BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 30 Mei 2019

“DIE HERE HET VIR MY GESÊ”

Hierdie frase is nogal algemeen in sekere Christelike kringe. Wat bedoel mense hiermee? Is dit dieselfde wat Paulus bedoel as hy van die leiding van die Gees praat? Wat is die Bybelse betekenis van “leiding deur die Gees”? 



In Romeine 8:14 maak Paulus ‘n uiters belangrike stelling oor die werk van die Heilige Gees. “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.” 

Die Heilige Gees werk nie net eenmalig in mens se lewe nie, maar Hy lei die kind van God op ‘n daaglikse basis. 

Paulus stel dit as ’n kategoriese feit. Dis waar van elke kind van God. Die implikasie is duidelik. As ek nie deur Heilige Gees gelei word nie, is ek nie ’n kind van God nie. Maar wat beteken dit nou prakties? Beteken dit dat ek nou gedurig stemme hoor, skimme sien of drome droom? Is dit gelykstaande aan wat mens so dikwels hoor : “Die Here het vir my gesê”? Nee, dis nie primêr wat hier in Romeine ter sprake is nie. 

Natuurlik kan die Heilige Gees ‘n begeerte of indruk op my hart plaas, dikwels ‘n Skrifgedeelte in spesifieke omstandighede. Ongetwyfeld gebeur dit dat God se kinders ‘n dringendheid in hulle harte ervaar om byvoorbeeld spesifiek vir iemand te bid of iemand te gaan besoek. Of 'n besondere gevoel van vrede (aan die anderkant besondere onrus) wanneer moeilike besluite geneem moet word. Dit sou sekerlik ook as leiding deur die Heilige Gees beskou kon word. Ek dink net mens moet baie versigtig wees om sommer oral rond te vertel dat die Gees my so en so gelei het... ons subjektiewe gevoelens is baie onbetroubaar en self die groot evangelis George Whitefield het in sy jong dae hier gefouteer toe hy die “indruk” gekry het dat sy jong seuntjie ‘n groot prediker sou word. (Die seuntjie het egter vroeg gesterf.) 

Die punt is net - die leiding van die Gees waarvan Paulus hier praat is iets baie wyer en algemener as hierdie persoonlike indrukke in sekere omstandighede. 

Die konteks waarin Paulus hierdie uitspraak maak is belangrik. Dit gaan in hierdie gedeelte oor ’n nuwe lewe wat vereis dat ons ons sondige praktyke moet uitroei en gehoorsaam raak aan God se wil. (Kyk spesifiek na Romeine 8:12-17) 

Kom ons kyk na 'n paar maniere hoe die Heilige Gees elke kind van God in hierdie opsig prakties lei* : 

1. Die Heilige Gees gee aan my ’n nuwe lewensuitkyk en beskouing. Hy lei my tot 'n nuwe waardasiesisteem. God raak vir my belangriker as geld, goed en genot. “Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het.”(1 Korintiërs 2:12) Die Gees laat my die waarde van God se genade en vergifnis, wat ek deur Jesus ontvang, besef. Hy gee my insig in en aptyt vir geestelike dinge. Ek ervaar ‘n honger na die Woord, die Bybel gaan vir my oop, ek geniet geestelike gesprekke. (Voorheen was dit dor en droog en irrelevant). Toets jouself : sien jy uit na gemeentelike byeenkomste of voel dit soos ’n straf? Maak die Bybel sin? Hy wek ook ‘n liefde in my vir ander Christene; hulle gesprekke en belewenisse is nou relevant. Die Heilige Gees laat sien my die hele lewe vanuit ‘n ewigheidsperspektief en hemelse hoek. Ek sien my aardse bestaan as ’n pelgrimsreis na ’n beter bestemming. Iemand wat deur die Gees gelei word, sien uit na die heerlike erfenis wat alle smart van nou by verre sal oortref! In hierdie einste hoofstuk getuig Paulus hiervan : “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” (Rom 8:18) 

2. Die Heilige Gees wek in my ’n begeerte om God as my Vader aan te roep en volgens sy wil te leef. Die Vaderskap van God word vir my ‘n persoonlike werklikheid. Die Heilige Gees bewerkstellig ‘n innige band tussen my en my Hemelse Vader! “Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: "Abba!" Dit beteken Vader.” (Rom 8:15) As die Heilige Gees my lei, leef ek ‘n lewe voor die aangesig van God. En ek vra nie meer wat mense dink nie, maar : “Vader, wat is U wil?” Die Heilige Gees maak my dus bekommerd oor my gebrekkige liefde vir God en laat my smag na ‘n inniger verhouding met Hom. Hy bring ook kommunikasie tussen my en my Vader tot stand deurdat Hy vir ons pleit. “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.” (Rom 8:26) 

3. Die Heilige Gees maak my sensitief vir sonde. Hoe meer ek geestelik groei, hoe meer raak ek bewus van sondige gewoontes, denkwyses en motiewe wat nog in my binneste skuil. Ek raak oortuig van die sondigheid van praktyke waarmee die samelewing in die algemeen geen probleem sien nie. Onthou Hy is die Heilige Gees! Hy is heilig en kan nooit met enige sonde kompromie maak nie. Hy maak mens gevoelig vir versoekings en sonde. Hy wek in my ’n kommer en hartseer oor my sonde. Die ongelowige is wel ook soms teleurgesteld in homself of voel sleg oor die gevolge van sy sonde. Die Heilige Gees laat my egter besef, dis teen die Here wat ek gesondig het. Soos Dawid in Psalm 51:6 ervaar het. “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig.” Die Heilige Gees stem my versigtig en onrustig oor sekere plekke of persone. Ek weet net : “Bly weg hier. Dis gevaarlik vir jou wandel met God!” Die Heilige Gees lei mens dus om in alle situasies teen die wêreld en sy aanloklike begeertes te kies en vir die navolging van Jesus. 

