Om halfses kom sy toe, saam met ‘n Ugandese soldaat. Hy gaan staan agter die toonbank en roep uit dat ons moet stilwees en luister. Dit word dadelik doodstil. Toe verskaf hy die volgende mededeling : “Dames en here, u moet goed na my luister. Ek wil g’n paniek hê nie. Daar is ‘n probleem, want ons weet nie waar die passasierslys is nie. Ons begin dus voor; wie eerste gekom het, sal eerste gehelp word.”

Broer Andrew en ek kyk vir mekaar. “Halleluja! Halleluja!” sê ek saggies, om daarna gou my mond te hou. Stel jou voor dat die soldaat dit hoor! Vyf minute later het ons ons instapkaartjies.

Ons sitplekke is nie aangewys nie, want dit was nie nodig nie. Die vliegtuig is gewoonweg gevul; wie te laat gekom het is teruggestuur. Broer Andrew en ek het as die eerstes die vliegtuig ingestap! Ek vra toe vir die lugwaardin waar ons moes gaan sit. “U kan gaan sit net waar u wil, meneer, die hele vliegtuig is tot u beskikking!”

Werklike ambassadeursbehandeling! “Dankie, Here...eh...Juffrou”, sê ek, en sak in die eerste die beste stoel. Later het ons gehoor hoe die Here dit op die harte van gebedsvriende gelê het om vir ons te bid. “Ek het so baie aan julle gedink en geweet dat julle in die moeilikheid was, “ sê ‘n suster later aan my.

Dit is die realiteit van die geestelike stryd. Ons gebedsvriende was nie by ons in Uganda nie, maar het geweet dat ons in die nood was. Hulle het gebid... en die passasierslys het verdwyn!


Saam met die psalmis kan al God se kinders net bely en mekaar aanspoor: 

“o Hoorder van die gebed, tot U moet alle vlees kom!” 
(Psalm 65:2)

Maandag 01 Julie 2013

GOD SKRIK NIE

- Hy lag sy vyande uit en stel hul voor ‘n ultimatum!

Wie is aan die wen, Jesus of die wêreld se magte en invloede? Maak die evangelie nog ‘n merk? Is ons nie dalk die laaste geslag Christene nie? Op NUUS24 verklaar iemand : ‘Jesus sterf (permanent) in 2038’. Uiteraard is dit ‘n voorbarige stelling van een van die nuwe Afrikaanse ateïstiese aandagsoekers, maar ongetwyfeld is daar oraloor ‘n haat teen God en sy kinders te bespeur. Maar miskien het jy tog ook al gewonder : “Gaan Bybelgetroue en toegewyde Christene nie ‘n bedreigde spesie word nie?” 


Psalm 2 gee ‘n baie duidelike antwoord. ‘n Heerlike troosvolle hoop! Maar ook iets meer as dit!

Ons kan die inhoud van die psalm in vier dele verdeel (kyk saam):

· Vers 1-3. “Waarom is daar onrus onder die volke, waarom smee die nasies planne—en dit tevergeefs?
Die konings van die aarde is in opstand, die leiers span saam teen die Here en teen sy gesalfde en sê: "Kom ons maak ons vry en gooi hulle juk af!"

Die opstand van die wêreld (konings en nasies) teen die Here en Sy Gesalfde word beskryf. Dis ‘n gesamentlike wêreldwye rebellie. Die mens verwerp God se heerskappy en besluit dat hy sy eie kop wil volg en sy eie reëls wil maak, nes ons oervader, Adam! Reg hier aan die begin word al gemeld dat hierdie opstand tevergeefs is - dis futiele dwaasheid om jou rug vir God styf te maak!

· Vers 4-6. “Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit, die Here spot met hulle.
Hy spreek hulle aan in sy toorn, in sy gramskap jaag Hy hulle op loop: "Dit is Ek wat hom as my koning gesalf het op Sion, my heilige berg."

God se reaksie teen hierdie rebellie toon Sy absolute oppermag. Sy reaksie? - Hy lag vir hulle; dis nie ‘n vriendelike lag nie, maar Hy lag hulle uit omdat hulle optrede onsinnig en dwaas is. (Hierdie klomp anti God aktiviste laat mens dink aan ‘n klein hondjie wat grommend agter ‘n vragmotor aanstorm…) Maar hulle opstand maak God ook toornig. Ons moet dalk weer kennis neem dat God ook kwaad kan word! Hy laat almal goed verstaan : Ek stel my Gesalfde aan oor Sion; Ek beveilig die Gesalfde teen die aanslag en niemand kan iets daarteen doen nie.

· Vers 7-9. “Ek wil vertel wat die Here aangekondig het. Hy het vir my gesê: "Jy is my seun, van vandag af is Ek jou Vader.
Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting.
Jy sal hulle verpletter met jou ystersepter, hulle flenters slaan soos ‘n kleipot."

