BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket LEEU ÉN LAM. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket LEEU ÉN LAM. Wys alle plasings

Dinsdag 01 Mei 2018

Waarom was daar dinosourusse?

Waarom, hoekom, hoe werk dit...? Dis in die mens se aard om te wonder oor baie dinge en vrae te vra. Waarvandaan kom ons en waarheen gaan ons? Waarom bestaan ons? En wat van al die ander dinge wat bestaan? Wat is die sin van al hierdie dinge? Hoekom is daar nie net niks nie? Waarom was daar dinosourusse? Geen mens het hulle tog gesien nie, ons weet nie eers regtig presies hoe hulle gelyk het nie ongeag Jurassisc Park. En wat van die miljarde sterre wat so ver is dat hulle lig ons nog nie eens bereik het nie? Watter verskil maak dit dat hierdie goed bestaan, het dit enige nut en betekenis? Dit voel net of daar te veel dinge is wat ons nie verstaan nie, die betekenis van die werklikheid rondom ons is net te groot en omvattend om alles te begryp! Wees gerus, dis soos die skrywer van die Prediker ook eens op 'n tyd gevoel het. 

Ons lees in Prediker 7:23,24 : “Ek het alles met die hulp van wysheid getoets. Ek wou wysheid bekom, maar dit het buite my bereik gebly. Die betekenis van wat gebeur, lê buite bereik, baie diep; wie kan dit vind?” 



Maar heel waarskynlik word jy deur ernstiger dinge as dinosourusse en sterre gepla. Dieper vrae. Wat van die onreg en onregverdigheid in die lewe? Dit was ook vir die skrywer van Prediker ‘n raaisel... “In my lewe wat tot niks gekom het nie, het ek alles gesien: ‘n regverdige gaan onder al doen hy reg, ‘n goddelose geniet ‘n lang lewe, al doen hy verkeerd.” (7:15) Jy sien hier gaan die Prediker ‘n bietjie dieper in op die lewe as Spreuke. Miskien beter gestel : Hy benader dinge bietjie vanuit ‘n ander hoek. In Spreuke is die beginsel van oorsaak en gevolg gestel, "as jy so maak sal dit en dat gebeur" – en dit is so en bly waar. Maar Prediker merk op dat die lewe meer kompleks is as dit. (en jy het seker ook al) Daar gebeur slegte dinge met goeie mense en dikwels gaan dit met slegte mense goed. So als is nie so eenvoudig nie! Alles kan nie verklaar word in ‘n altyd-geldende lynregte skema van oorsaak en gevolg nie. Wat van al die tragedies, oorloë, natuurrampe... waar pas dit in, watter sin en doel het dit alles? 


Inderdaad soos die Prediker sê, die werklikheid is so groot en so ontsaglik diep. Wie kan dit heeltemal begryp? Die wysheid om alles rondom ons te verstaan bly maar net buite ons bereik. Dis deel van die groot boodskap van Prediker - alles is nie vir ons menslike logika verklaarbaar nie. Die wysheid waartoe ons toegang het verklaar nie alles nie... Ja, dis reg om alles te ondersoek en na te vors, maar ons as mense se insig bly beperk. Hierdie ondersoekende gees van die mens kom natuurlik van God, maar ons moet besef ons sal die werke van God nooit uitput met ons ondersoeke en wetenskap nie. “Ek het gesien dat God aan die mens ‘n taak gegee het om hom mee besig te hou. God het elke ding gemaak dat dit pas in ‘n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ‘n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.” (3:10,11) 

NUWE ONTHULLING 

Nou waar laat dit ons? Is daar nie tog ‘n sleutel tot verstaan nie? Is daar nie tog iemand of iets wat ten minste as vertrekpunt kan dien om die kompleksiteit van die heelal, die geskiedenis en ons eie bestaan te ontrafel nie? Die Nuwe Testament (Nuwe Verbond) maak ‘n dramatiese en ingrypende onthulling. Die sleutel van alle begrip is Jesus Christus, die sin van alles is Jesus Christus! 

Kyk na Kolossense1:15-17. 

"15. Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.
16. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep.
17. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand."

