BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Tora. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Tora. Wys alle plasings

Dinsdag 26 Mei 2020

Pasop vir die HONDE!

- hulle mislei julle om op uiterlike vleeslike bates te vertrou in plaas van op Jesus alleen! 



Soos ons ‘n vorige keer gesien is Paulus se brief aan die Filippense ‘n heerlike aanmoedigings brief vol blydskap, vreugde, vertroosting en vergenoegdheid. (Kliek op MATRIEK

Tog vind die apostel dit ook nodig om ‘n ernstige waarskuwing te rig in Fil. 3:2. Sy waarskuwing klink baie hard, reguit en eintlik ‘n bietjie kru. Letterlik staan daar soos die OAV dit vertaal “Let op die honde; let op die slegte arbeiders; let op die versnyding.” Die NAB omskryf dit ietwat versagtend soos volg : “Pas op vir daardie dwaalleraars; pas op vir daardie mense wat kwaad stig; pas op vir daardie betekenislose besnydenis!” 

Waarom vind Paulus dit nodig om so iets aan die Christene van Filippi te skryf? Daar was dwaalleraars wat hierdie jong Christene in Filippi geleer het dat die geloof in Jesus alleen nie genoeg was vir hulle volle verlossing en vreugde nie – hulle moes steeds die Joodse besnydenis ondergaan. Ons noem hulle die Judaïseerders – (hulle was ook in die gemeentes van Galasië ‘n probleem) Natuurlik is dit ‘n valse lering wat die hart van die evangelie en die eer van Jesus aantas en daarom wek dit Paulus se argwaan en sterkste misnoeë op. Hy noem hierdie valse leraars “honde” en die besnydenis noem hy spottenderwys die “versnyding” In die Grieks kry ons hier ‘n skerp woordspeling. Tussen peritome (peritomh) - besnydenis en katatome (katatomh)
 – versnyding (OAV), versnippering - dis sommer eintlik net ‘n onnodige verminking* wil Paulus hulle laat verstaan! 

Besnydenis is natuurlik nie iets wat in isolasie verstaan moet word nie. Hierdie selfde dwaalleraars wou die Christene laat terugkeer na die ou Joodse wetsisteem wat ingesluit het die onderhouding van die Sabbat en die voedselwette. (Klink bekend, nê? Sabbat en koswette – dis vandag nog die alewige snaar waarop die dwaalgeeste so graag tokkel!) 

Kortweg gestel, al hierdie wette wat hulle op die Christene wou afdwing het neergekom op ‘n terugkeer na die Ou Verbond! 

Dit bring ons by die kernsaak waaroor dit hier gaan. Waarop of op Wie vertrou jy vir jou volle genoegsame verlossing? Op die tora (die wet van Moses) of op Jesus? Op uiterlike gebruike en rituele (wat Paulus hier die vlees noem) of op Jesus Christus die gekruisigde en opgestane Here? 

Wees eerlik! Op wie of wat vertrou jy nou eintlik? 

Ek rig hierdie uitdaging aan al die aanhangers van die Israelvisie en die Hebrew Roots Movement. Julle wat so spog oor julle sabbat, julle nuwe mane, julle streng voedselwette, julle bedrieglike kastige afstamming (Israelvisie) van die tien stamme van Israel. Julle gedwepery met Hebreeuse name! En so terloops, daar is net een NAAM bo alle name, die naam Jesus waardeur ‘n mens gered kan word. En in die Nuwe Testament wat oorspronklik in Grieks geskryf is, kom dit in die Griekse vorm IhsouV na ons. Gaan bestudeer maar net eerlik Handelinge 4:10-12 en Filippense 2:5-11. 

Vertroue op Sabatte, name en kosreëls? Wat anders is dit as vertroue op uiterlike dinge? Vertroue op die vlees?

Maar ek rig ook hierdie waarskuwende woorde aan mense wat gereeld in die kerk sit, lidmate, maar vir wie dit maar net bloot oor uiterlike godsdiens of mooi tradisie gaan. Die punt is vertrou jy op Jesus die gekruisigde alleen of is ander bates nog vir jou belangriker? Is ander bates nog jou eintlike sekuriteit? Troos jy jouself met allerhande mooi gebruike of ordentlikheid? 

In hierdie konteks is Paulus se uitspraak in vers 3 veelseggend en kardinaal belangrik! “Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie.” (Fil. 3:3) 

Paulus weet waarvan hy praat. Soos hy verder beskryf (en lees gerus verder in hfst. 3) het hy eens op ‘n tyd ook op alle uiterlike bates vertrou soos sy fisies afkoms van Abram en soos sy fanatiese stiptelike gehoorsaamheid aan die tora. Hy was onberispelik getrou aan die tora oftewel die wet van Moses. Maar toe ontmoet hy Jesus Christus. Meer korrek dis Jesus wat hom wat Paulus is gegryp het daar op pad na Damaskus. Toe verander als... En van toe af beskou hy al hierdie vorige bates as drek, gemors , waardeloos sodat hy Jesus as enigste bate kan aankleef. Hoekom? Paulus het nou besef - Die regverdiging, die vryspraak is in Jesus alleen te vind. “Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo.” (Fil. 3:7-9) 

My vriend, hoor mooi! Al jou indrukwekkende Hebreeuse frases en name, streng onderhouding van allerhande wette en spitsvondige slimmighede is waardeloos! Stel jou vertroue op Jesus alleen en dank Hom deur die vrugte van die Gees te dra wat die einste Paulus vir ons in Galasiërs 5:22,23 beskryf. Dis natuurlik ten diepste in lyn met God se bedoeling met die wet. 

Jesus self is die volkome vervulling en eind doelwit van al die bepalings van die Mosaïese wette. 

