BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Tsumeb. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Tsumeb. Wys alle plasings

Vrydag 13 April 2018

OORWINNING

oor sonde begin by ‘n besef van wie ek as kind van God regtig is! 


Hoe oorwin ek sonde? Dis seker een van die kernvrae van elke ware kind van God. Dis een van die grootste kwessies waarmee die volgeling van Jesus worstel. Daagliks. (Ander mense gee nie regtig om nie, want God se wet en wil is nie vir hulle regtig belangrik nie.) 


Oorwinning begin as ek besef wie ek as kind van God regtig is. Anders gestel, as ek die volle waarheid van Paasfees ernstig opneem. En hoe ekself daarby inpas. Dis die resep van die Nuwe Testament. Nou wie is ek as kind van God? 



Ons vind hierdie lering onder andere* duidelik in Kolossense 3:1-5. Paulus herinner die kinders van God eeers aan hulle status (Aangesien) en van daaruit kom die opdragte tot drastiese en praktiese heiligmaking. (Daarom)

1.Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.

2.Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie,

3.want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.

4.Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.


5.Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.


SAAM GESTERF EN OPGESTAAN 

Wat is nou die status van God se kind? Die kind van God is iemand wat in God se oë klaar gesterf het, die doodstraf reeds ondergaan het, maar ook tot 'n nuwe lewe opgewek is. Saam met Christus. 

Wanneer het dit gebeur? Dit het aan die kruis gebeur, toe Jesus gesterf het. Verlede tyd! (3) Vgl. Romeine 6:6-8! “Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. 
Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. 
Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe.” 

Kyk mooi wat hier staan : “Het gesterwe!” (nie – “moet sterwe “- nie) Ons is nou dood vir die sonde. Ons kan nie meer gestraf word vir ons sonde nie. Want ‘n dooie mens kan nie meer skuldig wees aan sonde nie! (Die regstelsel vervolg nie ‘n lyk nie! Lyke word nie hof toe gesleep en tronk toe gestuur nie!) Dit beteken ons is ook vry van die oorheersende mag van die sonde. 

Saam gesterf ook saam opgewek met Christus! 

Vir wie geld hierdie stelling? Dit word van alle Christene gesê. Hoe is dit moontlik? Christene is mense wat “in” Christus is. Wat dus met Jesus gebeur het, het met jou gebeur! Laat ons dit prakties probeer verstaan... Dink aan ‘n foto of boekmerk wat jy in ‘n boek plaas. Alles wat met die boek gebeur, gebeur outomaties ook met die foto of boekmerk. As jy die boek in die see gooi is die inhoud ook in die see. As jy die boek na ‘n ander kamer toe vat, dan gaan die inhoud, die foto of boekmerk ook saam met jou na die ander kamer... 

ADAM OF JESUS 

Daar is net twee moontlike posisies vir enige mens. (Dis die duidelike lering van Romeine hoofstuk 5) In Adam, of in Jesus. 

Is jy nog in Adam (dis die posisie waarin ons almal gebore word) dan is jy nog verlore en onder God se oordeel, maak nie saak hoe ordentlik, aangenaam, vroom of godsdienstig nie! 

Is jy in Jesus Christus, deur die geloof aan Hom verbind, dan is jy ‘n regverdige in God se oë, want die sondige “jy” het saam met Jesus gesterwe en ‘n nuwe “jy” het saam met Hom opgestaan. 

Wat is die implikasie van "in Christus" wees, om saam met Hom te gesterwe en saam opgestaan het? 

Die kind van God het ‘n totaal nuwe status, ‘n genadestatus. 

Ek leef nou onder die heerskappy van genade. “Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.” (Rom 6:14) Ons is totaal dood vir die heerskappy van sonde en die duiwel. (Vgl. Kol 1:13) “Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.” Die sonde en Satan het geen mag meer oor ons nie! Ons is uit die gebied van die sonde en dus nie meer onder God se oordeel nie. 

WAT DAN NOU VAN DIE SONDE WAT EK STEEDS DOEN?

Nou sal iemand sê, “Wag, wag nou ‘n bietjie, dis teoreties baie mooi, maar ons sondig dan nog almal... hoor ek reg? Hoe moet ons dit verstaan?” Ek sukkel dan juis so baie met sonde... Ja, gister nog, netnou 'n rukie gelede nog...

Luister mooi. Paulus sê nêrens dat Christene sondeloos is nie, ook nêrens dat Christene nooit meer kan sondig nie. (Dit sou al die waarskuwings en raad van die Nuwe Testament oorbodig en sinloos maak) Hy sê wel dat ons uit die realm, die sfeer, die gebied, die ryk, die mag, die jurisdiksie van die sonde is en onder die genade is. Ons het hemelse status en tog het ons nog ‘n stryd met sonde. Hoe moet ons dit verstaan? 

