BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 30 Januarie 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (3)

- Vreesloos Volhard in Verdrukking!

Verdrukking en Volharding is deurlopende temas in Openbaring. Dit word al reg aan die begin deur Johannes aangeroer. (1:9)

"Ek, Johannes, is julle medegelowige, en deur ons verbondenheid met Jesus het ek saam met julle deel aan die verdrukking en aan die koninkryk en aan die volharding."

As ons dit raaksien sal ons dadelik besef, Openbaring leer nie daar is iets soos ’n bepaalde tyd van groot verdrukking, iewers eendag nie... watter troos sou dit inhou vir die eerste lesers van Openbaring wat reeds die ergste denkbaarste verdrukking aan hulle eie lyf gevoel het? (Onthou in die eerste eeu is mense vir die leeus gegooi, as lewende fakkels gebruik, en op allerhande maniere verdruk. Kan daar erger verdrukking wees as dit?) ’n Bewys dat gemeentelede van die kerke aan wie die briewe geskryf is, selfs met hulle lewens moes betaal vir hulle Christenskap kry ons in Openb 2:13 (Antipas - die getroue getuie) Dit lyk dat daar so ’n noue verband tussen getuie wees en vervolging was, dat die woord vir getuie "martus" later die woord vir martelaar geword het.

Troos in verdrukking. Openbaring is ’n troosboek en bemoediging vir Christene in verdrukking - hou dit in die agterkop as jy by die betekenis van sekere gedeeltes wil uitkom! Ons interpretasie moet inpas by die groot tema van troos en aanmoediging.

Ons moet verstaan dat verdrukking ’n inherente deel was van die alledaagse bestaan van die Christen in die eerste twee eeue. Dis baie duidelik uit die res van die Nuwe Testament. Kyk maar na Jesus se eie woorde in Matteus 5:10,11, Lukas 6:20-26, Johannes 16:33. Kyk ook na Handelinge 14:22 ; 2 Timoteus 3:12 en die hele 1 Petrus brief!

VERDRUKKING IS ‘N HUIDIGE WERKLIKHEID VIR ELKE KIND VAN GOD! DIS ONLOSMAAKLIK VERBIND AAN EGTE CHRISTENSKAP!

Die paradoks van die Lam (lyding) en Leeu (oorwinning) in Jesus word ook gevind in die volgelinge van Jesus! (sien die vorige studie)
Johannes dring nie by sy lesers aan om verdrukking te probeer vryspring nie (nêrens nie), maar moedig hulle aan om te volhard en so die finale seën en heerlikheid te ontvang. Byv. Openb 2:8-11 (Lees) Daar word ook nêrens in  Openbaring daarop gesinspeel  dat sommige Christene die verdrukking sal kan ontvlug deur ’n sogenaamde wegraping nie!

Die gedagte van ’n WEGRAPING kry ons nie in Openbaring nie!

 

Waarom ly ’n kind van God? Antwoord : Hy is nou deel van die Koninkryk van God, wat ander norme en waardes het as die koninkryk van Satan! Hy pas nie meer in hierdie bedeling nie! Bekering neem ons nie weg uit die wêreld nie, maar plaas ons in ’n staat van konflik met die wêreld! Die Christen se lyding is in 'n sin 'n voortsetting van Christus se lyding in hierdie wêreld! Soos Christus verwerp is word ons ook verwerp en uitgestoot.

Die Christen bevind homself in ’n oorgangsfase en ’n paradoks : Kind van God, maar nog steeds ’n sondaar! ’n Erfgenaam van die nuwe bedeling, maar nog steeds ’n inwoner van die huidige bedeling. Hy besit die ewige lewe, maar is nou nog steeds onderworpe aan siekte en dood tot Jesus kom!

Die ALREEDS en die NOG NIE! Kinders van God is alreeds burgers van ’n nuwe Koninkryk, alreeds volkome vrygespreek, maar nog nie in heerlikheid nie, nog nie volmaak en sonder sonde en stryd en verdrukking nie.

Die oorwinning van Christus is ’n werklikheid, want Hy het die wêreld oorwin. Maar totdat Hy kom sal ons verdrukking hê!

Kyk weer na 1:9. Kinders van God is dus mense wat saam met Johannes, omdat ons aan Jesus behoort, deel het aan die verdrukking, deel het aan die Koninkryk en daarom sal en moet volhard. Om die kinders van God hierin aan te moedig , beskryf Johannes die Visioen van die Verheerlikte Oorwinnaar Christus in Openbaring 1:10-20 (Lees en sien dit!....kyk en kyk..) Glo en wees getroos!

Die oorwegende indruk wat ons uit hierdie beskrywing van Christus kry is die van Almagtige Majesteit, Koninklike Heerskappy en Mag! Die groot boodskap wat elke verdrukte kind van God moet hoor is : Moenie bang wees nie! (Vers 17)

Hoekom nie? Die verdrukte Christene moet weet, selfs al word hulle doodgemaak, is Jesus die Een wat alle sê en mag het oor lewe en dood!

Jesus ons Verlosser het alle mag, daarom kan ons Vreesloos Volhard in Verdrukking!














Saterdag 28 Januarie 2012

LOTTO ADVIES

NUUS24 berig :
Kaapstad – Die lotto-boerpot is die naweek R25 miljoen rand met meer as 380 mense wat sedert 2007 miljoenêrs deur die lotery geword het.
Die operateur Gidani sê Januarie is tradisioneel die maand van groot skuld ná die somervakansie en daarom is dit die ideale manier waarop lotto-spelers hul nuwe jaar kan begin.
Die kompetisie het ook ses miljard rand aan welsynsprojekte uitbetaal.
Die aankondiging van die R25 miljoen rand prysgeld, kom te midde van betogers wat 'n optog na die Nasionale Lotery-raad in Arcadia in Pretoria gehou het.
Hulle het betoog teen die manier waarop die lotery-raad geld aan begunstigdes verdeel en sê daar is geen deursigtigheid nie.


Hierdie nuusberig met die belaglike en oneerlike redenasie van Gidani, dwing my as Christen om te reageer :


DIE GOGGA HET GEBYT

Dobbelary het vir baie mense ‘n aanvaarbare saak geword. Dis nie net LOTTO speel wat ‘n gewoonte geword het nie, maar die dobbelgod word selfs in sommige kerke aangewend om geld in te samel in die vorm van gelukstrekkings en “raffles".

As jy ‘n Christen is, vertrou ek dat jy geensins by dobbelary betrokke is nie, maar ek wil jou tog vra om verder te lees, want ons moet ons kan verantwoord teenoor die gees van die tyd.

Aan die anderkant moet ons besef dat onsself ook in hierdie opsig versoek kan word en moet ons weet hoe om die waarheid van die Woord as wapen teen hierdie aanslag te gebruik. Hoe maklik kan mens in jou gedagtes begin rondspeel met die wens om vinnig ‘n miljoen of twee te maak en so ‘n slagoffer word van Satan se misleiding en jouself met baie smart deurboor!

WAAROM SO STIL?

Die kerk oor die algemeen is baie stil oor die euwel van dobbel (insluitend die LOTTO), en praat maar huiwerig daaroor.

Een rede hiervoor is moontlik dat daar nie ‘n spesifieke teks is wat sê : "Jy mag nie dobbel nie", maar onthou, daar is ook nie spesifieke tekste teen dagga rook, gom snuif of duisende ander euwels nie. God behandel ons as volwasse denkende kinders en gee in Sy Woord duidelike beginsels waarvolgens ons alle sake in hierdie lewe kan beoordeel, ook iets soos die LOTTO. Die Bybel is tog nie ‘n ensiklopedie waarin alle variasies van sondes gelys word nie.

