BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Heiligheid van God. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Heiligheid van God. Wys alle plasings

Vrydag 16 Maart 2018

HEILIGE VUUR

- waarom brand die bos, maar word nie verteer nie? 



Vuur! Goed of Gevaarlik? Sekerlik en beslis beide : Dink aan warmte, lig, beskerming.... maar ook skrikwekkend gevaarlik en verwoestend... dit kan jou brand en verteer! 

HET GOD SY VERBOND VERGEET? 

Die Engel van die HERE verskyn aan Moses in ’n brandende doringbos. (Sien Eksodus 3:1-6)* Dis ’n bonatuurlike ontmoetingsgebeurtenis. Wat is die agtergrond? Die volk Israel, die nageslag van Abraham, Isak en Jakob is in ’n groot krisis. Die krisis gaan nie bloot daaroor dat hulle swaarkry en dwangarbeid moet verrig nie, die krisis is ook nie net die aaklige verdrukking wat beteken dat babaseuntjies doodgemaak word nie. Die krisis lê op ’n dieper teologiese vlak. Hoe so? God het ’n verbond met Abram gesluit - dat hy geseënd sal wees - hy sal ’n groot nageslag wees en die land Kanaän besit en al die nasies van die aarde sal deur sy nageslag geseënd wees. Hierdie beloftes is herhaal aan Isak en Jakob. En nou? Nou is hierdie nageslag ’n slawevolk onder vreemde heerskappy in ’n vreemde land. Kan u sien, die situasie van Israel in Egipte is nie maar net ’n plaaslike tragedie nie. God se verbondsbeloftes is op die spel, die toekoms van sy volk en daarom die betroubaarheid van God self. Dit sou kon lyk asof God sy verbond vergeet het of dat Hy nie instaat was om dit na te kom nie. Dit was egter nie die geval nie. God dink aan sy verbond en gaan oor tot aksie! 

“Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. 
Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem." (Eks. 2:23-25) 

DIE BRANDENDE BOS 

Die eerste praktiese stap wat God neem is nou om Homself aan Moses te openbaar en hom te roep as die middelaar deur wie Hy sy volk gaan verlos. Baie belangrik om te hoor hoe God homself aan Moses identifiseer. Vers 6! God is die God van Abraham, Isak en Jakob d.w.s. die Verbondsgod. Dit bevestig wat reeds gesê is - God gaan tot aksie oor, Hy gryp reddend in op grond van en binne die raamwerk van sy verbond met Abram. 

Laat ons nadink oor ’n fyner detail, spesifiek die verskyning van die Engel van die HERE in die brandende bos! Waarom openbaar die Here Homself op hierdie manier en wat sou Hy daardeur wou sê? Die Here openbaar Homself in ’n vuurvlam (dis al klaar van groot betekenis), maar baie opvallend is dat die vuurvlam nie die bos verteer soos wat mens sou verwag nie. Dis juis hierdie aspek wat Moses se aandag getrek het en hom laat nadergaan het. (3) Wat is die betekenis van die vuurvlam en die opvallende verskynsel dat die vlam brand maar nie die bos verteer nie? 

HEILIGE TEENWOORDIGHEID 

God openbaar sy teenwoordigheid in die vorm van ’n vuurvlam in die doringbos. Die klem val op sy heilige teenwoordigheid. (5) Hierdie verskyning was nie die laaste keer dat dit gebeur nie. Daar is ’n merkwaardige ooreenkoms tussen hierdie gebeurtenis in Eksodus 3 en die gebeure wat beskryf word in Deuteronomium 4 en 5. Dis ‘n terugverwysing na God se verskyning aan die volk by die berg Sinaï//Horeb tydens die Uittog.** (Eks. 3:1; Dtr. 4:10) 

