BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Saambly. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Saambly. Wys alle plasings

Vrydag 06 Mei 2022

MAAK DIE SONDESOM

 - DINK LOGIES! WAT HET DIE SONDE JULLE IN DIE SAK GEBRING?  HOU TOG OP DAARMEE!

Ons het nou al gekyk na die bevrydende boodskap van volledige vergifnis vir elke sondaar wat berou het, dit bely en sy vertroue op Jesus stel.  (As jy daarna wil luister kliek op GELUKKIG!) Heerlik! Maar dit bring mens onwillekeurig by ‘n belangrike vraag: 

“Mag ‘n Christen maar aanhou sondig, want God se genade het mos als vergewe?”  

Paulus hanteer hierdie vraag in Romeine 6 vers 1.


Paulus se kort en kragtige antwoord is : “Beslis nie!” Maar dan gaan hy aan en gee verskeie redes waarom dit ondenkbaar vir elke Christen sou wees om so te redeneer (dat ek maar kan aanhou sondig omdat die genade groot is). Een rede is dat ons as kinders van God saam met Christus gesterf en opgestaan het... in Jesus het ons 'n nuwe identiteit! Sonde pas net nie meer by ons nuwe status en realiteit nie... DOOP herinner ons hieraan...

In die Romeine 6:15-23 raak Paulus aan ‘n ander redenasie wat mense aanvoer om aan te hou sondig (en mens hoor hierdie redenasie vandag nog) – Dit loop soos volg : “Ag, ons leef gelukkig nie meer onder die wet nie, maar onder die genade! Steel, leuens, saambly en egbreuk is nie meer so erg nie, want ons staan mos nie meer onder die wet van Moses nie!”

Inderdaad is dit so. Ons staan as Christene van die Nuwe Verbond nie meer onder die Mosaïese wetgewing nie. Hieroor is Paulus baie duidelik : “Maar nou is ons vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.” (Rom 7:6) Maar weereens beteken dit dat ons nou maar sonde kan doen?

Wat is Paulus se antwoord, sy teen argument hierop? Kortliks twee dinge:

Onthou julle wat Christene is, was voorheen slawe van die sonde. Hierdie sonde was julle baas, julle kon nie daarmee ophou nie, julle was slawe. Ja, ons moet weet, die sondaar lyk baie gelukkig, natuurlik geniet hy dit, maar hy is ‘n magtelose slaaf. Jy dink jy doen sonde soos jy wil en lekkerkry, dis die teenoorgestelde – sonde is jou baas. Wrede baas! Jy kan nie  daarmee stop nie! Die sonde lei tot allerlei ellende, jy sien waarheen dit gaan. Jy sien die verwoesting en pyn wat dit veroorsaak,  jy weet diep in jou binneste lei dit na die hel, maar jy is magteloos om anders te leef. So Paulus se argument teenoor Christene wat weer wil sondig is kom neer op : Is julle nou mal? 

Wil julle weer teruggaan na die ou wrede baas (sonde)?

Elke deel van julle liggame was in diens van die wrede baas van sonde, julle was glad nie in God se diens nie. Nou is julle vrygespreek, begenadigdes, julle is mos nou dankbaar in God se diens. Julle is nou God se slawe. 


 Hoe kan julle so jul rug op God draai en weer na die ou baas toe teruggaan? Dit maak net nie sin nie! Jy sien Paulus gebruik ‘n bepaalde logika om Christene te waarsku en te probeer oorreed om nie weer terug te gaan na die sonde toe nie.




MAAK DIE SOM : WAT WAS DIE GEVOLGE?

Die tweede deel van die argument sluit nou aan by die eerste deel. (21) Paulus wil sê : (Onthou hy praat met bekeerde mense) Dink bietjie terug aan die tyd toe julle onbekeerd was en slawe van die sonde was. Dink aan die dinge wat julle toe gedoen het. Wat was die vrug/gevolge van daardie dinge? Wat het daardie dinge julle in die sak gebring? Watter nut het daardie dinge gehad? Wat het julle gewen deur daardie dinge?



Weereens Paulus sê nie maar net bloot, sonde is sleg nie. Hy maak ‘n appèl op ons logiese denkwyse. Logiese denkwyse is ‘n hulpmiddel in ons keuses, ook in ons stryd teen die sonde. Bekyk ‘n bietjie die saak van sonde naderby. Dink bietjie terug aan die dinge wat jy daardie tyd gedoen het en waaroor jy nou skaam is. (Terloops, ‘n mens wat nie skaam oor sy sonde is nie wys maar net dat jy totaal verlore is en hoegenaamd nog nooit die genade van God aanvaar het nie… As jy nog spog hoe lekker dronk jy was op partytjies en hoeveel meisies jy bed toe gevat het, weet jy is op pad na die hel!) Christene is skaam oor hulle vorige leefstyl. Paulus sê nou ons moet terugdink daaraan en dit logies beredeneer… Wat was die gevolge van daardie sonde? Wat was die gevolge van my goddelose partytjies, my onsedelike leefstyl, my losbandige lewe, my drankmisbruik, my leuens, my opstand teen my ouers… Dink bietjie, onthou bietjie die vrug daarvan… die hartseer, die huweliksverbrokkeling, kinders wat deur die trauma van egskeiding moet gaan, party weet nie eens wie hulle pa’s is nie, die skade aan ander mense se gesondheid, gemoed, eiendom en lewens, die skades en ellendes wat sonde in my eie lewe veroorsaak het… Dink aan die leegheid van sonde, die vrugteloosheid...die vermorsing van kosbare tyd en energie. Verlore kanse... Watter ewige nut het al daardie kortstondige plesier en jollery vir jou gebring? Was dit dinge waarop jy in die oordeelsdag trots op kan wees? En moenie vergeet nie, die uiteinde van daardie leefstyl is die ewige dood! Die poel van vuur, ewig weg van God af! Julle wat nou weer met sonde wil speel, kom nou, dink terug, bereken weer die gevolge… Die einde van die pad van volharding in sonde is die hel, al kry jy die welsprekendste dominee om soetsappige stories op jou begrafnis te vertel!

Paulus kom nou weer terug na God se kinders se huidige posisie. Hy wil sê :“Kom nou kinders van God, moenie dwaas wees nie. Julle is mos vry van die slawerny van sonde, julle dien nou die lewende God. Julle leef mos nou heilig en die einde daarvan is die lewe!” Julle sien sonde en dood gaan saam, heiligheid en lewe gaan saam. Moenie deurmekaar raak nie! Daar is twee duidelike opsies voor ons.

  Twee wyduiteenlopende en teenoorstaande opsies. 

Dit stel Paulus nou in ‘n kragtige klimaks kontras  in vers 23. 


Hy kies sy woorde fyn. Die loon van die sonde is die dood. Die noodwendige betaling, dit wat ek verdien as ek sonde doen is die dood. 