Dis waarskynlik ‘n ou Christelike lied wat Paulus aanhaal om sy hoofargument in die Kolossense brief mee te onderstreep. Jesus Christus is vir ons genoeg, want die volle heerlikheid van God woon in Hom. Jesus is oneindig heerlik, niks en niemand is groter as Hy nie. Hy is die belangrikste in die heelal, die eersgeborene, alles is deur Hom geskape, maar meer as dit – alles is ook VIR Hom geskape. Alles wat bestaan, bestaan ter wille van Jesus! Hy hou ook als in stand! Alles wat bestaan en bestaan het, is afhanklik van Jesus! Alles maak uiteindelik net sin in relasie tot Jesus! 

Jesus se rol is groter as net die persoonlike Verlosser van sonde. Hy het ‘n kosmiese rol. Die heelal, die oneindige heelal of heeltalle ("multiverse") draai rondom Hom! 

Kom ons kyk net na twee verdere bevestigings in die Skrif:

"In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie." (Johannes 1:1-3)

"In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak." (Hebreërs 1:1,2 )

DIE BOEKROL

Alles behoort aan Jesus! Maar Jesus is nog meer as net die erfgenaam en eienaar van die heelal. Hy beheer ook alles. Hy hou die sleutel tot die geskiedenis van die heelal, alles wat gebeur. Ons het gesê daar is baie dinge wat gebeur wat vir ons onverklaar en onbegryplik is. Soveel onreg, ellendes en rampe wat vir ons nie sin maak nie en baie keer heeltemal onregverdig lyk. Wie kan dit verstaan? 

Openbaring 5 beskryf vir ons ‘n uiters veelseggende en dramatiese toneel. ‘n Kykie agter die skerms! 

1.“In die regterhand van Hom wat op die troon sit, het ek ‘n boekrol gesien wat aan die voor-en aan die agterkant vol geskrywe was en wat met sewe seëls goed verseël was. 

2 .Toe het ek ‘n sterk engel gesien wat met ‘n harde stem uitroep: "Wie is waardig om die boek oop te maak deur die seëls daarvan te breek?" 

3. Maar niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde was in staat om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. 

4. Ek het baie gehuil omdat daar niemand gekry is wat waardig was om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. 

5. Toe sê een van die ouderlinge vir my: "Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak." 

6. Toe het ek voor die troon wat omring was deur die vier lewende wesens, tussen die troon en die ouderlinge, ‘n Lam sien staan, die Een wat geslag was. Hy het sewe horings en sewe oë gehad. Die sewe oë is die sewe Geeste van God, wat oor die hele aarde uitgestuur is. 

7. Hy het toe gegaan en die boek ontvang uit die regterhand van Hom wat op die troon sit. (Openbaring 5:1-6) 

Waaroor gaan die boekrol? Die boekrol bevat God se bloudruk, God se plan van verlossing en oordeel en einddoel met die hele skepping! God se beheer van die geskiedenis, van ewigheid tot ewigheid. Dis ontoeganklik vir die mens, dis verseël. Niemand is waardig en in staat om dit te begryp nie. Wat ‘n groot hartseer! Maar dan die dramatiese aankondiging, ja daar is Iemand! Iemand wat God se planne kan verstaan en inwerking stel. Iemand deur wie die ontvouing van God se geheime doel met alles tot uitvoering gebring word. Jesus, die Leeu van Juda, maar juis ook die Lam wat vir ons geslag is! Ons Koning is die Almagtige, maar juis ook die swak en nederige Gekruisigde! (Kliek LEEU/LAM

JESUS IS DIE SLEUTEL TOT ALLE VERSTAAN EN DIE SIN VAN ALLE BESTAAN. 

