BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Losbandigheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Losbandigheid. Wys alle plasings

Maandag 03 Januarie 2022

Dis amper dag – word wakker!

- die boodskap wat 'n bandelose jongman tot sy sinne geruk het, en wat elkeen van ons nodig het om weer te hoor...

Elke minuut, elke dag, elke jaar wat verby is bring ons nader aan die groot en heerlike dag van Jesus se wederkoms. Dis die dag van ons finale verlossing. Besef jy die implikasies daarvan? Maak dit jou opgewonde? Raak dit jou gedagtes en leefstyl en beplanning?

Paulus praat hier in Romeine 13:11-14 met mense wat reeds God se kinders is – “ja, ons verlossing is nou nader as toe ons tot geloof gekom het.” En dis hierdie kinders van God vir wie hy nou aanmoedig om wakker te word. (11a) 


Hier is ‘n dringendheid in Paulus se spraak. Mense daar is nie nou meer tyd vir sluimer en slaap nie! Word wakker, staan op! Inderdaad, kinders van God, ja mense wat waarlik die verlossing in Jesus beleef het, word maklik slaperig, lui, laks en lam! Die simptome daarvan is kompromie met sonde… “Ag dit en dat is darem nie so erg nie! Ag ons hoef darem nie so streng en eng te wees nie…” en dan begin ons saamdoen met die sondige wêreld rondom ons. Dis egter nie net verkeerde dinge wat ons doen nie, maar ook sondes van versuim – dinge wat ons nalaat… ons raak meegevoer deur die partytjie en vermaaklikheidsgees van hierdie wêreld, deur die groot afgod van “entertainment” en dit stomp ons af en bederf ons verlange na God en sy dinge– ons begin die Woord en gebed en die gemeenskap van die gelowiges afskeep. Kyk maar dis die dinge wat menige Christen se val voorafgaan. Dis die gevaartekens… "ag, ek is nou nie lus vir die Bybel nie, nie lus vir ware gebed nie, nie lus vir die erediens nie…"

DRIE TYE

Paulus herinner ons – die finale verlossing is voor die deur! Die Bybel praat in drie tye oor die verlossing van God se kinders –





Verlossing is iets wat reeds afgehandel is, soos  ons dit kry in Efesiërs 2:8; 











Verlossing is iets wat nou besig is om te gebeur soos 1 Korintiërs 1:18 dit stel.




 









Verlossing is iets wat nog in die toekoms sal gebeur volgens Romeine 5:9.






DRINGEND BELANGRIK

Paulus herinner ons. “Die nag het reeds ver gevorder; dit is amper dag.” (12) Dis ‘n metafoor wat Paulus gebruik om dit onder ons aandag te bring dat hierdie huidige bedeling op hierdie aarde nie vir altyd gaan duur nie. Hierdie wêreld met sy sondeduisternis en ellendes gaan nie vir altyd aangaan nie. Die finale en heerlike voltooiing van ons verlossing kom al hoe nader! Hierdie feit moet julle laat wakker skrik. Hierdie feit moet ons leefstyl laat verander. Ons lewens moet pas by die dag wat aan die kom is. Die gewoontes en lewenswyse van die nag moet ons van ontslae raak. Kies teen die duisternis, kies vir die lig. Ja en onthou dit behels ‘n stryd. Maar ten spyte van hierdie stryd moet ons ‘n lewe leef wat by die daglig van Jesus se heerlikheid en verlossing pas. En dan raak Paulus baie prakties. Hy noem konkrete dinge wat deel is van die duisternis en glad nie meer pas by ‘n kind van die lig nie. Dis baie aktuele dinge. Destyds en nog steeds. (13)





Dis drie groepe van sondes wat hy hier noem. 

Eerstens - gefuif en dronkenskap – dis sonde van selfsug en gebrek aan selfbeheersing. Dis ‘n meesleuring deur die vermaak en plesier van die oomblik – ‘n verslawing aan “entertainment.” Wilde drink partytjies en uitspattigheid. 

Tweedens - “ontug en losbandigheid.” Dit gaan oor alle vorme van sedeloosheid en seksuele losbandigheid. Dit skyn mos die hoogste ideaal en norm van ons tyd te wees – doen als waartoe jou luste jou lei. Hoerery is maar reg. Daar is geen respek vir God se ordes oor die huwelik en reinheid nie. Dis ‘n goedkoop bandelose rondgefladder van een persoon na die ander. Die geboorte van buite egtelike kinders word selfs toegejuig op sosiale media! Die opperste vorm van rebellie teen God se wette en die aakligste vorm van selfsug. 

Derdens. “rusie en afguns” Onmin en gevegte tussen mense. Dis alle vorme van liefdeloosheid wat uit harte van haat en jaloesie opborrel en jou medemens skade aandoen. Dis alle vorme van geweld – van skinder en minagting tot openlike vyandskap en moord! 

Al hierdie voorbeelde in Paulus se lys vorm deel van die domein van die duisternis! En al hierdie sondes kom neer op ‘n mislukking van egte liefde, die oortreding van die liefdesgebod teenoor jou medemens! Paulus verwys in die voorafgaande gedeelte na die liefdesgebod. (10) 


Al hierdie dinge kom neer op ‘n flagrante oortreding van die liefdesgebod. Wie homself aan hierdie sondes skuldig maak, wys dat hy nie omgee vir sy medemens nie en dus ook nie omgee vir God nie.






TREK JESUS AAN!

Paulus stel teenoor hierdie bose lewe ‘n heerlike alternatief. (14a) “Beklee julle egter met die Here Jesus Christus.” Dis ‘n kragtige metafoor vir radikale toewyding – trek daagliks vir Jesus aan! Dis ‘n daaglikse assosiasie en identifisering met Jesus. Wees soos Jesus. Dis meer as net ‘n eenmalige besluit – dis ‘n daaglikse volg van Hom, dis ‘n daaglikse bekering om te kies om Hom te gehoorsaam, dis ‘n daaglikse wandel met Hom en die opsoek van sy teenwoordigheid. Dis ‘n lewe van oorgawe aan Jesus, wat daaglikse dissipline behels. En let op hierdie navolging van Jesus gaan saam met ‘n baie sterk keuse teen alle vorme van sonde! (14)


VERKLAAR OORLOG TEEN ALLE SONDE!

