BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 08 November 2013

NIE NET IN SIRIË NIE...

- maar ook in ons eie woonplekke en werkplekke is daar ‘n verwoestende gebrek aan vrede.

Vrede is seker een van die skaarste artikels wat daar is. So skaars soos wors in ‘n hondestal. Niemand kan hierteen stry nie. Die afwesigheid van vrede is sigbaar elke dag. Nie net op die TV nie, maar juis ook in ons sitkamers, klaskamers, slaapkamers...
Ja, selfs in gesinne, in families, gemeentes... Tussen besigheidsvennote, volksgenote, landgenote... Soms is die afwesigheid van vrede nie dadelik opmerklik nie. Ons is mos van nature almal goeie toneelspelers. Dikwels is daar ’n skyn van vrede in baie situasies en op baie gesigte, maar diep onder kook dit van woede, onmin en onvrede. Onvrede en geweld is ‘n kenmerk van die gevalle wêreld! Die heel eerste gesin beleef ’n broedermoord! Kain sterf weens afguns... en van daardie tyd af loop daar 'n bloedspoor deur die geskiedenis van die mensdom.  Rusie, afguns, stryd, gemene wedywering, miskenning, benadeling, vertrapping, hartseer verskeurdheid en dergelike goggas is deel van die mens se alledaagse bestaan. Dit kleef aan ‘n mensdom wat vervreemd is van God en op sy eie aankarring. Die wêreld met sy gebrek aan vrede is die uiterste teenpool van God se Koninkryk. God se Koninkryk is ’n Koninkryk van vrede en harmonie. Vrede is ’n omvattende beskrywing van die toestand waarin God wil hê alles en almal moet wees - dis soos dit was in die Paradys en dit is die styl van die Koninkryk wat kom. Waar God se heerskappy aanvaar en erken word is daar vrede want God is ’n God van vrede.

“Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word” (Matteus 5:9) is dus ’n baie diep betekenisvolle uitspraak van Jesus as Hy die grondbeginsels van Sy nuwe ryk uitspel. Vrede is ’n fundamentele saak in die Koninkryk van God. Slegs vredemakers sal toegang hê tot die Koninkryk, want slegs vredemakers kan waarlik kinders van God genoem word.

Wie en wat is ’n vredemaker? Die klem val nie hierop dat God wil hê ons moet klein diplomaatjies wees wat orals tussen mense bemiddel nie. Dit kan ook sy plek hê, maar dit gaan oor veel meer... So hoe moet ons die term vredemaker verstaan? Die term vredemaker kry vir ons betekenis in die lig van die tweede helfte : ”...sal kinders van God genoem word.” God is die God van vrede, God self is die groot vredemaker. Wat beteken dit? Ons lees hiervan direk in Kolossense 1:19,20. “God het besluit om met sy volle wese in Hom (Jesus) te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen." God het deur die bloed van Jesus vrede gemaak met ons as sondaars. Deur Sy Seun in ons plek te straf het God versoening bewerk tussen Hom en ons. Ons sondes is regverdiglik gestraf, so die lug tussen ons en God is gesuiwer. Die straf is mos klaar voltrek. (Soos kinders wat klaar pak gekry het en nou weer gemaklik met hulle ouers kan saam wees.) Die gevolg van die sterwe van Jesus is dat God nie meer ons vyand is nie maar ons vriend. Nie meer ’n bedreiging nie, maar ’n skuiling. Ons staan nie meer in ’n misdadiger-Regter verhouding nie, maar in ’n kind-Vader verhouding. 

Hierdie Saligspreking fokus weer ons aandag op die Here Jesus self en ons voortdurende behoefte aan Hom. God het Hom gestuur om vrede te maak - dit is reeds by sy geboorte aangekondig in Lukas 2:14. Jesus self het die vrede tussen ons as skuldiges met God bewerk. Wat Jesus vir my gedoen het moet ek nou uitleef teen alle mense, selfs ook my vyande. Vrede maak beteken dus dat mens met jou eie vyande vrede maak en alle stryd teen hulle opskort.

