BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 25 Augustus 2019

PANIEKERIG!

Soveel dinge dreig om ons paniekerig te maak... Nou praat ek nie vandag van die droogte hier by ons, die Amasone wat afbrand (foto Global News) of Trump se handelsoorlog nie. Dit gaan oor al die chaos, goddeloosheid en verwarring op die kerklike toneel... (kliek) Soveel stemme en sienings... Wie moet ek glo? Wat gaan van my word? Hoe weet ek wat is reg? Hoe gaan ek veilig by die hemelse wenstreep kom?

Valse lering saai verwoesting. Juis ook binne die kerk. Valse leringe wat die waarhede van die Bybel bevraagteken, valse leringe wat Bybelse norme ongeldig verklaar (Dit lei tot etiese onsekerheid. Wat is nou reg/verkeerd?)..), valse lering wat die opstanding van Jesus betwyfel, valse leringe wat ontken dat daar ’n oordeel en hel is, valse lering wat al die fokus op predikers, profete en wonderwerkers plaas... en so kan mens aangaan... 

Niks onder die son is egter nuut nie! Ook reeds in Paulus se tyd het hierdie valse leringe voorgekom. Hy waarsku Timoteus in 2 Timoteus 2 teen die gevaar hiervan. Hy noem twee valse leraars by die naam: Himeneus en Filetus. Dis ’n baie ernstige saak, want deur hulle valse praatjies rig hulle groot skade aan! “Maar die onheilige en sinlose praatjies moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval, en hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus, wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daarmee vernietig hulle die geloof van sommige.” (16-18) 

Die vraag is nou gaan die kerk van Jesus, gaan ons die skuddende aanslag van valse leringe oorleef? Meer persoonlik, gaan ek en jy wat weet dat ons aan Jesus behoort veilig by die hemelse wenstreep kom? Die Goeie Nuus is : Ja, want God het aan ons ’n vaste fondament gegee! Vastigheid te midde van aardskuddende valse lering en verwarring! 

GODDELIKE FONDASIE

Dis die vertroosting wat Paulus aan Timoteus gee in 2 Timoteus 2:19 – “Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met dié woorde daarop gegraveer: "Die Here ken dié wat aan Hom behoort," en: "Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbreek van die ongeregtigheid." Ja, ten spyte van die groot bedreiging, is daar ’n hegte vaste Goddelike fondament, onwankelbaar! God se fondament staan vas : die duiwel brul, valse leraars spoeg vuur, omstandighede is donker, vyande kan spot, DIE KERKBODE kan propaganda maak... nogtans God se fondament staan vas! 

Op hierdie vaste fondament moet ons BOU en VERTROU! 

Laat ons prakties raak! Wat is hierdie vaste fondament? LW - dis ’n fondament wat God gelê het! Dit gaan oor ’n vaste waarheid en waarborg wat van God af kom! Hierdie fondament is onvernietigbaar! Dit gee Goddelike troos en versekering! Die fondament bestaan uit twee grondwaarhede. Twee belangrike fasette! (En die volgorde is nogal baie belangrik!) 

OU TESTAMENTIESE AGTERGROND 

Die stelling van Paulus oor die Goddelike fondament het ‘n duidelike Ou Testamentiese agtergrond. Dis die opstand van Korag, Datan en Abiram teen Moses se gesag waarvan ons lees in Numeri hoofstuk 16. Dit het oor meer as ‘n persoonlike saak gegaan, dit was ‘n verwerping van God se openbaring en ‘n poging om God se volk te mislei. (Net soos wat Himeneus en Filetus wou maak!) Wat was Moses se reaksie? “Toe Moses dit hoor, het hy op sy knieë geval en gebid. Daarna het hy vir Korag en sy hele bende gesê: "Môreoggend sal die Here die persoon aanwys wat aan Hom behoort en wat gewy is en sal Hy hom toelaat om by die altaar te kom. Die persoon wat Hy verkies, sal Hy na die altaar toe laat kom.” (Numeri 16:4,5) Moses laat als rustig in God se hande. God het mos geweet wie Hy verkies het en wie aan Hom behoort! (Die eerste deel van die fondasie waarvan Paulus praat). Korag, Datan en Abiram het toe te doen gekry met die oordeel van God self! Die res van die volk het duidelik die opdrag gekry om weg te kom van hulle en hulle nie deur hulle sonde te laat besoedel of beïnvloed nie! “Hy sê toe vir die gemeente: "Gee pad van die tente van hierdie goddelose mense af! Moenie aan iets van hulle raak nie, dat julle nie deur al hulle sondes omkom nie." (Numeri 16:2) 

TROOS EN OPDRAG

Kom ons kyk nou verder na die detail van die fondasie waarvan Paulus praat: 

Eerstens : “Die Here ken die wat aan Hom behoort” God weet wie sy uitverkore kinders is! (Al is dit nie altyd vir ons duidelik nie) Psalm 1 sê ook : “Want die HERE ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal vergaan.” (OAV) Uiteraard,“ken” beteken hier baie meer as net “weet van” Dit beteken dat God die inisiatief in ons verlossing geneem het en dat Hy ook ons verlossing in stand hou en ons bewaar! Dieselfde waarheid as wat hy in Filippense 1:6 op ’n ander manier sê! "Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom." Geliefdes, dis die vertroosting binne in die chaos, teleurstellings en aanvegtinge wat ons beleef. As God my gered het, gaan hy my nie halfpad los nie! Hierdie eerste deel van die fondasie roep ons om weg te kyk van ons swak self en van ons moeilike omstandighede en bedreigings en God in al sy grootheid raak te sien. Die Skepper van die heelal is heeltemal in staat om jou te midde van bedreigings en valse lerings te bewaar en veilig in sy Koninkryk te bring! Dit word so treffend gestel in Judas 24,25! “Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen. 

