BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Belydenisaflegging. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Belydenisaflegging. Wys alle plasings

Woensdag 22 Mei 2019

Kliniek of Paradegrond?

- Die Bybelse benadering tot praktiese Christenskap en heiligheid mag jou dalk verbaas... 


Kom ons oordink spesifiek 1 Timoteus 6:12-16. (lees dit gerus) Paulus skryf ‘n persoonlike brief aan die jongman Timoteus om hom aan te moedig en raad te gee. Hy skryf onder andere oor die gevaar van dwaalleringe en in die direkte voorafgaande gedeelte oor die groot, maar subtiele gevaar van die liefde vir geld. (9,10) Geldgierigheid is dodelik gevaarlik vir ‘n kind van God! 

Met dit as agtergrond stel Paulus nou vir Timoteus voor ‘n direkte uitdaging of sommer ‘n prontuit bevel : “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.” (1 Timoteus 6:12) 

Kom ons hoor dit mooi : 

“Stry die goeie stryd van die geloof!” * 

Prakties behels dit ‘n wegvlug en afkeer van als wat verkeerd is (soos geldgierigheid) en ‘n najaag en gryp na dit wat reg is. (11) Paulus wil sê :“Komaan Timoteus, jy het mos openlik voor getuies bely aan wie se kant jy is (ek herinner jou net daaraan), nou moet jy vasvat en aangaan en volhard en werk maak van jou geloof! Dis ‘n harde geveg wat voorlê!” 

Die hoofsaak wat ons aandag vra is : Die Bybelse begrip van praktiese Christenskap, heiligmaking en groei behels ‘n aktiewe robuuste stryd! 

TWEE TEENOORSTAANDE BENADERINGS 

Daar is twee sterk teenoorstaande benaderings of sienings van hoe Christene dink heiligmaking en groei aangepak behoort te word. Afhangende van watter benadering mens voorstaan, het dit ook ‘n bepaalde effek op jou verstaan van kerkwees. En wat jy van die kerk verwag... 

Die twee benaderings kan genoem word: Die kliniek benadering en die paradegrond benadering. 

KLINIEK 

Die kliniek benadering klink dikwels so: “Ag, ons verstaan hoekom jy nie betrokke wil wees by die kerk nie, want soveel mense het jou teleurgestel en jou seergemaak. Ag, ons verstaan waarom jy nie sonde wil los nie, want jy het nie ‘n goeie voorbeeld in jou ouerhuis of skool gehad nie. Ag, ons almal is so swak, ons is so besig, ons is so onvolmaak, ons is so menslik, die Here sal verstaan as ons Hom maar die laaste plek in ons lewe gee. Ag, ek is so swak ek sukkel om te groei, sonde te los of te getuig. Maar, wat dit is nie so ernstig nie, want ons almal sukkel maar...” 

Vanuit hierdie besef van voortdurende swakheid, sondigheid en ellende verstaan en beskou mense die kerk as ‘n kliniek waar ons heeldag pilletjies gee, windjies uitvryf en vars doeke aansit. O, en daar mag tog net niks gesê word wat iemand sal ontstel nie! Sonde mag nie by die naam genoem word nie. Laksheid en die verbreking van beloftes mag nie direk aangespreek word nie. As iemand my net skeef aankyk, net effentjies op my tone trap, dan vat ek my goed en loop na ‘n kerk wat as ‘n meer simpatieke kliniek kan funksioneer... Die klem in hierdie benadering is altyd op die individu se gevoelens en gemoedstoestand en allerhande probleempies. “O, soveel mense en dinge het my seergemaak in my lewe…” En wat is die gevolg? Al die aandag op myself en my hartseer situasie vuur net selfbejammering en verskonings en passiwiteit aan! Daar is ‘n sieklike klem op sentimentaliteit en subjektiwiteit… Hoe voel ek, hoe word ek behandel, hoe raak dit my….? 

PARADEGROND 

Die paradegrond benadering kyk vanuit ‘n heel ander hoek. Die vertrekpunt is juis (anders as wat jy dalk sou verwag) God se omvattende en genoegsame genade. God het ons in Jesus volkome vrygespreek, Hy dink nie meer aan ons sonde en mislukkings nie. Sy liefde is vas en seker vir sy kinders. Niks kan ons daarvan skei nie. (Romeine 8:31ev.) Maar juis weens sy groot en ryk genade rus daar ‘n dankbaarheidsplig op elke ontvanger daarvan. Die verlede is mos verby! Nou word ons opgeroep tot die stryd! Nou is die tyd vir sterk staan en weerstand bied teen die sonde! Die oorwinning is mos reeds behaal op Golgota! Die graf is leeg! 

