Ds. Hector Jooste van die NG Kerk Otjiwarongo het die onderstaande brief aan die KERKBODE gestuur :
Redakteur
Met verwysing na die berig “Jong teoloë steun besluit oor gays” in die uitgawe van 28 September 2016, het ek geen keuse as om myself uit te spreek aangesien Christus sy volk die luuksheid van te swyg, ontneem (Mark. 8: 38). Ek maak hiermee die volgende stellings:
1.Hierdie sogenaamde “jong teoloë” is geen teoloë nie. Hulle is nie besig met Θεος Λογος nie, maar met die woord van mense. Die Woord van God is eenhonderd persent duidelik betreffende die sondigheid van enige seksuele verhouding wat buite die huwelik tussen een man en een vrou staan. Hulle behoort hulleself eerder as filosowe te identifiseer.
2. Hierdie skokkende onkunde oor die Woord van God deur hierdie sogenaamde teoloë werp ‘n uiters negatiewe refleksie oor die treurige stand van teologie wat tans aan Suid-Afrikaanse universiteite gedoseer word. Dit is van so ‘n aard dat sommige gemeentes reeds openlik daaroor praat dat proponente wat aan Suid-Afrikaanse universiteite afstudeer het, nie sonder meer beroep kan word nie. Die plaaslike kerk en kerkraad moet eers baie seker maak van enige sodanige student se teologiese suiwerheid. Selfs die legitimasie deur die Algemene Sinode staan nou reeds ernstig onder verdenking.
3. Hierdie onsekerheid betreffende die regsinnigheid van afgestudeerdes by Suid-Afrikaanse teologiese fakulteite is een van die hoofredes waarom kerke hulle verband met die Algemene Sinode al meer begin bevraagteken. Al meer word opmerkings gehoor soos “Wat het ons te verloor as ons ons losmaak van die AS?” en “As ons nie meer aan die AS verbind is nie, kan ons predikante beroep van meer gereformeerde instansies (selfs elders in die wêreld)”. (In hierdie opsig sal dit baie van die belanghebbenes baat om opnuut te gaan kyk na die betekenis van die begrippe “kerk” en “kerkverband”, en die implikasies van ‘n kerkverband wat nie meer aan die doel beantwoord waarom kerke in die eerste plek toegetree het tot die verband nie.) Dit is die dun ys waarop beweeg word met die roekeloosheid van hierdie onregsinnige sogenaamde teoloë.
4. Laastens is dit uit hierdie goddelose chaos wat veroorsaak word deur die klomp gay-drywers in die kerk aan die een kant, en aan die ander kant die Godlose teologie wat skynbaar aan Suid-Afrikaanse universiteite gedoseer word, duidelik dat ons tans die situasie beleef wat beskryf word in Op. 11. Die gay-drywers en die goddelose teologie gaan seer sekerlik die totale oorhand kry (Op. 11: 7). Dit is egter slegs tydelik van aard (Op. 11: 11). Saam met Stéfanus hou ons ook ons oë na die hemel en sien ons die heerlikheid van God en Jesus wat staan aan die regterhand van God (Hand. 7: 55). Saam met Johannes beaam ons ook ons Here Jesus se woorde in Op. 22: 20 “Amen, ja kom, Here Jesus!”