Daar is ‘n groot verskil tussen om in ‘n posisie of status te wees en te besef dat jy in daardie posisie of status is. Daar is dikwels ‘n verskil tussen status en praktyk. Kom ons verduidelik dit met ‘n voorbeeld. Na die Amerikaanse burgeroorlog is alle slawe vrygestel.** Alle slawe het onmiddellik kragtens wetgewing hulle vryheid gekry. Dit het onmiddelik van krag geword. In die oë van die wet was daar nie meer iets soos ‘n slaaf nie. Maar nou kan mens jou indink, hoe sekere slawe dalk in afgeleë gebiede nie bewus was van die nuwe bevrydende wetgewing nie. Hulle was onkundig rondom hulle nuwe status as vry mense met die gevolg as hulle die baas se stem gehoor het, het hulle nog steeds gevrees en gebewe. Hulle het nog die lewe van 'n slaaf geleef met al die ellende en verknegting daaraan verbonde. Hulle wetlike en ware status was die van vry mense, maar dit sou vir baie nog dalk lank neem om dit te besef. Prakties gesproke het baie nog soos slawe gewerk en gely. Jy kan dus ervaringsgewys nog soos ‘n slaaf leef, terwyl jy wetlik wat status betref nie meer ‘n slaaf is nie. Die oplossing vir die voormalige slaaf is om te besef dat hy nie meer onder die ou wette van slawerny leef nie, dat hy nou vry is om ‘n nuwe leefstyl sonder vrees en verknegting te leef. Hy moet begin leef volgens sy nuwe status. 

Wanneer jy ‘n Christen word is jy iemand wat dood is vir die sonde, want wat die geestelike realm betref, die status in God se oë het jy saam met Christus gesterf. Met jou sondeskuld is daar vir eens en altyd aan die kruis afgereken. Jy is ook saam met Hom opgewek en het die status van ‘n regverdige. Die sondige Johannes, Koos, Anna... het vir eens en altyd gesterf, 'n nuwe mens het opgestaan. Maar ons besef dit nie altyd nie... 

GLO!

Ons uitdaging is nou om God se woord te glo, maak nie saak wat ons gevoelens en ervarings is nie! Soos Abram wat God se beloftes geglo het ten spyte van die sigbare feite. Ons moet dit besef! Romeine 6:11 "Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus./ (OAV)So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.” (Rom 6:11) 

HEERLIKE GEVOLGE 

Hoe raak die waarheid van saam gesterwe en saam opgewek prakties ons daaglikse stryd van heiligmaking? 

· Bevry van vrees (oor ons toekoms of posisie) kan ons nou met oorgawe volgens ons nuwe status leef. Juis omdat ons weet dat ons verlossing vas en seker is. (Dink aan akrobate in die sirkus wat hulle toertjies voluit en sonder vrees kan doen, juis omdat hulle weet daar is ‘n veiligheidsnet...) 

· Heiligmaking is nie iets wat passief ontvang word nie, maar wat voortdurend aktief nagejaag moet word! Ons het nou 'n verantwoordelikheid. Lees mooi wat Paulus sê :“Maak dood...”en dan noem hy ‘n lys dinge...(5) Ja, daar kan krisis momente, spesiale ondervindings, oomblikke van dieper oorgawe in ons lewens wees wat ons groot spronge vorentoe in heiligheid laat maak (soos byvoorbeeld die bevryding van ‘n slegte gewoonte) maar heiligmaking is ‘n voortdurende opdrag. (“Maak dood, lê af”) Raak ontslae van als wat nie by jou status pas nie, jy het dit nie nodig nie! Hierdie sondige leefstyl pas nie meer by jou nie. En voeg by (beklee jou met) dit wat by jou nuwe opstandingstatus, jou hemelse status pas. Dink weer aan die slaaf – hy is wetlik vry, maar hy moet nou stappe in werking stel om sy vryheid uit te leef! Dis sy verantwoordelikheid om sy vryheid te benut en anders as vootrheen te dink en te doen!

· Dit raak ook ons motivering om heilig te lewe – dis nie uit vrees, dis nie om iets te kry nie, dis nie om God se liefde te probeer wen nie, dis uit blye dankbaarheid vir die groot vaste en onveranderlike verlossing! Dink bietjie eerlik oor jou huidige situasie en leefstyl... Jou keuses op hierdie stadium van jou lewe, jou stokperdjies, jou manier van tyd bestee, jou geselskap, selfs jou eetgewoontes en kleredrag... pas dit by jou status as vrygespreekte kind van God? Weerspieël dit dankbaarheid vir sy onberekenbare genade? 