Moenie ruimte vir enige sonde in jou lewe maak nie! Moet op geen manier eers vir die moontlikheid van sonde beplan of voorsiening maak nie. Gun die sonde geen duimbreedte nie. Reeds as sonde net by die voorhekkie verskyn, jaag dit weg dan sal dit nooit in jou huis en lewe kom nes maak nie! Bewaar jou gedagtes, wees versigtig wat jy luister, kyk en lees… Roei elke geringste teken van sonde uit! 


Mag ons vers 14 onthou as ‘n duidelike koerswyser vir die nuwe jaar.
Mag hierdie oproep van die apostel Paulus ‘n kragtige verskil in jou lewe maak, net soos dit baie eeue vantevore gelei het tot ‘n lewensveranderende bekering by die latere beroemde kerkvader Augustinus! Hy was ‘n regte bandelose rokjagter maar hierdie woorde het hom tot besinning geruk en hy het ‘n nuwe mens geword!


Ware voorspoed en seën vir die nuwe jaar!

Maandag 06 November 2017

HARVEY WEINSTEIN

en die Nuwe Jerusalem! 

Paulus praat met die kinders van God (hulle is geseënd en uitverkore in Christus, begenadig en gered deur die geloof alleen)* op ‘n baie kragtige manier in Efesiërs 4:17-24**  en moedig hulle aan om heeltemal te breek met hulle ou heidense leefstyl. 

HEIDENSE LEEFSTYL

Wat is hierdie heidense leefstyl? Dis belangrik om raak te sien, dis nie net die leefstyl van die Moslems, Hindoes of geverfde kannibale daar doer nie, dis die hele wêreldsisteem waarin ons leef en wat ons elke dag rondom ons sien. As mens na hierdie beskrywing kyk, kon jy net sowel dink Paulus was ‘n middag op die Internet en hy het so bietjie op Instagram en YouTube rondgekuier. 

Hoe lyk en klink die heidense leefstyl volgens Paulus?

“hulle gedagtes lei tot niks” Een van die hoofkenmerke van die heidense leefstyl is verdorwe sinnelose dwase denke. In die geroesemoes en lawaai van die goddelose wêreld met sy filosofie, idees en ideologie, sy hedonisme, materialisme, feminisme, liberalisme, ateïsme (noem maar op...) is daar geen blywende oplossings nie, geen ware rus en geen ewige heerlike bestemming nie. Dis ‘n ydele soeke na ‘n altyd ontwykende utopie, ‘n hersenskim van geluk wat nêrens te vinde is nie. Dis ‘n gejaag na ‘n haas wat nie eers bestaan nie. Soos ‘n hamster wat hom verbeel hy gaan iewers kom maar al die tyd op sy eie wieletjie in die rondte hardloop. Dis ‘n vretende verlange na die pot goud aan die punt van die reënboog, wat maar altyd net buite bereik bly. ‘n Tevergeefse vertroue op helde met wankelrige voete en ‘n swerm onkundige kiesers wat agter hulle aanstrompel... Die Obamas, Trumps, Macrons…maar nie een van hulle weet in watter rigting die Lewe te vind is nie! 

“verduisterde verstand...onkunde” Die heidendom verstaan niks van ‘n heilige lewe in gemeenskap met God nie, weet nie wat in die Woord staan nie. Die heiden verstaan nie waarvandaan hy kom, wat sy doel op die oomblik is en waarheen hy op pad is nie. Onkundig, maar ook verhard. Die heiden het immuun geraak teen God se waarskuwings. Veragters van sy liefde, verbitter teen sy gebooie en vertrappers van sy verlossingsgenade.

Die heidene het “afgestomp” geraak – vir my een van die duidelikste kenmerke van die samelewing. Ongevoelig, skaamteloos, onsensitief. Sonde is nie eers meer ‘n skande nie – dis die hoof sappige nuus op die voorblaaie : “ons bly saam, hoereer saam, lieg saam, steel saam en voel nie eers skaam of skuldig daaroor nie. Selfs as ons uitgevang word is daar geen hartgrondige berou nie, in plaas van belydenis en bekering gaan ons net vir ‘n bietjie terapie!” Dis die losbandige leefstyl van Hollywood en Harvey Weinstein** en sy kan wurms, waaroor almal nou “Oe!” en “A!”, maar dis waarvan mense eintlik regtig hou, want hulle betaal om hierdie vuil water dag vir dag uit hulle morsige TV skerms op te slurp. Inderdaad ‘n “onversadigbare drang” na “losbandigheid!”

Die boosheid gaan al verder, daar word steeds nuwe vorme van losbandigheid wellus en haat uitgedink. Daar kom telkens nuwe skandale van bedrog na vore… en dis nie net Zuma wat skuldig is nie!

Hierdie heidense leefstyl staan in skrille kontras met die waardes en voorbeeld van Jesus. (20) Die opdrag wat Paulus gee is kort en kragtig (en baie ongewild!). Hou op, breek met…

NUWE DENKE WORD BENODIG

Waar begin dit? Innerlik by ons gees en gedagtes. “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” (Romeine 12:1,2) Moenie meer dat Instagram, Hollywood en die Huisgenoot jou gedagtes en waardes bepaal nie! Moenie nabootsers word van die sepiehelde nie! Moenie gelykvormig word aan die grillerige glansganse van aan ons tyd nie. Gaan eerlik terug na God en sy Woord. Leef nuut volgens die lewe waartoe God julle geroep het. God se bedoeling is dat ons beelddraers van Hom moet wees. Ons weet God se beeld is in ons geskend. Dis verwronge en vuil. Ons weet nie eers hoe ons meer veronderstel was om te wees nie. Gelukkig kan ons weer weet hoe God se beeld in ons moet lyk. Jesus. Hy is die Beeld van die onsienlike God. Positief – om weer God se beeld te vertoon moet ons volgens die opdragte en voorbeeld van Jesus leef! En Hy maak dit moontlik deur die Heilige Gees wat in ons woon! 

