BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Nuwe Jerusalem. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Nuwe Jerusalem. Wys alle plasings

Saterdag 26 Augustus 2023

BLY JY DALK TE LEKKER IN BABILON?

- Daar is geen toekoms in BABILON nie!

(Jy dink miskien dis lekker, maar dis GEVAARLIK!)


Waar woon jy en voel jy tuis? Waar behoort jy? Waar is dit lekker?  Ek bedoel nou nie Tsumeb, Windhoek of dalk die Kaap nie. Ek bedoel  Babilon of  die nuwe Jerusalem, die twee stede waarvan ons in Openbaring lees? (Kyk gerus by 
Openbaring 18:1-3;  21:1-3)

In Ou Testamentiese taal - Babel of Sion? Ja, want hierdie twee plekke het ‘n lang en onstuimige geskiedenis lank nog voor die tyd waarin Openbaring geskryf is en waaroor Openbaring skryf.

ABSOLUTE KONTRAS

Hierdie twee stede is ook op die uiterstes van die spektrum, onversoenbaar, “incompatible”. Dis die absolute “Tale of two cities” om nou maar Dickens se woorde te gebruik.  Dit verteenwoordig twee opponerende leefstyle, waardesisteme, koninkryke en eindbestemmings.  Dis duisternis teenoor lig. Leuen teenoor waarheid.  Geweld teenoor vrede. Onsedelike boosheid teenoor rein heiligheid. 

‘n Onrein losbandige prostituut teenoor ‘n rein maagdelike bruid.


DIE VERRE OORSPRONG

Kom ons gaan terug ver na die Ou Testament. Jerusalem is God se uitverkore stad. Ook bekend as, Sion. Hier is die troon van Dawid, die setel van God se heilige tempel, die sentrum van ware aanbidding. Jerusalem het egter gruwelik gesondig en God het die goddelose Babel gebruik om sy stad, sy mense te straf. Die volk Israel is in ballingskap na Babilonië weggevoer. Daar het hulle swaargekry en getreur. Die hartseer word so treffend verwoord in die bekende Psalm 137. (Onthou jy nog Boney M. se treffer "By the rivers of Babylon"?) 



Alles het so hopeloos en hartseer gelyk, maar God het sy volk en Jerusalem nie afgeskryf nie. God nie sy verbond vergeet nie. Deur die profete het Hy weer die einde van die ballingskap, die herstel van Jerusalem, die herbou van die tempel en die straf oor Babel aangekondig. 

God het nou vir sy volk deur die profete aangekondig dat Jerusalem se straf verby is. Jesaja 40:1,2 



God kondig ook die straf oor Babel aan. Kyk byvoorbeeld na Jesaja 47 waar die val van Babel aangekondig word. Jesaja 47:10-11




Saam met die oordeelsaankondiging oor Babel kom God se oproep om uit Babel pad te gee. Jesaja 48:20  God beveel sy mense :"Kom nou weg uit hierdie bose plek en sisteem, hierdie plek gaan nou vernietig word!"



Teenoor God se oordeelsaankondigings oor Babel verseker Hy sy eie volk, die stad Sion dat Hy hulle nooit sal vergeet nie. Jesaja 49:14-16  God gaan sy stad reinig en bevry  Jesaja 52:1-2   Hierdie nuus dat God inderdaad KONING is (ten volle in beheer van die geskiedenis is en alle mag het om sy volk se lot postief  te verander) is goeie nuus!  (Niks anders nie as EVANGELIE) Jesaja 52:7








Hierdie beloftes van God oor  sy volk se bevryding uit Babel en die herstel van Jerusalem is natuurlik letterlik vervul. God het in sy absolute soewereine almag, die heidense koning Kores gebruik om die volk weer terug te bring na Jerusalem en die stad en die verwoeste tempel weer te herbou. 

Maar daar het nog iets heerliker  gekom. Jesus, die Lydende Kneg van Jesaja 53 het finaal ‘n einde aan die ballingskap gebring. Hyself was die ware tempel en Hy herstel Jerusalem  - Hy maak ‘n rein bruid, sy kerk bymekaar wat in Openbaring die nuwe Jerusalem genoem word.