Jy wat nou aan Jesus behoort, jy het reeds saam met Christus gesterf en jy het reeds saam met Hom opgestaan. Die kind van God moet hierdie waarheid glo en besef! Dis die begin van ‘n oorwinningspad. Besef net eers mooi wie jy is volgens God se Woord! Besef wat het regtig by die kruis gebeur... Besef die heerlikheid van jou nuwe status! Besef water groot genade geskenk jy ontvang het en raak dankbaar, dankbaar met integriteit en oorgawe! Word al hoe meer wat jy reeds in Jesus is! Leef volgens jou status! 

*Lees ook Romeine hoofstuk 6 en Efesiers 2:4-6 

**Hierdie voorbeeld is wat Dr. Martyn Lloyd-Jones in sy bespreking van Romeine 6 gebruik.




Op Tsumeb was dit die afgelope tyd lekker nat. Ons geniet dit!
(foto - Jonette de Koning)



Vrydag 17 Julie 2015

TSUMEB IS STUKKEND

Ons dorp is in rou, want ons het drie pragtige jongmense in een ongeluk verloor...

Dis 'n onbeskryflike hartseer gebeurtenis, dis ook onherroeplik verby... Niks kan hulle weer terugbring nie, daarom is dit nie nou 'n tyd vir verwyte en verduidelikings nie, ook nie vir blameer en bespiegel nie. Dis wel 'n tyd om stil te word en voor God en sy Woord te buig... "Here, wat sê U vir ons, vir my..."

Om die boodskap by Magda se roudiens te lees, kliek op GOEIE NUUS OP 'N SLEGTE DAG.

Sondag 12 Julie 2015

DOOD VAN 'N MATRIEK DOGTER

Vanoggend vroeg voor kerk lui die telefoon... verskriklike nuus : Magda van Nieuwholtz is vanoggend vroeg in ‘n motorongeluk hier op Tsumeb oorlede. Sommer net hier naby ons. My vrou het die slag gehoor. Dis soooo hartseer. In die begin van die jaar het sy belydenis van geloof afgelê. Minder as twee weke gelede het ek huisbesoek by hulle gehad. Hoe bly is ek nou dat ek daar was...

Daar is ook ‘n ander meisie saam in die motor dood. Sy was in my dogter se hokkiespan by Tsumeb Gimnasium. Doelwagter. ‘n Jong man is ook ernstig beseer.

Dood is altyd erg, maar die dood van ‘n kind is onbeskryflik rou en seer... Waarom ‘n kind? Soveel verwagtinge, soveel drome...stukkend! Hoekom nou, hoekom ons, hoekom so onverwags en skielik? Dis die pynlike vraag!

Watter ander hoop of ander troos is daar as die troos in Jesus Christus wat sonde, Satan, dood en hel oorwin het? Die dood is en bly ‘n aaklige (kliek) SKERPIOEN, maar Jesus het sy angel afgebreek... Daar is 'n opstanding! 'n Nuwe liggaam, 'n ewigheid sonder dood en pyn... Wat ‘n verligting en vreugde vir elkeen wat Hom waarlik as Verlosser ken.

Maar hoekom wil so min Hom ken? Hoekom wil so min na Sy Woord, die Lewende Woord kom luister...? Waarom is Hy dan altyd laaste op die prioriteitslys? Dis nou eers ‘n pynlike vraag!

Aan al die vriende en familie : Mag God julle self met sy evangelie en barmhartigheid aanraak...

Woensdag 01 Julie 2015

STERWE OM TE KAN LEWE

- geboorte op Tsumeb na ‘n miskraam.

Die Here is altyd betyds, al voel dit dikwels vir ons of Hy heeltemal te laat is en ons in die steek gelaat het... Jesus was oënskynlik te laat om Lasarus te genees (mens kry die indruk dat Hy met opset getalm het*), maar toe doen Hy iets baie groter vir die man, Hy skenk hom ‘n nuwe lewe vanuit die graf en toon so sy Goddelike genade en almag!

Die pad wat die Here met ons gestap het tot in Tsumeb, was darem nou nie so dramaties nie, maar tog in baie opsigte die van ‘n nuwe lewe nadat die oue eers moes sterf. En sterwe is natuurlik nooit maklik of aangenaam nie.

Ons het die tyd in Bray (Onder-Molopo gemeente) aan die Botswanagrens baie geniet, maar weens verskeie redes het ‘n skuif (veral na Namibië) baie wenslik gelyk. My ouers in Walvisbaai het ook bejaarde ouderdom bereik en daar was ander oorwegings ook...