GEEN PLEK VIR DIE HEIDENSE LEEFSTYL IN DIE NUWE JERUSALEM NIE

Hoe ernstig is Paulus met hierdie waarskuwing? Ons het mos ‘n manier om die Bybelse waarskuwings af te skud en te versag. “Ag, ou Paulus is ‘n asyngesig rabbynse Jood.” As ons egter in Openbaring 21 na die beskrywing van die Nuwe Jerusalem kyk besef ons hoe reg is Paulus. Die Nuwe Jerusalem is in Openbaring beide ‘n plek, maar dis ook mense. Dit staan in kontras met Babilon. Babilon word uitgebeeld as ‘n onrein prostituut en die Nuwe Jerusalem as die rein bruid. ‘n Groter kontras kan jy nie kry nie. Babilon is die plek van die onreines, maar die Nuwe Jerusalem (kliek) by uitstek die plek van die reines. Hulle word verlig deur die heerlikheid van God en die Lam is hulle lamp. (23) Die onreines se eindbestemming is die poel van vuur. “Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood." (8) Hulle mag nie in die Nuwe Jerusalem kom nie. “Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan.” (27) Daar is geen plek vir die heidense leefstyl in die Nuwe Jerusalem nie! Dis verdoemend duidelik!

GENADE VIR DIE DORSTIGES!

Vreeslike woorde, maar wag, ook hier in Openbaring word die deur oopgehou vir die wat wil bekeer. Genade onbeskryflik groot! “Verder sê Hy vir my: "Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.” (Openbaring 21:6,7) “Die Gees en die bruid sê: "Kom!" En elkeen wat dit hoor, moet sê: "Kom!" En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openbaring 22:17)

Vir die wat die uitnodiging aanvaar is daar eendag plek in die Nuwe Jerusalem, maar nou ook reeds plek aan die Nagmaalstafel. Die Nagmaalstafel is nie die plek vir goeie mense nie, maar vir dorstiges m.a.w. diegene wat hulle nood en behoefte aan Jesus besef! En Jesus stel niemand teleur nie, want die bloed van Jesus reinig ons van alle sonde!***

*Sien Efesiërs 1:3-14, 2:8-10

**In die Naam van die Here doen ek ‘n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks,

hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard.

Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ‘n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen.

Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie.

Julle het tog van Hom gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is.

Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word.

Julle gees en gedagtes moet nuut word;

lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. (Efesiers 4:17-24)

***Natuurlik is Weinstein en dergelikes se optrede laakbaar, barbaars en afkeurenswaardig, maar al hierdie aktrises wat nou so kla is uiters naïef. Hulle onkunde is tiperend van die heidendom. Wat verwag hulle van ‘n bedryf wat losbandigheid, wellus en geweld as vermaak aanbied? ‘n Mens kan nie vuur in jou klere dra en dink jy gaan nooit brand nie!

**** 1 Johannes 1:7


Donderdag 11 Mei 2017

VUUR

-vertel ons so ontsettend baie van die Heilige Gees! 


[‘n Voorskou op ons Pinksterrreeks wat DV op 4 Junie sal begin]

Op Pinksterdag gaan die koms van die Heilige Gees gepaard met die teken van vuur! (Handelinge 2) Dis nie maar toevallig nie. Vuur bring die gedagte van God se heilige teenwoordigheid en reiniging na vore. Dink bietjie aan die tema van vuur in die Ou Testament.

Donderdag 11 Augustus 2016

“ONSKULDIGE PLESIER”

- DIE TAKTIEK VAN BILEAM



God se liefde vir sy kinders is oneindig groot. (Kliek op FEITE) Die bewys : Hy het ons losgekoop uit sondeslawerny met ’n baie hoë prys - die bloed van sy eie Seun, Jesus. Daarom weet dit : God se kinders is sy oogappels, uitverkorenes! Jy vra : “Regtig? Ek het nog soveel foute, ek val so maklik?” Ja, as jy alleenlik op Jesus Christus vertrou is jy ’n geliefde uitverkorene...! Juis daarom is ons ’n teiken van Satan - hy wil ons kwaad aandoen, laat struikel, vernietig. Al Satan se helse woede is gefokus op God se kinders. Omdat hy God haat, haat hy elke kind van God en soos ’n brullende leeu soek hy wie hy kan verslind. Satan bedreig God se kinders : Hy het dit in die Ou Testament gedoen en hy het dit in die tyd van die Nuwe Testament gedoen en hy doen dit nog steeds. Hy wil ons dislojaal maak teenoor God, hy wil ons verlei om God se liefde te vertrap en te minag!



Nou hoe gaan hy te werk? Tydens die Uittog uit Egipte het die Israeliete deur Moab getrek. In Numeri 22-24 lees mens die merkwaardige verhaal hoe die heidense Moabitiese koning Balak, ’n towenaar/waarsêer met die naam van Bileam gehuur het om God se volk Israel te vervloek! Hy wou ’n vloek ("spell") op hulle plaas! Niks anders nie as ’n aanslag van Satan teen God se volk! Maar wat gebeur toe? Lees maar self - Balak se plan misluk, want God dwing toe vir Bileam om Israel te seën in plaas van te vervloek! (In die proses het God selfs ‘n pratende donkie gebruik!) God is almagtig! God is sterker as die Satan en sy handlangers. 



Hierdie geskiedenis jubel dit uit : God is getrou en almagtig; Hy beskerm en bewaar sy mense!



~ God is getrou aan sy beloftes. Hy het beloof Hy sal hulle na die land Kanaän lei, en Hy hou sy beloftes! Hoekom? Numeri 23:19 -“ God is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie.”