Dan kom die Gesalfde self aan die woord en kondig die inhoud en bepalings en beloftes aan wat Sy aanstelling behels. Die heerlikheid en mag van die Gesalfde word beskryf: Die Gesalfde se legitimering en posisie (God se Seun), sy omvangryke erfporsie (volke, die hele aarde) en universele volmag (HY sal sy vyande verpletter en flenters slaan) word beskryf.

· Vers 10-12. “Wees dan nou verstandig, konings, wees gewaarsku, regeerders van die aarde! Julle moet die Here met ontsag dien, Hom met vrees en bewing toejuig en Hom onderdanig wees, sodat Hy nie toornig word en julle op die pad omkom nie, want sy toorn ontvlam gou. Dit gaan goed met almal wat by Hom skuiling soek.” 

Hier word daar as’t ware ‘n ultimatum gerig aan die opstandelinge om hulle aan die Here (en Sy Gesalfde)te onderwerp. Onderwerp julle anders staar julle vernietiging in die gesig. Hierteenoor word die positiewe ook gestel : Gelukkig is die wat by Hom skuiling soek! Ware redding en sekuriteit is alleenlik by Hom!

DIE GESALFDE

Dis duidelik dat die boodskap van Psalm 2 draai rondom die “Gesalfde”. Wie is die gesalfde? (dis die kruks van die saak) Baie sien hom bloot as een of ander koning uit die Dawidsdinastie. Christene kan nie anders as om raak te sien dat dit hier uitendellik gaan oor Jesus Christus, God se Gesalfde uit die nageslag van Dawid nie! Daar is goeie redes om dit te glo. Kom ons kyk eers wat sê die Nuwe Testament:

· Dis ‘n algemene beginsel uit Jesus se eie mond dat daar oor Hom geskrywe is in die Psalms (Lukas 24:44) 

· Uit meer as een plek in die NT blyk dit dat die apostels die koms van Jesus as ‘n vervulling van spesifiek Psalm 2 beskou. Trouens Psalm 2 word deur die NT skrywers as een van die kroongetuies gebruik om aan te toon dat die beloftes van die OT in vervulling gegaan het. In ‘n tyd van benoudheid en vervolging gryp die eerste gemeente in hulle smeekgebed (Handelinge 4:25-28) tot God juis terug na hierdie belofte en word dit duidelik met Jesus in verband gebring. In Handelinge13:32-33 verwys Paulus na die tweede psalm binne die konteks van Jesus se opstanding. In Hebreërs 1:4-5 word Psalm 2 aangehaal om die voortreflikheid van Christus bo die engele aan te toon en in Hebreërs 5:5 word dit aangewend om die verheerliking van Jesus as Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek te besing. Die weerklank van hierdie psalm kry ons ook in Openbaring 2:27 waar Christus na vore tree as die een wat die nasies sal regeer met ‘n ysterstaf. (Sien ook Openbaring 12:5;19:15)

· Nog meer merkwaardig; die gebruik van Psalm 2 in verband met Jesus word deur God self ondersteun as die Goddelike stem sinspeel op die woorde van hierdie psalm by die doop van Jesus (Markus 1:11). Ook op die berg van verheerliking kry ons ‘n eggo van hierdie woorde. (Matteus 17:5) Petrus herinner sy lesers aan hierdie gebeure in sy tweede brief (2 Petrus 1:16-18) Uit die daaropvolgende verse blyk dit dat Petrus hierdie woorde van die stem koppel aan die “profetiese woord wat baie vas is”. Die stem uit die hemel is in lyn met die profesie.

Wat sê die psalm self?

In Psalm 2 het ons nie bloot met aannemings terminologie te doen (waar God die Dawidiese koning as Sy seun aanvaar of beskou nie), maar met verwekkingsterminologie.* “Gegenereer (OAV), is ek jou Vader (NAB)” is die vertaling van die Hebreeuse woord “jalad” wat as ‘n vrou die subjek is met “baar, in die wêreld bring” vertaal word (byv. Gen 3:16) en as ‘n man die subjek is eerder met “verwek, procreate” vertaal moet word. God sê wel dat Hy vir Dawid se seuns ‘n vader sal wees (2 Sam 7:14; 1 Kron 28:6), hulle sal kan sê, “My Vader”(Psalm 89:27) maar dit is nog nie dieselfde as om te sê dat God ‘n seun vir Dawid sal verwek nie van wie sonder meer gesê kan word “U is my seun” nie.

In Psalm 89 word daar gekla dat as gevolg van God se straf oor die sonde van Dawid se huis, daar weinig tereggekom het van God se beloftes aan Dawid ten opsigte van sy nageslag. In teenstelling met Psalm 89: 30-33 waar die seëninge voorwaardelik is, is die eenheid tussen God en Sy Gesalfde in Psalm 2 onvoorwaardelik.

