BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket God se volk. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket God se volk. Wys alle plasings

Dinsdag 10 November 2020

WIE IS GOD SE VOLK?

Is jy deel?

Dis beslis die grootste voorreg wat enige mens op aarde kan hê – om deel te wees van God se eie volk! Maar WIE is God se volk? Hierdie vraag is tans weer intens aktueel. Wat is die status en funksie of doel van hierdie volk! 

Die antwoorde op hierdie vrae is nie bloot van teoretiese belang nie. Dit ontbloot die kern van jou verstaan van die evangelie. En daarmee saam hoe jy die verskil tussen die Ou en die Nuwe verbond sien. Dit raak ook uiteindelik jou praktiese besluite as gelowige. Die apostel Petrus antwoord hierdie uiters belangrike vrae gelukkig baie duidelik. 

KOM ONS LEES 1 Petrus 2:9-10 

"Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. 
Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys." 

Petrus verwys amper woordeliks na ’n baie belangrike Ou Testamentiese gedeelte in Eksodus 19:4-6. ‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel." 

Onthou die konteks van hierdie woorde van God. Dis God wat met sy volk Israel praat by die berg Sinai nadat Hy aan hulle genade bewys het deur hulle uit Egipte te bevry. Dis opvallend die hele volk word “priesters” genoem. Oor die algemeen in alle volke was priesters destyds ’n besondere groep mense wat direk in kontak kon kom met die godheid. 

Wonderlik! Israel as nasie is almal in hierdie sin priesters, hulle almal (ook die gewone mense) staan in ’n besondere verhouding tot die lewende God. Priesters was destyds normaalweg ’n afgesonderde groep met voorregte en pligte en so het die verloste Israel ook gedeel in spesiale voorregte maar ook verpligtinge om God se heilige volk te wees. Maar nou weet ons almal hulle het die verbond verbreek deur onheilige optrede. Dit het God se oordeel oor hulle gebring. Dit het uitgeloop op die ballingskap. 

Die profeet Hosea het hierdie oordeel van God oor sy volk in baie skerp taal beskryf. Nadat sy vrou Gomer swanger geraak het kom die opdrag aan die profeet : "Noem hom "Nie-my-volk-nie", want julle is nie my volk nie en Ek is nie julle God nie." (Hosea 1:9)

Skrikwekkend! Pynlik hartseer! Maar as mens na die hele profesie kyk is daar ‘n belofte van hoop! ‘n Belofte van herstel!

“...Tog sal die getal van die Israeliete in die toekoms wees soos die sand van die see wat nie getel of gemeet kan word nie. Waar nou vir hulle gesê word: "Julle is Nie-my-volk-nie," sal vir hulle gesê word: "Julle is kinders van die lewende God." (Hosea 1:9,10) Sien, God beloof herstel. 

Ook Jesaja 61:6 verwys na hierdie herstel! En let op die hele volk gaan priesters wees! “Julle sal genoem word: Priesters van die Here, Dienaars van ons God. Julle sal van die rykdom van die nasies geniet, die trotse eienaars word van hulle besittings.” 

OOK ANDER NASIES WORD INGESLUIT!

Hierdie herstel soos beloof in terme van die Nuwe Verbond het ook ‘n ander wonderlike faset. Iets wonderliks - ook ander nasies sal ingesluit word. Ons kry reeds 'n aanduiding daarvan in Jesaja 19:25. “Die Here die Almagtige sal hulle seën en sê: Geseënd is my volk Egipte, geseënd is Assirië wat deur My geskep is, en geseënd is Israel, my eiendom.” 

God se verbondseën sal ook deur ander etniese volke gedeel word! 