Net soos die bos het die berg met “vuur gebrand.” (Eks. 3:2) "Julle het toe nader gekom en aan die voet van die berg gaan staan. Die berg het gebrand, die vuur was tot in die hemel, en daar was ‘n rookwolk wat dit stikdonker gemaak het." (Dtr 4:11) In beide gevalle word daar melding gemaak van “nader gegaan” (Eks. 3:3; Dtr. 5:23,24) 

Vuur simboliseer God se heerlike maar juis ook sy heilige verterende teenwoordigheid. “Die hele Sinaiberg het begin rook toe die Here in vuur daarheen afkom; die rook het opgetrek soos die rook van ‘n oond. Die hele berg het ook geweldig geskud” (Eks. 19:18) “Die magtige teenwoordigheid van die Here het vir die Israeliete gelyk soos ‘n gloeiende vuur op die berg." (Eks. 24:17) “Die Here jou God is ‘n verterende vuur, Hy eis onverdeelde trou aan Hom.” (Dtr. 4:24!) Soos vuur alles vernietig, vernietig die heiligheid van God alles en almal wat onrein is. In Eksodus 3 kry ons dus ’n antisipasie of vooruitskouing van die verterende heilige God by Sinaï. By Sinaï sluit God ’n verbond met sy volk wat daarop neerkom dat Hy as die heilige verterende God onder die volk sou woon. Trouens God red juis sy volk om onder hulle te woon as hulle God. Dis God se verlange om met sy mense te wees. Dis wonderlike ’n onbeskryflik heerlik, maar dit veroorsaak ook ’n krisis. 

DIE KRISIS 

Die verblyf van die heilige God onder ’n sondige volk (al was hulle ’n verlosde volk) skep ’n probleem. Hoekom? God se heiligheid is juis ’n verterende vuur, ’n verterende heiligheid wat geen sonde kan duld of verduur nie. God se verblyf is ’n heerlike saak, maar om dit so te stel ook ’n gevaarlike saak. Sy heiligheid kan die dood van onheilige mense veroorsaak. Die groot kwessie is : hoe gaan ’n onheilige volk oorleef met die teenwoordigheid van die heilige God in hulle midde? Hier word die raaisel van die bos wat nie verteer word nie opgelos. Die doringbos verteenwoordig die volk Israel.*** Die bos word nie verteer nie ten spyte van die brandende vlam se teenwoordigheid. Dit spreek van God se genade!! 

ALLEENLIK GOD SE GENADE KEER DAT HY ONS NIE VERNIETIG NIE! 

Dis presies wat die volk Israel beleef het. Dis ’n ongelooflike unieke genadetoegif en voorreg om God se stem te hoor! Net God se volk kon so iets beleef. “Het ‘n volk die stem van sy god uit die vuur uit hoor praat, soos julle die stem van julle God gehoor het, en het hy bly lewe?” (Dtr. 4:33) Hulle beleef iets van die heilige God se teenwoordigheid sonder om vernietig te word, dis niks minder as ’n wonderwerk nie, ’n wonderwerk van genade! Maar dis ook duidelik, hulle besef die gevaar wat God se heilige teenwoordigheid inhou. “Maar as ons weer die stem van die Here ons God hoor, sal ons sterf, want hierdie groot vuur sal ons verteer. Waarom moet ons die gevaar loop om te sterf? Watter mens het die stem van die lewende God wat uit die vuur uit praat, gehoor soos ons en bly lewe?" (Dtr. 5:25-26) 

Hoe nou gemaak? Die oplossing is ’n middelaar, naamlik Moses. Hulle rig daarom ‘n versoek dat Moses vir hulle intree en bemiddel by God... “Gaan jy nader en luister na wat die Here ons God sê, dan kan jy alles wat Hy vir jou sê, vir ons vertel en ons sal dit gehoorsaam en daarvolgens lewe.’” (Dtr. 5:27) 

EN TOE VERGEET HULLE... 