Wat ‘n groot verskil met die kliniek benadering! Die bekende Martyn Lloyd-Jones het homself prontuit hieroor uitgespreek : “The main trouble with the Christian Church today is that she is too much like a clinic, too much like a hospital; that is why the great world is going to hell outside.”** (Terloops, hy was nie ‘n harde man nie! Hy was ‘n ware sielesorger en boonop nog ‘n mediese dokter ook! Maar hy het die waarheid van die Skrif ernstig opgeneem.) 

WEES ‘N DAPPER SOLDAAT! 

Die Bybelse benadering tot heiligmaking is die van ‘n paradegrond, van opdragte aan ‘n soldaat! Geen pamperlang benadering nie! Geen toedraai in watte aanslag nie. Geen plek vir sissies nie. Stry die goeie stryd van die geloof! Hoor Paulus se styl : “Ek gebied jou/beveel jou voor die aangesig van God...” (13) Dis paradegrondtaal! Geen mooipraatjies nie! Ja, as daar wonde en letsels is dan verbind ons dit in liefde met die Woord, maar ons bly nie broei daarop nie, ons gebruik dit nie as verskonings nie, ons gaan positief aan met die stryd, ons hardloop die wedloop! Dis dwarsdeur die Nuwe Testament die benadering tot die leef van die Christelike lewe : 

Romeine 8:13 “want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.” Aksie, daadwerklike optrede! 

1 Korintiërs 16:13 “Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk!” 

Efesiërs 6 :10ev “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. 
Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 
Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.” 

2 Timoteus 2:3 “Dra jou deel van die ontberings soos ‘n goeie soldaat van Christus Jesus.” 

Hebreërs 12:4 “Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ‘n stryd om lewe of dood geword het nie. Julle moet bereid wees om nog baie harder teen die sonde te stry!” “ten bloede toe” soos die OAV dit stel. 

2 Petrus 1:3-5 “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. 
Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur. 
En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met....” 

Dis duidelik, die hele spektrum van Nuwe Testamentiese skrywers het hierdie positiewe, robuuste paradegrond benadering! 

Hierdie Bybelse oproepe onderstreep : Dit gaan oor die Koning en sy opdrag, nie primêr oor myself en my puntenerige behoeftetjies nie! Sy eer en nie my gerief nie! Stop die fokus op my gevoelens, my mislukkings en my suksesse. Raak ontslae van 'n sieklike selfbeheptheid en selfgesentreerdheid! Die vraag is : Wat bring eer aan die Koning, wat maak Hom bly? Wat is sy wil, sy opdragte? Die klem is nie meer op my as individu nie, maar die saak van die Koning, die welsyn van die kerk van Jesus, die groter prentjie… Hy is immers die Koning van die konings en die Here van die here! (15) Vergeet bietjie van jouself en doen wat jy moet doen! En weet jy wat? Juis hierin lê ons vreugde! 

Kinders van God, wat vrygespreek en vergewe is, wat die Heilige Gees ontvang het, is nie meer slagoffers nie, maar soldate! 

Ons is geloofstryders! As ons ons geloof bely dan is dit ‘n openlike toetrede tot die weermag van Jesus, onderwerping aan sy gesag, ‘n bereidverklaring om die stryd tot die einde te stry onder sy bevel! My vriend in Jesus, STRY DIE GOEIE STRYD! 

*Die NAB vertaal dit effens anders, maar die nuutste Afrikaanse vertaling, sluit weer aan by die OAV. “Stry die goeie stryd van die geloof!” (DLV) 

**Martyn Lloyd-Jones, Romans 6, p174

Maandag 19 Februarie 2018

‘N JONGMENS SE PAD MET GOD

DIE FONDASIE , VORMING , VOLHARDING EN VERANTWOORDELIKHEID IN ‘N JONGMENS SE LEWE! 


Dis die lewende God wat sondaars red. Ook jong sondaars. Hý doen dit! Hy maak hulle vas aan Jesus Christus en voeg hulle by sy kerk. Hiervoor gebruik Hy natuurlik sy genademiddele en metodes soos Hy wil! Wat ‘n heerlike wete! Wat ‘n groot rede tot lof en dank! 

Juis ook vir ons wat wonder: “Wat gaan van ons kinders word? Gaan hulle die Here ken, gaan hulle volhard op die pad van die Here? Die aantrekkingskragte van die wêreld is so groot, die Satan so slinks en die pad na die lewe is smal!” 

Timoteus was ‘n jongman wat die Here gedien het. Dis interessant as mens bietjie vra : “Hoe het hy die Here leer ken? Watter mense het God in sy lewe gebruik?  En hoe?Wat was sy fondasie? Wat van sy eie verantwoordelikheid?” Ons gaan veral kyk na 2 Timoteus 3:13-17 maar ook bietjie verder rondloer in die twee briewe wat Paulus persoonlik aan die jongman Timoteus geskryf het en net so ‘n paar sake wat daarin voorkom uitlig. Kom ons noem dit, die deurslaggewende faktore in die lewe van ‘n Christen jongmens. 

"Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. 
Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus." (2 Timoteus 3:14-17) 

Die fondasie van die Skrif – Timoteus het van kleins af die Bybel geken. (In sy geval natuurlik die Ou Testament) Dit het vir hom die basiese kennis gegee wat hy moes hê. Die kennis het in sy geval tot geloof gelei en so kry hy deel aan die verlossing. Die belangrikheid van kennis oor die Bybelse waarhede kan nie oorbeklemtoon word nie. Huisgodsdiens! Gebrekkige kennis lei tot ondergang en verlorenheid. “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.” (Hosea 4:6 OAV) Terloops, dit gaan nie hier oor persoonlik geopenbaarde kennis nie, dit gaan oor kennis van God se Woord (wet), met ander woorde die Skrif! 

Kennis van die Skrif lei tot geloof in Jesus en dus tot verlossing, maar dit gaan ook verder. 

Die Skrif wys ook vir ons hoe ons as verlostes moet lewe! 

Die Skrif het groot waarde, sê Paulus. Deur die Skrif, ken ons die waarheid, dis ons wapen teen dwalinge en valse lering, dit wys ons hoe ons dinge wat in ons denke en dade verkeerd is reg moet maak. Die Woord dui die koers aan hoe om positief ‘n lewe te leef waarvan God hou. Die kennis van die Bybel rus ons toe om die goeie werke wat God van sy kinders te vra te doen. 

Die Skrif is onontbeerlik vir redding en lewe as geredde! 

Baie mense ontken dit vandag en weet gevolglik weinig van die Woord. (Hulle kan die Blou Bulle se spelers opnoem, maar weet nie eens of Jesaja in die Ou of Nuwe Testament is nie!) ‘n Algemene redenasie is: “Ons het nie die Bybel nodig nie, want die Heilige Gees praat sommer direk met ons.” Dis ‘n groot dwaling. Die Gees en die Woord gaan saam. Daar is niks wat jy as ‘n feit oor God en Jesus en die ewigheid kan weet, as jy dit nie vanuit die Skrif weet nie. Daar is net een maatstaf en norm waaraan ons as God se kinders als kan toets en dis die Woord. Die Woord het die voorrang, self bo engele! Ja, regtig! Galasiërs 1:8 leer ons : “Maar al sou ons of 'n engel uit die hemel julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom 'n vervloeking wees!” Geen droom, engel, visioen of bonatuurlike belewenis staan bo die Skrif nie! Paulus wil die jongman Timoteus opnuut net weer vasmaak aan die geskrewe Woord. Bly by die Skrif, Timoteus! Sola Scriptura is nie iets wat deur die reformatore uitgedink is nie, dit was al Paulus se raad en opdrag aan Timoteus. 

Die rol van ander mense. God het ander mense gebruik, juis om vir Timoteus die Woord te leer. Wie was hulle in Timoteus se geval? Sy ma en ouma! Hulle was ware gelowiges. Die mense in sy eie huis. “Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.” (2 Tim 1:5) Later het Paulus self ‘n groot rol in Timoteus se lewe gespeel. Hy noem Timoteus “ my kind in die geloof”. Elke kind van God kan mense opnoem wat ‘n groot rol in sy of haar lewe gespeel het. Moenie hulle raad en lering en voorbeeld sommer weggooi nie. Kyk na hulle pad. Natuurlik is niemand volmaak nie. Maar onthou en respekteer die lering en voorbeeld van hulle wat die pad al verder as jy gestap het. 

Paulus wys Timoteus ook op sy eie verantwoordelikheid. Jy kan nie net op ander se insette staatmaak nie. Elke jongmens kom op ‘n punt van beslissing. Ek self moet nou keuses maak! Ek self moet my persoonlike vertroue in Jesus die gekruisigde plaas. Ek self moet nou volhard en die stryd stry! Kyk na nog ‘n paar verantwoordelikhede wat Paulus uitlig: 

1 Tim 6:20. “Timoteus, bewaar wat aan jou toevertrou is. Vermy die onheilige en sinlose praatjies en die redenasies van die "kennis", soos dit verkeerdelik genoem word." Bewaar dit wat jy ontvang het. Pasop vir allerhande los praatjies en kamtige kennis. Moenie als glo wat jy hoor en sien (veral nie) op sosiale media nie! Instagram is nie die standaard van die Koninkryk nie!