‘n Ander rede vir die kerk se swye is die omvang van betrokkenheid van lidmate by die euwel van dobbel. Ongelukkig het die kerk in baie gevalle bang geword om profeties teen die sondes van die tyd op te tree uit vrees vir ongewildheid...

WAT IS DOBBEL?

As ons hierdie vraag beantwoord, moet ons waak teen hare kloof, maar John MacArthur se definisie kan as riglyn dien : Dobbel is een of ander speletjie of aktiwiteit waarin ‘n persoon geld of iets waardevols waag op die kragte van toeval of kans buite sy beheer of enige rasionele verwagting, in die hoop om iets van groter waarde te wen.

REGTIG VERKEERD?

Kom ons kyk net na twee argumente wat gebruik word om die LOTTO of ander dobbelvorme goed te praat:

Mense voer aan: "Dit gaan vir ‘n goeie saak, ‘n gedeelte van die geld gaan mos na welsynsorganisasies (of na die kerk)." Nou, dis ‘n baie oneerlike en onlogiese argument. Oneerlik, want as dit die hoofdoel was waarom jy deelneem, waarom nie direk geld gee vir behoeftiges, verdienstelike organisasies of jou gemeente nie? Onlogies, want as jy dit via die LOTTO te doen, kom daar maar ‘n baie klein deeltjie van jou kaartjiegeld by die kamstige goeie doel uit. Vir elke Christen behoort dit baie duidelik te wees dat dit ‘n onbybelse manier van gee is. Die Bybelse manier is juis om te gee sonder om iets terug te verwag.

Sommige wil dobbel Bybels regverdig vanuit die gebruik om die lot te werp wat ons in die Skrif teëkom. Die Bybelse manier van die lot werp was ‘n manier waarop God Sy wil bekend gemaak het. Dit is in gewigtige gevalle aangewend en was ‘n erkenning van God se beslissingsmag. Die laaste keer in die Skrif waar ons van die praktyk lees, was in die aanwysing van Mattias in die plek van Judas as apostel (Hand 1:26). Daar is dit ‘n aanduiding van Jesus se direkte betrokkenheid as Here van die kerk by hierdie uiters belangrike saak. Na die koms van die Heilige Gees lees ons nie weer van die lot werp nie, want dis nou ook nie meer nodig nie : die Heilige Gees lei nou die kerk deur die Woord (byvoorbeeld in die geval van die verkiesing van die sewe diakens in Hand 6). Om die werp van die lot wat ‘n soeke na die heilige wil van God (in 'n vorige bedeling) was, as ekskuus of regverdiging vir dobbel te gebruik waar dit oor die gierigheid van die mens gaan, maak tog duidelik nie sin nie. Dis ‘n tipiese voorbeeld van hoe die sondige mens selfs God se Woord wil verdraai om by sy eie sondige begeertes te pas.

WAT SÊ DIE BYBEL?

‘n Paar Bybelse beginsels wat lig werp op die kwessie van dobbel :

Dobbelary ontken die soewereiniteit van God deurdat dit ‘n bevestiging is van die sondige mens se geloof in kans, geluk, toeval, noodlot. Geluk of toeval in die sin van ‘luck’ is ‘n anti-Goddelike idee. Daar bestaan nie so iets nie. Begrippe soos ‘luck’ en toeval is versinsels van die sondige mens wat God se almagtige en soewereine bestuur en onderhouding van Sy skepping ontken. Daar is ‘n interessante vers in Jesaja 65:11,12 wat vir ons insig gee oor die kwessie van kans, toeval en geluk : ‘Maar julle wat die HERE verlaat, wat my heilige berg vergeet, wat ‘n tafel dek vir die geluksgod en die mengsel inskink vir die godin van die noodlot…’ Die NAV vertaal dit as eiename omdat dit waarskynlik letterlik Kanaänietiese gode was (Gad, god van ‘geluk’ en Meni, god van ‘lotsbeslissing’). Die assosiasie van hierdie begrippe (geluk, kans, noodlot) met die afgode is duidelik. Om jou toekoms, jou bestaan, jou vreugde en sekuritiet, voorspoed in kans, toeval, enigiets anders as die lewende God te soek, is afgodery. As ek glo in God wat God is, kan en mag ek nie my hoop op toeval of kans plaas nie. Dis presies wat die dobbelaar doen. Dit beteken die ontkenning van God, dit kom neer op afgodery.

Dobbelary word gebou op die sonde van materialisme, gierigheid en onvergenoegdheid. Dié wat sê die lotto gaan maar net oor 'n speletjie, lieg.
Dit gaan oor geldgierigheid.
Dit tokkel op die mens se materialistiese snaar.
Die appél van dobbel lê juis daarin dat jy gou en maklik ryk kan word. Die dobbelgier is niks anders as ‘n liefde vir geld nie – en dit is die wortel van alle kwaad (1Tim 6:10) Onthou Jesus self het mense gewaarsku teen gierigheid. (Lukas 12:15). Dobbel is dikwels ook ‘n simptoom van die mens se onvergenoegdheid; ek is ontevrede met dit wat God my gee. Dobbelary kom neer op die oortreding van die tiende gebod. Dis ‘n vorm van wêreldliefde, ‘die gesteldheid op besit’ (1Johannes 2:15-17).

Dobbelary is ‘n kwessie van swak rentmeesterskap. Dit kom neer op ‘n onverantwoordelike omgang met die besittings waaroor God ons aangestel het om tot Sy eer te bestuur. Die Christen mag nooit sê: "Dis my geld, ek kan mos maak daarmee wat ek wil nie." Alles wat ons het, het ons van God ontvang. Die R10,00 wat jy mors op LOTTO kaatjies, is God se R10,00 en jy sal verantwoording moet doen vir jou gebruik daarvan!

Dobbelary is gebou op die uitbuiting van andere wat niks anders is as diefstal nie. Dit kom neer (as jy dalk ‘n wenner is) op die verkryging van eiendom ten koste van ander mense. Dis veral die ongedissiplineerdes, armes en liggelowiges wat uitgebuit word. ‘n Deel van jou prysgeld bestaan dalk uit die laaste broodgeld van iemand wat te dom was om verstandig te werk met sy inkomste. Deur die LOTTO te wen, steel jy van die verloorders.

Die propagering van dobbelary is gebou op misleiding. (Kyk nou maar weer net na Gidani se onsinnige redenasie hierbo) Die advertensies gee valse hoop aan mense. Al die fokus is op die enkele wenners; daar word geswyg oor die miljoene verloorders wat hulleself week na week verder verarm. Die hele bedryf word gedryf deur die subtiele propagering van ‘n leuen. Dis ‘n wêreld van illusies en lugspieëlings. Dis alles fantasie. Dis ‘die najaag van nietighede’ (Spreuke 12:11). Om die LOTTO te speel is ‘n stuk dwaasheid! STUPID!

Dobbelary ondermyn die Godgegewe opdrag dat die mens moet werk. Arbeid word positief in die Skrif beoordeel. Kyk na Efesiërs 4:28 en 2 Tessalonisense 3:10. God het aan ons die opdrag gegee om die aarde te bewoon en dit te bewerk. Hy het ons so gemaak dat ons ons rede en vermoëns daarvoor moet aanwend. Dis die hoof manier (dis natuurlik ook heeltemal in orde om iets te erf, as geskenk te ontvang, ens) wat Hy bepaal het waardeur Hy in ons behoeftes voorsien en ons die goedheid van die lewe wil laat geniet.