4. Die Heilige Gees open my oë vir die genade, heerlikheid en genoegsaamheid van Jesus. Juis in die konteks van die bewustheid van my sonde! Ek besef my nood, maar juis daarom ook die allesoortreffende waarde van Jesus . Net Hy is die antwoord vir my diepste sondenood en gebrokenheid. Ja, ander mense weet dalk van Hom, maar dis waar dit eindig. Deur die Gees word Jesus vir my ‘n lewende werklikheid en plaas ek al my hoop op Hom! Die Heilige Gees verheerlik Jesus en openbaar Hom en sy werk aan ons. “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.” (Joh 16:13,14) Waar die Heilige Gees mense lei, val die fokus op Jesus en sy werk. Is Jesus vir jou oneindig kosbaar? Dis net die Gees wat jou so tot hierdie besef kon lei! 

5. Die Heilige Gees skep in my hart ’n begeerte na geregtigheid, na die doen van God se wil. ‘n Honger en dors om te doen wat reg is. Hy laat my ook oorgaan tot aksie om teen sonde te stry en dit uit te roei. Dis waarskynlik die belangrikste inhoud van wat dit hier beteken om deur die Heilige Gees gelei te word, want vers 13 onderstreep die belangrikheid om alle sondige praktyke in ons lewens uit te roei!  want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.” (Rom 8:13 OAV)  Ons self moet praktiese stappe neem, maar dis die Heilige Gees wat ons oortuig van wat verkeerd is en die krag en moed gee om daadwerklik op te tree. 

6. Die Heilige Gees gee ons nie net krag om die verkeerde uit te roei nie, maar produseer positiewe vrug in ons lewens. Die vrugte van die Gees beskryf hierdie positiewe verandering in lewensstyl en gedrag so : “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” (Galasiërs 5:22,23) Alle Christene sal al die vrugte vertoon in toenemende mate. Die Gees lei ons dus om heilig en al heiliger te leef! 

Die Gees lei God se kinders, maar ons moet daagliks doelbewus kies om Hom gehoorsaam te wees! 

Alle Christene het die Heilige Gees en alle Christene word gelei deur die Heilige Gees. Sonder sy werk in ons kan ons nie kinders van God word nie en ook nie as kinders van God leef nie! Kom ons bid vir ‘n groter bewuste werk van die Heilige Gees in ons lewens. Kom ons verbind ons tot ‘n groter gehoorsaamheid aan die Heilige Gees se leiding, spesifiek om teen sonde te stry en dit uit te roei.

*Hierdie is nie 'n volledige beskrywing van die werk van die Heilige Gees se werk in die gelowige nie, maar die kern belangrike sake wat 'n aanduiding is dat Hy iemand lei. Daar is werkinge van die Gees byvoorbeeld die krag tot getuienis en die gawes in die liggaam van Christus wat glad nie hier bespreek word nie. Ek gee ook graag erkenning aan dr. Martyn Lloyd-Jones se preke oor Romeine 8 as bron vir bogenoemde gedagtes.



                 San broers en susters wat saam die nagmaal gevier het op 19 Mei 2019

Woensdag 22 Mei 2019

Kliniek of Paradegrond?

- Die Bybelse benadering tot praktiese Christenskap en heiligheid mag jou dalk verbaas... 


Kom ons oordink spesifiek 1 Timoteus 6:12-16. (lees dit gerus) Paulus skryf ‘n persoonlike brief aan die jongman Timoteus om hom aan te moedig en raad te gee. Hy skryf onder andere oor die gevaar van dwaalleringe en in die direkte voorafgaande gedeelte oor die groot, maar subtiele gevaar van die liefde vir geld. (9,10) Geldgierigheid is dodelik gevaarlik vir ‘n kind van God! 

Met dit as agtergrond stel Paulus nou vir Timoteus voor ‘n direkte uitdaging of sommer ‘n prontuit bevel : “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.” (1 Timoteus 6:12) 

Kom ons hoor dit mooi : 

“Stry die goeie stryd van die geloof!” * 

Prakties behels dit ‘n wegvlug en afkeer van als wat verkeerd is (soos geldgierigheid) en ‘n najaag en gryp na dit wat reg is. (11) Paulus wil sê :“Komaan Timoteus, jy het mos openlik voor getuies bely aan wie se kant jy is (ek herinner jou net daaraan), nou moet jy vasvat en aangaan en volhard en werk maak van jou geloof! Dis ‘n harde geveg wat voorlê!” 

Die hoofsaak wat ons aandag vra is : Die Bybelse begrip van praktiese Christenskap, heiligmaking en groei behels ‘n aktiewe robuuste stryd! 

TWEE TEENOORSTAANDE BENADERINGS 

Daar is twee sterk teenoorstaande benaderings of sienings van hoe Christene dink heiligmaking en groei aangepak behoort te word. Afhangende van watter benadering mens voorstaan, het dit ook ‘n bepaalde effek op jou verstaan van kerkwees. En wat jy van die kerk verwag... 

Die twee benaderings kan genoem word: Die kliniek benadering en die paradegrond benadering. 

KLINIEK 

Die kliniek benadering klink dikwels so: “Ag, ons verstaan hoekom jy nie betrokke wil wees by die kerk nie, want soveel mense het jou teleurgestel en jou seergemaak. Ag, ons verstaan waarom jy nie sonde wil los nie, want jy het nie ‘n goeie voorbeeld in jou ouerhuis of skool gehad nie. Ag, ons almal is so swak, ons is so besig, ons is so onvolmaak, ons is so menslik, die Here sal verstaan as ons Hom maar die laaste plek in ons lewe gee. Ag, ek is so swak ek sukkel om te groei, sonde te los of te getuig. Maar, wat dit is nie so ernstig nie, want ons almal sukkel maar...” 