Kyk die doelbewuste kontraste: Die genadegawe (teenoor loon) wat God gee (teenoor sonde) is die lewe (teenoor dood) Kies die pad van genade! 





Kind van God, moenie met sonde begin speel nie! Kies daagliks teen sonde! Die pad van genade staan teenoor die pad van sonde. (genade kan dus nooit as verskoning vir sonde gebruik word nie) Kies die pad van die lewe!

Luister ook op YouTube by VOORDELE VAN SONDE

Woensdag 05 Februarie 2020

DIE REGTE PERSOON


[Wat sê God oor seksualiteit, huwelik en egskeiding? – ‘n basiese vertrekpunt.] 



Miskien wonder jy : “Het ek met die regte persoon getrou?” Veral nou as dinge nie so lekker gaan nie… Daar is rusie, verwyte, die gevoel van liefde is weg en elke aspek van die huwelik het afgekoel en flou geword... Daar is ‘n knaende stemmetjie: “Het ek die regte keuse gemaak?” 



Dis eintlik ‘n maklike vraag om te antwoord. (Kliek) John Piper sê : “Kyk na die ander naam op jou huweliksertifikaat. Dis die naam van die regte huweliksmaat.” God het jou en daardie persoon saamgevoeg! “Ja, maar hy maak so, sy maak so, ons gevoel vir mekaar is heeltemal weg…” Geen maars nie! God het julle bymekaar gevoeg en jy mag nie teen God gaan en skei nie! Jesus se standpunt is baie helder. “Hy het hulle geantwoord: "Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? Daarby het Hy gesê: ‘Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie." (Matteus 19:3-9) 

Dis Jesus se duidelike woorde, maar nou het Hollywood en die Huisgenoot ons gebreinspoel deur egskeiding as iets normaal uit te beeld. Dis nou “normaal” - as daar probleme kom om te skei. Maar die Satan het nie daar opgehou nie, nou het Hollywood en die Huisgenoot verder gegaan en ons vertel dis normaal om ongetroud saam te bly. Nog erger! Ons verkrag die huwelik nog voor daar ‘n huwelik is. En nou glo mense eerder vir Hollywood as vir God, maar dit kom hulle duur te staan, want God sê in Hebreërs 13:4 - “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.” 

God se oordeel tref diegene wat sy ordes rondom huwelik en seks minag! 

... en ek en jy hoef nie ver te kyk om hierdie oordele raak te sien nie!

Ons weet dat die hele Skrif deur God geïnspireer is, van God af kom, Goddelike gesag dra. (Kliek – SKRIF) Nou is dit juis as dit kom by die kwessies soos huwelik en seksualiteit dat mense die duidelikste wys hoe min hulle van God se Woord dink. Ons stem formeel saam – "Ja, die Bybel is God se Woord," maar as dit by hierdie sake kom dan maak ons soos ons wil. Ons weet beter as God, ons maak ons eie norme en standaarde... en die gevolge is skrikwekkend, verwoestend en fataal! 

Die duiwel fluister so maklik vir ons – hierdie man of vrou waarmee ek getroud is, is nie die regte een nie. Ek voel dan niks meer vir hom of vir haar nie… En dis dan wanneer ons die Skrif minag en skei.

Kom ons kyk na ‘n paar Bybelse hoekpenne rondom huwelik: 

KWALIFIKASIES 

Interessant die Bybel gee net twee kwalifikasies vir die regte huweliksmaat. Eerstens – (vanselfsprekend) dit moet ‘n persoon wees van die teenoorgestelde geslag. God het man en vrou gemaak en hulle bymekaar gebring. (Sommiges by die Algemene Sinode het dit blykbaar vergeet...) Die tweede kwalifikasie wat in die Nuwe Testament gestel word is dat dit ander persoon ‘n gelowige moet wees. 

Maar as jy reeds getroud (met ‘n ongelowige) is, dan mag die huweliksmaat se ongeloof geen rede wees om daardie persoon te verlaat nie. 

EGSKEIDING MAAK GOD KWAAD 

Kom ons kyk na drie redes waarom egskeiding so ‘n vreeslike vergryp is teen God : 

Egskeiding is opstand teen ‘n Goddelike instelling en handeling. Die huwelik is nie bloot ‘n menslik kulturele verskynsel nie, maar ‘n Goddelike orde. (Genesis 2:24) Wie teen God se ordes in opstand kom sal die gevolge dra, nou en eendag. Ons mag nie God se werk ongedaan probeer maak nie. Volgens Jesus se woorde in Matteus 19 het God jou en jou maat bymekaar gevoeg! 

Egskeiding behels die skending van ‘n Goddelike simbool en boodskap. In die NT is dit baie duidelik dat die huwelik oor meer gaan as net ‘n menslike verbintenis. Dis ‘n prentjie van iets baie groter. Dit beeld iets van die heerlike rykdom uit van die innige verhouding tussen Christus en sy gemeente. “Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees. Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het." (Efesiërs 5:23-25) 

Egskeiding is ‘n daad wat deur God gehaat word, want dit is geweld en bring die nageslag wat Hom moet eer in die gedrang. Dit het ‘n verwoestende invloed op ons verbondskinders!  (Weerens jy hoef nie ver te gaan soek om dit te sien nie.) Erger. Egskeiding vertroebel en versuur die verhouding tussen ons en God. Ons offers (godsdiens) word vir Hom onaanvaarbaar! Dit is die duidelike boodskap van God volgens die profeet Maleagi: 

“Daar is nog iets wat julle doen. Julle huil en kerm en sug by die altaar van die Here omdat Hy nie meer julle offers wil aanneem nie, 
en julle vra: "Waarom dan nie?" Dit is omdat die Here weet wat gebeur het tussen jou en die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is: jy was ontrou aan haar, ontrou aan jou eie vrou, die vrou aan wie jy plegtig trou belowe het. 
Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees. En waarom een? Omdat Hy wil hê dat daar ‘n nageslag moet wees, wat Hom eer. Beheers julle, moenie ontrou wees aan die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is nie. 
Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.”  (Maleagi 2:13-16) 

VERGIFNIS? 

Die groot vraag wat nou by ons opkom is: Is daar vergifnis vir my as ek op hierdie gebied oortree het? 

JA , vergifnis is beskikbaar, want ons het ‘n evangelie! 

Daar was ‘n kruis en ‘n opstanding! Die prys vir alle sonde is betaal, die straf op alle sonde is gedra deur Hom wat Sy lewe vir ons gegee het! 

