BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Goeie Vrydag. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Goeie Vrydag. Wys alle plasings

Woensdag 08 April 2020

IS JY VEILIG?


- ‘n kort Paasoordenking. 


Is jy veilig? Ek bedoel nie veilig teen ‘n virus, siekte, diefstal of finansiële skade nie… Ek wil weet of jy veilig is teen die oordele, wraak en toorn van God? Miskien dink jy dis dalk ‘n onsensitiewe of onverantwoordelike vraag. Jy wonder : “Moet mens dan nou bang wees vir God? Is God dan ook ‘n God van wraak?” 

Kom ek probeer verduidelik… Laat jou gedagtes teruggaan na Egipte, Moses, die tien plae… God het Egipte gestraf met die plae juis om die vryheid van sy volk te bewerk. Om die magteloosheid van die Egiptiese gode aan te toon. Die tiende plaag sou die vreeslikste wees… God sou elke huis in Egipte met die dood tref, sonder uitsondering… Maar God voorsien ook uitkoms, ‘n reddingsplan vir sy volk. Elke huis moes ‘n jaaroud ramlammetjie slag en die bloed aan die deurkosyne smeer. 

“Die bloed aan die huise waarin julle is, sal ‘n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek Egipte gaan tref, sal julle nie tref nie.” (Eksodus 12:13) 

Die saak was baie duidelik en eenvoudig, die paaslam sterf in die plek van die eersgeborene. Die paaslam se lewe word geneem sodat iemand anders kan bly leef! God se wraak gaan verby as Hy die bloed van die lam sien. 

Veiligheid het afgehang van een saak – DIE BLOED VAN DIE LAM aan die deur. Veiligheid is verseker deur GEHOORSAAMHEID aan GOD SE REDDINGSPLAN! 

God se oordele gaan hierdie wereld tref! 

Trouens, dis reeds in ‘n sin besig om te gebeur aardbewings, rampe, oorloë, pandemies... Die feit van God se heilige wraak is ook ‘n waarheid van die Nuwe Testament – God is toornig op die sondige wêreld. “God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.” (Romeine 1:18) God is kwaad oor alle miskenning van sy eer, goddeloosheid, skending van die huwelik (egbreuk en saamblyery), bandeloosheid, onreg, bedrog... 

Die huidige ellendes, oorloë, peste en pandemies is maar net ‘n klein voorsmakie van die finale oordeel en ewige straf.


Maar God het weereens in sy liefde en genade ‘n plan aangekondig om ons van hierdie oordeel te vrywaar. Om ons te bewaar en ons te red. 

God se reddingsplan is weer bloed. Die bloed van die volmaakte PAASLAM , Jesus Christus. 

Dit was immers nie toevallig dat Jesus tydens die Joodse Pasga (wat die gebeure van lank tevore in Egipte herdenk het) gekruisig is nie. Terwyl duisende Paaslammers geslag word, vloei die bloed van die volmaakte Paaslam, ons Verlosser Jesus Christus. Net die bloed van Jesus beveilig ons teen God se oordele! 

Jesus ondergaan die doodstraf in my plek. 


Jesus sterf sodat ek vir ewig veilig kan wees! “Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God” (Efesiërs 1:7) 

Hierdie boodskap moet persoonlik aanvaar en geglo word, anders gaan die oordeel van God jou tref! Blote lidmaatskap van een of ander kerk is nie goed genoeg nie. 

Het jy al persoonlik jou vertroue op die gekruisigde en opgestane Jesus geplaas of maak jy dalk jou eie planne om die oordeel van God te probeer ontvlug? 

Niks anders kan ons beveilig teen God se regverdige wraak nie... nie ons ordentlike lewe, Bybelkennis, goeie voornemens, vriendelikheid of godsdienstigheid nie... net die kosbare bloed van ons volmaakte Paaslam! Net Jesus red ons van die komende oordeel. So skryf Paulus aan God se kinders in Tessalonika :“Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom.” (1 Tess 1:9,10) 

Die grootste gevaar op hierdie oomblik is nie ‘n siekte, geldnood of ander ellendes nie, maar God se regverdige oordeel! Maar die mensdom besef dit nie...

Ek vra weer : Is jy veilig? 

