BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Sekerheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Sekerheid. Wys alle plasings

Donderdag 13 Junie 2019

MAAK VAS; MAAK SEKER! (6)

- Die belangrikheid van HERINNERING EN HERHALING 



Ons tema die afgelope tyd was : “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.” (2 Petrus 1:10) Ons het gesien dat sekerheid iets is wat daagliks uitgeleef moet word. Moenie toelaat dat jou geloof in Jesus stagneer nie. Jy het reeds ALLES van God ontvang! Werk nou doelbewus aan die vrug van geloof... Jou sekerheid sal juis groei as jy erns maak met die opdragte om jou geloof te verryk met... 


Hoe gaan ons nou prakties gehelp word? Petrus se oplossing : Herinnering en herhaling! Dis dikwels vir ons ‘n probleem...Ons wil mos tog so graag iets nuuts hoor! Dis hoekom baie mense eerder na 'n praatjie oor Satanisme of die New Age gaan luister as na die verlossingsboodskap van Jesus Christus. (Ons wil altyd en gedurig iets nuuts hoor soos die filosowe van Athene in Paulus se tyd.) Herinnering en herhaling egter is onmisbaar belangrike Bybelse beginsels vir geestelike gesondheid, ja vir die bou van sekerheid! Petrus sê : "Om hierdie rede sal ek julle altyd aan hierdie dinge herinner, al weet julle dit en al staan julle reeds vas in die waarheid wat aan julle bekend gemaak is.” (2 Petrus 1:12) 

VERGEET IS SO MAKLIK 

Waarom hierdie klem? Mense vergeet. Baie maklik en sommer baie gou. Dis in ons menslike aard. Ons vergeet oor die algemeen baie maklik, maar veral geestelike waarhede en ook opdragte. Hoekom? Ons leef in ‘n wereld wat die teenoorgestelde glo en doen van wat die Woord sê en beveel. Dink aan hoeveel leuens en propaganda ons en ons kinders elke dag blootgestel word. ’n Kerk kwyn, gelowiges raak onseker, afvallig en moedeloos omdat hulle vergeet! Petrus was bewus van hierdie gevaar. (9) Mense vergeet wat God persoonlik vir hulle gedoen het, vergeet wat God vir die gemeente gedoen en geleer het. Ons vergeet veral so makilik waaroor die evangelie nou juis gaan. 

DIE OPLOSSING 

Nou wat is die teenmiddel teen vergeetagtigheid? Jy moet weer onthou. Hoe gaan jy weer onthou? As jy herinner word. Dit is waarna Petrus hier verwys in 2 Petrus 1:12. Hy sê hier: "Ek besef ek sê nie iets nuuts nie, julle weet hierdie dinge alreeds, maar dis noodsaaklik dat julle dit oor en oor moet hoor. En julle moet ook na my dood nog steeds hierdie dinge onthou!" 

Herinnering speel ‘n baie belangrike rol in ons geestelike gesondheid. 

Ons vind hierdie saak orals in die Nuwe Testament: 

“Tog is ek in my brief plek-plek nogal uitgesproke. Dit was maar om julle aan die een en ander te herinner. God het my immers in sy genade die voorreg gegee.” (Romeine 15:15) 

“Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ‘n vuur weer moet aanblaas.” (2 Timoteus 1:6) 

“Hou aan om die gelowiges aan hierdie dinge te herinner....” (2 Timoteus 2:14) 


Ons het die afgelope tyd gepraat oor sekerheid en vastigheid in ‘n kind van God se lewe. Twyfel jy? Die antwoord wat Petrus gee vir mense wat reeds tot geloof in Jesus gekom het is : Leef die Christelike lewe! Werk daaraan in gehoorsaamheid! Moenie by geloof stilstaan nie. (Moenie gedurigdeur as’t ware jou geloof probeer dissekteer en kyk of dit eg is nie – bewys dit met jou dade!) Groei in heiligheid, kennis, selfbeheersing, liefde! Werp alles in die stryd om vordering te maak. 

Hoe gaan ons dit nou regkry? Dit bring ons weereens by die praktiese noodsaaklikheid van herinnering en herhaling. Die Woord is ‘n genademiddel! Die gemeentelike byeenkomste is onontbeerlik op ons pad! Anders gestel dit is ononderhandelbaar belangrik dat God se kinders gedurig aan hulle voorregte en verantwoordelikhede herinner moet word. Wat God gee en wat ons moet doen. ‘n Kind van God mag nooit redeneer, ag , ek weet dit al, nie! 

HOE EN WAAR? 

Hoe en waar gebeur hierdie herinnering? Deur die Woord. Dis immers hoekom Petrus SKRYWE! Waar is die primêre plek waar ons die Woord verstaan? Binne in die gemeente, deur die prediking en die onderstreping van prediking deur die sakramente! 

‘n Kind van God mag nooit moeg word vir of wegbly van die herinnering deur die Woord en die sakramente nie.

Wat is die kern van die herinnering? Die evangelie self. Paulus “herinner’ sy lesers ook in 1 Korintiërs 15:1-4 soos volg:

“Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. 

Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom. 

Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 

Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.” 

Toets jouself. Maak dit jou opgewonde as die kruisdood van Jesus en die implikasies daarvan duidelik uitgespel word in die prediking? Is die Nagmaal vir ou belangrik? Vir die kind van God bly die kruisboodskap altyd vars! As Jesus vir jou vaal geword het en jy net belang stel in praatjies oor die Illuminati, Sataniste of tekens van die eindtye is daar fout. Kyk weer na jou fondasie! Bou op die fondasie van die evangelie. Die feite van die kruis en die opstanding en wat dit vir jou beteken. 

