Geagte
Redakteur
Wanneer
ek die Kerkbode van 18 Oktober 2013 lees dan is daar ‘n klomp vrae wat in my
gemoed bly maal.
Een
van die vrae is betreffende die voorblad-artikel van *Neels Jackson waarin hy
die opmerking maak dat die Belhar-belydenis op so ‘n wyse aanvaar is dat dit
niemand se gewete bind nie. My vraag is nou: As ‘n belydenis dan niemand se
gewete bind nie, wat is die doel dan daarvan? Waarom word daar dan hoegenaamd
enigsins bely? Kan ons onsself die geestelike chaos voorstel wat die
noodwendige uiteinde is van die beginsel van ‘n belydenis wat niemand se gewete
bind nie? Waar gewetens nie gebind word nie het ons gewetenloosheid. Wil God
nie juis ons gewetens bind in terme van sy ewige en onfeilbare Woord nie? Is ‘n
gereformeerde kerk se belydenis nie juis bedoel om te sê wat Gods Woord sê op
so ‘n wyse dat die mens dit kan verstaan juis sodat hy sy gewete daaraan kan
onderwerp nie? Is die gewetenloosheid van die in-sonde-vervalle mens nie juis
die rede vir die onvolkomendheid van hierdie wêreld waarin ons leef nie?
Waarnatoe is ons oppad met so ‘n standpunt rakende die belydenis van ons kerk?
Is ons besig om die ankers van ons bestaande belydenis stelselmatig so los te
woel dat die NG Kerk uiteindelik kan opeindig totaal sonder belydenis? Of is
ons op hierdie manier besig om subtiel die grond voor te berei om uiteindelik
‘n on-Bybelse belydenis soos Belhar op die gewetens van God se kinders af te
forseer? Waarmee is ons besig wanneer ons die nuwe voorgestelde artikel 1 van
die NG Kerk se Kerkorde wil laat goedkeur?
‘n
Tweede vraag wat uitstaan tussen die warboel ander vrae in my gemoed, is na
aanleiding van die opmerking wat Pottie Viviers maak in sy brief in die
briewekolom, nl. “Ons almal bly soekers na die Waarheid”, en dan meld hy 1Kor.
13: 12b en 13 as bewysplaas vir sy stelling. In my eenvoud het ek nog altyd
verstaan dat Jesus die Weg, die Waarheid en die Lewe is (Joh. 14: 6). Die
christen is iemand wat vir Christus gevind het. As iemand dan vir Christus
gevind het, dan het hy/sy die Waarheid gevind. 1Kor. 13: 12b verwys beslis nie
daarna dat ons soekers na die Waarheid is en bly nie. Nee, die Waarheid, en
inderdaad die volle Waarheid, het ons reeds gevind in Jesus Christus. 1Kor. 13:
12b verwys na die volheid van die heerlikheid van God se ewige Koninkryk; dit
is iets wat nie nou vir ons nodig is om te weet nie. Dit het niks met die
saligmakende Waarheid te doen nie, en is totaal irrelevant vir ons aardse lewe
en bestaan. Eendag in die ewige hiernamaals sal ons dit wel weet. Daarom is
elke christen dus nie soekende na die Waarheid nie, maar wagtend
op die openbaring van die volle heerlikheid van God se ewige Koninkryk (Rom.8:
18 tot 25).
Die
punt is nou net dat ek altyd gedog het dat ‘n predikant iemand behoort te wees
wat vir Jesus ken, wat die Waarheid ken, en wel op so ‘n wyse dat hy ander na
hierdie Waarheid kan lei. Pottie se opmerking maak dit egter duidelik dat hy
nie iemand is wat die Waarheid gevind het nie (volgens sy eie getuienis).
Waarom is hy dan ‘n dominee? Dit klink vir my of hy te kenne wil gee dat hy ‘n
blinde leier van blindes is (Jes. 56: 10 asook Matt. 15: 14). Hoeveel sulke
dominees is daar nog in die NG Kerk? Waarom sal mense dan deel wil wees van ‘n
kerk wat deur blinde leiers gelei word? Waarskynlik is dit een van die plekke
waar gekyk sal moet word wanneer gesoek word na die rede(s) vir die
agteruitgang van die NG Kerk. As die NG Kerk ernstig is met haar poging tot
herstel, sal sy opnuut ernstig moet gaan kyk na Skrifgedeeltes soos Kol. 1: 19 en Kol. 2: 9 en 10. Met die Seisoen van
Luister is daar dalk te veel geluister na mense, en te min na God. Miskien moet
daar gekom word na ‘n punt om waarlik meer en onvoorwaardelik na God te
luister, en mense se opinies ‘n bietjie op die agtergrond te skuif.
