BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Rugby. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Rugby. Wys alle plasings

Saterdag 20 April 2019

DIE MOEDSKEP VISIOEN

(Vir Israel Folau)*

Een prentjie is meer werd as ‘n duisend woorde! Hier in Openbaring 1:9-20 kry ons ‘n besondere prentjie – ‘n Moedskep-visioen** wat die swaarkry Christene van die destydse Klein Asië moes vertroos en bemoedig. En dis heerlik aktueel… dis vir ons! Vir Christene wat ly in Noord-Korea of Iran, maar ook kinders van God wat in die materialistiese en goddelose Westerse wêreld deur hulle eie families of die samelewing gespot, uitgestoot en vervolg word. Ouens soos Israel Folau wat weens hulle getrouheid aan die Woord skade ly en beledig word... 


TROOSBOEK

Onthou Openbaring is ‘n troosboek en nie ‘n detail voorspellingsboek nie. Die Christene aan wie Johannes geskryf het, het ‘n groot behoefte aan troos en bemoediging gehad. Hyself natuurlik ook. (Johannes deel in die swaarkry wat insluit vervolging en onregverdige behandeling, armoede, uitbuiting, geweld – Johannes self is immers verban na die eiland Patmos ter wille van sy geloof) En wat ‘n heerlike troos kry hulle… Dié troos is nie oppervlakkige clichés soos : “Ag, toemaar dinge is nie so erg nie.” Nie, “Ag onthou elke donker wolk het ‘n silwer randjie” nie. Nee! Dit gaan oor grondige evangeliese troos. Die troos wat Jesus se kruis en opstanding en ewige heerskappy ons bied. Die prentjie wat Johannes sien en waarmee hierdie Christene bemoedig word is die prentjie van die verheerlikte en oorwinnende Christus! Hy wat wel dood was maar nou vir ewige lewe! 

JESUS BY ONS!

In hierdie moeilike omstandighede moet kinders van God weet, Jesus is nie ver of afsydig nie, maar midde in sy kerk – tussen die staanlampe! By ons in ons nood en smart! Jesus is vir altyd betrokke by sy kerk en teenwoordig in sy ware kerk! (13) Jesus is die Seun van die Mens – (Daniël 7) Hy is die Messiaanse bevryder wat beloof is! 

KYK!

Nou word sy voorkoms vir ons in detail beskryf. Natuurlik moet ons dit nou nie verstaan as ‘n letterlike foto van Jesus nie, maar as funksionele beeldspraak om iets van sy ONBESKRYFLIKE HEERLIKHEID EN MAJESTEIT EN MAG te beklemtoon! Woorde ontbreek! 

Net kortliks (maak self jou Bybel hier oop by Openbaring 1): 

Die lang kleed en goue band (13) – Jesus se hoëpriesterlike waardigheid! Sy werk as Hoëpriester is voltooi! 

(14) – witheid dui op sy wysheid, insig, kennis. Hy weet van als en Hy het die oplossing en raad wat nodig is. 

Oë soos vuur – deurpriemende insig, alwetendheid, niks bly vir Hom onsigbaar en niks kan vir Hom weggesteek word nie! 

(15) Voete soos gloeiende geelkoper – Gepoleerde kopervoete beeld Jesus se standvastigheid en krag uit. Hy kan nie wankel nie. (Hy sal nie koue voete kry en vlug en ons in die steek laat nie...) Ook sy volmaakte suiwerheid. Wat ‘n troos in ‘n wankelende onsekere en onreine vuil wêreld! Jesus se heerlike andersheid staan uit! ‘n Magtige stem soos baie waters – dink aan die gedruis van ‘n indrukwekkende en asemrowende waterval! ‘n Gerusstellende geluid, God se stem! Goddelike gesag en Goddelike ontsagwekkende heerlikheid. 

(16) Die sewe sterre in sy regterhand – dui op die sewe leraars van die sewe gemeentes. Sy regterhand is sy sterk hand. Hy alleen beskerm en beheer sy kerk, soewerein! ‘n Skerp swaard – Jesus het die bevoegdheid om met sy woorde te oordeel. Jesus is die Een wat sy kerk aanspreek, bemoedig en oproep tot bekering. Jesus se woorde sal uiteindelik staande bly, Jesus het die laaste sê! Sy hele voorkoms is soos die son op sy helderste – Hierdie verblindende heerlikheid van Jesus herinner mens aan die gebeurtenis toe Moses van die berg Sinai afgekom het (toe sy gesig so geblink het) en ook aan die gebeurtenis by die verheerliking op die berg. Jesus se gesig wat van heerlikheid blinkende skyn. (Matt 17) Die onbeskryflike heerlikheid en majesteit van Jesus kan nie met mensetaal geteken word nie! 