En dis presies waarna Petrus hier verwys . Hy sê in effek vir hierdie voormalige heidene wat nou Christene geword het : “Julle, wat voorheen nie aan Israel behoort het nie, is nou deel van God se volk en dus ’n heilige priesterdom.” Petrus sê nie hier ‘n nuwe ding nie. Reeds by die apostelkonvent in Handelinge 15 lees ons hiervan. “Simon het verduidelik hoe dit God self is wat begin het om na die heidennasies om te sien deur vir Hom ‘n volk uit hulle te versamel. Die profete sê dieselfde. Daar staan geskrywe: Daarna sal Ek terugkom, en Ek sal die vervalle huis van Dawid weer opbou, en Ek sal sy bouvalle herstel en dit weer regmaak, sodat al die ander mense die Here kan soek, ja, al die heidennasies wat Ek geroep het om my eiendom te wees, sê die Here wat hierdie dinge doen." (Handelinge 15:14-17) 

God se volk bestaan nou uit gelowiges wat Hy deur Jesus verlos het uit al die volke van die aarde! 

Nêrens word hierdie waarheid duideliker gestel as in die lied van die ouderlinge in Openbaring nie! “Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.” (Openbaring 5:9) 

So wie is God se volk? 




God se volk is nie die huidige staat Israel nie.





God se volk is nie die Boerevolk of die blanke volkere of enige spesifieke etniese groepering nie. 





God se volk is almal wat waarlik aan Jesus Christus behoort! 


Paulus laat ook geen twyfel hieroor nie : “Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.” (Galasiërs 3:7) 

Net kortliks. Wat is die taak van God se volk hier op aarde? 

Petrus het reeds in 2: 5 verwys na geestelike offers. Wat word daarmee bedoel? Vers 9 verskaf die leidraad :“om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, ” (OAV), “verlossingsdade moet verkondig”, (NAB) Dit gaan terug na Jesaja 43:21! Daar lees ons - “Dit is die volk wat Ek vir My geskep het, en wat my lof sal verkondig.” 

Nie meer bloedoffers nie, maar lofoffers! 

Ons doen dit deur geloofwaardige belydenis van Jesus se Naam, die verkondiging van die evangelie, die bring van lof wat fokus op God se dade en karakter soos geopenbaar deur Jesus. As jy die genade van Jesus beleef het, as jy deur Jesus se versoeningswerk deel van God se volk geword het, sal jy nie anders as spontane lof en dank aan God kan bring nie! 

Jy protesteer : "Ek kan nie goed praat nie, ek is skaam..." Gestel iemand help jou uit ’n groot verknorsing op die snelweg waar jy sonder petrol gaan staan het. Wat sal jy doen? Jy sal met verwondering daaroor praat teenoor ander mense al is jy nou nie juis ’n goeie spreker nie. Dit kom sommer net. Dit vloei voort uit jou dankbaarheid en blydskap... Die mense wat deur Jesus gered is, het as volk van God het ‘n wonderlike verlossing beleef. Vanuit duisternis tot lig! Net soos Israel destyds vanuit die duisternis van Egipte tot by die heerlikheid en lig van Sinai. Dis hoe die verlossingswerk ook in Jesaja 42:6-7 beskryf word. “Ek is die Here. Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep. Ek hou jou vas, Ek beskerm jou en Ek maak jou my verbond met my volk, my lig vir die nasies. Jy sal blindes laat sien, jy sal gevangenes uit die tronk bevry; wie in die donkerte van die gevangenis sit, sal jy laat uitgaan.” Hierdie beloftes is finaal vervul in Jesus! 

Kind van God, Hy het jou verlos uit die duisternis van sonde, Satan, dood en hel en gebring tot die ewige LIG van GOD! Hy is die lig, daarom sal daar op die nuwe aarde nie meer ‘n son wees nie! “Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het nie die lig van ‘n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer." (Openbaring 22:5) 

Kan JY God vir jou verlossing en deelwees van sy volk LOOF? Verkondig jy God se deugde, sy goeie eienskappe en sy goeie dade! Mag HY ons help!

Vrydag 15 Augustus 2014

UITVERKORE VOLK EN BELOOFDE LAND

- wie is hulle en waar is die plek?