Die kontras tussen die onheilige Babel en God se nuwe herstelde Jerusalem word deur Paulus gebruik om die Christene in Korinte tot heiligheid aan te spoor. 2 Kor. 6:17,18 7:1 vgl. Jesaja 52:11   Die goeie nuus van die bevryding uit Babel is nou die Goeie Nuus van die evangelie, ons verlossing uit die verslawende ballingskap van die sonde en sy sisteme. Maar as ons hierdie Goeie Nuus glo, moet ons wegbreek van alle sonde en ongehoorsaamheid! Dis lewensbelangrik!




(Om na 'n boodskap oor bogenoemde teks te luister, kliek op KOM WEG DAAR!)

IN OPENBARING

Maar kom ons blaai nou na Openbaring. Hier word die kontras tussen Babel en die nuwe Jerusalem, Jesus se bruid op ‘n spits gedryf. Die parallel met die beloftes in Jesaja en die boodskap van Openbaring is so opvallend.  Babilon is die simbool van hierdie bose wêreld met sy wellus en gierigheid wat die ware kinders van God onderdruk. Die oordeel oor Babilon word hier in hoofstuk 18 uitvoerig beskryf…



Let op Openbaring 18:4 (vgl. Jesaja 48:20 en 52:11 waarna ons reeds gekyk het)


Hierdie beskrywings van haar sonde, uitspattige weelde, onsedelikheid en moord op God se kinders kom uit veral Jeremia en Jesaja. 



DIE REIN BRUID

Teenoor die losbandige prostituut Babilon met die uitspattige en uitlokkende houding en voorkoms staan die rein bruid van Jesus, die nuwe Jerusalem, die geheiligde volgelinge van Jesus. Openbaring 21:2; 9-11 Daar is nie plek om op al die eienskappe en heerlikheid van die nuwe Jerusalem in te gaan nie. Een saak wat so belangrik vir onms tyd is moet egter duidelik uitgewys word – vers 27!





Waar voel jy tuis? (Voel jy tuis by die Visfees, Wildsfees of watter fees ook al waar gehoer en rumoer word?) Jy kan nie ‘n burger van beide Babel en die nuwe Jerusalem wees nie. Jy kan nie ‘n ondersteuner van altwee bly nie… Jy kan nie hoer en bruid tegelyk wees nie!  Baie mense mislei hulleself… ons behoort mos aan die kerk, ons is mos gedoop en aangeneem…ons is mos deel van die Nuwe Jerusalem. Kom ons stel dit duidelik – God se Woord is baie reguit… as jy aangaan met valsheid en gruwels… as jy aangaan met jou onsedelikheid, jou dronkenskap, geweld, leuens, bedrog… vergeet van toegang tot die heilige stad.

Die waarheid van God se bedoeling is nie om ons weg te stoot nie, maar op te roep tot bekering. Laat staan jou sonde en bekeer jou tot Jesus. Dis die duidelike boodskap van die sewe briewe aan die gemeentes in dieselfde boek van Openbaring.(Kliek op Boodskap van die Heilige Gees) Die oproep tot bekering kom in Openbaring na kerkmense, mense wat binne in die kerk leef soos aanhangers van Babilon. Kom en laat jou klere gewas word in die bloed van die Lam!

Kyk op YouTube. Kliek op LEKKER IN BABEL?

Maandag 11 Desember 2017

TRUMP EN JERUSALEM

- moet Christene hande klap?



Trump se besluit oor Jerusalem het skokgolwe deur die wêreld gestuur. Groot toejuiging van sy kiesers en vanuit sekere elemente in Israel self. Die res van die wêreld en die Palestyne en Arabiere in die algemeen voel natuurlik baie anders oor die saak. Nou, almal wat iets van Amerikaanse politiek verstaan sal besef, Trump se aankondiging dat die VSA amptelik Jerusalem as die staat Israel se hoofstad erken, weinig met oortuiging te make het, maar wel baie met persoonlike populariteit en om die guns van sy groot Joodse casino baas donateur, Sheldon Adelson te behou. En so terloops : Trump se aankondiging is ook nie so dramaties en dapper soos baie van sy ondersteuners graag sou wou glo nie. In sy aankondiging oor die erkenning van Jerusalem was daar ‘n opvallende weglating – Hy het nie die Israelse terminologie oor Jerusalem gebruik nie. Israel verwys na Jerusalem as die “ewige onverdeelde” hoofstad van Israel.* Trump het net na “Jerusalem” verwys en dus die deur oopgelaat dat die grense van Jerusalem nog steeds onderhandelbaar is.