2 Timoteus 1:13,14. “Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging en volg dit na in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het. Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon.” Weer die noodsaak van bewaring. Dit wat jy geleer het is goed, bewaar dit deur die Heilige Gees. Dit verg moed en aksie van jou kant af, jong Christen! 


2 Timoteus 2:22. "Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit 'n rein hart aanroep.” Vlug vir wat verkeerd is. Gebruik jou voete! Bly weg van die partytjies, vriende en vermaak waar God nie geëer word nie. Maar positief, streef na die regte dinge saam met ander kinders van God! Kies jou vriende baie versigting! Hou aan geestelik groei! 


1 Timoteus 6:12 “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het”. Ja, God self is ons Redder, maar jy het die verantwoordelikheid om al jou kragte in te span en te volhard. God het jou geroep Timoteus, God het jou geroep... en jy het jou geloof openlik bely! Nou begin die harde werk en die vasbyt eers regtig! Dis met hierdie boodskap van Paulus waarmee ek julle as ons nuwe lidmate wil verwelkom en ook uitstuur!


Agter (v.l.n.r.): Eleanor Steenkamp, Johan Muller, Charlie Voigts, Mornè Button.
Voor (v.l.n.r.) : Lezanne Britz, Danielle Bartlett.

BAIE WELKOM JULLE!

Donderdag 16 Februarie 2017

KEUSE TEEN DIE PALEISLEWE!

- Geloof kies teen gerief en sonde, maar vir die beloftes van God!


Dis maklik om te sê : “Ja.” Dis maklik om te sê : “Ek glo.” Maar om geloof op die regte manier te bely vra meer as net woorde, dis ‘n voortdurende keuse en lewenslange toewyding. Om geloof te bely is ‘n nuwe leefstyl wat mens dikwels in die moeilikheid bring. Om geloof te bely is om ‘n daaglikse pad saam met die Here loop. 

Ons het ‘n groep mense wat openlik gaan bely dat hulle in Jesus glo. Dis ‘n baie groot geleentheid. Dis ook ‘n goeie tyd om te vra : “Hoe raak geloof my lewe op ‘n praktiese vlak?” Baie misverstande oor geloof – geloof help jou om nie siek te word nie, geloof maak dat jy meer reën kry, geloof maak jou besigheid voorspoedig... NEE! Kom ons kyk wat sê die Bybel. As ons oor geloof wonder is Hebreërs 11 natuurlik ‘n baie geskikte hoofstuk om te raadpleeg, want hier kry ons ‘n beskrywing van geloof in aksie. Geloof word vir ons op ‘n baie praktiese manier uitgebeeld soos dit gelyk het in die lewens van die geloofsreuse van die ou Testament. Ons lees hoe geloof gefunksioneer het in die lewens van Abel, Henog, Noag, Abraham... Hierdie geloofshelde het nie oor geloof gefilosofeer nie, hulle het geloof in God en sy beloftes prakties geleef. Een van die besondere geloofshelde was Moses. Kom ons kyk watter praktiese effek het geloof in sy lewe gehad na aanleiding van Hebreërs 11:24-28 :

~ Geloof bring Moses by radikale keuses. “Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê." (24,25) Ons ken mos die geskiedenis van Moses – die baba in die mandjie, die Egiptiese prinses... sy bevoorregte grootwordjare in die paleis. Dit het beteken dat Moses die gerieflike lewe van ‘n Egiptiese prins kon geniet. Al die rykdom, plesier en voorregte van die Egiptiese paleis was syne... Maar op ‘n stadium moes Moses kies : die gerieflike paleislewe of ‘n lewe saam met God se volk. Dit moes ‘n baie moeilike besluit gewees het. ‘n Mens kan jou indink hoe sy vriende of dalk selfs sy “prinsesma” by hom gepleit het. “Dink mooi Moses, besef jy wat gaan jy verloor as jy die paleis verlaat en jou by die verdrukte Israelitiese slawe gaan voeg ? Dan kan jy maar koebaai sê vir al die skatte van Egipte, die beskerming van die Farao, die plesier van die hoflewe, die mooi Egiptiese meisies...moenie dom wees nie, Moses. Onthou die Israeliete is slawe, saam met hulle gaan jy net swaarkry.” Maar omdat Moses God se beloftes geglo het, het hy ‘n keuse gemaak om die lewe van ‘n prins in Farao se paleis vaarwel te roep. Hy kies teen die tydelike verbygaande genot van sonde, hy kies vir ‘n lewe van swaarkry. Geloof in God en sy Woord bring jou by ‘n keuse teen sonde, want jy besef dat die plesier van sonde van korte duur is, maar die vreugde wat God gee vir ewig duur! 

GELOOF VEREIS ‘N KEUSE VIR EN KEUSE TEEN!