Wat God dus vir ons gedoen het (vrede gemaak met ons) verwag Hy dat ons ook met ons vyande sal doen. 

Inderdaad sien die Bybel die gevolg van Jesus se versoeningswerk nie net as die verwydering van vyandskap tussen ons en God nie, maak ook die verwydering van die skeidsmuur tussen mense (Efesiërs 2:13-16) Jesus se versoeningswerk het twee onlosmaaklike dimensies - vrede met God en vrede met mense! Weereens die dubbele liefdesgebod.

Wie God se kinders wil wees, wie in sy Koninkryk wil ingaan moet sy karakter vertoon, moet ’n vredemaker wees net soos Hy is.

VREDEMAKERS IN PRAKTYK 

Hoe kan ek ’n vredemaker in praktyk wees?

1. Eers moet jy jou eie behoefte aan vrede raak sien! Het jy dit al besef? Het jy al vrede gevind? Slegs deur geloof in Jesus en sy bewerking van vrede aan die kruis. Romeine 5:1 stel dit so duidelik : “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” Jesus het die vrede bewerk. Daar is geen uitstaande boetes wat ek nog moet betaal nie. Ek moet net in dankbaarheid en blydskap aanvaar dat die boete wat Hy betaal het genoegsaam was. Vrede met God is ’n voorvereiste om prakties as vredemaker te kan leef.

2. Die kind van God, wat vrede het met God, kan nie anders as om ‘n vredemaker te wees nie, want sy Vader is dan die God van vrede. (“Hulle sal kinders van God genoem word”) Hoe lyk vrede maak in die praktyk? Die kind van God kies teen onmin, disharmonie, geweld, gebroke menseverhoudings, nie net omdat dit lyding veroorsaak is nie, maar omdat dit in stryd met God se wil is. Daarom doen hy alles in sy vermoë om vrede te bevorder - deur ander hulle kwaad nie toe te reken nie, deur ander se misstappe oor te sien of as dit nodig is dit uit te praat, deur rusie te vermy. Ja as dit moet, dan moet ek en jy bereid wees om : onreg te verdra*, die minste te wees, in sekere situasies bloot net stil te bly. (‘n Rusie loop gewoonlik mos dood as dit net van een kant af gestook word...) Kinders van God is nie net vredeliewend nie, maar maak vrede, bevorder doelbewus vrede. Hulle kom hulleself te na om hierdie doel te bereik. Hierteenoor - die mens wat nie vrede met God het nie - is altyd in ’n geveg, in opstand, soek konflik waardeur hy sy eie belange kan bevorder... 

3. Natuurlik ons moet geen illusie hê nie, om ’n vredemaker te wees in hierdie wêreld waar geen vrede en geregtigheid is nie, is ’n ontsagwekkende ongewilde taak wat geweldige eise stel. Dit vereis van ons om die beginsels van die Koninkryk uit te leef in ’n omgewing en tussen mense wat niks omgee vir God en sy beginsels nie. Dit gaan baie kos, dit gaan ons seermaak! Jesus spel vorentoe die praktiese konsekwensies van hierdie beginsel uit in Matteus 5:39-44. Dit behels o.a.’n vaste besluit om aan almal goed te doen - ook die wat my haat en misbruik, en om heeltemal af te sien van die wêreldse beginsel van vergelding. “Maar,” is die vraag, “Gaan ek nie geweldig skade ly en seerkry nie?” Ja, jy gaan. God se kinders is inderdaad weerlose lammers onder wolwe, maar onthou ons vrede is te danke aan die Een Lam wat vir ons geslag is en ter wille van ons seergekry het. Ja, om vrede te bewerkstellig het Hy Homself "swak" gemaak en laat beledig en vermorsel deur sy eie skepsels! Dit, terloops is ware ALMAG!