~ God is almagtig- Hy beskerm sy volk teen bose magte! Dit word so pragtig gestel in Numeri 23:23 “Geen toordery rig iets uit teen Jakob nie, geen waarsêery iets teen Israel nie.” Dis presies wat die NT ook vir ons leer- Jesus sê vir sy skape wat na sy stem luister :”Niemand kan julle uit my hand ruk nie!” (Johannes 10:28) Dis ’n heerlike vertroosting. So dikwels leef party Christene in vrees vir geheime organisasies, Sataniste, vloeke en wie weet wat alles! Die groot gevaar is eerder dat ons aandag afgelei word deur allerhande grillerige stories van die werklike bedreiging. Wat is die werklike bedreiging wat ons elkeen bedreig?

VERLEIDING TOT KOMPROMIE

Jy sien Satan gee nie so maklik moed op nie. As sy vloeke  en towerspreuke nie werk nie, maak hy ’n ander plan. Wat is dit? Wat is die werklike gevaar vir die kind van God? Die werklike bedreiging is die taktiek van Bileam : Kompromie met sonde deur oënskynlik onskuldige pret en plesier! Bileam se vloeke kon niks teen Israel uitrig nie, maar op ’n ander manier het hy Israel geweldig skade berokken. Hoe? Hy het aan die Moabiete die raad gegee* om die Israeliete na hulle feeste te nooi. (Moses verwys hierna in Numeri 31:16 as hy verklaar : “en deur toedoen van Bileam was juis húlle (die Moabitiese vroue) die oorsaak dat die Israeliete by Peor ontrou was aan die Here en daar ‘n ramp oor die volk van die Here gekom het!” Vergelyk met Numeri 25:1-4**) En wat gebeur? Israel val daarvoor, hulle val in die strik van afgodery en seksuele sonde. Hulle sondig en God self rig toe verwoesting onder hulle aan. God bring ’n ramp oor die Israeliete en 24 000 sterf! (Numeri 25:9) 

Baie belangrik om dit raak te sien : Die Satan kon nie deur ’n bose towenaar skade aanrig nie, maar toe Israel kompromie maak met sonde, toe word God self hulle vyand en hulle word swaar gestraf! Let wel – God, nie die duiwel nie, maak sy volk dood!

VERMAAK EN FEESTE

Die grootste bedreiging vir God se kinders is nie vloeke nie, nie openlike vervolginge of geweld, dreigemente van Sataniste, geheime organisasies, hekse of towenaars nie, maar kompromie met sonde! Dis die taktiek van Bileam - subtiele kompromie. Hoe gebeur dit? Die wêreld nooi ons na hulle vermaak, feeste en karnavalle uit! Die wêreld dreig ons nie en sê julle mag nie Bybel lees of kerk toe gaan of bid nie. (So ’n taktiek sou nie werk nie) Nee, die wêreld nooi ons uit – “Kom deel in ons onskuldige pret! Ag, kom kyk maar na ons TV sepies waar wellus en losbandigheid en gierigheid verheerlik word, kom hou saam partytjie waar ons saam dronk kan word, kom deel in ons plesiertjies, kom JOOL en karnaval saam, dis mos vir ‘n goeie doel”- maar dis juis dan wanneer ons in dronkenskap, losbandigheid en allerhande ander sonde verval. Ook Dawid het al die gevaar van die goddelose se feeste ingesien : “Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge, dat ek nie in sonde verval saam met manne wat onreg doen nie, en dat ek nie deelneem aan hulle feeste nie.” (Psalm 141:4) 

Hierdie taktiek, die taktiek van Bileam naamlik kompromie met losbandigheid was ook in die Nuwe Testament ’n bedreiging. Die gemeente van Pergamum word hieroor voor stok gekry in Openbaring. “Maar Ek het ‘n paar dinge teen julle. Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang. Hy het vir Balak geleer om die volk Israel van My afvallig te maak, sodat hulle afgodsoffervleis geëet en onsedelikheid bedrywe het.” Sien Openbaring 2:14 (Hier kry ons dus ‘n duidelike verwysing na die tragiese gebeure in Numeri) Destyds kon die bywoning van heidense feeste baie maklik lei tot kompromie met onsedelikheid en afgodery. Daar was byvoorbeeld aan die begin van die Lente ’n drie dae lange Dionisiusfees wat met ’n hewige gedrinkery en onsedelikheid gepaardgegaan het! Klink bekend!?

God duld nie kompromie met sonde nie. Daarom waarsku Hy die gemeente van Pergamum om hulle te bekeer! As hulle hulle nie sou bekeer nie, sal Hy hulle self bestry met die swaard van sy mond! (Openbaring 2:16) Kan jy sien, net soos destyds tydens die woestyntog, word God sy eie mense se vyand as hulle kompromieë met sonde maak. 

Die taktiek van Bileam is vandag nog steeds die grootste bedreiging vir die kerk van Jesus. Die werklike gevaar vir die kind van God is nie Sataniste of kommuniste nie, nie die ANC, ISIS en Islam nie, nee dis kompromie met sonde. Hoekom? Kompromie met sonde bring God se oordele oor sy eie mense, sy eie kerk! (In ons dag het dit al so ver gegaan, sommige van hierdie feeste word deur die kerk self gereël. Kliek op ARRESTEER JESUS )

Wees dus waaksaam! Wees versigtig vir die feeste, flieks en karnavalle van die wêreld. Moenie naïef wees nie! Waak en bid! Vlug weg van alle kwaad (2 Timoteus 2:22) en dien die Here met ’n heilige lewenswandel saam met ander kinders van God wat Hom ook in heiligheid dien. Dan het ons niks te vrees nie!

TROOS EN WAARSKUWING

Die geskiedenis van Bileam bring groot vertroosting, maar ook ’n dringende waarskuwing :

~ Vertroosting : Moenie beangs raak oor Satan nie - geweld van bose magte kan Satan nie God se kinders van hulle verlossing beroof nie!!

~ Waarskuwing : Moenie God uittart deur kompromie met sonde nie. Dit bring sy oordele oor ons. Wees versigtig vir die feeste van die wêreld! 