Is die bloed van die Lam al aan jou deur?

(En terloops, dit het niks te make met hierdie nuwe gier om huise en selfs klaskamers sogenaamd “uit te salf nie”. Dit klink my baie na bygeloof. Daar is geen opdrag binne die Nuwe Verbond om so iets te doen nie. Ons word verlos deur die bloed van Jesus deur Hom te aanvaar as ons Verlosser, deur in Hom alleen te glo. Vgl. Johannes 1:12) 

As jou antwoord , “JA” is kom ons vier ons verlossing met die Nagmaal waardeur ons weer opnuut verseker word van die algenoegsaamheid van Jesus se kruisdood as ons redmiddel. Weens sy volmaakte offer en NET dit kan ek weet ek is VEILIG!

Om te luister kliek op PAASOORDENKING



Donderdag 29 Maart 2018

DIE GOEIE NUUS EN VOORREG VAN GOEIE VRYDAG

moet verstaan word binne die konteks van God se heiligheid! 



Wat ‘n aangrypende gebeurtenis vind ons hier in EKSODUS 24! Moses, Aäron, Nadab, Abihu en sewentig leiers bestyg die berg Sinaï en kom in die teenwoordigheid van God! Ja, hulle sien Hom en hulle het geëet en gedrink! As’t ware saam met die lewende God aan tafel. Natuurlik, dit was slegs moontlik nadat hulle met bloed besprinkel is! Drie groot sake vra ons aandag : 


1. God is angswekkend heilig en asemrowend heerlik! God is waarlik God. Heilig, hoog en verhewe. Dis ‘n kernboodskap in beide die Ou en Nuwe Testament. Ons as mense moet ons plek ken voor God en wegbly van alle arrogansie en hoogmoed. God gee hier die duidelike opdrag aan Moses : “As julle nog ver is, moet julle al voor My buig.” (1) God is nie ons speelmaatjie nie! Daar is geen plek vir die hedendaagse Amerikaansgedrewe familiariteit met God in die Skrif nie! Ons kan nie met ons onheiligheid en verwaandheid by Hom instorm en vir Hom hiet en gebied nie. Ons kan nie vir Hom beveel nie, Hy beveel ons! Hy alleen gee opdragte! Hy gee die gebooie waarvolgens Hy gedien moet word. God verwag gehoorsaamheid. Op God se bevel het Moses al die gebooie van die Here neergeskryf en dit aan die volk voorgelees. (4,7) Die hedendaagse rebelse en outonome mens wil mos self besluit wat reg en verkeerd is (selfs die definisie van wat ‘n huwelik is moet verander word....) - ons maak ‘n dodelik gevaarlike fout! God alleen mag besluit wat reg en verkeerd is en Hy alleen bepaal hoe Hy gedien moet word. God se heiligheid en heerlikheid word op verskeie maniere hier onderstreep. Sy heerlikheid word verberg deur ‘n wolk wat die berg omhul. Sy heiligheid lyk soos ‘n gloeiende vuur! (16,17) Vuur is meermale ‘n simbool van God se heiligheid in die Skrif. VUUR is verterend , gevaarlik, tog ook heerlik, suiwerend, helend! (Kliek op Brandende bos) Mag ons kennis neem : die ware God is ‘n angswekkend heilige God! 

2. God begeer gemeenskap en saamwees met sy mense. Dis wat so merkwaardig is : die groot heilig verhewe God verlang na gemeenskap met die klein sondige mens. Onbegryplik heerlik. God wil by sy mense wees en in ‘n verhouding met hulle staan. God het sy volk uit Egipte verlos en gelei met ‘n baie duidelike doel . Dit word duidelik uitspel dit in Eksodus 19:4-6. “‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel." Hy het hulle op arendsvlerke gedra en na Homself gebring! Ja, om by Hom te wees! God soek reeds in die tuin van Eden toenadering tot die mens as Hy na Adam roep... God neem hier in Eksodus 24 ook die inisiatief en nooi uit : “Klim die berg op na My toe...” (1) God verlos vandag nog mense sodat ons in ‘n verhouding met Hom kan staan. Dis die uiteindelike doel waarop sy redding van sondaars afstuur. Dit word so mooi gestel in Openbaring 21:3 “Kyk, die woonplek van God is by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” 

WEET DIT, GOD WIL OOK IN ‘N INNIGE VERHOUDING MET JOU STAAN! 