Die gemeente Verre Noord, in die noorde van Namibië (Ovamboland soos ons hom ken, met dorpe soos Oshakati, Ondangwa, Ongwediva, Ruacana ens.) het vakant geword. Ek het aansoek gedoen en maar gewag om te sien wat gaan gebeur. Op Woensdag 7 Oktober 2009 bel Mev. de Lange uit Oshakati om te hoor waar Bray is. (Ja, min mense weet waar dié afgeleë plekkie homself bevind.) Verder sê sy niks nie. Ek gee die saak aan die Here oor: “Here, dis alles in U hande”

Ek hoor later daar was 12 aansoeke. Dis nogal heelwat. Menslik gesproke is die kanse baie skraal dat ek beroep sou word of selfs net ‘n preekbeurt sou kon kry. Ek is doer ver in die gramadoelas. Wel, dis wonderlik, ek kry toe tog ‘n e-pos van Oshakati om te hoor of ek die naweek van die 30ste Oktober daar kan wees. Wat ‘n geleentheid! Ek kry toestemming van my gemeente dat ek die kerkbakkie kan gebruik om Namibië toe te gaan – dis ‘n groot verligting!

Als begin mooi in plek val vir ons groot reis na die noorde. Ek maak ook kontak met my vriende Vic en Milly Basson in Rundu. Ons beplan om met die terugpad sommer via die ooste van Ovamboland deur die Kavango te gaan en daar oor te bly voor ons terugtog deur Botswana.

Die moontlikheid van ‘n nuwe begin bo in die noorde is nie al nuwe begin en nuwe lewe nie. Hier aan die einde van Oktober vermoed Jacolette sy is swanger! Nuwe lewe! So op die vooraand van ons vertrek.

Ek kry juis ook in hierdie tyd ‘n brief kry van Pa waarin hy skryf oor Martin Rautanen – pionier van Ovamboland. (In Ovamboland het my Pa self ook kosbare dinge beleef.) Ek het ‘n boek oor dié sendeling se besondere lewe van volharding ‘n paar jaar tevore vir hom as geskenk gegee. Is dit toevallig dat hy nou oor hom skryf, is dit dalk ‘n aanduiding van die rigting vir die toekoms?

Die reis na die noorde lewer wel ‘n kwota moeilikheid op as die bakkie se petrolpomp probleme gee, maar ons kom veilig aan by ons bestemming. Oom George Benz is ons baie behulpsaam en dit word opgelos. Na soveel jare is die verandering en ontwikkeling in Ovamboland verstommend. Oshakati-Ongwediva-Ondangwa het ‘n polsende stad geword! Die manne wat Ovamboland laas in hulle “army dae” gesien het, sal nie meer weet waar om te trap nie...

Ek preek Sondag 1 November op Oshakati oor 1 Kor. 1:18-25. Dis vir my aangenaam om die Woord te bring en die mense luister aandagtig. Nou het ek gedoen wat ek kon en is alles in die Here se hande! Die Saterdag koop Jacolette ‘n swangerskaptoets by ‘n apteek op Oshakati, maar sy gebruik dit nog nie. Direk na kerk vat ons die lang pad terug via Eenhana – Okongo – Nepara tot by Rundu. Wat ‘n eindelose lang pad. ‘n Groot deel is vreeslik sinkplaat. Ons slaap die Sondag en Maandagaand by Vic hulle oor. Maandagoggend doen Jacolette haar tuis swangerskaptoets – dis positief! Groot opgewondenheid, nuwe lewe!

Op Woensdag 4 November is ons weer terug op Bray! Nou begin daar ‘n uitmergelende tyd van wag en wonder... Ek was onder die indruk dat Verre Noord reeds op Donderdag 5 November ‘n beroep so uitbring. Hoor Donderdag niks, hoor Vrydag niks...

Onseker, wonder ook, sal als goed gaan met die nuwe baba? (My dierbare vroutjie is nie meer so jonk nie.) Wat van die beroep, ek hoor niks, moet ek weer iewers anders aansoek doen?

Later lei ek af van ‘n e-pos van Anina, die skriba dat hulle nog nie beroep het nie, maar dinge bly baie vaag...

Op 11 November vat ek die bakkie vir sy diens op Vryburg. Die urine toets van die dokter bevestig dat Jacolette swanger is. Die bloedtoets se uitslag moet nog kom.

Die volgende dag bevestig ook die bloedtoets se uitslag amptelik, ons gaan ‘n baba hê. Goeie nuus. En dan, slegte nuus. Dieselfde dag is daar ‘n e-pos met wat my heeltemal uit die veld slaan. Vriende van my het op Oshakati in die kerk opgetree en volgens die e-pos gaan hulle Oshakati toe. Die gemeente het blykbaar nie geld om nou al ‘n predikant te beroep nie. Hulle gaan vir ‘n tydperk soontoe om die bediening waar te neem. Wat gaan aan? Ek wonder waarom ek niks hoor nie, waarom is die gemeente dan nie meer openlik met my nie? Is dit die dood van die Verre Noorde droom? Moet ek Namibië afskryf en uit my hart verban? Moet ek op ander plekke aansoek doen en kort-kort toestemming vra om elders te gaan preek? Ten spyte van probleme wat ek by Verre Noorde raakgesien het, het ek my nogtans ingestel om te gaan en opgewonde geword oor die moontlike beroep en skuif na ‘n nuwe plek met nuwe uitdagings. Dalk ‘n effens benoude beklemmende opgewondenheid soos ek oor die laatlam baba opgewonde is?