Dobbelary is verslawend en daarom ongewens vir die Christen. Nou sal iemand sê : "Is ek nie as Christen vry om maar met my geld te maak wat ek wil nie?" Hierdie slagspreuk van ‘ek kan maak wat ek wil, alles is geoorloof’ was waarskynlik ook in die gemeente van Korinte aan die orde van die dag. Paulus eggo dit in sy brief (1 Korintiërs  6:12) en sluit daarby aan en gaan dan voort : ‘… nie alles is nuttig nie’ (Vriend, daar is geen positiewe nut in die LOTTO vir ‘n Christen nie, waarom wil jy betrokke wees by so iets?), ‘… maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie’.

Die verslawende mag van dobbel is alom bekend. Dis enige tyd net so sterk as alkohol en nikotien!

 Dit opsigself moet al die rooi ligte laat flikker. Dink jy jy is daarbo verhewe? Die wat staan, moet pasop dat hulle nie val nie.

PLAASVERVANGERS

In Jeremia 2:13 lees ons : ‘Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen : My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.’

Natuurlik gaan dit nie hier oor dobbel as sodanig nie. Maar dieselfde beginsels is ter sprake. Omdat mense God verlaat het, soek hulle na plaasvervangers wat sekuriteit en vreugde moet verskaf. Een van hierdie plaasvervangers in ons dag is dobbelary. ‘n Plaasvervanger wat uiteindelik sal teleurstel!

Dobbelary is meer as 'n oppervlakkige sonde, dis heel dikwels 'n simptoom van die dieper probleem, naamlik 'n gebroke verhouding met God.

Dobbelary is ‘n kenmerk van ‘n wêreld wat oorheers word deur postmoderne pessimisme wat redeneer : ‘Daar is geen orde, rede en sin nie, jy moet maar net blindelings hoop vir die beste.’ Dobbelary word geassosieer met die hopeloosheid van ‘n bestaan sonder God, die gevolg van ateïsme wat sê : ‘Daar is geen God nie, geen hoop nie, geen toekoms nie - alles is maar kans en noodlot, kyk maar wat kan die lewe jou bied.’ Dobbelary is maar net nog ‘n aksie van die materialistiese mens, wat net vir himself en net vir die hier en die nou leef.

Geen vorm van dobbel pas dus by die burgers van God se koninkryk nie. Vir mense wat hulle vreugde vind in die soewereine bestuur en versorging van hulle Vader, is dit iets dwaas. Meer nog, dis ‘n sonde wat vermy moet word! Ook wat die dobbelgier betref, moet ons nie aan hierdie wêreld gelykvormig word nie, maar soek wat God se volmaakte wil vir ons is (Romeine 12:1-2).

Ons grootste wapen teen die dobbel-versoeking is om ons positief te verlustig in ons geestelike en hemelse rykdom. As ons oë oopgaan vir die skatte waarmee God ons in Jesus geseën het, soos vergifnis, kindskap, Goddelike Vaderversorging, ‘n ewige erfenis sal die LOTTO se (skyn)miljoene maar vaal lyk en sleg afsteek. Anders gesê, die rede waarom jy dalk nog dobbel is miskien omdat jy nog nooit die rykdom in Jesus raakgesien het en daaraan deel gekry het nie.

 
(hoofsaaklik gebaseer op ʼn preek van John MacArthur)

Vrydag 27 Januarie 2012

GODDELIKE OORWINNING OP MUGABE SE BERG

“Waarom maak jou God jou siek?” Kaptein Mugabe (dis nou nie die Robert van vandag nie) het hierdie vraag aan die ernstige siek sendeling, ds. A.A. Louw gevra. Wat ’n ongemaklike vraag, veral as ’n heiden van jou hierop ’n antwoord verwag! Kom ons gaan haal die storie by sy begin.

Andries Adriaan (Andrew) Louw was ’n afstammeling uit die bekende Murray familie en gaan in 1883 na Stellenbosch om vir predikant te studeer. In sy derde jaar moes hy egter die verpletterende nuus verneem dat sy linkerlong aangetas is en dat hy nie nog ’n winter in die nat Boland sou kon deurbring nie. Hy moes maar sy boeke bêre en het op die plaas “Eenzaamheid” in die distrik Colesberg in die Karoo gaan werk. Later koop hy ’n buurplaas, “Achtertang” en begin met skape boer. Sy begeerte om in die sendingveld vir die Here te gaan werk, het egter nie verdwyn nie. Later sou hyself verklaar : “Achtertang het vir my ’n kweekskool vir die sendingveld geword.” Op ’n keer hoor hy ’n preek van ds. Helm wat die sendingsaak in Banjailand (tans deel van Zimbabwe) bepleit. Die teks van sy prediking was Jesaja 59:16 : “En Hy het gesien dat daar niemand was nie, en Hom verbaas dat niemand tussenbeide tree nie.” Vir Andrew word dit onder die preek duidelik dat hy homself moet beskikbaar stel vir die Here se werk in die noorde.

Sy vader, soos mens kan verstaan, was nie baie positief oor hierdie voorneme nie. “Ek kan nie glo dat die Here sal wil dat jy op koste van die kerk na die geweste moet gaan om daar na ’n kort verblyf te sterf en begrawe te word nie”, was sy kommentaar. Andrew gaan toe vir ’n doktersondersoek na Stellenbosch. Die uitslag? Hy was gesond! Dit in ’n tyd toe tering as ongeneeslik beskou is. Hy slaag die eksamen vir godsdiensonderwyser en word dus aanvanklik in hierdie hoedanigheid uitgestuur.

Na ’n baie lang reis van vier maande het Andrew Louw op 9 September 1891 sy tent opgeslaan op die berg van Mugabe, naby die Zimbabwe ruïnes, waar die sendingstasie Morgenster sou verrys. Maar nou bevind Andrew hom weereens in ’n gesondheidskrisis as die malaria hom beetpak. Die vraag kom by hom op : “Het die Here my so ver laat kom om hier te sterwe?” Terwyl hy so hulpeloos in sy tentjie lê, ontvang hy besoek van kaptein Mugabe wat hom vra : “Waarom maak jou God jou siek? Laat ons die toordokter raadpleeg om uit te vind waarmee ons Hom tevrede kan stel. As Hy beeste eis, sal ek help betaal.” Wat ’n stryd moes hierdie woorde nie in die jong sendeling se gemoed ontketen het nie! God se eer was op die spel. Hy kon maar net bid en die Here het Hom inderdaad verhoor sodat hy kon getuig : “nie lank daarna nie het Mugabe my gesond aangetref. Die Here het my sonder ’n offer van beeste opgerig.”

Dis ’n wonderlike voorbeeld van Goddelike genesing tot God se eer!


Ook in ’n ander opsig sou Andrew, God se sorg beleef. Hy was reeds 29 jaar oud en sonder vooruitsig vir ’n lewensmaat daar in die verre eensaamheid. Dit is ook ’n saak wat hy voor die Here bring en God voorsien op ’n wonderlike wyse in die persoon van Cinie Malan van Riebeeck-Wes. (Suster van die latere Eerste Minister, dr. D.F. Malan) Sy pas wonderlik in by die bediening en lewer ’n groot bydra onder andere op taalkundige gebied.

