BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Moed inpraat. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Moed inpraat. Wys alle plasings

Vrydag 15 April 2016

AS EK REEDS ALS PROBEER HET...

en niks of niemand kon my help nie, dan is HY nog steeds daar...


Ons het verlede Sondag gekyk na die noodsaaklikheid om na Jesus te kom en so die lewe by Hom te kry. Dis nie genoeg om die Bybel te lees en te ken nie, die Bybel wil ons juis na Jesus lei. (kliek op BLINDE BYBELLESERS) Miskien weet jy dis die enigste oplossing om na Jesus te kom, maar daar is baie dinge wat jou laat terugdeins. Baie dinge het nou al in jou lewe gebeur wat jou moedeloos of bang laat voel om na Jesus te kom. Ek hoop dat jy deur hierdie wonderwerk van Jesus (waarvan ons lees in Matteus 17:14-21) jou sal oortuig dat jy regtig maar kan kom! Dat jy met kinderlike vertroue na Jesus sal kom, vandag nog.

Jesus keer terug van die berg van verheerliking. (1-8) Daar het die stem uit die hemel sy Goddelike majesteit bevestig! “Terwyl hy nog praat, het ‘n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en ‘n stem uit die wolk het gesê: "Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom." (5) Die Goddelike heerlikheid en gesag van Jesus wat so helder geskyn het in die teenwoordigheid van Moses en Elia op die berg word nou getoets en gelukkig bevestig in die harde werklikheid van ‘n stukkende wêreld waar die duiwel verwoesting saai! 

Jesus en sy drie leier dissipels is nou weer terug by die mense en hier kom kniel ‘n man voor Hom. Dis duidelike dat hy ‘n groot nood het, dat hy desperaat is. Waarom is sy nood so groot? Hy het ‘n seun wat geestelik versteurd is en in ‘n toestand van uiterste ellende verkeer. Hierdie is nie maar net ‘n gewone siekte of versteuring nie, maar die direkte werk van ‘n bose gees. ‘n Seun vasgevang in die greep van Satan. (Terloops, alle mense wat aan epilepsie ly of ‘n versteuring het is nie noodwendig van ‘n bose gees beset nie) ‘n Mens kan jou die desperaatheid en die smart van die pa kwalik voorstel. Dit was al ‘n probleem wat ‘n lang pad gekom het. “Jesus het vir die pa gevra: "Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?" "Van kleins af," antwoord hy, "en baiekeer het die gees hom al in vuur en in water gegooi om hom dood te maak.” (Mark 9:21-22) Om alles te vererger het die gees hom stom en doof gemaak (Mark 9:25), so jy kon nie eens met die seun ‘n sinvolle gesprek voer om te probeer vasstel wat die probleem is nie.

Asof alles nie reeds erg genoeg is nie, het hierdie man tevergeefs sy seun na die dissipels gebring, hulle kon hom nie help nie. “Ek het hom al na u dissipels toe gebring, en hulle kon hom nie gesond maak nie." (16) Dink net die geweldige teleurstelling! In effek het hulle hierdie seun tot ‘n ongeneeslike geval verklaar. Wat ‘n ontmoediging! 

"BRING HOM NA MY TOE!"

Maar toe in die diepste donkerte van wanhoop, die helder stem van Jesus : “Bring hom na My toe!” Toe die seun na Jesus self gebring word, moet die duiwel die onderspit delf en die hasepad kies. 

Teen die mag en majesteit van Jesus het die duiwel geen kans nie! 

Twee troosvolle feite kom na vore:

  • Jesus se almag en gewilligheid om mense uit die mag van die duiwel te verlos! 

Jesus bevry hierdie seun van ‘n bose gees en hy word ook genees. Hier is hoop vir sondaars. Alle sondaars is weliswaar nie besete nie, maar alle sondaars is onder die mag van die bose. (Ef 2:1-3) Alle onbekeerdes is maar slawe van satan, of hulle dit besef of nie! Maar Jesus kan en wil sulke slawe bevry! Miskien is jy moedeloos oor jou toestand... jy’t al alles probeer om vergifnis en vrede te kry, maar dit ontwyk jou steeds. Jy het al alles geprobeer om van verkeerde gewoontes en verslawing vry te kom, maar dit teister jou nog steeds. Jy het al hulp en raad gevra by kerkmense, sielkundiges, psigiaters, predikante, pastore en profete en selfs professore, maar niks het gewerk nie... Jy is moedeloos, wanhopig, stukkend, verward... Vriend, hoor Jesus se woorde : Bring hom na My toe!”