Die afvallige volk het egter nie voortdurend rekening gehou met God sy heiligheid nie - soos die hele petalje met die goue kalf duidelik wys. Die heilige toorn van God het hulle dan ook getref en baie sterf deur die swaard. “Die Here het die volk met ‘n ramp getref oor die kalf wat Aäron op hulle aandrang gemaak het.” (Eks. 32:35) God is na hierdie voorval huiwerig om Israel verder bloot te stel aan die gevaar wat sy heilige teenwoordigheid onder die volk vir hulle inhou. God stel voor dat ’n engel saam met hulle gaan. “Ek sal my engel voor jou uit stuur en Ek sal die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete verdryf. “en Ek sal 'n engel voor jou uit stuur--en die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete verdrywe-- na 'n land wat oorloop van melk en heuning; want Ek sal in jou midde nie optrek nie, omdat jy 'n hardnekkige volk is; anders sal jy op die weg verteer word.” (Eks. 33:2,3) “....anders sal jy op die weg verteer(!) word” (NAB - verdelg, OAV - verteer - selfde Hebreeuse woord as in 3:2) God se teenwoordigheid sou tot hulle vernietiging lei. “Die HERE het naamlik met Moses gespreek: Sê aan die kinders van Israel: Julle is 'n hardnekkige volk; as Ek vir een oomblik in jou midde sou optrek, sou Ek jou vernietig.” (Eks.33:5). 

Moses pleit egter by God om saam te gaan en God staan sy versoek toe. “Toe sê hy vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie.
Want waaraan sou dan bekend word dat ek genade in u oë gevind het, ek en u volk? Is dit nie daaraan dat U met ons saamtrek nie? So sal ons, ek en u volk, onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is. 
Toe sê die HERE aan Moses: Ook hierdie versoek wat jy uitgespreek het, daaraan sal Ek voldoen; want jy het genade gevind in my oë, en Ek ken jou by die naam.” (Eks. 33:15-17) 

Israel vergeet, raak mak....Dit waaroor God gewaarsku het, het toe gebeur. 

DIE VUUR VERTEER!

God se heiligheid en Israel se opstandige onheiligheid bots. Dit lei tot ’n skrikwekkende gebeurtenis, waar die vuur van God letterlik onder die volk gebrand het! 

“Dit het sleg gegaan met die volk, en hulle het die Here daaroor verwyt. Toe die Here dit hoor, het Hy kwaad geword en vuur onder hulle in gestuur. Dit het ‘n deel van die kamp verbrand. 
Die volk het hulle nood by Moses gekla, en hy het tot die Here gebid, en die vuur het doodgegaan. 
Hulle het die plek Tabera genoem, omdat die vuur van die Here onder hulle gebrand het.” (Num. 11:1-3) 

Hulle word verteer deur God se vuur! Hier word die brandende bos episode omgekeer - Israel hou nie rekening met God se heiligheid nie en die vuur verteer hulle! Maar let op : Weer is dit die middelaar Moses wat tot hulle redding kom!

ONS GOD IS ‘N HEILIGE GOD! 

Ja, God is 'n genadige God. Maar sonder dat ons die skrikwekkende heiligheid van God besef, sal ons nooit die genade van God deur Jesus waardeer en aanvaar nie! Jesus ons Middelaar keer deur sy soendood dat God ons nie vernietig nie, maar ons moenie “mak” raak vir God nie! Ons moet Hom met heilige eerbied en ontsag dien! 



* 1.Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, ‘n priester van Midian, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het. 

2.Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in ‘n vlam binne-in ‘n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. 

3.En Moses sê vir homself: "Ek wil tog ‘n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?" 

4.Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: "Moses! Moses!" En hy antwoord: "Hier is ek." 

5.Die Here sê toe vir hom: "Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond." 

6.Verder sê Hy: "Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob." Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk. (Eksodus 3:1-6) 

** Horeb en Sinaï is dieselfde berg. Gispen p48 

***Gispen se kommentaar oor Eksodus p51

Dinsdag 12 Februarie 2013

“WEE MY…!”

toe word hy ‘n werktuig.