Wees verseker van God se fondasie. Vind rus, vertroosting en veiligheid daarin! Bedink God se beloftes! 

Tweedens : “Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort moet wegbreek van die ongeregtigheid” Ons moet die tweede deel van God se fondasie ook ernstig opneem! Die eerste deel van God se fondasie is ’n versekering, die tweede is ’n opdrag! God betrek onsself ook in hierdie fondasie. Ons het ’n verantwoordelikheid. Maar belangrik, ons kan en moet hierdie verantwoordelikheid nakom juis omdat God sy deel nakom. Omdat God ons gered het en omdat Hy ons redding in stand hou KAN ons erns maak met die opdrag om te breek met alles sonde in ons lewens! Kind van God - die almagtige God het jou uitgekies, Hy het jou sonde op Jesus gelê en dis klaar gestraf en klaar vergewe, Hy het jou deur Jesus verlos van sonde, dood en hel, Hy waarborg jou ewige veiligheid, DAAROM: Raak ontslae van als wat vuil en sleg is! Ons moet sonde aflê nie om onsself te red nie, maar om bruikbaar te wees vir God en sy werk. “As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ‘n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.” (21) 
Hoe bemoedig God ons deur die tweede deel van die fondasie? As jy erns maak met die uitroei van sonde, is dit net ’n verdere bewys dat die eerste deel van die fondasie waar is van jou. As jy daagliks baklei teen sonde en dit uitroei is dit mos ’n duidelike bewys dat reeds God reddend in jou lewe ingegryp het en jou dus ook verder sal bewaar! 

Hoe moet ’n kind van God wegbreek van ongeregtigheid? “Vermy die begeertes wat ‘n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ‘n rein hart die Here aanroep.” (22) Die OAV gebruik die direkte woord “vlug.” Gebruik jou voete as dit nodig is! Tree drasties op... 

Geliefdes, die aardbewings van valse leringe en verleidinge is baie hewig. Maar ons hoef nie verskrik of moedeloos te raak nie! Daar is ‘n VASTE GODDELIKE FONDAMENT!

 Hou twee sake voor oë! 

1) Fokus op God se genade en almag soos geopenbaar in Jesus wat jou gered het en jou veilig sal bewaar! 

2) Fokus op die uitroei van alle sonde in jou lewe! Haat dit en vlug daarvoor! Ook die klein jakkalsies... 

God se vaste fondament gee ons vertroue en sekerheid. Dis hoe Paulus dit self in baie moeilike omstandighede aan die einde van sy lewe ervaar het. Wat hy hier skryf is dus baie meer as mooi teorie... Hoor sy vertroue in die aangesig van die dood in dieselfde brief: “Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen.” (2 Timoteus 4:18 )

Hiervan kan elke kind van God ook seker wees te midde van die storms!


Woensdag 21 Augustus 2019

BEDREIGDE SPESIE!


Nee, ek praat nie van die renoster nie! 


Ek verwys na die Christen Calvinistiese Afrikaner Man! Ekself is een van hulle. En dit kan gevaarlik raak net om te oorleef... 

In die heel eerste plek noem ek myself ‘n Christen. Moenie ’n fout maak nie, die naam Christen word al hoe meer gehaat. Spesifiek sogenaamde “fundamentalistiese” Christene wat die Woord van God as onfeilbare norm vir leer en lewe beskou en Jesus as die enigste Weg na die Vader bely. Christene wat euwels soos dronkenskap, saambly en die nuwe gier van homo dominees nie kan goedpraat nie! Ons word verag, beledig en afgeskryf as onverdraagsaam, eng, pretbederwers, verouderd en homofobies! Ons word vervolg deur regerings, volksgenote, eie familie en veral deur die “verligte” valse leraars binne die kerk! Christene word al hoe meer uitgedruk na die onverkwiklike plek heel onder aan die “voedselketting” en gesien as die gunsteling prooi van ateïste, menseregte aktiviste, liberale teoloë , gekrenkte joernaliste... 

Christene word wêreldwyd al hoe meer geteiken en bedreig en tog is ek dankbaar, nederig, “trots” om myself ‘n Christen te noem. Iemand wat soos Paulus alleenlik roem op die kruisgebeure waar Jesus die volle prys genoegsaam betaal het vir AL my sonde! 

Tweedens noem ek myself ’n Calvinistiese Christen. Ek sê doelbewus “tweedens” want die broers en susters met wie ek hartlike gemeenskap in Christus beoefen sluit ook diegene in wat hulleself nie as Calviniste sou beskryf nie. As Christene gehaat word deur die wêreld is dit natuurlik dubbeld die geval met Calvinistiese Christene. Ons erken dan dat die mens “totaal verdorwe” is, tot niks goeds in staat nie en volkome afhanklik van God se genade! Ons word verkeerd verstaan en ons sienings verdraai. (doelbewus of weens onkunde) Sommige mense beweer dat ons nie glo in bekering en wilsbesluite en evangelisasie nie. Dit terwyl die grootste evangeliste en bekeringspredikers van alle tye soos George Whitefield, Charles Spurgeon, Robert Murray M’cheyne , Martyn Lloyd-Jones... hierdie leer van Goddelike soewereiniteit onderskryf het. Ons word belaster, beledig en die skuld gegee vir als wat verkeerd geloop het in die teologie sowel as in die politiek (spesifiek ook hier in Suider Afrika) Ja, ons word geteiken en die skuld gegee vir als wat sleg is onder die son – van apartheid tot (dalk) klimaatsverandering!

Calvinisme is in baie kringe ’n vloekwoord en tog sal ek altyd ’n dankbare nederige Calvinis bly, omdat ek glo dat God soewerein is en dat Hy alleen alle eer waardig is. Inderdaad, uit Hom, deur Hom en tot Hom is alle dinge! (Romeine 11:33-36) Soli Deo Gloria! 