Ek wil egter nie op hierdie fasette konsentreer nie, maar net vra wat die geestelike en Bybelse dimensie van hierdie besluit behels?


JERUSALEM SE BETEKENIS VIR ONS


Hoe belangrik is die stad Jerusalem, spesifiek vir ons as Christene? En as dit belangrik is, in watter sin? Is God op ‘n manier meer daar teenwoordig as op ander plekke? Maak die status van Jerusalem hoegenaamd nog saak vir ons? Behoort evangeliese Christene, Trump se besluit toe te juig?



Histories gesproke in die ontvouing van God se verlossingsplan het Jerusalem natuurlik ‘n sleutelrol gespeel. Dis die stad van Dawid, die setel van die tempel, die plek waar God besluit het om op ‘n besondere manier teenwoordig te wees! As geografiese plek waar ons Here Jesus gekruisig is, het Jerusalem vir ons natuurlik ‘n geskiedkundige belangrikheid. Maar het Jerusalem (en of dit nou amptelik as Israel se hoofstad erken word of nie), enige geestelike betekenis vir ons?

DRAMATIESE VERSKUIWING

Met die koms van Jesus het daar dramatiese verwikkelinge gekom in die rol van Jerusalem. Die geografiese Jerusalem het geen geestelike betekenis meer vir ons nie! Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou by die put het dit vir altyd vir ons opgeklaar!

Die vrou het geredeneer : “Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar ‘n mens God moet aanbid, is in Jerusalem."

Jesus sê toe vir haar: "Glo My, Mevrou, daar kom ‘n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie.

Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode.

Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. (Johannes 4:20-23)

Ware aanbidding is gestel in Jesus Christus. Hy het immers die TEMPEL VAN GOD (kliek) vervang en by implikasie daardeur die belangrikheid van die stad Jerusalem gerelativeer! 

Ons moenie vergeet nie, Jerusalem het Jesus verwerp en Jesus het die oordeel oor hierdie stad en die tempel uitgespreek. 

"Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!

Kyk, nou word julle stad aan julleself oorgelaat. Maar Ek sê vir julle: Julle sal My sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!" (Lukas 13:34,35) 

Later spreek Hy ‘n nog duideliker oordeel uit oor Jerusalem!

"Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is." (Lukas 21:24)

En die geskiedenis leer ons dat die voorspelde oordele wel oor Jerusalem voltrek is...

JERUSALEM SE TOEKOMS?

Die groot vraag is natuurlik nou wat bedoel word as Jesus verwys na die vertrapping van Jerusalem wat ook tot ‘n einde gaan kom? Voorspel dit ‘n glorieryke aardse bedeling vir die geografiese stad Jerusalem? Dis natuurlik hoe die chiliasme, wat 'n duisendjarige aardse koninkryk van Jesus verwag, dit verstaan.**

In die breë Bybelse heilsgeskiedenis, dink ek moet ons nie hierdie uitspraak van Jesus verstaan as ‘n wonderlike toekoms vir die huidige stad Jerusalem nie. Ons moet Skrif met Skrif vergelyk. ‘n Uitstaande belangrike hoofstuk in die Ou Testament wat handel oor die toekoms van Jerusalem is Jesaja 60. (Lees dit gerus, maar onthou dit is geskryf in konkrete Ou Testamentiese taal, segswyse en denkraamwerk.) ‘n Baie belangrike insig word verkry as ons hierdie hoofstuk met Openbaring se beskrywing van die Nuwe Jerusalem (die Bruid van Christus) vergelyk. Die ooreenkomste is verstommend treffend!

“Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie, snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn nie: die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, en jy sal roem in jou God.

Jou son en jou maan is die Here, Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie. Die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, jou dae van smart is verby.” (Jesaja 60:19,20)

Vergelyk dit nou met Openbaring.

“Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.” (Openbaring 21:23)

“Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het nie die lig van ‘n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer.” (Openbaring 22:5)

Jesaja beskryf die Nuwe Jerusalem in profetiese taal! 

Dit word bevestig deur die Nuwe Testament self. Die klem in die Nuwe Testament verskuif van die fisiese stad Jerusalem na die Nuwe Jerusalem. Die teologiese belangrikheid van die aardse stad Jerusalem vind vervulling in die waarheid van die Nuwe Jerusalem! (Kliek op Nuwe Jerusalem) Trouens Openbaring verwys eintlik baie negatief na die aardse Jerusalem as die plek waar ons Here gekruisig is!