Vanuit hierdie besef van voortdurende swakheid, sondigheid en ellende verstaan en beskou mense die kerk as ‘n kliniek waar ons heeldag pilletjies gee, windjies uitvryf en vars doeke aansit. O, en daar mag tog net niks gesê word wat iemand sal ontstel nie! Sonde mag nie by die naam genoem word nie. Laksheid en die verbreking van beloftes mag nie direk aangespreek word nie. As iemand my net skeef aankyk, net effentjies op my tone trap, dan vat ek my goed en loop na ‘n kerk wat as ‘n meer simpatieke kliniek kan funksioneer... Die klem in hierdie benadering is altyd op die individu se gevoelens en gemoedstoestand en allerhande probleempies. “O, soveel mense en dinge het my seergemaak in my lewe…” En wat is die gevolg? Al die aandag op myself en my hartseer situasie vuur net selfbejammering en verskonings en passiwiteit aan! Daar is ‘n sieklike klem op sentimentaliteit en subjektiwiteit… Hoe voel ek, hoe word ek behandel, hoe raak dit my….? 

PARADEGROND 

Die paradegrond benadering kyk vanuit ‘n heel ander hoek. Die vertrekpunt is juis (anders as wat jy dalk sou verwag) God se omvattende en genoegsame genade. God het ons in Jesus volkome vrygespreek, Hy dink nie meer aan ons sonde en mislukkings nie. Sy liefde is vas en seker vir sy kinders. Niks kan ons daarvan skei nie. (Romeine 8:31ev.) Maar juis weens sy groot en ryk genade rus daar ‘n dankbaarheidsplig op elke ontvanger daarvan. Die verlede is mos verby! Nou word ons opgeroep tot die stryd! Nou is die tyd vir sterk staan en weerstand bied teen die sonde! Die oorwinning is mos reeds behaal op Golgota! Die graf is leeg! 

Wat ‘n groot verskil met die kliniek benadering! Die bekende Martyn Lloyd-Jones het homself prontuit hieroor uitgespreek : “The main trouble with the Christian Church today is that she is too much like a clinic, too much like a hospital; that is why the great world is going to hell outside.”** (Terloops, hy was nie ‘n harde man nie! Hy was ‘n ware sielesorger en boonop nog ‘n mediese dokter ook! Maar hy het die waarheid van die Skrif ernstig opgeneem.) 

WEES ‘N DAPPER SOLDAAT! 

Die Bybelse benadering tot heiligmaking is die van ‘n paradegrond, van opdragte aan ‘n soldaat! Geen pamperlang benadering nie! Geen toedraai in watte aanslag nie. Geen plek vir sissies nie. Stry die goeie stryd van die geloof! Hoor Paulus se styl : “Ek gebied jou/beveel jou voor die aangesig van God...” (13) Dis paradegrondtaal! Geen mooipraatjies nie! Ja, as daar wonde en letsels is dan verbind ons dit in liefde met die Woord, maar ons bly nie broei daarop nie, ons gebruik dit nie as verskonings nie, ons gaan positief aan met die stryd, ons hardloop die wedloop! Dis dwarsdeur die Nuwe Testament die benadering tot die leef van die Christelike lewe : 

Romeine 8:13 “want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.” Aksie, daadwerklike optrede! 

1 Korintiërs 16:13 “Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk!” 

Efesiërs 6 :10ev “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. 
Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 
Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.” 

2 Timoteus 2:3 “Dra jou deel van die ontberings soos ‘n goeie soldaat van Christus Jesus.” 

Hebreërs 12:4 “Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ‘n stryd om lewe of dood geword het nie. Julle moet bereid wees om nog baie harder teen die sonde te stry!” “ten bloede toe” soos die OAV dit stel. 

2 Petrus 1:3-5 “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. 
Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur. 
En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met....” 

Dis duidelik, die hele spektrum van Nuwe Testamentiese skrywers het hierdie positiewe, robuuste paradegrond benadering! 

Hierdie Bybelse oproepe onderstreep : Dit gaan oor die Koning en sy opdrag, nie primêr oor myself en my puntenerige behoeftetjies nie! Sy eer en nie my gerief nie! Stop die fokus op my gevoelens, my mislukkings en my suksesse. Raak ontslae van 'n sieklike selfbeheptheid en selfgesentreerdheid! Die vraag is : Wat bring eer aan die Koning, wat maak Hom bly? Wat is sy wil, sy opdragte? Die klem is nie meer op my as individu nie, maar die saak van die Koning, die welsyn van die kerk van Jesus, die groter prentjie… Hy is immers die Koning van die konings en die Here van die here! (15) Vergeet bietjie van jouself en doen wat jy moet doen! En weet jy wat? Juis hierin lê ons vreugde! 

Kinders van God, wat vrygespreek en vergewe is, wat die Heilige Gees ontvang het, is nie meer slagoffers nie, maar soldate! 

Ons is geloofstryders! As ons ons geloof bely dan is dit ‘n openlike toetrede tot die weermag van Jesus, onderwerping aan sy gesag, ‘n bereidverklaring om die stryd tot die einde te stry onder sy bevel! My vriend in Jesus, STRY DIE GOEIE STRYD! 

*Die NAB vertaal dit effens anders, maar die nuutste Afrikaanse vertaling, sluit weer aan by die OAV. “Stry die goeie stryd van die geloof!” (DLV) 

**Martyn Lloyd-Jones, Romans 6, p174

Vrydag 17 Mei 2019

LUISTER NA LEVITIKUS


- WEES HEILIG! 



Levitikus is nou seker nie juis die gewildste Bybelboek onder Christene nie. Dis hoofsaaklik ‘n beskrywing van offers en wette. En ons weet tog ons hoef nie meer bloedoffers te bring nie, want Jesus self is die finale en genoegsame OFFER van die Nuwe Verbond. Nou wat van al die ander wette? Ons weet tog ook dat ons nie meer onder al hierdie detailwette byvoorbeeld die voedselwette staan nie, juis ook omdat ons nou in die bedeling van die Nuwe Verbond leef. (Kliek op KREEF



Maar het Levitikus dan nog enigsins vir ons ‘n boodskap? 


Ja, baie beslis! Wat is dié boodskap? 'n Boodskap wat die kerk nou nodiger het as ooit tevore...  “En julle moet vir My heilig wees, want Ek, die HERE, is heilig; en Ek het julle van die volke afgesonder om myne te wees.” (Levitikus 20:26) 

Kyk ook na Levitikus 11:45; 19:1,2. Soos ‘n refrein klink dit deurgaans-  "Wees heilig, want ek is heilig!"