Die derde gevaarlike etiket wat om my nek hang is die van Afrikaner wees. Nee, ek is nie ’n super Afrikaner van Broederbond faam nie! (Ek het inderdaad  ’n renons in enige geheime organisasie) Ek glo ook nie Afrikaners is die uitverkore volk van God nie. Ek is diep bewus van foute wat Afrikaners en Afrikanerregerings gemaak het. En tog gaan ek nie my Afrikanerskap ontken of probeer wegsteek nie. Ek praat my taal met trots. Met behae neem ek kennis van die veelbewoë geskiedenis van die Hollandse baanbrekers, Franse Hugenote, Voortrekker pioniers, die Boerekrygers wat teen die magtige Britse Ryk geveg het, die kinder en vroue helde van die konsentrasiekampe en soveel ander eerbare Afrikaner manne en vroue. Ek kyk met verwondering terug op God se pad met hierdie volkie en hoe Hy ons ten spyte van ons misstappe en gebreke gebruik het om ’n seën vir Afrika te wees! Wie dit nie weet nie moet maar gerus die sendingeskiedenis gaan oplees! Bekende helde van die kruis soos Stephanus Hofmeyer, A.A. Louw, die talle lede van die Murray familie, Helena Hugo (te veel om te noem), maar ook die onbekende groot aantal boere, sakemanne, huisvroue en Afrikaners van elke denkbare beroep of stand wat met woord en daad die evangelie op ’n donker vasteland versprei het en dit nog steeds doen! Die woorde van ’n eenvoudige boer, ouderling W. Joubert van die plaas Uitkomst in die noorde van die destydse Duitswes aan ’n besoekende leraar in 1912 tref mens diep : “Ik is een zendingvriend omdat ik een Afrikaner is.” Hy het ‘n kerksaal vir sy Herero werkers gebou en die Woord aan hulle bedien! 

Ek bly dus opgewonde en dankbaar om myself ‘n Afrikaner te noem. Al is ons die muishondvolkie in baie se oë en al is ek deesdae diep ontsteld oor die skrikwekkende geestelike afvalligheid onder ons mense! God wat aan alle volke bestaan en ruimte gee vir solank Hy wil (Handelinge 17:26), het in sy alwysheid my deel gemaak van die Afrikanervolk en ek gaan daarom niemand om verskoning vra of skaam wees dat ek tot hierdie volksgroep behoort nie. En ek glo steeds dis ‘n voorreg om ‘n geroepe Christen Afrikaner te wees! 

En dan is ek boonop ook ’n man! Miskien glimlag jy nou, maar die man is ook deesdae in ’n wêreld wat behep is met regte en gelykheid ’n bedreigde spesie of dan ten minste ’n teiken van allerlei soorte aktiviste en ideologieë. Die unieke plek wat die Woord aan die man aanwys as hoof van die huis en as bekleer van die lerende amp in die kerk is onder skoot. Die rol en plek van die man word orals bevraagteken en verkleineer (selfs in die kerk) onder die dekmantel van geslagsgelykheid. Trouens dit gaan nog verder. Blykbaar het alle geslagsonderskeid vir die wêreld problematies geword. Daar is sommige wat sover gaan om kinders geslags neutraal groot te maak sodat elke kind later kan kies wie hy of sy of dit wil wees... Wanneer ek dus dankbaar teenoor die Here is vir my manwees is dit nie ’n chauvinistiese streep wat na vore kom nie (ek dink die vrou, veral as sy die Here ken is die mooiste deel van God se skepping), maar bloot ’n erkenning van en onderwerping aan God se ordes. God het die mens na sy beeld geskape en dit vind uitdrukking daarin dat God, man en vrou gemaak het. (Genesis 1:27) Ja, die sondeval het elke aspek van menswees (ook geslagtelikheid en geslagsrolle) aangetas, maar juis die omvattende verlossingswerk van Jesus motiveer ons om nooit die sondige gebrokenheid van hierdie lewe as normaal te aanvaar nie. Juis daarom volhard ons op die pad van lewensheiliging wat betref elke deel van ons menswees en dus ook manwees. Juis daarom kan ons aan gebroke mense die bevrydende en heelmakende evangelie verkondig... 

Ek bly dus dankbaar dat God my ’n man gemaak het, terwyl ek bely dat daar in Christus ’n nuwe eenheid tot stand gekom het wat alle verskille in kultuur, stand en geslag verreweg oortref! (Galasiërs 3:28) Hierdie eenheid hef egter nooit die verskille en verskillende rolle op nie. As man wil ek ook met nederige afhanklikheid van God die spesifieke verantwoordelikhede wat Hy aan my toevertrou het as eggenoot en gesinshoof ernstig opneem. 



NASKRIF 
 Miskien moet ek net nog byvoeg ek is ‘n VLEISETENDE 😄man, want dit lyk my nou na die nuutste dwaling – skep skuldgevoelens by mense wat vleis eet! Dis seker nie vreemd dat (kliek) DIE KERKBODE ook lustig meedoen aan hierdie aktiwiteit nie. 


Donderdag 15 Augustus 2019

EK IS MOEG EN FLOU


WAT NOU? MOET EK OPHOU? 



Voel jy moeg, moedeloos en flou? Ja, kinders van God raak fisies moeg, maar ons raak ook geestelik moeg. Ons word net moeg om goed te doen. Ek raak moeg om my wyk getrou te besoek, moeg vir my Sondagskool klas, moeg om gereeld huisgodsdiens vir my kinders te hou, moeg om vriendelik te wees met onvriendelike en ondankbare mense, moeg om mense uit te nooi wat nie belangstel in God se Woord nie, moeg om Christelike liefde in 'n liefdelose huwelik te probeer uitleef, moeg om entoesiasties kind van God te wees, moeg om gedurig teen my eie sondige natuur te stry... Kortom – Net moeg, moeg vir goeie werke! 