Die Mosaïese wette was die konstitusie van die Ou Verbond. Jesus het die Nuwe Verbond deur sy finale en volledige bloedoffer bevestig. Hy sê dit self met die instelling van de nagmaal. Die implikasies is duidelik : Wie aan Jesus behoort is die ware Israel en dus kinders van Abram. (Gal. 3:7) Wie op Jesus vertrou het die ware besnydenis en deel in die ware Sabbatsrus, want Jesus self is die weg, die waarheid en die lewe! Alles wat die tora was in die Ou Verbond (die waarheid en lewe en die regte pad) is nou in Jesus self te vind binne die Nuwe Verbond! Om dus weer terug te keer na die Ou Verbond is ‘n verwerping van Jesus en die evangelie! Wees gewaarsku! 

My vriend, vriendin, plaas jou vertroue op Jesus en Hom alleen! Vandag nog! 

Kyk op Youtube - kliek HONDE!

*Ook in die brief van die Galasiërs waarin Paulus dieselfde probleem van terugkeer na die besnydenis en die wet van Moses aanspreek, raak Paulus baie driftig op dieselfde trant soos in Gal.5:12. “Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!” (NAV) “ Ag, as die wat julle opstandig maak, hulleself tog maar ook wou vermink!” (OAV) Paulus raak hier erg sarkasties teenoor die dwaalleraars en sê dus in effek : as hulle dan nou wil besny moet hulle sommer by hulleself als afsny!

Donderdag 22 November 2018

DIT RAAK JOU KINDERS!

- HIERDIE IS ’N KEUSE WAT JOU NAGESLAG BESLISSEND BEÏNVLOED.



Baie van die keuses wat ons maak gaan vir altyd ook ‘n invloed hê op ons kinders se welsyn en toekoms... Dink nou maar aan die netelige kwessie van emigrasie. Moet ek bly of moet ek ry ter wille van ‘n beter (?) toekoms vir my kinders? 

Hier in Deuteronomium 30:15-20 word ’n uitdaging aan die volk Israel gerig om ’n keuse te maak. Opmerklik en veelseggend is dat die keuse nie net hulleself sal raak nie, maar ook hulle nageslag sal beïnvloed. “Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.” (19b!) 

Die belangrikheid om ‘n keuse te maak. 

Dis baie duidelik dat die volk Israel hier voor ‘n beslissing gestel word. Julle moet nou kies! Dikwels skram mense weg van hierdie verantwoordelikheid. Ander is baie gou by met die beskuldiging en skeldnaam METODISME as daar van ‘n keuse of eis tot bekering gepraat word! Daar is dikwels die verskoning, “Ag wat die Here het my paadjie uitgelê, wat sal gebeur sal gebeur.” Dis ’n verdraaiing van Bybelse waarhede om so te redeneer. Ja, natuurlik het God die inisiatief geneem. Hy het die verbond met Abram gesluit en beloftes gemaak. Dis alles sy genade! Ons kry hier weereens ’n duidelike verwysing daarna. “Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee en jou lank laat woon in die land wat die Here met ‘n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle te gee." (20) Dis inderdaad God wat toe Hy aan sy verbond gedink het, besluit het om hulle uit Egipte te verlos en na die beloofde land te lei. Maar nou moet hulle kies. Hulle is verbondsmense aan wie die heerlike beloftes behoort, maar hulle moet nou self KIES! Dis noodsaaklik, want alle verbondsmense (of as jy wil, kerkmense!) het nie noodwendig die lewe nie! JY moet kies, JY moet besluit! Hierdie uitdaging kom weer en weer ook tot ons. Jesus self het aan die verbondsvolk hierdie uitdaging gerig, reg aan die begin van sy bediening- “Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie." (Markus 1:14,15!) Het jy al duidelik gereageer? 

Die inhoud van die keuse. 

Waaroor het die keuse gegaan. Kies die LEWE! Wat is hierdie lewe? Hierdie keuse is ’n keuse om God lief te hê en sy gebooie te gehoorsaam. Dies lewe in God se teenwoordigheid. “As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem.” (16) Om God lief te hê is om sy gebooie, sy voorskrifte, sy bepalings te gehoorsaam! Dis ’n keuse vir gehoorsaamheid aan die wet van Moses as geheel. Die tora. 

Die tora het die pad aangedui. Die koers waarvolgens die mens moes loop. 
Die tora was die waarheid. Die duidelike suiwer waarheid te midde van al die valsheid en afgodery. 
Die tora was lewe teenoor dood. Godellike lewe in sy teenwoordigheid en onder sy seën!

Wat is die keuse waarvoor ons staan? Ons moet Jesus kies! Om Hom te glo en te gehoorsaam. 
Jesus self is nou die weg, die waarheid en die lewe! (Johannes 14:6) 

Dit wat die tora was in die konteks van die Ou Verbond, is Jesus self nou in die Nuwe Verbond. 

Jesus in Homself is die vervulling van die hele tora, die hele wet van Moses. Ons word uitgedaag nie net om ’n boek se voorskrifte na te volg nie, maar om ’n Lewende Persoon te volg! Om persoonlik my hele vertroue op Hom te plaas. 

Die langtermyngevolge van die keuse. 

Die gevolg van die regte keuse vir God en sy wet, sou ’n lang lewe wees in die beloofde land Kanaän. ’n Letterlik voorspoedige lewe in die land Kanaän. In die Nuwe Verbond gaan dit nou nie meer oor ’n letterlike Kanaän en aardse voorspoed nie. (Terloops, dis hier waar baie misverstande kom wat tot die Prosperity Gospel dwaling aanleiding gee. Mense maak so maklike die aardse beloftes van die Ou Verbond naatloos van toepassing op die Nuwe Verbond. Dit kan nie. Jesus die Middelaar van die Nuwe Verbond het nooit materiële voorspoed beloof aan sy volgelinge nie, maar wel ‘n ewige beloning hierna!) Ons wat die keuse doen om in Jesus te glo en Hom te gehoorsaam kry iets beter as Kanaän – die ewige lewe nou reeds en finaal in die nuwe hemel en die nuwe aarde. Die ewige stad waarvan God self die Bouer is! EWIGE LEWE is om God en Jesus te ken en by Hom te wees! (Johannes 17:3) 

Die opvallende gedeelte van hierdie belofte in vers 19 is – “Jy en jou NAGESLAG” Die keuse raak nie net jouself nie, maar ook jou kinders! Nou is die groot vraag : Geld dit ook vir die Nuwe Verbond? Raak dit my kinders as ek tot bekering en geloof in Jesus kom? En die antwoord is ’n heerlike en besliste JA! Ons kry ’n treffende voorbeeld daarvan in Handelinge 16. Die bekering van die tronkbewaarder van Filippi. Lees gerus weer Handelinge 16:29-34. Let op na die antwoord wat die tronkbewaarder ontvang as hy vra wat hy moet doen om gered te word! "Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin." (31) Hierdie is ‘n belofte wat ons nie ligtelik moet opneem nie! 