Kind van God vlug van alle sonde en glo dan die heerlike waarheid van Judas vers 24,25 wat sê :

Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen.”

NASKRIF : En terloops, moet asseblief nie so liggelowig wees nie, alle feeste en funksies wat met SKRIFLESING EN GEBED geopen word is nie noodwendig Christelik nie, gaan kyk maar wat gebeur by die biertent en die dans kort daarna...Kliek op BYGELOOF



* Du Rand, Die A-Z van Openbaring, p174

**NUMERI 25:1-4

“Terwyl Israel in Sittim was, het van die Israelitiese mans met Moabitiese vrouens gemeenskap gehad.

Dit het gebeur toe die mans deur die Moabitiese vrouens uitgenooi is na die offers ter ere van hulle gode. Die mans het aan die offermaaltye deelgeneem en die gode van die vrouens aanbid.

So het die Israeliete vir Baäl-Peor aangehang. Die toorn van die Here het teen Israel ontvlam en Hy het vir Moses gesê: "Vat hierdie manne se leiers en hang hulle in die openbaar voor die heiligdom op. Dan sal my toorn nie langer teen Israel woed nie."

Saterdag 02 April 2016

BLY OP DIE BRUG!

- Waardeer en respekteer die grootste geskenk van God.

Genade vir helverdiende sondaars! Dis God se grootste geskenk aan ons. Die hele Bybel is ‘n dramatiese verhaal van God se genade. Dit klink alreeds helder in die tuin van Eden as die Here God in liefde na die sondegevalle mens uitreik en roep: “Adam waar is jy?” Ons sien dit in die velklere wat God vir die mens gemaak het om hulle uit te help na hulle powere poging om hulle naaktheid met vyeblare te bedek. Ons sien dit as God vir Noag en sy familie spaar. Ons hoor dit duidelik as God die afgodsdienaar Abram roep en heerlike beloftes maak aan hom maak. Ons sien dit as God Moses stuur om die slawevolk Israel uit Egipte te lei...die bloed van die paaslam aan die deurkosyne...manna, kwartels, water uit die rots... Natuurlik sien ons dit die heel duidelikste as God die finale Verlosser Jesus Christus stuur om ons straf in ons plek volledig aan die kruis te dra sodat elkeen wat in Hom glo kwytgeskel kan wees van sondeskuld en die ewige lewe kan geniet. God se genade vernietig sonde, Satan, dood en hel!


Genade bring vergifnis. Genade bring herstel. Genade bring veral eer aan God want dit wys God se rykdom van genade en dat Hy daarvoor maar net ewig geprys kan word. Dis dus verstaanbaar dat die duiwel nie baie gelukkig is oor genade nie. Genade bevry ons uit sy greep van verslawing en skuldgevoelens en hy hou nie daarvan dat ons gelukkig is en God loof en prys nie. Daarom het die duiwel ‘n dubbele taktiek om te probeer keer dat ons die genadegeskenk waardeer en aanvaar. Anders gesê, die duiwel vertel twee groot leuens oor genade om ons van die volle genadeseën te probeer beroof:

1.Hy probeer ons wysmaak dat God se genade nie genoeg is nie. Hy wil dus hê dat ons genade moet geringskat. Hoe so? Dis die wese van die probleem wat Paulus in die Galasiese gemeente moes aanspreek. Daar was Judaïseerders wat die mense geleer het dat die genade wat ons deur geloof in Jesus ontvang nie genoeg is nie. Hulle het mense probeer wysmaak dat die genade deur sekere wetsvoorskrifte aangevul moes word. Hulle het vir die mense geleer dat hulle besny moet word en sekere Joodse feeste moes vier. Paulus het sy kommer in geen onduidelik taal hieroor uitgespreek nie. “Daar was ‘n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode. Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees? Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier. Ek vrees my harde werk aan julle was dalk tevergeefs.” (Gal 4:8-11) 

En daarom het Paulus vroeg reeds in die brief bevestig dat die genade wat ons kry deur in Jesus te glo heeltemal genoegsaam is, en dat om die genoegsaamheid daarvan te betwyfel eintlik op die verwerping van genade neerkom. “Ek verwerp nie die genade van God nie. As ‘n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.” (Gal 2:21) Soveel mense leef daagliks in vrees, twyfel of skuldgevoelens omdat hulle nie regtig glo dat Jesus se genade vir ons (my) genoeg is nie! Hulle sal sê, ja ek glo in Jesus, maar ek het seker nie genoeg gehuil oor my sondes nie, ek voel nie reg nie, ek twyfel want ek kry party reëls nie reg nie, ek wonder of ek God se kind is want ek het nog nooit in tale gepraat nie, ek is bang ek is nie gered nie, want sê nou maar die name wat ek vir God en Jesus gebruik is nie reg nie... O, en daardie een verskriklike sonde wat ek nie kan vergeet nie... Sulke mense moet duidelik hoor: 

God se genade deur Jesus is genoeg! Moenie iets (hoe vroom ook al) as aanvulling by God se genade gebruik nie.  Moenie twyfel dat God se genade die grootste sonde uitwis nie!

2.Maar daar is ook ‘n ander leuen wat die Satan ons vertel om ons van genade te probeer beroof. Dis weer die anderste uiterste. Hy wil ons laat glo dat genade beteken dat ons maar lustig en houtgerus kan aangaan met sonde. Dit kom neer op ‘n minagting en misbruik van genade. Hy wil ons laat verstaan dat die vryheid wat genade bring, ‘n vryheid is om ons sondige luste te laat seëvier. Paulus waarsku ook duidelik hierteen. “Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie. Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie....Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie." (Gal 5:13-16, 19-21) 

Moenie kanse vat met genade nie. Moenie God se genade misbruik as ‘n verskoning om lustig aan te hou met sondig nie. 