Die werklikheid wat hierdie twee vrae van my met
mekaar deel dui op ‘n koerslose onsekerheid binne die NG Kerk wat uitskreeu na
‘n sterk kerklike leierskap wat duidelik en ondubbelsinnig weer sal kan sê: So
spreek die HERE Here! Waar is daardie leiers? Ons soek hulle! Ons het hulle
dringend nodig!
*Neels Jackson is as uitvoerende
joernalis en Kerkbode-redakteur aangestel. Hy aanvaar diens op 1 Desember 2013. Neels het onlangs geskryf oor die gay kwessie : "Die NG Kerk praat deesdae graag oor menswaardigheid, maar solank kerkmense gays stereotipeer en byvoorbeeld die reg op ’n huwelik wil ontsê, sal dit hol woorde bly.
**Ds. Hector Jooste is leraar van die NG Kerk, Otjiwarongo in Namibië. Die gemeente maak deel uit van die Noordering van die NG Kerk in Namibië.
Maar ook wat dit betref, is die skip aan die draai.
Baie mense sal voel die groot draai van die skip gaan te stadig.
Vir ander is dit ontstellend vinnig. Maar vir almal is dit waarskynlik onomkeerbaar."
**Ds. Hector Jooste is leraar van die NG Kerk, Otjiwarongo in Namibië. Die gemeente maak deel uit van die Noordering van die NG Kerk in Namibië.
BAIE dankie hiervoor dominee. Insiggewende perspektiewe op Belhar kan hier gelees word:
AntwoordVee uithttp://hierstaanek.com/2013/10/08/die-algemene-sinode-besluit-om-die-ng-kerk-te-skeur/
"Met die Seisoen van Luister is daar dalk te veel geluister na mense, en te min na God."
AntwoordVee uitAmen, ds! Die Bybel maan ons juis weg van mense se menings.
Dankie Hector vir 'n netjiese stukkie skryfwerk! Hierdie kastige "soeke na die waarheid" is net 'n rookskerm vir ongeloof en ongehoorsaamheid. Dis mos juis die heerlikheid van die evangelie dat die genoegsame Waarheid vergestalt word in Een Persoon wie se kruisdood, liggaamlike opstanding en voortdurende intrede vir ons als bewerk het wat nodig is...
AntwoordVee uitAs ek praat van "Soekers na Waarheid" bedoel ek dat ons as christene nie vir Jesus wat die Waarheid is eenders interpreteer rondom etiese kwessies nie. Hierin kan ons mekaar help deur geduldig na mekaar te luister soos die Gees ons lei en nie mekaar etiketteer as "nie christen" soos Hector dit doen nie. Waarheen is ons oppas met ons liefdeloosheid? Pottie Viviers
Vee uitEk glo ds.Jooste sal jou mettertyd antwoord.
Vee uitDis egter 'n feit dat die oordrewe klem op "soeke na die waarheid" 'n skuilplek bied vir diegene wat die duidelike Bybelse boodskap oor verskeie etiese sake wil systap. Christus het tog nie sy kerk in 'n etiese duisternis nagelaat nie, want Hy beveel dat sy dissipels alles moet onderhou wat Hy beveel het. In praktyk klink baie van ons kerkmense eerder asof hulle saam met Pilatus stem ("Wat is waarheid?") as met Jesus wat ons verseker dat ons die waarheid sal ken en dat die waarheid ons sal vrymaak!
Beslis het God se kinders mekaar nodig om die Woord onder leiding van die Gees te verstaan, maar dit maak net sin as ons glo (anders as die Post Modernisme) dat die Woord die waarheid is en baie duidelik vir ons ook lei ten opsigte van etiese besluite. Dit sal byvoorbeeld vereis dat ons erns maak met Paulus se uitsprake oor sake soos homoseksuele gedrag...die bestaan van die duiwel...ens.
groete
Johannes de Koning
Hoe dan nou? Pragtig gelowwge kinders van die Here verstaan die Woord verskillend. Wie is dan reg en wie is verkeerd? Ons kan tog nie die Woord in alle opsigte letterlik gaan verklaar nie?
