BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 01 Desember 2013

WATTER JESUS?

- onthou Jesus werk nie vir die United Nations nie!

Jesus se identiteit is in gedrang. Daar word baie oor Hom gepraat en gesing, maar WIE is Hy werklik? Vir party teoloë (wie se verderflike invloed op ons teologiese fakulteite ‘n bose merk gelaat het) was Hy bloot ‘n Mediterreense Jood wat sonder ‘n pa groot geword het.* Hulle maak ‘n radikale onderskeid tussen die historiese Jesus wat werklik geleef het en die verkondigde Jesus van wie ons in die evangelies lees. (Ten spyte van alle mooi verduidelikings kom dit daarop neer dat die evangelieskrywers onbetroubaar was en ‘n Jesus figuur opgemaak het volgens hulle teologiese sienings! Tog net snaaks dat enige mens iemand sou wou uitdink, wat vir jou net probleme en vervolging sou skep...) Nie almal se idees rondom Jesus is so vreemd nie, maar tog is daar ook baie ander onbybelse sienings oor Jesus in omloop, ook onder kerkmense. Baie hou van die naam Jesus, maar elkeen wil Hom inspan vir sy eie behoeftes.
Vir party is Hy ‘n politieke bevryder, vir ander is hy ‘n nasionalistiese Jesus wat aan óns volk se kant is en óns volk se belange moet bevorder. (Kliek op JESUS EN DIE SWAARD) Nog ander sien Hom as gelukbringer of motiveringspreker. Iemand wat ‘n sukses van my lewe kan maak of vir my ‘n goeie selfbeeld te kan gee. Dan is daar ook diegene wat Hom wil gebruik as polis teen siekte en ongelukke. Talryke “aanhangers” van Jesus beskou Hom as ‘n dienaar wat in diens van hulle grille en begeertes staan. Blatant gesê : “Jesus sal sorg dat ek ryk en belangrik word!” (Kliek op Prosperity Gospel) Kan ons weer vra : “Wie is Jesus dan nou regtig?” Gelukkig gee God se onfeilbare Woord ‘n duidelike en eenvoudige antwoord...



Matteus 1:21 is ‘n sleutelvers as dit oor die identiteit van Jesus gaan : “Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos." Hier in die mond van die engel word ‘n fundamentele uitspraak gemaak oor Jesus. Hy is die Verlosser van sonde. Dis sy wesentlike roeping en doel op aarde en dit word in sy Naam weerspieël! (Eenvoudig gestel is die Naam, Jesus eintlik maar die Griekse vorm van Josua. Jesus lei die volk in die nuwe beloofde land in!)



Twee begrippe staan sentraal : Sonde en Verlossing

SONDE. Sonder die begrip “sonde” het Jesus geen betekenis nie en maak sy lewe en sterwe geensins sin nie. As ek hoegenaamd wil verstaan wie Jesus is, moet ek die werklikheid en die aakligheid van sonde besef. Ook die gevolge van sonde vir mens en skepping... In ‘n kerk waar ons bang sou wees om sonde op die naam te noem en God se oordele daaroor uit te spel, is daar ook nie plek vir Jesus nie, want Hy is juis die Verlosser van sonde. Om dit plat te stel : 

As daar nie iets is soos sonde nie, as sonde nie hel-ernstig is nie, het Jesus ook geen werk om te doen nie! 

Ja, Jesus het baie goeie dinge gedoen en aan baie mense praktiese liefde bewys, maar sy groot doel is om sy volk van hulle SONDE te verlos! Dis wat Jesus uniek maak, dis wat Hom anders maak as ‘n agent van die United Nations wat bloot kos en komberse aan rampslagoffers uitdeel en slegs op tydelike gebied verligting kan bring. Jesus dring deur tot die kern en die worteloorsaak van die mens se ellende : ons sonde! Dis ons sonde wat ons skei van God en sy regverdige toorn oor ons bring! Die mens se eintlike probleem is nie sy gebrek aan geld, gesondheid of ‘n goeie selfbeeld nie, maar ons sondige rebelsheid teen God.

Jou regte probleem my vriend is nie jou moeilike eggenoot of jou “afgryslike” skoonfamilie of jou onbeskofte baas nie, maar die boosheid van jou eie hart!

En hiervoor het Jesus en net Jesus die antwoord!

VERLOSSING. Die verlossing van sonde wat Jesus bring, behels twee basiese aspekte. Dit behels bevryding van :

-Die skuld van sonde. Totale radikale vergifnis en vryspraak! Dit beteken dat die verlosde mens sonder skuld voor God kan staan soos iemand wat nog nooit gesondig het nie. Dis die troos van die Nuwe Verbond! “Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie." (Hebreërs 8:12) So word ons verlos van ons vrees vir Satan, dood, oordeel en hel.