Hierdie misbruik van genade is so oud soos die kerk self en 'n ernstige dwaling, wat deur valse leraars gepropageer word. (Kliek op Judas 3-4) Dit gaan hier oor mense wat redeneer : “Ag, wat God is mos genadig, ag Jesus het mos vir sondes gesterf, laat ek maak soos ek wil!” As jy so redeneer is jy in vir ‘n aaklige verrassing. Jy staan onder God se oordeel. Nie omdat God se genade te klein of te beperk is nie, maar omdat jou houding wys dat jy nog nooit sy genade aanvaar het nie. Want die kind van God wat sy genade aanvaar het, besef sy genade het die bloed en lyding van Jesus gekos, dis kosbaar, daarom kan ek dit nie misbruik nie, en wanneer ek dit wel doen sal ek diep berou hê daaroor.

Neem kennis van die duiwel se dubbele aanval op God se genadeboodskap:
Hy gaan jou wysmaak dis nie genoeg nie, sodat jy genade sal geringskat en wanhopig en vol twyfel raak en self die genade probeer aanvul deur wettisisme. 
Of hy gaan jou probeer vertel dat genade beteken dat jy hoegenaamd nie meer oor sonde bekommerd hoef te wees nie (minagting van genade), dat jy rustig met jou ou lewe kan aangaan en dat heiligmaking iets onnodig is. 
Geringskatting van genade lei tot twyfel, hardvogtigheid en wettisisme. 
Misbruik of minagting van genade, skep 'n valse sekerheid en valse gerustheid loop uit op 'n onheilige lewe van losbandigheid. Beide benaderings is dodelik gevaarlik en bring God se oordeel oor ons. 

Genade is soos ‘n stewige brug wat na God lei. 
Dis inderdaad 'n baie sterk brug wat die "gewig" van die grootste sondaar veilig kan dra, al was hy ook skuldig aan lastering, moord, owerspel....



Aan weerskante van die brug (bo-aansig) is twee gevaarlike afgronde. Die een afgrond is die geringskatting van genade (wettisisme) die ander is minagting/misbruik van genade (losbandigheid).

Hoe bly ek op die brug? Aanvaar die genade van God as ‘n volkome genoegsaam, glo dat Jesus die volle boete vir jou sonde betaal het. Ja, ook daardie een sonde wat jou so teister en jou lewe geskend het. En leef dan ‘n dankbare lewe in gehoorsaamheid aan die Heilige Gees! Roei alles uit wat die Gees vir jou deur die Woord wys wat nie reg is nie! (Gal 5:16) Jy sal baie goed weet wat hoort nie meer in jou lewe nie. En as jy inderdaad weggedwaal of geval het, roep God se genade jou weer terug en tel jou weer op...

Kom ons juig oor die genade en dank God met liefde en gehoorsaamheid!


Vrydag 12 September 2014

“SAAMSLAAP” ONDER MY DAK?

- die ongemaklike dilemma vir Bybelgehoorsame Christene.

Wat moet ek doen as ‘n ongetroude paartjie as gaste in ons huis oorbly en ‘n kamer wil deel? Dit kan goeie vriende, familie of selfs my eie kind wees... Hoe moet ek getrou bly aan my gewete voor God, my getuienis handhaaf, maar ook nog ‘n boodskap van liefde oordra?

GROOT VERVAL 

Die morele verval en die minagting van God se bevele oor reinheid en huwelik het so algemeen geword dat die meeste mense nie eers meer ‘n oog knip as ongetroudes soos getroudes saamleef nie. (Dis ‘n hartseer en skokkende werklikheid ook hier in die gemeenskap waar ons woon.) Natuurlik is dit nie ons plig om mense buite die kerk te “polisieer” en op te pas nie. Dit het Paulus tog baie duidelik gemaak in 1 Korintiërs 5. Wanneer onrein verhoudings binne die gemeente opset plaasvind, mag ons egter nie ons oë daarvoor sluit nie en kom die kwessie van onderlinge vermaning, opsig en tug ter sprake. (hierdie belangrike saak is egter nie nou onder bespreking nie) Die probleem kom egter by ons voordeur aanklop wanneer (ongetroude) goeie vriende of familie in ons huis kom oorbly en dit as vanselfsprekend aanvaar om soos getroudes ‘n kamer te deel. (Miskien is hulle mense wat selfs beweer om Christene te wees...) Moet ons dit weier en die gevaar loop om ‘n kosbare vriendskap te versteur? Moet ons dit maar stilswyend toelaat, ons hande in onskuld was en saamkuier asof niks verkeerd is nie? Dan is die vraag of ons nie ons getuienis van ‘n nuwe moraal in Jesus en die krag van die evangelie om van sonde te bevry in die gedrang bring nie? As hulle sê hulle is ook Christene (en hulself dus so gruwelik mislei) gaan ons nie die misleiding versterk deur als maar net so te aanvaar nie? Dit help tog nie ons knik ons koppe in instemming as ons Sondag ‘n preek oor heiligheid hoor, maar sodra ons by die huis is, laat ons maar goedsmoeds toe dat die Bybelse eis vir seksuele reinheid ooglopend vertrap word nie!

Die Woord van God is baie uitgesproke oor die erns van enige vorm van onsedelikheid.

“Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid.Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe;julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie.Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys.God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe.Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ‘n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het." 
(1 Tessalonisense 4:3-8)

Enige onsedelikheid kom neer op ‘n verwerping van God self!

So hoe moet ek as Christen optree in so ‘n netelige situasie? My siening is dat ons nie mag stilbly nie, maar in liefde die saak openhartig moet aanroer met die betrokke gaste.

Waarom nie stilbly en maar verduur nie?