God gebruik mense.  Hy betrek ons as nietige wesens by die avontuur en voorreg om vir Hom te werk.  Hy weef ons werksaamhede in, in die uitvoering van Sy ewige planne! Dis so ’n algemene waarheid, dat ons dit maklik miskyk.... Die voorbeelde is te veel om op te noem. God gebruik ‘n groot variasie van mense : Moses die Egiptiese prins, Dawid die skaapwagter, Amos die boer,  maar ook ’n onbekende naamlose dogtertjie (om haar baas Naäman te vertel van Elisa en sy God), die geleerde Paulus, maar ook ’n ruwe grootbek visserman soos Petrus…

Dit behels normaalweg ’n hele proses om van ’n sondaar ’n gestuurde te maak. (Dink maar die lang pad wat God met Moses geloop het, of die harde leerskool waardeur Petrus moes gaan ) God moes ook eers in die profeet Jesaja se lewe ingryp. Hierdie dramatise gebeure word vir ons in JESAJA 6 vertel. God doen drie dinge met Jesaja om van hom ’n bruikbare instrument te maak : God het hom gewys, gered, gestuur. (Dis ’n basiese patroon, natuurlik wat fyner detail betref werk God uniek met elke mens)

GEWYS :

God het Homself aan Jesaja gewys. (geopenbaar) Twee groot sake word aan Jesaja geopenbaar. Hy besef Wie God is, maar ook wie hyself is. (Net terloops, daar word melding gemaak van die “sterfjaar van Ussia” - dis ’n krisis tyd. Die Here gebruik dikwels een of ander krisis om mens se oë te open.) Jesaja sien die grootheid, heerlikheid en heiligheid van God raak!  Liewers, God openbaar Homself aan die profeet.   Wat ’n ontsagwekkende gesig! God op ’n baie hoë troon!  Heerser van die heelal. Kyk en sien....luister en  hoor saam met Jesaja… “Heilig, heilig, heilig…”. Voel die kosyne rammel.....ruik die rook. Een saak is duidelik : Jesaja moes eers besef wie God is.  Nie maar van hoorsê nie, nie bloot uit tradisie nie, maar werklik van aangesig tot aangesig. Dis wat ons die nodigste het.... ons moet besef wie God is, ons moet besef Hy is groot, ons moet besef HY IS HEILIG! . Dis die werk van die Heilige Gees. Dis moontlik om vir jare vaagweg te besef daar is ‘n God, maar op ‘n dag openbaar Hy Homself deur sy Woord en Gees aan jou!.

 Toe Jesaja besef wie God is, toe gebeur daar nog iets. Sy  geestelike oë gaan oop en  hy sien sy eie sonde raak. In die lig van God se heiligheid sien hy sy eie onreinheid. Dis asof die helder lig van God se heiligheid en heerlikheid deur sy siel skyn en elke stukkie boosheid ontbloot.

Wat gaan ons nie alles sien as hierdie lig deur ons skyn nie.... ? Sulke donker swart kolle van selfsug, haat, onreinheid...valsheid. Die vuil vlekke van hardvogtigheid, liefdeloosheid, jaloesie...

Die konfrontasie met sy eie onreinheid bring ’n wanhopigheid in Jesaja. “Dis klaar met my! Ek is verlore!” Hierdie gesig bring hom tot ’n erkentenis van sy toestand van totale verdorwenheid. “Elke woord....” Nie net ’n paar klein foutjies nie! Geen versagting of verskonings nie... Sy bedoeling is moontlik ook hier dat hy vanweë sy onrein lippe nie kan deelneem aan die lofsange van die serafs om God te besing nie!* Sonde keer ons om God te eer. Sy onrein lippe is ’n hindernis om te doen wat hy eintlik moet doen.

Ons sonde keer ons om God te eer en te geniet!