Drie verdere perspektiewe is egter baie belangrik: 

Is daar vergifnis? Ja, as ons ons sondes bely... “Maar as ons ons sondes bely-Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (1 Johannes 1:9) 

Is daar vergifnis? Ja! Onthou net die gevolge en letsels van hierdie sondes sal vir altyd op aarde by ons bly! Die moontlikheid van vergifnis verminder nie die erns van die oortreding nie. Moet nooit dink egbreek en losbandigheid is ‘n geringe saak nie! Dit het altyd konsekwensies! (Kliek -Dawid) 

Is daar vergifnis? Ja, maar vergifnis is geen vrypas om met sonde voort te gaan nie! Jesus het die owerspelige vrou vergewe en nie veroordeel nie, maar Hy het gesê : “Gaan heen en sondig nie meer nie.” (Johannes 8:11)  As jy volhard in hierdie sonde kan daar ‘n dag kom wanneer God se stem stil word en jy nie meer in vergifnis belangstel nie! 

As ons respek het vir God, sal ons respek hê vir die Goddelike instelling van die huwelik. As Jesus regtig my Koning is, sal ek my onderwerp aan sy opdragte ten opsigte van die huwelik!


Die regte een!



Dinsdag 06 Augustus 2019

BRUILOFSMAAL OP MAKALANI


- Sigbare boodskap van evangelieheerlikheid!

Ek sit saam met ‘n Hai//om bruidspaar aan die nagmaalstafel. Johannes Tampan en sy vrou Rosa. Stralende egpaar! Een brood, een beker, maar ‘n groot verskeidenheid van nagmaalgangers – Hai//om, Afrikaans, Duits, Engels. Ja, dis meer as net ‘n normale bruid en bruidegom wat hier bymekaar is, dis die Bruid van die Lam, losgekoop met sy kosbare bloed uit elke stam, taal, volk en nasie… 



Vroeër (as deel van dieselfde erediens) het ons immers ook sigbaar beleef hoe Jesus deur die Woord en Gees sy bruid self bymekaarmaak deur die volwasse doop van ‘n jongman, Karel wat tot bekering gekom het. Hierdie was nou nie die gewone standaard erediens waaraan ons gewoond is nie – vooraf was daar twee getuienisse, toe die doop, daarna ‘n huweliksinseëning en uiteindelik die nagmaalsviering! Deurgaans word die Woord bedien- uit Genesis, Hooglied en Openbaring en dit vorm ‘n pragtige eenheid. Die bedienaar van die Woord en sakramente is ons broer ouderling Andries Gous. Hy en ouderling Herman Fuls is onlangs amptelik met goedkeuring van die Namibiese Kuratorium as gemeentebedienaars bevestig . (KLIEK) 

Wat hier gebeur is ‘n pragtige getuienis en ‘n helder boodskap. Ja, die omgewing is eenvoudig, armoedig, kultureel anders... ‘n Hond, ‘n hoender, ‘n seuntjie wat ‘n wieletjie rondstoot, iemand wat in die agtergrond hout kap, iewers daag ‘n polisievoertuig op… dis alles deel van die toneel. Maar sentraal is die Here Jesus wat vandag nog sorg dat die evangelie juis ook aan die armes verkondig word. En Hy sorg self en Hy bou self sy kerk. Deur dissipels wat gehoorsaam is aan die GROOT OPDRAG!

Tampan en Rosa is eenvoudige mense, maar hulle verhaal wonderbaarlik. Tampan het vir jare die Woord onder sy mense verkondig (onthou hy is ongeletterd) sonder amptelike hulp van die kerk. Hy het egter met ‘n probleem gesit. Hy en sy vrou was nie wettig getroud nie. Dit was ‘n moeilike saak om reg te stel, want beide hy en sy vrou was voorheen wettig in ander huwelike, maar beide se eggenotes het hulle deur die dood ontval. Om weer te trou sou ‘n groot klomp dokumentasie vereis. En vir ‘n ongeletterde Boesman, wat ook nie die nuwe Namibiese amptelike taal van Engels magtig is nie was dit ‘n bykans onmoontlike hoë berg om te bestyg. Totdat die Here vir Andries oor sy pad gebring het… Andries het die saak selfs tot by die Ombudsman se kantoor gevoer… Hulle is toe die vorige Vrydag wettig voor die landdros getroud. 

Nou is dit erediens en feesdiens in die hart van die gemeente! Die bruid van die Lam is hier bymekaar... sigbaar!

Andries het later getuig van sy indrukke: 

“Tydens die doop het ek geweldig bewus geraak van die teenwoordigheid van die Here. Nadat die doop bedien is aan Karel Awaseb het ek my hand op hom gesit om te bid en ek was tasbaar bewus van die Gees van God. En toe ek opkyk en ek sien die trane loop, toe weet ek dat Karel Awaseb het net soos ek bewus geword van God se tasbare teenwoordigheid. 

Na die diens gesels ek met die Tsintsabis mense wat ek terugvat en ek vra vir hulle wat was vir hulle die mooiste? Maria sê die doop, want dit is 'n bewys dat God nog iemand bygevoeg het tot sy liggaam. Sy reken die troue en nagmaal was mooi maar die doop is die bevestiging dat God sy kinders bymekaar maak. Nog 'n verlore siel is gered. Ek hoor ook iemand sê dat hulle so 'n troue wil hê, want dit was so mooi, daar was nie 'n klomp tradisies en dronk mense nie. 

Op pad terug na Grootfontein ry ds. Regina en ander vrouens saam voor in die bakkie en ek begin uitvra oor die indrukke van die diens. Die een vrou sê dat sy sien dat Tampan en Rosa het getrou al het hulle nie werk en geld nie. (Ja, daar is ook maar die wanopvatting by die Boesman mense dat mens geld nodig het om te trou.) Ek het verduidelik dat as ‘n mens wil wag vir geld dan moet jy ook jou lyf se plesier laat wag tot dat jy geld het.” 

Loof God vir die kosbare boodskap wat uitgegaan het – nie net deur Woord alleen nie, maar ook deur sigbare tekens en veral deur die diep bonatuurlike werk van die Heilige Gees! Wat ‘n voorbeeld is hierdie Boesman broers en susters se erns met God en sy opdragte. En dit in ‘n tyd waar ons blanke jongmense in totale sedeloosheid verval. Oor saambly en buite egtelike kinders word daar nie eers meer gefrons nie! (Trouens dit word op sosiale media geprys en ondersteun!) God se standaarde het egter nog nooit verander nie! 

"Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid. Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie." (1 Tessalonisense 4:3-5) 

Die bruid van die Lam is immers ‘n rein bruid!



Maandag 10 Junie 2019

MAAK VAS; MAAK SEKER! (3)

- WERP ALLES IN DIE STRYD! 