Ds. A.A. Louw het uiteindelik die baanbreker sendeling in hierdie gebied geword. Op 16 September 1896, vyf jaar na die aanvang van die werk, kon die eerste bekeerlinge gedoop word. Andrew wy sy hele lewe lank aan die taak van die verkondiging van die evangelie. Dis merkwaardig dat hierdie sieklike sendeling so deur God begenadig word dat hy op die baie ryp ouderdom van 94 jaar op Morgenstersendingstasie sterf! Hy het diep spore getrap. Baie Engelssprekendes in die land het van hom as “Saint Andrew” gepraat en een van die Vakaranga se byname vir hom was “Mudavanhu” (die een wat mense liefhet)

Andrew Louw se lewe is ’n getuienis hoe dat God sy kinders soms deur diep teleurstellings en vertragings lei om Sy heerlike doelwitte te bereik! Mag dit elkeen van God se kinders wat nou deur ’n tydperk van teleurstelling en swaarkry gaan, bemoedig!

(Bron : J.M. Cronje, AAN GOD DIE DANK)




Donderdag 26 Januarie 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (2)

- Ontdek die Sleutel (JESUS) en begin verstaan!

Lees eers Openbaring 5:1-10. Hou jou Bybel oop.

Hoe moet ons Openbaring verstaan? Party mense dink ons moet van die koerant of TV nuus na Openbaring spring! Dis ’n gevaarlike metode, want die nuus verander mos gedurig. En buitendien, Openbaring se eerste lesers het nie ons koerante gehad as hulpmiddel nie! Openbaring is eerstens vir hulle in hulle situasie geskryf.

Pasop dus om nuusgebeure in te druk en Openbaring daarvolgens aan te pas. Vra eerder wat kry ons in die boek self as die kern/sleutel? Waarom draai Openbaring? Eintlik is die gepaste vraag : “Om WIE draai Openbaring?” Dit word vir ons baie duidelik in die gelese gedeelte gestel

Die boekrol in God se regterhand (vers 2) bevat God se doelwitte met sy ganse skepping en die ontknoping en sin van die geskiedenis! Wie kan dit verstaan en ontsluit? Die antwoord kry ons in vers 5 (Lees) Die Leeu van Juda! Jesus die Oorwinnaar Koning uit die geslag van Dawid.

Kyk hierdie dramatiese effek! (sien die skildery!) Johannes hoor : “Kyk die Leeu uit die stam van Juda!”, en toe hy kyk? Toe sien Hy ’n Lam! Hy verwag ’n leeu en sien ’n lam. Wat ’n kontras! Hier sien ons die sentrale paradoks van die evangelie!

Die Leeu neem die swakheid van ’n Lam aan en sterf, maar behaal juis so die oorwinning!

Goddelike oorwinning is iets ander as menslike oorwinning. God maak Homself swak, die kruis lyk na ’n mislukking, maar juis deur die kruis word die oorwinning oor Satan behaal. Net die Lam is waardig om die boek oop te maak. Wat sê Johannes hierdeur? Jesus, as Lam met ander woorde deur sy sterwe en opstanding is die sentrale tema van die oorwinning in Openbaring en is die sleutel tot die verstaan van die wêreld geskiedenis en voleinding! Die groot tema in Openbaring is nie die antichris of een of ander oorlog nie! Openbaring is net soos al die ander boeke van die Bybel ’n uitleg van die evangelie gebeure wat sentreer in Jesus!

Wat is die evangelie nou weer? Kyk na 1 Kor 15:1-4) Die evangelie is dit wat Jesus gedoen het (afgehandel het) vir en namens ons! Hierdie oorwinningsgebeure waarin Jesus die sentrale rol speel is goeie nuus - evangelie! Dit het nie net implikasies vir ons persoonlike saligheid nie, maar vir die hele kosmos, die ganse heelal!

Dit wat God deur Jesus bereik het, is die einddoel van al God se planne soos dit in die Ou Testament en Nuwe Testament uitdrukking vind! Dis wat dit beteken as ons lees dat Jesus die Alfa en Omega is. Die totale sin van die geskiedenis en die doelwitte van God draai rondom Jesus! Ons kan dit as volg opsom (sien Godswothy p172ev)

1. Jesus is die betekenis en sin van die SKEPPING
God skep deur Jesus, maar alles word ook vir Hom, met die oog op Hom geskep. Bestudeer Johannes 1:1-2 en Kolossense 1:15-20. God bring die uiteindelike doel van die skepping na vore deur die sterwe en opstanding van Jesus ! Sy verlossingswerk gaan oor meer as net persoonlike saligheid. Dit raak die heelal.

2. Jesus is die betekenis en sin van die Ou Testamentiese VERBONDE EN WETTE
Al die wette en verbonde was ’n tydelike aanloop tot die Nuwe Verbond. Jesus self is die inhoud van die Nuwe Verbond. Vergelyk bietjie Eksodus 19:4-6 met Openbaring 5:10. ( “ ’n koninkryk en priesters vir God”) Jesus doen dit finaal wat reeds tydens die Uittog, God se doel was! Jesus het ook die wet vervul en is daarom die volmaakte verbondsvennoot. Net Hy het die verbondsvereistes volmaak nagekom! (natuurlik vir en namens ons) Jesus is die een ware Israeliet, die ware mens (Adam) Dit word bevestig deur die stem uit die hemel : “Dit is my Geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek my.” Die betekenis van die besnydenis, Sabbat, offers, tempel... vind vervulling in Jesus. Anders gesê al hierdie dinge verduidelik eintlik vir ons ’n aspek van Christus se persoon en werk. (By ’n ander geleentheid sal ons meer presies kyk na hoe Christus die Sabbat en tempel vervul het)

3. Jesus is die betekenis en sin van die al die PROFESIEË. (Hand 13:32-33) Dit gaan nie net daaroor dat sekere vooruitseggings van die profete in Jesus vervulling gevind het nie, maar alles wat die profete gesê het in Christus volle betekenis gekry het. (Matt 5:17) Die profesieë en wette van die Ou Testament is soos ’n bloeisel wat tot vervulling kom in Jesus as die vrug!

4. Jesus is die betekenis en sin van die die CHRISTEN SE BESTAAN EN LEWE.
Christen wees is om “in Christus” te wees. Christus is ons lewe! (Kol 3:4) Alles wat Christus is en gedoen het, is Hy VIR ONS en NAMENS ONS. Hy is die sondelose Seun VIR ONS! In hom staan ons sondeloos en skuldloos voor God! In Hom is ek dus ook God se Geliefde kind in wie Hy Hom verheug! Hy is die Getroue Verbondsvennoot, die Geliefde, die Regverdige, die Heilige, die Volmaakte Aanbidder...VIR ONS!

5. Jesus self is die betekenis en sin van die WEDERKOMS.
Dit gaan oor die finale verskyning van Jesus in heerlikheid. Die klem val nie op interessante verskynsels en tekens nie, maar op JESUS! Is Jesus vir jou opwindend en interessant? Het jy ’n begeerte om Hom te aanskou en maak hierdie begeerte ’n verskil aan jou leefstyl? (Terloops, hoeveel mense wat so slim klink oor al die interpretasie van tekens en verskynsels is regtig opgewonde oor Jesus as Here en Verlosser?)


Dis die troosboodskap van Openbaring : Jesus, Jesus as die Alfa en Omega, Jesus die OORWINNAAR! Dis die heerlike boodskap wat die verdrukte Christene van destyds (en ons) moet hoor! Die volle heerlikheid van die Leeu, die oorwinnaar, die almagtige regeerder is op hierdie oomblik nog versluier. Maar ons moet dit in die geloof aanvaar en ons daaroor verbly!