Vee uitDan is dit tog nodig dat ons weer 'n keer gaan kyk na hermeneutiek en Bybeluitleg. om by 'n beter verstaan en waarheid uit te kom rondom etiese kwessies wat ons nie kan systap nie.
Groete
Pottie
Ja, daar is inderdaad baie redes waarom kinders van God oor sekere sake verskil. Dis een rede waarom ons mekaar nodig het - en die "ons" sluit in gelowiges van alle eeue. Dis juis waarom ons Belydenisskrifte so kosbaar is. Die verklaring van die Woord is 'n onderwerp op sy eie - dis nie bloot 'n kwessie van letterlik en nie-letterlik nie. Dit gaan onder andere oor die verrekening van die progressiewe openbaring wat ons in die Skrif vind, die Nuwe Verbond en die hoogtepunt van die openbaring in Jesus Christus. (Hebr 1:1-3) Kyk gerus na my bydra op die blog, "AANLKAG VAN DIE MOEDWILLIGES" Maar ons gaan nou van die punt af...
Vee uitDie eintlike saak is of ons van kinders van God kan praat as "Soekers na die Waarheid". Dit het 'n gelaaide begrip geword vir post-moderniste wat alle norme en vaste waarheid bevraagteken (ook die unieke Middelaarskap van Christus). Om sulke terminologie te gebruik is dus eintlik al holrug gery en beslis vatbaar vir misverstand, omdat kinders van God per definisie mense is wat die Waarheid ken en juis deur die Waarheid vrygemaak is! Die "Soekers" is ouens soos die Renaissance manne, Abel en Kie, wat alle waarheid oorboord gegooi het en niks meer van die evangelie oorgehou het nie...
Ek probeer nie beweer enige Christen weet alles nie, maar as die kerk na 2000 jaar weer wil wonder of daar 'n duiwel is en of homoseksuele gedrag teen God se bedoeling indruis, is dit nie 'n nuwe hermeneutiek wat nodig is nie, maar bloot gehoorsaamheid...
Uittreksel uit die By: 25 Oktober 2013
Vee uitStrydom verduidelik post-evangelisme beteken nie dat sendelinge ophou om die evangelie te verkondig nie. “Dit beteken slegs dat daar ’n baie groter bewustelikheid is vir ons eie subjektiwiteit en sensitiwiteit vir mense wat anders dink.
“Die klem is baie meer daarop om Jesus se boodskap te demonstreer as om te veroordeel en te preek.”
Dr. Theo Geyser, leier van die Invia-gemeente in die Kaap en aanbieder van die TV-program What does God Think of Us, sê post-evangeliste se boodskap lê – soos Jesus s’n – in dade van liefde; deur ’n proses van inkulturalisasie.
Inkulturalisasie vind plaas wanneer Christus in ’n kultuur beleef word. Post-evangeliste glo nes hul God vir Jesus aarde toe gestuur het om hom te vestig binne die kultuur en lewenstyl van die mense van daardie tydperk, sal die evangelie vandag slegs toeganklik wees wanneer mense met die boodskapdraer kan identifiseer. Nog ’n kenmerk van die post-evangelistiese benadering is die siening dat Jesus na die wêreld gekom het om na ál die behoeftes van die mensdom om te sien – fisiek, sosiaal en spiritueel.
“Die post-evangelistiese denkwyse is dat God nie eendag die aarde gaan ontruim en dan gaan Christene hemel toe nie. Vir hulle gaan als oor die hier en die nou. Soos in die hemel, so ook op die aarde,” sê Geyser.
Strydom voeg by: “Ek hoop sendingwerk sal meer liefde, meer vredemakers, minder geweld, minder materialisme, meer vrygewigheid en omgee en genade vir mense wat ‘anders’ is tot gevolg hê.”
Pottie met alle respek, ek weet nou nie juis waar hierdie stuk wat jy aanhaal oor "post-evangelisme" inpas nie, maar ek sal tog kortliks daarop reageer.
Vee uitDit is sterk eensydig en 'n verdraaiing van Jesus se boodskap. Ek het grootgeword in 'n sending omgewing. Sendelinge het nog altyd geglo dat die boodskap ook sigbaar moet word in dade van praktiese liefde. Die boodskap van Jesus gaan egter oor baie meer. Hy het duidelik mense opgeroep tot bekering. (Markus 1:14,15) Jesus het mense konkreet op hulle verkeerde dade gewys...(soos gierigheid, egbreuk ens.) Hy bied vir die Samaritaanse vrou die lewende water aan, maar Hy ontmasker juis ook haar sondige saamblyverhouding. En terloops, Jesus het meer oor die hel en toekomstige oordeel gepraat as enigiemand anders in die Nuwe Testament.