Dis een van die opvallendste feite in die Heilige Skrif dat God ‘n uitverkore volk het. Om die identiteit van die volk vas te stel is eweneens baie maklik. Dis die volk Israel, die nageslag van Abram. “Die HERE het 'n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met 'n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos.” (Deuteronomium 7:7,8)



Die volk Israel speel ‘n uiters belangrike rol in God se reddingsplan vir die wêreld en is daarom besonder bevoorreg. Paulus verwys hierna as hy sê : “Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes...” (Romeine 9:4) Israel se doel was egter altyd groter as Israel self. Dis reeds in God se belofte aan Abram, dat al die nasies in hom geseën sal word in die vooruitsig gestel.


Hierdie beloftes het in Jesus tot konkrete vervulling gekom.

Jesus het gekom om sy volk van hulle sondes te verlos soos dit duidelik in Matteus 1:21 gestel word. Hy bring dan ook die evangelie eerstens aan sy etniese stamgenote, maar in dieselfde Matteus evangelie maak Jesus dit duidelik dat sy verlossingswerk alle nasies omvat in die bekende sendingopdrag : “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Matteus 28:19)

Deur die sendingopdrag uit te voer waardeur die heidene tot bekering kom, gebeur dit dat mense buite Israel deel aan die seëninge kry wat aan Abram toegesê is!

TWEE VOLKE?

Dit laat mens met die vraag, het God dan nou twee volke? Is daar nou ‘n uitverkore Israel en los van hulle ‘n uitverkore kerk? (en is die een meer of minder uitverkore as die ander een?) Die antwoord wat die Nuwe Testament gee is ‘n duidelike nee! Wat kan duideliker wees as Paulus se dramatiese uitspraak in Efesiërs 2 - "Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word,
dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.
Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.
Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het.  (Efesiërs 2:11-14) Hierdie nuwe mensheid is die bloed gekoopte volk van Jesus, sy kerk! Voormalige heidene wat in Jesus glo is ten volle lid van God se een volk! Dis die groot verborgenheid wat nou geopenbaar is, “dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie.” (Efesiërs 3:6)

Hierdie een volk, die kerk, die Israel van God se eenheid word pragtig geïllustreer deur die beeld van die vyeboom wat Paulus in Romeine 11 gebruik. Die takke van die wilde olyf (heidene) is nou op die mak olyf ingeënt. Dis een boom! Iemand stel dit so:

Israel is nie vervang deur die kerk nie, Israel het ryp geword tot kerk! Of anders gestel, Israel is gesnoei en het gegroei tot kerk. *

Nie net Paulus nie, maar ook die apostel Petrus is baie duidelik oor wie God se volk is! Reg aan die begin van sy eerste brief word ‘n paar dramaties heerlike dinge oor hierdie kwessie kwytgeraak!

“Petrus, 'n apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bithinië, uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word! Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot 'n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons 'n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons...wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word....” (1 Petrus 1:1-5)

Hier word eintlik ingrypend belangrike dinge oor God se volk gesê. Onthou, Petrus skryf vir Christene wat hoofsaaklik uit ‘n heidense agtergrond kom. Hierdie heidene het geen deel gehad aan God se volk nie, totaal goddeloos en onkundig. Hulle het voorheen ‘n sinnelose lewenswandel gehandhaaf. Petrus verwys daarna in 1:18. Hulle was ten volle deel van heidense goddeloosheid en verdorwenheid soos ons kan aflei uit 4:3. Hierdie lesers was dus volbloed heidene, en nou word na hulle as God se pelgrimsvolk verwys. Hierdie voormalige heidene is nou uitverkorenes van God die Vader, geheilig deur die Heilige Gees en besprinkel met die bloed van Jesus Christus. Hulle is nou deel van Israel! En neem kennis : Jesus se koms en die redding van heidene en hulle deel word van God se volk was nie maar net ‘n nagedagte nie, maar van ewigheid af deel van God se plan en bedoeling! (“uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader”) Watter heerlike vertroostende gedagte gee Petrus sommer reg aan die begin hier aan die heiden Christene deur wat so baie vervolging moes verduur. Hulle is werklik deel van God se volk! Van ewigheid af was dit so bedoel. Hulle is wel nie fisiese afstammelinge van Abram nie, maar deur God gekies in Christus om sy volk te wees. Hierdie verloste volk is bedoel om God se spesiale mense, koninklike priesters te wees. Die parallel tussen dit wat God vir etniese Israel sê na die verlossing uit Egipte (sien Eksodus 19:3-6) en dit wat nou vir die kerk (uit alle nasies) gesê word in 1 Petr 2:9,10 is so opvallend dat net hardkoppiges dit kan miskyk!