Hierdie angswekkend heerlike visioen laat Johannes verstom en verbyster! Geen woorde nie! Hy val neer soos ‘n dooie. 

SY VERTROOSTENDE HAND EN WOORDE

Wat nou? Nou is dit so vertroostend. Jesus vat aan Johannes. ‘n Gerusstellende hand op sy skouer en gerusstellende woorde : “Moenie bang wees nie!” Hoe dikwels het Jesus hierdie woorde vir sy bang dissipels op aarde gesê – nou na sy opstanding hoor Johannes dit weer! Mag ek en jy dit hoor… en moed skep! Mag jy nou op hierdie oomblik in jou toestand van vrees, hartseer, verwerping of eensaamheid sy hand voel, sy stem hoor... 

DIE EERSTE EN DIE LAASTE

Asof die visioen nie genoeg was nie, gee Jesus in woorde weer ‘n bevestiging waarom Johannes en al God se kinders nie hoef te vrees nie. “Ek is die EERSTE EN DIE LAASTE!” Dieselfde betekenis as die “Alfa en die Omega” (8) Hierdie term kom uit die profeet Jesaja. 

Kom ons blaai bietjie na Jesaja: 

“Wie het dit gedoen en tot stand gebring? Hy wat die geslagte roep van die begin af; Ek, die HERE, die Eerste, en by die laaste is Ek dieselfde.” (Jesaja 41:4) 

“So sê die HERE, die Koning van Israel en sy Losser, die HERE van die leërskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie.” (Jesaja 44:6) 

“Luister na My, o Jakob, en Israel, wat Ek geroep het, dit is Ek; Ek is die Eerste, ook is Ek die Laaste. Ook het my hand die aarde gegrond, en my regterhand die hemele uitgesprei; as Ek hulle roep, staan hulle daar almal saam.” (Jesaja 48:12,13) 

In al hierdie kontekste gaan dit oor God wat die Skepper is van als en almal, oor God wat volkome in beheer is van sy Skepping. God is die oorsprong van sy Skepping en bereik self sy doel met sy Skepping. Niks en niemand kan Hom keer om sy doel te bereik en sy planne uit te voer nie. Absolute soewereine gesag. Jesus, as ware God het hierdie Goddelike gesag en mag! 

Jesus se oneindige gesag en onbeperkte mag word bevestig deur die feit van sy OPSTANDING! 

Die opstanding is die onomstootlike bewys van Jesus se Goddelike heerlikheid en almag. Sonder die opstanding sou dit als maar net mooi woorde wees! Niks kan Jesus se gesag en mag inperk of belemmer nie! Hy lewe vir ewig! Hy en Hy alleen het die sleutels van die dood en die doderyk. Juis dit wat die grootste vrees en onsekerheid by die mens bring – die dood, staan nou onder beheer van Jesus! Wat ‘n heerlike troos vir hierdie Christene wat doodgemaak is vir hulle geloof. Jesus het beheer oor die dood, so selfs as ons sou sterf bly die dood skadeloos, want ons is dan by Hom in heerlikheid! Dis nie die duiwel of ander magte of enige aardse tiran wat finale beheer oor die dood het nie. 

Die Opstandingswaarheid bevry ons van 
ALLE VREES! 


(Maar onthou, die duiwel lieg vir ons en wil ons laat glo dat hy in beheer is en dat hy kan dood en verwoesting saai soos hy wil....) 

Al die heerlike waarhede oor Jesus – sy volledige versoeningswerk aan die kruis, sy almag, sy beloftes oor die ewige erfenis en volmaakte heerlikheid wat vir ons wag… is gebou op die kernwaarheid van die letterlike liggaamlike opstanding uit die dood! ( Twyfel jy oor die opstanding? Kliek – ENIGSTE VERLOSSER) Jesus se opstanding uit die dood op die derde dag is die fondasie van die verlossingsevangelie. Omdat dit waar is, is die evangelie waar. Dis waarom ons feesvier. Ons weet Hy het sonde, Satan, dood en hel oorwin! 

Sy dissipels was daarvan oortuig… hulle het aan Hom gevat, gesien hoe eet Hy brood en vis…. Ons is ook daarvan oortuig deur die Woord en die werk van die Gees in ons harte! 

Kyk vandag weer opnuut na die verheerlikte Jesus, voel sy hand, hoor sy Woorde en skep moed! 