Die pad na sekerheid, vastigheid en volharding begin om raak te sien wat God gedoen het. Hy het volgens Petrus ons reeds ALLES geskenk wat nodig is om vir Hom te lewe en Hom te dien! Kliek op MAAK VAS; MAAK SEKER! (2)  



Na die wonderlike stellings wat Petrus in die eerste verse (2 Petrus 1:1-4) gemaak het (oor wat God ons geskenk het) sou mens dalk kon verwag, sy raad sou wees : “Ontspan. Let go, let God!” Nee! Toe nou nie! Allesbehalwe. Hoor wat sê hy in vers 5 : “En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk ...” (NAV) En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die..." (OAV) Ontvangers van verlossing word nêrens opgeroep tot passiwiteit, agteroorsit of ontspan nie! Ons durf nie laat slap lê, vir onsself leef of ons besig hou met net geldmaak of rugby speel of kyk nie... 



Daar's harde werk, broer en suster!

In hierdie oproep van Petrus in (2 Petrus 1:5) word die hele Bybelse benadering tot heiligmakig en die Christelike lewe saamgevat. Wat is dit?

Kom ek gebruik ‘n voorbeeld uit die oorlog. 

Twee luitenante moedig hulle manne aan voor ‘n kontak... 

Die een is baie positief. “Manne, julle weet ons het als wat ons nodig het. Ons het die beste opleiding ter wereld. Die bete wapentuig en voorrade. Die beste lugsteun en mediese ondersteuning as dit nodig sou wees. Julle weet die vyand is eintlik reeds verslaan en bang vir ons. Ons moet net die opruiming doen. Maar manne, nou moet ons alles gee... geen tyd vir slaplê of stadig en lui wees nie. Voluit, vorentoe!”

Die tweede luitenant het ‘n ander aanslag. “Manne, ek is bekommerd. Die vyand is sterk en het baie geie wapens. Ek is nie seker of ons genoeg ammunisie en ondersteuning het nie. Ek is ook nie seker of ons dit gaan maak nie. Ons moet maar kyk wat gaan gebeur... Ek wonder selfs of als die moeite werd gaan wees...”


Die Bybelse benadering tot die daaglikse Christelike stryd is duidelik die eerste een. God het ons alles geskenk. Werp daarom nou als in die stryd! Doen wat jy kan en moet. Stry hard! Raak gehoorsaam. Verander. Dink nuut, doen anders. Moenie stilstaan by jou aanvanklike geloof en bekering nie. Maak veranderinge in jou lewe, want God het julle reeds als geskenk wat nodig is om vir Hom te lewe! 


Onthou net, hierdie raad is nie vir alle mense nie. Net mense wat reeds kinders van God is, dus reeds vertroue op Jesus geplaas het. Die Heilige Gees woon in hulle. Hier het ons te doen met harde werk van heiligmaking. Dit kom nie sommer outomaties nie, want dan sou die opdragte nie nodig gewees het in die eerste plek nie.


Kom ons kyk net kortliks na die "trappe" wat volg op die basis van geloof. Die dinge waaraan ons hard moet werk... Ja, WERK! Hier is geen sprake van net een ervaring (die Charismate se omval) of ‘n kitsresep tot geestelike oorwinning nie.

Voeg met alle passie en vuur by jou geloof die volgende: 

DEUG/DEUGSAAMHEID Dis 'n skaars woord in die Nuwe Testament, wat eintlik uit die heidense wêreld kom. Dit beteken voortreflikheid, uitnemendheid (excellence). Dit was 'n belangrike kwessie destyds. Voortreflikheid is die volle vervulling van iets, 'n voortreflike mes is 'n skerp mes wat kan sny, 'n voortreflike perd is 'n perd wat vinnig kan hardloop. Maar nou is die vraag , wat is 'n voortreflike mens? Wat beteken deug nou prakties vir ons? Petrus het alreeds vir ons die leidraad gegee want hy gebruik dieselfde Griekse woord (areth) as wat hy i.v.m. Jesus gebruik het (in vers 3) om aan te dui hoe Jesus se heerlikheid , persoon , karakter ons na hom toe aangetrek het. Ware deug, ware voortreflikheid word in Jesus se karakter gevind. Jesus is die ware vervulde mens, wat aan sy Godgegewe doel beantwoord het, die mens par excellence. Ons word dus hier opgeroep om deur ons lewens iets van die aantreklikheid van Jesus se karakter te reflekteer. Maak werk daarvan... verander wat in botsing is met Jesus se karakter in jou lewe... Gesindheid, gewoontes, gedrag, ja selfs kleredrag!... Begin dink en doen soos Jesus gedink en gedoen het... Dit kos als, dit gaan moeilik wees... Dit gaan jou in botsing bring met die wêreld. Die wêreld hou nie van Jesus nie.... daarom het hulle Hom gekruisig... 

KENNIS. Dit gaan nie hier wetenskaplike kennis nie, maar praktiese insig om as Christen te lewe. Om goed van kwaad te onderskei. Vgl. Ef 5:17 “Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.” Petrus gebruik die woord (gnwsiV) ten spyte van die valse leraars se misbruik van die begrip (hulle "kennis" het tot losbandigheid gelei, teenoorgestelde van selfbeheersing soos ons lees in hoofstuk 2) Hierdie ware kennis lei tot heiligheid! Hoe kry dit prakties? Deur die Woord onder leiding van die Heilige Gees te bestudeer en te gehoorsaam!

SELFBEHEERSING. Kies vir selfbeheersing en beoefen dit! Nie net t.o.v. kos en drank nie maar in elke aspek van mens se lewe. Dit kom daarop neer dat ek my drange en begeertes sal beheer, hulle moenie my beheer nie. (Selfbeheersing het skaars geraak onder sogenaamde Christene - "Ag, ons het nie nou geld om te trou nie, maar ons bly maar saam, want dit kan nou nie anders nie... osn het nie selfbeheersing nie...") Vir die Christen beteken selfbeheersing nie maar net blote selfdissipline nie (dit het party heidene ook), maar oomblik na oomblik onderwerping aan die beheer van Jesus wat deur sy Gees in my woon. (Onthou die leiding van die Gees is lei in heiligheid – Romeine 8 vers 14) Petrus beklemtoon hierdie deel van heiligmaking weereens in direkte opposisie tot die valse leraars wat soos redelose diere die natuur volg, “Maar hulle sal, omdat hulle belaster wat hulle nie ken nie, soos redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word, in hulle verdorwenheid te gronde gaan...” (2:12) en wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel. “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel.” (3:3). Dit sien ons elke dag , die onbekeerde mensdom is slawe van elke sondige begeerte , soos diere kan hulle nie anders as om hulle sondige instinkte slaafs na te volg nie. Dis juis sommige van hierdie mense wat spog oor spesiale geestelike insig en allerhande wonderlike ervarings met God wat hulle kastig gehad het. Laat ons dit duidelik weet, enige teologie wat ervaring en kennis losmaak van etiese reinheid en selfbeheersing is kettery. Dis valse lering. Vals lering (soos ons dit helaas ook kry aan ons teologiese fakulteite) lei tot onheiligheid en skynheiligheid! Ware lering wat in opregtheid gevolg word lei to ware heiligheid. Gelykvormigheid aan Jesus!