  • Ons het ‘n Bybelse opdrag om goddeloses te waarsku, anders sal hulle bloed eendag van ons geëis word. God gaan van ons rekenskap eis! (Esegiël 3:18) Wie van ons sal in die finale oordeel verwyte van verlore familie en vriende wil hoor : “Kyk, waar is ons nou, hoekom het julle ons nie gewaarsku oor die toorn van God oor sonde nie?” 
  • Deur maar net niks te sê nie, gee ons stilswyende goedkeuring aan sonde. As ons as Christene nie eers die moed van ons oortuiging het om op te staan vir God se standaarde vir die huwelik nie, nou wel, van wie anders kan ons dit verwag? 
  • Deur stil te bly oor iets wat mense dikwels weet verkeerd is volgens God se Woord, gee ons ‘n boodskap deur dat die goedkeuring van mense belangriker vir ons is as die goedkeuring van God. 
  • As daar jonger kinders in my huis is, kry hulle so van kleins af die boodskap dat verkeerd nie meer regtig verkeerd is nie. Dan sal ek hulle later ook nie oor sodanige sake kan aanspreek nie. 
  • God bring situasies oor ons pad as ‘n geleentheid tot getuienis. Ons mag nie sulke geleenthede verspeel nie. Enige keer kan dalk die laaste keer wees! 
  • As mense sien dat ons ernstig is oor die Bybelse lering oor sonde, sal hulle wanneer die tyd ryp is ook ons boodskap oor die volheid en genoegsaamheid van VERGIFNIS geloofwaardig vind! As hulle agterkom ons is nie bereid om die waarheid oor sonde te vertel nie, hoekom sou hulle ons glo as ons die slag oor vergifnis praat? (Om verder te lees oor radikale en volkome vergifnis, kliek op TWEEDE KANS of BAIE LIEFDE)


MAAR DIS MOEILIK!

“Maar dis baie moeilik, gaan ons deur openlik te praat nie vir altyd ‘n vriendskapsverhouding bederf en juis sulke mense van die Here af wegdryf nie?” Inderdaad is sulke sake nie maklik nie. Daarom moet ons die “waarheid in liefde” praat*, juis ook in so ‘n komplekse situasie. Ons moet die waarheid, dat dit sonde is om voor die huwelik as man en vrou saam te leef duidelik stel, maar op so ‘n manier dat daar nie twyfel oor ons liefde vir die betrokke persone kan wees nie. As dit dan van my sal vra dat ek selfs my eie kamer moet afstaan (as daar nie genoeg spaarkamers is nie) en op die sitkamerbank moet gaan slaap, dan moet dit! (dis John Piper se baie praktiese raad) Met deernis moet ek dit maar reguit aan die paartjie stel : “Luister, ek besef dat julle dinge anders sien, maar as Christen wat aan die Here getrou wil wees, moet ek julle vriendelik vra om hier in my huis waarvoor ek verantwoordelik is, in aparte kamers te oornag. Ek wil nie graag in julle persoonlike lewens inmeng nie, maar ek moet God bo alles eer.”

En as mense (ook ons eie familie of gesinslede) dan vir ons kwaad word en die pad vat? Wel, as dit gebeur (en die kanse is seker redelik goed) is dit nie so snaaks nie. Dis eintlik deel van die vervolging wat ons in hierdie wêreld te wagte kan wees as ons getrou aan Jesus wil bly. Gehoorsaamheid aan Jesus gaan tweedrag tot gevolg hê, ook binne families en gesinne. Elke lojale dissipel moet nou nie juis verbaas wees as jy as verkrampte dweper, skynheilige of moeilikheidmaker uitgekryt word nie.

"Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is.Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is.""Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard.Ek het gekom om tweedrag te bring ‘tussen ‘n man en sy vader en tussen ‘n dogter en haar moeder, tussen ‘n skoondogter en haar skoonmoeder;ja, ‘n man se huismense sal sy vyande wees.’"Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie.” (Matteus 10:32-37)

Mag die Here sy kinders besondere wysheid en krag gee om soos ligte te skyn te midde van ‘n krom en verdraaide geslag! Mag ons ook die moed hê om te ly vir dit wat reg is!

Luister gerus self na die gebalanseerde wyse waarop John Piper hierdie komplekse saak aanspreek. Kliek op  OORBLY IN MY HUIS.


*Efesiërs 4:15




'n Huis verswelg deur die sand... sonde is nog gevaarliker!

Saterdag 10 November 2012

JUIG SAAM MET JUDAS

- God bewaar ons onbevlek en veilig  tot die voleinding!

(maak gerus oop by die brief van Judas)

Sal die kerk van Jesus bly voortbestaan? Kyk net die aanslag van Satan, van vals profete, die baie misleidings... Sal ek as kind van God veilig by my finale bestemming aankom? Kyk hoe sterk is die versoekings en teenstand… Hierdie kort briefie van Judas (nie Judas Iskariot nie, maar waarskynlik Judas die broer van Jesus) is ‘n goudmyn van troos en bemoediging, maar ook ‘n sterk vermaning en oproep tot aksie. Hierdie boodskap raak elke kind van God baie prakties. Kom ons blaai vinnig deur hierdie brief:

Judas  maak God se kinders attent op ‘n bedreiging. (3-4) Judas wou graag op die positiewe aspekte van die geloof konsentreer, maar daar is nou ‘n dringende saak wat hy eenvoudig op die tafel moet plaas. Dis die bedreiging van  valse lering wat die genade misbruik as ‘n dekmantel om losbandig te leef. Die redenasie van diesulkes is : “Ag, sonde is nie so erg nie, want God is vol genade en liefde. Ag, ons kan maar leef soos ons wil, want die Here sal mos maar verstaan.”  Ons kry dit in baie vorme : “niemand is mos volmaak nie, ons is mos maar net mense, ons voel wat ons doen is reg...” (Dis ‘n siekte van ons tyd. Dit wat mense subjektief “voel” is vir hulle baie belangriker as wat die Bybel objektief duidelik beveel.)

Judas beklemtoon die belofte van God se bewaring. Judas begin sy brief op ‘n baie ernstige donker swaar klank, maar  sluit sy brief af op ‘n heerlike triomfantelike noot in vers 24,25.

 “Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou…” 

Ons hoop lê in die almag van God!  Dis waaroor Judas juig! Ook ons mag bly wees oor God se bewaring!  Ten spyte van Judas se ernstige vermanings is hy positief hoopvol oor die kinders van God se ewige sekuriteit. Ons kry ‘n soortgelyke sekerheid by Paulus. (Filippense 1:6) Maar baie belangrik : God se beskerming van sy kinders is nie iets wat net onsigbaar gebeur nie, maar het ‘n praktiese menslike sy waarvan ons moet kennis neem.