Nie lank nie toe word nie net Oshakati nie, maar ook die swangerskap ‘n groeiende (sterwende?) krisis. Jacolette het baie pyne, bloeding... Iewers is iets fout.

Net na die kerkdiens op Bray op Sondag 15 November vat ek vir Jacolette Vryburg toe. Hospitaal toe. Hulle doen ‘n sonar. Daar is geen hartklop waarneembaar nie! Ek besef dis verby. Na twee dae is daar geen twyfel nie, die swangerskap is iets van die verlede. Sy ondergaan die nodige prosedures. Dis vir haar ‘n hartseer tyd; ‘n vrou beleef ‘n miskraam baie intens. Die gemeentelede is baie simpatiek en ondersteunend. Ek aanvaar als meer gelate. Dis tog dalk ten goede. Die feit dat daar nie meer ‘n baba gaan wees nie, sal ‘n trekkery iewers heen makliker maak... of probeer ek dalk maar net als vir my rasionaliseer? 

Uiteindelik ontvang ek die tyding per e-pos van Oshakati wat sê dat hulle nie nou ‘n beroep gaan uitbring nie, maar eers die volgende jaar in die eerste kwartaal. Dit plaas my in ’n moeilike posisie. Moet ek vir ander plekke aansoek doen of geduldig wag en dan dalk in elk geval nie soontoe beroep word nie?

Aan die einde van ‘n veelbewoë jaar op 31 Desember skryf ek : “Here, my tye is in U hand. Hoe lank gaan ons nog op Bray bly? Mag die Here insig gee. Ek sien geen langtermyn toekoms vir my en ons kinders hier nie... Wat gaan met Oshakati gebeur, wat gaan hulle besluit?”

En toe heel onverwags op Dinsdag middag 19 Januarie 2010 bel ds. Darius Botha onverwags van Tsumeb. (ek het hom nog nooit ontmoet nie) Hy gaan na Kroonstad en wou weet of ek beskikbaar is. Ek sê dadelik "JA" en hoor van hom dat hulle op die 31ste Januarie gaan beroep. Daar wag dus ‘n spanningsvolle tyd op my...

Saterdagaand 30 Januarie bid, skryf ek : “Môre gaan DV ‘n baie deurslaggewende dag in my lewe en toekoms wees! O, Here God ek bring dit alles na U toe! Here Jesus U het ons leer bid : Vader, laat U wil geskied! Ek bid dit, laat my hart vreugde in U vind.”

Sondagaand 31 Januarie om 17:30. Ek het pas gehoor ek is na Tsumeb beroep! Piet Gous het my geskakel.

Ek sou later verneem dat die feit dat ek vir Verre Noord aansoek gedoen het, ‘n rol gespeel het in my beroeping. Dis waar Tsumeb my naam gekry het. My Verre Noorde ideaal en verwagting moes sterf, sodat ek op Tsumeb nuwe lewe kon vind. Die Verre Noorde moontlikheid was ‘n miskraam, maar nie die einde van God se pad met ons nie. Op 11 April 2010 word ek op Tsumeb as leraar bevestig en so begin ‘n nuwe opwindende fase in ons lewe... Ons is besonder gelukkig hier, en ja, minder as ‘n jaar later maak nog ‘n nuwe lewetjie haar opwagting, toe Natanie Vreugde op 20 Januarie 2011 die lewenslig aanskou. God het sy tyd en sy plek!

NS En nou kan my gebed maar net wees : "Here dankie vir U onbeskryflike genade en asseblief Here gee vir ons weer LEWE, lewe soos in HERLEWING, 'n vars werk van U Gees in ons binneste wat sal lei tot ware toewyding, heiliging en entoesiasme in onsself en die gemeente, sodat U Naam geheilig kan word!

*Nadat Hy gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. (Johannes 11:6)



[Die meubels word gelaai op Bray. Stephanie en Christien Eloff, Jonette en Marisja.]


[Natanie]

Maandag 22 Julie 2013

KOMMANDO VIER BYBELVERTALING

tagtig jaar se vreugde in Afrikaans.

Die Kosie Alberts Voortrekkerkommando van Tsumeb het Vrydagaand 19 Julie die tagtigjarige bestaan van die Bybel in Afrikaans gevier met ‘n fakkelloop en klein plegtigheid.