Die skepping en die geskiedenis van die skepping draai om Jesus Christus. Wie Hom nie ken nie, weet niks, verstaan niks en beteken niks!  Die goeie nuus is : Ons kan Hom nou reeds ken, nou reeds liefhê. God het ons juis gemaak en ontwerp om Hom te ken en te eer. Hy maak die hele lewe sinvol – ook as ons navorsing doen oor dino’s of sterrekunde, maar juis ook as ons eenvoudige dinge doen soos om ‘n koppie koffie in die oggend te drink of ‘n baba se doek om te ruil of kinders skool toe te vat. Ons hele lewe en ook ons sterwe maak sin in Jesus. Niks is toevallig nie en niks is 'n vermorsing nie. Ook in onreg en in hartseer is sy liefde by ons en kan ons Hom vertrou dat Hy alles tot by die finale einddoel sal bring. Weens God se liefde in Hom het ons niks te vrees nie. (Kliek – HIPEROORWINNAARS


Om terug te kom na die dinosourusse: Dis nie die plek en tyd om te bespiegel oor die wetenskaplike bevindings en vermoedens wat betref dinosourusse nie. Laat die navorsing aangaan... Ons het immers die kultuuropdrag om die aarde te bewoon en te bewerk, en dit sluit wetenskaplike ondersoek in. Wie weet watter interessante dinge daar nog wag om ontdek te word? Wat ons wel nou reeds met sekerheid kan weet is dat Jesus hulle gemaak het vir Homself. Hulle het ook ‘n rol in die hele skepping wat ter wille van Hom bestaan. Hulle het bestaan ter wille van Sy eer, om as bewyse te dien van sy Goddelike heerlikheid en almag! 

Ons het nog nie nou alle antwoorde op al die detail van ons wetenskaplike of lewensvrae nie, maar ons kan weet om Hom te ken is genoeg, want Johannes 14:6 leer ons : “Jesus het vir hom gesê: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” 

Hy, Jesus is alles! Voordat jy Hom nie ken nie, kan niks begin sin maak nie, kan jy nog nie LEWE nie!




Vrydag 10 Oktober 2014

LEEU ÉN LAM

- die veelvoudige heerlikheid van God word gesien in Hom wat die sewe seëls kan breek. 

Baie mense het net ‘n enkelvoudige heerlikheid (hulle het net een sterk punt) : Iemand is miskien magtig en sterk, of dalk sagmoedig en vriendelik, maar nie beide nie. Miskien slim, maar nie juis liefdevol nie... Jesus as beeld van God, die Een wat God vir ons kom wys, het ‘n komplekse veelvuldige heerlikheid. Hy is ‘n LEEU maar terselfdertyd ‘n LAM. Hierdie heerlikheid is die heerlikheid van God!



’n Leeu word bewonder vir sy vreesaanjaende krag en koninklike voorkoms.

 ’n Lam word weer bewonder vir sy sagmoedigheid. Diensbaar gewillig om ons van wol en vleis te voorsien.

Maar nog meer bewonderenswaardig sou ’n kombinasie wees van hierdie twee. ’n Sterk leeu met die sagte nederige gesindheid van ’n lam en ’n lam met die krag van ’n leeu. Christus se Goddelike heerlikheid is iets soortgelyks. 

Ons beskou eienskappe soos dapper, sterk, koninklik... dikwels as teenoorgestelde van sagmoedig, vriendelik, liefdevol. Jy is of die een of die ander... God se koninklike mag soos geopenbaar deur Jesus gaan egter hand aan hand met sy sagmoedigheid. Jesus is magtig én nederig! Hy het met sy kragtige wysheid die vloer gevryf met die hoogmoedige skrifgeleerdes, maar Hy was eenvoudig en nederig genoeg om deur kinders bemin te word. Met net een magswoord kon Hy ’n woeste storm stilmaak, maar Hy wou nie die Samaritane met vuur tref of Homself van die kruis bevry nie. Hy jaag skelms met ‘n sweep by ‘n tempel uit, maar skenk liefdevolle aandag aan bedelaars en blindes!