EN DIE LAND?

God beloof aan sy volk ‘n erfenis. Hierdie belofte is reeds aan Abraham gemaak. Dit was die land Kanaän, maar die grens daarvan was so ver as die Eufraat. (in die huidige Irak) Op daardie dag het die Here ‘n verbond gesluit met Abram en vir hom gesê: "Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van Egiptespruit af tot by die Eufraat, die groot rivier;" (Genesis 15:18) Dit lyk inderdaad of Israel in die tyd van Dawid en Salomo beheer uitgeoefen het oor hierdie groot gebied. (byvoorbeeld 1 Kronieke 18:3; 1 Konings 4:21)

Die hartseer van die geskiedenis is egter dat Israel hulle erfenis verloor het weens God se oordele en selfs na die terugkeer uit die ballingskap kon hulle nooit weer die roemryke dae van Dawid en Salomo beleef nie. Die profete het egter iets heerliker en groter voorsien in terme van die Nuwe Verbond! Die beloftes wat oor die volk en die land gemaak is, het deur die koms van Jesus in vervulling gegaan. Daarom kon Jesus met gesag verkondig : “Die Koninkryk van God het naby gekom...” (Sien verder : LUGFOTO VAN DIE BYBEL)

Maar is die fisiese land Israel en die stad Jerusalem tog nie maar nog steeds baie spesiaal nie? Kyk na die feite van die Nuwe Testament. Jesus het in sy gesprek met die Samaritaanse vrou by die put dit vir eens en altyd duidelik gemaak dat ware aanbidding nie aan ‘n fisiese plek gekoppel is nie. Nie aan die berg Geresim soos die Samaritane gedink het nie, maar ook nie meer die berg Sion waar die tempel geleë was nie! Ware aanbidding is ‘n geestelike saak en geskied nou deur Jesus.

"Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar ‘n mens God moet aanbid, is in Jerusalem."
Jesus sê toe vir haar: "Glo My, Mevrou, daar kom ‘n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie.
Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode.
Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen." (Johannes 4:20-23)

Daar kan dus nooit meer iets soos ‘n fisiese tempel van die ware God op aarde wees nie! Reeds in Johannes 2 het Jesus dit duidelik gemaak dat Hyself die tempel vervang! Verbind aan Jesus is die lewende kerk nou die tempel. Dit en nie ‘n moontlike gebou in Jerusalem is die herstelde tempel waarvan die profete getuig het!

Ook Petrus het in die einste hoofstuk waarna ons reeds gekyk het (sien hierbo) uiters belangrike uitsprake oor die beloofde land (erfenis) van God se volk gemaak. Hy kontrasteer doelbewus die hemelse erfenis met die aardse Kanaän. Dit was juis die tragedie met Israel se erfdeel, Kanaän, dat dit weens hulle sonde en God se oordele, ‘n verganklike, besmette (deur hul afgodery) en verwelkte land geword het. Weens hulle ongehoorsaamheid het hulle dus hulle erfenis verloor! Nou verseker Petrus die Christene dat dieselfde nie met hulle erfenis gaan gebeur nie. Hulle erfenis, sowel as hulleself word in die krag van God bewaar en daarom is die finale hemelse Kanaän ONverganklik, ONbesmet en ONverwelklik! Dis duidelik nie ‘n plek iewers op aarde nie, maar ‘n finale heerlike bestemming, inderdaad die BELOOFDE LAND! Watter ander beloofde land kan daar dan wees, oor watter ander plek sou ons kon opgewonde raak?