(Literatuur : Graeme Goldsworthy, THE GOSPEL IN REVELATION)

Gaan voort met die Openbaring Reeks. Kliek op MAAK OOP BY OPENBARING (3)

Woensdag 25 Januarie 2012

GENADE OM GESAG TE AANVAAR

Het jy al gehoor (of self gesê)?

“Wie is hy om my te vertel wat ek moet doen? Ek maak soos ek wil! Wie is ’n onderwyser om met my te raas? Ek gee nie om wat my Pa en Ma sê nie, ek wil dit so en net so hê! Wat gee ek om wat die kerkraad besluit! Ek steur my aan geen wet of regering nie! (Ek sal daardie koedoe langs die pad skiet en wie gaan my keer?) Watter verskil maak ’n papier wat die regering my gee om te sê ek is getroud... ek besluit sommer self ek is getroud! ... As hulle nie maak soos ek wil hê nie, gaan ek nie meer help met hierdie projek of reëlings nie... Ek wil nie meer saamspeel nie (want julle wil nie maak soos ek sê nie)...” Klink dit bekend? Alles voorbeelde van opstand teen gesag!


Een van die duidelikste kenmerke van die onbekeerde sondaar is sy opstand teen alle gesag. Vanaf die sondeval is ons almal van nature rebelle. Nou dis ’n baie ernstige saak.

Opstand teen gesag is opstand teen God, want God is die oorsprong van alle gesag.

Dis baie duidelik uit ’n gedeelte soos Romeine 13:1,2. (Lees) Die kind wat teen sy ouers in opstand is, is in opstand teen God self! Die vrou wat nie haar man se gesag wil aanvaar nie, is in opstand teen God. Die man wat nie landswette wil gehoorsaam nie, is eintlik in opstand teen God!

Die verwerping van gesag is in 'n sin die oorsprong van alle sonde : Satan was eers ’n engel, maar hy het hoogmoedig geword en wou hom nie meer aan God se gesag onderwerp nie! Adam en Eva se sonde het begin toe hulle God se gesag oor hulle bevraagteken het en beslut het om teen sy bevele in te gaan. So, die mens se verlorenheid is 'n gevolg van die verwerping van gesag. Die redding van die mens, beteken eintlik dan dat God se gesag oor die mens herstel word. Beter gesê, dat die sondaar God se gesag weer aanvaar. Weer buig voor God! Die Satan en die sondaar mens het in opstand gekom teen die koninklike gesag van God. Die mens luister nou na die duiwel in plaas van God. Jesus het juis gekom om alle valse magte en gesag te vernietig. Dit is baie duidelik in 1 Korintiërs 15:23,24 en 28! (Lees) Jesus se werk is om die gesag van God weer te bevestig en te herstel! In ons persoonlike lewens, maar ook in die ganse kosmos!

Die beste voorbeeld van die aanvaarding van gesag kry ons natuurlik ook by Jesus self. Hy het alle gesag wat bo Hom was as mens, erken. Dit word pertinent gesê in Lukas 2:51 dat Hy sy ouers onderdanig was! Maar as Seun van God was Hy ook volmaak gehoorsaam aan die gesag en die wil van Sy Hemelse Vader. Jesus self is ook binne in ’n gesagstruktuur soos ons sien in 1 Korintiërs 11:3.* (Sien ook Johannes 5:30) In die tuin van Getsemane kom hierdie volkome onderwerping van Jesus aan sy Vader se gesag en wil, seker die duidelikste na vore!


Die onderwerping aan God se ordes en gesag! Dis so nodig! Hoekom?  Twee redes :

~ Dis vir ons eie beswil. Kyk wat was die gevolge toe Adam en Eva, God se gesag verwerp het! Ellende en chaos. Uiteindelik gesinsmoord! Kyk, hoe gaan dit in ’n huisgesin waar daar nie meer gesag is nie. Kyk, hoe gaan dit in ’n skool waar daar nie meer gesag is nie. Ja, selfs in ’n rugbyspan waar die kaptein of afrigter se gesag afgetakel word... Kyk, wat is die gevolge in ’n gemeente, waar daar nie meer gesag en dissipline is nie. Wanorde, chaos, duisternis...oneer op die Naam van ons God! God se ordes en gesag is nie daargestel om die lewe vir ons moeilik te maak nie. Dis die gesag van ’n liefdevolle Vader wat vir sy kinders die beste wil hê. ’n Liefdevolle Vader wat orde in sy huisgesin wil sien.

Daar is mense wat sê dat hulle God se gesag aanvaar, maar geen menslike gesag nie. Dit klink vroom, maar dis ’n volkome vals redenasie.** Gehoorsaamheid aan God mag nooit lei tot die minagting of opbreking van burgerlike gesagstrukture nie. Egte Godgesentreerde Christenskap lei eerder tot ’n suiwering en versterking van gesagstrukture, orde en onderlinge verhoudings! Vergelyk maar Jesus se houding teenoor die betaling van belasting aan die vreemde Romeinse keiser! (Mense kan dus nie redeneer ons is voor God getroud en dan maar saambly nie - die huwelik is ’n burgerlike struktuur wat gerespekteer moet word!  Ja, dis 'n instelling van God, maar dit word op gesag van God deur die owerheid ordelik geadministreer.)

~ Die belangrikste : Dit bring eer aan God. Aanvaarding van gesag wat God daar gestel het, is erkenning van God. Ek eer God juis ook op so ’n manier. As ek byvoorbeeld my ouers gehoorsaam, eer ek God en beloof Hy seën aan my! As ongelowiges sien hoe ons as Christene gesag respekteer (in werks, familie of staatsverband) dan is dit 'n positiewe advertensie vir die evangelie, en so word God geëer.

Is jy ’n rebel teen gesag? Het jy al gebuig voor die gesag van God en al die strukture wat Hy oor ons gestel het?

Wat is die oplossing vir ons rebellie teen gesag?

~ ’n Nuwe hart! Die ou rebelse hart kan en wil homself nie aan gesag onderwerp nie. Elke sondaar kort ’n nuwe hart, of anders gesê die wonder van die wedergeboorte! Daarom is wedergeboorte ’n vereiste om in te gaan in die Koninkryk van God! (Johannes 3:3) Voordat jy in die Koninkryk kan ingaan het jy ’n nuwe hart nodig wat die Koning se gesag sal aanvaar! Het jy al na Jesus gekom vir ’n Goddelike hartoorplanting? Slegs die nuwe hart wat Hy jou kan gee is instaat om voor God se gesag en ordereëlings te buig.

~ Doelbewuste daaglikse onderwerping aan God se gesag en al die vorme van gesag wat Hy daargestel het. (Gesag in die huwelik, gesin, kerk, staat...) Die Heilige Gees sal jou hierin help! Die feit dat ek weergebore is beteken nie dat ek sommer nou maklik en outomaties alle gesag gaan aanvaar nie. Nee, die sondige vlees binne my gaan steeds daarteen in opstand wil kom, maar deur die krag van die Heilige Gees kan ek nou hierdie sondige neigings oorwin. Ek moet telkens weer kies om my te onderwerp aan God se Woord en al die strukture wat Hy oor my gestel het. Natuurlik is dit nie altyd lekker of maklik nie... onderdanigheid is immers pynlik vir die selfsugtige "ek",  maar dis deel van die heiligmakingsproses waarin elke kind van God homself bevind.