Die heerlikheid van God soos ons dit sien in Christus is nie iets enkelvoudig nie. Dis ’n samevoeging binne in een persoon van uiterste diverse kwaliteite.* Ons sien dit baie duidelik in Openbaring 5:1-6. Die dringende vraag is hier : Wie is almagtig genoeg om die geskiedenis te ontsluit en die heelal tot ‘n sinvolle einddoel te lei? Die antwoord kry ons in vers 5 : “Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seels oopmaak.” Hier is die triomfantelike Leeu Christus gereed om die boekrol van die geskiedenis te ontsluit, die geheimenisse van God se raadsplanne tot volvoering te bring

Maar wat lees ons net in die volgende vers? “Toe het ek.... ’n Lam sien staan, die Een wat geslag was. Hy het sewe horings en sewe oë gehad...” (Vers 6)

 Dramaties! Johannes hoor : “LEEU”, 
maar sien : “LAM!” 

Dus die magtige Leeu is ook terselfdertyd ’n Lam, ’n dier wat swak en skadeloos is, ’n maklike prooi, wat kaalgeskeer word sodat ons klere kan hê en geslag word vir voedsel. Christus is ’n leeu met die eienskappe van ’n lam.

Die Leeu van Juda het juis die oorwinning behaal omdat Hy gewillig was om die nederige hulpelose rol van ’n Lam te vervul. Hy het op Palmsondag Jerusalem triomfantelik binnegekom soos ’n koning onderweg na ’n troon, en Hy het op Goeie Vrydag die stad verlaat soos ’n lam na die slagplek. Hy het die rowers uit die tempel verdryf soos ’n leeu wat sy prooi verskeur. Maar aan die einde van daardie selfde week, het Hy sy edele nek gebuig voor die “offermes”, en die Leeu van Juda word geslag as ’n ‘n plaasvervanger Lam op die altaar van die kruis.

Lam! Ja, maar watter soort Lam? Openbaring 5:6 sê : “Toe het ek...... ’n Lam sien staan, die Een wat geslag was. Hy het sewe horings en sewe oë gehad.” Twee sake is opvallend en vra ons aandag. Eerstens, die Lam staan. Hy lê nie meer swak en bebloed op die grond nie. Ja, Hy is eens op ’n tyd geslag. Maar nou staan Hy, staan Hy in die binnekring by die troon. Tweedens, die Lam het sewe horings. ’n Horing is deurgaan sin die boek Openbaring ’n simbool van krag en sterkte. (12:3; 13:1; 17:3,12) Dit was reeds al in die Ou Testament so.** Verder dui die getal sewe op volheid. Dus, hierdie is nie ’n gewone lam nie! Hy is lewend uit die dood, en Hy is volkome magtig in sy soewereine sewevoudige krag. Hy is voorwaar, ’n Lam, met die eienskappe van ’n Leeu!

In Openbaring 6:16 sien ons hoe die Leeu eienskappe van die Lam ontvou, wanneer mense tot die berge en klippe uitroep : “Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon, en vir die toorn van die Lam.” Moenie die Lam onderskat nie! Moenie kanse vat met Jesus omdat Hy sagmoedig en nederig is nie! En in Openbaring 17:14 lees ons : “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam....sal hulle oorwin omdat Hy die Here van die heersers en die Koning van die konings is.”

So is Christus dan die Lam soos ’n Leeu en die Leeu soos ’n Lam. Dit is sy heerlikheid : “bewonderenswaardige samevoeging van diverse heerlike eienskappe” Sy heerlikheid is die heerlikheid van die ewige lewende God! Eens op ’n tyd is die Leeu wat soos ’n Lam is, verdruk en beproef. Hy is na die slagpale gelei. Soos ’n skaap wat stom is voor sy skeerders, het Hy nie sy mond oopgemaak nie. (Jesaja 53:7). Maar op die laaste dag sal dit ’n totaal ander storie wees. Dan sal die Leeu nie meer soos ’n Lam optree nie, maar die Lam soos ’n Leeu. Met selfversekerde heersersmag sal Hy sy plek inneem aan die kant van die poel van vuur, waar sy hardkoppige vyande sal straf! (Open 14:10-11) Hierdie Verlosser wat almagtig is, maar ook sagmoedig, is presies wat ons nodig het! HY is heerlik en aanbiddingswaardig! Kom na Hom, Hy nooi jou! (Matteus 11:28)

*John Piper. Ek maak vryelik gebruik van sy boekie, SEEING AND SAVORING JESUS CHRIST
**Deuteronomium 33:17; Psalm 18:2, 112:9