Weereens ek weet nie hoekom jy hierdie Strydom aanhaal nie, maar as sy siening ook jou siening is, moet ek jou vriendelik waarsku dat jy met dwaalleer besig is.
Geyser en Strydom se Jesus lyk my in die lig van die Skrif 'n valse Jesus te wees!
Die kern-probleem in die hedendaagse omgaan met die Skrif sentreer rondom die relativering van Skrifwaarhede (Wat vir jou waar is, is nie noodwendig vir my waar nie.). Op hierdie manier regverdig baie hulle eie onwilligheid om onvoorwaardelik te buig voor God se wil en gesag. God se wil, ook rondom etiese kwessies, is geensins onduidelik nie. Inteendeel dit staan klinkklaar en duidelik in die Skrif opgeteken. Rondom Christus en sy boodskap vir sy kerk, is niks onduidelik nie. Daarom verwys Christus ook na Homself as die helder Môrester in Op. 22: 16. Wanneer mense rondom kwessies soos die bestaan van die duiwel en die sondigheid van homoseksualisme sukkel om uit te maak wat reg en verkeerd is, is dit omdat die helderheid en duidelikheid van Christus en sy boodskap vertroebel en verduister word deur mense wat soos ‘n Saul van ouds, net nie daarin kan slaag om van hulle sondige eiewilligheid (1Sam. 15: 17 tot 23) ontslae te raak nie. Diegene moet dan nie die onduidelikheid en vaagheid wat hulself ervaar betreffende die boodskap van Christus, net so van toepassing maak op alle ander mense nie. Almal is nie noodwendig besig om ook in ‘n poel van eiewilligheid te versink en te verdrink nie. Daar is kinders van die Here wat inderdaad doen wat Christus sê in Matt. 16: 24, nl. om hulleself te verloën en waarlik volkome op God en sy wil te fokus (Matt. 16: 24)?
Vee uitAs mense sukkel om die stem van God in hulle lewens te herken soos ‘n Samuel van ouds (1Sam. 3: 1 tot 10), dan lê die antwoord ook nie daarin om God en sy Woord af te dwing na ons vlak, standaard, wil en wense net om uiteindelik te kan sê: “Nou hoor ek vir God”, nie. Die antwoord lê daarin dat ons opgehef sal word na God se standaard; met ander woorde dat ek vir God beter sal leer ken. Hierdie ken-proses vind alleen plaas in en deur God se Woord; nie in menslike uitvindsels, denke, filosofie en aardse wysheid en/of geleerdheid nie (1Kor. 1: 18 tot 25). Vanaf die oomblik dat Samuel homself onvoorwaardelik oopgestel het vir God se Woord (1Sam. 3: 10), het hy gegroei as een van die grootste en betroubaarste profete van die Here (1Sam. 3: 19 tot 4: 1). Dit is die tipe leiers waarna die kerk van Christus smag.
Die kruks van die saak bly egter dat die onduidelikheid nie by God en sy boodskap lê nie, maar by die mens. En die mens maak hierdie onduidelikheid net nog groter wanneer hy na antwoorde gaan soek weg van God en sy Woord af.
Pottie, ek het gereageer op dit wat jy in jou brief aan die Kerkbode geskryf het en soos wat dit algemeen vertolk en verstaan is. Daarom kan ek geen verskoning aanbied vir my standpunt soos gestel nie. Indien jy egter iets anders daarmee bedoel het, is ek jammer en vra ek jou verskoning dat ek jou verkeerd verstaan het en vir my gevolglike reaksie daarop. Dit is egter nie wat ek en andere uit jou skrywe verstaan het nie.
Laastens sou ek verder ook maar net wou opmerk dat ons dalk ook versigtig moet wees (terwyl ons nou so vir ‘n klomp goed versigtig moet wees) om mekaar as “liefdeloos” te etiketteer. Miskien is dit dalk juis as gevolg van die liefde vir my Here en ook vir jou dat ek uiteindelik na baie gewroeg my brief geskryf het.
Weet jy Hector, ons doen die kerk van Christus 'n groot onreg aan in ons onwrikbare vashou aan standpunte soos ons die Bybel interpreteer met die uitgangspunt: "Ek is reg, die ander is verkeerd."Ja, Christus is die Waarheid en dit bely ek met my hele hart, verstand,denke,geloof.