Histories kan Psalm 2 moeilik inpas by enige een van die Dawidiese konings se tyd en omstandighede. Hier word van opstand deur die konings van die aarde gepraat, maar die Judese konings het nooit juis oor ‘n groot gebied regeer nie. Slegs Dawid self en Salomo het oor groot gebiede regeer, maar nooit oor die ganse aarde nie.

Daar word nie gesê dat die Gesalfde sal regeer oor Jerusalem nie, maar oor “Sion, my heilige berg”. Sion is in die besondere sin die aanduiding van die tempelgebied waar God koning is. Dis waar die Here vir ewig woon en van daaruit sal Hy vir Dawid ‘n horing laat uitspruit (Psalm 132:13, 17). Die feit dat hierdie Gesalfde, koning oor Sion is laat dit blyk dat dit hier oor ‘n groter en meer heilige Koning gaan as Dawid, Salomo of een van hulle se nageslag.

In Psalm 2:12 (Ou Afrikaanse Vertaling) word die vorste opgeroep om die Seun te kus (as ons die Massoretiese teks** aanvaar) en word daar gemeld dat die wat by Hom skuil gelukkig sal wees. In die hele OT word God self vir ons geteken as die Een by wie mense skuiling kan vind. Die Gesalfde word dus hier op ‘n manier aan God gelyk te stel wat mens nie met ‘n aardse koning in verband kan bring nie.

OPSOMMEND. Oor al bogenoemde sake sal mens seker baie kan argumenteer en sal almal nie eenstemmig wees nie, maar mens kry tog die indruk dat Psalm 2 die walle oorstroom van die situasie van ‘n bloot aardse koning. Ons het hier te doen met iemand groters as ‘n tydelik menslike vors. As Nuwe Testamenties Christene wat terugkyk na God se finale openbaring in Jesus, as die Ewige Koning uit die nageslag van Dawid, kan ons beswaarlik in Psalm 2 iets anders raaksien as ‘n verwysing na Jesus se unieke posisie as Seun van God wat ten spyte van alle teenstand sal triomfeer. Jesus is God se Gesalfde op ‘n wyse wat geen ander figuur dit ooit was of kan wees nie. Daarom maak die heerlike inhoud en beloftes van Psalm 2 net sin as ons die treffende vervulling daarvan in Jesus raaksien.

Wat is die troos en die uitdaging van hierdie Psalm vir ons?

TROOS: Ons beleef prakties elke dag hoe die wêreld saamspan teen God en Sy Seun. Die sekulêre humanis wil Jesus onttroon. ‘n Mens kry amper die indruk van ‘n wêreldwye komplot, almal sing in ‘n koor van opstand teen Jesus. Dis asof die mensdom elke dag uitdagender word en sê : “Kom ons maak ons vry van al God se ordes, wette en instellings. Ons is nou volwasse, postmoderne mense wat nie meer in mites glo nie!” Op elke terrein van die samelewing vind ons hierde Godsveragtende houding: in die vermaaklikheidswêreld word daar die spot gedryf met alles wat heilig is, in die politieke raadsale is daar geen plek vir Sy wette en verordeninge nie. ‘n Goddelike instelling soos die huwelik tussen een man en een vrou word van alle kante af geteiken (nie net deur goddelose leiers soos Obama, Holande, Cameron... en die wêreld se woelige gay aktiviste nie, maar ook nader aan ons - kerklidmate wat saambly en losbandigheid goedpraat). God se Woord word as belaglik en oudmodies afgemaak, almal wat getrou aan God wil leef word as onverdraagsaam of middeleeus uitgekryt. Maar kind van God, hou moed, hierdie Psalm verseker ons : Al hierdie opstand, lawaai en gewoel is geen krisis vir God nie - nee, Hy vind dit lagwekkend. Dit kan niks verander aan Sy posisie en die ryk van Sy Gesalfde nie. Alle opstand is futiel. Hierde arrogante menslike gedrag maak Hom wel kwaad, daarom is alle weerstand ook waansinnig! Die gevolge gaan skrikwekkend wees vir die opstandelinge. 

Vir God se kinders is hierdie egter ‘n blye bemoediging. Ten spyte van alle aanslae kan ons verseker wet dat God se Koninkryk sal seëvier en sy vyande uitgewis word! Psalm 2 behels ‘n duidelike belofte van die onstuitbare welslae van Jesus se oorwinning en koningskap. Dis ‘n troos, dis ‘n anker.    