“Hulle lyke sal in die hoofstraat van die groot stad lê waar hulle Here ook gekruisig is. Die stad word sinnebeeldig Sodom en Egipte genoem.” (Openbaring 11:8)

Ook Paulus heg geen spesiale geestelike betekenis aan die geografiese Jerusalem nie. Trouens om die onversoenbaarheid tussen redding deur die wet en redding deur geloof uit te beeld verwys hy baie sterk negatief na die aardse Jerusalem. En dan maak hy terloops ‘n positiewe verwysing na die hemelse Jerusalem! “Hagar staan vir Sinaiberg in Arabië, en dit is ‘n beeld van die huidige Jerusalem, want Jerusalem en sy kinders is slawe. Maar die hemelse Jerusalem is vry, en dit is ons moeder.” (Galasiërs 4:25,26)

Donald Trump se besluit (ongeag die applous van baie Christene) is eintlik baie teenproduktief vir die Christelike evangelie se vooruitgang veral in die Moslem wêreld. Dit plaas Arabiese Christene in ‘n baie netelige posisie. (Dink ook sommer, wie is ons naaste broers en susters in die geloof - Arabiese Christene wat in Jesus glo of Sioniste wat Jesus verwerp?)  So het die hoof van Egipte se Koptiese Kerk, Pous Tawadros die Tweede reeds gesê hy weier om die Amerikaanse adjunkpresident, Mike Pence te ontmoet wanneer hy Kairo later die maand besoek. Dis ‘n verstaanbare reaksie. Trump sal dit egter nie verstaan nie. Natuurlik dis te veel verwag van hom wat nie eens die woord vergifnis verstaan nie om diepgaande teologiese insig te toon. Van evangeliese Christene verwag mens egter meer insig en sensitiwiteit... Kom ons lees meer die Bybel en kyk minder TBN...

*Hy het wel dié term in sy verkiesingsbeloftes gebruik.

** Meer spesifiek, pre-millenialisme.
Diana Butler Brass som dit baie goed op:
I doubt that President Trump could explain dispensational pre-millennialism. I doubt he knows the term. But his evangelical supporters know it. Some of his advisers are probably whispering these prophecies in his ears. Trump might not really care how they interpret the Bible, but he cares that white evangelicals continue to stand with him. Moving the embassy to Jerusalem is one way to affirm his commitment to these evangelicals -- reminding them that he, Donald J. Trump, is pressing biblical history forward to its conclusion and that he is God's man in the unfolding of these last days.

Maandag 06 November 2017

HARVEY WEINSTEIN

en die Nuwe Jerusalem! 

Paulus praat met die kinders van God (hulle is geseënd en uitverkore in Christus, begenadig en gered deur die geloof alleen)* op ‘n baie kragtige manier in Efesiërs 4:17-24**  en moedig hulle aan om heeltemal te breek met hulle ou heidense leefstyl. 

HEIDENSE LEEFSTYL

Wat is hierdie heidense leefstyl? Dis belangrik om raak te sien, dis nie net die leefstyl van die Moslems, Hindoes of geverfde kannibale daar doer nie, dis die hele wêreldsisteem waarin ons leef en wat ons elke dag rondom ons sien. As mens na hierdie beskrywing kyk, kon jy net sowel dink Paulus was ‘n middag op die Internet en hy het so bietjie op Instagram en YouTube rondgekuier. 

Hoe lyk en klink die heidense leefstyl volgens Paulus?

“hulle gedagtes lei tot niks” Een van die hoofkenmerke van die heidense leefstyl is verdorwe sinnelose dwase denke. In die geroesemoes en lawaai van die goddelose wêreld met sy filosofie, idees en ideologie, sy hedonisme, materialisme, feminisme, liberalisme, ateïsme (noem maar op...) is daar geen blywende oplossings nie, geen ware rus en geen ewige heerlike bestemming nie. Dis ‘n ydele soeke na ‘n altyd ontwykende utopie, ‘n hersenskim van geluk wat nêrens te vinde is nie. Dis ‘n gejaag na ‘n haas wat nie eers bestaan nie. Soos ‘n hamster wat hom verbeel hy gaan iewers kom maar al die tyd op sy eie wieletjie in die rondte hardloop. Dis ‘n vretende verlange na die pot goud aan die punt van die reënboog, wat maar altyd net buite bereik bly. ‘n Tevergeefse vertroue op helde met wankelrige voete en ‘n swerm onkundige kiesers wat agter hulle aanstrompel... Die Obamas, Trumps, Macrons…maar nie een van hulle weet in watter rigting die Lewe te vind is nie! 