Geliefde broer en suster in Jesus, onderwerping aan gesag, onderdanigheid aan almal wat God bo my gestel het, is 'n kernbestanddeel van die praktiese heiligmaking wat God van sy kinders verwag! Dis God se uitdruklike wil vir ons! Kyk hoe beklemtoon Petrus hierdie saak in 1 Petrus 2:13,18; 3:1. (lees dit gerus)

Onderwerp jou aan God se gesag (en alle gesag wat Hy daar gestel het), anders is dit nogal ’n sterk aanduiding dat jy beslis nie in die hemel toegelaat gaan word nie. Jy sal in elk geval ook nie daar tuisvoel nie! Die hemel gaan mos juis hemel wees, omdat almal daar volmaak gehoorsaam gaan wees aan God se wil en gesag! (Vgl. 2 Petrus 3:13)

* Moet vroue dan nog steeds in ons dag hoede dra? (Spesifiek in die erediens - vgl. Vers 13) Ek dink nie hier word ’n ongekwalifiseerde altyd geldende reël gestel nie. Dit gaan oor die beginsel dat daar duidelike gesagsonderskeid en rolverskille is tussen die twee geslagte. Hierdie beginsel is altyd van toepassing, maar die vorm waarin dit gegiet word sal verskil van kultuur tot kultuur. (Ek begryp dat Christene oor hierdie saak kan verskil, maar mag ons dit dan in groot liefde en begrip doen)
 
** Natuurlik kan daar situasies ontstaan waar ’n aardse gesag my iets beveel om te doen wat duidelik en direk teen God se wil in sy Woord indruis. Dan moet ek dit weier.

Maandag 23 Januarie 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (1)

- Kyk na die skildery en skep moed!

Maak oop en lees Openbaring 1:1-6 ( ’n oop Bybel langs jou is ’n vereiste om hierdie studies te volg)

Om te begin : MOENIE BANG WEES VIR OPENBARING NIE! Die boek Openbaring bekleë gewoonlik een van twee plekke in baie Christene se denke :

~ Dit word geïgnoreer en eenkant geskuif. (“Ag, dis te moeilik, dit maak my deurmekaar, los dit maar vir spesialiste!”)

of

~ By sommige is daar amper ʼn buitensporige en fanatiese belangstelling in die boek. Dit word amper ’n geestelike stokperdjie. Heeldag word daar na DVD’s gekyk en boeke gelees oor die onderwerp van die eindtye en vervulling van profesieë! (En met almal wat nie met my siening van interpretasie saamstem nie, word daar hewig gestry!)

Nie een van bogemoemde benaderings is tog reg nie!

Ons moet wel erns maak met die boodskap van Openbaring. Die lees van hierdie boek dra ’n belofte van seën! (Vers 3) Dis tog deel van God se Woord wat Hy vir ons welwese bedoel het.

PRENTJIES

Aan die anderkant is Openbaring nie ’n eie agenda opsigself nie. Ons sal sien dat Openbaring niks anders sê as die res van die Bybel nie, maar slegs uitbrei op sekere waarhede en dit op ʼn ander manier sê. Terloops, die meeste beelde wat in Openbaring gebruik word, kom in elk geval uit die Ou Testament! Nog belangriker : Die hoofinhoud van Openbaring is die evangelie self! ’n Mens sou amper kon sê dat Openbaring vir ons die evangelie in prentjies teken. Die evangelie gaan oor die goeie nuus met betrekking tot Jesus en sy werk! Reeds hier in die aanhef val die klem reeds baie duidelik op Jesus en sy verlossingswerk. Kyk weer na Vers 5 en 6. Jesus self is die doel en hoogtepunt van die geskiedenis!


Wat wil Openbaring nou eintlik sê? Vertel dit ons van die laaste dae? (En wanneer is dit?) Kom ons maak eers seker oor ’n paar belangrike vertrekpunte.

~ Openbaring is in die eerste plek aan sewe regte gemeentes (Efese, Smirna ens.) gerig. (Hierdie gemeentes was in die streek wat vandag Turkye is) Dit het gegaan oor sake wat hulle op daardie oomblik geraak het, binne ’n spesifieke situasie. Dis ’n boek vol bemoediging en vermaning in ʼn konteks van vervolging en die bedreiging van afvalligheid wat hulle konkreet beleef het. Dit moes hierdie Christene wat swaargekry het vermaan, vertroos en bemoedig. Dink dan net logies : As Openbaring hoofsaaklik en eksklusief gehandel het oor dinge wat in ons tyd (2000 jaar later) sou gebeur, watter nut sou dit vir hulle hê? Watse troos sou dit vir hulle bring? Wat sou dit help om vir hierdie mense te vertel van Iran se kernplanne of Europa se staatkundige bedeling? Vanuit die oorspronklike bedoeling en konteks kan ons sê :

Openbaring is ’n TROOSBOEK, nie ’n VOORSPELLINGSBOEK nie!


Ons kan en mag nie Openbaring lees asof dit Nostradamus of Siener van Rensburg is nie! Die hoofinhoud van hierdie troos is : die vestiging van en erkenning van God se alleenheerskappy op aarde soos dit reeds in die hemel is. (Mounce) Dis alles seker vanweë die oorwinning van Jesus!
~ Inderdaad gaan Openbaring oor die Laaste Dae. Maar wat bedoel die Bybel met die Laaste dae? Die Nuwe Testament beskou die hele tydsduur na Jesus se kruis en opstanding as die eindtyd of Laaste Dae. Die evangelie gebeurtenis in Jesus se kruis en opstanding was die beslissende draaipunt wat die hele geskiedenis in twee dele sou verdeel. Met Jesus se eerste koms en werk het die Laaste Dae aangebreek. Twee belangrike teksgedeeltes is Handelinge 2:14-21 en Hebreërs 1:1-3 . In Handelinge 2 kry ons die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag en Petrus se daaropvolgende toespraak. Hierin verwys Petrus dat wat op daardie tydstip gebeur het ’n vervulling is van die profeet Joël se voorspelling oor die laaste dae. (Sien vers 17) Die tydperk van die Laaste Dae was dus met die uitstorting van Heilige Gees reeds ’n werklikheid! (Die laaste dae is dus nie ’n tydperk wat eers in 1948 of 2000 begin het nie) In Hebreërs 1 sê die skrywer duidelik : “in hierdie laaste dae het God met ons gepraat deur die Seun” Vantevore het God Homself op baie maniere (deur profete, drome ens.) geopenbaar, maar Jesus was God se finale spreke. Deur Jesus het God alles aan ons bekend gemaak wat nodig is. (En natuurlik het ons God se openbaring deur Jesus in ons Bybel)

Jesus se eerste koms na die wêreld het die LAASTE DAE ingelui.


Jesus se koms na die aarde dui die beslissende moment aan van die begin van die vestiging van God se koningsheerskappy op aarde. Dis die Laaste Dae!
~ Ons moet verstaan wat is ’n profesie. Profesie (as ons ook gaan kyk na die Ou Testamentiese profete) het nie net gegaan oor toekomsvoorspellings nie, maar ook oor morele onderrig. Profesie is God se Woord vir mense in ’n bepaalde tyd en omstandighede. Deur sy werk ’n profesie te noem laat Johannes ons verstaan dat hierdie boek dieselfde gesag dra as die groot werke van die Ou Testamentiese profete! Dit gaan ook nie net oor ’n verre toekoms nie, maar het dwarsdeur die geskiedenis ’n boodskap vir daardie tyd se Christene gehad... dus ook vir ons!

Met bogenoemde as agtergrond, hoe moet ons dan nou Openbaring interpeteer?