VAN VASTE FONDASIE TOT FINALE HEERIKHEID 

Hoekom is die evangelie ‘n vaste fondasie? Dit gaan nie oor mites en praatjies nie. Die evangelie waarhede berus op ooggetuie verslae, vaste gronde! Petrus verwys na die gebeurtenis by die berg van verheerliking (hyself was daar en het die STEM gehoor!) en verder op die profetiese woord wat deur die bemiddeling van die Heilige Gees tot stand gekom het. Beide het ons vandag in ons Bybels. Dis die getuienis van die apostels en profete. Hier is die lamp wat vir ons in donker tye, ook wanneer ons onseker voel die pad aanwys. Dis hierdie beloftes wat ons sekerheid gee. Hierop moet ons ag slaan, hieraan moet ons getrou en gedissiplineerd aandag gee tot op die wederkoms van Jesus wanneer Jesus finaal alle duisternis sal laat verdwyn uit ons harte! 

“En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig. Hierdie boodskap is soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte.” (2 Petrus 1:19) Alle twyfel en stryd sal dan finaal verby wees! Jesus self is die Môrester!* Ja daar kom ‘n heerlike einde wanneer ons heeltemal verlig sal wees met die heerlikheid van Jesus self! Geloof sal oorgaan in aanskoue! Die finale oorwinning! Tot dan moet ons onbeweeglik vashou aan die Woord! 

Vir die begin van die Pinksterreeks oor SEKERHEID kliek op

*Vervulling van die beroemde profesie in Numeri 24:17



Saterdag 08 Junie 2019

MAAK VAS; MAAK SEKER! (1)


[Petrus se resep vir Christene wat onseker en wankelend is!] 



Ons oorkoepelende tema vir Pinkster vind ons in 2 Petrus 1:10 waar ons lees : “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.” (OAV) Ons gaan deeglik na die hele 2 Petrus hoofstuk 1 kyk, maar nou eers net so ‘n algemene inleiding tot die vraagstuk van sekerheid en volharding. 


Petrus wil graag hê sy lesers moet sekerheid en vastigheid beleef. Hy verlang dat hulle die einddoel van hemelse heerlikheid sal bereik en weet dat hulle dit sal bereik. Een van die redes is waarskynlik juis om hulle te beskerm teen die valse leringe van dwaalleraars. (sien hfst 2) Onsekere en onvaste Christene is oop en maklike teikens vir verdraaiings, kortpaaie en kitsoplossings. So word hulle mislei en verder van God af gelok en nog meer verwar en moedeloos gemaak. (Of dalk nog erger, ‘n vals fondasie en gerustheid gee!) 

KWELVRAE 

Word jy gekwel en geteister deur hierdie vrae : "Is ek regtig ‘n kind van God, is ek uitverkies, sal ek die eindpaal haal, sal ek kan volhard, kyk hoe maklik val ek vir sonde...?" Vir party pla hierdie onsekerheid, ander word nooit eens daardeur gepla nie en dis nog gevaarliker... Daar is natuurlik ook baie wat wel seker is, maar op verkeerde fondamente bou... Daar is iets soos valse sekerheid. Baie sal eendag hoor: “Ek het julle nooit geken nie...” (Matteus 7:21-23) Verbondsoutomatisme bly ‘n baie gevaarlike bedreiging in sekere kerklike kringe! (Dis die idee dat ek outomaties gered is aangesien ek gedoop is en in die verbond grootgeword het.) 

OORSAKE VIR ONSEKERHEID BY GOD SE KINDERS 

Daar is ‘n hele klomp moontlike oorsake waarom kinders van God onsekerheid beleef t.o.v. hulle ewige saligheid. (En terloops, ons moet dit duidelik sê : Dit is moontlik om ‘n kind van God te wees en onsekerheid te beleef. Alle kinders van God het nie altyd outomaties noodwendig sekerheid en vastigheid nie.) Dis juis waarmee die apostel Johannes wil help as hy vir kinders van God skryf : “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” (1 Joh 5:12,13) en waarom ook Petrus dit nodig vind om hieroor te skryf. Wat is die redes waarom opregte kinders van God onsekerheid beleef?* 

Eensydige introspeksie. Dit kan veroorsaak word deur ongebalanseerde prediking wat altyd net die erns van sonde onderstreep en nie die genoegsaamheid van Christus nie. (Dis skaars in ons dag, maar dit kan wel gebeur) Daar is ook sekere persoonlikheidstipes (veral introverte) wat gedurig geneig is tot introspeksie. Hier is balans belangrik. Ja, selfondersoek is noodsaaklik, goed en gesond, maar ware prediking wys mense op die genoegsaamheid van Christus se werk aan die kruis. Onthou : ”Deur te sien op die kruis is daar lewe en heil!” Vrede is nie in onsself te vind nie! Vrede en sekerheid begin by die besef wat God gedoen het! Ons sal sien dis ook hoe Petrus die saak aanpak. 

Onkunde oor die aard van redding. Baie Christene dink die deurslaggewende faktor is hulle eie geloof en eie bekering en besef nie dat redding eerstens van God af kom nie. Hulle dink hulle redding word deur hulle eie geloof en bekering bewerk i.p.v. die feit dat ons redding deur Jesus aan die kruis bewerk is. Onthou, geloof en bekering is bloot (onvolmaakte) reaksies op die (volmaakte) werk van Jesus aan die kruis. So dikwels kyk ons te veel na onsself en te min na die kruis! Jesus is die REDDER, nie ekself nie! My geloof is maar altyd onvolmaak. Die deurslaggewende faktor is egter Jesus die volmaakte OBJEK van my geloof! Horatius Bonar het dit so goed gestel : “What God demands from us is not satisfaction with our faith, but satisfaction with Christ and His work!” 

