BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Spiritisme. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Spiritisme. Wys alle plasings

Woensdag 23 Maart 2016

GOLGOTA IS GROTER AS GILBOA

- daarom is daar 'n oplossing vir sonde, skuld en mislukkings!



Gilboa en Golgota. Twee uitstaande berge van groot betekenis in die heilsgeskiedenis.

Elkeen is die toneel van ‘n aaklige dood van ‘n bekende persoon. Beide is konings wat sterf, beide sterf ‘n grusame en skandalige dood. Beide se dood het groot gevolge. Maar daar is ‘n groot en heerlike verskil. So ‘n heerlike verskil dat dit vandag in my en jou lewe ‘n verskil kan maak. Genadiglik hoef ons nie stil te staan by die neerlaag van Gilboa nie, maar kan ons aanbeweeg na die oorwinning van Golgota.

Kom ons kyk bietjie na wat op hierdie twee plekke gebeur het. Koning Saul pleeg in wanhoop en vrees selfmoord op Gilboa. Dit was die afgryslike uiteinde van ‘n lang pad van rebellie en ongehoorsaamheid. Ons ken mos die droewige verhaal...Hy het ‘n punt bereik waar God hom finaal verlaat het, soveel so dat hy in desperaatheid ‘n spiritiste medium moes gaan raadpleeg, die heks van Endor. Maar ook sy kon natuurlik nie help nie. Hy is deur God verwerp en in sy angs en vernedering kies hy die hartseer uitweg van selfmoord. Dit gaan egter oor meer as net Saul. Dis ook ‘n nederlaag, bespotting en vernedering van die volk Israel, want Saul was die gesalfde koning van God se volk. Skrikwekkende skade word aan die eer van God gedoen as Saul se kop afgesny word en in die land van die heidense Filistyne rondgestuur word.

NIE DIE EINDE VAN GOD SE BEMOEIENIS EN GENADE NIE...

God verlaat egter nie sy volk nie en sy planne kan nie omvergegooi word nie. God self gryp weer in om sy eer te herstel. Die nuwe gesalfde koning is Dawid. Dawid sou die Filistyne verslaan. Maar nou weet ons Dawid was ook nie ‘n volmaakte koning nie en hy het ook sy mislukkings gehad. God het egter ‘n verbond met Dawid gesluit en as uitvloeisel is Jesus die Seun van Dawid baie eeue later in Betlehem die stad van Dawid gebore. Hy word in Jerusalem verwelkom met Hosannas... “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!” (Matteus 21:9) Maar Hy sterf uiteindelik op Golgota. (Lees gerus Johannes 19:17-22;28-30) Dit lyk soos ‘n nog mislukking, die grootste mislukking ooit, maar ons weet op Golgota het Hy sonde, Satan, dood en hel oorwin. Golgota was nie ‘n ramp nie, Golgota was die plek waar Jesus die werk wat Sy Vader hom gegee het afgehandel het. Anders gestel, op Golgota het God afgereken met sonde, skuld en skande! Daarom kan Jesus te midde van sy doodsworsteling triomfantelik uitroep : “Dis volbring” Hier is die volle sonde boete betaal, ons volle sondeskuld is uitgewis. Daar is dus ‘n reuse verskil tussen Gilboa en Golgota.

'N REUSE EN HEERLIKE VERSKIL

Gilboa spel wanhoop en nederlaag. Golgota bring hoop en oorwinning.

Gilboa is ‘n skande, maar Golgota is ‘n triomf.

Gilboa is die konsekwensie van die heerskappy van sondemag en skuld, Golgota bring ‘n einde aan die heerskappy van sondemag en skuld.

Op Gilboa sterf Saul sonder God, op Golgota sterf Jesus in ons plek sodat ons nooit weer sonder God hoef te wees nie.

Op Gilboa tref God se vloek vir Saul, op Golgota tref God se vloek ook vir Jesus, maar juis sodat ons kan deel kry in God se seëninge!

