BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket William Cowper. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket William Cowper. Wys alle plasings

Dinsdag 25 Augustus 2020

“Ek verstaan nie, Here!”


     - God werk op misterieuse wyse.

Hoe moet ek dit verstaan? Daardie werksaanbod wat my so opgewonde gemaak het en toe deur die mat geval het? Daardie sieke vir wie ons so ernstig gebid het, wat toe skielik beter geword het maar net so onverwags toe oorlede is? Daardie eksamen waarvoor ek so hard geleer het, en toe doen ek baie swak, al het ek die Here mooi gevra om my te help? En hoekom kan goddelose regeerders maak soos hulle wil, ons land plunder en ons mense verarm, maar God keer hulle nie? So lyk dit altans... Baie onbeantwoorde vrae…

GOD WERK OP MISTERIEUSE WYSE! God werk op geheimsinnige en onverklaarbare maniere. Dis wat Jesaja 45:15 wil sê. “U is die God wat U verborge hou, die God van Israel, die Redder!”

Waaroor gaan dit hier? Israel was in ballingskap en God het toe besluit om ‘n heidense koning Kores te gebruik om sy volk te verlos en weer te laat terugkeer na hulle land. Hoor mooi! Ja, God maak van ‘n vreemde heidense koning wat Hom glad nie ken nie, sy eie kneg om sy planne te volvoer! Hoekom en hoe kan God so iets regkry? Wel, Hy is alleen waarlik God. Hy kan als doen wat Hy wil! Luister wat sê Hy vir die heidense koning Kores – “Ek is die Here, daar is geen ander nie, buiten My is daar geen God nie. Ek rus jou toe vir jou taak al ken jy My nie.” (Jesaja 45:5) 

God lei die geskiedenis van mense, families en nasies op sy geheime onverstaanbare wyse sodat sy wil volbring en sy Naam geëer word!  

God se mense sal uiteindelik gered word en nooit teleurgestel word nie. Maar nou is God se werkswyse vir ons  onverstaanbaar, verborge, ondeurgrondelik, onpeilbaar!

Dit bring ons by Paulus se lofprysing in Romeine 11:33-36.  Dit eggo dieselfde waarheid as Jesaja.



"O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!

"Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?

Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?"

Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen."

 

Die konteks is baie belangrik. Dit gaan in Romeine 9-11 oor die hartseer feit dat die volk Israel vir Jesus, die beloofde Messias verwerp het en dat dit gelyk het of God hulle daarom vergeet en verstoot het. Dit lyk asof God se beloftes, juis ook die beloftes wat in Jesaja gemaak is, op niks uitgeloop het nie. Paulus is natuurlik baie hartseer dat die meerderheid van sy eie volk Jesus verwerp het, maar hy kyk dieper na die saak. Deur dat Israel die evangelie verwerp het, het die heidense nasies juis die kans gekry om dit te hoor en te aanvaar! Agter die oënskynlike mislukking het God ‘n heerlike genade doel gehad. Paulus weet dat God Hom weer oor Israel sal ontferm en ook die uitverkorenes in die etniese Israel sal red.

 Hy gebruik die beeld van die olyfboom. God het die mak olyfboom , Israel afgekap en die lote van die wilde olyfboom (bekeerlinge uit die heiden nasies) ingeënt. Maar onthou sê Paulus : As God dit kon doen kan Hy weer die mak olyf se takke terug inent! God sal sy uiteindelike doel bereik en vir Hom ‘n volk versamel uit beide die heidene en die etniese Israel. As Paulus hieroor nadink, dan bars hy as’t ware uit in spontane lofprysing en aanbidding. Hy loof God wat totaal soewerein en in beheer is! (Soewerein beteken – God doen wát Hy wil, wánneer Hy wil, sóós Hy wil. God is van niemand afhanklik nie – en hoef dus vir niemand raad te vra nie – en Hy is aan niemand verantwoordbaar nie.) God sal sy wil volbring, maar vir ons as mense is dit ondeurgrondelik, onnaspeurlik. Dit gaan bo ons begrip en verstand! 

Ons dien ‘n soewereine, almagtige en misterieuse God!

 God werk dikwels op die heel teenoorgestelde manier as wat mense sou verwag.