“verduisterde verstand...onkunde” Die heidendom verstaan niks van ‘n heilige lewe in gemeenskap met God nie, weet nie wat in die Woord staan nie. Die heiden verstaan nie waarvandaan hy kom, wat sy doel op die oomblik is en waarheen hy op pad is nie. Onkundig, maar ook verhard. Die heiden het immuun geraak teen God se waarskuwings. Veragters van sy liefde, verbitter teen sy gebooie en vertrappers van sy verlossingsgenade.

Die heidene het “afgestomp” geraak – vir my een van die duidelikste kenmerke van die samelewing. Ongevoelig, skaamteloos, onsensitief. Sonde is nie eers meer ‘n skande nie – dis die hoof sappige nuus op die voorblaaie : “ons bly saam, hoereer saam, lieg saam, steel saam en voel nie eers skaam of skuldig daaroor nie. Selfs as ons uitgevang word is daar geen hartgrondige berou nie, in plaas van belydenis en bekering gaan ons net vir ‘n bietjie terapie!” Dis die losbandige leefstyl van Hollywood en Harvey Weinstein** en sy kan wurms, waaroor almal nou “Oe!” en “A!”, maar dis waarvan mense eintlik regtig hou, want hulle betaal om hierdie vuil water dag vir dag uit hulle morsige TV skerms op te slurp. Inderdaad ‘n “onversadigbare drang” na “losbandigheid!”

Die boosheid gaan al verder, daar word steeds nuwe vorme van losbandigheid wellus en haat uitgedink. Daar kom telkens nuwe skandale van bedrog na vore… en dis nie net Zuma wat skuldig is nie!

Hierdie heidense leefstyl staan in skrille kontras met die waardes en voorbeeld van Jesus. (20) Die opdrag wat Paulus gee is kort en kragtig (en baie ongewild!). Hou op, breek met…

NUWE DENKE WORD BENODIG

Waar begin dit? Innerlik by ons gees en gedagtes. “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” (Romeine 12:1,2) Moenie meer dat Instagram, Hollywood en die Huisgenoot jou gedagtes en waardes bepaal nie! Moenie nabootsers word van die sepiehelde nie! Moenie gelykvormig word aan die grillerige glansganse van aan ons tyd nie. Gaan eerlik terug na God en sy Woord. Leef nuut volgens die lewe waartoe God julle geroep het. God se bedoeling is dat ons beelddraers van Hom moet wees. Ons weet God se beeld is in ons geskend. Dis verwronge en vuil. Ons weet nie eers hoe ons meer veronderstel was om te wees nie. Gelukkig kan ons weer weet hoe God se beeld in ons moet lyk. Jesus. Hy is die Beeld van die onsienlike God. Positief – om weer God se beeld te vertoon moet ons volgens die opdragte en voorbeeld van Jesus leef! En Hy maak dit moontlik deur die Heilige Gees wat in ons woon! 

GEEN PLEK VIR DIE HEIDENSE LEEFSTYL IN DIE NUWE JERUSALEM NIE

Hoe ernstig is Paulus met hierdie waarskuwing? Ons het mos ‘n manier om die Bybelse waarskuwings af te skud en te versag. “Ag, ou Paulus is ‘n asyngesig rabbynse Jood.” As ons egter in Openbaring 21 na die beskrywing van die Nuwe Jerusalem kyk besef ons hoe reg is Paulus. Die Nuwe Jerusalem is in Openbaring beide ‘n plek, maar dis ook mense. Dit staan in kontras met Babilon. Babilon word uitgebeeld as ‘n onrein prostituut en die Nuwe Jerusalem as die rein bruid. ‘n Groter kontras kan jy nie kry nie. Babilon is die plek van die onreines, maar die Nuwe Jerusalem (kliek) by uitstek die plek van die reines. Hulle word verlig deur die heerlikheid van God en die Lam is hulle lamp. (23) Die onreines se eindbestemming is die poel van vuur. “Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood." (8) Hulle mag nie in die Nuwe Jerusalem kom nie. “Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan.” (27) Daar is geen plek vir die heidense leefstyl in die Nuwe Jerusalem nie! Dis verdoemend duidelik!