Selfbeheersing is heeltemal uit pas met die losbandige Huisgenoot en Hollywood leefstyl van vandag! Met selfbeheersing wys jy duidelik dat God jou uitgekies en verlos het!

So baie Christene broei heeltyd oor die kwessie van sekerheid. Gedurig besig met selfanalise, gedurig op soek na een of ander bevestiging – 'n wonderwerk, spesiale teks, visioen of ervaring. Petrus se raad is – Besef wat God jou deur Jesus geskenk het en begin met erns die Christelike lewe leef! Maak erns met hierdie opdragte en die res sal volg. Sit skouer aan die wiel om te vorder op die pad van heiligmaking! Dis hoe jy wys waarheen jy op pad is! Dis hoe jy jou uitverkiesing bevestig! AMEN!

Vir die begin van hierdie Pinksterreeks oor Sekerheid, kliek op MAAK VAS; MAAK SEKER! (1) 

Vir die opvolg op hierdie oordenking, kliek op MAAK VAS; MAAK SEKER (4)


Sondag 05 Mei 2019

BOESMANS HOOR BOODSKAP UIT DIE HEL

Een van ons ouderlinge, Andries Gous is getrou besig met ‘n bediening onder die Boesmans (San) mense noord van Tsumeb. Andries deel ‘n merkwaardige ondervinding of twee: 



Sondag 28 April 2019 



Wat ‘n aaklige en fantastiese dag! 


Soos my gewoonte is, was ek besig om reg te maak vir die eredienste by my Boesmans broers en susters in die Tsintsabis omgewing. 

Tydens my voorbereiding en ook van die vorige dag af beleef ek enorme spanning en onrustigheid, selfs twyfel, moedeloosheid en geheel en al ‘n gevoel van verlatenheid, van alleen wees, alleen stry. 

Ek is kwaad en ontsteld en hartseer alles in een en ek voel ek gaan moed opgee met die bediening onder die Hai//om mense. Ek is siek en sat vir die alleen pad, vir die aankarring met, soos dit vir my voel, geen ondersteuning. 

Dit is natuurlik nie heeltemal waar nie, want daar is broers en susters wat my ondersteun, maar op hierdie Sondagoggend kon ek niks daarvan ervaar nie en het ek regtig gevoel daarna om alles net eenvoudig te staak. Dit is die Here se werk, het ek vir myself gesê en Hy sal ’n plan moet gee, want ek sien nie meer kans op aan te gaan nie, die taak is te moeilik. 

Hierdie is die gedagtes waarmee ek halfhartig my twee preke voorberei vir die dag. Die twee preke is vir die gemeente by Oupos en die ander vir die gemeentetjie by Makalani. 

Voordat ek in die pad val sien my vroutjie dat my gemoed vol is en dat ek glad nie lekker is nie. Ek vertel haar ook sommer luidkeels dat die Here self sy kerk moet in stand hou en dat ek nie meer kans sien om hierdie werk alleen te doen nie. 

Sy bid saam met my, eintlik bid sy maar alleen want my hart is nie in vandag se werk nie, my gemoed is vol van myself en my selfbejammering en gedagtes van moed opgee. 

In my stoutste verwagtinge kon ek nie voorsien wat op hierdie pragtige Sondag sou gebeur nie. 

Oupos 

Die tema van die preek by Oupos handel oor die 5000 mense vir wie Jesus kos gegee het en die tema gaan daaroor dat ons ook geestelike versorging nodig het en nie net fisiese versorging nie. 

Ouder gewoonte vra ek en Karel na die diens as daar mense is wat gebed benodig dat hulle uitkom en saam met ons kom bid. Die normale siektes en kwale word gebring – hoofpyn, lyfseer ens. en ons bid vir elkeen vir fisiese herstel maar altyd ook geestelike herstel en versterking. 

Emka bly eenkant staan en wag geduldig dat almal klaar bid en toe kom sy vorentoe en vertel vir ons van ’n droom wat sy gehad het. 

Sy het gedroom dat haar pa se ma haar besoek het. Haar ouma het haar gewys dat van haar familie op pad is na die hel. 

Sy sien in haar droom hoe haar familie brand in die hel! 

Volgens die manier waarop sy dit beskryf het, kon ek amper die helse vuur sien brand in my geestesoog. Nadat sy wakker geskrik het uit die droom, het sy vroeg môre opgestaan en begin om van familielid na familielid te stap en vir hulle te sê dat hulle hul moet bekeer en na God toe moet gaan want hulle is op pad hel toe en dat die hel ‘n verskriklike plek is. 

Ek ervaar voorwaar die kragtige bekerings boodskap van hierdie jong vrou. 

Emka is die vrou van die derde paartjie wat onder die indruk gekom het dat hulle moes trou en nie verder in sonde moes saamleef nie. Sy en haar man Petrus is dan ook getroud op 1 Maart 2019. (Kliek BY DIE NEDERIGES) 

Wat vir my opmerklik was hoe die gesig van Emka verander het na haar troue. Hoe haar gesig begin straal het nadat sy die stap in gehoorsaamheid geneem het en nie meer in sonde saamgeleef het nie. Wat my ook verder opgeval het is hoe die Here haar aanwend nou nadat sy in gehoorsaamheid opgetree het, hoe die Here haar as ’n instrument gebruik in hierdie gemeente. 

Makalani 

Na die diens op Oupos het ek en Karel oorgery na die samekoms plek by Makalani waar ons die tweede diens van die dag sou hou. Op Makalani aangekom merk ons ’n paar nuwe gesigte op, maar sonder om te veel daaraan aandag te gee gaan ons voort met die erediens . Hierdie keer is die preek se tema die sondeval – van Adam en Eva wat in opstand gekom het teen God. Op Makalani tolk Johannes Tampan vir die ere diens. 

Die diens het goed afgeloop en ouder gewoonte kom ons na die diens bymekaar om te bid vir almal wat gebed nodig het. Terwyl ons bid vir ’n jong man dra die vrouens/of ondersteun hulle swaar ’n vrou wat vir my baie oud lyk na ons toe. 

Karel, Johannes Tampan en ekself is besig om te bid terwyl hulle haar nader bring en ek merk haar eers regtig op toe ek omdraai om te begin groet . Ek neem sommer dadelik aan dat sy daar is dat ons vir haar gesondheid moet bid, maar oudergewoonte vra ek haar uit oor hoe haar saak met die Here staan. Jy kon my omtik met ’n veer toe die ou vrou sê dat sy haar saak met die Here wil regmaak dat sy nie in Hom geglo het nie, maar sy glo nou wel. EK het haar deeglik deur die twee tolke uitgevra om seker te maak of sy verstaan. Sy bely haar skuld saam met ons en doen ’n oorgawe aan die Here Jesus. 