Die punt is dit : 

Ouers se keuse speel ’n geweldige groot rol in die lotsgevalle en eindbestemming van hulle kinders. 

Beteken dit dat kinders van gelowige ouers outomaties gered word? Outomaties wedergebore is? Nee! Hulle moet self ook kies wanneer hulle die ouderdom van bevatlikheid en verantwoordelikheid bereik. En inderdaad gebeur die onbegryplik tragiese – sommige maak nooit die regte keuse nie en gaan vir ewig verlore! Die onbegryplike negatiewe wat kan gebeur mag egter nie veroorsaak dat ons die heerlike positiewe belofte hier verswak of ignoreer nie! 

Nou wat is die voordele dan vir kinders wie se ouers die Here Jesus ken en dien? 

-Hulle leef in die dampkring en die invloedsfeer van God se genadeverbond. God is hulle beskermer van kleins af. “U is my hulp van my geboorte af, reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm. U loof ek gedurigdeur.” (Psalm 73:6!) 

-God gebruik die Christen ouerhuis as die kanaal waardeur sy genade en beloftes ook na hulle kom. Hulle het ouers wat vir hulle bid en intree by God se genadetroon. Ons kan die Here herinner aan sy beloftes! Hierdie kinders hoor die Woord van kindsbeen af. Wat ‘n voorreg! “Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus." (2 Timoteus 3:14,15) Ons kan positief vertrou dat die saad van die Woord wat natgemaak word deur die gebede van gelowige ouers uiteindelik sal vrugdra! 

-Kinders van gelowige ouers kry van kleins af die voorbeeld van geloof en van liefde vir die Here en liefde vir sy kerk! Ja, baie van hulle rebelleer, maar daar is baie getuienisse van verlore seuns en dogters wat na ‘n tydperk tussen die varke weer terugkeer... Ons as gelowige ouers kan die pad maar gelowig en hoopvol dophou... 

Oor wat jy as ouer oor emigrasie besluit, wil ek nie veel kommentaar lewer nie. Wat ek wel wil onderstreep is die Bybelse opdrag : Kies die lewe en jy en jou kinders sal lewe. Kies Jesus en jy en jou kinders lewe!

Naskrif : As jy dalk vanuit Bybelse vertrekpunte wil saamdink oor emigrasie, kliek op BLY OF GLY?



Vrydag 13 Februarie 2015

GESEËND SAAM MET ABRAM!

- nou hoe kry mens dit reg? 

Wil jy graag geseënd wees? God se gunsgenoot wees? Is jy seker dat jy ‘n geseënde van God is? Hoe weet mens dit, hoe gebeur dit? Dit moet wonderlik wees om te weet, ek is ‘n geseënde van God. Die Lewende God bedoel, belowe en gee inderdaad die beste vir my. As ons aan ‘n geseënde dink, gaan ons gedagtes terug na Abram...

“Die Here het vir Abram gesê: "Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.
Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees.
Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees." (Genesis 12:1-3) 

Hoe raak hierdie seën vir jou en my?  Paulus sê ‘n wonderlike ding in Galasiërs 3:14. Mense wat aan Jesus behoort deur die geloof kry deel aan die seën wat God aan Abram beloof het. Dis so merkwaardig - ons kry dit al is ons nie Jode nie. Ons kry dit sonder om die wet (Tora) te onderhou. Hoe is dit moontlik? Verdien ons dan nie eerder oordeel en straf nie? Is ons nie almal sondaars nie? Hoe kan God ons dan seën? Die antwoord lê by die grootste sondaar van alle tye!

DIE GROOTSTE SONDAAR

Het jy al gewonder wie die grootste sondaar ooit was? Wie het die meeste sondes op sy rekening gehad? Miskien Adam? Deur sy ongehoorsaamheid het hy die hele menslike geslag in die allergrootste ellende gedompel. Of dalk was dit Dawid? Ten spyte daarvan dat hy die bevoorregte koning was, het hy die vreeslike sondes van owerspel en moord begaan. Petrus is ook ‘n moontlike kandidaat. Hy was immers ‘n dissipel van Jesus, een van die binneste kring, wat soveel wonders van Jesus gesien het en soveel preke uit sy mond gehoor het, en tog verloën hy Jesus. Dalk Paulus, ‘n ywerige vervolger van Christene? Of moet ons iemand anders nader aan ons tyd soek....Hitler, Stalin, miskien Mugabe of Zuma?

Martin Luther, die groot Hervormer, gee vir ons ‘n verrassende perspektief op hierdie vraag in sy bespreking van Galasiërs 3:13. Hy sê die grootste sondaar van alle tye is: Jesus Christus! Sjoe, dit klink erg! Skrikwekkend! Kom ons probeer dit mooi verstaan.

“Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: "Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is." Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het.” (Galasiërs 3:13,14)

Paulus sê hier in vers 13 dat Christus ons losgekoop het van die vloek wat die wet meebring. Wat is hierdie vloek? Dit sê maar net dat die wet ons skuldig verklaar en die doodsvonnis oor ons uitspreek! Die regverdige wet van God sê onverbiddelik : Die mens wat die wet oortree is vervloek, die mens wat die heilige God beledig moet gestraf word, die mens wat sondig moet sterwe! Daar is geen wegkomkans nie, daar is geen skuiwergate nie. Al ons mooipraatjies en verskonings help niks. Die wet druk sy vinger op jou (my) hart en sê : “Jy is die skuldige!” soos Natan vir Dawid gesê het!