~ Geloof laat Moses ‘n nuwe waardasie maak. “Die smaad ter wille van die Christus het hy ‘n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het.” (26) Moses moes kies tussen rykdom en Christus. (Ja, Jesus Christus het natuurlik toe nog nie aarde toe gekom nie, maar ‘n keuse vir God se beloftes was mos ‘n keuse vir Christus!) Let mooi op - Hier in Hebreërs 11 kry die “Prosperity Gospel” ‘n uitklophou. Geloof in God en in Jesus wat sou kom, het nie vir Moses rykdom gebring nie, inteendeel dit het hom juis rykdom laat verloor. Moses kon baie ryk gewees het as hy soet en stil in Farao se paleis gebly het. Hy sou ook ‘n invloedryke persoon met mag en voorregte gewees het. Maar nee, hy gehoorsaam God se opdrag om die volk uit te lei en verloor al sy kanse vir rykdom en prestige. Hoe het hy dit reggekry? Hy het uitgesien na God se beloning! Geloof laat ons die onsigbare sien. (11:1) Dit maak dat ons meer waarde heg aan Christus en die ewige lewe wat Hy vir ons bring, as aan tydelike aardse ambisies, plesiere en rykdom. Geloof heg meer waarde aan God se beloftes as aan ons pelle se opinie! Geloof sien dit wat ander mense rondom jou nie sien nie. Geestelike realiteite weeg meer as sigbares! Ander mense dink, Jesus is maar vaal en vervelig. Maar die een wat glo, besef dat om Jesus te ken oortref alles in waarde. (Vgl. Filippense 3:8) Die ongelowiges kyk vas teen die plesier en rykdom van die wêreld. Die gelowige word gefassineer deur die heerlikheid van Jesus en die beloning wat Hy bring! Glo jy? Hoe kosbaar is Jesus vir jou? 

GELOOF LAAT JOU ANDERS KYK NA LEWE!

~Geloof bevry Moses van vrees en laat hom volhard. “Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien.” (27) God roep Moses basies om in opstand te kom teen die heidense koning en die volk uit te lei. Dis ‘n baie gevaarlike opdrag en kon enige tyd sy lewe gekos het. Deur geloof het Moses God gesien. Omdat Moses geglo het, was God en sy beloftes vir hom ‘n groter werklikheid as Farao en sy dreigemente. As ek regtig God se beloftes glo, dan volhard ek op die pad van heiligmaking al word ek gespot, uitgestoot of gedreig. Geloof bevry mens van mensevrees en menslike opinies sodat ek volhardend die Here kan gehoorsaam. Dit beteken dat as my vriende se sienings bots met God se Woord, dan kies ek eerder om God te gehoorsaam as om gewild of in te wees! Dis baie duidelik of iemand glo; die gelowige begin God se opdragte implementeer en sy wil eerste te stel. 

GELOOF BEHELS VOLHARDING

~Geloof bring Moses by ‘n vaste vertroue in God se beloftes. “Omdat hy geglo het, het hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie.” (28) God het besluit om die eersgeborenes in Egipte uit te delg. Hy gee toe die opdrag deur Moses dat al die Israeliete ‘n lam moet slag en die bloed aan die deurkosyne moet smeer... So sou hulle lewens gespaar word in daardie nag van verskrikking. Dit het menslike gesproke nie na ‘n baie logiese plan geklink nie. Hoe sou ‘n bietjie bloed aan ‘n deur die doodsengel kon weghou? Moses het God egter geglo en die opdrag laat uitvoer. Geloof bring ons by ‘n persoonlike vertroue op God se verlossingsplan in Jesus. Geloof laat my sien dat Jesus se eenmalige offer aan die kruis genoeg is en my vir altyd teen die Goddelike wraak op sonde beskerm. 

GELOOF IS 'N VASTE VERTROUE IN GOD SE BELOFTES

Geloof is nie bloot ‘n korrekte napraat van sekere feite nie, maar ‘n keuse vir ‘n nuwe leefstyl en lewensbeskouing. Geloof bring nie gerief en gemak nie, maar maak ons getroue volgelinge van Jesus in die harde werklikheid van die alledaagse lewe, sodat ons eendag die beloofde beloning kan verkry!

Vrydag 14 Februarie 2014

MEER AS BOEREMATRIEK

- openbare belydenis van geloof maak net sin as dit ‘n saak van hart en mond en lewe is!

