BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Hoëpriester. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Hoëpriester. Wys alle plasings

Donderdag 04 Desember 2014

DIE NUWE VERBOND

- gegrond op Jesus Christus as ons Middelaar, Borg en Hoëpriester!

Wat is ‘n Christen? Wie gaan gered word en wie sal verlore gaan? Onmiddellik wil die meeste mense hierdie vraag beantwoord in terme van wat ons doen of nie doen nie. Dan bespiegel hulle : "‘n Christen is iemand wat darem redelik gereeld kerk toe kom, wat hou van bid en Bybel lees, wat ordentlik optree teenoor ander mense, wat nie steel of hoereer nie..."   Om verstaanbare redes skep hierdie manier van redeneer egter probleme. Hoeveel bid is genoeg bid, hoe meet mens heiligheid en ordentlikheid...? Waar trek jy die streep? Wat is die slaagpunt? Hoeveel hare*  maak ‘n baard?


Hebreërs antwoord hierdie belangrike vraag binne die raamwerk van God se verbonde. 

Kom ons kyk net na twee teksgedeeltes uit hierdie besondere brief:

“So het Jesus ook van ‘n beter verbond borg geword.
Daar is ook ‘n ander verskil: omdat die dood die Levitiese priesters verhinder het om aan te bly, was daar baie wat mekaar opgevolg het.
Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hy ‘n priesterskap wat nie op ‘n ander oorgedra word nie.
Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.
Vir ons was so ‘n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele,
een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd ‘n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het.
Die wet stel mense as hoëpriesters aan, en mense het swakhede; maar die uitspraak wat met ‘n eed bevestig is en wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan as ewige en volmaakte Hoëpriester. (Hebreërs 7:23-28)

“Daarom is Hy ook die Middelaar van ‘n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang.” (Hebreërs 9:15)

NUWE VERBOND

Ons weet God werk met mense binne die raamwerk van ‘n verbond. Hy het met Abram reeds ‘n verbond gesluit. (dikwels genoem die Genadeverbond) God herbevestig sy verbond met Abram se nageslag by Sinai. (Mosaïese verbond, waarna later verwys word as die Ou Verbond**) Maar hier in Hebreërs word nou gepraat van ‘n Nuwe Verbond. Wat is dit, waarom was dit nodig? Jy sien, daar het ‘n probleem ontstaan met die onderhouding van God se verbond. ‘n Verbond het mos twee kante : Gods se kant – dit wat Hy beloof. Die mens se kant - dit wat die mens se plig is. Waar die verbondsbepalings nagelaat en oortree word kom daar oordeel en straf ter sprake. Nou weet ons wat leer die geskiedenis – Israel het klaaglik misluk in hulle nakoming van die verbondsbepalings. Hulle kon nie hulle kant van die voorwaardes nakom nie. Hulle het wel plegtig belowe om dit te doen (Eksodus 24:7)***, maar in die praktyk was dit ‘n heel ander saak. Wat nou, is als verlore, is verlossing onmoontlik?

God se oplossing vir die mens se mislukking is die Nuwe verbond. Dit word by meer as een geleentheid in die vooruitsig gestel deur profete soos Jeremia, Esegiël en ander... Die nuwe verbond is baie beter. Die Nuwe verbond behels dat ons volle vergifnis kry en van binne af nuut gemaak word. Dit behels 'n oorvloedige werk van die Heilige Gees.  Die skrywer verwys na Jeremia se profesie en haal dit breedvoerig aan. (8 :7-12) Let veral op na die groot troos van volkome vergifnis in terme van die Nuwe Verbond! “Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie." (8:12)

Samevattend sou mens kon sê, die Nuwe Verbond is beter weens die deurslaggewende rol van Jesus Christus. Dit word in Hebreërs op verskeie maniere uitgelig. Hebreërs beskryf vir ons : Jesus is die Middelaar van die Nuwe Verbond, die Borg van die Nuwe Verbond, die Hoëpriester van die Nuwe Verbond. (die betekenisse oorvleuel)

Binne die konteks van die Nuwe Verbond speel die kruisdood en opstanding van Jesus die sentrale rol!