-Die mag van sonde. Bevryding van sonde se slawerny greep! Hieroor praat Jesus in Johannes 8:35,36. “Jesus sê toe vir hulle: 'Dít verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is ‘n slaaf van die sonde. ‘n Slaaf bly nie vir altyd by ‘n huisgesin nie; ‘n seun bly vir altyd. Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.'” Ook Paulus praat hiervan as hy die Christene wys op ons verantwoordelikheid om deur die Heilige Gees, die werke van die vlees dood te maak! Dit beteken dat die verlosde mens nou in staat gestel word om nuut en anders te kan leef! Ja, ons worstel nog met sonde en kan val, maar die sonde heers nie meer oor ons nie! Ons vorder op die pad van heiligmaking! Ons het ‘n nuwe status in Jesus, maar word ook deur die inwonende Heilige Gees in staat gestel om al hoe meer daarvolgens te leef in praktyk!

BLY OOR DIE MENSWORDING

Dis die feit wat ons moet bly maak oor Kersfees**, of beter gestel, dis die feit wat ons moet opgewonde maak oor die menswording van God se Seun : Jesus is die Verlosser van sonde, ja alle soorte sonde en alle tipes sondaars. Die Woord is hieroor positief duidelik : “Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.” (1 Korintiërs 6:9-11)

Ja, Jesus kan alle soorte sondaars verlos – van eiesinnige self tevrede godsdienstiges soos Paulus tot verworpe moreel stukkende mense soos die saambly-vrou van Samaria by die put van Sigar. Van die onkundige leraar, Nikodemus wat moes hoor van die wedergeboorte tot die opperste skelm en materialis, Saggeus wat bevryding van sy geldsug moes ontvang! Trouens, dit juis in die verhaal van Saggeus waar Jesus hierdie Godbepaalde doel van Hom woordeliks self bevestig as Hy verklaar : “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is." (Lukas 19:10)

Nog ‘n nawoord. Wie is die “volk” van wie die engel praat? Sekerlik Israel***, maar dit word ook in die einste Matteus evangelie duidelik, dat hierdie “volk” uiteindelik nie net die volk Israel is nie, maar mense uit alle nasies wanneer Jesus na sy opstanding sy dissipels uitstuur na al die nasies! Dis ‘n taak waarby elkeen wat self verlossing van sonde beleef het, noodwendig betrokke moet wees...

Kan jy Hom al as jou VERLOSSER dank en eer? Vier dan fees...

*Met hierdie tipe snert is baie van ons teologiese studente al vergiftig en die tragiese gevolge word duidelik in die kerk gesien, waar daar nie meer bekering en vergifnis van sonde verkondig word nie. Hierdie ouens (die aanhangers van dwaalleraars soos Marcus Borg en Dominic Crossan of hulle Suid-Afrikaanse napraters soos Andries van Aarde, Sakkie Spangenberg en al hulle Gnostiese maatjies) kyk net horisontaal en humanisties na die werklikheid.


**Mag 'n Christen Kersfees vier gesien in die lig van die dag se heidense wortels? Kliek op KERSFEES


*** Vanuit Matteus se struktuur is dit duidelik dat hier onderliggend ‘n verwysing is na die Ballingskap waarin Israel beland het vanweë hulle sonde. Hy eindig sy geslagsregister in 1 vers 17 soos volg : "Altesaam was daar dus veertien geslagte van Abraham af tot by Dawid, veertien van Dawid af tot by die Babiloniese ballingskap en veertien van die Babiloniese ballingskap af tot by Christus." Die Ballingskap was die laaste groot historiese gebeurtenis voor Jesus se koms en Hy kom maak die Ballingskap (oorsaak en gevolge) ongedaan! Die oorsaak was sonde! Hy verlos ons wat ook nie-Jode is nie van ons vervreemding en verwydering (ballingskap) ver van God (en sy seëninge) af waarin ons as gevolg van ons sonde verkeer. NT Wright (bekende Nuwe Testamentiese geleerde skryf oor die geslagsregister van Jesus in Matteus : "In the genealogy, Jesus is the point toward which Israel's long covenant history has been leading, particularly its puzzling and tragic latter phase. Matthew agrees with his Jewish contemporaries that the exile was the last significant event before Jesus; when the angel says that Jesus will "save his people from their sins" (1:21), liberation from exile is in view. Jesus, David's true descendant, will fulfil the Abrahamic covenant by undoing the exile and all that it means."

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.