WAAROM SOU JY NOG WANHOOP?

Moenie moedeloos wees nie, moenie wanhoop nie. Waarom sal jy moedeloos wees as daar ‘n almagtige God is? Waarom sal jy moedeloos wees terwyl hierdie almagtige God ‘n genadige God is? Waarom sal jy moedeloos wees as Jesus sy liefde vir jou, ‘n liefde tot die dood, reeds aan die kruis bewys het? Waarom sal jy moedeloos wees as Jesus uitgeroep het : “Dis volbring!” Waarom sal jy moedeloos wees terwyl Jesus self stukkendes en moedeloses soos jy uitnooi : ”Kom na my toe almal wat uitgeput en oorlaai is”? (Matteus 11:28) Waarom sou jy langer wanhoop en twyfel aan die krag van Jesus se genade as Jesus ‘n Saggeus, ‘n Petrus, ‘n Paulus, ‘n Maria Magdalena en ontelbare ander reeds gehelp en uit die mag van Satan bevry het?

  • Jesus openbaar sy reddende mag waar daar geloof is, al is die geloof opsigself maar baie swak. 

Geloof is die hand waarmee ons aan Jesus vashou en sy seëninge ontvang, die oog waarmee ons hoopvol na Hom kyk soos die Israeliete na die koperslang op die paal gekyk het en genees is van die gif! Die dissipels kon hierdie seun nie help nie en Jesus raas baie ernstig met hulle. Hy sinspeel met sy woorde in vers 17, “ongelowige en ontaarde geslag” op Deuteronomium 32:5,20 waar dit verwys na die volk Israel se ongeloof en verdorwenheid. Maar juis deur die Here (JHWH) se woorde in sy mond te neem wil Hy hulle laat verstaan dat dit die HERE self is wat nou in Hom (Jesus) na hulle kom. 

Jesus se dissipels het met hulle eie krag en gesag genesing probeer bewerk. Dit was hulle fout... Sonder geloof in Jesus kan ons niks vermag of verwag nie. Geloof is vertroue op Jesus en juis nie op onsself nie. Geloof self is maar gering soos ‘n mostertsaadjie, maar dit is gerig op Jesus en dis wat belangrik is. Dit gaan dus nie oor ‘n klein bietjie geloof nie (geloof kan tog nie gemeet word nie), dit gaan oor geloof in Jesus al lyk dit maar gering! Dit gaan nie oor die krag en kwaliteit van ons geloof nie, dit gaan oor in WIE ons glo. Die pa se houding soos ons dit in Markus kry verduidelik dit mooi. “"Ek glo," roep die seun se pa dadelik uit. "Help my in my ongeloof." (Markus 9:24) Sy eie geloof lyk vir homself maar gering, hy beskryf dit self as “ongeloof”... maar Jesus help hom, want die essensie van geloof is by hom aanwesig – hy kom na Jesus! Dis geloof – om na Jesus te kom, Hom te vertrou, al voel my geloof nie baie sterk nie! Moenie op die grootheid van jou geloof vertrou nie. Geloof kom in aksie wanneer jy met jou sondenood na Jesus kom en Hom vertrou om jou te vergewe en te red! 

Jesus het nie hierdie pa wat erken het dat sy geloof swak is, teleurgestel nie, Hy sal jou ook nie wegwys nie!

Geliefde, weet net dit: 

As al my eie pogings en probeerslae misluk het, as al die raad wat ek gekry het, gefaal het, as al die mense na wie ek opgekyk het, my teleurgestel het, dan is Jesus nog steeds daar, die magtige Verlosser, die Gesalfde van God, die Lam wat vir ons geslag is, die magtige Koning, die Helper van sondaars in nood!




Saterdag 18 Julie 2015

IN DIE DONKERSTE NAG...