3. God maak self voorsiening dat sondaar mense saam met Hom kan wees en sy heerlikheid kan aanskou. Die eerste twee feite wat ons raaklees in hierdie gedeelte veroorsaak ‘n probleem. God is ontsagwekkend heilig, maar Hy wil in ‘n verhouding staan met mense. Die probleem is - hierdie mense is sondige mense! Dis die groot dilemma wat die Bybel vir ons stel, maar gelukkig ook self antwoord en oplos : Hoe kan sondaars in die heilige teenwoordigheid van God kom sonder om verteer te word en te sterf? Hoe vind ons genade by God? Die antwoord kom baie duidelik uit hierdie gedeelte (die antwoord is natuurlik die evangelie opsigself) : God maak in sy verbond voorsiening dat die sondes deur offers versoen kon word. Die verbond word deur bloed bevestig. Hierdie bloed is toe op die volk gesprinkel. Na die besprinkeling kon Moses en sy metgeselle die berg uitklim na die teenwoordigheid van God. 

Ons vind hier ‘n asemrowende en uitsonderlike opwindende gebeurtenis - ‘n verbysterende hoogtepunt.“Hulle het die God van Israel gesien ; onder sy voete was ‘n plaveisel van saffiersteen, so blou soos die hemel self. God het geen hand teen die leiers van Israel gelig nie : hulle het geëet en gedrink.” (10,11) 

Mense sien God! Hulle beleef God se teenwoordigheid op ‘n besondere manier. Die heerlikheid van God is natuurlik te groot vir ‘n sterfling om te verstaan en te beskryf - daarom word net gemeld van die plaveisel onder sy voete wat blou siersteen was. Baie belangrik : hierdie manne eet en drink in God se teenwoordigheid. Om saam met iemand te eet het besondere betekenis. Dis ‘n veelseggende teken van aanvaarding en opregte vriendskap en belangstelling! Dit word uitdruklik gemeld dat God geen hand teen hulle opgelig het nie! Hoekom is dit so buitengewoon en verdien dit spesiale vermelding? Dit beklemtoon net weer God se verterende heiligheid. Eintlik mag geen mens naby God kom sonder om te sterf nie, maar God laat hulle toe naby Hom kom op grond van sy groot genade, op grond van die bloed van die verbond waarmee hulle besprinkel is! 

Die bloed wat gevloei het tydens die sluiting van die Ou Verbond by Sinaï, was ‘n voorspel tot die kruisiging van Jesus, die Lam van God wie se bloed binne die konteks van die Nuwe Verbond volkome genoegsaam was vir al ons sondes en vir ons ewige toegang tot die heerlike teenwoordigheid van God bewerk het. 

Dis die boodskap van die heilige Nagmaal. Daar is net een manier hoe ons toegang kan kry tot die heilige God! Ons word gereinig deur die bloed van die Middelaar van die Nuwe Verbond, Jesus Christus. Dis evangelie! Die Goeie Nuus van Goeie Vrydag! Maar dit eis van ons dat ons Jesus se offer persoonlik gelowig moet aanvaar as genoegsaam vir my eie sondes. Dis die vereiste van Goeie Vrydag! Elkeen wat so gereinig is, deel ook in die voorreg van Goeie Vrydag naamlik ewige tafelgemeenskap met God. In Eksodus 24 is daar duidelike lyne wat deurloop na die Nagmaal. In die Nagmaal word die genoegsaamheid van Jesus se offer persoonlik, sigbaar en “proebaar” aan elkeen wat glo bevestig. “Dis vir julle!” In die Nagmaal beleef ons nou reeds tafelgemeenskap met die lewende Here as ‘n voorskou tot en ‘n voorsmaak van die ewige bruilofsmaaltyd van die Lam.

Geseënde Paasfees!!

Maak ook weer seker van die feite van die OPSTANDING wat die bevestiging is van die Goeie Nuus van Goeie Vrydag!

Woensdag 12 April 2017

OPGEWONDE OOR DIE OPSTANDING

- die vaste feit wat die verskil maak!