4. Nodeloos om te sê, hierdie gesindheid van vredemaker wees is belaglik in die oë van die wêreld, dit lyk soos roekelose selfvernietiging. Maar nou ja al die Saligsprekinge lyk onsinnig vir die wêreld, trouens die hele evangelie van die Gekruisigde is ’n dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word is dit die krag van God!

5. Die nood van die wêreld is vrede - en daar is baie pogings daartoe. Die tragedie is geen wêreldling, geen persoon sonder God begeer werklike vrede nie! Hulle wil bloot maar rus en gerief op hulle voorwaardes hê. As dit op stuk van sake kom trap hy op die ander om sy belange te bevorder. Wat dan van al die vredes samesprekings en inisiatiewe dwarsoor die politieke wêreld? Dis ‘n klug! Die wêreldheersers wil slegs diplomatieke punte aanteken en eie belange bevorder. (en dalk ‘n Nobelprys inpalm) Vrede ja, solank dit tot ons voordeel is. (Dis waarom “vrede” in Irak vir Amerika destyds baie belangriker was as “vrede” in Rwanda.) Die vrede waarna die wêreld streef het geen plek vir God nie en ‘n vrede sonder en buite God ter wille van onsself is ‘n valse vrede. Van Obama tot Mugabe se “vrede” is ‘n antichristelike vrede waarin daar nie plek vir God en sy gebod is nie! Wie ware vredemaker wil wees moet dus prakties deur al die beginsels en eise van die Woord gelei word.

6. Vrede maak beteken nie dat ons maar sonde moet goedkeur net ter wille van ‘n skyn vrede nie. Vredemakers is juis liefhebbers van die waarheid, want slegs eerlikheid en waarheid bring vrede. Daar is ‘n reuse verskil tussen ’n people’s pleaser en ‘n ware vredemaker. Jesus was by uitstek dié Vredemaker, maar Hy het nooit teruggedeins om die waarheid te praat en op tone te trap as dit nodig was nie! Daarom is Hy immers gekruisig,

7. Vrede met alle mense is ’n prioriteit vir elke kind van God, omdat elke kind van God per definisie iemand is wat vrede het deur die vergifnis wat daar in Jesus is. ’n Kind van God kan nie iets anders wees as ’n vredemaker, vrede soeker, vrede liefhebber nie. Ons sal die negatief ook moet stel : Wie houtgerus kan voort leef in onmin, haat, konflik met sy medemens, kan nie ’n kind van God genoem word nie... en is ook nie! Wie onmin liefhet kan nie deel wees van God se Koninkryk nie, want God is ’n God van vrede.

Het jy VREDE gevind en is jy daarom ‘n VREDEMAKER?



Die geweld en gebrek aan vrede in Sirië is skrikwekkend, maar in baie huise en huwelike gaan dit nie juis beter nie...

* Terloops, so baie mense kla oor die onreg wat hulle moet ly... in die huwelik, tussen die familie, by die werksplek... Weet nou maar een ding : oral op hierdie aarde sal daar altyd onreg wees! Dit help nie om vir onreg te vlug nie. Die oplossing is nie 'n ander huwelik of ander werk nie. Die oplossing is om te leer hoe om onreg te hanteer soos Jesus dit gedoen het. Ja, op die radikale manier van liefde vir die vyand wat 'n hoogtepunt aan die kruis bereik : "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie." Paulus het so sterk gevoel oor die handhawing van vrede tussen gelowiges wat verskille het, dat hy ons aanmoedig om maar liewer onreg te ly, eerder as om hof toe te gaan : "Eintlik is julle saak al klaar verlore, omdat julle hofsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle julle nie liewer te kort doen nie?" (1 Korintiërs 6:7)

1 opmerking:

  1. Baie dankie vir die 'Vredemaker in praktyk'-riglyne. Dankie vir nog 'n 'in die kol' woord. 'n Mens wens die hele wêreld wil dit lees...

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.