UITDAGING : Ons mag (moet!) die evangelie van Jesus, met sekerheid en krag verkondig. Hierdie psalm gee ons die reg om ‘n ultimatum aan die mensdom te stel: Jesus is die ewige koning ; buig of staar vernietiging in die gesig! Skuil by Hom, daar is rus. Ons hoef nie die evangelie op ‘n verskonende manier aan te bied nie. Ons proklameer die koningskap van Jesus. Trouens, Jesus self het niemand gelek om Hom te volg nie, maar eerder mense uitgedaag. Toe die rykjongman, nie kans sien vir die uitdaging nie, het Jesus nie verskonend agterna gehardloop en die standaard bietjie verlaag om sy materialistiese gesindheid tegemoet te kom nie, maar hom laat gaan... Laat almal wat dit hoor weet, jy verset jou teen Jesus ten koste van jouself. Jesus is nou hier deur die Gees teenwoordig as Verlosser-Koning, maar Hy kom eendag as Regter-Koning! Onderwerp jouself betyds aan Hom of dra die ewige gevolge!

Mag die heerlike boodskap van Psalm 2 jou anders na die nuus laat kyk, maar jou ook aanspoor om as uitgesproke ambassadeur vir die onoorwinlike Koning op te tree!

* Jakob van Bruggen se eksegese is gevolg.

**EKSKURS. Hoe moet Psalm 2:12 lui? Vir enige Bybelleser is dit duidelik dat daar ‘n groot verskil bestaan tussen die Ou Afrikaanse Vertaling en die Nuwe Vertaling wat betref Psalm 2:11/12. ( NAB - “........Hom met vrees en bewing toejuig en onderdanig wees...” OAV - “Kus die Seun, dat Hy nie toornig word nie.....”) Dit gaan hier oor ‘n dieper verskil as maar net vertaalstyl. Die NAB het geen verwysing na die “Seun” in vers 12 nie. Wat is die rede hiervoor? Ons het hier te doen met ‘n baie bekende “teksprobleem.” In die gestandaardiseerde Hebreeuse teks (Massoretiese teks), wat die basis vir die vertaling van die Ou Testament is, word die woord “bar” (= seun) gebruik. Die probleem hiermee is, dat dit ‘n Aramese leenwoord is. Die Hebreeuse standaard woord vir seun is “ben”. Dis dan ook die woord wat in vers 7 gebruik word. Die woord “bar” word deur baie dus as ‘n oorskryffout of tekskorrupsie beskou. Die siening dat hier ‘n fout in die teks ingesluip het word ook versterk deurdat verskeie ou vertalings en rabbynse geskrifte ‘n ander Hebreeuse teks veronderstel. (die uitsondering is die Siriese vertaling wat wel die Massoretiese teks ondersteun.) Met verloop van tyd is daar verskeie tekswysigings voorgestel. Dis hier waar die verskil tussen die twee Afrikaanse vertalings inkom. Die OAV is gebaseer op die Massoretiese teks soos dit daar staan en die NAB is ‘n weergawe van een van die voorgestelde oplossings. Hoe moet nou oor die saak geoordeel word?

Net ‘n paar opmerkings (sonder om op alle tegniese besonderhede in te gaan)

· Die woord “bar” is inderdaad ‘n Aramese woord. Die vraag is net, moet die gebruik hiervan werklik ‘n probleem wees? Dit is bekend dat Aramees wyd gebruik is in Sirië-Palestina van ten minste die 9de eeu voor Christus en die moontlikheid is ook nie uitgesluit dat dit al vroeër in gebruik kon gewees het nie.

· Die konteks van vers 11 en 12 moet ook in ag geneem word. Hierdie woorde word (in die mond van die digter) juis gerig aan vreemde nasies en konings. ‘n Leenwoord uit ‘n ander taal sou hier dus goed kon pas. Die Hebreeuse woord “ben” word in vers 7 deur God gebruik om Sy Gesalfde aan te spreek.

· As ons die Massoretiese teks aanvaar dan is vers 12 ‘n opdrag aan die aardse konings om hulle te onderwerp en eer te betoon aan die Gesalfde (die Seun) van vers 2. (Soen was ‘n teken van eerbetoon en onderwerping. Vgl. 1 Sam 10:1; 1 Kon 19:18) In so ‘n geval handel vers 10 -12 dan oor die eis aan aardse leiers om God te dien en om Sy Gesalfde Koning te erken. Hierdie dubbele tema vorm dan ‘n baie gepaste teenstelling met die rebellie van die konings wat volgens vers 2 gerig was teen die Here en Sy Gesalfde. 

Daar is miskien nie antwoorde op al die vrae nie, maar dus tog duidelik dat ‘n goeie saak uitgemaak kan word vir die Ou Vertaling se lesing op hierdie punt. In elk geval maak die vertaalkeuse nie juis ‘n verskil aan die vertroosende geheelboodskap van hierdie wonderlike Psalm nie.


Die wêreld se leiers kan oor als opgewonde raak, maar nie oor die Koninkryk van God nie, inteendeel, hulle haat God en sy Gesalfde!