BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Louis Trichardt. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Louis Trichardt. Wys alle plasings

Woensdag 21 Oktober 2015

LOUIS TRICHARDT KAP SINODE SONDE

VERKLARING DEUR DIE UITGEBREIDE RINGSKOMMISSIE* VAN DIE RING VAN LOUIS TRICHARDT: 19 OKTOBER 2015



DIE SONDE VAN DIE AS: DIE INSTELLING VAN NUWE MENSLIKE VERBINTENISSE BUITE DIE HUWELIK VIR GESLAGTELIKE VERKEER.

VERKLARING

1.Die Uitgebreide Ringskommissie van die Ring van Louis Trichardt het op die  vyftiende Oktober 2015 die besluite van die Algemene Sinode oor homoseksualiteit en die moontlike aanvaarding van die Belharbelydenis deur streekssinodes verwerp.

2.Die kommissie roep die kerkrade, gemeentes en lidmate van die ring op om hierdie besluite van die Algemene Sinode (voortaan AS) te verwerp.

3.Die kommissie beveel die besluit wat die kerkraad van die gemeente Louis Trichardt aan die kommissie voorgelê het, by kerkrade aan as die standpunt wat teenoor die AS se besluit ingeneem moet word.

4.Die kommissie gee sy ringsgemeentes kennis dat die kommissie dit oorweeg om by die Ring aan te beveel om, indien die Noordelike Sinode deur die instelling van die Sinodale Diensraad, nie die innerlike teenstrydigheid van die besluit van die AS aanspreek en opklaar nie, gemeentes te vra om hulle fondse van die sinode te weerhou.

5. Die AS se standpunt dat kerkrade nou mag besluit dat wat vir een sonde is vir ʼn ander gehoorsaamheid aan die Here is, is kerkregtelik teen die taak en bedoeling van die AS om die gemeenskaplike belang van die NG Kerk te dien. Die uitgebreide ringskommissie van die Ring van Louis Trichardt wys kerkrade en gemeentes daarop dat die AS met hierdie reëling in effek die sinodale verband van die NG Kerk verbreek het. Die AS het sy taak as vergadering versaak: om die gemeenskaplike belang van die NG te dien. 

6.Dit is hierdie kommissie se oortuiging dat hierdie sonde van die AS elke lidmaat en kerklike vergadering voor die uitdaging stel om hierdie gebroke verband te herwin en te handhaaf. Die kommissie het besluit dat die weg waarin hy die Ring sal lei is om sy sinodale karakter te behou teen hierdie verdelende besluit van die AS. Die eerste handeling
om ons verband te behou, is om die AS se besluite te verwerp.

7.Die kommissie wys kerkrade en lidmate daarop dat die AS se sondige besluit lidmate en kerklike vergaderinge in die posisie plaas om aan God meer gehoorsaam te wees as aan die AS se besluite. (Handelinge 4:19 en 20)
Dit is nie ʼn moeilike keuse waarvoor ons geplaas is nie. Veral nie teenoor die AS wat openlik erken dat die AS sy lidmate oor die 40 jaar mislei het deur die sonde van apartheid as gehoorsaamheid aan God vir sy lidmate geregverdig het. Die AS is maar net weer besig om die nuwe staatbestel Bybels te heilig en te regverdig as God se nuwe bestel vir sy kerk, op dieselfde wyse as wat die AS apartheid met die Bybel probeer regverdig het.

8.Daarom bly die Ring by sy standpunt dat die enigste geloofsoortuiging waaraan gelowiges gebind kan wees is dat homoseksuele verbintenisse sonde is.

* Die Uitgebreide Ringskommissie van die Ring van Louis Trichardt bestaan uit elke gemeente se ringsafgevaardigdes om spoedeisende sake namens al die ringsgemeentes tussen Ringsittings te hanteer.