OORSAKE 

Daar is natuurlik baie moontlike redes en oorsake vir so ‘n totale gevoel van moegheid en uitputting. Beslis het die droogte (tans hier in Namibië) ‘n invloed op ons motivering en gemoedstemming. Definitief dreineer die neerdrukkende politieke en ekonomiese nuus waarmee ons daagliks gekonfronteer word ons geesdrif en lewenskrag. Maar daar is ook ander dieperliggende faktore : gebrek aan vordering of resultate, ons sondige natuur wat ons verlei tot luiheid en kortsigtigheid... Selfs ook ons liggaamlike toestand kan 'n rol speel... 


Paulus het kennis gedra van hierdie probleem van moeg word om goed te doen en spreek dit duidelik aan in Galasiërs 6:7-10. Hy rig daarom ‘n kragtige en dringende uitdaging aan elkeen van God se kinders wat moeg geword het! 

"Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel." (Galasiërs 6:9) 

STRYD

Hierdie aansporing van Paulus is natuurlik deel van ‘n groter konteks. Dis deel van die groot konflik in die kind van God naamlik die stryd tussen die vlees en die Gees. Hy het reeds hiervan melding gemaak in 6:16,17. 

“Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. 
Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.” 

Ons vergeet so maklik – as jy waarlik ‘n kind van God geword het, woed daar ‘n hewige stryd in jou binneste! Dis ‘n onophoudelike en uitputtende geveg tussen die vlees (ou sondige natuur) en die Heilige Gees wat nou in elke kind van God woon. Dis normaal om hierdie stryd te ervaar. En hierdie stryd put ons uit en tap ons krag! 

Elke kind van God het die verantwoordelikheid om daagliks en voortdurend te kies teen die ou natuur en myself doelbewus te onderwerp aan die Heilige Gees! “Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.” (5:25) Dis ‘n keuse wat ons moet maak en ‘n keuse wat ingrypende en geweldige gevolge het. (6:8) Dit wat jy saai (jou dade, optrede, gedrag) het direkte gevolge – dis wat jy oes! Ons dade nou het ewigheidsgevolge. Pasop hoe jy optree, pasop wat jy besluit en doen. In hierdie konteks vermaan Paulus ons om te volhard in goeie werke. 

Ons moet gedurig waak teen die versoeking om te laat slap lê. 

Geestelike slaapsiekte en lomerigheid is 'n voortdurende ernstige bedreiging. Om dit teen te werk moet ons die waarskuwings en aanmoedigings van die Skrif ernstig opvat. Dit sal ook van ons vereis om praktiese maatreëls te tref. 

Ek deel met jou ‘n paar moenies en moets wat dr. Martyn Lloyd Jones hanteer in sy boek SPIRITUAL DEPRESSION

~Moenie tou opgooi nie. Moenie eers so ‘n gedagte kans gee om wortel te skiet nie! Omdraai is nie ‘n opsie nie. " Moenie eers oorweeg om toe te gee aan die versoeking om aan die slaap te raak nie. (Dink aan die gevare van die Betowerde grond in Bunyan se klassieke werk, DIE PELGRIM SE REIS NA DIE EWIGHEID) 


Spurgeon het gesê : "Continue with double earnestness to serve your Lord when no visible result is before you.” 

Onthou Markus 13:13! Net diegene wat volhard sal gered word! 



~Moenie vrede maak met 'n voetesleep toestand nie. Dis nie God se bedoeling vir sy kinders nie. Dit steel jou vreugde en bring oneer op ons Verlosser se Naam. Om die Here met geesdrif te dien is immers ‘n staande opdrag. “Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here.” (Romeine 12:11) 

~Moenie jou wend tot kunsmatige geestelike stimulante nie. Sommige Christene probeer hulleself stimuleer deur allerhande “nuwighede” te probeer, wat hulle uiteindelik wegvoer van die evangelie. (Die snaaksighede van die HRM). Ander probeer “church hopping” en word geestelike swerwers sonder roeping en rigting! Sommige kry gunsteling geestelike “stokperdjies” en kry oogklappe aan. (Hulle wil gedurig oor die doop of wegraping stry en verloor Christus uit die oog!) 

~Moenie in selfbejammering verval nie! Murmurering/kla  is ‘n ernstige sonde. (1 Korintiërs 10:10) Selfbejammering maak jouself, jou huwelik, jou bediening dood!

WAT OM PRAKTIES TE DOEN? 

Daar is beslis ook positiewe maatreëls wat getref kan word, as ek geestelik lam en lui geword het. 

1.Doen selfondersoek en vra na die oorsake! Vra jouself: 

~ Is die rede vir my tamheid en traagheid nie dalk fisies nie? Kry ek genoeg slaap, gesonde kos, sit ek dalk te veel voor die rekenaar..? (Terloops, daai skootrekenaar dreineer mens se energie) Dit mag wees dat ek dalk moet gaan vir ‘n deeglike mediese ondersoek! Dalk moet ek drastiese aanpassings in my daaglikse leefstyl maak! 

~ Probeer ek dalk om geestelike werk met menslike krag te doen? Ek hardloop baie rond om dinge vir die Here te probeer doen, maar my hart is nie op Hom ingestel nie. Ek skeep my persoonlike tyd met Hom af en strompel kragteloos voort, vasgevang in ‘n menigte van sinlose aktiwiteite. Is ek daagliks in verbinding met die Bron, Jesus? Gaan dit nog oor Hom? Sit ek aan sy voete soos Maria? 

~ Wat is my motiewe vir my goeie werke? Is dit dalk aktiwiteit bloot ter wille van aktiwiteit? Probeer ek dalk my saligheid met allerhande pligte te verdien of my eie koninkrykie te bou? Probeer ek via geestelike aktiwiteite naam maak vir myself? Dalk is ek by baie aksies betrokke net om van die huis af weg te vlug, want ek kom nie met my eie huismense oor die weg nie? Stel eers jou motiewe reg voor God. Onthou dit gaan oor dankbare diens vir ‘n genadige verlossing... 