Tydens die geleentheid is Psalm 119:54 uitgebeeld wat sê : “U voorskrifte is vir my ‘n lied in my lewe hier op aarde.”

Ons weet almal dat Psalm 119 die langste Psalm is en dit is dikwels ‘n bron van humor soos byvoorbeeld in Herman Charles Bosman se bekende, “Bekkersdal Marathon.” Psalm 119 is egter ‘n besondere psalm wat die wonders van God se Woord beskryf...en mens sommer lus behoort te maak om self in die skatte van die Bybel te delf!

Verskeie sinonieme word in die psalm gebruik om aspekte van God se Woord uit te lig soos beloftes, bepalings, wet, verordeninge, gebooie ens. In die uitgebeelde teks word die vreugde aspek van God se  voorskrifte beklemtoon. Dis soos ‘n lied!

God se Woord maak ons bly en laat ons sing!

‘n Mens kan sommer onmiddellik aan twee redes dink (daar is natuurlik baie meer) :

1. God se Woord bring vir ons die verlossingsboodskap, die evangelie! Dis die Goeie Nuus hoe God ons verlossing bewerk het deur die kruisiging, begrafnis en opstanding van ons Here Jesus Christus. (1 Korintiërs 15:1-4) Dis waarlik ‘n vreugdevolle boodskap, want deur sy kruisiging het Hy volledig die straf vir eens en altyd in ons plek gedra, sy begrafnis wys dat Hy werklik dood was – die voorgeskrewe boete vir die sonde is gebring. Sy liggaamlik historiese opstanding is die onomstootlike bewys dat God die boete as genoegsaam aanvaar het. God is tevrede dat geregtigheid geskied het en gee dus aan elkeen wat persoonlik in sy Seun glo, volkome kwytskelding. Volledige vryspraak!

2. God se Woord lei ons nie net tot verlossing nie, maar wys ons ook hoe om as verlosdes waarlik tot Sy eer te leef. Sy voorskrifte in sy Woord is daarom die lig vir ons pad en die lamp vir ons voet. Sy bepalings is billik en regverdig – God is nie ‘n nors pretbederwer nie!  Nee, die opdragte in sy Woord beskerm sy eer en is tot ons beswil! Die hartseer en ellende in hierdie wêreld, ja ook in ons huwelike en gesinne is juis die gevolg van verontagsaming van God se wette. Daarenteen bring gehoorsaamheid aan sy Woord, vreugde! Dit smaak soos heuning vir die kind van God. (Psalm 119:103)

Ons as Afrikaanssprekendes het op ‘n geleentheid soos hierdie dubbeld rede om bly te wees. Hierdie kosbare Woord van God is beskikbaar in ons eie dierbare moedertaal! (En terloops om die rykdom van die Woord te kan ontgin is taalvaardigheid nodig. Doen dus moeite om jou eie taal se betekenis en fyn nuanses onder die knie te kry. Dit is so wonderlik om te lees dat God ontsagwekkend groot en heerlik is! Dis ‘n begrip wat by my verbygaan as my woordeskat beperk is tot “awesome”)


Benut en geniet jou Afrikaanse Bybel!


Charis hou die fakkel omhoog!

Woensdag 08 Augustus 2012

BAIE DANKIE/VIELEN DANK

- mein Glas ist nicht nür halb voll.

Baie dankie en baie welkom aan die besonder baie besoekers aan hierdie Blog die afgelope paar dae! Ongelooflik! Ek hoop julle geniet dit en vind  groot seën, vreugde en vertroosting. (Net soos die vreugde wat ek beleef deur hierdie Blog te skryf)

Omdat die evangelie die Blye Boodskap is van dit wat Jesus deur sy kruisdood en opstanding vir ons as sondaars kom doen het, is ‘n ware grondige blydskap deel van die basiese Christelike belewenis. Dis ‘n blydskap wat die wêreld nie ken en verstaan nie. Dis ‘n blydskap gebou op God se standvastge en heerlike beloftes wat waar word in Jesus. Juis omdat ons vreugde, ‘n stroom blydskap is wat ons uit die onuitputlike Bron, Jesus self ontvang, het God se kinders nie nodig om dit by bedenklike oorde te soek nie. Psalm 141:4  is so treffend en veelseggend :

 “Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge, dat ek nie in sonde verval saam met manne wat onreg doen nie, en dat ek nie deelneem aan hulle feeste nie.” ("...ich mag nicht essen von ihren leckeren Speisen")

Die kind van God wat kan bely : "Die Here is my Herder" ondervind dat God self vir hom 'n fees berei. "U laat my by 'n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos 'n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid."
(OAV - "my beker loop oor!!!") Psalm 23:5