* Israel Folau is die Australiese rugbyspeler wat vervolg word, bloot omdat hy Bybelse waarhede op Instagram herhaal het. Dit het die gay aktiviste die harnas ingejaag. Dis ook heel moontlik 'n voorskou van die tipe vervolging wat nog op alle evangeliese en Bybelgetroue Christene wag.
**Jan du Rand, p131


Sondag 27 April 2014

AFRIKANER BYGELOOF

-  wanpersepsies, mistastings, onkunde en naïwiteit met vernietigende gevolge...

Daar is ‘n tipe “volksgeloof” wat lewend onder Afrikaners is, maar wat baie ver verwyderd is van Bybelse geloof. (Natuurlik kom hierdie en ander mistastings onder ander groepe ook voor, maar ek het veral met Afrikaners te make... en ekself is mos ook een...) Hierdie bygeloof en blindheid is ‘n ernstige saak, want dit maak dat die behoefte aan ‘n Verlosser moeilik besef word. Die EVANGELIE bly dikwels versluier en word selde raak gehoor.



Kyk saam met my na ‘n paar voorbeelde van Afrikaner bygeloof en populêre opvattings (sommige het in die huidige tyd dalk effens gekwyn en ander het net nuwe baadjies aangetrek en vertoon hedendaagse variasies) :



# “Ek is ‘n Christen, want ek het teen die goddelose Kommuniste en terroriste op die grens geveg.” (dis ‘n bygeloof van veral die vorige geslag.) Die Afrikanersaak is dikwels outomaties en naatloos gelykgestel aan die Koninkryk van God... Die Woord leer ons egter dat slegs diegene wat aan Jesus behoort, deel is van God se volk. Hierdie volk het niks te make met etnisiteit of politieke strukture nie.

# “As ek as kind gedoop is, is my pad hemel toe mos geteer.” ‘n Al groter groep glo nou ‘n variasie van hierdie leuen, naamlik : “As ek iewers weer gedoop is, is ek ‘n ware Christen, ongeag in watter morele gemors my lewe verkeer!” Die tweede dwaling is net so erg as die eerste.

# “‘n Christelike begrafnis, sal al my sondes van die verlede uitwis en my ‘n kind van God maak. Die dominee het sulke mooi dinge op X se roudiens gesê, hy kan net op een plek wees...” Dit maak nie saak of iemand nooit enige tekens van ware geloof en bekering getoon het nie, dit maak nie saak as kerkbywoning en sakramentsgebruik heeltemal verontagsaam is nie, solank daar net ‘n roudiens of begrafnis vanuit ‘n kerk kan plaasvind, waar almal die versekering gegee word dat X nou veilig “op ‘n beter plek is...” (en ja, sulke people’s pleasers dominees en pastore, wat wil saamspeel is altyd te vinde.)

# “Ek is ‘n ingeskrewe lidmaat van die ... kerk en dus is my saak met God reg. My oupa was immers ‘n medestigter van hierdie gemeente, my ouma se neef was jare lank ‘n sendeling in Malawi...” Hierdie kerklikheidsbygeloof is nou vervang met ‘n nuwe onkerklike een : “My saak is reg, want Sondae oggende kyk ons vir Andries Enslin op TV!” Ek het natuurlik niks teen Andries nie, maar dis opvallend dat soveel kerklos mense wat dikwels in goddeloosheid en ongehoorsaamheid lewe, heel tevrede is met hulleself omdat hulle na Andries luister... Dis immers ‘n baie gerieflike tipe Christenskap. Die opperste vorm van gemakstoel dissipelskap. Ek hoef nie eens aan te trek en my motor uit die garage te trek nie... Ek hoef geen verantwoordelikheid vir die liggaam van Christus te neem nie, ek hoef my nie te steur aan die verbreking van my lidmaatsbeloftes voor God nie...

# “Dit staan tog immers geskrywe... in die HUISGENOOT...” Die HUISGENOOT is die ware bron vir die bepaling van baie Afrikaners se norme en waardes, nie meer die Bybel nie. Dit klink dalk vir sommige vergesog, maar luister maar... Vandat hierdie verderflike skindertydskrif euwels soos saambly en homoseksuele gedrag begin goedpraat het – deur hulle misplaaste heldeverering, is hierdie sondes nie meer ‘n taboe in “Christen Afrikanergeledere” nie.