2. Onthou die Christelike lewe is 'n onophoudelike lewe van goed doen - wees voorbereid. Wees realisties soos ‘n marathon atleet – hy weet hierdie wedloop gaan nie binne tien minute oor wees nie, ek moet my instel vir ‘n lang stryd... Jou eie heiligmaking vat tyd, die werk aan jou huwelik vat tyd, volharding in jou bediening vat tyd... Daar is nie kortpaaie en kitsoplossings nie!

3. Hou Jesus in die oog! Vra opreg : “Vir wie doen ek alles? Doen ek goeie werke vir mense eer en gelukwensinge of vir Hom wat sy bloed vir my gestort het?” Maak tyd om Hom weer innig en diep te leer ken... Laat Jesus en sy liefde voorop in jou gedagtes staan 

4. Fokus op die eindresultaat. Dink aan die oes! Dink aan die beloning. Dis wat Paulus hier sterk onderstreep! Dink jy aan die eindpaal? Is die regterstoel van Christus ‘n werklikheid, is jou oog op die toekoms? 

KYK WEER OPNUUT NA JESUS EN GAAN AAN!



Donderdag 08 Augustus 2019

Jou WhatsApp status wys


Jy het nie VREDE nie... 



VREDE. DIS WAT DIE WÊRELD NIE VIR JOU KAN GEE NIE…. 



VREDE! Hoe lyk vrede? Spesifiek hoe lyk die vrede en vervulling en vreugde waarvan Jesus praat? Ek het dit nou die dag gesien…. Op Johannes Tampan se gesig, die Donderdag voor hy getrou het. Dis ‘n vrede en vreugde wat geld nie kan koop nie! Die vrede en vreugde van Jesus! (KLIEK) 


In JOHANNES 14:27 vertel Jesus ons: 

"Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.” 

Alle mense smag na vrede. Maar waar kan ons dit kry? Jesus se punt is duidelik -die wêreld is magteloos om vir jou vrede te gee… 

Ten spyte van al die “apps”, aansprake, advertensies, beloftes en foefies kan die wêreld nie vir jou vrede gee nie! 

Politieke leiers kan nie - daarom word hulle almal iewers “gefire” (en dit sal ook geld vir beide Ramaphosa en Trump!)
Geld en besittings kan nie – kyk hoe baie rykes en beroemdes pleeg selfmoord of moet hulleself opkikker met dwelms en sterf uiteindelik aan een of ander oordosis!
Alkohol kan nie – die tragiese gebeure van ‘n jongman wat in sy braaksel verstik het na ‘n drinksessie in Stellenbosch is nog pynlik vars in die geheue. 
Seksuele losbandigheid en flirtasies kan nie – dit steel juis vrede, verwoes huwelike, maak harte seer.... Dit sien mens mos gereeld op sosiale media - vandag :  “jy is my alles/ ek kan nie sonder jou lewe nie/ my spark in the dark” en môre is jy die grootste vark onder die son! En dan is daar weer 'n nuwe liefde wat nou die "spark" moet wees en die vorige pyn moet laat verdof...

Terloops, die wanhopige aandagsoekende uitstallings van persoonlike sake op WhatsApp en Instagram skreeu uit : 

“Ek is eensaam, stukkend en sonder vrede!” 

Die wêreld kan inderdaad nie vrede gee nie. Veral ook nie die wêreld georiënteerde en wêreld gewilde vals profete wat vir jou wil vertel : “Alles is maak OK” terwyl jy in sonde voortleef nie! 

"Want van hul kleinste tot hul grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog. En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! --terwyl daar geen vrede is nie. Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het; tog skaam hulle hul nie in die minste nie, tog weet hulle nie om te bloos nie. Daarom sal hulle val onder die wat val; in die tyd dat Ek aan hulle besoeking doen, sal hulle struikel, sê die HERE."(Jeremia 6:13-15) 

Die vals profete verseker mense : “Julle is eintlik OK, die Here hou van julle, God is aan ons kant…” Hulle wil nie die oortredings van die mense en God se oordeel daarop aankondig nie. Hulle verswyg dit omdat hulle gewild wil wees! Maar hulle skep ‘n valse vrede en valse gerustheid terwyl mense wankel op die rant van die hel! 

Net Jesus kan vrede gee. Dis die kernwaarheid hier in JOHANNES 14:27 

Hy gee vrede en Hy gee vir ons SY vrede. Hy wil dit vir jou NOU gee! Dis die vrede wat in Sy eie hart geheers het te midde van sy eie lyding en dood. Die vrede wat nie deur die geselslae, beledigings en dorings op sy kop gesteel kon word nie!   Die vrede wat Hom op die drumpel van die dood kon laat uitroep: “Vader in U hande gee ek my gees oor”. Dis juis sy dood wat hierdie vrede gekoop het. Dis ‘n unieke anderse vrede wat die wêreld nie kan gee nie, nie het nie en nie kan verstaan nie! Vandag nog nie! In Jesus se tyd was daar ‘n sogenaamde vrede, die Pax Romana – dit was die wêreld orde en vrede wat die Romeine deur hulle swaardmag bewerk het. Hulle het met geweld en verowering alle volke onderwerp en ‘n tipe vrede afgedwing. Die Jode in Jesus se tyd het dus ook gedink dat die Messias met die swaard die Romeine sal verdryf en so vrede vir hulle bring. Dis waarom hulle so teleurgesteld was in Jesus. 

Jesus se vrede is iets heel anders as politieke vrede. Dis iets heel anders as mensgemaakte vrede. Dis iets anders valse uitbasuin WhatsApp vrede. Dis iets anders as daai foto saam in omhelsing met die jongste liefde of die rugbytrofee wat volgende week weer ou nuus is.  Dis iets anders as die valse gerustheid wat die vals profete verkwansel. Dis iets heel anders as wat op die markte van die wêreld beskikbaar is… 

HOE LYK SY VREDE? WAT IS DIT? 