Ek weet nie wat die datum van my bekering is nie. Baie mense, veral diegene wat in Christelike huise grootgeword het, weet nie altyd presies wanneer hulle tot geloof in Jesus gekom het nie. Dit kan by hulle later twyfel laat ontstaan. Aan die anderkant is dit juis ‘n datum wat vir party mense valse sekerheid gee...Hulle leef in die verlede (daardie gebeurtenis by ‘n CSV kamp in 1972 of die Mannekamp te Okahandja, 1998) en hou vas aan ‘n ervaring van lank gelede, maar hulle huidige lewe wys hulle is ver van God. Onthou, die belangrikste datum is Golgota! Dis goed om te weet van datums van God se werkinge in my, maar my vertroue moet nie op ‘n datum wees nie, maar op Jesus self! Ons al sien hoe Petrus en die ander apostels nie die klem plaas op ‘n bekeringsdatum nie, maar op die werk van God deur Jesus aan die kruis. En in reaksie daarop die belangrikheid van volharding in 'n heilige wandel.

Skuldgevoelens en die aanklagte van die duiwel. Sommige mense sukkel om die verlede te vergeet en te aanvaar dat hulle volledig vergewe is. “Ek sukkel om myself te vergewe,” moet mens dikwels hoor. Partykeer gaan dit oor “daardie een sonde” wat soveel skade en skande veroorsaak het! God het my als vergewe, maar wat van daardie een ding...? Hierdie Christene wat so gekwel word verstaan nog nie regtig die vryspraak deur die geloof alleen nie of hulle hou nie rekening met die Satan as aanklaer en beskuldiger van God se kinders nie. Hy kla juis die broers aan! “Toe het ek ‘n stem in die hemel gehoor wat hard uitgeroep het: "Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde! Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het.” (Openbaring 12:10) Ons moet leer om na God se beloftes te luister en nie na die verwyte en beskuldigings van die duiwel nie! William Bridge, een van die Puriteine het dit so gestel : “He that lacks assurance of God’s love converses too much with Satan...” Die kruisoffer van Jesus was algenoegsaam, sy vergifnis is volledig! 

Stryd teen versoekings en sonde wat verkeerd geïnterpreteer word.  “Kyk watse versoekings beleef ek, kyk hoe dikwels het ek al geval! Dis seker onmoontlik dat ek God se kind kan wees!” Wel, hulle vergeet die grootste deel van die Nuwe Testament is juis geskryf om raad te gee aan Christene hoe om sonde en versoeking te oorwin. Stryd teen versoeking is deel van die daaglikse Christelike lewe. Daarom is die kwessie van vergifnis en die beskerming teen versoekings en die Bose deel van die gebed wat Jesus vir sy dissipels geleer het. 

Beproewings wat verkeerd verstaan word. “As ek ‘n kind van God is, hoekom kry ek so swaar?” Dis ‘n vraag wat ‘n beproefde kind van God onseker en mismoedig kan maak. Ons vergeet so maklik van die Bybelse lering oor beproewing, tugtiging en opvoeding. “Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: "My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem." Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ‘n kind wat nie deur sy vader getug word nie? As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie." (Hebreërs 12:5-8) Swaarkry is nie ‘n teken dat jy nie God se kind is nie. Inteendeel! Dis ‘n bewys dat Hy vir jou lief is en met jou besig is! 

‘n Ongedissiplineerde en ongehoorsame lewe wat die Heilige Gees bedroef. Miskien is dit die mees algemene rede in ons tyd. Dis die Heilige Gees wat vir ons sekerheid en blydskap gee, as ons Hom bedroef kan ons nie juis verwag om blydskap en sekerheid te beleef nie. “En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.” (Ef 4:30) Wie nie hartseer is oor sonde nie, sal ook nie die vreugde van verlossing beleef nie! Geen ware kind van God sal sekerheid en blydskap beleef terwyl hy bewustelik voortploeter in sonde nie. 

Angs of ek sal kan volhard. Miskien is jy nou redelik seker, maar daar is tog by jou ‘n vrees of onsekerheid oor die toekoms. Sal ek die eindpaal kan bereik, ek is so swak, wat as ek val, wat as daar ernstige toetse of vervolging kom? Dit dui op ‘n gebrekkige verstaan van hoe verlossing werk. Die kind van God se verlossing is van ewigheid deur God beplan en sal deur God in stand gehou word! Petrus gaan vir ons wys dat dit in die eerste plek gaan oor God se krag! 

Al hierdie redes het eintlik te maak met onkunde oor die Bybel of ongehoorsaamheid aan die Bybel! Die Woord van God moedig ons aan om seker te wees en ons roeping en verkiesing vas te maak! Ons gaan na die kosbare lering in 2 Petrus 1 kyk en hoe dit ons by vaste sekerheid wil uitbring.  Kliek op Maak vas;Maak seker (2)

*Met erkenning aan John MacArthur 







Sondag 01 Oktober 2017

VASTE SEKERHEID

- te midde van baie onsekerhede op ons geloofspad. 


Alle mense het ‘n behoefte aan sekerheid. Ek wil graag seker wees dat ek ‘n werk en ‘n woonplek sal hê. Ons het ‘n behoefte aan sekerheid oor die toekoms : dat ons en ons kinders veilig sal wees, dat hulle eendag ‘n goeie lewe sal hê... Ons sou graag sekerheid wou hê oor die reënseisoen wat op hande is en nog baie ander dinge... Die mens is van nature bang en onseker (en moet mens seker byvoeg, nuuskierig!). Dit kom vanaf die sondeval en ons verjaging uit die sekuriteit van die paradys, weg van God se nabye teenwoordigheid... Ons soek gedurig na waarborge, insigte en antwoorde rakende die toekoms en sekuriteit. Dis terloops een van die redes waarom soveel mense by die okkulte betrokke raak! (waarsêers en waterwysers, toordokters en slamse, kaart- en palmlesers, spiritiste ens.) Hulle soek antwoorde op hulle vrae en vrese en die duiwel verskaf die (valse) antwoorde en waarborge maar al te graag om so ‘n houvas op mense te kry. 

Moet ons en kan ons, spesifiek as kinders van God oor alles seker wees? Die antwoord wat die Bybel gee en spesifiek die 1 Johannes brief is dat die gelowige se pad beide ‘n pad van sekerheid en “onsekerheid” is! Anders gesê : daar is dinge waaroor ons moet en kan seker wees, maar ons moet ook aanvaar daar is dinge waaroor ons altyd onseker sal wees in die sin dat ons nie weet hoe dit gaan wees of presies wanneer wat gaan gebeur nie. 