Op Gilboa sterf Saul as ‘n verworpene deur God weens sy eie aanhoudende sonde en opstand teen God. Op Golgota sterf Jesus ook as verworpene, maar Hy sterf vir óns sonde, Hy vat óns straf. Jesus sterf nie in opstand teen God nie, maar juis as die een wat volmaak gehoorsaam is aan God.

Op Gilboa sien ons die dodelike mag en gevolge van sonde. Op Golgota aanskou ons die uitwissing van ons sondeskuld en straf.

Gilboa was tydelik goeie nuus vir die Filistyne (1 Sam 31:9), maar dit wat op Golgota gebeur het is blywende ewige Goeie Nuus, GOEIE VRYDAGNUUS vir elke sondaar wat in Jesus glo!

Ons kan juig : Golgota is groter as Gilboa!

Omdat Golgota groter is as Gilboa is daar hoop vir die grootste rebelse sondaar! Jesus sal jou nie wegwys as jy na Hom kom vir verlossing nie.

Omdat Golgota groter is as Gilboa is daar hoop vir die teruggevalle kind van God. (vir backsliders!) Kom in berou na Jesus en Hy sal jou terugvat en weer gebruik soos Petrus! (Kliek op PETRUS)

Omdat Golgota groter is as Gilboa is daar hoop vir jou wat voel dat jy misluk het in jou Christenskap, misluk het in jou huwelik of huisgesin. Jesus vergewe en herstel.

VASGEKEER IN 'N DOODLOOPSTRAAT?

Vriend, jou mislukkings, jou sondes, is dalk baie groot. Jy voel of jy by ‘n Gilboa van absolute wanhoop gekom het. Jy voel dalk soos Saul homselwers, vasgekeer in ‘n doodloopstraat van sondeskuld en skande. Dalk is daar ‘n baie spesifieke sonde of skande wat meedoënloos aan jou vreet, wat jou gewete verrinneweer... daardie een ding...wat jou so pla en teister dat jy dalk moontlik letterlik soos Saul op die rantjie van selfmoord rondsteier... 

Ja dis erg, baie erg, verskriklik erg, maar ek wil jou uitdaag en uitnooi: Kyk na Golgota, kyk wat daar gebeur het, kyk na die Seun van Dawid wat daar hang en hoor as hy uitroep : Dis volbring! Glo in Hom, hoop op Hom en vind volkome rus, vergifnis, vrede!  "Aanskou die Heiland, sien die kruis..."

MOENIE 'N ONGELOWIGE GEVANGENE BLY VAN DIE GEMORS VAN GILBOA NIE; BEWEEG VANDAG NOG GELOWIG AAN NA DIE GENADETRIOMF VAN GOLGOTA!

(Die essensie van hierdie preek het ek jare gelede by ds. Danie Steyn gehoor)

Vrydag 05 April 2013

MISLEIER MARIETTA

- so dof soos die dood! 

In ‘n vertoning van verregaande onkunde berig DIE REPUBLIKEIN oor Marietta Theunissen se besoek aan Namibië onder die opskrif : OM DIE WAARHEID HELDER TE SIEN. Niks kan meer vals en foutief wees as so ‘n stelling ten opsigte van hierdie misleier nie. Dis nie net hopeloos verkeerd nie, maar ook ewigheidsgevaarlik... Helder? Nee, dof, doodsdof! 



Marietta ly duidelik aan die siekte van ons tyd. Subjektiewe relativisme. Eiesinnige hoogmoed. Sy dink sy doen niks verkeerd nie, want sy "glo" wat sy doen is reg. Sy is dus haar eie norm en verwerp dus God se Woord as enigste maatstaf. Die koerant lig ons in : “Marietta vertel dat sy elke dag mediteer, bid en stiltetyd hou en haar dae afsluit deur langs die see te draf of te stap. Ek het die kontak met die natuur nodig om myself te herlaai." Dit klink so vroom en onskuldig, die vraag is net tot wie bid sy? Definitief nie tot die God van die Bybel nie, want Hy beveel uitdruklik in sy Woord: 