Judas  herinner ons dat Goddelike bewaring ook ons gehoorsame betrokkenheid vereis. Die vaste belofte van God se almagtige bewaring van sy kinders is ‘n heerlike troos. Maar hoe gebeur dit in praktyk? Hoe bewaar God ons? Die brief in geheel gee die antwoord. God bewaar ons:

- deur ons  te waarsku. (5-7) Soos deur die vermanings van Judas en ander Nuwe Testamentiese briewe, o.a. Hebreërs. Judas gebruik drie voorbeelde in sy waarskuwing  om aan te dui dat God nie losbandigheid en dwaling sal duld nie. Die eerste voorbeeld is die volk Israel vir wie God uit Egipte verlos het. Al het God hulle verlos deur sy liefde het Hy nie gehuiwer om diegene wat daarna afvallig geword het nie, in die woestyn te laat sterf nie! Pasop om terug te val op ‘n genadewerk in die verre verlede, terwyl jy nou in sonde volhard!  ‘n Tweede voorbeeld is die van die gevalle engele. Ons moet ook onthou dat God die engele wat teen Hom in opstand gekom het, veroordeel het en in kettings gevange hou. Dit verwys moontlik na die “seuns van God” wat met die dogters van die mense gemeenskap gehad het in Genesis 6. Ons hoef nie vas te val in spekulasies  oor wat presies daar gebeur het nie. Die punt wat Judas wil maak is dat opstand en losbandigheid deur God gestraf word. Wees gewaarsku, as God engele nie gespaar het nie, moet julle nie dink dat julle kanse met God kan vat oor sonde nie! Derdens : God se onverbiddelike straf oor sonde in die welbekende oordele oor Sodom en Gemorra. Dit moet ons laat sidder! 

Ons mag nie met sonde speel nie. 
Ons durf nie God terg nie!

- deur ons op te roep tot die stryd vir die waarheid. (3) Geloof gaan nie hier oor ons aksie van geloof  nie, maar oor die inhoud van die boodskap wat ons moet glo.  Dis die basiese waarheid wat aan ons oorgelewer is en waarby ons moet bly.  Hierdie waarheid is “een maal oorgelewer”; dit dui op die finaliteit en onveranderlikheid daarvan.  Die Christelike boodskap is normatief en mag ook nie gewysig word nie. Die hoogtepunt van die openbaring is Jesus Christus, wat ons verlossing bewerk het deur sy sterwe aan die kruis en fisiese opstanding uit die dood. Ook op ‘n onderliggende etiese vlak staan God se boodskap vas. Jesus se lering oor die huwelik het nie verouder nie. God het nie 2000 gelede gesê, homoseksuele gedrag is verkeerd en nou sê Hy weer iets anders nie. Hy het nie toe gesê, “geen dronkaard sal in die Koninkryk van God ingaan nie”, maar dit nou weer gewysig nie. Die waarheid van die Bybelse boodskap  bots met die valse lering van die dwaalleraars wat sê dat ons maar lustig kan sondig, want God sal altyd genadig wees. Hierdie waarheid moet bewaar en gehandhaaf  word.  Judas sê : Stry vir die waarheid, neem standpunt in, moenie skaam wees nie, bewaar die suiwer boodskap van die Bybel. Ja, dit is die boodskap van God se genade en liefde, maar dis ook die boodskap van heiligheid en gehoorsaamheid. 

- deur groei in ons heilige geloof  en gebed, deur te fokus op die liefde van God en die barmhartigheid van Jesus. (20-21) Ons moet op ‘n positiewe manier ons beskerm teen die vals profete se aanslag. Vorder in heiligmaking, maak erns met die vrugte van ware geloof. Prakties sal dit beteken om ontslae te raak van slegte dinge, gewoontes en gesindhede in ons lewens en heerlike nuwe dinge, die vrugte van die Gees te vertoon. Maak erns met ware gebed, gebed wat deur die Heilige Gees bekragtig en gelei word. Fokus op die liefde van God. Bedink God se liefde, wees bewus daarvan, reageer daarop. Onthou ons het God lief omdat Hy ons eerste liefgehad het. Wie bewus bly van God se liefde kan nie maklik sommer sondig nie. Ons moet ook gedurig ons hoop en verwagting stel op Jesus se barmhartigheid. Hy sal ons nie in die steek laat nie, Hy gee aan ons die ewige lewe, sy sterwe en opstandig waarborg dit! Dit gaan hier oor aktiewe voortdurende toewyding aan God en sy Woord omdat Hy ons liefhet en genade aan ons bewys het deur Jesus.

- deur ons betrokkenheid bymekaar. (22-23) Ons moet wegbly van valse leraars, maar ons moet broers en susters help wat deur valse lering beïnvloed is. In ons betrokkenheid bymekaar moet ons sag en genadig optree teenoor mense wat twyfel. Ons moet die wat twyfel geduldig bemoedig en versterk en nie sommer net afskryf nie.  In hierdie konteks van Judas gaan dit moontlik oor die wat nog nie heeltemal deur die dwaalleraars meegevoer is nie, maar nog net begin wankel. Teenoor ander moet ons meer energiek en sterker optree : ruk hulle uit die vuur! Sommige se situasie vereis kragtige besliste optrede. Dis miskien die mense wat al heeltemal vasgevang is in dwalinge en losbandigheid.  As ons ander mense help moet ons dit met versigtigheid en oorleg doen. Moenie sommer net instorm in ‘n situasie nie, pasop jy kan self ook daarin val. Anders gesê : as jy ‘n drenkeling red, maak baie seker dat jyself nie verdrink nie. Pasop om nie by ander se sonde betrek te word nie! Haat elke vorm van sonde!

Wees bly en positief oor God se bewaring, maar maak erns met die opdragte in die Woord, want dis juis hoe Hy jou bewaar.