Jesus is die Middelaar van die Nuwe Verbond. (Sien weer Hebreërs 9:15 hierbo) As Middelaar het Jesus as’t ware die Nuwe Verbond tot stand gebring of te wel bemiddel tussen God en mens. Hy is die tussenganger. Hy het deur self die straf te dra van die mislukkings van die Ou Verbond weer die verhouding tussen God en mens herstel. Sy Middelaarskap hou ook nie op na ‘n tyd nie. Hy leef ook altyd om vir ons gedurig in te tree en voorspraak te doen. (7:25) 

‘n Borg betaal wat jy nie het nie namens jou, staan in vir jou, waarborg iets namens jou. As Borg het Jesus kom instaan vir ons sondeskuld en dit namens ons aan die kruis betaal. Hy het gedoen wat ons nie vir onsself kon doen nie. Hy is gestraf vir ons sonde, vir ons verbondsverbreking. Maar dit gaan ook oor meer. Hy het ook positief die heilige lewe wat God van ons verwag, namens ons geleef. Dit wat die verbond van ons geëis het, maar waarby ons nie kon uitkom nie, dit het Hy gedoen.

As Hoëpriester het Jesus nie bloot diere geoffer nie, maar Homself eenmalig aan die kruis geoffer en so ons straf gedra en vir ons toegang bewerk tot in God se heiligdom.**** Dis al manier hoe ‘n sondaar weer ‘n skoon gewete kan kry. "Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien!" (9:14!) Ja, ek weet ek is skuldig, maar ek weet ook dat Jesus my spesifieke sonde se straf gedra het en daardie sonde bestaan dus nie meer in God se boeke nie! Dit gee my gewetensrus! Maar meer nog, hierdie volmaakte offer maak my 'n erfgenaam van 'n heerlike toekomstige erfenis!

WAT IS ‘N CHRISTEN?

Terug by die beginvraag. Wie is ‘n Christen? ‘n Christen is ‘n mens wat in terme van die Nuwe Verbond volle vergifnis ontvang het op grond van die volkome werk van Jesus die ewige Hoëpriester, Middelaar en Borg van die Nuwe Verbond. Nog eenvoudiger, ‘n Christen is iemand wat Jesus as sy persoonlike Middelaar en Hoëpriester aanvaar het en ken. Die snypuntvraag is : Het jy ‘n Middelaar of probeer jy op eie stoom by God uitkom? (Die waarheid word bevestig deur 1 Johannes 5:12.) Wat eis God dus nou van ons? Een groot saak : om Sy Seun Jesus as ons enigste Here en Verlosser te aanvaar. Om Hom alleen te vertrou! Leef ‘n Christen dan nie anders nie? Wat van die bid en die Bybel lees...? Natuurlik, maar hy is eerstens wesentlik  anders, anders in die sin dat hy ‘n persoonlike Borg het. Ek word ‘n Christen omdat Jesus my Middelaar is en dan begin ek ook anders leef. (Vir meer oor die anders wees, kliek op ANDERS)

*’n uitdrukking wat ek van Nico van der Walt gekry het.

**Terloops, na die Abramsverbond word nooit as Oud verwys nie.

*** “Hy (Moses) het die verbondsboek geneem en dit vir die volk voorgelees. Hulle het gesê: "Ons sal alles doen wat die Here beveel het en daaraan gehoorsaam wees."

****Die heerlike praktiese implikasies van Jesus se hoëpriesterskap word pragtig uitgespel in Hebreërs 4:14-16. Dis ‘n versekering waarsonder die kind van God nie vrede kan hê en funksioneer nie...

BELANGRIK : Dis baie duidelik dat Jesus se plaasvervangende sterwe en versoenende offer sentraal staan in ons redding om sodoende vir ons ‘n ewige toekomstige erfenis te verseker. Beide hierdie waarhede word deur ‘n dwaalprofeet soos Marcus Borg ontken! (Kliek op MARCUS BORG)

Donderdag 22 Mei 2014

REGTE HULP OP DIE REGTE TYD

- vir elkeen wat deur die Hoëpriester na die Troon gaan.