Goeie Vrydag is natuurlik glad nie deur die dissipels aanvanklik as “goed” beleef nie. Allesbehalwe! Probeer jouself indink in die situasie van die destydse dissipels. Hulle het Jesus gevolg en besef Hy is die Gestuurde, die Gesalfde van God, die Messias. Hulle het hulle hoop op Jesus gevestig. Hy gaan God se Koninkryk oprig, Hy gaan ’n einde bring aan al die ellende en verdrukking en ’n nuwe bedeling laat aanbreek. En hulle het inderdaad wonderlike dinge beleef... genesings, duiweluitdrywing, wonders en veral die boodskap van hoop dat die Koninkryk inderdaad nou naby gekom het... 

En toe? Toe sterf Jesus aan die kruis. Die gruwelikste en skandelikste marteldood denkbaar. Die dood van ’n veragte misdadiger. Hulle het Hom self daar sien hang. Hulle hoop was verpletter. Ontnugtering. Wanhoop. Hulle harte was leeg en vol niks. Vol vrees, ja. Daar was geen vooruitsig, geen toekoms meer oor nie. Ja, smart, vrees en skuldgevoelens was al wat hulle oorgehad het. (Hulle eie lafhartigheid het immers nog vars in die geheue gelê.) Petrus self is waarskynlik die meeste geteister deur skuldgevoelens. Die haan se gekraai weerklink nog vretend vars in sy ore... ’n Toestand van wanhoop! 

JESUS IS NIE MEER TUSSEN DIE DOOIES NIE! 

Maar nou kom daar ‘n dramatiese wending en ommeswaai op hierdie wonderlike Sondagmôre! Ons lees dit in Lukas 24:1-12. ‘n Heerlike en buite die bereik van alle woorde tipe verrassing! Die vroue kom by ‘n leë graf en hoor die soetste woorde ooit : “Waarom soek julle die Lewende by die dooies!?” Dis goeie nuus, maar die implikasie is ook ‘n stukkie verwyt. "Hoe kon julle twyfel, hoe kon julle moed verloor, hoe kon julle vrees? Hy het mos gesê Hy gaan opstaan!"  Die vroue vertel hierdie verhaal aan die dissipels wat dit eers as onsin afmaak. Petrus se hart word egter geroer en hy hardloop om self te gaan kyk. (Hy was nie ‘n man wat enige ding halfpad gedoen het nie.) Hy gaan ondersoek instel, sommer tot binne die graf! Ja, die graf is leeg en baie belangrik daar lê net doeke. (Dis natuurlik van groot betekenis, want dis ‘n bewys dat Jesus se liggaam nie gesteel is nie, want as jy ‘n lyk wou steel sal jy nie die doeke eers afhaal nie...) Daar kan net een verklaring wees...Jesus leef! Die boodskap van die vroue is waar. Later ontmoet Jesus persoonlik met Petrus. Ook die ander sien uiteindelik die lewende Jesus van aangesig tot aangesig. Vat aan Hom, praat met Hom en sien hoe Hy brood en vis eet voor hulle oë! (kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE) Jesus leef inderdaad! Sy lewe beteken ook vir Petrus en die ander nuwe lewe. Die opstanding open ‘n nuwe lewe van vergifnis, 'n nuwe gewaarborgde toekoms, vol blywende hoop!

Die opstanding het van ‘n tragiese Vrydag, Goeie Vrydag gemaak. 

Deur die aanskoue van die lewende Jesus is daar weer hoop in hulle harte gebore. Ja, hier was die bewys, die kruisdood was nie die einde nie, Jesus was voorwaar God se Gesalfde. Hier is die lewende onweerlegbare bewys dat al God se beloftes waar is!

OPSTANDING, WEDERGEBOORTE EN HOOP!

Jare later skryf Petrus ’n brief van hoop. Juis vir Christene in moeilike omstandighede, in ’n situasie van vervolging en swaarkry wat hulle maklik moedeloos sou kon maak. Deur sy brief bring hy vir hulle hoop. Meer korrek deur sy brief wys hy hulle op die hoop wat hulle reeds het. hierdie hoop is nie ’n vae mogge troffe hoop nie, maar ’n lewende werklike realistiese hoop. Hy herinner hulle, Christene is mense met hoop! Hoe so?