Nêrens is dit duideliker as in die lewe en sterwe van Jesus self nie. God stuur sy Seun na hierdie aarde, nie as ‘n super engel,  dapper krygsman, magtige staatsman of slim filosoof wat baie boeke skryf nie. Nee, God se Seun word in ‘n stal gebore. Gewone babatjie wat skree. Hy loop en leer in die stofstrate van die onbelangrike Palestina en Hy sterf die skandedood van ‘n uitgeworpe misdadiger! God se plan, wysheid  en werkswyse verskil enorm baie van ons idees en planne. God bewys sy krag juis deur in Jesus swak te word, gekruisig te word deur sy eie skepsels wat Hy gemaak het. Vir die wêreld is die kruis dwaasheid en onsin, maar vir ons wat gered word is dit die krag van God. (1 Korintiërs 1:18)

 God werk vandag nog op verborge misterieuse wyse.

God gebruik ‘n rebelse kind, ‘n ontroue huweliksmaat, ‘n pynlike siekte, en selfs ‘n wêreldwye virus en korrupte regerings om sy volmaakte doelwitte te bereik!  Ek en jy gaan dit nie verstaan nie.

Ons moet egter in vertroue voor Hom buig. Hy weet wat Hy doen. In plaas van opstand, moet ons nederig in aanbidding voor Hom kniel! In plaas van rebelse vrae moet ons sy lof en heerlikheid besing! In plaas van verwyte moet ons Hom dank, ook in die donkerste ure! Kom skep moed kinders van God, want die mees dreigende onweerswolke van slegte omstandighede is vol van God se genadereën wat ons siele sal versadig! 


Kom ons word stil voor God se almag en ondeurgrondelike wysheid en sing saam met William Cowper (1731-1800) sy beroemde lied- God moves in a mysterious way




God moves in a mysterious way
His wonders to perform;
He plants His footsteps in the sea
And rides upon the storm.

Deep in unfathomable mines
Of never failing skill
He treasures up His bright designs
And works His sov’reign will.

Ye fearful saints, fresh courage take;
The clouds ye so much dread
Are big with mercy and shall break
In blessings on your head.

Judge not the Lord by feeble sense,
But trust Him for His grace;
Behind a frowning providence
He hides a smiling face.

His purposes will ripen fast,
Unfolding every hour;
The bud may have a bitter taste,
But sweet will be the flow’r.

Blind unbelief is sure to err
And scan His work in vain;
God is His own interpreter,
And He will make it plain.

Lees gerus die aangrypende biografiese skets oor (kliek)  William Cowper deur John Piper.

 

Dinsdag 02 Junie 2015

SELFMOORD

- een elke 40 sekondes!



Die Wêreld Gesondheidsorganisasie het onlangs hierdie skokkende stuk statistiek bekend gemaak. Volgens hierdie syfers is selfmoord die tweede grootste oorsaak van dood by jongmense in die ouderdomsgroep 15 tot 29 jaar. Onmiddellik moet ons sê dat wanneer ‘n saak soos selfmoord op die tafel is, ons kwalik in terme van statistiek kan praat of dink. Die hartseer impak, rou seer en selfverwyte van die agtergeblewenes, onbeantwoorde vrae en ontwrigting op alle terreine kan nouliks in stom statistieke vergestalting vind. Om die versagtende woord “selfdood” te gebruik vat ook nog niks weg van die skrikwekkende hartseergevolge van so ‘n daad nie!



WAAR IS HY/SY NOU?


Die groot (dikwels onuitgesproke) vraag wat die Christenouers, familie of vriende van die selfmoordenaar teister is : “Waar bevind my kind of my geliefde hom nou? Is hierdie nie ‘n sonde wat mens beslis hel toe neem nie, want daar was dalk nie tyd vir vergifnis vra nie?”

IS SELFMOORD 'N ONVERGEEFLIKE SONDE? 

Die verkeerde manier om dit te antwoord is met ‘n oppervlakkige stelling soos : “Ja, selfmoord is sonde, maar wie van ons doen nou nie sonde nie?”  Of 'n holle troostersousie van : "Eintlik het hy nou rus van sy probleme of eintlik was hy dapper om so iets te doen." Dan is daar selfs die arrogante alwetende dominees wat met sekerheid verklaar dat selfmoord nie sonde is nie!* Nee, vir ‘n duideliker perspektief moet ons bietjie dieper kyk...