 As die Heilige Gees met mens werk, dan word jy platgeslaan. Jy kan nie draaie loop met God nie.  Jy het nie krag om verskonings op te dis nie.

Nog iets. Jesaja sien die sonde rondom hom  raak! As die Heilige Gees in ’n mens werk, kan jy nie meer dink alles in die gemeenskap is maar reg nie. Jou oë gaan oop vir die afskuwelikheid van sonde...orals.. Nie net jou eie sonde nie, maar die sonde rondom jou word ’n pyn.

GEREINIG :

Nou gebeur daar iets dramaties met die gebroke sondebewuste Jesaja. God bewerk die versoening. Met ‘n gloeiende kool van die altaar word sy lippe aangeraak.  Die altaar is die plek waar die offers gebring is. Waar ‘n dier moes sterf in die plek van die sondaar. Jesaja kry die versekering dat sy sondes versoen is, die bevestiging dat hy vergewe is.

As jy vandag besef wie God is, en bewus word van jou eie sonde en onwaardigheid - dan is daar ook Goeie nuus vir jou : Op ’n altaar 2000 jaar gelede, is daar ’n volmaakte Offer gebring. Daar het ’n Lam gesterf - die Seun van God, op die altaar van die kruis. Die versoening is reeds  bewerk! Die oomblik as ek in erkentenis en berou my tot Jesus wend, dan ontvang ek die vergrifnis en vryspraak persoonlik!


Die eenmalige genoegsame kruisdood van Jesus, is die enigste basis van ons vryspraak, maar ook van die voortdurende proses van heiligmaking.

’n Bewende Jesaja sien die skrikwekkende heiligheid van God, hy besef sy sonde en die wonder gebeur.  Hy word nie vernietig of weggestoot nie, hy ontvang vergifnis. God vernietig nie ’n gebroke berouvolle sondaar nie. God red hom! Dawid sê : “U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God !” (Ps 51:19) Die vryspraak is verniet, tog kan mens nie die pynlike aspek daarvan ignoreer nie. Dis 'n operasie van die siel wat God hier uitvoer, dis 'n skoonmaak wat seer moes gewees het vir die profeet. Maar dis uiteindelik suiwer genade!

Terloops, daar is eintlik net een ding wat tussen ’n mens en verlossing of voortdurende reiniging kan staan, dis hoogmoed! ’n Trots wat nie wil buig nie! Niks kan keer dat God jou vergewe nie, nie ’n donker verlede nie, nie die aakligheid van al ons sondes nie, nie die getal oortredings nie, maar as ek hoogmoedig is en my sonde nie wil erken nie, dan gaan ek die genade misloop. “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” (1 Petrus 5:5) Jesaja verneder homself voor God en hy hoor die wonderlikste woorde wat enige sondaar op aarde kan hoor : “Jou oortredinge is vergewe, jou sonde is versoen.” (Vers 7)

GESTUUR :

Nadat Jesaja gereinig is, is hy nou eers gereed om deur God gebruik te word.. God red en reinig eers en dan stuur Hy! Om die waarheid te sê, God stuur almal wat Hy red. Almal word nie ewe ver gestuur nie, maar almal word verseker gestuur. Weet beslis, as die Here jou gered en gereinig het, is jy ’n gestuurde op hierdie oomblik. Na jou eie huis, jou eie werksmense... Hy kan enige mens na enige plek stuur. (God het die plaasseun van die Kalahari, Neil Verwey na die verre Japan gestuur…)

Die oomblik wat jy vergifnis ontvang word jy ’n sendeling!

Dit beteken nie jy gaan nou ’n reuse “sukses” in mense se oë wees nie! Om gestuur te wees deur God beteken nie noodwendig dat almal graag na my gaan luister nie, dit beteken nie dit gaan maklik wees nie, dit beteken nie almal gaan van my hou nie, maar dit beteken wel ek het Goddelike gesag agter my. Ek het ’n taak ontvang en ek moet dit doen of mense wil luister of nie. Jesaja moes ’n ongewilde boodskap aankondig …. (Vers 9)

Is jy al gereinig? Hoor die roepstem van die Here. Antwoord dan : “Hier is ek stuur my!”