Die wet sit ons skaakmat! Die wet laat ons in ’n doodloopstraat! Die wet spel onverbiddelike oordeel en hel!

Maar nou die Goeie nuus : Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet! Jesus Christus het ons bevry van die vloek en die straf en die doodsvonnis wat die wet van God oor ons uitgespreek het. Hoe het Hy dit gedoen? Deur in ons plek self ’n vervloekte te word! (13) Het ons reg gehoor? God se Seun ’n VERVLOEKTE? Kan dit wees? Ja! Dis wat duidelik hier geskryf staan! Hoe werk dit dan?

HY DIE VERVLOEKTE

Jesus het ons sondes op Hom geneem. Anders gesê, God het ons sondes op Hom laat afkom! (Jesaja 53:5,6) God het as’t ware gesê dis nou jou sonde! Adam se sonde is joune, Dawid s’n is joune, Petrus se sonde is joune.... (en sit ook jou eie naam in). Jesus was belaai, besmeer en besmet met ons sonde! Met die sondes van al sy uitverkore kinders! Almal s’n - en daarom kan Luther sê dat Jesus die grootste sondaar van alle tye was! Nie weens sy eie sonde nie, nee, ons weet Jesus was sondeloos, maar weens ons sonde. Myne, joune... En toe Jesus ons sonde op Hom neem, toe Hy verantwoordelikheid vat vir ons sonde toe tref die vloek van God Hom. In alle felheid en verskrikking, sodat Jesus uitroep : “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Toe word Jesus self ’n vervloekte. Toe spreek die wet die doodsvonnis uit oor Hom. Toe tref die oordeel en toorn van God sy eie Seun!

Jesus sterf as ’n vervloekte deur God. Hy sterf nie die dood van ’n martelaar of ’n held nie, maar die dood van ’n vervloekte. Dis hoekom God dit bepaal het dat Hy spesifiek aan ’n houtkruis moes sterf. In Deuteronomium staan dit al geskrywe : “Vervloek is elkeen wat aan ’n hout opgehang is!” Dit was dus nie toevallig dat Jesus juis aan ’n houtkruis moes sterf nie. Dit was die duidelike bewys dat God se vloek op Hom was. God se vloek wat eintlik na regte vir my en jou moes tref! Aan die kruis behandel God sy Seun as ’n sondaar, sodat Hy ons as regverdiges kan behandel. Hy straf Jesus, sodat ons wat aan Hom behoort vrygespreek kan word! (2 Kor. 5:21)

ONS DIE GESEËNDES!

Jesus vat die straf in ons plek. Jesus vat die vloek van God sodat ons nou deel kan kry aan die seën van God! Die teenoorgestelde van vloek is mos seën! Dis die seën wat alreeds aan Abram beloof is. Hierdie seën beteken nou dat ons God se kinders is, dat ons sy erfgename is - erfgename van die ewige hemelse erfenis! Ons kry nou reeds ’n bewys van God se seën in ons lewens! Die Heilige Gees! (14) Die Heilige Gees wat in ons woon en ons lei in heiligheid is die duidelike bewys dat ons werklik deel gekry het aan God se seëninge! Trouens die Heilige Gees self is die grootste gawe wat die Hemelse Vader aan ons skenk, die toppunt van gebedsverhoring! (Vergelyk Lukas 11:13) Die Heilige Gees maak die verlossingswerk van Jesus ‘n praktiese werklikheid in ons lewens, die voorreg van kindskap en erfgenaam wees! 

Wie kry deel aan die seën? Elkeen wat die evangelie van Jesus glo! (Vgl. Galasiërs 3:2)

Weet jy al of jy ‘n geseënde is?

Die Nagmaal wat ons vier herinner aan Jesus se dood aan die houtkruis, bevestig dat Jesus in ons plek ’n vervloekte was en dat ons wat Jesus as Here aanvaar het, beslis en sonder twyfel geseëndes is! 

Kom ons verheug ons oor die groot uitruiling: Jesus vat die vloek, ons kry die seën! Hiervoor moet ons God ewig dankbaar wees!



Donderdag 19 September 2013

WAAR TREK GOD DIE STREEP?

- Vir die mens is daar twee opsies : Lewe of Dood!

Daarom is dit seker baie belangrik om te weet aan watter kant jy staan en waar jy die ewigheid gaan deurbring...

Donderdag 15 November 2012

MISLEIDING VAN DIE MAANKYKERS

- die duiwelse dwaasheid van die Hebrew Roots Movement (HRM) se Tora leraars.

Van alle dwaalleringe op die Satan se moderne spyskaart (New Age Gnostisisme, Prosperity Gospel, Mormone, Jehova Getuies, Nuwe Hervormers en noem maar op...) dra die Hebrew Roots leraars die twyfelagtige onderskeiding dat hulle dwaling die duidelikste in die Nuwe Testament self geïdentifiseer en ontmasker word. So lees ons baie duidelik oor hierdie mense en hulle onkunde in 1 Timoteus 1:7 (OAV) “hulle wil leraars van die wet wees, alhoewel hulle wat hulle sê, of die dinge wat hulle beweer, nie verstaan nie.”  (NAV)  “hulle verstaan nie hulle eie woorde of die dinge waaroor hulle so selfversekerd praat nie.”

Die twee uitstaande kenmerke van die HRM se lering word hier uitgelig naamlik : Die objek van hulle lering. Die standaard van hulle kennis.