En baie belangrik!  Hierdie beginsel word eksplisiet in die Nuwe Testament herhaal. “Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: "Wees heilig, want Ek is heilig." (1 Petrus 1:15,16) 

TWAALF ARTIKELS

‘n Heilige kerk, ‘n heilige afgesonderde Godsvolk – dis ‘n kernwaarheid van die Christelike geloof! Dis immers wat ons gereeld bely in die Twaalf Artikels – “Ek glo in ‘n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges!”

Ja,daar is twee uitstaande kenmerke van die kerk van Jesus – Eenheid. “algemeen”. God het net een kerk oor die hele wêreld, die kerk van alle tye, die kerk wat bestaan uit alle nasies volke en tale. Die ander opvallende en uitstaande kenmerk, eintlik die eerste een wat die Apostolicum uitlig, is die heiligheid van die kerk. Wat beteken dit en waarom is dit so belangrik? 

LIG IN 'N DONKER LAND

In Levitikus vertel die Here aan die volk wat Hy uit Egipte verlos het hoe hulle moet leef. Onthou God het sy volk uit Egipte verlos sodat Hy hulle God kan wees. Hy wil in ‘n innige verhouding met hulle staan. By Sinai vertel Hy aan hulle hoe dit werk... (Eksodus 19:4-6!) “Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het. As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En júlle sal vir My 'n koninkryk van priesters en 'n heilige nasie wees....” 

Hierdie volk moes nou in die land Kanaän gaan woon. Die land Kanaän was vol heidene. Dit was ‘n gruwelike plek vol okkultisme en afgodery – mense het daar selfs hulle kinders aan die afgod Molek geoffer. Afgryslike onsedelikheid, tempel prostitusie, geweld en verwording... En nou sê God vir sy volk in hierdie konteks : “Julle moet anders leef as die goddelose mense rondom julle. Julle is spesiaal, julle is afgesonder vir my. Ek het julle eenkant gesit vir Myself!” Heilig beteken dus - rein, skoon, eenkant gesit, spesiaal afgesonder. “Wees anders as die verdorwe heidendom, want julle is my spesiale mense! Julle is my verteenwoordigers! Julle moet My eienskappe uitstal. Julle moet vir hierdie besoedelde en deurmekaar heidene wys hoe lyk die karakter van die ware God. Julle moet lig wees in die nagdonker duisternis. Ek is heilig, julle moet daarom ook heilig wees!” 

Ons word nou nog net so geroep om anders te wees as die wêreld rondom ons – Ons het ander standaarde as die wêreld. Ons moet God liefhê in ‘n wêreld wat God en sy ordes haat, ons moet God eer en eerste stel in ‘n wêreld wat geen ontsag meer vir God het nie, ons moet vergewe in ‘n wêreld wat vergelding en weerwraak soek, ons moet rein leef in ‘n wêreld wat sedeloos en losbandig leef, aan God getrou wees in 'n verdorwe kultuur wat homoseksualiteit verafgod! Ons moet nugter wees in ‘n wêreld waar mense dink dis snaaks en "cool” om dronk te wees, ons moet eerlik wees in ‘n wêreld wat vol bedrog en korrupsie is, ons moet nederig wees in ‘n wêreld wat altyd spog en brag en selfverheerliking nastreef… Samevattend, ons moet soos Jesus leef in ‘n wêreld wat Hom juis gekruisig het! GEVAARLIK! Hulle gaan ons wat heilig is, ook kruisig! (Vra vir Israel Folau. Terloops, dis darem jammer hy kon nie 'n afgevaardigde wees by die onlangse sinode van die NGK Weskaapland nie!) 

VIR ALMAL!

Hierdie heiligheid is inherent deel van Christenwees. Dis nie net ‘n opdrag vir sommige Christene nie, maar vir almal. 

Alle Christene word as heiliges aangespreek in die Nuwe Testament. (1 Korintiërs 1:2) “Aan die gemeente van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as onse Here:" (OAV) 
"Aan die gemeente van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here." (NAB) 

Alle Christene word dringend opgeroep tot heiligheid! (Hebreërs 12:14) “Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.” 

Wanneer die kerk nie meer heilig is nie verloor sy haar getuieniskrag en maak ‘n bespotting van die evangelie! Inderdaad kan die kerk so onheilig raak dat selfs die goddelose wêreld daaroor geskok is!* 

Sonder heiligheid kan ons nie ons roeping vervul nie, sonder heiligheid kan ons nie getuies wees nie, nie bruikbaar wees nie. Sonder heiligheid sal ons nie blydskap en sekerheid beleef nie! Sonder heiligheid verloën jy Jesus wat jou juis losgekoop het om juis heilig en afgesonder vir Hom te wees. 

As jy hoegenaamd dankbaar is vir Jesus se kruisdood in jou plek, as jy vanoggend bely om aan die lewende God te glo en aan Jesus behoort, hoor en gehoorsaam hierdie opdrag : Wees HEILIG, WANT EK IS HEILIG! 

*Hierdie pynlike feit is nou weer op skokkende wyse aan die lig gebring deur die Pool, Tomasz Sekielski se skokkende dokumentêr : TELL NO ONE (2019)


Heiligheid beteken vir ons nie meer dat ons nie kameelvleis mag eet nie, maar wel dat ons soos Jesus moet leef volgens die beginsels van die Nuwe Verbond!



Vrydag 10 Mei 2019

RUT : RAMP TOT TRIOMF

Rut is ‘n aangrypende liefdesverhaal. Min liefdesverhale begin egter op ‘n droewiger noot. (Lees gerus nou eers Rut hoofstuk 1) Dit begin met gebrek, droogte en dood! Dit lyk asof als wat vir hierdie familie verkeerd kan loop wel verkeerd loop. Jy ken dalk ook sulke tye... 