“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot 'n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode,...” (1 Petrus 1:3)

God self het vir ons hoop gegee deur die opstanding van Jesus Christus! Petrus loof God daarvoor. Die opstanding van Jesus het hoop gebring, want die opstanding beteken dat Jesus leef. Dis rede vir groot blydskap. Dis egter nie al gevolg van die opstanding nie. Jesus se opstanding beteken nie net dat Hy leef nie, maar ook dat ons wat aan Hom behoort leef! Hoe so? Wel, deur die opstanding het God ons weer nuut gebore laat word. God het deur die opstanding nuwe lewe aan Christus gegee, maar ook aan ons! Deur Jesus se triomf oor die dood het God ’n nuwe begin gemaak, maak God alles nuut, maar Hy begin by ons as mense. Terloops wedergeboorte (radikale nuutmaking) is iets wat die hele verdorwe skepping gaan raak en nie net die mens nie. Ons het die nuwe geboorte ontvang deur die opstanding van Jesus Christus. As ons normaalweg die term wedergeboorte gebruik dink ons gewoonlik aan die verandering wat God deur Sy Woord en Gees binne in ons bewerk. En dis reg! Petrus verwys self ook hierna in 1:23-25. Van die mens se kant gesien kry deel ons aan die nuwe lewe wanneer ons God se Woord, die Goeie Nuus van Jesus gelowig aanvaar via die Gees se werk. Hier word die wedergeboorte egter gebruik in verband met die opstanding van Jesus. Hier is die fokus op wat buite ons gebeur het. Toe Jesus opgestaan het, het Hy ons verlossing, ons nuutmaking bewerk en verseker! Omdat gelowiges in Christus is beteken dit dat toe Jesus opgewek is, ons ook opgewek is tot ’n nuwe lewe. 

MENSE VAN HOOP

God se mense is mense van hoop! ‘n Vaste onwankelbare hoop op die verlossing wat Hy deur Jesus Christus bewerk het. In ’n swartgallige wêreld vol ellende, sonde, siektes, onreg en Zuma’s -kan elkeen wat in Jesus glo sê : “Ek het hoop. ’n Vaste seker hoop wat God vir my gegee het.” 

Wat is die praktiese nut van Petrus se boodskap vir ons? Hy wil ons leer : Fokus op die vaste feit van die opstanding, juis ook in die tye wanneer jy so ellendig voel dat jy selfs sou kon begin wonder oor jou geloof en bedenkinge kry oor jou bekering. 

Bedink en herkou die feit van die opstanding!

Jesus se triomf oor sonde Satan, dood en hel aan die kruis is bevestig deur die wonder van die opstanding en daarom onaanvegbaar seker! Dis iets wat HY klaar gedoen het! Dit stimuleer juis weer geloof en dit motiveer ons juis weer tot bekering! Die fokus is dus nie hier op wat ek beleef en voel en ervaar nie, maar op die vaste feite van Jesus se werk. Dis die bron en versekering van ons hoop. Ja, deur die opstanding het ons vandag (wat ook al my omstandighede) weer opnuut HOOP! As jy miskien nou wanhopig en beangs voel moet jy dalk saam met die vroue weer hoor wat die engele vra: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies?” 

Geliefde kind van God, pasop dat jy nie dalk onbewustelik aan Jesus dink as ‘n dooie veraf historiese figuur van die gryse verlede nie. Jesus is NOU lewend! Hy leef inderdaad en daarom is daar hoop! Hy leef en hierdie feit maak die verskil!

Woensdag 23 Maart 2016

GOLGOTA IS GROTER AS GILBOA

- daarom is daar 'n oplossing vir sonde, skuld en mislukkings!



Gilboa en Golgota. Twee uitstaande berge van groot betekenis in die heilsgeskiedenis.

Elkeen is die toneel van ‘n aaklige dood van ‘n bekende persoon. Beide is konings wat sterf, beide sterf ‘n grusame en skandalige dood. Beide se dood het groot gevolge. Maar daar is ‘n groot en heerlike verskil. So ‘n heerlike verskil dat dit vandag in my en jou lewe ‘n verskil kan maak. Genadiglik hoef ons nie stil te staan by die neerlaag van Gilboa nie, maar kan ons aanbeweeg na die oorwinning van Golgota.