SEKERHEID 

Waaroor kan en moet ons seker wees? 

Ons kan seker wees van God. Dat Hy bestaan en dat Hy waarlik God is, die Almagtige Skepper van hemel en aarde. Hy is in beheer van sy skepping en alles sal gebeur sodat Hy sy ewige doelwitte sal bereik. Dis ‘n heerlike vertroostende sekerheid. Dit word nie hier in 1 Johannes eksplisiet genoem nie, trouens nêrens probeer die Bybel die bestaan van God bewys nie. (God glo nie in ateïste nie!) Johannes probeer dit ook nie. Die Bybel veronderstel dit maar net! God is daar en dis net die dwaas wat in sy hart sê dat daar geen God is nie. Kyk na die sterre en seisoene, die woestyne en die woude...wie anders kan die oorsprong daarvan wees as God? “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.” (Psalm 19:1) 

[God se skildery by Swakopmund]

Ons kan (en moet) seker wees dat ons kinders van God is. Dis een van die hooftemas van die hele 1 Johannes brief en eintlik die groot doel waarom hy dit skryf. “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” (1 Johannes 5:12,13) 

Ons kan seker wees van God se liefde. “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.” (1 Johannes 3:1) Dit gaan saam met die vorige saak. Dat ons as gebroke mense nou reeds kinders van God genoem kan word is ‘n duidelike bewys van die Vader se liefde. (Dink net, gewone mense in ‘n direkte verwantskap, ‘n Vader-kind verhouding met die Almagtige God!) Hierdie liefde is ‘n vaste feit. Ons gevoelens en ons omstandighede kan dit nie verander nie! Dit beteken : al voel ek hoe sleg en emosioneel af, al voel ek hoe eensaam, al voel ek net donkerte - die feit van God se liefde staan vas. Hierdie Vaderliefde is konkreet eenmalig genoegsaam bewys aan die kruis! Al is my omstandighede nou hoe benoud en benard, al is daar geen vooruitsigte en geen uitkoms nie, bly God se liefde ‘n onbeweeglike feit. “Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.” (1Johannes 4:10) 

Ons kan seker wees van God se einddoel met ons. “Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is.” (1 Johannes 3:2) Ons weet dat Jesus beslis weer sal kom en dat ons soos Hy sal wees. Ons sal in sy heerlikheid deel. Johannes sê nie presies hier wat hy bedoel nie, maar uit die res van die Skrif weet ons dat ons verlossing volledig afgehandel sal wees, dat ons sonder sonde sal wees en dat ons ‘n verheerlikte liggaam soos Jesus sal hê. “Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.” (Fil. 3:21) Hierdie doelwitte van God kan deur geen teenstand van die wêreld en die Bose gekeer word nie! Ja, en terloops van hierdie teenstand kan elke kind van God ook seker wees! “...En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie.” (1 Johannes 3:1) 

ONSEKERHEID 

Die kind van God kan bly wees en getroos wees deur heerlike vaste sekerhede. Tog is daar ook ‘n element van onsekerheid op ons geloofspad. Hoe so? “Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie” (1 Johannes 3:2) God het nog nie als vir ons gesê wat Hy kan sê nie. Daar is geopenbaarde dinge en daar is dinge wat Hy in sy wysheid nie aan ons geopenbaar het nie. Dis ‘n belangrike onderskeid. "Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet" (Deuteronomium 29:29) Kinders van God moet deur die geloof lewe, dit impliseer dat ons nie nou alles weet, vooruit sien en verstaan nie. “Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.” (2 Korintiërs 5:7) Die geloofspad is ‘n stap vir stap paadjie gerig deur die beloftes van God. God gee nie vir ons die detail van elke stap wat wag nie. Hy sê net as’t ware kom agter My aan, vertrou My en ek sal jou by die heerlike bestemming uitbring. 

Ons sien dit baie treffend in die lewe van Abram. God het duidelike beloftes aan Hom gemaak oor ‘n nageslag, ‘n land en ‘n ewige seën wat hy sal meebring. Dis vaste sekere doelwitte en onveranderlike beloftes. Abram glo, maar Abram het nie vooraf geweet wat alles oor hom sou kom nie. Daar is vir hom niks vooraf gesê oor die droogte in die beloofde land nie, oor jare se kinderloosheid, wag en frustrasie nie, oor die toets wat sou wag op Moria nie. Nee, stap vir stap het God vir Abram op die geloofspad gelei. Die geestelike pad wat God met sy kinders stap is ‘n pad vol verrassings. Ons weet nie wat môre, volgende week en volgende jaar als oor ons pad kom nie, maar ons weet in wie ons glo en ons weet dat sy genade in alle omstandighede genoeg sal wees. Ons weet daar wag ‘n heerlike eindpunt. Ons weet dat God die goeie werk wat Hy in ons begin het sal klaarmaak en voltooi. (Filippense 1:6) 

EERSTE PRIORITEIT

En nou? Hoe moet ons leef in ‘n situasie waar ons nie als weet nie? “Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.” (1 Johannes 3:3) ‘n Belangrike ideaal en fokuspunt vir elke kind van God. Hou jouself rein! Die wete dat ons Jesus sal sien as einddoel moet ons motiveer om altyd gereed te wees. Ons weet nie watter gevare, versoekings en probleme môre sal bring nie. Maar vandag, nou moet ons heilig lewe. Los die vrese en bekommernisse oor môre en leef volgens God se geopenbaarde wil in sy Woord. Raak ontslae van als wat verkeerd, vuil en veragtelik is! Nie toekomsspekulasies nie, maar daaglikse gehoorsaamheid ! Dit moet ons fokus wees te midde van baie dinge wat ons nie weet of nou reeds verstaan nie. 