En dis nie net droogte en dood nie, maar so tussen die lyne is hier nog ook ‘n ander tragedie. Moenie vergeet nie, die twee seuns wat nou gesterf het, was getroud met Moabiete! Dit was duidelik teen God se wil. “Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie.” (Deut 23:3) 

NAOMI WORD MARA 

Kyk bietjie na die verhaal uit Naomi se oogpunt. Sonder man, sonder seuns, sonder ‘n toekoms…Wanneer als so verkeerd loop, gooi dit jou lewe onderstebo en dan gebeur daar dikwels, seker die ergste wat met ‘n mens kan gebeur – wantroue oor God se liefde! In geen onduidelike taal nie, verwyt Naomi vir God! Hoor haar pyn:

“Nee, my lot is swaarder as julle s’n: die Here het teen my gedraai." (1:13) 

“Hierop het Naomi vir hulle gesê: "Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. 
My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ‘n ramp oor my gebring." (1:20,21) 

Hartseer en stukkend! Haar lewe was vol en nou is dit leeg! Sy is so stukkend dit tas haar hele identiteit aan – Sy wil nou Mara genoem word en nie meer Naomi nie. Die kontras tussen die twee name is baie groot. Naomi beteken, “lieflik, aangenaam”. Mara beteken “bitter”. 

GODDELIKE INGRYPE;MENSLIKE KEUSES! 

Gelukkig is dit nie die einde van die verhaal nie. Dit eindig nie by bitterheid en depressie nie. Die Here doen wonderlike dinge in hierdie uitsiglose hopelose situasie. Maar belangrik : In hierdie wonderlike dinge wat God doen is mense en hulle keuses betrokke. 

Twee belangrike keuses is opvallend. Rut se keuse om saam met Naomi te gaan. Dis nie net ‘n stukkie medemenslikheid nie, dis eintlik ‘n radikale bekering. Sy was ‘n heiden Moabiet, maar sy bekeer haar tot die lewende God. “Maar Rut het geantwoord: "Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God;waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ‘n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei." (1:16-17) Hierdie keuse van Rut, wat nie ‘n maklike keuse was nie, het verreikende gevolge gehad. Heerlike gevolge wat sy nooit sou kon besef nie. 

Maar daar is ook Boas se keuse. Boas was ‘n verlangse familielid, ‘n welvarende man en Rut het gaan koringare optel op sy lande. En om die lang storie kort te maak (want dit het nie sommer als vanself gebeur nie), het Boas besluit om homself oor Naomi te ontferm en haar losser te word (volgens destyds se gebruike) en met haar te trou! 

Dit alles loop uit op ‘n heerlike einde. Ons lees:

“Boas het toe met Rut getrou en hy het gemeenskap met haar gehad. Die Here het haar swanger laat word, en Rut het ‘n seuntjie in die wêreld gebring. 

Die vrouens sê toe vir Naomi: "Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou ‘n losser gegee het. Mag die losser se naam bekend wees in Israel, 
en mag hy vir jou vreugde bring en jou op jou oudag versorg. Jou skoondogter wat jou liefhet en wat vir jou meer werd is as sewe seuns, het hom in die wêreld gebring." 
Naomi het toe die seuntjie op haar skoot gevat en as haar eie aangeneem. 
Haar buurvroue het die seuntjie toe ‘n naam gegee. Hulle het hom Obed genoem en gesê: "‘n Seun is vir Naomi gebore." Obed was die voorvader van Dawid.” (4:13-17) 

Wat ‘n geweldige kontras met die begin van die verhaal. Van ‘n doodloopstraat na ‘n belofteryke toekomspad. Van ‘n dodelys, na ‘n geslagsregister. In die begin hoor ons ‘n bitter verwytklag teen God uit Naomi se mond, hier hoor ons lofsange aan die Here uit die mond van ‘n klomp vroue! 

God se werke en menslike keuses is in verweef met mekaar. Ja, dis uiteindelik God wat ‘n ramp verander in ‘n triomf – en tog maak Hy gebruik van menslike keuses. Menslike keuses is belangrik! Jou keuses het gevolge! Dink weer aan Rut se keuse om die ware God te dien en die afgode te los. Dink aan Boas se keuse om hom oor hierdie arm meisie te ontferm. Dit het heerlike gevolge gehad! 

Is jou keuse op die oomblik die regte keuse in die lig van God se Woord? 

En onthou die belangrikste keuse ooit – ‘n keuse vir Jesus! Dis ‘n eenmalige keuse, maar ook ‘n voortdurende keuse! Hoe kies jy nou? 

KLEIN SKARNIERE 

Iemand stel dit so : “Groot deure draai op klein skarniere!” Een regte keuse, hoe gering dit ook al mag blyk, het reuse positiewe gevolge vir jou en vir baie ander mense. Baie groter as wat jy dalk sou besef. In jou ellende en hartseer. Daarom - kies reg, kies volgens wat God wil. Kies volgens die Woord! Doen die regte ding, doen wat jy weet jy moet nou doen, al lyk dit hoe onbelangrik of nederig. As Rut nie bereid was om die nederige werk te gaan doen om te gaan are op tel op die lande nie, sou sy nooit by Boas uitgekom het nie! 

Doen jy net dit wat jy kan en moet, God sal die res doen! 


GOD SE GROTER PLAN : DUBBELE PLUS!

Die boek Rut is ‘n boodskap van hoop in tye van swaarkry en ellende. Gebrek, droogte en dood en ja, ook mislukking en sonde is nie die einde nie! Ook jou ellende en hartseer wat jy nou beleef is nie die einde nie! Hartseer omstandighede en gebeure het nie die laaste sê in ons lewens nie. God verander ‘n minus in ‘n plus. Maar God se plan is ook groter as wat ons as mense kan besef en verstaan. Hoe so? Die verhaal van Rut is natuurlik baie meer as ‘n liefdesverhaal tussen twee mense. Dis baie meer as ‘n mooi einde van "hulle het lank en gelukkig gelewe..."  Dis die liefdesverhaal van God vir sondaars. Dis uiteindelik verhaal van God se Seun, want hierdie geslagsregister aan die einde van die boek koppel die bekeerde Moabiet, Rut aan Jesus, via die voorvader Dawid. Rut word ‘n groot-groot oumagrootjie van Jesus! (Sy sou dit in haar leeftyd nooit kon droom of raai nie) Matteus noem ook spesifiek haar naam in sy geslagsregister van Jesus aan die begin van sy evangelie! (Matt 1:5) Die noodsituasie van ‘n gewone Israelitiese familie word deur God in ‘n seën vir ‘n hele volk (Dawid), maar meer nog in ‘n seën vir die wêreld omskep. (Jesus) God het ‘n minus in ‘n plus verander en uiteindelik in ‘n dubbele plus!* 

God ken jou persoonlike detailomstandighede en gryp genadiglik in, maar God sien ook die groter prentjie van Sy RAADSPLANNE wat ek en jy nie nou verstaan nie. Dis ‘n heerlike troos!