Daar is twee belangrike beginsels wat ons in gedagte moet hou :

~ Hou rekening met die literatuursoorte (genres) in die Bybel. (Ons pas dit eintlik almal alreeds toe - ons lees die verhaal van die kruisiging wat geskiedskrywing is, anders as die Barmhartige Samaritaan wat ’n gelykenis is.)

In Openbaring kry ons die volgende literatuursoorte: Briewe, Profetiese uitsprake, Lofliedere, Apokaliptiese Visioene. Elke Bybelleser weet reeds dat ons nie elke Bybelgedeelte letterlik kan opneem nie. As Jesus sê : “Ek is die deur van die skape” weet ons tog presies wat Hy bedoel! Ons dink tog nie dat Jesus van hout gemaak is nie! Om dus alle beelde en getalle in Openbaring skielik letterlik te wil opneem is absurd! (Dink bietjie : Wil jy vir ewig ’n letterlike pilaar wees? - vgl. Openb 3:12)

 

~ Hou rekening met die sentrale tema en opbou van die hele Bybel. Die hele Bybel loop uit op die hoogtepunt in Jesus Christus! ( Kol 1:15-20; Ef 1:10) Ons kan die visioene nie los verstaan van die hoof evangelie gebeurtenisse naamlik Jesus se kruis, opstanding en wederkoms nie. Openbaring sê nie vreemde goed nie, dit sê presies dieselfde as die sentrale Bybelse boodskap, met Jesus as die kern, maar dikwels op ’n apokaliptiese manier. (Met beelde en simbole)

Ten slotte : Ons gaan na Openbaring kyk soos na ’n skildery. Om die geheelboodskap en grootsheid van ’n skildery te waardeer en te geniet, hoef mens nie altyd elke onderdeel te ontleed nie. Dis die geheelindruk wat mens aanspreek en ’n booodskap in jou hart deponeer! Ons gaan dus nie elke teks in detail probeer ontleed nie (en as ons oor detail betekenisse verskil, maak dit ook nie soveel saak nie) Ons gaan kyk na die groot temas wat saamvloei om aan ons ’n heerlike en magtige boodskap van oorwinning oor te dra! Sien nou reeds raak : "Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen." (Openb 1:6)

Mag die evangelie so nog helderder vir jou skyn, mag elkeen dit omhels en verder daarin groei en daaroor bly wees!

Lees verder oor Openbaring. Kliek op Maak oop by Openbaring (2)

 

(Bronliteratuur : Du Randt, Die A-Z van Openbaring; Goldsworthy, The Gospel in Revelation)






Donderdag 19 Januarie 2012

LUGFOTO VAN DIE BYBEL Deel 3


Die Koninkryksbeloftes word in JESUS vervul. Hy kom verlos vir God weer ’n Volk (Matteus 1:21) wat God as Koning aanvaar. Daar word ’n nuwe Land, Kanaän (die nuwe hemel en aarde) in vooruitsig gestel. Die oproep tot bekering is ’n oproep om jou aan God se koningskap te onderwerp! Jesus bring dus ‘n einde aan die Ballingskap van God se volk. (Daarom word die Ballingskap waarskynlik so pertinent genoem in die Matteus geslagsregister. Sien Matteus 1:17)

Nog meer heerlik :

JESUS bring nie net die Koninkryk nie, Hy is self die vergestalting van die Koninkryk.

Hy in Homself is waarlik God (Koning), waarlik mens (Volk), Hyself vervang ook die tempel wat die fokuspunt is van die Land en Hyself is die nuwe norm vir ons lewens. Hyself is ons Wet.


Jesus is waarlik God met ons! (Immanuel) God en mens in volmaakte verhouding! Wie in Christus is, staan in volmaakte verhouding met God.

Hy is ons Koning wat by ons is. Bekering beteken om sy koningskap te aanvaar. As Pilatus vir Jesus vra of Hy ’n koning is, dan erken Hy dit, maar maak dit duidelik dat sy Koninkryk nie van hierdie wêreld is nie.(Johannes 18:36)

Jesus is in Homself die  Volk van God. Daarom wys Matteus vir ons hoedat Jesus eintlik Israel se geskiedenis herhaal. Jesus word ook uit Egipte geroep soos die volk Israel. (Sien Hosea 11:1 en Matteus 2:15) Net soos Israel word Jesus in die woestyn versoek. (Matteus 4) Die verskil is net dat waar Israel in die woestyn misluk het, slaag Jesus al die toetse en versoekings! Hy doen dit namens ons wat in Hom glo. Jesus is die begin van die nuwe mensheid, die Volk van God. Die tweede Adam, soos Paulus dit stel. As ek aan Jesus deel kry deur die geloof en bekering is ek ook deel van God se Volk!

Jesus is die ware tempel (die fokuspunt van die Land) Soos die heerlikheid van God in die tabernakel en tempel teenwoordig was, so sien ons nou die heerlikheid van God in Jesus! (Sien Johannes 1:14) Jesus vervang die tempel. (Johannes 2:19-22) Daarom kan ons God net in Gees en waarheid aanbid deur Jesus. Hy is die ware tempel, die ware “ontmoetingsplek” met God! (sien sy woorde aan die Samaritaanse vrou in Johannes 4:21-24) En alle gelowiges vorm deur hulle verbondenheid aan Jesus deel van die tempel. Hierdie waarheid het groot praktiese implikasies : Die kerkgebou is nie die huis van God nie, wel die lewende gemeente in verbondenheid aan Jesus! Hierdie waarheid beteken ook dat géén gebou meer die tempel van God genoem kan word nie.

 

Al bou die moderne staat Israel ook ’n tempel in Jerusalem, het dit vir ons as Christene geen betekenis nie, want Jesus is ons ewige tempel!


Jesus self is ook ons nuwe norm (Wet) binne die konteks van die Nuwe Verbond. Ons moet sy voorbeeld navolg en sy opdragte gehoorsaam. Hyself is ons nuwe standaard, daarom gaan Hy op die berg (soos Moses op Sinaï) en kondig die nuwe grondwet af van die Koninkryk van God! (Die bergrede in Matteus 5-7) Jesus kan daarom telkens gesagvol verklaar : "...maar Ek sê vir julle..."

Al hierdie elemente is Jesus, vir ons, namens ons, wat in Hom glo!

Met Jesus se koms het die Koninkryk van God inderdaad naby gekom! Wie aan Jesus behoort het nou reeds deel aan die Koninkryk van God, al het die finale sigbare vorm van die Koninkryk nog nie aangebreek nie. Daarom kan Jesus sê : "die Koninkryk van God is hier by julle". (Lukas 17:21)

By die VOLEINDING word die Koninkryk van God finaal herstel. Wanneer God (Koning) vir ewig onder sy verlostes (Volk) sal woon op ’n nuwe hemel en aarde (Land). Die hele skepping word herstel! Lees maar Romeine 8:18-25. Jesus se verlossingswerk het kosmiese implikasies! Hy is nie alleen Skeppingsmiddelaar nie, maar ook Herskeppingsmiddelaar! Die gevolg? Alles sal in volmaakte harmonie wees volgens God se wil! (Wet)  Volkome geregtigheid heers in die nuwe skepping. Sien 2 Petrus 3:13,14. Kyk ook na Openbaring 21:1-5 en 22:1-3! Hier sien ons ook hoe die Paradys (land) weer herstel word. Die uitdrukking,“boom van die lewe” is mos Paradystaal. Die boom sal 12 maal per jaar vrugte dra! (Openbaring 22:2) Dis heerlikheid in ’n oortreffende trap! Die heerlikheid van God se nuwe Koninkryk sal permanent wees, want dit word nou uitgebeeld as ’n stad. In Bybelse denkwyse is ’n stad baie meer permanent as ’n tuin! (König) Die vervloeking weens die sonde word opgehef (Openbaring 22:3) en God se verloste volk sal Hom dien. Die woonplek van God is by die mense! Die breuk wat sonde veroorsaak het, is vir altyd weg. Die Koninkryk van God sal voortbestaan tot in alle ewigheid!