Die uitverkore volk is nou die Israel van God (Jood en heiden wat aan Jesus behoort); die beloofde land is ons ewige tuiste en nie een of ander Midde Oosterse gebied nie!

(Vir 'n beter verstaan van Ou Testamentiese profesie, kliek op PADSKRAPERDRYWER?)

IMPLIKASIES?

As ons eerlik die Bybelse lering oor die uitverkore volk van God en hulle erfenis, die beloofde land aanvaar het dit wel praktiese implikasies oor hoe ons onder andere oor die magspel en konflik in die Midde Ooste sal dink. Ek noem net ‘n paar :

Huidige etniese Jode kan nie meer aanspraak maak daarop dat hulle God se uitverkore volk is nie. Jode kan wel deur geloof in Jesus weer ingeënt word by God se volk, die Israel van God, die kerk van Jesus. Die huidige Israel is in elk geval nie ‘n Godvresende land nie. Hulle verwerp nog steeds die Verlosser Jesus Christus. Baie Israeli’s is selfs ook nie eens meer getroue Judaïste nie! Trouens die vader van die Sionisme (die beweging wat die Jode se terugkeer na Israel bepleit het) Theodor Herzl was self nie godsdienstig nie. Hy het nie eers sy eie seun laat besny nie! Al hierdie feite maak egter nie dat ons etniese Jode minder moet liefhê nie - nee, ons behoort 'n sendingpassie en liefdesywer te openbaar om ook Jode van die ware Messias te vertel!

Die totstandkoming van die moderne staat Israel is soos alle gebeure van die geskiedenis deel van God se raadsplanne, maar dis nie in die lig van die Skrif die vervulling van God se beloftes oor die koms van die Koninkryk nie. (Dis wel soos die onkundige dissipels in Handelinge 1 gedink het voor Jesus hulle reg gehelp het) Hierdie beloftes is vervul deur Jesus se koms en kom daagliks tot vervulling deur die uitvoering van die sendingopdrag (ja, ook met groot liefde en passie teenoor die Jode) en groei van die kerk.

Het die Jode reg op die hele Palestina of groot dele daarvan? Dis ‘n ingewikkelde vraag, soortgelyk aan ander kwessies en strydpunte in die wêreld rondom verowering en kolonisasie. Dit kan myns insiens nie sommer simplisties beantwoord word met “Kanaän is die beloofde land” nie. Is daar regtig mense wat dink Israel moet beheer gegee word oor die uitgestrekte Midde Ooste van Egipte tot aan die Eufraat in Irak?

Die geskiedenis van Palestina is hoogs ingewikkeld. Net so ‘n paar feite. In die tyd van Jesus was Palestina onder Romeinse beheer en dit was baie duidelik dat Hy nie rewolusie en opstand aangeblaas het om weer die gebied onder Joodse bewind te kry nie. Hoekom nie? Jesus se Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie sos Hy dit duidelik aan Pilatus gestel het - “Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.” (Johannes 18:36) Maar ironies dink baie Christene blykbaar vandag so en beywer hulle vir ‘n Joodse staat! Ons burgerskap is mos nie meer van hierdie wêreld nie, ons sien net uit na die koms van Jesus ons Koning as heerser op die nuwe aarde!

In 70 nC is Jerusalem deur die Romeinse generaal Titus met die grond gelyk gemaak net soos Jesus in sy oordele oor die stad gesê het. Christene se verwagting is nou gefokus op die hemelse Jerusalem. Die aardse Jerusalem het sy betekenis verloor! Daar was in die jare hierna nog steeds Joodse pogings om weer beheer oor die land te verkry, maar alles tevergeefs. ‘n Nuwe wending kom in 636 met die slag van Yarmouk. Van nou af is Palestina onder beheer van die Moslems. Die katastrofiese Kruistogte verander nie veel aan die langtermyn scenario nie, behalwe om aan "Christene" tot vandag toe 'n slegte naam in die Moslemwêreld te besorg. Die Ottomaanse ryk (Turke) verower die gebied in 1516. Die gebied kom eers na die Eerste Wêreldoorlog onder Westerse gesag en word amptelik ‘n Britse Mandaatgebied in 1922.