Die objek van hulle lering, is die wet. (tora, Engels : torah) Dit plaas hulle onmiddellik reeds in opposisie teen die apostel Paulus en alle ander evangelie dienaars dwarsoor die eeue. Paulus (en elke ware gesant van Jesus Christus) se kernboodskap is die boodskap van die kruis. (1 Korintiërs 2:1-5) Geen HRM leraar kan dit sê nie. Luister maar waaroor praat hulle die graagste. Hulle kerm dat mense nie kreef en vark moet eet nie. Hulle sanik oor die Shabbat, en raak opgewonde oor Joodse feeste en mane, maar hulle swyg oor die genoegsaamheid van Jesus se kruis en opstanding. Hulle skryf lang stukke waarin hulle nou vir ons wil vertel of dit Yashua, Yeshua of YaHusha moet wees... Daarom is dit  dat hulle lering, oral waar dit posvat,  net twisvrae bevorder en nie tot stigting lei nie. (1 Timoteus 1:4) Ek vra julle, al julle skynslim HRM leraars, waarom verkondig julle die wet van Moses (tora) terwyl ons net vergifnis deur Jesus Christus kan ontvang, juis omdat die wet van Moses ons nie van sonde kon vrymaak nie? (Handelinge 13:38,39) Natuurlik,  sal julle sê dat julle ook  Jesus verkondig, maar die punt is julle verkondig Hom nie as algenoegsaam nie. Julle meng altyd die tora by in julle gevaarlike resep van dwaaldisse.

Die gebrekkige standaard van hulle kennis. As jy verby kan kyk by hulle tentoonstelling van hoogdrawende en irriterende transliterasies van Hebreeuse name dan kom jy gou agter dat daar min Skrif (en taal) kennis is. Dis nie deeglike Skrifstudie nie, maar ‘n naïewe najaag van visioene en ‘n meusleuring van op die klank af argumente wat hierdie arme mense op sleeptou geneem het.

Natuurlik is die tora deel van die Heilige Skrif en is daar ook vir die Nuwe Testamentiese kerk nut in, as ons dit reg gebruik. (1 Timoteus 1:8) Wat is hierdie regte gebruik?  Breedweg gestel : Ons verstaan die tora vanuit die vervulling deur Jesus. Ons kan nie meer die tora lees asof Jesus nie gekom het nie. Die besnydenis, offers, feeste en sabatte was heenwysings na Hom en nou dat Hy gekom het, kan ons nie meer daarby stilstaan nie. Die beskrywing van hierdie dinge in die tora help ons om die heerlikheid en genoegsaamheid van ons Here Jesus en sy werk te verstaan. En wat van die tora se morele voorskrifte?  Ons kyk daarna deur die vergrootglas van Jesus. Ons lees en verstaan die hele tora via Jesus. Hy vervul die tora (laat die tora sy ware bedoeling bereik deur sy koms as Verlosser), maar vernuwe en verfyn dit ook. Dit kan duidelik gesien word as Hy net soos Moses die berg bestyg en die nuwe standaard van die Koninkryk afkondig in Matteus 5-7.  Hyself oortref die tora, want Hy doen wat die tora nog nooit kon doen nie. Dit word treffend geïllustreer in Matteus 8 as Jesus ‘n melaatse genees! Die tora was gemik op die afsondering van melaatses, maar Jesus gaan verder, raak aan hom (in stryd met die tora) en maak hulle gesond! (En so vervul Jesus die diepste bedoeling van die tora, juis deur die tora te “oortree”) Jesus self is nou ons finale gesag. Jesus verklaar alle voedsel rein, omdat niks wat van buite die mens ingaan hom onrein kan maak nie. (Markus 7:15) Daarom handhaaf ons nie meer die tora se voedselvoorskrifte nie.

Die HRM se wetsleraars teister ons met Toeka se Tora, maar verloën Vandag se Verlosser, ons Here Jesus Christus. 

Jesus self is ons Tora binne die heerlike  Nuwe Verbond, die finale Openbaring van ons Hemelse Vader se wil. (Hebreërs 1:1-3) Jesus as finale Tora is ons Verlosser, maar ook die norm van ons lewe as verlostes!

Die HRM leraars is diewe, slawedrywers  en misleiers. (En ja, soms nog ‘n klomp narre ook!)

Geestelike diewe  wat ons vreugde en  vryheid in Jesus wil steel deur weer spesiale betekenis aan sekere dae, maande en jare te gee. (Galasiërs 4:8-11) Hulle is diewe wat groter ooreenkoms met Islam as met Christenskap vertoon. Net soos die Islam glo hulle ook in Jesus, maar  in praktyk is  Hy ‘n afgewaterde Jesus. Maar nog erger, die  tora leraars met hul voedselvoorskrifte  stel hulself  direk teen Jesus wat alle voedsel rein verklaar het.

Geestelike slawedrywers wat mense se gewete in knegskap wil plaas. Hulle wil ons veroordeel oor wat ons mag eet en nie. Hulle wil weer sabatte en nuwemane op ons afdwing. (Ja, regtig  nuwemane ook! Ek sien Elim Ministries adverteer ‘n new moon service. Praat van die maan gepla!) Dis mos nou woordeliks presies waarteen die apostel Paulus, die uitverkore werktuig van Jesus (Handelinge 9:15 )  ons so duidelik waarsku in Kolossense 2:16,17.* Hierdie HRM leraars wil weer ‘n juk op ons lê. (Handelinge 15:10)

Geestelike misleiers (en maankykers) wat die boodskap van bose geeste aan ons verkondig deur hulle verbod op sekere voedsel. Klink dit dalk bietjie rof? Wel, laat ons gerus kennis neem van die sterk uitsprake in 1 Timoteus  4:1-4.  "Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang...Hulle verbied mense...om bepaalde soorte kos te eet."  Hiervolgens is dit baie duidelik : Die boodskap van die HRM en sy tora tiranne is nie gegrond op nuwe insigte in die Woord nie, maar is die direkte gevolg van demoniese misleiding! Hulle haal graag Bybeltekste aan, maar in wese verwerp hulle die Nuwe Testamentiese kanon. Hulle wil probeer beter weet as die Nuwe Testament wat die name Here (Kurios), God (Theos) en Jesus (Iesous) gebruik. So tas hulle die Heilige Skrif aan!

‘n Mens behoort seker te huil oor al hierdie dwaling, maar partykeer sal mens seker ook nie anders kan as om te lag vir sommige van die geestelike entrepeneurs wat nou op die HRM wa van verwarring spring nie! Ek dink aan die bebaarde Mosesfiguur, ene Michael Rood, wat ‘n “Rood Awakening” propageer. (bemark?) Hy verteenwoordig die sensasionele en teatrale kant van die HRM.