Dis vrede met God in die eerste plek. Soos Jesus in vrede geleef het met sy Vader en die wil van die Vader gedoen het. Deur sy dood het Hy die boosheid en onvrede van die sondige mens op Homself gevat en die straf daarvoor verduur sodat ons vrede met God kan kry deur die geloof. “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” (Romeine 5:1) 

Die vrede van Jesus is die vrede wat weet dat God nie meer vir my kwaad is nie, want die Lam van God is vir my geoffer. God hou niks meer teen my nie, meer nog Hy is deur Jesus my liefdevolle en versorgende Vader! 

Hierdie vrede is die vrede wat die inwonende Heilige Gees deur sy teenwoordigheid vir ons gee en ons rustig en kalm maak, want Hy is in ons. Sy teenwoordigheid is juis die kenmerk van die Messiaanse tyd waarin ons nou reeds leef en wat volmaak sal aanbreek by die wederkoms! En as dinge rof raak dan herinner die Heilige Gees ons weer aan Jesus se beloftes en word die vrede in my binneste weer herstel. (Joh 16:26)

Hierdie vrede is genoeg om vrees uit ons harte uit te verdryf. Vrees vir mense, vrees vir die dood en vrees vir die hel! Dis juis in die konteks van die dissipels wat bang was wat Jesus hierdie woorde gesê het. (vgl. Johannes 14:1) 

Hierdie vrede is dus groter as ons vrese en omstandighede, dit is eintlik ‘n onlogiese vrede wat heers in ons harte ten spyte van slegte omstandighede. Paulus praat daarvan in sy brief aan die Filippense. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” (Filippense 4:6,7) Praat ons nou van mooi teorie of Sondagpraatjies? Nee, hierdie vrede is 'n realiteit; Paulus het dit in die tronk ervaar en kon vanuit die tronk hierdie brief aan die gemeente van Filippi skryf om hulle te bemoedig!

Hierdie vrede kom saam met die pakket van liefde en vreugde wat Jesus gee. “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly. Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.” (Johannes 15:9,10,11) 

Hierdie vrede, die vrede wat Jesus gee is die omvattende TROOS waarvan die Heidelbergse Kategismus vraag 1 praat: 

My enigste troos in lewe en sterwe is dat ek aan my getroue Verlosser Jesus Christus behoort! 




Dinsdag 06 Augustus 2019

BRUILOFSMAAL OP MAKALANI


- Sigbare boodskap van evangelieheerlikheid!

Ek sit saam met ‘n Hai//om bruidspaar aan die nagmaalstafel. Johannes Tampan en sy vrou Rosa. Stralende egpaar! Een brood, een beker, maar ‘n groot verskeidenheid van nagmaalgangers – Hai//om, Afrikaans, Duits, Engels. Ja, dis meer as net ‘n normale bruid en bruidegom wat hier bymekaar is, dis die Bruid van die Lam, losgekoop met sy kosbare bloed uit elke stam, taal, volk en nasie… 



Vroeër (as deel van dieselfde erediens) het ons immers ook sigbaar beleef hoe Jesus deur die Woord en Gees sy bruid self bymekaarmaak deur die volwasse doop van ‘n jongman, Karel wat tot bekering gekom het. Hierdie was nou nie die gewone standaard erediens waaraan ons gewoond is nie – vooraf was daar twee getuienisse, toe die doop, daarna ‘n huweliksinseëning en uiteindelik die nagmaalsviering! Deurgaans word die Woord bedien- uit Genesis, Hooglied en Openbaring en dit vorm ‘n pragtige eenheid. Die bedienaar van die Woord en sakramente is ons broer ouderling Andries Gous. Hy en ouderling Herman Fuls is onlangs amptelik met goedkeuring van die Namibiese Kuratorium as gemeentebedienaars bevestig . (KLIEK) 

Wat hier gebeur is ‘n pragtige getuienis en ‘n helder boodskap. Ja, die omgewing is eenvoudig, armoedig, kultureel anders... ‘n Hond, ‘n hoender, ‘n seuntjie wat ‘n wieletjie rondstoot, iemand wat in die agtergrond hout kap, iewers daag ‘n polisievoertuig op… dis alles deel van die toneel. Maar sentraal is die Here Jesus wat vandag nog sorg dat die evangelie juis ook aan die armes verkondig word. En Hy sorg self en Hy bou self sy kerk. Deur dissipels wat gehoorsaam is aan die GROOT OPDRAG!

Tampan en Rosa is eenvoudige mense, maar hulle verhaal wonderbaarlik. Tampan het vir jare die Woord onder sy mense verkondig (onthou hy is ongeletterd) sonder amptelike hulp van die kerk. Hy het egter met ‘n probleem gesit. Hy en sy vrou was nie wettig getroud nie. Dit was ‘n moeilike saak om reg te stel, want beide hy en sy vrou was voorheen wettig in ander huwelike, maar beide se eggenotes het hulle deur die dood ontval. Om weer te trou sou ‘n groot klomp dokumentasie vereis. En vir ‘n ongeletterde Boesman, wat ook nie die nuwe Namibiese amptelike taal van Engels magtig is nie was dit ‘n bykans onmoontlike hoë berg om te bestyg. Totdat die Here vir Andries oor sy pad gebring het… Andries het die saak selfs tot by die Ombudsman se kantoor gevoer… Hulle is toe die vorige Vrydag wettig voor die landdros getroud. 

Nou is dit erediens en feesdiens in die hart van die gemeente! Die bruid van die Lam is hier bymekaar... sigbaar!