Dit was voorwaar ’n baie kosbare oomblik vir elkeen van ons. Nog ’n “kind” het huis toe gekom! 

Net so kosbaar is dit wat na die gebed gebeur het. Nadat ons saam met haar gebid het, en toe nooit eens vir genesing gebid het nie, staan sy op en loop self terug na die huis se stoep toe! Ek was oorstelp van vreugde vir haar en gevul met absolute blydskap in my Here. 

Ek het weereens deeglik besef dat wanneer ons gedruk voel om moed te verloor en om tou op te gooi dan is dit baie maal omdat daar ‘n felle veldslag aan die gang is in die realm wat ons nie verstaan nie en omdat die vyand weet hy moet alles in die stryd werp want hy gaan een van sy kinders verloor want hulle gaan terugdraai na die Here toe. 

Soli Deo Gloria 

NS. Saterdag 4 Mei was ons weer aan by Makalani om ‘n foto van ouma te neem en dit wil vir my voorwaar lyk of sy jare jonger geword het in die kort paar daggies. Die duiwel is ‘n harde meester, wat mense moeg, gebreek en uitgeput agterlaat terwyl die Here se juk sag is en sy las lig.

Karel Ganseb, getroue geestelike leier, medewerker en tolk!


Saterdag 01 Oktober 2016

FOKUS MY KIND...

te midde van chaos, geweld en goddeloosheid!


Niemand hoef dit vir ons te sê nie : ons wêreld is vasgevang in chaos en goddeloosheid en dit raak ons elkeen. Geweld en verwoesting (dink aan die onlangse onsinnige beskadiging van infrastruktuur by universiteite), bedrog en korrupsie (twee skelms ding mee om die presidentskap van die magtigste land op aarde), waansinnige gierigheid en al wat boos en bedenklik is, is aan die orde van die dag. Dis ‘n tyd van uiterste morele verval – die egskeidingsepidemie, die saambly euwel en die gay agenda het byna alreeds die Goddelike instelling van die huwelik totaal vernietig. (Die definisie van die huwelik as sodanig is onder druk, en dit lyk asof selfs baie kerkleiers nie eers meer duidelik daaroor is nie...)

Nou is die kwellende vraag : 

Wat moet ons as Christene se houding en gesindheid te midde van al hierdie chaos wees? 

Daar is verskeie moontlikhede : Ons kan moedeloos raak en heeldag met strak gesigte rondstrompel, droewig kla en mor oor die jeug, die ekonomie, die regering, die kerk... Ons kan agter hoe mure wegkruip en kos opgaar vir die dag as die finale kernoorlog dalk aanbreek... Ander Christene wil ons vertel dat ons moet probeer om die gemeenskap te verander deur aktivisme – organiseer optogte, trek Internet petisies op, vorm drukgroepe en “teister” mekaar met selfoonboodskappe. 

Deur die eeue heen is dit ’n kwessie : Wat moet die Christen se agenda en fokus wees in ’n goddelose samelewing? ‘n Samelewing waarin ons nie pas nie.

Gelukkig het die Bybel duidelike antwoorde. Ons moet nooit vergeet nie - die vroeë kerk het tot stand gekom, gegroei en gefloreer in ‘n goddelose samelewing. Dis nie eers debateerbaar nie.... Daar was nie hoegenaamd nie eens ‘n Sondag nie, daar was uiteraard nie iets soos Christelike skole of wetgewing nie. Die Romeinse Ryk het definitief nie daarin belang gestel om Christelike beginsels te handhaaf en uit te bou nie. Noem maar al die moderne euwels, al die losbandigheid, aborsie en bedrog – jy sou dit daar ook aantref!


So wat moet die Christen se houding en fokus wees? Paulus se brief aan Titus dui vir ons ‘n duidelike koers aan (En terloops, die mense van Kreta waar Titus homself bevind het is deur een van hulle eie mense beskryf as 'n klomp "leuenaars, ongediertes en lui vrate"* (Sjoe!!!) :

“11.Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn.

12.Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe,

13. terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn.

14. Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen.” (Titus 2:11-14)


Uit gelese gedeelte lyk dit of ons ’n duidelike tweeledige fokus kan aflei : ‘n Lewe van HEILIGHEID en HOOP. Heiligheid binne die teenswoordige wêreld en Hoop op die toekomstige wêreld . ’n Christen leef in ’n dubbele konteks. Ons leef in ’n huidige teenswoordige wêreld - en in hierdie konteks moet ons fokus val op heiligheid. Maar terselfdertyd is ons ook mense van die toekoms - en teenoor die toekomstige wêreld, die verskyning van Jesus en daarmee saam die nuwe hemel en aarde moet ons ’n lewende hoop en verwagting hê. 

Heiligheid.  Wat bedoel dit? Kyk weer na vers 12 ev. Jy kan nie die samelewing verander nie, nie eers jou eie huismense nie, maar jy self kan anders leef. Los als wat verkeerd is – die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede. Jy as kind van God kan kies TEEN losbandigheid, onsedelikheid, gierigheid... Jy kan mos kies om nie na immorele TV sepies te kyk nie, jy kan kies om nie skelm besigheid te doen nie, jy kan kies om nie kwaad met kwaad te vergeld nie... Maar jy kan ook positief kies VIR selfbeheersing, opregtheid en godsvrug. “ywerig om die goeie te doen.” (14) Dis als moontlik omdat Jesus Homself vir ons as offer gegee het. Verlos van sonde skuld en met die Heilige Gees binne ons, kan ons nou goeie dinge doen! Ons hoor in Titus 3:1,2 wat die goeie dade verder prakties behels. Dalk hou ons nie daarvan nie, maar luister tog baie mooi... “Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is. Hulle moet van niemand kwaadpraat nie en nie rusie soek nie. Hulle moet inskiklik wees en altyd bedagsaam teenoor almal.”

In 3:8 kom Paulus weer terug na die belangrikheid van goeie werk. “Dit is ‘n betroubare woord. Daarom wil ek hê dat jy van hierdie dinge met groot nadruk moet getuig, sodat dié wat tot geloof in God gekom het, hulle op goeie werk kan toelê, werk wat goed en nuttig is vir die mense.”

