Om die Godbedoelde oorsprong van die huwelik as instelling te bevestig haal hy Genesis 2:24 aan – met die beklemtoning van een vlees. (lees)
En dan maak hy ‘n merkwaardige uitspraak in vers 32. Die instelling van die huwelik word hier uitgelig tot op ‘n baie hoër vlak – ‘n geheimenis . Dit verwys na die diep verhouding tussen Christus en sy kerk. Die implikasie is dat die huwelik van die begin af iets meer was as ‘n menslike sosiale ordereëling, meer as ‘n gerieflikheidsverbintenis, dit wys na God se plan van verlossing. Dis ‘n uitbeelding van die misterieuse eenheid en liefde tussen Jesus en sy gemeente. Hierdie liefde is baie diep, ons as kinders van God is deel van sy Jesus se liggaam. Die duidelikste bewys van hierdie eenheid vind ons natuurlik in die Heilige Nagmaal waar ons sy vlees eet en sy bloed drink!
- Die huwelik en die rolle in die huwelik is nie ‘n menslike uitdinksel nie, maar ‘n Goddelike ontwerp, instelling, plan – met ‘n huidige tydelike aardse funksie maar ‘n ewige onverganklike boodskap. Die huwelik is dus ‘n heilige roeping, dis ‘n Goddelike opdrag wat volgens God se voorskrifte uitgevoer moet word. Dis ‘n profetiese boodskap aan die wêreld vir nou met ewigheidsgevolge en betekenis. Natuurlik in die lewe hierna gaan daar soos Jesus self gesê het nie meer huwelike wees nie. Dit gaan ook nie nodig wees nie, want ons sal volmaakte vervulling in die ewige bruilofsmaal van die Lam ervaar.
- Man en man, vrou en vrou kan nooit in ‘n huwelik met mekaar staan nie. LGBTQI+ideologie skreeu teen God se skeppingsbedoeling en teen God se verlossingsplan. As ‘n samelewing of kerk byv. selfdegeslagverbintenisse goedkeur en so die instelling van die huwelik ondergrawe of verwerp, is dit op die pad van vernietiging!
Jy wat losbandig leef spot met God – wees gewaarsku dit het skrikwekkende gevolge – nou en eendag. Geen wonder die Hebreër skrywer waarsku so ernstig hierteen nie. Hebreërs 13:4! Die huwelik moet in alle opsigte eerbaar gehou word, en die huweliksbed moet onbesoedeld wees, want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.
Daar is mense wat om verskeie redes nie trou nie – hulle kan steeds kies om selibaat te leef ter wille van die koninkryk. Dis nie nou die tyd om hierop uit te brei maar hier vind ons die diepste oplossing, maar ook uitdaging vir mense wat om een of ander rede nie in ‘n huwelik is nie, ook juis mense wat weens selfdegeslagaangetrokkenheid nie kan of wil trou nie. Die hoopvolle boodskap is – jy kan op ‘n baie spesiale manier toegewyd aan Jesus en bruikbaar in die koninkryk wees! Jy het ‘n kosbare roeping, aanvaar die uitdaging al gaan dit nie maklik wees nie. Jy het die voorreg om al jou energie, toewyding, talente en opoffering wat in ‘n huwelik sou ingaan, direk aan Jesus te offer. Die voorbeelde van sulkes is baie in die geskiedenis... dink maar aan Paulus.