Die God van Jesaja 6 is steeds aan die werk. Hy openbaar sy heiligheid aan blinde sondaars, Hy skenk vergifnis aan gebroke sondaars, Hy stuur en gebruik verloste sondaars!
  
* vgl. 'n  Franse vertaling van vers 5 “me voila condamné au silence car mes lèvres sont impures pour me joindre à cette louange...”

Dinsdag 20 November 2012

TOEGANG

- tot in God se teenwoordigheid!

Wat ‘n aangrypende gebeurtenis vind ons hier in Eksodus hoofstuk 24. Moses, Aäron, Nadab, Abihu en sewentig leiers kom in die teenwoordigheid van God! Ja, hulle sien Hom en hulle het geëet en gedrink! As’t ware saam met die lewende God aan tafel. Natuurlik, dit was slegs moontlik nadat hulle met bloed besprenkel is!

Drie groot sake kom uit hierdie gedeelte na vore :

1. God is angswekkend heilig en asemrowend heerlik! 

God is waarlik God. Heilig, hoog en verhewe.  Dis ‘n kernboodskap in beide die Ou en Nuwe Testament. Eeue later het die profeet Jesaja ‘n openbaring van hierdie heiligheid beleef toe hy die Here in sy tempel gesien en gehoor het hoe die serafs roep :”Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige!” (Jesaja 6:3) Terloops, dit het hom platgeslaan in berou en belydenis voor God.  Dit  was egter ook die begin van sy belewenis van versoening en die daaropvolgende roeping. Ons as mense moet ons plek ken voor God en wegbly van alle arrogansie en hoogmoed. God gee hier  die duidelike opdrag aan Moses : “As julle nog ver is, moet julle al voor My buig.” (1) God is nie ons speelmaatjie nie! Ons kan nie met ons onheiligheid en verwaandheid by Hom instorm en vir Hom hiet en gebied nie. Ons kan nie vir Hom beveel nie, Hy beveel ons! Hy alleen gee opdragte!  Hy gee die gebooie waarvolgens Hy gedien moet word. God verwag gehoorsaamheid. Op God se bevel het Moses al die gebooie van die Here neergeskryf en dit aan die volk voorgelees. (4,7) Die hedendaagse rebelse en outonome mens wil mos self besluit wat reg en verkeerd is - ons maak ‘n dodelik gevaarlike fout. God alleen mag besluit wat reg en verkeerd is en Hy alleen bepaal hoe Hy gedien moet word. God se heiligheid en heerlikheid word op verskeie maniere hier onderstreep.  Sy  heerlikheid word verberg deur ‘n wolk wat die berg omhul. Sy heiligheid lyk soos ‘n gloeiende vuur! (16,17) Vuur is meermale ‘n simbool van God se heiligheid in die Skrif. Dink maar ook aan Hebreërs  waar die Sinaï gebeure in herinnering geroep word, en die skrywer dit weer onder ons aandag wil bring : “Ons God is ‘n verterende vuur!”  (Hebreërs 12:29) Mag ons kennis neem : die ware God is ‘n angswekkend heilige God!

As daar nou een uitstaande nood en behoefte in die kerk van ons tyd is, is dit om weer duidelik 
te besef wie God is!