Paulus se groot begeerte en wens (wat hy so duidelik in Romeine 10 uitspreek) is dat sy eie volksgenote gered sal word! Dit lê hom baie na aan die hart. (Dis seker ook die begeerte van elke wedergeborene vir sy naaste.) Hy is diep besorg oor sy mense, dat al is hulle godsdienstig en al het hulle die wet, hulle nog steeds verlore is, sonder hoop vir die ewigheid! Hoor sy versugting : “Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word, want ek kan van hulle getuig dat hulle vol ywer vir God is, maar sonder die regte insig. Hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie. Hulle wil niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle probeer dit op hulle eie manier kry." Die OAV stel dit treffender : “hulle probeer hulle eie geregtigheid oprig”

Ja, alle mense (ook goeie godsdienstige verbondsmense) het nodig om gered te word. Dis so, want almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie. Alle mense staan inderdaad onder die oordeel van God.

Daar is slegs twee opsies oor hoe om gered te word : die mens se eie manier of God se manier. 

Ons kan dit ook noem die mens se plan of God se plan. Eersgenoemde lei tot mislukking en teleurstelling, laasgenoemde tot ewige heerlikheid!

MENS SE PLAN

Die mens se plan is ‘n selfhelp plan. Ek probeer om God tevrede te stel, ek probeer om God se guns te wen deur sekere dinge self te doen. ‘n Mens kan dit vergelyk met die klim van ‘n LEER. Deur sekere prestasies en pogings probeer die sondaar self opklim na God. Ek probeer met menslike inspanning loskom van my sondeskuld. 

Kom ons kyk na ‘n paar van die sporte van hierdie leer :

Godsdienstigheid – sommiges dink omdat hulle lidmaat is van ‘n kerk, darem so af en toe kerk toe kom of sekere godsdienstige pligte nakom, al hulle sondes vergewe word.

Sakramente – baie mense redeneer dat as hulle gedoop is en die nagmaal mag gebruik is hulle outomaties kinders van God.

Seremonies – ‘n groot getal mense dink dat ‘n paar kerklike seremonies en rituele hulle gaan red. Hoe anders verklaar mens so baie se totale afwesigheid by die byeenkomste van gelowiges, maar die enorme gewildheid van kerklike begrafnisse? Dis niks anders as bygeloof nie...

Moralisme – ek dink my mooi lewe en goeie waardes sal vir my vrede bring by God. Ek probeer minder vloek, ek probeer om “Christelik” op te tree, ek voel darem ek is nie heeltemal so sleg soos party ander mense wat ek ken nie. Ek dink die Here sal my in die hemel toelaat, want ek help mos darem graag ander mense. (Waarskynlik maak die meerderheid van kerkmense staat op moralisme, al besef hulle dit self nie)

Moenie ‘n fout maak nie, mense wat op hierdie selfhelp leer probeer opklim na God is dikwels baie opreg en vol ywer! Maar dit help niks nie. Dis wat Paulus van sy eie volk sê. (kyk weer na vers 2 hierbo) Maar hoeveel die ywer ook mag wees, die leer van menslike verdienste sal altyd te kort wees...

Dis juis die ironie, die leer van menslike verdienste is oneindig lank en vermoeiend, maar dit bly altyd te kort om die Goddelike standaard van geregtigheid te bereik...

GOD SE PLAN

God se plan, God se oplossing is naby, dis hier by ons. Ek hoef nie ver te gaan soek nie! (8) God se plan is Sy Seun Jesus Christus wat vir sondaars gesterf het en ons volle straf (wat ons verdien het) gedra het aan die kruis en weer opgestaan het uit die dood! Anders gesê, GOD STEEK SY HAND EERSTE UIT na ons deur Jesus Christus. 



God inisieer en bewerk ons redding. Ons moet wel God se plan aanvaar, ons moet dit glo – nie net uit gewoonte of met ons verstand nie, maar met ons hart! Dis ‘n keuse wat my diepste binneste raak. Dis ‘n ontmoeting met die lewende Jesus deur die geloof! Hierdie geloof sal natuurlik ook sigbaar word. Ek bely dit met my mond. Dit is behels nie net om ja te sê nie, maar om my keuse om Jesus te volg telkens weer openlik met my mond en dade te bevestig. Dis om nie net 'n eenmalige belydenis in die kerk nie, maar ook om môre by die skool as ek voor keuses gestel word, openlik te sê : “Jong, ouens ek kan nie saam met julle lag vir hierdie vuil grap nie, ek kan nie saam met julle hierdie ding doen nie, ek gaan nie na hierdie smerige fliek kyk nie, want ek behoort aan Jesus!” Om so my aan Jesus se kant te skaar is iets heel anders as moralistiese selfredding, dis heilige en lojale dankbaarheid vir my redding uit genade! 

Belydenis is ‘n daaglikse voortgaande aksie. Dit beteken dat ek nie skaam moet wees om smaad en spot ter wille van Jesus Christus te verduur nie!

AFGRYSLIKE TELEURSTELLING OF SEKER HOOP?