GENADE VIR DIE DORSTIGES!

Vreeslike woorde, maar wag, ook hier in Openbaring word die deur oopgehou vir die wat wil bekeer. Genade onbeskryflik groot! “Verder sê Hy vir my: "Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.” (Openbaring 21:6,7) “Die Gees en die bruid sê: "Kom!" En elkeen wat dit hoor, moet sê: "Kom!" En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openbaring 22:17)

Vir die wat die uitnodiging aanvaar is daar eendag plek in die Nuwe Jerusalem, maar nou ook reeds plek aan die Nagmaalstafel. Die Nagmaalstafel is nie die plek vir goeie mense nie, maar vir dorstiges m.a.w. diegene wat hulle nood en behoefte aan Jesus besef! En Jesus stel niemand teleur nie, want die bloed van Jesus reinig ons van alle sonde!***

*Sien Efesiërs 1:3-14, 2:8-10

**In die Naam van die Here doen ek ‘n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks,

hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard.

Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ‘n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen.

Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie.

Julle het tog van Hom gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is.

Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word.

Julle gees en gedagtes moet nuut word;

lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. (Efesiers 4:17-24)

***Natuurlik is Weinstein en dergelikes se optrede laakbaar, barbaars en afkeurenswaardig, maar al hierdie aktrises wat nou so kla is uiters naïef. Hulle onkunde is tiperend van die heidendom. Wat verwag hulle van ‘n bedryf wat losbandigheid, wellus en geweld as vermaak aanbied? ‘n Mens kan nie vuur in jou klere dra en dink jy gaan nooit brand nie!

**** 1 Johannes 1:7


Dinsdag 21 Augustus 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (14)

- die bruilofsmaal van die Lam.

Die Bybel maak dikwels gebruik van die huweliks en bruilofmetafoor om iets van die heerlikheid van die verhouding tussen God en sy verlosde mense te beskryf.
Die huwelik word alreeds in die Ou Testament  gebruik om die verbintenis tussen God en sy volk te beskryf. Kyk na Esegiël 16:8! (Aangrypend : ’n weggooikind word uiteindelik ’n koningin bruid!) Sien ook Hosea 2:18,19! In die Nuwe Testament  word dit nog duideliker gestel as Paulus die verhouding tussen man en vrou direk van toepassing maak op die verhouding tussen Jesus en sy kerk. (Ef 5:31,32)

Jesus self gebruik ook die feesmaal (al is dit nie eksplisiet ’n bruilofsmaal nie) as ’n tema om die feesviering in die Koninkryk aan te dui. (Matt 9:14, 15; 22:1-14, 25:1-13) Hier lê die klem op die gaste, wat uitgenooi en begenadig is om te mag deelneem.
Die beeld van die maaltyd en die huwelik word dus  gevarieerd in die Skrif gebruik en in elke situasie is daar ’n verskillende klem. Dis wel duidelik dat God se mense (die kerk van Jesus ) beide bruid en gaste aan die bruilofsmaal is!* Een beeld is nie genoeg en voldoende om die heerlikheid te beskryf waarin God se kinders gaan deel nie! Die bruid self is ook nie ’n enkelvoudige beeld nie! 

Hier in Openbaring  21:9,10 kry ons ‘n verrassing. Johannes hoor: “Ek wys jou die bruid...” en dan sien hy ’n stad!

Die nuwe Jerusalem is hier duidelik nie ’n letterlike stad nie, maar ’n personifikasie van die kerk, die bruid van Jesus, die Lam. (Hier sien ons vir die soveelste keer in Openbaring hoe Johannes drastiese gedagtespronge maak om ‘n boodskap deur simbole oor te dra. Hy verf as’t ware sulke lang hale met sy kwas om die heerlike boodskap met sy skildery uit te beeld. Hierdie boodskap wat so onbeskryflik groot en wonderbaarlik is dat gewone taal dit moeilik kan oordra.) 

Die nuwe Jerusalem, die ewige stad van God  is nie ’n stad van bakstene en geboue nie, maar wel begenadigde mense! 