2. God begeer gemeenskap en saamwees met sy mense.

Dis wat so merkwaardig is : die groot heilig verhewe God verlang na gemeenskap met die klein sondige mens. God wil by sy mense wees en in ‘n verhouding met hulle staan. God het sy volk uit Egipte verlos en  gelei met ‘n baie duidelike doel en spel dit uit in Eksodus 19:4-6.  (lees)  Hy het hulle op arendsvlerke gedra en na Homself gebring!  Ja, om by Hom te wees! God neem hier in Eksodus 24 ook die inisiatief en nooi uit : “Klim die berg op na My toe...” (1) God verlos vandag nog mense sodat ons in ‘n verhouding met Hom kan staan. Dis die uiteindelike doel waarop sy redding van sondaars afstuur. Dit word so mooi gestel in Openbaring 21:3 “Kyk, die woonplek van God is by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” 

Weet dit, God wil ook  in ‘n innige verhouding met JOU staan!

3. God maak self voorsiening dat sondaar mense saam met Hom kan wees en sy heerlikheid kan aanskou.

Die eerste twee feite wat ons raaklees in hierdie gedeelte veroorsaak ‘n probleem. God is ontsagwekkend heilig, maar Hy wil in ‘n verhouding staan met mense. Die probleem is - hierdie mense is sondige mense!  Dis die groot dilemma wat die Bybel vir ons stel, maar gelukkig ook self antwoord en oplos : Hoe kan sondaars in die heilige teenwoordigheid van God kom sonder om verteer te word en te sterf?  Hoe vind ons genade by God? Die antwoord kom baie duidelik uit  hierdie gedeelte (die antwoord is die evangelie self) : God maak in sy verbond voorsiening dat die sondes deur offers versoen kon word. Die verbond word deur bloed bevestig. Hierdie bloed is toe op die volk gesprinkel. Na die besprinkeling kon Moses en sy metgeselle die berg uitklim na die teenwoordigheid van God.

Vers 10 en 11 vertel ‘n uitsonderlike opwindende gebeurtenis - ‘n hoogtepunt. “Hulle het die God van Israel gesien ; onder sy voete was ‘n plaveisel van saffiersteen, so blou soos die hemel self. God het geen hand teen die leiers van Israel gelig nie : hulle het geëet en gedrink.”

Mense sien God! Hulle beleef God se teenwoordigheid op ‘n besondere manier. Die heerlikheid van God is natuurlik te groot vir ‘n sterfling om te verstaan en te beskryf - daarom word net gemeld van die plaveisel onder sy voete wat blou siersteen was.  Baie belangrik : hierdie manne eet en drink in God se teenwoordigheid. Om saam met iemand te eet het besondere betekenis. Dis eintlik vandag nog so ook in ons kultuur. Mens nooi nie sommer enige een vir ete nie. Dis ‘n veelseggende teken van aanvaarding en opregte vriendskap en belangstelling! Dit word uitdruklik gemeld dat God geen hand teen hulle opgelig het nie!  Hoekom is dit so buitegewoon?  Dit beklemtoon net weer God se verterende heiligheid. Eintlik mag geen mens naby God kom sonder om te sterf nie, maar God laat hulle toe naby Hom kom op grond van sy groot genade, op grond van die bloed van die verbond waarmee hulle besprinkel is!

Die boodskap vir ons wat Nagmaal gebruik as God se kinders  is baie duidelik. Daar is net een manier hoe ons toegang kan kry tot die heilige God! Ons moet gereinig word deur die bloed van die Middelaar van die Nuwe Verbond, Jesus Christus. (Dis evangelie!) Dit eis van ons dat ons Jesus se offer persoonlik moet aanvaar as genoegsaam vir my eie sondes. Elkeen wat so gereinig is, deel ook in die voorreg van ewige tafelgemeenskap met God.  In Eksodus 24 is daar duidelike lyne wat deurloop na die Nagmaal. In die Nagmaal word die genoegsaamheid van Jesus se offer persoonlik, sigbaar en “proebaar” baie persoonlik aan elkeen bevestig wat glo. “Dis vir julle!”  In die Nagmaal beleef ons  nou reeds tafelgemeenskap met die lewende Here  as ‘n voorskou tot en ‘n voorsmaak van die ewige bruilofsmaaltyd van die Lam. Amen!