PASOP VIR OORVEREENVOUDIGING. Wie was in al hierdie jare die inwoners van Palestina? Voor 1850 was daar slegs ‘n handvol Jode tussen die meerderheid van Moslem inwoners. Vir die volgende paar dekades het daar wel ’n paar honderd Jode na die gebied geïmmigreer. Teen 1914 was die bevolking as volg saamgestel : Moslem Arabiere – 657 000, Christen Arabiere – 81 000, Jode – 59 000. Nou waar kom al die Jode wat vandag daar is vandaan? Hulle is immigrante wat op groot skaal uit Europa en ander Midde Oosterse lande geïmmigreer het. Die groot stimulus van hierdie beweging was die Sionisme. Hierin het Theodor Herzl ‘n sleutelrol gespeel. Hy is veral bekend vir twee boeke in die verband wat hy die lig laat sien het, naamlik Der Judenstaat en Altneuland. Hy het geglo dat die Jode hulleself uit Europa moet verwyder en hulle eie staat stig. (Interessant, Argentinië is op ‘n stadium as so ‘n moontlike plek oorweeg en later ook Uganda!) ‘n Belangrike deurbraak ten gunste van die Jode was Brittanje se ondersteuning in die Balfour verklaring van 1917. Die Tweede Wêreldoorlog en die gepaardgaande “Holocaust” het verdere stimulus aan die gedagte van ‘n Joodse staat gegee. Die VN het ‘n partisie van Palestina in ‘n Joodse en Arabiese deel voorgestaan. In 1948 het die staat Israel tot stand gekom. In die gepaardgaande oorlog het die Jode meer grond verower as wat die oorspronklike bedoeling met die partisie was. Honderde Palestynse dorpies is verwoes in wat bekend geword het as die “Nakba” (katastrofe). Hierna sou nog baie konflikte volg in 1956, 1967, 1973 ens. tot en met ons dag. ‘n Eenvoudige oplossing is daar nie. Natuurlik word als meer ingewikkeld gemaak deur Islamitiese ekstremisme soos byvoorbeeld verteenwoordig in Hamas. Die uitdaging vir Christene is myns insiens om soos in alle konflik situasies die evangelie van Jesus te bring as die enigste blywende oplossing. ‘n Eensydige en blinde ondersteuning van Israel op grond van verkeerde Bybelse interpetasies gaan nie die saak van die koninkryk onder beide Moslems en Jode bevorder nie! Christene vir wie die sendingopdrag 'n erns is sal hulle dus van beide anti-Semitisme en Arabiere haat moet weerhou! Sentimente rondom die staat Israel** en die lot van die Palestyne sal wissel na gelang van mens se eie perspektief op die ingewikkelde geskiedenis (en ons kan mekaar daardie vryheid gun), maar as Christene dink ek behoort ons konsekwent Bybels te probeer dink en die saak nie te vereenwoudig tot ‘n kwessie van ‘n “uitverkore volk” wat ten alle koste reg het op ‘n “beloofde land” nie. 

Die Bybelse boodskap is immers so duidelik - die uitverkore volk van God is nie die etniese Jode nie, (ja, ook nie Afrikaners nie), maar almal wat gewas is in die bloed van die Lam!

 Theodor Herzl (1860-1904)

*Ek kan nie meer die bron onthou nie.
** Ons Afrikaners is weens 'n verskeidenheid van redes nogal sterk pro Israelies. Een rede is omdat ons in die verlede ook die hele wêreld teen ons gehad het!

Sondag 27 April 2014

AFRIKANER BYGELOOF

-  wanpersepsies, mistastings, onkunde en naïwiteit met vernietigende gevolge...