*W.S.Prinsloo, Die boek Rut

Sondag 05 Mei 2019

BOESMANS HOOR BOODSKAP UIT DIE HEL

Een van ons ouderlinge, Andries Gous is getrou besig met ‘n bediening onder die Boesmans (San) mense noord van Tsumeb. Andries deel ‘n merkwaardige ondervinding of twee: 



Sondag 28 April 2019 



Wat ‘n aaklige en fantastiese dag! 


Soos my gewoonte is, was ek besig om reg te maak vir die eredienste by my Boesmans broers en susters in die Tsintsabis omgewing. 

Tydens my voorbereiding en ook van die vorige dag af beleef ek enorme spanning en onrustigheid, selfs twyfel, moedeloosheid en geheel en al ‘n gevoel van verlatenheid, van alleen wees, alleen stry. 

Ek is kwaad en ontsteld en hartseer alles in een en ek voel ek gaan moed opgee met die bediening onder die Hai//om mense. Ek is siek en sat vir die alleen pad, vir die aankarring met, soos dit vir my voel, geen ondersteuning. 

Dit is natuurlik nie heeltemal waar nie, want daar is broers en susters wat my ondersteun, maar op hierdie Sondagoggend kon ek niks daarvan ervaar nie en het ek regtig gevoel daarna om alles net eenvoudig te staak. Dit is die Here se werk, het ek vir myself gesê en Hy sal ’n plan moet gee, want ek sien nie meer kans op aan te gaan nie, die taak is te moeilik. 

Hierdie is die gedagtes waarmee ek halfhartig my twee preke voorberei vir die dag. Die twee preke is vir die gemeente by Oupos en die ander vir die gemeentetjie by Makalani. 

Voordat ek in die pad val sien my vroutjie dat my gemoed vol is en dat ek glad nie lekker is nie. Ek vertel haar ook sommer luidkeels dat die Here self sy kerk moet in stand hou en dat ek nie meer kans sien om hierdie werk alleen te doen nie. 

Sy bid saam met my, eintlik bid sy maar alleen want my hart is nie in vandag se werk nie, my gemoed is vol van myself en my selfbejammering en gedagtes van moed opgee. 

In my stoutste verwagtinge kon ek nie voorsien wat op hierdie pragtige Sondag sou gebeur nie. 

Oupos 

Die tema van die preek by Oupos handel oor die 5000 mense vir wie Jesus kos gegee het en die tema gaan daaroor dat ons ook geestelike versorging nodig het en nie net fisiese versorging nie. 

Ouder gewoonte vra ek en Karel na die diens as daar mense is wat gebed benodig dat hulle uitkom en saam met ons kom bid. Die normale siektes en kwale word gebring – hoofpyn, lyfseer ens. en ons bid vir elkeen vir fisiese herstel maar altyd ook geestelike herstel en versterking. 

Emka bly eenkant staan en wag geduldig dat almal klaar bid en toe kom sy vorentoe en vertel vir ons van ’n droom wat sy gehad het. 

Sy het gedroom dat haar pa se ma haar besoek het. Haar ouma het haar gewys dat van haar familie op pad is na die hel. 

Sy sien in haar droom hoe haar familie brand in die hel! 

Volgens die manier waarop sy dit beskryf het, kon ek amper die helse vuur sien brand in my geestesoog. Nadat sy wakker geskrik het uit die droom, het sy vroeg môre opgestaan en begin om van familielid na familielid te stap en vir hulle te sê dat hulle hul moet bekeer en na God toe moet gaan want hulle is op pad hel toe en dat die hel ‘n verskriklike plek is. 

Ek ervaar voorwaar die kragtige bekerings boodskap van hierdie jong vrou. 

Emka is die vrou van die derde paartjie wat onder die indruk gekom het dat hulle moes trou en nie verder in sonde moes saamleef nie. Sy en haar man Petrus is dan ook getroud op 1 Maart 2019. (Kliek BY DIE NEDERIGES

Wat vir my opmerklik was hoe die gesig van Emka verander het na haar troue. Hoe haar gesig begin straal het nadat sy die stap in gehoorsaamheid geneem het en nie meer in sonde saamgeleef het nie. Wat my ook verder opgeval het is hoe die Here haar aanwend nou nadat sy in gehoorsaamheid opgetree het, hoe die Here haar as ’n instrument gebruik in hierdie gemeente. 

Makalani 

Na die diens op Oupos het ek en Karel oorgery na die samekoms plek by Makalani waar ons die tweede diens van die dag sou hou. Op Makalani aangekom merk ons ’n paar nuwe gesigte op, maar sonder om te veel daaraan aandag te gee gaan ons voort met die erediens . Hierdie keer is die preek se tema die sondeval – van Adam en Eva wat in opstand gekom het teen God. Op Makalani tolk Johannes Tampan vir die ere diens. 

Die diens het goed afgeloop en ouder gewoonte kom ons na die diens bymekaar om te bid vir almal wat gebed nodig het. Terwyl ons bid vir ’n jong man dra die vrouens/of ondersteun hulle swaar ’n vrou wat vir my baie oud lyk na ons toe. 