Nou sê jy miskien : “Hoe kan ek dit regkry om vriendelik en positief te wees? Kyk bietjie wat doen die regering, kyk hoe smerig, skelm en goddeloos is almal...” Ons kry ‘n belangrike perspektief in Titus 3:3. “Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat.” Dit lyk amper of Paulus ons gedagtes kan lees. Hy sê : Ons (wat nou Christene is), was ook so. Moet dit nie vergeet nie. Asof hy wil sê julle moet maar geduldig wees met die slegte mense, onthou ons wat kinders van God is was maar eens op ’n tyd net so. Dis net deur die genade van Jesus dat ons nou anders is... Ja, my vriend dis net God se genade dat ek en jy nie (meer) ’n hoereerder, dief of dronkaard is nie! ‘n Kind van God is iemand wat nuutgemaak is deur die genade van God, moet dit nooit vergeet nie! Ontvangers van genade, behoort genadig en geduldig te wees met sondaars sonder om sonde goed te praat! (Kliek op JONA)

Hoop. Ons moet voluit gaan om goed, heilig en ordelik in hierdie wêreld te leef, maar dis nie al nie. Ons het ‘n hoop, ons moet uitsien na die heerlikheid wat wag! (2:13) Uitsien na 'n ewige toekoms, dis hoe ons kophou en moedhou te midde van goddelose toestande! Ons moet hoopvol uitsien na die gelukkige dag, die erfenis wat vir ons wag, die toekomstige wêreld Mag ons nooit vergeet, daar wag ’n erfenis vir God se kinders.... (Rom 8:17; 1 Petrus 1:3,4) Christenskap wat my nie laat uitsien na die verskyning van Jesus en die erfenis wat Hy ons gaan gee nie, is nie Nuwe Testamentiese Christenskap nie! As die goddeloosheid ons pla, en dit moet en sál ons pla, sal ons telkens weer opnuut met blydskap besef : “Wag net ‘n bietjie, die beste kom nog.” Ons mag nooit vergeet hierdie aarde is nie ons finale woonplek en eintlike vaderland nie. Ons mag nooit vergeet nie, Christene is pelgrims, op pad wees mense. Toets jou daaraan : hoe sien jy jouself, jou plaas, jou besittings? Het jou projekte, jou eie gesin, jou eie volk en jou eiendom nie dalk vir jou te belangrik geraak nie. 

Sien jy uit na die finale aanbreek van God se Koninkryk? Kan jy die “Onse Vader” opreg bid?

Hierdie tweeledige fokus moet in balans wees. Heilige betrokkenheid en wandel in hierdie lewe, hoopvolle verwagting op die toekomstige lewe. Heilig voluit lewe binne hierdie land en gemeenskap waar God ons geplaas het, maar terselfdertyd ons hoop vestig op die volmaakte bedeling wat sal aanbreek by die wederkoms van Jesus.

Ons mag nie eenkant wees nie, ons moet aktief betrokke wees met goeie werke, maar moenie vergeet nie daar wag ’n heerlike toekoms. My lewe hier is tydelik, my besittings word maar net vir my geleen, my eintlike burgerskap is in die hemel!

Hierdie balans van heiligheid nou en hoop op die eendag hou ons op koers, maar dis ook die basis van ons getuienis. Dis die tipe lewe wat raakgesien sal word deur onbekeerde mense, wat hulle sal aanspreek en hulle na die Here se genade sal laat soek. Die genade wat hulle ook daartoe kan bring om nuwe lewens te leef... AMEN

* Sien Titus 1:12






Sondag 15 Februarie 2015

Heiligheid, huwelik en seksualiteit



Getuienis van die Kerkraad, NG Kerk Tsumeb:



1.Die Kerkraad bely in die lig van die Skrif dat die huwelik tussen een man en een vrou ‘n instelling van God is en die enigste ruimte is waarin die mens sy Godgegewe gawe van seksualiteit kan uitleef. Die huwelik is ‘n formele verbintenis met duidelike grense. Om saam te woon of selfs verloof te wees is nog nie ‘n huwelik nie!


2.Die Kerkraad wys lidmate daarop dat God se voorskrifte oor die heiligheid van die huwelik deel is van die basiese opdrag tot heiligmaking en dat die verwerping hiervan neerkom op ‘n verwerping van God self en dus sy straf oor ons bring.

3.Die kerkraad wil lidmate ernstig vermaan teen alle oortredings van die sewende gebod soos egskeiding, losbandigheid, alle voor en buitehuwelikse seksuele verbintenisse (byv. ongetroude saamwoon), homoseksuele dade, die kyk na pornografie, maar ook meer subtiele vorme soos ongewenste films, webwerwe en literatuur wat nie in lyn is met God se standaarde vir sy kinders nie. In ons stryd teen hierdie sondes, moet ons nie net die sonde self vermy nie, maar ook gewoontes, kompetisies, vermaak, situasies en praktyke wat ons daartoe kan verlei. Die kerkraad maak hierdie uitspraak nie vanuit ‘n posisie van hoogmoedige selfgeregtigheid nie, maar is inteendeel diep bewus van die feit dat almal van ons aan hierdie tipe versoekings blootgestel word.

4. Die kerkraad is bewus van baie verskonings wat spesifiek aangevoer word ter verdediging van die saambly gewoonte, soos finansiële en praktiese omstandighede. Die feit bly egter dat sonde ‘n verwoestende, ernstige saak is en dat ons opgeroep word om selfs tot die dood daarteen te stry. Die Here se seën sal nooit op ‘n sondige verbintenis rus nie, want God kan nie ontrou wees aan sy eie Woord nie.

5.Die kerkraad is bekommerd en hartseer dat lidmate wat bely dat hulle Jesus ken, deur hulle ongehoorsaamheid aan Bybelse standaarde ten opsigte van huwelik en seksualiteit, hulle getuienis en gevolglik die naam van die Here ernstig skade aandoen. God se kinders is immers geroep om onberispelik te leef en te skyn in ‘n donker wêreld, ook in ons huidige samelewing wat gekenmerk word deur uiterste immoraliteit.

6.Die kerkraad wil almal wat op hierdie terrein oortree het in liefde oproep tot berou en bekering en hulle daarop wys dat alle sondaars by Jesus welkom is. Waar daar berou en bekering is, is daar volle vergifnis vir alle sonde op grond van Jesus, ons Middelaar se soenverdienste.

7.Die kerkraad wil egter ook lidmate wat op ‘n openbare (en dus tugwaardige) manier in hierdie sondes volhard, waarsku dat hulle lidmaatsvoorregte in gedrang kan kom. Die Skrif verbied immers gemeenskap met die sulkes wat hulleself binne die gemeente bevind.

8.Die kerkraad doen ook ‘n beroep op ons kerk se meerdere vergaderings en amptelike organe (soos DIE KERKBODE) om hulleself duideliker en meer gereeld uit te spreek teen hierdie tipe dinge wat die naam van Here en sy kerk oneer aandoen.




Teksverwysings :

1. Genesis 2:18; Markus 10:9; Matteus 1:18

2. 1Tessalonisense 4:7,8; Hebreërs 13:4

3. Matteus 5:27-28; Romeine 1:18-32; Efesiërs 5:3-5

4. Hebreërs 12:14

5. Filippense 2:15

6. 1 Korintiërs 6:9-11, 1 Johannes 1:5-2:1

7. 1 Korintiërs 5:11,12

[Goedgekeur op die kerkraadsvergadering van Sondagmiddag 15 Februarie 2015]

Sondag 20 Oktober 2013

WERP ALLES IN DIE STRYD

- Elke kind van God is so heilig soos hy regtig wil wees!