Andries het later getuig van sy indrukke: 

“Tydens die doop het ek geweldig bewus geraak van die teenwoordigheid van die Here. Nadat die doop bedien is aan Karel Awaseb het ek my hand op hom gesit om te bid en ek was tasbaar bewus van die Gees van God. En toe ek opkyk en ek sien die trane loop, toe weet ek dat Karel Awaseb het net soos ek bewus geword van God se tasbare teenwoordigheid. 

Na die diens gesels ek met die Tsintsabis mense wat ek terugvat en ek vra vir hulle wat was vir hulle die mooiste? Maria sê die doop, want dit is 'n bewys dat God nog iemand bygevoeg het tot sy liggaam. Sy reken die troue en nagmaal was mooi maar die doop is die bevestiging dat God sy kinders bymekaar maak. Nog 'n verlore siel is gered. Ek hoor ook iemand sê dat hulle so 'n troue wil hê, want dit was so mooi, daar was nie 'n klomp tradisies en dronk mense nie. 

Op pad terug na Grootfontein ry ds. Regina en ander vrouens saam voor in die bakkie en ek begin uitvra oor die indrukke van die diens. Die een vrou sê dat sy sien dat Tampan en Rosa het getrou al het hulle nie werk en geld nie. (Ja, daar is ook maar die wanopvatting by die Boesman mense dat mens geld nodig het om te trou.) Ek het verduidelik dat as ‘n mens wil wag vir geld dan moet jy ook jou lyf se plesier laat wag tot dat jy geld het.” 

Loof God vir die kosbare boodskap wat uitgegaan het – nie net deur Woord alleen nie, maar ook deur sigbare tekens en veral deur die diep bonatuurlike werk van die Heilige Gees! Wat ‘n voorbeeld is hierdie Boesman broers en susters se erns met God en sy opdragte. En dit in ‘n tyd waar ons blanke jongmense in totale sedeloosheid verval. Oor saambly en buite egtelike kinders word daar nie eers meer gefrons nie! (Trouens dit word op sosiale media geprys en ondersteun!) God se standaarde het egter nog nooit verander nie! 

"Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid. Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie." (1 Tessalonisense 4:3-5) 

Die bruid van die Lam is immers ‘n rein bruid!



Donderdag 01 Augustus 2019

MET ONS?

In droogte? In siekte? In geldskaarste? 

Jesus het ‘n duidelike belofte gemaak dat Hy met ons (sy dissipels) sal wees! 

Maar is dit waar en beleef ons dit? 

DROOGTE EN GELDSKAARSTE 

Dis ‘n gegewe. Dis afgryslik en skrikwekkend droog hier by ons in Namibië. Met moedeloosheid moes ons die afgelope somer verlangend kyk na sulke “pensvetwolkies”* wat verbydryf terwyl die groot reënwolke weggebly het! Dit alles teen die agtergrond van ‘n baie diep ekonomiese insinking met baie implikasies...werksgeleenthede gaan verlore, skoolgelde kan nie betaal word nie...Nou kom die vraag by ons op : Waar is Jesus? Wat dink Jesus van die droogte, ekonomie, ellendes...?  Wat is vir Hom in hierdie tyd belangrik? Ons maak mos al meer planne in sulke tye, maar wat is SY PLAN? 

GAAN DAN HEEN 

Die opgestane Jesus se groot laaste opdrag en PLAN aan al sy volgelinge was: “Gaan dan heen en maak soveel geld as moontlik en ek sal by julle wees!” Ekskuus… dis seker nie wat Hy gesê het nie, maar dis wat die meeste van sy volgelinge vandag gehoor het of mee besig is. 

Hier is wat Hy gesê het (vir in geval ons dit dalk gemis het) : 

Jesus kom toe nader en sê vir hulle: "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 
Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld." (Matteus 28:18-20) 

Jesus het na sy opstanding weer hier sy dissipels bymekaar geroep om laaste opdragte aan hulle te gee. Die eerlikheid van die evangelieskrywer is opvallend. Selfs hier na die opstanding heers daar tog nog ‘n mate van twyfel in sommige van Jesus se leerlinge se harte. (17) Hierdie twyfel handel nie oor Jesus se lewe en majesteit nie, maar oor die ongelooflike waarheid dat God se Seun vir sondaars gesterf het. Die twee sake wat hier saamgaan : God se Seun saam met ‘n vernederend kruisdood was net te ongelooflik. Nou gebeur iets wonderlik... Terwyl hulle Jesus aanbid word hulle twyfel genees en vergewe, want hulle almal ontvang ‘n bemoediging en ‘n belofte. 

Jesus verwag nie eers volmaaktheid van ons voor Hy ons bemoedig, uitstuur en wil gebruik nie. 

ALLE MAG BEHOORT AAN HOM 

Jesus begin sy dissipels bemoedig met die wonderlike versekering van sy almag. "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde." (18) Die almag wat die Vader aan Hom as die Seun gegee het. Jesus het absolute mag. Dis niks nuuts wat Jesus hier sê nie. Sy hele bediening het dit bewys… Sy volkome heerskappy oor die natuur, siekes is genees, besetenes is bevry, dooies is opgewek…. Ook die verskriklike feit van sy eie sterwe het niks daarvan weggevat nie. Sy sterwe was juis ‘n vrywillige nie-gebruikmaking van sy mag om sondaars te red! Ja, spesifiek sy mag om sondaars te red is onbeperk... Daar is soveel voorbeelde... 