Karel, Johannes Tampan en ekself is besig om te bid terwyl hulle haar nader bring en ek merk haar eers regtig op toe ek omdraai om te begin groet . Ek neem sommer dadelik aan dat sy daar is dat ons vir haar gesondheid moet bid, maar oudergewoonte vra ek haar uit oor hoe haar saak met die Here staan. Jy kon my omtik met ’n veer toe die ou vrou sê dat sy haar saak met die Here wil regmaak dat sy nie in Hom geglo het nie, maar sy glo nou wel. EK het haar deeglik deur die twee tolke uitgevra om seker te maak of sy verstaan. Sy bely haar skuld saam met ons en doen ’n oorgawe aan die Here Jesus. 

Dit was voorwaar ’n baie kosbare oomblik vir elkeen van ons. Nog ’n “kind” het huis toe gekom! 

Net so kosbaar is dit wat na die gebed gebeur het. Nadat ons saam met haar gebid het, en toe nooit eens vir genesing gebid het nie, staan sy op en loop self terug na die huis se stoep toe! Ek was oorstelp van vreugde vir haar en gevul met absolute blydskap in my Here. 

Ek het weereens deeglik besef dat wanneer ons gedruk voel om moed te verloor en om tou op te gooi dan is dit baie maal omdat daar ‘n felle veldslag aan die gang is in die realm wat ons nie verstaan nie en omdat die vyand weet hy moet alles in die stryd werp want hy gaan een van sy kinders verloor want hulle gaan terugdraai na die Here toe. 

Soli Deo Gloria 

NS. Saterdag 4 Mei was ons weer aan by Makalani om ‘n foto van ouma te neem en dit wil vir my voorwaar lyk of sy jare jonger geword het in die kort paar daggies. Die duiwel is ‘n harde meester, wat mense moeg, gebreek en uitgeput agterlaat terwyl die Here se juk sag is en sy las lig.

Karel Ganseb, getroue geestelike leier, medewerker en tolk!


Donderdag 02 Mei 2019

SOET EN BITTER!

-‘n Realistiese perspektief op die kerk van Jesus se taak in hierdie wêreld. 

Is ‘n kind van God se lewe soet of bitter? Dink baie mooi… Hier in Openbaring hoofstukke 10 en 11 kry ons ‘n eerlike reguit antwoord. Lees gerus eers Openbaring 10:9-11:14.

DIE BOEKIE EN DIE OPMEET VAN DIE TEMPEL

Johannes kry ‘n klein boekie om te eet. Dit het ‘n gemengde gevolg :


 in sy mond was dit soet 










en in sy maag was dit bitter! 








Die betekenis hiervan word verder uitgewerk in hoofstuk 11 in die gesig van die twee getuies. Dit begin met die opmeet van God se tempel. Dis ‘n profetiese demonstrasie van die boodskap dat die gelowiges God se eiendom is. God laat dit meet omdat Hy die eienaar en beskermer is van sy mense. (Dis ‘n soortgelyke boodskap as in Esegiël 40:3,5 waar die tempel ook gemeet is.) 

Dit gaan hier oor geestelike beskerming, want Openbaring is duidelik dat baie gelowiges hulle lewens gaan verloor. “Aan hom (die dier) is daar ook mag gegee om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin;” (13:7) Die voorhof of buitenste deel van die tempel word nie gemeet nie. Dit word aan die heidene gegee om 42 maande te vertrap. God sal die heidene toelaat om vir 42 maande die gelowiges te vervolg en te vertrap. Wat beteken die 42 maande? Dit het dieselfde betekenis as die 1260 dae (Vgl. 11:3 en 12:6) Dit simboliseer ‘n tyd van swaarkry en oordeel. (Die wortels hiervan kom reeds uit Daniël 7:25) Dit gaan oor die feit dat God slegs vir ‘n beperkte tyd sal toelaat dat sy mense vervolg en gedood sal word! 

Om saam te vat : Die soet smaak van die boekie is God se beskerming (11:1), die bitter nasmaak is die feit dat God die nasies toelaat om sy kinders te vertrap en te vervolg. Maar belangrik, God is nog steeds in beheer! Dit herinner mens aan Jesus se woorde : “En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort.” (Matteus 24:22) 

DIE TWEE GETUIES 

Hierdie Goddelike plan en beheer te midde van die grootste vervolging en hartseer word verder treffend uitgebeeld deur die beskrywing van die wel en weë van die twee getuies. In hierdie tyd van swaarkry en vervolging het God ‘n baie spesifieke taak vir sy kerk : Getuienis! Dis ons groot taak en roeping in die laaste dae! God se agenda vir ons! Die getuienis taak van die kerk word uitgebeeld deur die twee getuies wat waarskynlik geskoei is op die voorbeelde van Moses en Elia. (nie alle detail, slegs breë trekke) Die beeld van die twee olyfbome en twee lampe kom uit Sagaria 4:2-6. “Hy het vir my gevra: "Wat sien jy?" maar hy het self voortgegaan: "Ek het gesien daar is ‘n kandelaar, heeltemal van goud; bo-op is ‘n oliebak met sewe tuite en sewe lamppitte in elkeen. 
By die kandelaar is twee olyfbome, een regs van die oliebak en een links." 
Ek vra toe vir die engel wat vir my die gesigte moes uitlê: "Wat beteken dit, Meneer?" 
Hy het geantwoord: "Weet jy nie wat dit beteken nie?" Ek het gesê: "Nee, Meneer." 
Toe sê hy vir my: "Hier is die boodskap van die Here aan Serubbabel: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige."

Dis ‘n getuienis in die krag van die Heilige Gees. Die lampe is simbool van Goddelike teenwoordigheid. Die kerk getuig, leef én ly in die teenwoordigheid van God en sy Gees. 

Soet én bitter is ons deel terwyl ons onder beheer van die Gees ons taak voltooi! Geen maklike agteroorsit bestaan...

BESKERM EN DAN GEDOOD 

Twee elemente is baie duidelik m.b.t. die twee getuies. Dit lyk soos ‘n teenstrydigheid : Hulle word beskerm en het geweldige mag, maar hulle is ook swak en word dan ook doodgemaak! 