“Daar mag nie iemand by jou wees wat sy seun of dogter as offer laat verbrand nie. Daar mag nie ‘n besweerder by jou wees nie en ook nie ‘n towenaar of iemand wat voortekens lees of ‘n goëlaar of ‘n slangbesweerder of iemand wat geeste om inligting vra en dooies raadpleeg nie. Die Here het ‘n afsku van elkeen wat hierdie soort ding doen. Trouens, dit is juis oor die afskuwelike praktyke van die Kanaäniete dat die Here jou God hulle in jou belang gaan verdryf.” (Deuteronomium 18:10-12) 

Mense wat sogenaamde “waarsêersgawes” besit is bloot skerpsinnige misleiers (wat met jou kop smokkel) of andersins is hulle onder demoniese invloed wat bonatuurlike kennis aan hulle oordra. Paulus het met so ‘n geval te doen gehad by Filippi: 

“Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ons ‘n slavin teëgekom in wie daar ‘n waarsêersgees was. Deur waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld verdien. 
Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: "Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste! Hulle vertel vir julle hoe julle gered kan word." 
Sy het dit baie dae na mekaar gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: "Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!" Die gees het op daardie selfde oomblik uit haar uitgegaan.” (Handelinge 16:16-18) 

Let ‘n paar dinge op : Hierdie besete meisie het inderdaad kennis gehad, selfs korrekte kennis en dit oor God en sy dienaars! Nieteenstaande die feit dat sy korrekte inligting gegee het, was haar sogenaamde gawe en inligting afkomstig van ‘n bose gees! Toe die demoon uitgedryf word, het sy dan ook haar "gawe" verloor! Die dryfveer agter als was natuurlik soos vandag die geval is materiële gewin. Ja, geld, die wortel van alle kwaad! (Dis so maklik vir Marietta om haar sakke te vul met die fooie van geestelik onkundiges, hartseer naïewes en verleë verdwaaldes...)

Marietta “help” mense met betrekking tot gestorwe geliefdes, werk, verhou­dings, finansies... Regtig? Nee, sy buit hulle uit, erger sy mislei en lei hulle in die sfeer van die Bose in! Die Woord van God het vir ons duidelike inligting, antwoorde en oplossings ten opsigte van al hierdie vraagstukke waarmee mense worstel. Waarom sou mens God se Woord verlaat en antwoorde by ‘n agent van die Satan soek? Wees gewaarsku dit kan afgryslike gevolge hê! 

Hierdie pad van spiritisme lyk vir Marietta dalk reg, maar dit het 'n skrikwekkende einde! "Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.", waarsku Spreuke 14:12 ons.

Toe koning Saul weens sy volhardende ongehoorsaamheid deur God verlaat is en tevergeefs gebid het, moes hy hom noodgedwonge in ‘n tyd van krisis tot ‘n heks (spiritistiese medium) wend. Dit het vir hom geen verligting of oplossing gebring nie, maar was slegs ‘n tydelike verposinkie oppad na sy tragiese selfmoord. As jy op Saul se pad na vernietiging is, mag jy jou betyds bekeer en Jesus as jou Middelaar aanvaar. Daar is nou nog GENADE!

JESUS, DIE WAARHEID!

Marietta het nie die waarheid nie en ken ook nie die waarheid nie. Die Waarheid is Jesus Christus! (Johannes 14:6) Gelukkig het Hy gekom om ons te bevry en die werke van die duiwel, die mensemoordenaar te verbreek! Wie Jesus as persoonlike Hoëpriester ken, het vrye toegang tot die troon van genade en hoef  hulle nie op hekse, mediums, spiritiste, toordokters... en allerlei duiwelse kunste te verlaat nie. Bevind jy jouself in ‘n doodloopstraat of knypende krisis? Hy is die oplossing : 

 “Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 
Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 
Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word." (Hebreërs 4:14-16)

Nou wie het mal Marietta nodig, as daar 'n Volmaakte Middelaar is?