As ek op die leer van menslike planne staatmaak is daar geen hoop nie. Op die oordeelsdag wag daar ‘n afgryslike teleurstelling. As ek egter God se plan, Jesus as Here aanvaar, kan ek seker wees van my bestemming. Ek sal nie teleurgestel word nie. “Die Skrif sê tog: "Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie." (11) Wat beteken dit om in Hom te glo? Hoe kom ek tot geloof in Hom? Ek roep Sy Naam aan. Ek vra Hom om my te red en vertrou dat Hy sy beloftes sal hou. “want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word." (13)

Ongelukkig is belydenisaflegging (of selfs ook die belydenisdoop) vir baie mense bloot ‘n seremonie. In die ou dae het hulle selfs gepraat van boerematriek, asof dit jou sleutel tot die volwasse lewe, trou en kinders kry sou wees! Hoor mooi, as jou belydenisaflegging bloot ‘n seremonie is, dan is jy maar weereens net besig om ‘n trappie te klim op die leer van eie geregtigheid. Dis nutteloos, dit kan jou nie red nie – en dis my plig om jou te waarsku hieroor... Maar as dit wat jy met jou mond bely (het), waarlik die oortuiging van jou hart is, dan het dit groot waarde, want hoor die belofte van God... “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.” (Romeine 10:9,10)

Baie geluk aan :


[Mariselle Stofberg, Charis van Eeden, Jacquiline Fryer, Karien Ströh, Marius Smit, Dannè Stoman, Ju-An Smit, Jacqueline Boshoff, Elrika Grobbelaar, Michael Faulds, Colette Rossouw]

Dinsdag 19 Februarie 2013

OM “JA” TE DOEN


- dis wat tel.          

Dis so ‘n eenvoudige gelykenis hier in Matteus 21:28-32 van die twee seuns. Maklik verstaanbaar. ‘n Toneeltjie wat dikwels al seker in baie huishoudings afgespeel het... Twee seuns kry dieselfde opdrag om te gaan werk…    Een sê, uiters ongeskik en blatant : “Nee, ek sal nie”, maar het later berou gekry oor sy weiering en gaan tog...  Die ander een sê baie ordentlik : ”Ja, Pa”, (OK, Pa!) maar doen niks. Wie het nou werklik die wil van die vader gedoen? Wel daar kan net een antwoord wees - die een wat gedoen het. Die een wat by die praktiese daad uitgekom het. Die een wat “JA” gedoen het!

Jesus  het twee duidelike groepe mense van sy dag in die oog. Hy trek die gelykenis se betekenis deur na die uiteenlopende houdings van die godsdienstige leiers en Fariseërs aan die eenkant en die berugte en verworpe sondaars aan die anderkant. Dit gaan hier spesifiek oor hulle  reaksie op die prediking van Johannes die Doper. (32) Maar, natuurlik hulle houding teenoor Johannes word ook maar uiteindelik weerspieël in hulle houding teenoor Jesus. Kom ons bekyk die twee groepe van naderby:

Die JA groep. Die Fariseërs en godsdiensleiers was mense wat formeel "Ja" gesê het vir God. Hoe so? Wel, hulle het erns gemaak met die gesag van God se Woord. Hulle het ook die Woord geken en bestudeer. Ons kry ‘n treffende voorbeeld van hulle Skrifkennis in Matteus 2:4-6. (Hulle kon op navraag van Koning Herodus, vanuit hulle insig in die Skrif bevestig dat Jesus in Betlehem gebore sou word) In vandag se terme sou ons kon sê hulle sou definitief nie die liberaliste se aanslag teen God se Woord geduld het nie. Hulle was beslis nie aan die kant van die “Nuwe Hervormers” nie. Hulle het die regte gebede gebid, die regte woordeskat geken, die regte “belydenisskrifte” onderskryf. Hulle was ook duidelik gekant teen die morele laksheid en losse sedes van hulle  dag.  In ons konteks sou hulle die mense wees wat tereg teen die New Age indringing en morele verval kapsie maak. In beginsel het hulle “ja” gesê op al God se opdragte.  En in hierdie opsig, verdien hulle ons ondersteuing en bewondering. MAAR toe Johannes die Doper kom en God se Woord konkreet bring en aandring op praktiese persoonlike bekering het hulle hom nie geglo nie. (25) In die praktyk het hulle dus nie by die doen van God se wil uitgekom nie en sy volle openbaring aanvaar nie. Hulle het nie die regte vrugte gedra nie en daarom was hulle bestem vir die oordeel. “die byl lê al teen die wortel van die boom” Ten spyte van regte geluide het die Woord nooit grondgevat in hulle harte nie, want as dit gebeur het sou hulle na Jesus en Johannes geluister het.