Die kind van God se blydskap is ‘n blydskap in alle omstandighede. Ons is bly al huil ons ook soms. Daarom kan Paulus verklaar : “In al ons sorge is ek vol moed en oorstelp van blydskap.” (2 Korintiërs 7:4) Dis ‘n unieke soort van blydskap. Dis bonatuurlik en altyd blywend, en dalk nog vreemder - dis ‘n blydskap wat floreer op beledigings wat ons te beurt val ter wille van Christus. Ja, jy het reg gelees. Jesus stel dit so duidelik in Lukas 6:22-23 

“Geseënd is julle wanneer die mense julle haat en julle verstoot en uitskel en julle naam vermy soos iets wat sleg is, alles ter wille van die Seun van die Mens. Wees bly op daardie dag en spring rond van vreugde, want vir julle is daar groot beloning in die hemel.”

So gesien is alle kinders van God se glase nie net half vol nie, maar oorlopens toe vol! Altyd!

Baie gelukkig en vol vreugde  hier op Tsumeb.
Johannes

Sondag 05 Augustus 2012

KARNAVAL

- fees van die vlees.

Tsumeb moes verlede week die jaarlikse karnaval verduur. Tsumka. As Christen wat in hierdie pragtige dorp woon mag ek nie daaroor stilbly nie...

Wat die agtergrond  van die woord “karnaval” betref is daar nie duidelikheid en eenstemmigheid nie. Volgens sekere volksetimologieë kom dit van die Laat Latynse uitdrukking “carne vale” wat beteken afskeid van die vleis en sou dit dui op die laaste dae voor die vastyd van Lydenstyd, waartydens mens volgens Rooms Katolieke gebruik nog toegelaat is om vleis te eet. Die woord “carne” kan ook met vlees vertaal word, wat dan sou neerkom op ‘n “afskeid van die vlees” iets wat deur sommige deelnemers aangegryp sou kon word om vir oulaas hulle ou sondige self te wees tydens die fees. Teen hierdie verklarings sou mense besware kon inbring en oor die oorsprong sou mens kon debatteer, maar   wat wel duidelik sigbaar is vir alle waarnemers van die drinkende rasende menigte,  is dat die sondige vlees (ou natuur) van die mens hier besonder geesdriftig gedien word. 

Kan ‘n Christen deelneem aan hierdie aanbiddingsparade vir Bacchus? Laat die Woord vir ons die antwoord gee :

Galasiërs 5:19-21 “Die praktyke van die sondige natuur (werke van die vlees - OAV) is algemeen bekend : onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het : Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.”  

“Ja”, sal party teenkap : “Moet ons nie maar ‘n positiewe bydra probeer lewer nie?” Die Bybelse raad in Efesiërs 5:10-12 wat God aan sy kinders gee laat geen twyfel nie : “Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie... dis ‘n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen.”   As ons nie eens daaroor mag praat nie, hoe durf ons saamlag vir die dronkmanskaskenades en hoe kan ons saamry met vlotte vol vulgêre slagspreuke?  (En nog ons kinders ook daarop laai?)    

Is kinders van God dan ‘n klomp suurgesigte en dikbekke wat teen blydskap gekant is? Nee, verre daarvandaan!

 Christene is beslis nie teen feesvier nie, inteendeel dis ons opdrag. 

Maar dis ‘n ander fees met ander waardes soos waartoe 1 Korintiërs 5:8 ons duidelik oproep :”Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid.”

Ja, God se kinders het vanoggend weer feesgevier toe ons Hom in die erediens geloof en geprys het. Wat ‘n vreugde is dit elke Sondag en ‘n voorsmaak van die ewige Fees waarheen die bloedgewastes van die Lam oppad is!



NS As ons dan karnaval wil hou, laat ons dit eerder doen soos die beroemde Italiaanse morele hervormer, Girolamo Savonarola. Gedurende die karnaval van 1496 in Florence het hy dit omskep in ‘n Fees van Boetedoening. ‘n Groot vuur is aangesteek vir die verbranding van allerhande “ydelhede” soos dobbeltoerusting en slegte boeke. Maar pasop, sy hervormings en dapper optrede teen goddeloosheid, het hom uiteindelik sy lewe gekos!

Vrydag 13 April 2012

TWEE JAAR OP TSUMEB


- “ek is al U gunsbewyse nie werd nie!”

Hoe vinnig knibbel die tyd aan ’n kalender. Die kalender wat sê dat ons nou (April 2012) al twee jaar hier op Tsumeb is!  En vir my is dit boonop ook weer twee jaar van wonderlike terugwees in my besondere geboorteland.  Ek wil sommer net hier reg aan die begin vir al die Tsumebmense (en spesiaal almal in die gemeente) sê : Ons as gesin is almal baie gelukkig hier!  Vir die wat dalk wonder... Ek voel (en my vrou sekerlik nog meer so) ek het nou genoeg geswerf ... Pretoria... Rundu... Waterval-Boven... Vereeniging... Koppies...  Bray... Tsumeb!