“As iemand hulle kwaad wil aandoen, kom daar vuur uit hulle monde uit en verteer hulle vyande. Só moet elkeen doodgemaak word wat hulle kwaad sal wil aandoen.” (5) 

Dit sinspeel op 2 Konings 1 waar vertel word van die konflik tussen die profeet Elia en die koning Ahasia, waar vuur uit die hemel telkens Ahasia se soldate verteer het toe hulle Elia genader het. God gryp in om sy getuies te beskerm teen bose planne en mense. 

“Hulle het die mag om die hemel toe te sluit, sodat daar gedurende die hele tyd wanneer hulle God se boodskap verkondig, geen reën sal val nie. Hulle het ook die mag om al die water in bloed te verander en om die aarde met allerhande plae te tref so dikwels as hulle dit nodig vind.” (6)

Hulle kan die plae van Egipte laat plaasvind en droogte laat kom soos Elia. Die goddeloses en gode moet swig voor hulle. God se getuies word voorsien van merkwaardige gesag...

Aan die anderkant lees ons dat die dier (simbool van ‘n goddelose staat) die getuies oorwin en doodmaak. “Wanneer hulle egter hulle getuienis klaar gelewer het, sal die dier wat uit die onderaardse diepte uit kom, teen hulle oorlog maak, hulle oorwin en hulle doodmaak. Hulle lyke sal in die hoofstraat van die groot stad lê waar hulle Here ook gekruisig is. Die stad word sinnebeeldig Sodom en Egipte genoem." (7,8) Hulle moet absolute vernedering en veragting deurgaan. “lyke lê op straat” Die goddelose mense juig oor hulle dood. Die wereld verag God se kinders met ‘n passie! En tog. God is presies in beheer want hulle kom eers doodgemaak word toe hulle getuienis KLAAR gelewer is. 

TRIOMF! 

Daar is verder nog ‘n dramatiese aanduiding van Goddelike oorwinning! Die bose magte kry net tydelik die oorhand. God het die finale sê, want die getuies word na ‘n beperkte tyd weer lewendig!

  “Ná die drie en ‘n half dae het daar egter asem en lewe van God af in hulle gekom. Hulle het opgestaan, en groot vrees het almal oorval wat hulle gesien het. Hulle hoor toe ‘n harde stem uit die hemel vir hulle sê: "Kom op hierheen!" Toe het hulle in ‘n wolk na die hemel toe opgevaar, en hulle vyande het dit gesien.” (11,12) Die parallel met Jesus self is baie opvallend! Die getuies volg Jesus in sy vernedering en lyding en dood, maar ook in sy oorwinning! Die kerk van Jesus kan fisies verdruk en doodgemaak word, maar ons ewige lewe by Hom in heerlikheid is onaantasbaar! Dit slaan moontlik terug op beide Moses en Elia wat lewendig hemel toe sou gegaan het. Hoe dit ook al sy, hier is nie sprake van ‘n geheime wegraping nie, maar van ‘n sigbare triomf. Die vyande sien hulle oorwinning! ‘n Wolk is ‘n simbool van Goddelike teenwoordigheid. (Nodeloos om te sê, dit sou ‘n futiele poging weesom hierdie gebeure in ‘n letterlike kronologies volgorde te plaas en te probeer verklaar) 

‘n Verwoestende aardbewing kom. Wat presies dit als sou kon beteken weet ons nie. Maar dis ‘n Goddelike ramp/ingrype wat ‘n groot effek het. Die goddeloses bring eer aan God. Hulle word gedwing om God te erken. (13) Was dit egte bekering? Dis moeilik om met sekerheid te sê.* 

WAT IS DIE KERNBOODSKAP? 

Soet én bitter is deel van die kinders van God se lewe op aarde! Wees realisties! Ons hoef nie hieroor te wroeg of te wonder nie- dis deel van ons pakket op aarde. Belangrik, ons moet wel besig wees met ons getuienistaak! Dis wat die Here van ons verwag. Die res kan ons aan Hom oorlaat. 

Ons getuienis taak sluit ‘n oproep tot bekering en die aankondiging van God se oordele in. Die rouklere van sak beklemtoon hierdie aspek van boeteprediking. Ware getuienis is nie oppervlakkige goedvoelboodskappies wat almal wil laat verstaan dat alles maar OK is nie! Dit spreek die gedrag en die gewete van die mens aan. Dis eerlik oor God se oordele. Dis immers waarom die getuies so gehaat word. 

Hoe kom die soet en die bitter bymekaar? Oorwinning kom via martelaarskap. Die woord “martus” het aanvanklik getuie beteken, maar dit het later die betekenis van martelaar gekry, want getuienis het heel dikwels tot martelaarskap gelei. Om getuie te wees lei onvermydelik tot swaarkry, verwerping en selfs die dood! (Hierdie getuies was duidelik nie people’s pleasers nie) Maar hulle getuienis was nie tevergeefs nie! 

Ons het werk om te doen – getuienis. Dis God se agenda vir sy kerk! Ons lewe, ook ons lewe van swaarkry het ‘n Goddelike doel en betekenis binne die konteks van hierdie agenda en opdrag! (Pasop dus om nie meegesleur te word deur ons eie agendas van oorlewing en selfbelang nie!)  God is by ons, ons gaan dit wel hotagter kry, maar God is ook in beheer daarvan en beperk dit. Ons is onaantasbaar veilig totdat God besluit ons het ons taak afgehandel! Ons gaan beslis ly, maar die oorwinning en triomf behoort aan ons! Ons kan en gaan fisies skade ly , maar geestelik is ons veilig. Vir ewig. 


Die “soet” gaan seëvier! 



*Dalk moet mens dit in parallel met 6:15-17 verstaan.

“Die konings van die aarde, die hoofamptenare en die opperbevelhebbers, die rykes en die magtiges, ja, al die mense, slawe en vryes, het in die grotte en onder die kranse van die berge weggekruip. 

Hulle het vir die berge en die kranse gesê: "Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam. 

Die groot dag waarop Hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek, en wie sal staande kan bly?" 

Daar is aan die anderkant ook die siening (Du Rand) dat wat ons hier lees dui op ‘n ongekende bekering. Vergelyk die boodskap van die engel in 14:6-7