- is ons nie "embarrassed" nie!


“Paulus wat help jou evangelie jou, wat het al jou geloof jou in die sak gebring? Kyk na die feite Paulus : jy sit in die tronk, jy ly ongerief, jy is niks, jy besit niks, 'n wrede dood wag op jou... Is dit soos jou Jesus jou behandel, is dit nou wat jy vir al jou moeite en geloof kry?”

WERK DIE EVANGELIE? IS DIT DIE MOEITE WERD?

Dis nogal ‘n goeie vraag : Werk die evangelie, is dit soos in regtig, baat dit 'n mens enigsins - of het dit dalk eerder 'n verleentheid geword, dalk 'n kat in die sak? 

Ek sou my kon voorstel dat sommige van Paulus se kennisse hom met sulke opmerkings gekonfronteer het. Dis heel moontlik dat sommige van ons ook al met sulke aanmerkings voor die kop geslinger is. "Jong, jy is mos 'n groot Christen, maar kyk hoe sleg gaan dit met jou..." Nog meer waarskynlik dat ons al self in tye van angs, hartseer, beproewinge hierdie soort vrae in ons binneste geopper het: “Ek wonder, werk die evangelie regtig, maak dit 'n verskil, is dit die moeite werd om 'n Christen te wees?”

Hoe sou jy sulke twyfelvrae beantwoord van andere of in jou eie gemoed? Ek dink ons kan 'n goeie aanduiding in 2 TIMOTEUS 1:3-12 kry hoe Paulus dit sou geantwoord het.

Paulus self verkeer inderdaad in haglike 'n toestand; dis sy tweede gevangenskap in Rome. Hy verwag enige oomblik om tereggestel te word. Ons lei dit af uit 2 Tim 4:6 – “die tyd van my dood is voor die deur”. (Hy is vir alle praktiese doeleindes in die dodesel) Tog is dit merkwaardig, juis in hierdie omstandighede skryf hy 'n bemoedigingsbrief aan Timoteus. 

Timoteus was nog betreklik jonk en sy verantwoordelikhede het miskien vir hom te veel geword. Ons kan aflei dat hy ook swaargekry het – (8)- “ontberings”. Dit lyk asof hy miskien depressief, bevrees of dalk moedeloos geraak het. Daarom Paulus se kragtige bemoediging in vers 7 : "Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing." 

Nou hoe moedig Paulus vir Timoteus aan, wat sê hy om hom weer moed in te praat? Dis nogal belangrik dat ons dit sal raaksien. Paai Paulus hom met : “Ag,Timoteus alles is darem nie so erg nie, jong jy moet jouself maar net 'n bietjie regruk, wees 'n man en byt vas?” Nee, weet u wat - hy vat hom terug na die "basics" - die basiese feite van die evangelie. Hy voer hom weer 'n opsomming van die grondwaarhede van die evangelie. Natuurlik het Timoteus dit baie goed geken, maar Paulus herinner hom net so 'n bietjie. 

"Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het.
Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring." (9-10) 

Let op - "die mag van die dood gebreek het" - dis veelseggend as mens besef dat Paulus self die dood hier in die gesig staar. (Dit lyk vir my baie belangrik as mens verward voel, hartseer, vol twyfel, moedeloos - vergewis jouself net weer van die basiese feite van die evangelie!)

Paulus se onwrikbare vertroue op God en die evangelieboodskap bring hom by die klimaks van 12. 

"Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou."

Wat wil Paulus nou eintlik hier sê? Hy sê in effek, ek weet ek is in die tronk juis omdat ek hierdie evangelie verkondig. maar ek staan nie beskaamd as gevolg van die evangelie nie. Ek is nie in 'n verleentheid nie, ek is nie uitgeboul nie. Inteendeel! Ek is trots op die evangelie... Ek wonder nie of ek die regte keuse gemaak het nie. Ek is hoegenaamd nie ontnugter nie, die Here het my nie in die steek gelaat nie (onthou weer, hierdie man sit in 'n dodesel) Waarom hierdie positiewe gesindheid, blydskap en vertroue? Sê Paulus nou maar net vir homself, “ag dinge is nie so erg soos dit lyk nie?” 