Is jy in Christus en so al deel van die verloste volk? Sien jy uit na hierdie heerlike erfenis?

(erkenning aan Graeme Goldsworthy, According to Plan)



Woensdag 18 Januarie 2012

MOEG EN MOEDELOOS OP MOEDVERLOOR SE VLAKTE?

- wag 'n bietjie, GOD SE WOORD GEE HOOP!



Dis so belangrik om hoop te hê. Sonder hoop kan mens nie aanhou nie. Vat nou maar ’n langafstand atleet... dis die hoop op 'n einde, op erkenning of applous wat hom laat vasbyt.

Kinders van God het ook ’n vaste hoop nodig om te volhard. Ons het hoop nodig om die Christelike wedloop te voltooi en by ons ewige bestemming aan te kom. Dis nie so maklik om hoop te hê nie. Daar is ontsettend baie dinge in hierdie wêreld wat ons ontmoedig, wat wanhoop wek, wat ons knieë lam en ons wiele pap maak.

Kom ons noem 'n paar voorbeelde:

Sonde en skuld. Dis soos ’n berg. Dit maak my moedeloos. Hoe kon ek weer hierdie sonde doen? Wat van daardie vreeslike sonde wat ek nooit weer kan regstel nie? Wat gaan die Groot Regter sê?

Teleurstellings. Mense stel my teleur. Valse beloftes, ydele verwagtings. So baie verlowingsbeloftes, huweliksbeloftes, besigheidsbeloftes... word verbreek. Ekself stel my teleur. Ek het sovele kere misluk, sovele kere dieselfde ou foute gemaak!

Onreg. So veel onregverdigheid. Op die swakkes en armes word getrap. Baie diktators word nooit voor die gereg gebring nie. Baie misdadigers ry nooit aan die pen nie. Onreg in jou huis, samelewing, land... Valse beskuldigings wat my breek en aftakel. Gee niemand dan om nie? Sien God dan nie hierdie dinge raak nie?

Bekommernisse. Nagte van wakkerlê, dae van naelskou. Oor geldsake, gesondheidsprobleme, my kinders, my toekoms...

Verganklikheid. Niemand kan vir die skaduwee van die verganklikheid en dood vlug nie. Ons bestaan op aarde word gestempel deur tydelikheid, ons is maar net ’n rukkie hier. Meedoënloos tik die sekondes, minute, ure van ons lewens af..... tyd staan nie vir ’n oomblik stil nie. Die swaard van verganklikheid hang oor ons elkeen. Ons harte rebelleer daarteen, dis so hartseer, dat alles moet vergaan, dat almal uiteindelik oud word en sterwe... Is alles dan tevergeefs?


In ROMEINE 15:4 sê Paulus vir ons hoe ons vol hoop kan wees. Die Skrif gee ons standvastigheid en bemoediging.

God self is natuurlik die bron van standvastigheid en bemoediging. Hoe dra Hy dit oor aan ons? Deur Sy Woord!

 Die Skrif gee ons hoop en net die Skrif gee ons hoop in ’n onsekere en ellendige wêreld!


Die Skrif gee ons ’n vaste en sekere hoop. Dis 'n heerlke positiewe waarheid. Die beloftes en versekerings van God in sy Woord is onaantasbaar vas en waar! Die Skrif gee hoop aan almal :

~ wat gebuk gaan onder sonde en skuld. Hoe? Deur die beloftes van vergifnis en vryspraak. Die belofte van ’n nuwe begin. Sien Psalm 103, Psalm 130, Hebr 8:12 (“oor hulle ongeregtighede sal ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie”), Miga 7:8! (maak seker jy ken hierdie een!)

~ wat geteister word deur teleurstellings en hartseer. Johannes 16:33 “hou moed ek het die wêreld oorwin”; Romeine 10:11 (“die wat in Hom glo sal nooit teleurgesteld word nie”)

~ wat getreiter en getrap word deur onreg. Hebr 12 :1-2 ; Romeine 12:19 ( "Ek sal vergelde sê die Here")

~ wat uitgemergel word deur bekommernisse. God belowe sy sorg aan diegene wat Hom en Sy Koninkryk eerste stel. Matteus 6:33. Hebreërs 13:5,6 se kragtige versekering is 'n juweel!

~ wat onderworpe is aan verganklikheid. Fil 3:21, 2 Petrus 3:13 (verwagting van ’n nuwe hemel en aarde)



Die teenoorgestelde is net so waar. Alle hoop wat nie op die Woord gebou is nie is wankelbaar, onvas en onseker en dit gaan jou beslis teleurstel.

Mense wat nie hulle hoop op die Woord van God stel nie, stel gewoonlik hulle hoop op twee ander faktore:

~ Hulle stel hulle hoop op die rykdom. My besittings en my belange verskaf vir my sekuriteit. 1 Timoteus 6:17 (Lees) Mense verkies die onsekere hoop op rykdom bo die hoop op God en sy beloftes. Ja, dis so - kyk hoeveel tyd bestee hulle aan die najaag van rykdom en hoe min tyd om God se beloftes te bestudeer.

~ Baie stel hulle hoop op ander mense. Ek moet net sorg dat ek die regte ouens ken en die regte ouens aan my kant het. Ek sal my beginsels prysgee solank ek net die belangrikes en die rykes nie hoef te affronteer nie. Die Bybel waarsku duidelik hierteen. Psalm 146:3,4  (Lees)

Vriend, los die vals fondasies van rykdom en mens vertroue en stel jou hoop op God en sy Woord.

Die Skrif gee vir ons vaste sekere hoop. Hoekom?

God kan nie lieg nie! - Numeri 23:19 ( hierdie teks bevat ’n kosbare waarheid, wat ek altyd moet onthou)

Die kruis en opstanding van Jesus het bevestig dat God se beloftes waar is! ( 2 Kor 1:18-20)

God se Woord is elke dag ’n anker in ’n lewe van storms. God se Woord is die fondament van ons geloof in ’n wankelende wêreld. God se Woord is die waarheid, die enigste waarheid in ’n wêreld van leuen en dwaling! (Johannes 17:17)

Dis ons petrol as ons geloofsenjins wil gaan staan.

God se Woord is ons oorlewingsbron. God se Woord bly waar ongeag omstandighede. Ons kan God se Woord vertrou al sê die sigbare feite nou ook wat. Ons kry ’n pragtige voorbeeld in Lukas 5. Jesus gee die opdrag aan Petrus om na die diep water te vaar en die nette uit te gooi! Dit het onsinnig en dwaas geklink, want hulle het die hele nag probeer en niks gevang nie. Maar dan maak Petrus ’n gehoorsame geloofsuitspraak : “... maar op U woord sal ek die nette uitgooi.” En ons weet wat was die heerlike gevolge! ’n Reuse oorvloedige vangs!


Kan jy uithou en aanhou... en veilig aankom in die Ewige Koninkryk?  Kan jy ontsnap uit die moddermoeras van moedeloosheid? Ja, as jy die beloftes van die Skrif ken en glo!