Om dit op te som: Ons is seker van God, maar ons is nie altyd seker oor presies wat Hy met ons gaan doen nie. Maar die sekerheid oor God en dat Hy ons Vader is, en dat Hy ‘n volmaak goeie en liefdevolle Vader is, gee aan ons ‘n heerlike sekerheid, ‘n onwrikbare vastigheid te midde van ons onsekerheid. Vertrou Hom en gehoorsaam Hom een dag op ‘n slag! So kom ons uiteindelik by ons bestemming aan.

Donderdag 13 Julie 2017

GELEEF, GESTERF VIR MY!

Jesus se passiewe én aktiewe gehoorsaamheid gee vir ons volkome sekerheid.


Gaan ek die hemelse wenstreep haal? Dis so ‘n belangrike vraag. Dink maar aan ‘n Comrades marathon – as daardie laaste skoot klap om die afsnypunt aan te kondig. Die teleurstelling en smart as iemand dit gemis het... Hoeveel erger sal die gevolge wees as ek die hemelse afsnypunt mis? Hoe kan ek seker wees dat ek dit nie sal misloop nie? Ja, ek het Jesus aanvaar maar kyk net ek is en voel so onvolmaak... Sal ek kan ingaan in die Koninkryk? Kan ek seker wees? Ons gaan die antwoord uit die Woord kry, maar ek wil dit ook koppel aan die woorde van die bekende Liedboek 396 se eerste vers en spesifiek die woorde “Hy leef, Hy sterf in my belang”

[Terloops. Wat ons sing is baie belangrik. Nie net om tyd om te kry of afwisseling te bewerk nie. Dit is eintlik ’n weerspieëling van wat ons glo. Dis aanbidding tot God, maar dis ook moontlik ’n manier waardeur ons mekaar bemoedig en onderrig. Dis m.a.w. nie net die dominee wat lering aanbied nie, ons leer mekaar deur die liedere wat ons sing.(Kol 3:16;17)] 

Wat beteken dit as ons sing dat Jesus in my belang geleef en gesterf het? Jesus het vir ons gestérf (dit weet almal ). Ons weet ook wat dit beteken. Hy het al ons sonde op Hom geneem en is daarvoor in ons plek gestraf. (Jesaja 5:5,6) Daarom is ons wat in Hom glo vry van straf...MAAR Hy het ook vir ons gelééf. Beide Jesus se lewe en sterwe is vir ons van die allernoodsaaklike belang. Wat beteken dit dat Jesus vir ons geleef het? Ons sing dit mos. En ons moet tog bedoel wat ons sing!

VOLBRING!

Een van die sleutel begrippe in die Johannes evangelie is die woord “volbring”*. Dis die woord wat Jesus aan die kruis uitroep (Johannes 19:30), maar dis ook ‘n deurlopende tema in die hele Johannes evangelie.  Dit is ’n uiters belangrike leidraad om Jesus se lewe en werk te verstaan. Blaai bietjie saam met my deur die vierde evangelie:

Johannes 4:34 “Jesus sê vir hulle: My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.” Jesus se groot ingesteldheid was om God se wil te doen, om die werk wat God Hom gegee het te voltooi. 

Ook so Johannes 5:36 “Maar Ek het 'n groter getuienis as dié van Johannes, want die werke wat die Vader My gegee het om te volbring, die werke self wat Ek doen, getuig van My dat die Vader My gestuur het.”

Johannes 17:4 “Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.” Net Jesus kan dit sê in ‘n absolute sin! Sy hele lewe lank was Hy perfek gehoorsaam aan God se wil. Nooit iets teen God se wil en wet gedoen nie. Dis ’n ander manier om te sê Jesus was sondeloos. 

Jesus het niks verkeerd gedoen het nie, maar meer as dit, Hy het ook positief alles gedoen wat God wou gehad het Hy moes doen. 

Hy en Hy alleen het al God se opdragte in die kleinste detail en met volmaaktheid uitgevoer. Jesus en net Jesus was die volmaak regverdige Israeliet. (Dis die duidelike boodskap van Matteus 4 – die verhaal van die versoeking in die woestyn; elke keer het Jesus opgetree soos ’n volmaak regverdige) As volmaak gehoorsame het Jesus geslaag waar alle ander mense misluk het - Adam, Moses, Dawid, al die groot helde van die Ou Testament het gefaal, Jesus nie. Die volk Israel as geheel het gefaal, maar Jesus het die toets geslaag. Jesus en Jesus alleen het sy Vader se werke volbring en sy wil perfek uitgevoer!

Wat baat dit ons ? Hoe raak dit ons? Geweldig baie. U sien ons staan skuldig voor God oor die verkeerde dinge wat ons gedoen het. Maar meer nog, ons staan ook skuldig oor die regte dinge wat ons nie gedoen het nie. Niemand van ons het God genoeg lief nie, niemand eer God genoeg nie, niemand dank God genoeg nie.... Ons staan dus dubbeld skuldig voor God! Maar nou het Jesus as ons plaasvervanger ’n volmaakte lewe voor God geleef hier op aarde. Alles wat Hy gedoen het was presies soos God dit wou gehad het. Hy het God se werke volbring in die volle sin van die woord!

Hoe raak dit my? As ek in Christus is, word sy volmaaktheid, sy geregtigheid as myne beskou en staan ek volmaak voor God. Ons sing ook mos : “Hy is my geregtigheid , ek staan volmaak in Hom.” HY IS MY GEREGTIGHEID! “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.” (1 Kor. 1:30) Alles wat Christus was en is, is Hy VIR ons TER WILLE VAN ons. Hy is die sondelose mens vir ons (ons moes dit gewees het....). Hy is die ware verbondgenoot vir ons (ons was veronderstel...). Hy is die regverdige, die heilige, die Geesvervulde, die volmaakte aanbidder van God, wat ons moes gewees het... - Alles VIR ons!

Anders gestel : 

Jesus het die toets wat ons moes skryf namens ons geskryf! Hy het die reisies wat ek moes hardloop, namens my gehardloop! 