Kom ons kyk bietjie na wat op hierdie twee plekke gebeur het. Koning Saul pleeg in wanhoop en vrees selfmoord op Gilboa. Dit was die afgryslike uiteinde van ‘n lang pad van rebellie en ongehoorsaamheid. Ons ken mos die droewige verhaal...Hy het ‘n punt bereik waar God hom finaal verlaat het, soveel so dat hy in desperaatheid ‘n spiritiste medium moes gaan raadpleeg, die heks van Endor. Maar ook sy kon natuurlik nie help nie. Hy is deur God verwerp en in sy angs en vernedering kies hy die hartseer uitweg van selfmoord. Dit gaan egter oor meer as net Saul. Dis ook ‘n nederlaag, bespotting en vernedering van die volk Israel, want Saul was die gesalfde koning van God se volk. Skrikwekkende skade word aan die eer van God gedoen as Saul se kop afgesny word en in die land van die heidense Filistyne rondgestuur word.

NIE DIE EINDE VAN GOD SE BEMOEIENIS EN GENADE NIE...

God verlaat egter nie sy volk nie en sy planne kan nie omvergegooi word nie. God self gryp weer in om sy eer te herstel. Die nuwe gesalfde koning is Dawid. Dawid sou die Filistyne verslaan. Maar nou weet ons Dawid was ook nie ‘n volmaakte koning nie en hy het ook sy mislukkings gehad. God het egter ‘n verbond met Dawid gesluit en as uitvloeisel is Jesus die Seun van Dawid baie eeue later in Betlehem die stad van Dawid gebore. Hy word in Jerusalem verwelkom met Hosannas... “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!” (Matteus 21:9) Maar Hy sterf uiteindelik op Golgota. (Lees gerus Johannes 19:17-22;28-30) Dit lyk soos ‘n nog mislukking, die grootste mislukking ooit, maar ons weet op Golgota het Hy sonde, Satan, dood en hel oorwin. Golgota was nie ‘n ramp nie, Golgota was die plek waar Jesus die werk wat Sy Vader hom gegee het afgehandel het. Anders gestel, op Golgota het God afgereken met sonde, skuld en skande! Daarom kan Jesus te midde van sy doodsworsteling triomfantelik uitroep : “Dis volbring” Hier is die volle sonde boete betaal, ons volle sondeskuld is uitgewis. Daar is dus ‘n reuse verskil tussen Gilboa en Golgota.

'N REUSE EN HEERLIKE VERSKIL

Gilboa spel wanhoop en nederlaag. Golgota bring hoop en oorwinning.

Gilboa is ‘n skande, maar Golgota is ‘n triomf.

Gilboa is die konsekwensie van die heerskappy van sondemag en skuld, Golgota bring ‘n einde aan die heerskappy van sondemag en skuld.

Op Gilboa sterf Saul sonder God, op Golgota sterf Jesus in ons plek sodat ons nooit weer sonder God hoef te wees nie.

Op Gilboa tref God se vloek vir Saul, op Golgota tref God se vloek ook vir Jesus, maar juis sodat ons kan deel kry in God se seëninge!

Op Gilboa sterf Saul as ‘n verworpene deur God weens sy eie aanhoudende sonde en opstand teen God. Op Golgota sterf Jesus ook as verworpene, maar Hy sterf vir óns sonde, Hy vat óns straf. Jesus sterf nie in opstand teen God nie, maar juis as die een wat volmaak gehoorsaam is aan God.

Op Gilboa sien ons die dodelike mag en gevolge van sonde. Op Golgota aanskou ons die uitwissing van ons sondeskuld en straf.

Gilboa was tydelik goeie nuus vir die Filistyne (1 Sam 31:9), maar dit wat op Golgota gebeur het is blywende ewige Goeie Nuus, GOEIE VRYDAGNUUS vir elke sondaar wat in Jesus glo!

Ons kan juig : Golgota is groter as Gilboa!

Omdat Golgota groter is as Gilboa is daar hoop vir die grootste rebelse sondaar! Jesus sal jou nie wegwys as jy na Hom kom vir verlossing nie.