Saam met Paulus wil ek en alle gelowiges van alle denominasies  roem in die genoegsaamheid van die kruis. Vir die kruisboodskap sal ons vervolg word, ook deur die tora kenners. Hier skei ons paaie onherroeplik.  Hulle wil “Torah observant” wees, ons wil “Christ observant” wees!  

Misleide broers en susters, ons roep julle op tot bekering. Kom terug na Jesus Christus. Sien raak wie Hy is. Hy is algenoegsaam, want die volheid van God woon in Hom. En elkeen wat aan Hom behoort het deel aan hierdie volheid.  (Kolossense 2:8-10)  Die kind van God hoef dus nie die volle belewenis, die volle blydskap of die volle waarheid in iets anders soos die tora  te gaan soek nie. Nee, ons oë moet net al meer geopen word om die volheid van Christus raak te sien, dit beter te verstaan en meer daaroor te juig!

My vriend, mag jy waarlik Jesus, die Gekruisigde leer ken!

Naskrif : Die HRM is nie maar net nog ‘n variasie van Christene wat effens anders dink oor sekere sake nie. Dis ‘n totaal ander geloof en ‘n gruwelike dwaling gelykstaande aan die Jehova getuies! Dis tyd dat hulle ontmasker word vir wie hulle is. John Wahl een van hulle ywerige woelgeeste in Vishoek (Elim Ministries) noem die lering oor die Drie-eenheid, wat die fondasie is van die historiese kerk van alle tye, die “magtigste misleiding waarmee die Christendom vorendag gekom het” Dis maar net ‘n bevestiging dat hulle bron nie God se Woord is nie, maar leringe van bose geeste.

*Sien verder oor hierdie saak - kliek op STILSTAAN BY DIE SKADUWEE

Dinsdag 18 September 2012

STILSTAAN BY DIE SKADUWEE?

- nee, want Jesus het gekom!

Die Hebrew Roots Movement (asook die Sewendedaagse Adventiste) met hulle aandrang dat ons weer die Sabbat moet onderhou en ons aan die Mosaïse voedselwette moet onderwerp vind sekere gedeeltes in die Nuwe Testament (veral in Paulus se briewe) uiters ongemaklik. Een so ‘n gedeelte is in Kolossense 2:16 - 17 wat sê :

“Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet of drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag (lett - Sabbatte) moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid  is Christus.”

Aangesien hierdie teksgedeelte die HRM skuldig verklaar (want hulle wil weer voedselwette, feeste en Sabatte aan ons voorskryf) is dit te verstane dat hulle hierdie woorde van Paulus sal probeer verdraai. Dis dan ook wat Elim Ministries (Fish Hoek) probeer doen. Met langdradige verduidelikings probeer hulle die duidelik ooglopende bedoeling van Paulus omseil in wat genoem word “A new look at Col 2". (Terloops dit lyk asof hierdie dwaling nog verder gaan en hulle eie vertaling van die Skrif wil maak, genaamd “Woord en Getuienis” net soos hulle geestelike voorvaders, die Jehova Getuies met hulle New World Translation.)*

Kom ons kyk na Kolossense 2:16,17. Omdat hierdie teks nie in isolasie staan nie, maar deel is van ‘n brief, is dit eers belangrik om agter die hooftema en strekking van die Kolossense brief te kom. Vers 16 en 17 sal tog uiteraard daarby inpas.

Die hooftema van Kolossense kan as volg geformuleer word: 

Die algenoegsaamheid van Christus en sy oppermag oor beide die skepping en die herskepping (kerk) vorm die fondasie van ons beskerming teen die misleidinge van die dwaalleraars wat voorgee dat daar geheimsinnige maniere is waarop ons nader na God kan kom sowel as die vaste basis van ons praktiese Christenskap, ons verhoudinge met gelowiges en die wat buite staan. 

Die fokus in Kolossense val dus op Jesus as die genoegsame en volledige openbaring van die volheid van God.

Terug by ons teks. Die opvallende kontras in Kolossense 2:16,17 is tussen skia (skaduwee) en soma (liggaam/realiteit).  Die finaliteit en volheid van Jesus word gekontrasteer met die voorlopigheid van die skaduwee (voedselwette, feeste en Sabatte) Hierdie interpretasie word verder versterk deurdat ons ‘n soortgelyke kontras in Hebreërs 8:5 en veral ook baie duidelik in Hebreërs 10:1 aantref :

“Die wet van Moses (tora) is slegs ‘n skadubeeld van die weldade wat sou kom...” 

Hier is die kontras tussen die voorlopige diere offers en Jesus as finale en volkome offer.

Natuurlik kan soma ook die betekenis van “liggaam” hê, maar die onmiddelike konteks waarin dit teenoor skadu stel, maak dit baie logies om dit hier met “werklikheid”  te vertaal. Die vertaling van soma as “werklikheid/realiteit” in hierdie teks  word gesteun deur gesaghebbende Griekse woordeboeke wat die volgende verklarings gee : “the thing itself, the reality” in die “A Greek-English Lexicon” (Walter Bauer) en  “reality, corresponding reality - but the reality is Christ” in die “Greek-English Lexicon” (Louw en Nida)  

Die kontras tussen skaduwee en werklikheid pas ook pragtig in by Paulus se soortgelyke redenasie in Galasiërs 4:9. As ons Christus (die Werklikheid) leer ken het, is dit mos dwaas en ‘n terugwaartse stap om weer wettiese godsdienstige reëls te probeer nakom, waarvan die rakleeftyd verval het. En net in die volgende vers noem hy die dinge wat onder wettiese godsdienstige reëls tel : “besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare.” (Galasiërs  4:10) Dieselfde sake wat ook in Kolossense genoem word!

Wat sê dit nou als vir ons? In die Mosaïese wetsisteem was sekere voedselwette en die onderhouding van sekere dae en feeste verpligtend. Christene is bevry van hierdie verpligtinge. As ‘n Christen homself wil onthou van sekere voedsel of sekere dae wil gedenk is dit goed en wel, dis ‘n saak vir sy gewete tussen God en homself. (Paulus skryf hieroor in Romeine 14:5 ev.)