Daar is ‘n tipe “volksgeloof” wat lewend onder Afrikaners is, maar wat baie ver verwyderd is van Bybelse geloof. (Natuurlik kom hierdie en ander mistastings onder ander groepe ook voor, maar ek het veral met Afrikaners te make... en ekself is mos ook een...) Hierdie bygeloof en blindheid is ‘n ernstige saak, want dit maak dat die behoefte aan ‘n Verlosser moeilik besef word. Die EVANGELIE bly dikwels versluier en word selde raak gehoor.



Kyk saam met my na ‘n paar voorbeelde van Afrikaner bygeloof en populêre opvattings (sommige het in die huidige tyd dalk effens gekwyn en ander het net nuwe baadjies aangetrek en vertoon hedendaagse variasies) :



# “Ek is ‘n Christen, want ek het teen die goddelose Kommuniste en terroriste op die grens geveg.” (dis ‘n bygeloof van veral die vorige geslag.) Die Afrikanersaak is dikwels outomaties en naatloos gelykgestel aan die Koninkryk van God... Die Woord leer ons egter dat slegs diegene wat aan Jesus behoort, deel is van God se volk. Hierdie volk het niks te make met etnisiteit of politieke strukture nie.

# “As ek as kind gedoop is, is my pad hemel toe mos geteer.” ‘n Al groter groep glo nou ‘n variasie van hierdie leuen, naamlik : “As ek iewers weer gedoop is, is ek ‘n ware Christen, ongeag in watter morele gemors my lewe verkeer!” Die tweede dwaling is net so erg as die eerste.

# “‘n Christelike begrafnis, sal al my sondes van die verlede uitwis en my ‘n kind van God maak. Die dominee het sulke mooi dinge op X se roudiens gesê, hy kan net op een plek wees...” Dit maak nie saak of iemand nooit enige tekens van ware geloof en bekering getoon het nie, dit maak nie saak as kerkbywoning en sakramentsgebruik heeltemal verontagsaam is nie, solank daar net ‘n roudiens of begrafnis vanuit ‘n kerk kan plaasvind, waar almal die versekering gegee word dat X nou veilig “op ‘n beter plek is...” (en ja, sulke people’s pleasers dominees en pastore, wat wil saamspeel is altyd te vinde.)

# “Ek is ‘n ingeskrewe lidmaat van die ... kerk en dus is my saak met God reg. My oupa was immers ‘n medestigter van hierdie gemeente, my ouma se neef was jare lank ‘n sendeling in Malawi...” Hierdie kerklikheidsbygeloof is nou vervang met ‘n nuwe onkerklike een : “My saak is reg, want Sondae oggende kyk ons vir Andries Enslin op TV!” Ek het natuurlik niks teen Andries nie, maar dis opvallend dat soveel kerklos mense wat dikwels in goddeloosheid en ongehoorsaamheid lewe, heel tevrede is met hulleself omdat hulle na Andries luister... Dis immers ‘n baie gerieflike tipe Christenskap. Die opperste vorm van gemakstoel dissipelskap. Ek hoef nie eens aan te trek en my motor uit die garage te trek nie... Ek hoef geen verantwoordelikheid vir die liggaam van Christus te neem nie, ek hoef my nie te steur aan die verbreking van my lidmaatsbeloftes voor God nie...

# “Dit staan tog immers geskrywe... in die HUISGENOOT...” Die HUISGENOOT is die ware bron vir die bepaling van baie Afrikaners se norme en waardes, nie meer die Bybel nie. Dit klink dalk vir sommige vergesog, maar luister maar... Vandat hierdie verderflike skindertydskrif euwels soos saambly en homoseksuele gedrag begin goedpraat het – deur hulle misplaaste heldeverering, is hierdie sondes nie meer ‘n taboe in “Christen Afrikanergeledere” nie.