Ons het by 'n vorige keer gesien hoe Petrus die mat van die ou bekende verskoning onder ons voete uitruk. Die verskoning van : “Ag, ek is maar net ‘n swakke mens, daarom bly ek maar sondig.”

Dinsdag 14 Februarie 2012

SIEK EN SAT VIR "CELEBRITIES"

Ons liggame verduur ongelukkig baie tipes besoedeling. Dis lugbesoedeling, waterbesoedeling, geraasbesoedeling... en vele meer. Nog erger en dalk met erger gevolge is die “Celebrity besoedeling” waarmee ons sintuie en siele gepynig word! Tot satwordens toe, word ons gebombardeer met sepiesterre, sangsensasies, rugbyreuse en politieke ikone en wie weet watter ander glansganse se onbenullige lewensbesonderhede en onbybelse lewensbeskouings! Nou dat die Woord van God grotendeels sy plek in ons volkslewe verloor het, is hulle die groot lewenskenners en beraders! Ons word opgesaal met hulle skandes en skeisake, hulle hofgedinge en bekgevegte! Om een of ander rede is hulle babas mooier, hulle hartsere belangriker en hulle sondes sappiger as ons gewone sterflinge s’n. Dit moet eenvoudig op die voorblaaie... (Nou ja, Huisgenoot se joernaliste moet seker ook eet...)

Op ’n ernstiger noot. Waarom dink ek behoort ’n Christen nie mee te doen aan Celebrity verering nie? Oorweeg en bedink die volgende :

Die “Celebrities” het die de facto gode van ’n groot deel van die Afrikanervolk geword! (en seker die meeste ander Westerse gemeenskappe) Wat hulle sê is belangriker as wat God in sy Woord beveel. Hulle bly mos ons mense se helde al minag hulle God se opdragte deur hulle onsedelikheid en lastering. Die “Idols” kompetisie is eintlik ’n baie raak beskrywing. Arrogante mensgemaakte afgodjies. Om enige mensgemaakte god te vereer is ’n gruwelike sonde wat God se toorn oproep. Dis ’n konkrete voorbeeld van die verering van die skepsel in plaas van die Skepper! (Romeine 1:25) Laat ons net weer onthou : God deel sy eer met niemand nie. Dit moes koning Herodus op die harde manier leer toe hy wurmkos geword het! (Handelinge 12:22,23) Is dit dan snaaks dat soveel van Suid-Afrikaners se afgodjies baie hard van hulle troontjies afgestamp word?

Die “Celebrities” teken vir ons ’n valse defenisie van sukses en geluk. Hulle is die mense wat nou kastig die “lewe” ervaar! Hulle het so ongemerk ons (en ons kinders se) rolmodelle geword. As ons motors, huise en lywe nie soos hulle s’n kan lyk nie, voel ons soos mislukkings. Die Celebrities met hulle blink motors en (skamelgeklede) blink lywe propageer egter ’n boodskap wat direk indruis teen die Bybelse boodskap van wêreldversaking. (1 Johannes 2:15-17; Jakobus 4:4) “Lewe” is om God te ken en is nie afhanklik van die oorvloed van ons besittings nie!

Die “Celebrities” kom weg met “moord” en maak ons gewoond aan morele verval as aanvaarde norm. ’n Celebrity mag maar ’n roekelose rokjagter met ’n rekord van ‘n streep gebroke vroue (en buite egtelike kinders) wees! En selfs ’n Christelike radiostasie speel nog steeds sy musiek! Solank ’n Celebrity kan sing of drieë druk bly hulle mos ons helde! En so geleidelik het hulle optrede ’n groot rol gespeel om sondes soos homoseksuele lewensstyle, huweliksontrou, losbandigheid (saamblyery) en materialisme aanvaarbaar te maak!

Die “Celebrities” en hulle media meelopers is sensasiebeluste geldjagters wat ons “besteel”. (En hulle vang ons so maklik). Hulle ken die kuns om na ’n koerant of tydskrif te hardloop met ’n tranetrekker skinderstorie as die geld om hulle uitspattige leefstyle voort te sit bietjie min word. (Of skryf ’n niksseggende voortydige outobiografie!?) Hulle weet baie goed om kunsmatig ’n mark te skep vir nuuskieriges wat bereid is om te betaal vir die bevrediging van daardie nuuskierigheid. Dis ’n skreiende aanklag teen die agteruitgang van ons waardesisteem, dat ons bereid is om miljoene Rande aan vermaaklikheidsterre te bestee, maar daar is nie geld beskikbaar vir ordentlike onderwys in ons land nie.

Die “Celebrities” verkondig ’n verdraaide evangelie. Die gevaarlikste “Celebrities” is nie die wat openlik goddeloos is nie, maar die wat slim genoeg is om ’n Christelike sousie oor hulle beeld te gooi en so die harte te wen van liggelowige Christene. Dis kom neer op die uitbuiting van die (oorblywende) Christelike sentimente van die Afrikaner. By nadere ondersoek is dit duidelik dat hulle idee van Christenskap nie strook met die Woord nie. Die variasie van Christenskap wat hulle aan ons opdis gaan hand aan hand met gewildheid, rykdom en mensgesentreerde sukses! O, en kerke nooi hulle so graag vir praatjies! En inderdaad is dit leë praatjies! Kom niemand dan agter dat Jesus nie met hierdie tipe Christenskap versoen kan word nie? Hy was nie gewild nie, maar verworpe, nie ryk nie, maar arm... in die oë van die wêreld eindig sy lewe in die grootste mislukking, die skandedood aan die kruis! Ons word opgeroep om saam met Hom as uitgeworpenes buite die laer te ly en sy smaad te dra! (Hebreërs 13:13,14)


Dis dalk tyd dat Jesus se volgelinge duidelik laat hoor : “Ons is siek en sat vir Celebrities!” Dis tyd dat ons eerlik raak oor morele naaktheid en waag om te sê : “Die keiser(s) is kaal!” Ons moet hulle raaksien vir wie hulle is, mensgemaakte afgode! En ons moet bely (ek ook) : “Here vergewe ons dat ons so maklik mense op ’n troon plaas of onsself met hulle ongeregtighede besoedel!

Skryf ek nou alle “Celebs” af? Is alle glansganse gans en al af te skryf? Natuurlik nie! Ook vir hulle is daar genade, as hulle hulle bekeer! Kan ons alle openbare figure onder dieselfde kam skeer! Nee, ek glo nie so nie, orals kry mens God se kinders. Hy alleen ken die harte.

Maar dis wel baie duidelik : Die kind van God moet ver bly van die Celebrity kultuur en verering. Die Woord van God lei ons direk in ’n teenoorgestelde rigting as ons lees :

“Skaar julle by die nederiges...”
(Romeine 12:16)