Maar baie belangrik : Diegene wat aan Christus behoort, moet hulle dus nie meer oor hierdie sake laat voorskryf, wanneer mense ons wil wysmaak dat ons so meer behaaglik vir God sal wees  nie. Waarom moet Christene weier om geïntimideer te word oor sake soos hierdie? 

Die wetlike voorskrifte van die verlede (Ou Verbond/Mosaïse Verbond) was slegs van verbygaande aard, dit het behoort tot ‘n tydelike oorgangstadium in die uitwerk van die heilsgeskiedenis. (Galasiërs 4:1-7 - “toe ons nog onvolwasse kinders was”) Nou dat die bedeling van Christus aangebreek het, geld hierdie dinge nie meer nie. Dit was maar net heenwysings, skaduwees wat op Hom gewys het. Jesus self is die werklikheid, die substansie. En dis die groot punt in Kolossense : 

Jesus Christus is die genoegsame werklikheid wat geen aanvulling van voedselwette, visioene en engele nodig het nie!

Daar was niks fout met die wet nie, maar dit was net die skadu, nou dat ons by die werklikheid gekom het, is ons aandag en ons saak by die werklikheid en nie meer by  die skaduwee nie.  Dink aan die  program van ‘n konsert. Die program is in ‘n sekere sin baie nuttig, maar net tot op ‘n punt. Dit berei jou voor vir die konsert, maar as die lees van die program jou verhoed om by die werklike konsert uit te kom is daar tog fout.  Die wet het ‘n belangrike heenwysende  funksie gehad, maar dis nou verby, want Jesus na wie dit gewys het, is nou hier!  Paulus sluit heel waarskynlik aan by dit wat hy as Joodse rabbi geleer het.  Baie Jode het die Joodse feeste as voorlopers van die Messiaanse tyd gesien. Volgens sekere rabbynse tekste was die  sabbat byvoorbeeld  ‘n voorsmaak van die tyd wat sou kom. Hierdie heerlike tyd het nou in Christus aangebreek. Die rus waarvan die sabbat gepraat het, het nou in Christus ‘n werklikheid geword. (Vgl. Matteus 11:28ev)  Dit maak tog nie sin om die voorteken te vier as die werklikheid aangebreek het nie. Jesus self is die ware vervulling van die Sabbat, en met sy teenwoordigheid verdwyn die belangrikheid van die afbeeldings. Wie in Jesus glo is besig om die ware Sabbat te onderhou. Prakties - ons hoef nie meer die (Saterdag) Sabbat te vier nie, maar ons moet ook nie die Sabbat na ‘n ander dag verskuif  nie. Die Sondag, terloops  is nie maar net ‘n verskuifde Sabbat nie, dis iets heeltemal anders. ‘n Dag vir die bymekaarkom van gelowiges en feesviering oor die opstanding.

Ons as gelowiges uit die heidendom staan nie meer onder die Mosaïse wetgewing rakende dae en kos nie.  Ons word nie ingeënt in die Judaïsme van die Mosaïse Verbond (Ou Verbond) nie, maar ons is wel kinders van Abram. (Galasiërs 3:7) Ons is in die geloofsfamilie van Abram en bou op die beloftes wat aan hom gemaak is, eeue voordat die wet van Moses bestaan het. Die wet was ‘n latere en tydelike byvoeging.  (Galasiërs 3:17-18) Dit was net bedoel totdat Christus, die Saad sou kom. Ons was net tydelik onder die toesig van die wet, maar staan nou nie meer daaronder nie. (Galasiërs 3:23-25)

Kom ons verheug ons in die vryheid wat ons Volmaakte Verlosser vir ons verwerf het! Kom ons vier die vryheid met heiligheid onder leiding van die Heilige Gees!


* Daar is ook ‘n vertaling genaamd,  “The Word of Yah – the King’s Covenant” waaroor die samestellers die belaglike en leuengtige aanspraak maak dat dit teruggaan op oorspronklike manuskripte wat in 2002 by die Eufraat ontdek is. Alhoewel nie alle HRM aanhangers hierdie vertaling aanvaar nie, is dit net weereens ‘n bewys tot watter uiterstes dwaalleraars sal gaan om hulle onwaarhede te versprei. 


Saterdag 08 September 2012

DAARDIE EEN SONDE...

- vind volle vrede by die Vervloekte!

Daardie een verskriklike sonde. Daardie sonde wat jy nie eers oor wil dink nie. Daardie sonde wat aan jou gewete vreet. Daardie sonde wat jou laat vrees vir die oordeelsdag. Daardie vreeslike sonde  van die verlede wat jou nog steeds verlam op die geloofspad.  Ja, alle sondes is erg, maar sommige se gevolge is tog groter. Sommige sondes veroorsaak vreeslike skade, baie keer skade wat nooit weer reggemaak kan word nie. Party sondes het 'n rimpel effek dwarsdeur mens se hele lewe. Dit lyk asof die wet van Moses ook party sondes erger as ander beoordeel het. Vir party sondes kon mens 'n offer bring of die skade regstel, en dan was alles weer reg. Vir ander sondes, spesifiek doelbewuste ergerlike sondes was daar blykbaar net een gevolg : die  doodstraf.  Dis wat  in Deuteronomium voorgeskryf word  vir ‘n opstandige seun. (Deuteronomium  21: 21) ‘n Ander sonde wat die doodstraf oor jou kon bring was owerspel (Deuteronomium 22:22) of om God te vloek (Levitikus 24:16). Geen genade nie, geen genoegsame offer nie, net die allervreeslikste dood. Hierdie sondes het die vloek van God oor jou gebring op 'n baie sigbare manier. So ̕'n oortreder se lyk is aan 'n paal  opgehang, as ‘n verdere verswaring van sy straf... almal kon dit sien.  (Hier in Deuteronomium 21:22-23  word die opdrag gegee dat so ‘n lyk voor sononder begrawe moet word sodat die land nie verontreinig word nie.)