Vee uitMaar dit is nie so maklik om Hom so te interpreteer sodat gelowiges in eensgesindheid saamstem nie. Jesus is die goue draad wat deur die Bybel loop. Ja Hy is die Woord, Hy is die Waarheid.
En tog het die Bybel baie teksgedeeltes wat ek nie nou gaan aanhaal nie, wat nie altyd die toets van die kennis (waarheid) van die dag slaag nie. Die Bybel het nie foute nie, maar die Bybelskywers en hul omgewing het nie die voorreg gehad soos ons vandag met die wetenskap in sy ryke gestaltes, die Gees is ook in die wetenskappe teenwoor5dig, wat vir ons vandag help om meer lig te werpom die Bybel beter te verstaan.
So is daar ook sake in die Belydenisskrifte wat teenstrydig is met dit wat ons vandag weet. Ook die wetenskappe gee ons hierin 'n beter verstaan waarom dit so is.
Ek is 'n navolger, nie van predikante nie, of denkrigtings nie. Predikante en denkrigtings het die kerk al op dwaalweë gelei.
Die kerk se goedpraat van apartheid bevestig my stelling. Ek is 'n navolger van Jesus wie se identiteit ek aaangeneem het kragtens my verkiesing en roeping.*(Ja, ek voel baie sleg as mede-gelowiges my christenskap betwyfel en my as 'n nie-Christen of as 'n dwaalleraar uitmaak)
Hierdie jesus wat ek volg, Hy is Liefde. Hy wat die Fariseërs en Wetsgeleerdes ontmasker het, omdat hulle liefdeloos optree. En hierdie Jesus leer my in Matt. 25 om sy liefde radikaal uit te leef.
En dit bring my uit by moeilike situasies, soos homoseksualiteit, waaroor daar nie altyd 'n maklike antwoord is nie. Ja, uit die aard van die saak het ek my eie beskouing wat ek nie in mense se kele wil afdruk nie. Ek sal eerder saam met mede-gelowiges soek na groter waarheid rondom hierdie en ander sake.
Jy en ek kom uit die era van die Leer-en Aktuele sake kommissies wat ons juis help in die verstaan van etiese en ander kwesses rondom die Bybel. Moet ons dit opblaas, so ook kweekskole en die christelike wetenskap en teologie omdat die mens mondig geword het om Jesus die Waarheid te interpreteer en hierin na te volg.
Nee, broer, so maklik, is dit nie. Daar heers al soveel verdeeldheid ook onder christene wat die Bybel op gesigswaarde takseer.
Die Here het besondere gawes vir sy kerk gegee - ons moet nie hierdie persone afskiet nie - hulle help ons weer om tot 'n meer dieper verstaan te kom. Jy en ek het weer ander gawes ontvang. Saam help ons mekaar om 'n voller prentjie van Jesus, die Waarheid in ons koppe te vorm en dan ook radikaal sy Liefde te gaan leef.
God hou sy kerk instand, deur sy Woord en Gees - Jy en ek is maar net die boodskapdraers van sy Liefde binne die lig van ons verstaan wie Hy is.
Ek moet oor twee/drie jaar aftree en ek is besorg oor die Kerk wie God so liefhet en die kerk wat die moeder is waarin ek grootgeword het.
Wanneer daar sake is waaroor die Bybel nie vir my ten volle klarigheid gee nie, dan kies ek maar liewer om aan die kan van die Liefde te staan.
Dit is my hart wat ek hier openbaar aan julle, 'n kind van die Here wat baie sondes het, maar iemand wat deur die genade van Jesus sy identiteit aangeneem het.
Moet my dan die verkwalik as ek 'n bietjie seergemaak voel as ek etiketteer word as nie-christen, as dwaalleraar. So is daar baie kinders van die Here wat moet deurloop onder die oordele en liefdeloosheid van kerkmense. Laat ons nie medewerkers wees om die kerk te verdeel nie, maar liewer eensgesind wees in ons strewe om te verenig rondom Christus wat Waarheid en LIefde is.
Hiermee sluit ek my betoog af.
Dankie vir die geleentheid.
Wat `n vars briesie uit die susterskerk! Mag julle opgebou word in die vreugde en eensgesindheid in die Waarheid (Xp wat ons deur die ware geloof ken). Goeie artikel.
AntwoordVee uit