GAAN NA AL DIE NASIES 

Wat wel nuut en radikaal is, is Jesus se opdrag en veral die wye omvang daarvan. Vantevore is die dissipels se sending beperk tot Israel. (10:5) Nou word die grense wawyd oopgegooi. Ja voorheen het daar wel soms heidene by die volk Israel aangesluit. (Dink aan uitsonderings soos Ragab en Rut) Maar nou is die opdrag nie om van heidene Jode te maak nie, maar direk hulle dissipels/leerlinge van Jesus te maak! Die belofte aan Abram dat al die nasies deur hom seën sou ontvang gaan nou in vervulling. Jesus is immers die seun van Abram. (1:1) Hoe merkwaardig – die praktiese uitvoering van God se belofte word in die hande van Jesus se volgelinge gelaat! In my en jou hande! God vertrou ons daarmee! Hier gebeur iets heerlik aangrypend. Hier is die aansluitingspunt tussen die evangeliegeskiedenis en ons eie persoonlike geskiedenis. Hier word ek en jy self deelnemers in die Bybelverhaal, in die ontplooiing van God se verlossingsplan in die wêreld. 

‘n Christen is ‘n leerling van Jesus, met die opdrag om nog ander leerlinge te werf en te begelei! 

MAAK DISIPPELS 

Hoe moet die opdrag uitgevoer word om van mense dissipels/leerlinge van Jesus te maak? Die hoofopdrag is : maak dissipels! Dan word twee deelwoorde gebruik in die Grieks om die “hoe” te verduidelik : dopende en lerende. Die kern van die opdrag is die onderwerping van alle volke aan Jesus. Die deur onderwerping aan Jesus deel mens in die gemeenskap saam met die Vader en die Heilige Gees. (daarom die doop in die Naam van die Drie-enige God) Dis spesifiek Jesus se opdragte wat aan die volke geleer moet word. En dit sluit natuurlik juis weer ook die opdrag in om weer ander dissipels te maak! 

DIE BELOFTE 

Die heerlike versekering en belofte wat saam met die opdrag gaan mag ons nie miskyk nie. Terwyl ons die opdrag uitvoer kan ons weet dat Jesus by ons is, nie soms nie, nie deeltyds nie, maar elke oomblik tot op die einde! Jesus is met ons, ook in die ergste droogte, tydens die ergste geldelike krisis of siekte... wanneer ons besig is met sy opdrag! Hierdie term “met julle” (OAV) is in die konteks van die Matteus evangelie ‘n gelaaide term met ryke betekenis. Reeds in Matteus 1:23** word Jesus se koms in verband gebring met Immanuel (God met ons), hier aan die einde van die Matteus evangelie word die volle betekenis van Immanuel duidelik. God met ons, God met al die nasies van die aarde. Immanuel vir alle volke! Dis Jesus se groot missie. Dis die missie wat op ons skouers rus. Maar dis ook die heerlike vertroosting. Diegene wat besig is met Jesus se opdragte hoef niks en niemand te vrees nie. Ook nie droogte nie! Ook nie ekonomiese wurgtye nie! 

Wie met Jesus se opdragte besig is kan reken op Jesus se teenwoordigheid op ‘n besondere manier. Dis 'n feit - die geskiedenis en praktyk staaf dit!

Is dit dalk die rede hoekom Jesus se volgelinge tans so dikwels sy besondere saamwees en teenwoordigheid mis? Ons is besig met ons eie selfsugtige agendas. Platweg gestel – ons is ongehoorsaam aan ons Verlosser-Koning se duidelike opdragte! 

ONS DURF NIE JESUS SE BELOFTE LOSMAAK VAN SY OPDRAG NIE! 

Die groot vraag is of ek en jy hierdie opdrag ernstig opneem? Hierdie opdrag kom na alle Christene... ook juis na ons Afrikaner Christene hier in Afrika waar ons ‘n roeping het. Daar is mos sommiges wat redeneer dat hulle stoere Afrikaners is en teen sending moet wees... (byvoorbeeld die mense van die sogenaamde Israelvisie) Dis natuurlik ‘n groot misverstand. Die geskiedenis is baie duidelik oor Christen Afrikaners se sendingywer van die verlede... 

Kliek op : 







Dit gaan egter nie hier oor Afrikanerskap nie, maar oor die wese van Christenskap. Wie nie met Jesus se opdragte besig is nie, moet eerlik selfondersoek doen : Is ek self al ‘n dissipel of hoop ek maar ek is een? Nou hoor mens onmiddelik allerlei besware. Ja, maar ons is nie almal predikante nie. Moet ons nou almal ons werk bedank of besighede toemaak? Nee, natuurlik nie. Die opdrag is nie, maak jou besigheid toe of los jou boerdery nie, die opdrag is maak dissipels. Die vraag is wel of jy in jou besigheid en boerdery besig is om dissipels te maak? Het jy al met mense by jou werk of skool oor Jesus gesels? Jy sê, maar ek kan nie goed praat nie! Los asseblief daardie verskoning. Jy het al met almal iewers gepraat oor die weer, oor ‘n vorige Saterdag se rugby, oor die slegte ekonomie of oor jou kinders se prestasies… Jy kon daaroor praat omdat dit jou persoonlik raak. As jy Jesus ken, kan jy oor Jesus praat. Is die probleem nie “ek kan nie praat nie”, maar eerder : “ek is onseker of ek Jesus regtig ken”, nie? “Ja,ek ken Jesus,maar my geloof is baie swak.” Dis ook geen verskoning nie. Ons het gesien die dissipels se geloof was ook maar swak toe hulle die opdrag gekry het. Jesus vra nie sterk geloof nie, maar gehoorsaamheid! 

Jesus se prioriteit vir sy volgelinge is duidelik. “Gaan maak dissipels!” Ek wonder maar net, as dit ook nie ons prioriteit is nie, is dit nie dalk bietjie arrogant of vermetel om aanmekaar vir reën of finansiële uitkoms te bid nie? Is ons nie dalk soos ongehoorsame en rebelse kinders wat weier om basiese opdragte te uit te voer nie, maar ons kerm gedurig oor meer sakgeld of lekkers? 

Kom ons vra onsself opnuut – Is ek besig met sy opdrag? 

*Sulke uitgespreide vlieswolkies wat net soos ‘n skaap se pensvet lyk. 

**“Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.” (Matteus 1:23)