Miskien is het jy ook een of ander “ernstige” sonde gepleeg het. Dalk het jy God direk gevloek in 'n oomblik van woede, miskien het jy een of ander seksuele misstap begaan (jy is bitter spyt, maar jy kan dit nooit vergeet nie), dalk het jy iemand aangerand of beseer, moontlik het jy by die okkulte betrokke geraak, bedrog gepleeg wat ander se lewens vernietig het, of dalk het jy jou eie kinders of ouers onherroeplike skade aangedoen..... Nou is jy gekwel, jy kan nie volle vrede en vreugde beleef nie...die herinneringe aan hierdie sondes agtervolg jou soos ‘n skaduwee.

Vriend, die Woord van God het baie goeie nuus. Jesus red ons van sonde waarvan die wet van Moses (Tora) ons nie kon red nie. Anders gestel, Jesus red ons van alle sonde!

God se oplossing vir ons sondegebrokenheid is geloof in Jesus en nie die wet (Tora)  nie!

 Handelinge 13:38,39 * (OAV)  is so ontsettend belangrik:

“Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word, en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses (Tora) nie geregverdig kon word nie.”

Daar is ‘n heerlike kontras tussen Jesus en die wet van Moses waarvan ons moet kennis neem. Johannes stel dit so : “God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.” (Johannes 1:17) Waar genade beperk was in die wet van Moses, ontvang ons deur Jesus ‘n oorvloed van genade! (Johannes 1:16) Die wet van Moses (Tora)  was ‘n tydelike en beperkte instelling, Jesus Christus is die finale en volkome Verlosser! Jesus bied volledige hoop en vergifnis, wat die wet van Moses nie kon bewerk nie. Hierdie genade is alles moontlik gemaak deur Jesus se kruisdood.  Die sondes waarvoor die wet van Moses ons vervloek het en tot die dood verdoem het, het Jesus op Hom geneem. Hy het die vloek wat die wet uitgespreek het op sondaars gedra en so self ‘n vervloekte geword!  Ek wil graag hê jy moet hierdie waarheid self sien, so kom ons blaai na Galasiërs 3:13. Wat ‘n aangrypende waarheid:

“Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: ‘Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is’”

Jesus het aan 'n houtkruis gehang en gesterf.  ‘n Houtkruis! ‘n Vloekhout! Dis vir hierdie argument van Paulus baie belangrik - Hy is nie net gestenig of met ‘n swaard doodgemaak nie! Paulus verduidelik Jesus se sterwe teen die agtergrond van  Deuteronomium 21:22-23. Hoekom het Jesus juis aan 'n houtkruis gesterf? Dis ‘n bewys, Hy  het nie  maar net ‘n normale dood  gesterf nie, maar spesifiek as 'n vervloekte!  Jesus het maar nie net ‘n toevallige dood gesterf nie, die houtkruis was ‘n teken dat God Hom as ‘n vervloekte behandel en beskou het. Wetsoortreders was onder die vloek, onder die oordeel van God. Daar was geen hoop vir hulle nie.  Hulle is gedood en hulle lyke is aan ‘n houtpaal opgehang. 

Maar God het sondaars lief, Hy stuur sy Seun Jesus na hierdie wêreld juis om mense vir wie daar nie hoop is nie te red. Jesus self het geen sonde gehad nie. Nie een nie. Hy het God se wet immers volmaak gehou. Hy was in alles gehoorsaam aan sy Vader. En tog hier sterf  Hy as 'n vervloekte, onder die oordeel van God aan ‘n houtpaal. Hoe so? Daar is net een antwoord, God het ons sondes gevat en op Jesus geplaas. God het ons ongeregtigheid gevat en op Jesus laat neerkom. (Jesaja 53:6!) God het vir Jesus as sondaar behandel in ons plek. (2 Korintiërs 5:21)  Jesus was dus bedek met ons sondes. Jesus het  as’t ware 'n sondaar geword vol aaklige sondes. Vol sonde, vol van ons sonde. Myne en joune. En wat sê die wet?  Die wet sien Jesus is vol sonde en grom : “Jesus, jy moet sterf!” En Hy sterf...  En ons? Ons wat glo - ons gaan vry! Dis die heerlike evangelie. Dis die boodskap wat hoop bring vir die ergste sondaar! O, wat 'n heerlike omruiling. Christus sterf in ons plek. Hy is vervloek aan die kruis en ons word geseën! Hy sterf en ons lewe!

Jesus het volkome al jou skuld en straf gedra.  Martin Luther stel hierdie waarhede  so sterk en duidelik** : Jesus het nie net vir klein oortredinkies en foutjies en misstappies gesterwe nie, maar vir aaklige sondes, gruwelike sondes, smerige sondes, sondes so groot soos die berge...Hy het aan die vloekhout gehang vir sondes wat die doodstraf verdien. Soos daardie groot sondaars met die ergere sondes van die Ou Testament wat aan die vloekpaal opgehang is! Glo dit. Gryp hierdie goeie nuus aan. Sê vir Hom dankie, sê hier is my lewe ek wy my aan U! Kyk na Jesus,  sien raak dat die volle prys betaal het. 

 Sien raak, sy kruis was ook genoeg vir daardie een vreeslike sonde! 

Hoor soos baie sondaars uit sy mond, "jou geloof het jou gered, gaan heen en sondig nie meer nie." Vier hierdie vergifnis in die Nagmaal, wat weereens ‘n sigbare versekering en bevestiging is van Jesus se genoegsame offer!

 *Natuurlik is Paulus se bedoeling nie hier om te sê dat die wet van Moses in die bedeling van die Nuwe Verbond nog steeds gedeeltelike vryspraak kan bied nie. Dis nie sy punt nie. Hy wil dit  positief stel dat daar deur die geloof in Jesus volledige regverdiging/vryspraak is. FF Bruce stel dit so : “Paul is not making partial but total claims for the power of the gospel over against the law” (THE NEW INTERNATIONAL COMMENTARY ON THE NEW TESTAMENT, The Book of Acts, p279) 

** In sy beroemde Kommentaar op die boek Galasiërs waaruit ek ook geput het vir hierdie preek.