God woon by sy mense! Vgl Openbaring 21:3.  Dis belangrik om raak te sien : Die bruid, Jerusalem is in skrille kontras met die prostituut, Babilon! Twee simboliese stede wat reëlreguit teenoor mekaar en vir radikaal opponerende waardes staan. Babilon versinnebeeld ‘n onrein HOER en Jerusalem ‘n heilige BRUID! Babilon is die simbool van verset en verleiding, Jerusalem, die verlosde vrou van die Lam!
Vergelyk die volgende gedeeltes in Openbaring met mekaar: 18:5 en 21:2 (sonde teenoor heiligheid); 17:1 en 21:9 (sedelose vrou teenoor bruid van die Lam);  17:4 en 21:27 (sedeloos teenoor niks onreins); 18:23 en  21:23,25 (geen lig teenoor God wat die Lig is in Jerusalem); 17:6 en 21:4 (Stad van die dood teenoor geen dood) ens.

Nogmaals 12

In die beskrywing van die stad kry ons telkens  weer die simboliese getal 12 (en veelvoude daarvan) wat ons reeds by die 144000 as simbolies die volle getal van die kerk teengekom het! Lees Openbaring 21:12-21 (12 poorte, 12 engele, 12 fondamente, 12 name, 12 000 km, 144m ens.)  Dit sê so duidelik : die bruid van die Lam is volledig, nie een uitverkorene sal kort nie! 

Kubus

Opvallend, die nuwe Jerusalem is ’n kubus! Vers 16!  (Weereens is hier nie sprake van letterlike afmetings van ’n letterlike stad nie! ‘n Stad met sulkie fisiese proporsies, sou maar ‘n ongemaklike plek gewees het) Waarom dan die kubusvorm?  Dit gaan oor die volmaakte teenwoordigheid van God soos in die kubusvormige binneste heiligdom - vgl. die heiligdom van Salomo se tempel in 1 Konings 6:20! Ook kubusvormig!**  God is volmaak alomteenwoordig by sy mense! Daar is niks meer wat skeiding en vrees kan veroorsaak nie. Deur Jesus se bloed (sy genoegsame offer) is ons nou in sy binneste heiligdom! Die finale heerlike gevolg van die voorhangsel wat geskeur het!

Edelstene en goud

Die edelstene se agtergrond kom  waarskynlik uit Eksodus se voorskrifte met betrekking tot die Hoëpriester se klere - (8) Edelstene was deel van die borssak van die priester, wat simbool was van die hele Israel wat deur die hoëpriester verteenwoordig is. (Moenie te detail vra vrae en in tegniese besonderhede vasval nie - sien die groot prentjie raak!)
Pêrels was in die antieke wêreld die kosbaarste juweel! God ag sy volk baie kosbaar! Die strate  van goud weerkaats God se heerlikheid! Ja, die heerlikheid van God sal sigbaar wees in Sy verlosdes! (Dis iets wat nou reeds merkbaar is in die heiliges op aarde ten spyte van soveel gebrokenheid!)

Maar geen tempel nie!

Verder vind ons hier ‘n heerlike lyn van Eden via die tempel tot by Jesus die ware tempel van God tot by die Voleinding!!  (Vers 22) Die tempel (eers die tabernakel) was altyd die fokusput van God se plek, waar Hy besonder teenwoordig is en waar sy heerlikheid beleef word. Die funksie van die aardse tempel in Palestina is vir altyd verby, want ons sien en beleef die heerlikheid van God nou in Jesus. (Johannes 1:14 - letterlik - Jesus het by ons "getabernakel, tent opgeslaan") Ons deel in Jesus en vorm so saam met Hom die ware tempel, die sentrum van die  stad die woonplek van God.  ‘n Fisieke tempel is nou nie meer nodig nie! Gereinig deur Jesus se offer gaan ons by God wees en sy volle heerlikheid vir ewig beleef! Voor die sondeval het Adam en Eva God se teenwoordigheid in Eden beleef, dis nou weer herstel, maar dis baie beter en blywend!

Openbaring gebruik komplekse beelde vanuit verskillende hoeke om vir ons die onbeskryflike heerlikhede (bo ons verstand en taalvermoë) wat wag vir God se kinders te beskryf. Die bruid as die nuwe Jerusalem beteken dat die volle getal van God se kinders ’n ewige volmaakte saamwees met God en die Lam sal beleef!

Kan daar iets heerliker wees om na uit te sien?


* Goldsworthy
** Du Rand