# “‘n Goeie dominee, is ‘n lekker dominee en ‘n lekker dominee is een wat als saam doen, van saam vloek tot saam dans!” ‘n Lekker dominee sal dit ook nooit waag om enige sonde by die naam te noem nie, want die lekker dominee se hooftaak is om almal gelukkig te hou en so die kerk se bankrekening te probeer stabiliseer. “O, ja, die lekker dominee moet verkieslik ook nie langer as tien minute preek nie, want ek moet gou by die huis kom, want die Sondag is daar gestel om my siel te versadig met RAPPORT se voedsame vullis!” En as ‘n dominee nou regtig “upmarket” wil wees, dan vertel hy die mense daar is nie iets soos ‘n oordeel en hel nie...

# "Byna al ons helde is sulke pragtige Christene!" Die huidig geestelik arme Afrikaner raak naïef opgewonde oor elke celebrity (rugbyspeler, sanger, filmster, skoonheidskoningin...) wat hulle Christenskap in die media verklaar, op een of ander tydskrif se voorblad pronk en daarna voortgaan om soos heidene te leef. Hierdie celebrities se Christenskap mag nooit bevraagteken word nie, al verskyn hulle ook halfnaak op daai voorblaaie... (kliek op CELEBRITIES)

# Die een (soms seker die enigste) Bybelteks wat alle Afrikaners ken is die een wat sê : “Moenie oordeel nie.” Die verkeerde interpretasie van hierdie (uit konteks) aangehaalde teks beteken dat geen geestelike gebruik of morele gewoonte bevraagteken word en dat geen tugwaardige sonde aangespreek mag word nie. Die kerk het dus in normlose chaos verval en elkeen maak soos hy wil. (kliek op die DUIWEL SE BYBEL)

# Die Afrikaner is allerweë in die verlede beskou as baie tradisievaste mense. Dit was miskien so, maar dis beslis nie meer die geval nie. Die “tradisie” van die huwelik, inderdaad ‘n Goddelike instelling is vinnig besig om uit te sterf. “Ons het nie papiere nie, maar is voor God getroud,” is die flou verskoning vir ‘n lewe van seksuele losbandigheid. (kliek op MAAGD VOOR KANSEL)

# Daar is een saak wat die Afrikaner se toewyding, opoffering en blinde lojaliteit vra en wat sy identiteit definieer : RUGBY. Dis nie ‘n grap om dit die Afrikaner se werklike godsdiens te noem nie, dis die naakte werklikheid! Vir hierdie spel sal die Afrikaner sy tyd, geld en siel prysgee. Dis waar sy ware skat is en dis waar sy hart is! Gaan toets dit! Waaroor raak ons mense opgewonde? Rugby of evangelie? Waarvan dra hulle kennis? Meestal van rugby. Bybelkennis het amper heeltemal verdwyn ...

# Skriflesing en gebed by openbare geleenthede is die Afrikaner se aller sterkpunt en die openbare “badge” van toewyding. Hoor hier, daar is bykans niks onder die son wat nie met hierdie ritueel afgeskop word nie. Van die vetveeskou waar daar gesuip word tot die konsert waar daar met God gespot word. En toe ons nog in beheer van die “army” was is die Skrif aangehoor op dieselfde paradegronde waar daar blou were gevloek is... Misbruik van God se heilige Naam in ‘n opperste vorm!  Ja, laat ons na die Woord luister, orals en altyd, maar kom ons gehoorsaam dit en raak ontslae van die afgode in ons volksgeledere!

EN TOG IS DAAR HOOP...

‘n Mens wil amper soos die dissipels uitroep : "Wie kan dan gered word?" (Dit was nadat Jesus vir hulle vertel het hoe moeilik dit is vir ‘n ryk man om gered te word.) Ja, wie kyk na ons samelewing kan maklik begin wanhoop, maar tog bly Jesus se heerlike versekering van krag: "Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik." (Matteus 19:25,26) Inderdaad red God nog steeds Afrikaners uit genade en bewaar Hy ook sy kinders tot die einde toe!


Afrikaners. Nie die stomme beeste nie, maar die misleide volksgenote...!