REGVERDIGMAKING (VRYSPRAAK)

Wanneer ons oor die selfmoordenaar se eindbestemming nadink moet ons begin by idie Bybelse begrip en leerstelling van vryspraak/regverdigmaking (justification). Daar is immers net twee soorte mense op aarde : die vrygespreektes (in Christus) en die skuldiges (in Adam). My ewige bestemming hang van net hierdie een vraag af : Is ek ‘n vrygespreekte/geregverdige of nie?

Vryspraak/regverdiging is ‘n juridiese begrip. God verklaar – en hoor nou mooi – “goddeloses vry” as hulle in Jesus Christus glo. (Rom 4:5) Hierdie mense het dan vrede met God (Rom 5:1) en staan onder geen veroordeling meer nie. (Rom 8:1) Hierdie vryspraak beteken dat ons sondeskuld, die rekeninge wat teen ons getuig vir ewige en altyd uitgewis is! (Kol 2:13,14) Die kind van God, as vrygespreekte het volkome genade ontvang en God dink nie meer aan my sonde nie – en dit geld al my sonde, van die verlede, hede sowel as toekoms! Vir meer duidelikheid, kliek op VRYSPRAAK

Die sondaarmens se ewige bestemming word dus nie bepaal deur watter sondes hy gedoen of nie gedoen het nie, ook nie of ek kans vir sondebelydenis gehad het of nie, maar net deur hierdie een saak : Is ek iemand wat vryspraak ontvang het? Natuurlik oortuig die Gees van God sy kinders van sonde en dit bring hulle tot belydenis, maar my saligheid hang nie van daardie belydenis af nie! Anders sou dit beteken dat elke mens heeltyd sou rondskuif van vry tot verdoem, afhangende van sy belydenis ... en die erns van sy belydenis. Dan word redding weer ‘n saak van menslike verdienste, en dit is duidelik nie wat God se Woord leer nie.

SONDE, EN TOG...

Natuurlik is selfmoord ‘n sonde! Die sesde gebod sê baie duidelik: “Jy mag nie moord pleeg nie.” Enige vorm van moord en doodslag is verkeerd, ook selfmoord. Die Heidelbergse Kategismus sê in sy verklaring van hierdie gebod: “Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie.”

God is die Gewer van die lewe. Lewe, die lewe van elke mens is ʼn geskenk van God. Niemand het dus die reg om te besluit oor die neem van die lewe van enige mens nie - behalwe in die geval van ’n regter wat ʼn moordenaar ter dood veroordeel en wat as regter in diens van God staan (Rom. 13). Niemand mag dus ook besluit om sy eie lewe te neem nie, want my lewe is God se eiendom! Dit kom neer op vergrype teen God!

Natuurlik is selfmoord ‘n baie ernstige sonde en in baie gevalle die aardse uiteinde van ‘n toestand van Godverlatenheid en rebellie soos in die geval van Saul en Judas. Nooit maar nooit, mag ons aan selfmoord dink as 'n dapper daad nie!

Natuurlik is dit ons plig om mense wat in hierdie rigting neig ernstig te waarsku en met alles binne ons vermoë te help. Betyds hulle noodkrete te hoor en betyds uit te reik. En laat ons dit maar duidelik sê, selfs die diepste gelowiges met die grootste insig in God se genade kan in hierdie versoeking en sonde val, weens erge depressie of ander redes. (Dink maar aan die hartseer geskiedenis van die bekende William Cowper en ook aan die merkwaardige ondersteuning wat hy van sy nog meer bekende vriend John Newton ontvang het.)

...IS DAAR HOOP!

Sonde, alle sonde is erg en doen God se eer skade aan. Maar as ons die Bybelse lering oor regverdiging/vryspraak glo weet ons :

Die selfmoordenaar wat wel ‘n vrygespreekte is, se selfmoord kan hom nie uit die hemel hou nie! Die volledige offer van Jesus aan die kruis vir so ‘n persoon was genoeg vir ALLE sondes, ook die sonde van selfmoord. Indien dit dan sou gebeur dat ‘n vrygespreekte die sonde van selfmoord begaan, is dit ‘n sonde wat net soos ander sondes oneer aan sy naam bring en wat Hy nooit sal goedkeur nie, maar dis ook ‘n sonde, soos alle ander sondes waarvoor Jesus se offer genoegsaam was.

[erkenning aan ds. Sors Geldenhuys]




[Ook vir God se kinders kan dit soms voel of die water net te diep raak...]

*Kliek op WILDE STELLING OOR SELFDOOD