Omdat Golgota groter is as Gilboa is daar hoop vir die teruggevalle kind van God. (vir backsliders!) Kom in berou na Jesus en Hy sal jou terugvat en weer gebruik soos Petrus! (Kliek op PETRUS)

Omdat Golgota groter is as Gilboa is daar hoop vir jou wat voel dat jy misluk het in jou Christenskap, misluk het in jou huwelik of huisgesin. Jesus vergewe en herstel.

VASGEKEER IN 'N DOODLOOPSTRAAT?

Vriend, jou mislukkings, jou sondes, is dalk baie groot. Jy voel of jy by ‘n Gilboa van absolute wanhoop gekom het. Jy voel dalk soos Saul homselwers, vasgekeer in ‘n doodloopstraat van sondeskuld en skande. Dalk is daar ‘n baie spesifieke sonde of skande wat meedoënloos aan jou vreet, wat jou gewete verrinneweer... daardie een ding...wat jou so pla en teister dat jy dalk moontlik letterlik soos Saul op die rantjie van selfmoord rondsteier... 

Ja dis erg, baie erg, verskriklik erg, maar ek wil jou uitdaag en uitnooi: Kyk na Golgota, kyk wat daar gebeur het, kyk na die Seun van Dawid wat daar hang en hoor as hy uitroep : Dis volbring! Glo in Hom, hoop op Hom en vind volkome rus, vergifnis, vrede!  "Aanskou die Heiland, sien die kruis..."

MOENIE 'N ONGELOWIGE GEVANGENE BLY VAN DIE GEMORS VAN GILBOA NIE; BEWEEG VANDAG NOG GELOWIG AAN NA DIE GENADETRIOMF VAN GOLGOTA!

(Die essensie van hierdie preek het ek jare gelede by ds. Danie Steyn gehoor)

Donderdag 02 April 2015

GOEIE VRYDAG EN ‘N GOEIE GEWETE

Om God te dien en te bewonder, te geniet en te aanbid is die sin en doel van ons bestaan. Slegs as ek met hierdie doel besig is, vind ek vreugde en vervulling as mens. Om God te dien beteken nie net om kerk by te woon of te sing nie - dis ’n totale lewensbeskouing en lewenswyse! Dis : om alles wat ek doen vir die Here te doen, alles wat ek geniet uit dankbaarheid uit sy hand te ontvang. Hy is die Gewer van alle goeie gawes! Noem maar op!

ONRUSTIGE GEWETE

Ek kan God net dien, ek kan alles wat HY my gee net geniet as ek ’n skoon gewete het. As ek skuldig voel voor God of as ek bang voel kan ek Hom nie met vreugde dien nie. Solank my gewete my hinder, het ek geen vreugde en geen vrymoedigheid voor God nie. Dink aan ’n kind wat iets verkeerd gedoen het by die huis en weet daar wag ‘n pak slae, maar nou gaan speel hy eers ’n rugbywedstryd - sy gewete pla hom, vrees knaag aan hom en hy kan nie sy beste lewer nie, nog minder ten volle geniet wat hy doen. Ons probleem kom by die feit dat ek ’n heilige God dien, ’n alwetende God, ’n lewende God, maar dat ekself ten diepste onheilig en onrein is. Nou is daar onrus in ons harte, onrus wat ons hinder om God te dien, onrus wat ons onseker en bang maak vir die dood en oordeel.

Hoe kan my gewete tot rus kom, hoe kan ek vrede ervaar? 

Almal se gewetens pla hulle nie. Sommiges se gewetens is immers baie stukkend en oneffektief. As die Heilige Gees egter in iemand begin werk, is die eerste gevolg daarvan ‘n ontwaakte gewete! ‘n Gewete wat sensitief begin raak vir sonde en my skuld voor God en medemens. 

Die mens met ‘n ontwaakte gewete probeer gewoonlik baie planne maak om hierdie onrustige gewete stil te maak : Ek probeer my onrus net wegsteek, probeer dit vergeet, probeer die stil stemmetjie uitdoof deur allerhande aktiwiteite (selfs kerklike aktiwiteite!), ek probeer myself verbeter deur vroom pogings om godsdienstig te word, in desperaatheid kan ek my wend tot gedurige en nimmereindigende sondebelydenisse – maar ook dit kan nie volkome rus bring nie, want die vraag bly : het ek als bely, opreg genoeg bely?