# “‘n Goeie dominee, is ‘n lekker dominee en ‘n lekker dominee is een wat als saam doen, van saam vloek tot saam dans!” ‘n Lekker dominee sal dit ook nooit waag om enige sonde by die naam te noem nie, want die lekker dominee se hooftaak is om almal gelukkig te hou en so die kerk se bankrekening te probeer stabiliseer. “O, ja, die lekker dominee moet verkieslik ook nie langer as tien minute preek nie, want ek moet gou by die huis kom, want die Sondag is daar gestel om my siel te versadig met RAPPORT se voedsame vullis!” En as ‘n dominee nou regtig “upmarket” wil wees, dan vertel hy die mense daar is nie iets soos ‘n oordeel en hel nie...

# "Byna al ons helde is sulke pragtige Christene!" Die huidig geestelik arme Afrikaner raak naïef opgewonde oor elke celebrity (rugbyspeler, sanger, filmster, skoonheidskoningin...) wat hulle Christenskap in die media verklaar, op een of ander tydskrif se voorblad pronk en daarna voortgaan om soos heidene te leef. Hierdie celebrities se Christenskap mag nooit bevraagteken word nie, al verskyn hulle ook halfnaak op daai voorblaaie... (kliek op CELEBRITIES)

# Die een (soms seker die enigste) Bybelteks wat alle Afrikaners ken is die een wat sê : “Moenie oordeel nie.” Die verkeerde interpretasie van hierdie (uit konteks) aangehaalde teks beteken dat geen geestelike gebruik of morele gewoonte bevraagteken word en dat geen tugwaardige sonde aangespreek mag word nie. Die kerk het dus in normlose chaos verval en elkeen maak soos hy wil. (kliek op die DUIWEL SE BYBEL)

# Die Afrikaner is allerweë in die verlede beskou as baie tradisievaste mense. Dit was miskien so, maar dis beslis nie meer die geval nie. Die “tradisie” van die huwelik, inderdaad ‘n Goddelike instelling is vinnig besig om uit te sterf. “Ons het nie papiere nie, maar is voor God getroud,” is die flou verskoning vir ‘n lewe van seksuele losbandigheid. (kliek op MAAGD VOOR KANSEL)

# Daar is een saak wat die Afrikaner se toewyding, opoffering en blinde lojaliteit vra en wat sy identiteit definieer : RUGBY. Dis nie ‘n grap om dit die Afrikaner se werklike godsdiens te noem nie, dis die naakte werklikheid! Vir hierdie spel sal die Afrikaner sy tyd, geld en siel prysgee. Dis waar sy ware skat is en dis waar sy hart is! Gaan toets dit! Waaroor raak ons mense opgewonde? Rugby of evangelie? Waarvan dra hulle kennis? Meestal van rugby. Bybelkennis het amper heeltemal verdwyn ...

# Skriflesing en gebed by openbare geleenthede is die Afrikaner se aller sterkpunt en die openbare “badge” van toewyding. Hoor hier, daar is bykans niks onder die son wat nie met hierdie ritueel afgeskop word nie. Van die vetveeskou waar daar gesuip word tot die konsert waar daar met God gespot word. En toe ons nog in beheer van die “army” was is die Skrif aangehoor op dieselfde paradegronde waar daar blou were gevloek is... Misbruik van God se heilige Naam in ‘n opperste vorm!  Ja, laat ons na die Woord luister, orals en altyd, maar kom ons gehoorsaam dit en raak ontslae van die afgode in ons volksgeledere!

EN TOG IS DAAR HOOP...

‘n Mens wil amper soos die dissipels uitroep : "Wie kan dan gered word?" (Dit was nadat Jesus vir hulle vertel het hoe moeilik dit is vir ‘n ryk man om gered te word.) Ja, wie kyk na ons samelewing kan maklik begin wanhoop, maar tog bly Jesus se heerlike versekering van krag: "Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik." (Matteus 19:25,26) Inderdaad red God nog steeds Afrikaners uit genade en bewaar Hy ook sy kinders tot die einde toe!


Afrikaners. Nie die stomme beeste nie, maar die misleide volksgenote...!

Maandag 05 Maart 2012

DIE SUPER SIEK REEKS

- raak realisties oor rugby!

Eers was dit die Super 10, toe die Super 12, gevolg deur die Super 14,15....wel dis nou die Super Siek Reeks! Dit maak my naar! Simptomaties van die oordaad van rugby. Dink jy ek is dalk te kras? Gee my tog ’n kansie om te verduidelik. Dis nie die debat oor watter spanne mag deelneem aan die Super watse reeks nie. Dis ook nie een of ander skeidsregter of speler wat my kwaad gemaak het nie. Dis ook nie dat ek dit het teen rugby as sport nie.... Trouens as gebore Suidwester dink ek nog met nostalgie en trots terug aan die jare van die Biltongboere se wonderlike rugby prestasies! Onthou jy nog vir Gerhard Mans, McCulley, die Stoop broers... en daardie onvergeetlike dag toe hulle die WP op Nuweland geklop het? Toe ons manne soos vurige Etosha leeus gespeel het? Toe rugbyspelers nog lojaal aan hulle provinsie en land was? Maar baie dinge het intussen verander...