Een of ander tyd benodig alle mense hulp van een of ander aard. Dis baie belangrik, dit moet die regte hulp wees. En dit moet betyds wees. As ek byvoorbeeld op pad na ’n dringende vergadering ‘n pap wiel sou kry en die spaarwiel is nie gepomp nie dan benodig ek ’n pomp... As iemand langs die pad ’n koppie koffie aanbied is dit goed, maar dit sal my nog nie betyds by die vergadering laat kom nie. Die regte hulp sal dus ’n pomp wees en dit moet gou genoeg gebeur om nog betyds vir die afspraak te kom. Net so ’n ambulans wat te laat opdaag of ’n brandweer wat te lank vertoef is eintlik tevergeefse of nuttelose hulp.

Die wonderlike belofte in Hebreërs 4:14-16 verseker elke kind van God van die regte hulp op die regte tyd...

Dinsdag 16 April 2013

MOET EK MYSELF VERGEWE

 - in die lig van die Bybelse lering oor vergifnis? 



So dikwels hoor mens : “Ek weet God het my vergewe, maar ek sukkel nog om myself te vergewe.” Dit klink vroom en word seker baie opreg bedoel, maar is dit hoegenaamd nodig om onsself te vergewe? Verwag God so iets van my? 


Die kwessie van selfvergifnis is natuurlik nie net beperk tot Christene nie. Orals in die sekulêre wêreld word die waarde van selfvergifnis aangeprys en raad hieroor is net so volop soos vlooie op ‘n krimpvarkie. ‘n Vinnige kykie op die internet bevestig dit. Die Huffington Post bied ‘n oplossing in “10 Steps to Forgiving Yourself” terwyl wikiHow meen nege stappe is blykbaar genoeg in “How to Forgive Yourself : 9 Steps (with pictures!!!)”. Almal wil help met hierdie saak, selfs oorvriendelike Oprah (nie juis ‘n bron van waarheid nie) op wie se webwerf jy “Time-tested rituals to help you find courage to forgive yourself” kan vind. 

Kom ons stel dit sommer reg hier van die begin af : 

Jy kan jouself nie vergewe nie en jy hoef ook nie! 

Jy kan jouself nie vergewe nie, want net God kan sondes vergewe. In Markus 2:5 het Jesus die ystervark in die skrifgeleerdes se ballonfabriek losgelaat toe hy vir die verlamde man gesê het : "Vriend, jou sondes word vergewe!" Waarom het hierdie uitspraak van Jesus soveel woeling en verontwaardiging veroorsaak? Die skrifgeleerdes het tereg geweet : Net God kan sondes vergewe! Die ontstoke skrifgeleerdes was dus in beginsel reg om kwaad te word. Hulle het egter fouteer dat hulle nie Jesus as Seun van God wou erken nie! Jesus gaan voort om die verlamde te genees, juis om die radikale punt te bewys, dat Hy, die Seun van die mens die gesag het om op aarde sondes te vergewe. Goddelike gesag! Die volmag om sondes te vergewe bewys juis sy uniekheid as eniggeborene van die Vader. Hierdie gesag is nie iets wat ons vir onsself kan opeis nie. Ons sonde, ja alle sonde, ook dit wat ons medemens benadeel het, is in die eerste plek sonde teen God en net God kan dit vergewe. Dit het Dawid goed besef na sy tragiese owerspel en moord. Hy erken : “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in U oë” (Psalm 51:6) 