Al ons pogings om self ’n plan vir ons sonde skande en skuldige gewete te maak is – mislukking. Dis soos Adam en Eva se vyeblare, totaal ondoeltreffend.

GOD SE OPLOSSING

Die Woord van God gee ons egter die antwoord. In Hebreërs 9:13,14 word hierdie saak direk aangespreek. “Want as die bloed van stiere en bokke en die as van 'n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees, hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.” Die bloed van Jesus reinig ons gewetens! Anders gesê, die offer, die sterwe van Jesus aan die kruis bring rus vir my gewete!

Hoe gebeur dit prakties? Daar is ‘n paar dinge nodig voordat die sterwe van Jesus persoonlik vir my gewetensrus kan bring. Ek moet:

1. besef – MY SONDE is die probleem - dis die rede vir my onrus en nie my opvoeding, my omgewing, of ander mense nie. Moenie versagtende woorde gebruik om sonde te beskryf nie. Noem dit wat God dit noem – nie ‘n paar foutjies nie, maar SONDE!

2. die feite en betekenis van Jesus se kruisdood ken. Wat het daar gebeur? Ek moet weet dis ’n stuk geskiedenis, dit het voor almal se oë gebeur. Die Seun van God is doodgemartel aan ’n kruis, onskuldig ter wille van my en as straf op my sondeskuld. Jesaja 53:5,6 beskryf die betekenis die duidelikste. “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.” Die straf wat Jesus gevat het bring rus. Ek weet nou, my sonde is erg ja, maar dis klaar gestraf en God sal nie eis dat dit weer gestraf word nie! Hierdie wete bring vrede en rus in my hart. “U versoenend sterwe is die ruspunt van my hart!”

3. oortuig wees van die genoegsaamheid van die kruisboete van Jesus. Jesus se straf was genoeg; ek hoef niks by te voeg nie. (Dink aan ‘n baie groot verkeersboete. Dit pla my, ek rol slapeloos rond in die nagte. Dan kom ‘n goeie welaf vriend en vat daardie kaartjie en gaan betaal dit. Hy bring vir my net die kwitansie... Dit bring rus in my gemoed, want ek weet my skuld is betaal!) Ten spyte van baie mislukkings, baie aaklige sondes, baie sondes met onherroeplike gevolge, baie verswarende omstandighede, kan ek seker weet Jesus se sterwe was genoegsame betaling. Dit was genoeg vir Petrus - wat vooraf gewaarsku is, genoeg vir Paulus – wat doelbewus Christene probeer uitroei het! Jesus het vir sondaars gesterf, werklike sondaars, ja ook vir Godslasteraars, huweliksopbrekers, plaasmoordenaars, verkragters, molesteerders, ja ook vir skynheilige godsdienstiges.... Dink mooi, kan daar ’n sonde wees wat swaarder weeg as die bloed van God se eie Seun? Kan daar ooit ‘n groter offer wees as die bloed van die onskuldige Lam van God?

4. in geloof aanvaar dit was ook vir my! Vervang die “óns” Jesaja 53:5,6 met jou eie naam en lees dit oor en oor! Wat verbind Jesus se offer aan my persoonlik? Die hele Skrif maak dit duidelik : Geloof - dis waar, dis waar vir my en daarom gaan ek die Here daarvoor dank!

Jesus se genoegsame sterwe, ja sy bloed bring rus vir my onstuimige en gekweste gewete. 

Eers dan kan ek God met vreugde dien – “in ruimte deur sy kruis voorsien” soos die pragtige Lied 396 dit stel. My gewete maak my benoud, skuldgevoelens druk my vas, maar die vaste feite van die kruis gee weer vir my ruimte. Ek kan God eers begin dien as ek die Gekruisigde omhels het. Alle diens aan God sonder die kruis as basis is nutteloos en verwerplik. Dis maar net eie geregtigheid! As die kruis jou nie motiveer om anders te lewe nie, help al jou heiligheid en goeie dade niks! 

Goeie Vrydag is die goeie boodskap van ‘n goeie gewete, vir elkeen wat glo!


Hierdie ou man van die San gemeenskap het kom luister na God se Woord...