AKTIEWE GEHOORSAAMHEID VAN CHRISTUS

Jesus het vir ons gesterf. Dit word sy passiewe gehoorsaamheid genoem. Jesus het ook vir ons geleef. Dit word sy aktiewe gehoorsaamheid genoem. Sy aktiewe gehoorsaamheid het Hy ook namens ons uitgeleef. Sy volmaakte gehoorsaamheid word vir ons wat glo toegereken. Sy gehoorsaamheid word nou beskou as ons gehoorsaamheid en daarom kan ons sonder vrees voor God staan, as ons met Jesus verenig is. Aan die einde van sy lewe het die groot teoloog en stryder vir die waarheid, Gresham Machen ’n telegram aan John Murray gestuur met die woorde “I am so thankfull for the active obedience of Christ. No hope without it”**

WAT VAN MY?

Jesus het God se wil volmaak uitgevoer en uitgeleef. Wat Hy geleef en gedoen en gesterf het was vir ons, ter wille van ons, tot ons voordeel. Sodat ons gered kan word! Een belangrike vraag bly oor. Hoe kry ék deel daaraan. Hoe weet ek dat wat Hy gedoen het, ook my persoonlik raak. Dat dit persoonlik verlossing vir my bring?

Die Johannes evangelie gee ’n baie duidelike antwoord. Weer is die sleutelwoord “volbring.” “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.” (Johannes 6:28,29) God vra van ons net een ding - Glo in Jesus , die Een wat deur God gestuur is. Jy sien daar is net een wat God se werke volbring het, net een wat volmaak gehoorsaam voor God se aangesig geleef het. Jesus. As ons God se werke wil doen, doen wat God verlang en verwag, dan moet ons in Jesus glo. Ons eie pogings nie genoeg nie. Dis waarom baie mense se godsdiens so ’n tragiese frustrasie is. Hulle wil self God tevrede probeer stel. Ons kan nie. Net Jesus het God tevrede gestel, net Jesus kon aan die einde van sy lewe sê : “Dis volbring. Al die werk wat die Vader my gegee het , het Ek afgehandel.” Ons kry deel aan Jesus se volmaaktheid namens ons deur die geloof. 

Nou wat is geloof? Een of ander ingewikkelde gedagtehandeling? Nee, gelukkig nie!

Geloof is om tevrede te wees met dit wat God vir ons gedoen het in Jesus. Geloof is nie opsigself ’n perfekte daad wat vir ons verlossing verwerf nie. Geloof sê maar net : “Ek weet ek is nie goed genoeg nie, maar ek vertrou wat Jesus gedoen het met sy lewe en sterwe was goed genoeg, ook vir my!”

Die grond van my sekerheid is nie die kwaliteit van my geloof nie, maar die genoegsaamheid en volkomenheid van Jesus se lewe en sterwe namens my!

Horatius Bonar sê dit so mooi :
“What God demands from us is not satisfaction with our faith, but satisfaction with Christ and His work" - en juis dit is ware geloof!

*In die Grieks is dit deurgaans die stamwoord τελειόω. Die OAV vertaal dit dan ook konsekwent met “volbring”

**Murray, Ian, The Life Of John Murray; p64.

Vrydag 10 Maart 2017

GOD SELF

- BELOOF, BEVESTIG EN BEWERK ONS VERLOSSING!



Ons het gesien hoe God met Abram besig is op sy geloofspad in Genesis 15. Hy het sy beloftes aan die wankelende Abram herbevestig. Boonop het Hy toe vir Abram op ‘n nagtelike uitstappie gevat – “Kyk na die sterre! Kan jy hulle tel? Abram, dit wat jy nie kan doen nie, kan ek doen. Dit wat vir jou onmoontlik is , is vir my moontlik.” (Kliek op STERRE) En Abram glo. Maar daar is nog steeds huiwering by hom. “En hy sê: Here HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?” (8) Hy soek nog meer vastigheid en versterking. Hierdie versoek is nie ‘n teken van ongeloof, maar ‘n bewys van geloof wat van sy eie swakheid bewus is. God verag nie ‘n geringe en swakke geloof nie. (Die aangrypendste voorbeeld in die Nuwe Testament is die pa wat na Jesus toe kom in Markus 9 – “Ek glo Here, kom my ongeloof te hulp!”)



VERBOND


Om Abram se geloof te versterk sluit God ‘n verbond (kontrak) met hom. God bevestig sy beloftes op ‘n formele kontraktuele manier. Hy hoef dit nie te doen nie, sy beloftes moet mos genoeg wees, maar Hy kies om dit so te doen. 

“En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar 'n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. Op dié dag het die HERE met Abram 'n verbond gesluit...” (17,18)

GOD TREE EENSYDIG OP!

Oor die presiese betekenis van al die besonderhede van hierdie verbondsluitingseremonie is daar nie eenstemmigheid nie.* Dis net interessant om te onthou dat mens in Hebreeus ‘n “verbond sny” Die verdeling van die diere – as ‘n oordeelsteken maak dus baie sin. Wat wel opvallend waar en vol betekenis is, is dat God eensydig** optree. Hy gaan alleen tussen die verdeelde diere deur in ‘n Goddelike verskyning. (Normaalweg sou mens verwag dat beide partye in die verbond dit sou doen) Die rokende oond en fakkel herinner sterk aan die wolk en vuurkolom tydens die Uittog uit Egipte en mag dalk ‘n profetiese boodskap van beskerming inhou ten opsigte van die latere geskiedenis van Israel. Nietemin, die klem val op God se inisiatief, God se ingrype, God se belofte en God se versekering terwyl Abram in ‘n passiewe toestand van vrees en angs is. (12) “En toe die son wou ondergaan, val daar 'n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval.” (Dis miskien iets soos daai drome waarin jy voel of jy van als bewus is, jy word bang, jy wil iets doen, maar jy is magteloos… )

Abram is buite aksie, dis God wat die aksie uitvoer. 

