BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

HERDERLIKE BRIEF TYDENS DIE PANDEMIE

Herderlike brief aan alle broers en susters in Jesus betrokke by Tsumeb gemeente.

Geliefde broers en susters. Of dit nou al tot ons deurgedring het of nie, ons beleef ‘n wêreldwye pandemie. Ongekende tye! Ons hier in Namibië staan nou maar eers nog net in die heel begin… As kinders van God word ons deur dieselfde krisisse as alle ander mense geraak (siekte, finansiële druk, werksverliese, ontwrigting op alle terreine…), maar ons reageer anders as hulle wat God nie ken nie.

Jesus beskryf  hierdie tipe apokaliptiese krisisse en ontwrigtings so : “Daar sal groot aardbewings wees; hongersnode en epidemies sal op baie plekke voorkom. Daar sal skrikwekkende dinge wees en groot tekens van die hemel af.” (Lukas 21:11) Die ongelowiges se reaksies gaan veral langs die pad van  vrees en paniek – “Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word.” (Lukas 21:26) Vir God se kinders daarteenoor,  is hierdie tye ‘n geleentheid van hoop en verwagting.  “As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby." (Lukas 11:28) Juis in hierdie tye moet ons aan die eenkant wegbly van onverskilligheid en aan die ander nie toelaat om deur bekommernisse afgestomp te word nie.

Ons moet waak en bid!Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos ‘n vangnet oorval nie. Daardie dag sal skielik op al die bewoners van die hele aarde neerkom. Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn." (Lukas 21:34-36)

Omdat ons nog steeds mense van vlees en bloed  is in hierdie wêreld, spreek dit vanself dat ons ook wat ons gemeentelike bediening en bestuur aanpassings sal moet maak:

EREDIENS

In lyn met ons landswette, maar ook ter wille van die veiligheid van kwesbares onder ons  kan ons nie meer soos normaal bymekaarkom nie.

Dis natuurlik ‘n groot hartseer dat ons in hierdie tyd nie vir eredienste in die kerkgebou mag  vergader  nie, maar ons gaan wel ons bes probeer om die gemeente steeds met die Woord te bedien op die volgende maniere:



  • ·         Sondag boodskappe op Facebook en later moontlik ook op YouTube. U sal ingelig word.




KATKISASIE

Daar sal vir die afsienbare toekoms uiteraard geen katkisasie kan plaasvind nie.

HUISBESOEKE

Daar sal geen roetine huisbesoek gedoen word nie, maar enigiemand is baie welkom om my te kontak en dan maak ons planne om mekaar te bedien en te ondersteun. Moet ook nie huiwer om julle kerkraadslede te kontak nie.

BARMHARTIGHEID

Alle kerkraadslede en lidmate word versoek om met fyn aanvoeling op te let na mense wat swaarkry veral in terme van genoegsame kos en dit asseblief aan te meld. Daar is persone met ‘n plan om op weeklikse basis ‘n groente kospakkie voor te berei en te versprei. Ek sal ‘n lys maak van behoeftige gesinne en self toesien dat die hulp by die regte persone uitkom. Maak gerus verdere voorstelle oor hoe ons mense in nood kan bystaan soos die omstandighede dit vereis.

DANKOFFERS

Dis vir almal moeilike tye op finansiële gebied. Ons moet almal begrip hiervoor hê. Met die verlies van ons eredienste in die kerk sal daar uiteraard ook ‘n verlies aan kollektes en ander bydraes wees. Daarom ‘n vriendelike versoek om u bydraes via EFT by die kerk se bankrekening in te betaal. Baie dankie vir die voortgesette ondersteuning.

Bankbesonderhede van die kerk :
NGK Tsumeb, Bank Windhoek Tsumeb, tak 483-073, Rek no. 8001558097       

GEBED

Laaste maar nie die minste nie. Mag ons almal erns maak met gebed. Pasop daarvoor om verstrengel te raak in die “infodemie” en soveel tyd op die internet te spandeer sodat ons afgestomp en verhinder word in ons gebede. Estelle Alberts sal die gebedsbediening dryf en ko-ordineer. Kontak haar gerus. Natuurlik is enigeen ook altyd welkom om my persoonlik te kontak.

Genade en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die kragtige werking van die Heilige Gees!

Groete
Johannes




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.