Jy hoef jouself ook nie te vergewe nie, en God se Woord vra dit ook nêrens van jou nie. Nie as jy jou vertroue op Jesus se versoeningsoffer geplaas het nie. Die kruisiging van Jesus was ‘n verskriklike werklikheidsgebeurtenis, nie maar bloot ‘n skyndrama nie. Daar het God beslissend met die sondes van elke gelowige gehandel. Hy het daarmee afgereken! Romeine 8:3 stel dit so : “Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel.” Die implikasie van Jesus se kruisdood vir die vergifnis van (al) ons sondes word pragtig gestel in Kolossense 2:13,14 wat so duidelik van God se kinders sê : “Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. Hy het die skuldbewys (dokument) met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.” My sondige rekord is uitgewis, die dokumente daaroor is vernietig. (Natuurlik, soos iemand dit gestel het, sal die Satan jou probeer herinner aan jou sondes, hy het “photocopies” van daardie dokumente gemaak, maar dit het geen regsgeldigheid nie!) Op grond van Jesus se werk aan die kruis, is die vergifnis wat ons nou in terme van die Nuwe Verbond ontvang, volledig en omvattend. “Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie", verseker Hebreërs 8:12 ons. So, geliefde kind van God, wat jou hoop op Jesus stel, waarvoor wil jy jouself nog vir vergewe? Wat is oor om te vergewe? Jou skuld is vir ewig en altyd uitgewis! Wat nodig is van my kant is om net hierdie waarhede te glo! Om triomfantelik saam met Paulus as’t ware uitdagend uit te roep: “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” As ek met die saak van vergifnis worstel, as my eie gewete of enigiemand anders my aankla, is die antwoord nie om in my eie onstuimige binneste rond te krap nie, maar om my kop op te tel en na die evangelie feite te kyk soos Paulus hier maak : Jesus het mos gesterf, Hy het mos opgestaan, Hy is mos besig om vir my in te tree. Dis mos kranksinnigheid om iets hierby te wil byvoeg, of hoe? Ja, die evangelie beloftes moet geglo word ten spyte van al die negatiewe feite van skuld en skande waarvan ekself so pynlik bewus is. Reddende geloof is ‘n geloof wat baklei teen die sigbare feite. Soos Abram geglo het in God se beloftes ten spyte van die feite oor sy en Sara se verouderde gedane liggame. Gaan lees maar weer Romeine hoofstuk 4.

En hoe op aarde vergewe mens jouself in elk geval? Wat wil jy doen, sê of voel? Een van die wêreldse raadgewers oor selfvergifnisrituele doen die volgende aan die hand : “Learn how to consciously make a sacrifice in light of your desire for forgiveness. You can do therapeutic work, or have a large network of people for support, but still not feel forgiven. That sort of forgiveness comes from a place of surrender. In all wisdom traditions, it was customary to give some kind of offering, or sacrifice, for atonement. You can create your own sacrifice by asking yourself, "What will be my offering?" It could be philanthropy, political activism—something that requires a sacrifice of your time, money or effort. The key is to consciously make that sacrifice in light of your desire for forgiveness.” 

Watse klomp snert! Dis juis die punt. Jesus het mos die offer gebring. Kan daar ‘n groter offer wees as die lewe van God se Seun? Bogenoemde raad wil mens laat skreeu : “Waarom verwerp julle God se Seun en probeer julle julle eie geregtigheid oprig?” 

As jy sukkel en stoei met ‘n skuldige gewete, as jy voel jy kan jouself nie sien as iemand wat rein en skoon voor God en jou naaste kan staan nie, lê die worteloorsaak by een van twee redes : Of jy het nog nooit die Here Jesus as jou Hoëpriester aanvaar nie en maak dus nog staat op jou eie geregtigheid of jy is nog ernstig onkundig oor die volle betekenis van sy kruis en opstanding, al glo jy in Hom. 

Kom na Jesus, kom hoor weer kinderlik wat sê die Woord oor die bevryding van die gewete : “Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ‘n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien!” (Hebreërs 9:13,14) 

[Daar kan situasies wees, waar ek medemense te na gekom het en die Here dit op my hart lê om met hulle te gaan vrede maak of skade en skuld te gaan vergoed. (soos Saggeus) Die doel daarvan is egter nie om vergifnis te ontvang nie, dit het God my reeds gegee. Die rede daarvoor is om ‘n getuienis te lewer en in konkrete liefde en vrede met my medemens te leef.] 

Allerhande selfvergewingstegnieke kan dalk tydelike sielkundige verligting bring. Die enigste volledige en ewige kwytskelding van my sonde is egter slegs te vind in die volmaak en genoegsame offer van die Lam van God. Hy het my straf ten volle gedra en my sonde sommer ook weggedra! (kliek op LIG UIT LEVITIKUS) Hierdie offer het my Vader tevrede gestel, die bewys daarvan is die opstanding van Jesus uit die dood, die leë graf... as God dan tevrede voel oor hierdie offer, wie is ek om nie te wees nie?

Rus in die genoegsame offer van Jesus en vergeet wat agter jou lê. Hoe anders sou 'n Paulus of 'n Petrus met hulle donker verledes ooit bruikbare en entoesiastiese instrumente in God se hand kon wees?

Gaan leef in die vreugde van die volle vergifnis wat God jou deur Jesus geskenk het en dank Hom met jou lewe!