En dis ‘n genade aksie! ‘n Heerlike troos! God staan nie simpatiekloos en kyk eenkant toe hoe ons in die geloofslewe spartel en verdrink nie. Hy gryp in… Hy neem als op Hom. So wek HY geloof en ondersteun HY ons geloof. Hier in vers 18 word die verbond met Abram die eerste keer by name genoem. (die teken van die verbond, die besnydenis word eers in hfst. 17 gegee) En terloops, die hele res van die Bybel gaan oor die magtige verhaal van hoe God getrou bly aan sy verbond. Tot in Openbaring kom dit weer ter sprake!

Aangrypend heerlike drama. Die almagtige Skeppergod daal neer na die nietige mens en maak beloftes aan hom, maar dis nie al nie Hy sluit ‘n verbond met hom om die beloftes te bevestig. God kom na ons in Woord en sakrament. God verbind Homself deur sigbare tekens. Ook aan ons. Doop en nagmaal. Dis die groot saak om raak te hoor in die prediking en raak te sien in die sakrament. God speel die hoofrol. God tree op. God belowe. God bevestig sy beloftes. Ons troos lê in dit wat HY doen en wat HY belowe. In die doop wat die uiterlike teken is van die verbond gaan dit dus nie in die eerste plek wat ons belowe nie. Dit gaan oor God se beloftes, spesifiek God se beloftes wat waar geword het in Jesus. Dink tog maar mooi, watter troos bied ons beloftetjies tog… verbreek ons hulle nie dikwels maar vinniger as wat ons hulle gemaak het nie? 

DOOP

Net terloops. ‘n Streng subjektiwistiese siening van die doop, waar alle klem op my belydenis en my besluit val bied maar min troos in tye van storms en vertwyfel. Die feit dat ons (onder andere) vanuit die Abramsverbond aflei dat kindertjies ook hierdie teken mag ontvang (sommer om nou in ‘n polemiek betrokke te raak) bevestig net hierdie sterk klem op die eensydige kant van God se beloftes wat hier in Genesis 15 so dramaties geïllustreer word. Natuurlik kan klein kindertjies nog nie glo nie, natuurlik kan hulle nog nie tot bekering kom nie. Maar sou dit God verhoed om reeds sy beloftes aan hulle te bevestig? Onthou weer, Abram het geslaap toe God opgetree het... Abram ontvang wel die teken van die verbond nadat hy geglo het in Genesis 17, maar toe sy seun Isak gebore word ontvang hy die teken al op agt dae. Isak sou wel iewers later tot geloof gekom het, want volgens Hebreërs 11 was Isak ook ‘n gelowige.

EVANGELIE

Die groot saak is - Ons hoor reeds die evangelie hier in Genesis 15! God tree eensydig op, Hy gaan alleen tussen die stukke deur, Hy neem die inisiatief by die verbondsluiting. Dis mos presies wat by die kruis van Jesus gebeur het. God het mens geword in Jesus. Hyself vat die volle straf vir ons sonde. By die kruis het God alleen opgetree. Die mens het nie gehelp nie. Deur Jesus se offer het God gekom en ons met Homself versoen. Hy het dit volledig gedoen. Die mens het nie op Golgota enige bydra gelewer nie, die verlossing is genoegsaam en volkome deur God self bewerk in Jesus Christus.

REAKSIE : DANKBAARHEID!

Ons kan niks anders wees as dankbaar nie. Daar bly vir ons niks anders oor om te doen as dankbaarheid nie. Ons bewys ons dankbaarheid deur geloof en bekering. Geloof en bekering is die sigbare bewys van dankbaarheid. Wie nie glo nie en nie bekeer nie, is gruwelik ondankbaar en verwerp God se genade en vertrap die verbond… Juis ook en veral op gedoopte verbondskinders rus die verpligting om te reageer met geloof en bekering.

Net ‘n laaste vraag. In die lig van wat God gedoen het, sy eensydige verbond, sy genade, sy werk deur Jesus aan die kruis… Hoe kan ons onaangeraak bly, hoe kan ons ongelowig bly, hoe kan ons onbekeerd in sonde voortgaan, hoe durf ons die Woord minag…? Dis waansinnig dwaas om God se liefdevolle toenadering te verwerp en inderdaad sal so ‘n verwerping lei tot ‘n ewige waansin van selfverwyt in die hel…


Besondere wolkformasie bo die Omatako's (foto : ds. Hendrik van Zyl)

*Sommige verklaarders maak baie van die ooreenkomstige gebeure in Jeremia 34:18-20 waar die straf weens die verbreking van die verbond voorop staan, terwyl ander meen daar is nie ‘n direkte ooreenkoms nie.

**Dumbrell, Covenant and creation,p49 en ook Woord teen die Lig II/3 p160,162

Vrydag 04 September 2015

GOD IS GETROU!

- maar wat van jou?

God is getrou! Ja, beslis! God is getrou in die sin dat Hy altyd doen wat Hy beloof het. 


“Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.” (Hebr. 10:23) 

Dis nie net ‘n waarheid van die Nuwe Testament nie, maar dis ‘n groot tema dwarsdeur die Bybel. Dink maar aan die aangrypende woorde van koning Salomo by die inwyding van die tempel! 

“Toe gaan staan Salomo regoor die altaar van die Here, voor die hele gemeente van Israel, en strek sy hande uit na die hemel toe en sê: "Here, God van Israel, in die hemel of op die aarde is daar nie nog ‘n God soos U nie. U hou U aan die verbond en U bly getrou teenoor u dienaars wat met volle oorgawe voor U lewe.” (1 Konings 8:22,23)

God is getrou volgens dit wat Hy beloof het. En God se beloftes is nie sommer ’n klomp losstaande dinge wat Hy hier en daar beloof nie. Sy beloftes word geformaliseer in ‘n verbond. Dink maar aan sy beloftes aan Noag, Abram, die volk Israel, Dawid. Dit gaan telkens saam met die sluiting of bekragtiging van ‘n verbond. Uiteindelik word God se beloftes vasgemaak in die Nuwe Verbond wat Jesus tot stand gebring het. Dis die groot punt van die Hebreërbrief skrywer. Jesus se koms is die hoogtepunt van al God se beloftes. Jesus is die samevatting en waarmaking van al God se beloftes. As ons in Jesus glo en aanhou glo dan ontvang ons wat God beloof het.