Nee, hy gee 'n gewigtige rede. "Ek is daarvan oortuig....!” (12) Uit die konteks is dit die waarheid van die evangelie. Ek is nie verleë nie, ek kan alles hanteer, probleme in die oë kyk, ek is wat ek is, selfs hier in die tronk staan ek nie beskaamd nie, agv die vaste waarheid van die evangelie. Die Here self waarborg sy evangelie, Hy is magtig om dit in stand te hou. In hierdie feit lê my hoop en troos. “Timoteus, jy moet ook vashou aan hierdie vaste waarheid aan die evangelie. Dan sal jy nie bang en verskrik en paniekerig wees nie.” Paulus bemoedig Timoteus deur hom weer terug te bring na die sekerheid van die evangelie, die Godgewaarborgde evangelie. Die Goeie nuus van die kruis en opstanding!

Wat anders is vas en seker as juis die evangelie, en net die evangelie?

Laat ons realisties wees. Oornag (letterlik) kan jou finansiële bates, jou gesondheid, jou intellektuele vermoëns, jou geliefdes weggeneem word... (kliek op MATRIEKDOGTER)  Enige oomblik kan dit ook die einde van jou aardse bestaan wees. Al wat gewaarborg kan word is die kosbare beloftes van die evangelie omdat ons Here dit waarborg.(Let wel - die evangelie waarborg nie ons gesondheid, voorspoed ens. nie, maar die Ewige Lewe.) Die evangelie laat jou nie in die steek nie, daarom kan Paulus sê : “Maar dit skrik my nie af nie...” Dus, dink vir jouself, wat is dit wat regtig tel, wat maak ten diepste saak, waarvan moet jy ten alle koste seker maak, wat moet jy soek met alles, wat moet heel eerste kom? 

Vriend, jy moet seker maak dat jy persoonlik deel in die beloftes van die evangelie, dit toe eien. Die wat die evangelie glo sal nooit beskaamd staan nie - die teenoorgestelde is natuurlik net so waar- diegene wat hulle sekuriteit en geluk bou op enige iets of iemand anders sal defnitief beskaamd staan, teleurgesteld word. Hulle sal eendag uitroep : “Wat 'n dwaas was ek nie gewees nie!” 

Waarop bou jy? Is die evangelie jou anker? Sonder hierdie boodskap kan ons nie lewe nie en nog minder kan ons sterwe.

Die troos van die evangelie behels nie om as ek hartseer is 'n gepaste Bybelteks te soek en te hoop ek voel vir 'n rukkie beter nie. Nee, ek ontvang die waarheid, omvattende waarheid wat handel oor verlossing en genade maar ook oor straf! Hemel, maar ook hel. Die evangelie gee waarheid, en die gevolg daarvan is troos. Jy kan nie by die waarhede verbyglip en net vat wat jy graag wil hê of nodig het nie. Nee, jy moet die waarheid as geheel aanvaar en die byproduk is troos, blydskap en al daardie dinge..

Die wat die evangelie vertrou en op Jesus hoop word nooit teleurgestel nie, staan nooit verleë nie, selfs nie in hulle donkerste ure van smart en lyding nie. Paulus se lewe en gesindheid wat hy in die brief weerspieël is 'n praktiese bewys daarvan. 

Kom ons dink sommer aan ‘n ander bekende voorbeeld : H G Spafford was ‘n welaf man, maar het als verloor in die bankineenstorting in die VSA. Dit was nie die ergste wat hom getref het nie. Hy kry op ‘n dag die nuus van sy vrou wat saam met sy vier dogters per skip na Europa toe is dat al vier sy dogters verdrink het na ‘n botsing op see! Wat was sy reaksie op hierdie uiterste tragedie? Hy het ‘n lied geskryf... When peace like a river attendeth my way,When sorrows like sea billows roll,Whatever my lot, though hast taught me to say,It is well, it is well, with my soul! 

Geliefdes, die evangelie werk, dis nie 'n kat in die sak nie, maar 'n kosbare, die kosbare skat ook in nagdonker tye! AMEN



[erkenning aan 'n boodskap van dr.Martyn Lloyd-Jones]