Pasop vir dooie ortodoksie, wat nie bekering insluit nie!

Kom ons kyk na die ander groep, die NEE groep – die tollenaars het deur hulle gierigheid en die prostitute deur hulle immoraliteit “Nee” gesê vir God. Hulle het nie ‘n saak gehad met God se Woord en morele waardes nie. Maar deur ag te gee op die prediking van Johannes het hulle berou getoon, van plan verander en "Ja" gedoen. Hulle het geglo. Hulle geloof het beteken om prakties "Ja" te sê vir die regte pad. Hulle het hulle verkeerde dade laat staan en vrugte gedra wat by die bekering pas.  Saggeus was so ‘n praktiese voorbeeld uit Jesus se bediening. Daar was ‘n duidelike ommekeer sigbaar! Hoe dramaties en ingrypend!  ‘n Gierigaard deel nou sy besittings met die armes. ‘n Korrupte amptenaar wat sonde bely en dinge gaan regstel met die mense wat hy benadeel het. (lees weer Lukas 19:1-10)

Hierdie gelykenis spreek ‘n harde oordeel uit oor diegene wat intellektueel en verbaal “JA” sê vir God se Woord sonder dat die wil van God realiseer in hulle lewens.  

Jesus gee hier ‘n soortgelyke boodskap deur as in Matteus 7:21ev. "Nie elkeen wat vir My sê : 'Here, Here,' sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is."

Met hierdie gelykenis as agtergrond wil ek graag hê ons moet saam dink oor die reaksie op die Woord in ons lewens.  Het die Woord al ‘n verskil gemaak in my optrede? Waarom is ‘n gehoorsame reaksie op die evangelie so belangrik?

Natuurlik word ons gered deur die geloof in Jesus alleen. Verstaan asseblief : Ek sê nie daar is ‘n lysie van dinge wat jy moet doen om gered te word nie. Dis onteenseglik duidelik, ons word gered deur ons  vertroue  op Jesus alleen te plaas en te glo dat Sy offer aan die kruis genoeg is. Maar waar gehoorsaamheid afwesig is moet daar ‘n vraagteken oor hierdie geloof geplaas word. Ons moenie dink gehoorsaamheid en dade staan los van geloof nie. Jakobus sê mos duidelik dat die geloof dood is sonder werke. ‘n Heilige bekeerde en bekerende lewe is nie bloot ‘n opsionele gevolg van geloof nie, maar is ‘n onontbeerlike bewys van egte geloof. Waar nie dade is nie, is dit ‘n bewys van die afwesigheid van geloof. 

Julle wat vandag openbare belydenis van geloof afgelê het, het vandag formeel “JA” gesê, maar het julle al by die JA doen uitgekom? (die vraag geld almal wat al belydenis afgelê het, in watter konteks of kerk ookal) Het jy al JA GEDOEN? deur:
Jesus  persoonlik te vertrou vir jou verlossing?
Jou rug te draai op verkeerde vriende en verkeerde plekke?
Te kies teen sonde? Te vlug vir versoekings? (Wys jou gewoontes, jou ontspanning, jou musiek en jou klere aan wie se kant jy is?)
Om as jy geval het (soos met ons almal gebeur) weer op te staan en aan te gaan...
Heilig en anders te lewe, teen die stroom in te gaan ?  Jou hele lewe tot God se beskikking te stel?

Ons almal loop die gevaar om net “JA” te sê soos die Fariseërs. Ook mense wat gereeld kerk toe kom moet hiervoor oppas. So maklik word die erediens vir ons ‘n stuk breingimnastiek – ons bedink en analiseer alles, maar ons dade word nie geraak nie.  Sommige gereformeerdgesindes (en ekself is beslis ook een) verval maklik in ‘n krities foutvinderige gesindheid, waar die klem te veel val op suiwer formulerings en ortodokse terminologie. Ortodoksie (suiwer lering) is ongetwyfeld en onmisbaar belangrik, maar onthou om die waarheid beter te kan verstaan en te formuleer is een ding, om die waarheid  te gehoorsaam is ‘n ander ding – dis juis waarin Jesus belangstel.

Mag ons betyds reageer op die evangelie deur "JA" te doen. As ons net altyd hoor en “JA” sê ontwikkel daar sulke eelte om ons siele en raak die Woord ons later nie meer nie.  Ons moet pasop dat ons nie deur voortdurende ongehoorsaamheid later ongevoelig en afgestomp raak teenoor God se boodskap van bekering en genade nie! DOEN "JA" – gee jou lewe oor aan Jesus en volg Hom elke dag in gehoorsaamheid !


Belydenisklas en hulle ouers (foto : Credo Photography)