Nee, dis nie rugby as sport nie, maar die gierige kommersialisering, histeriese oordrywing en blatante verafgoding van rugby wat ’n wrewel by my opwek! Dit wil amper voorkom asof rugby elke samelewingsfasset begin oorheers. In ’n advertensie vir ’n predikantspos in Die Kerkbode word as voorwaarde gestel, die ondersteuning van ’n bepaalde span. Goed, ek neem aan dis tong in die kies gedoen, maar dis ’n goeie aanduiding van hoe allesoorheersend rugby in ons volkie se denke geword het.

Rugby op topvlak is lankal nie meer gesonde sport en ontspanning nie. Dis ’n vermaaklikheidskoei (skuus Bulle!) wat deur die ryk magnate en hul meelopers gemelk word vir elke moontlike sent. En die rugbyverslaafde publiek is te onnosel om agter te kom dat hulle sakke geplunder word!

Rugby oor die algemeen het al verder weggedryf van Christelike norme en beginsels ten spyte daarvan dat sommige spelers so graag oor hulle Christenskap praat. Hoe kan ’n Christen nog rugby kyk as die spannetjie halfkaal (en heeltemal breinlose) prikkelpoppe wat hulle lywe langs die velde wikkel in jou keel (sig) afgedruk word? Waar is die Christen rugbyspelers wat nog weier om op Sondag rugby te speel en soos dit ’n kind van God betaam die Here op sy opstandingsdag in die erediens aanbid?

Rugbyspelers het niks anders geword as hoogsbetaalde gladiators wat net soos hulle Romeinse voorgangers van destyds, wrede en wellustige skares moet vermaak nie. Simptome van ’n beskawing wat besig is om onder te gaan!

Ons waardesisteem is heeltemal skeefgetrek deur die ovaalbal.

Ons bewillig belaglik groot somme geld vir iemand wat met ’n bal in die hand baljaar, maar daar is nie geld vir ordentlike onderwys nie! Die man wat ’n bal deur die pale kan skop kry baie meer geld as die persoon wat ek aanstel om my kind en sy toekoms te vorm! Dis mos balligheid, ai tog, malligheid!

Rugby het die Afrikaner se oordeelsvermoë afgestomp om die werklikhede van die dag nugter in oënskou te neem. Suid-Afrika wek die indruk van ’n sinkende skip : onderwys, gesondheidssorg, die berugte munisipale dienslewering, misdaadbestryding, omgewingsbewaring en vele ander noodsaaklike funksies van die samelewing is in ’n skrikwekkende vryval! Tog wil dit voorkom dat die meerderheid Afrikaners houtgerus en selftevrede alles maar sluk solank hulle net na hulle gunsteling spanne op die kassie kan kyk. Rugby is soos ’n dwelmiddel wat ons aan die slaap sus! (en as ons die dag wakker word, is daar dalk geen boere... en renosters meer oor nie!)

Rugby het vir baie mense die alles geword! Meer korrek gestel : die werklike god van hulle lewens. ’n Mens merk dit al op skoolvlak. Rugby is die ware prioriteit. Rugby is die hoofvak, die res is ’n bysaak. As seunie kan rugby speel sal die skool vir hom gou ’n beurs reël. (Ander talente word nie maklik raakgesien deur die rugbyblindes nie) Rugby mal ouers wil alles en almal, hiet en gebied. Rugbybenewelde toeskouers maak hulself skuldig aan openlike barbarisme langs die veld tydens skoolwedstryde. Ons sien die fisiese gevolge van die rugby beheptheid : skoolseuns wat op krukke rondskuifel; offers op die altaar van hullle ouers se rugby ego’s. Kinders wat rugbyslawe geword het, wat naweek na naweek van een dorp na die ander gekarwei word om vermaak aan volwassenes te verskaf (en hulle en hulle ouers is Sondae dan te uitgeput om na die Woord van die Lewe te kom luister)


Kom ons raak realisties oor rugby! Mag diegene wat dit as gesonde sport beoefen, dit met balans geniet tot eer van God. Maar mag die rugby verslaafdes bevry word van hulle afgod en die ware God begin dien.