MAAR WAT VAN...?

God is getrou! Ons sê dit seker almal, maar tog twyfel ons dikwels. Ons twyfel in tye van swaarkry en hartseer en onverstaanbare rampe. Ons twyfel wanneer dinge skeefloop en dit voel of God ons vergeet het. Onthou net twee sake:

God se beloftes vrywaar ons nie van die ellende en hartseer op aarde nie. (God se beloftes het nie gekeer dat Abram droogte in die beloofde land aangetref het nie; dit het nie verhoed dat Paulus, hongerte, naaktheid, gebrek, slae en tronkstraf moes verduur nie.)  Die einste mense vir wie hier geskryf word in Hebreërs is van hulle besittings beroof, God se getrouheid het nie gekeer dat dit gebeur nie. Vgl. 10:34)

God se beloftes beteken ook nie dat God altyd dadelik optree en maak soos ons graag sou wou gehad het nie. Ons weet dat God aan Abraham se nageslag die land Kanaän beloof het in die verbond wat Hy met hom gesluit het. Maar wat gebeur toe? Die Israeliete was vir vierhonderd jaar in Egipte. Jare van swaarkry. Jaar na jaar, geslag na geslag het dit gelyk asof God nie sy beloftes nagekom het nie, tot op ‘n dag toe die tyd ryp was...  

“Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem.” (Eksodus 2:23-25)

God het sy plan en sy tyd, maar Hy bly altyd getrou! Nou waarin lê hierdie getrouheid? Wat behels dit? God se getrouheid het te make met die volmaaktheid en gewaarborgde voltooiing van sy verlossingswerk deur Jesus!

Al God se beloftes wat aan Abram, Moses en Dawid gemaak is, het in die finale sin betrekking op Jesus en sy volmaakte verlossingswerk. Jesus se koms en sy verlossingswerk het alles te make met God se verbondsgetrouheid. Die verbondsgetrouheid van God is nie net iets in die Ou Testament nie, dit kom juis tot volle heerlikheid in die Nuwe Testament. Dit kom so duidelik ter sprake in die lofsang van Sagaria. 


"So het die Here dit reeds van oudsher belowe deur die mond van sy heilige profete: om ons te verlos van ons vyande en uit die hand van al ons haters; om Hom te ontferm oor ons voorvaders en sy heilige verbond te onthou.

Met ‘n eed het Hy dit bevestig aan ons voorvader Abraham dat Hy sou gee dat ons, gered uit die hand van vyande, Hom onbevrees kan dien in vroomheid en opregtheid al die dae van ons lewe." (Lukas 1:70-75)


Jesus se koms het vir ons hoop gebring, omdat Hy vrede gemaak het tussen ons en die Vader. Hierdie heerlike hoop word so pragtig beskryf in  Hebreërs 10:19,20. 

"Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam."

Die heiligdom verwys na die allerheiligste vertrek in die tempel, waar die hoëpriester net eenmaal ‘n jaar mag ingegaan het namens die mense. Jesus is ons hoëpriester wat vir ons die pad oopgemaak het deur sy kruisdood. Ons het vrye toegang tot die teenwoordigheid van God!

Gewone sondaarmense ontvang deur Jesus vryspraak en vergifnis en kan nou met vrymoedigheid na God se troon van genade gaan. As ek aan Jesus behoort het ek dus ‘n vaste hoop op volkome vergifnis, ‘n vaste hoop op die ewige lewe, ‘n vaste hoop op die onwankelbare erfenis! Hierdie hoop sal my nie teleurstel nie, want GOD IS GETROU! Omdat God getrou is, kan ons seker wees! Seker van vergifnis, seker van ons ewige bestemming, seker van God se liefde in Jesus...

God se getrouheid aan sy verbondsbeloftes het dus finaal en absoluut sigbaar in Jesus se sterwe en opstanding. Die sakramente (doop en nagmaal) is sigbare herinnerings en bevestigings van God se getrouheid omdat dit ons aandag vestig op Jesus se sterwe en opstanding. Die tekens roep uit : GOD IS GETROU! God kan nooit ontrou wees nie. God kan nie vals wees of lieg nie. Jy kan dus sy beloftes glo, maak nie saak wat jou omstandighede is nie.

EN NOU?

God se getrouheid maak ons nie passiewe toeskouers nie! Dit vereis getrouheid van ons. Dit vra reaksie. God se beloftes roep ons op tot geloof, bekering, liefde en goeie dade. Baie belangrik : God se getrouheid word in die verbondsgemeenskap van die Here (die plaaslike gemeente) beleef, God se getrouheid vereis dat ons ook getrou betrokke sal wees by hierdie gemeenskap, jou plaaslike gemeente. 

"Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom." (Hebreërs 10:25) 

Ons moet pasop vir ‘n individualistiese verskraling in ons verstaan van God se getrouheid. Ek mag nie dink dat God se getrouheid bloot ‘n waarborg is dit dit met my en my persoonlike belange sal goed gaan nie. Natuurlik ervaar individuele gelowiges God se getrouheid persoonlik, maar lees maar die Bybel, God se getrouheid staan in hoofsaak in verband met sy doelwitte met sy volk, sy gemeente! God is getrou om die beloftes uit te voer ten opsigte van sy groot doelwitte met sy kerk en sy koninkryk. 

GOD IS GETROU, maar wat van jou?



[God se beloftes staan onwankelbaar vas soos 'n rots! Vierkantklip naby Swakopmund.]