Soos almal weet het ’n trekkery oor ’n landsgrens maar ’n kwota administratiewe en logistiese hobbels om oor te kom. Ons was geen uitsondering nie!  Dit was vorms, vertragings en veral frustrasies... Maar dit daar gelaat. Die seëninge oortref die ongerieflikhede by verre! 

Die saak van seëninge voer my gedagtes na die aartsvader Jakob se geskiedenis terug. Verskoon my die vergelyking. Maar ek dink tog dat ek aspekte van my omswerwings  gereflekteer sien in Jakob van die Bybel se veelbewoë wedervarings. Vergun my maar om ’n bietjie soos Jakob te voel met sy aankoms in  Kanaän. Julle weet mos dat Jakob vir Esau gevlug het en as enkeling daar by sy ma Rebekka se broer, Laban aangeland het. Heelwat jare later, met sy terugkeer na Kanaän bid Jakob tot die Here en sê onder andere :

 “Ek is al U gunsbewyse nie werd nie, ook nie die trou waarmee U my versorg het nie. Toe ek destyds deur die Jordaan is, het ek net my kierie gehad, en nou het ek hierdie twee groot groepe.”  (Genesis 32:10)

Dit is inderdaad my belewenis! As eensame enkeling het ek  in 1998 oor die Oranjerivier verhuis en in 2010 kon ek as geseënde man van ’n wonderlike vrou en pa van twee pragtige meisiekinders terugkeer na Namibië. Maar toe kom daar sommer nog ’n bonus by : die geboorte van Natanie Vreugde in Januarie 2011! Soos dit heel dikwels met seën en verrassings die geval is, was dit ook nie sonder pyn nie, maar ons kan die Here waarlik dank vir hierdie gesonde dogtertjie wat tot ons gesin toegevoeg is.

Natuurlik, ons ware rykdom bestaan nie uit kinders nie (al is hulle baie kosbaarder as enige aardse besitting!) maar uit die oorvloedige rykdom van God se genade wat Hy oor ons uitstort deur Jesus Christus! (Efesiërs 1:7) Uit hierdie rykdom van genade ontvang ons volkome vergifnis en word ons herstel om gelykvormig aan Jesus te word. ‘n Deel van hierdie genade en barmhartigheid behels ook die voorreg om die Woord van God te kan bedien hier op Tsumeb. Mag die Here ons altyd hieraan herinner, want dit sal verhoed dat ons moed opgee. In 2 Korintiërs 4 (die hoofstuk waaruit ek my intreepreek in Tsumeb gelewer het) stel Paulus dit so treffend (vers 1) :

“God het Hom oor ons ontferm 
en hierdie bediening aan ons opgedra. 
Daarom word ons nie moedeloos nie.” 

Dis so nodig om hierdie waarheid gedurig  voor oë te hou, want die bediening van die Woord is nooit ‘n  gelykpad nie. Geleenthede en oop deure loop dikwels parallel met teenstand en stryd. Paulus sê  oor sy bediening in Efese : “hier staan ‘n groot en belangrike deur vir my oop, maar hier is ook baie teenstanders.” (1 Korintiërs 16:9) Met blydskap kan ek egter getuig dat die Woord harte aanraak. Daar is bemoedigende druppels van seën; mag die Here in sy genade vir ons nog die strome ook skenk!

Kort na ons aankoms hier op Tsumeb het ek papajapitte geplant. Een van die bome het besonder mooi gegroei en het op die oomblik ’n pragtige drag vrugte. Bid asseblief vir ons en die gemeente as geheel, dat God ons deur sy genade instaat sal stel om oorvloedige vrug tot sy eer te dra!





Aan al ons vriende uit ons Suid-Afrikaanse verlede : Julle is baie welkom om te kom kuier. Ons het so pas ’n lekker weersiens beleef toe Johan en Marie van Zyl van die Vrystaat (saam met Lettie en Christelle)  hier kom oë wys het. So kon ons weer op datum kom met Koppies se mense en dinge!

Lettie, Christelle, Marie en Johan van Zyl.



En aan almal wat ver van die Afrika son, waar ookal in die wêreld julle roeping uitleef : Dis so lekker om via die moderne tegnologie ook iets van die sonskyn van God se genade met julle te deel! En dis altyd aangenaam om van julle te hoor. Ons het bemoediging van julle kant af net so nodig!

SAAM OPPAD NA ONS HEERLIKE BESTEMMING!