BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Mensverering. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Mensverering. Wys alle plasings

Vrydag 06 Desember 2013

MANDELA IS NIE DIE MESSIAS NIE!

- maar net 'n mens wat ook eendag voor die Troon moet verskyn.

Nelson Rolihlahla Mandela is dood! Die onafwendbare het toe gebeur. Die weg van alle vlees… Die wêreld se mense (en veral ook opportunistiese Suid-Afrikaanse politici) vertrap en  verdring mekaar byna om plek te kry in die kore wat nou vir hom prysliedere wil sing. Geen wonder nie, want hy word nou al lankal deur miljoene mateloos bewonder en besing as die groot bevryder uit die slawerny van apartheid, die simbool van versoening, "Tata", die vader van die nasie... Bekend en bemind vir sy “Madiba Magic”. Gelukbringer van die Springbokke.* 'n Hedendaagse mesiasfiguur**... Die immergroen ikoon vir elke humanis. Sulke sienings skep al klaar ongemak vir die Christen, want vir ons is daar maar net Een Messias en ware Bevryder van sonde, Satan, dood en hel, ons enigste Verlosser, Jesus Christus! Net Een is ons oneindige bewondering waardig tot in alle ewigheid, die Lam wat geslag is en ons losgekoop het met sy bloed!


SPRINGBOKTRUI EN NOBELPRYS

Maar wie was Nelson Mandela?  Opinies oor hom wissel...

Donderdag 18 Julie 2013

VEROORDEEL TOT WURMKOS

- wanneer die vleiery verstil en Goddelike wraak ‘n werklikheid word.


Die openlike mensverering wat losgebars het sedert Mandela in die hospitaal opgeneem is, het die (dalk verskoonbare) grense van misplaaste heldeverering en belaglike bewondering oorskry. Ten minste by sommige Mandelavereerders loop dit die gevaar om te ontaard in lastering. (nie alle mense wat bewondering vir Mandela se rol in die geskiedenis koester maak hulle natuurlik aan sulke uiterstes skuldig nie, maar ek dink dat Christene van alle rasse en politieke oortuigings nou behoort op te staan en duidelik die mensverheerliking van die afgelope tyd moet veroordeel) Die onderstaande foto wat op die BBC se nuusblad verskyn het, laat alle illusies wat daar nog sou kon bestaan oor die neiging tot afgodery van die hedendaagse mens verdwyn.


(die afgryslike lastering spreek vanself!)

Dis natuurlik niks nuuts nie. Die mens wat die Skepper nie dank, ken en vereer nie, verval al te maklik in skepselverering. Dit wek die toorn van God en laat Hom die mens oorgee aan sy selfvernietigende bose gesindheid. (Romeine 1:18ev)

Die gebeure in Handelinge 12:20-24 gee vir ons ‘n verhelderende perspektief op die waansinnige dwaasheid van die buitensporige beheptheid met Mandela : 

"Die mense van Tirus en Sidon het hulle die woede van Herodes op die hals gehaal. Daarom het hulle saam ‘n afvaardiging na hom toe gestuur. Nadat hulle vir Blastus, die koning se kamerheer, op hulle hand gekry het, het hulle vrede gevra, omdat hulle land van die koning s’n afhanklik was vir lewensmiddele.
Op die vasgestelde dag het Herodes sy ampsklere aangetrek, op sy troon gaan sit en hulle toegespreek.
Die mense het toe geskreeu: "Dit is ‘n god wat praat, nie ‘n mens nie!"
Op daardie selfde oomblik het ‘n engel van die Here hom getref, omdat hy nie die eer aan God gegee het nie. Herodes is deur wurms verteer, en het gesterwe.

Maar die woord van God het verder versprei en veld gewen."

Bostaande stuk uit die Skrif herinner my kortliks dat:

~ die maak van menslike afgode niks nuuts is nie, maar van altyd af eie aan die verdorwe mens. Alle mense is hiertoe geneig, maar diegene wat gunste by ander soek val die maklikste in hierdie sentimentele en valse verering. Die vleiers van Tirus en Sidon was beslis nie bekend vir lojaliteit teenoor Herodes nie, maar ter wille van voedsel was hulle bereid om die regte heuning-om-die mond-smeer-liedjies te sing. 

~ om ‘n bepaalde persoon of selfs mense in die algemeen te vergoddelik gebeur makliker as wat mens dalk sou kon dink. Die afgelope tyd het ek besef dat die beskrywing in Openbaring van die dier (Antichris) wat deur mense aanbid sal word, glad nie snaaks en vergesog is nie. Ek sal nie verbaas wees, dat as Mandela wel weer uit die hospitaal sou kom, daar inderdaad mense sal wees wat hom aanbid nie. (sou hy sterf sal hy seker in elk geval ‘n belangrike rol as spesiale voorvadergees in baie mense se lewens speel) Die punt is net dat as die regte persoon na vore kom sal die goddelose massas soos vlieë agter die misreuk van sy sjarme, “verdraagsaamheid” en wonderwerke aanswerm. Die wêreld vol beskaafde en gekultiveerde mense sal die Antichris met oorgawe aanbid sonder om ‘n oomblik te twyfel. (Christene wat nie wil saamgaan met hierdie mensverering nie sal as dwarstrekkers en onverdraagsames uitgekryt word.)

~ God deel sy eer met niemand nie en sy wraak op die huidige (en soortgelyke) mensverering wat aan die orde van die dag is sal nie uitbly nie. Die feit van Goddelike toorn en vergelding is nie ‘n bangmaakstorie wat deur pretbederwers uitgedink is nie, maar onmiskenbar deel van God se selfopenbaring in Sy Woord. (Sien meer, kliek op GOD SKRIK NIE.)

~ die verblydende perspektief wat deur Lukas die skrywer uitgelig word is dat die Woord van God onstuitbaar voortgaan en die Koninkryk van God beslis sal aanbreek. In die eerste gedeelte van Handelinge 12 word ons uitvoerig vertel hoe die einste Herodes tevergeefs Petrus uit die weg probeer ruim en so die verspreiding van die Woord probeer kortwiek het. God verlos Petrus wonderbaarlik van die swaard, maar die hooghartige Herodes word wurmkos! Oor die gewaarborgde oorwinning van die Woord mag alle kinders van God bly wees. Laat die wêreld maar hulle lofprysinge sing, ons verbly ons oor die onstuitbare vooruitgang en verspreiding van die evangelieboodskap tot op die dag wanneer ons Koning in heerlikheid verskyn!

Die Christen hoef regtig nie Mandela dag te vier nie, ons vier elke week die Sondag ter herinnering aan ons Verlosser se opstanding en oorwinning oor die dood. Die kind van God hoef nie 67 minute van goeie dade uit te dink en te doen nie. Ons weet mos ons is uit genade gered, sodat ons ons hele lewe kan wy aan die goeie dade waarvoor God ons bestem het. (Efesiërs 2:8-10)

Ja, die mens se hart is gemaak vir, en ons het ‘n behoefte aan aanbidding (worship). Dis ons as kinders van God se heerlike voorreg om Hom wat waarlik mens, maar ook waarlik God is nou reeds te aanbid en te bewonder, maar ook uit te sien na daardie heerlike dag, die hemelse erediens (wat ewig sal aanhou):

"Toe het ek voor die troon wat omring was deur die vier lewende wesens, tussen die troon en die ouderlinge, ‘n Lam sien staan, die Een wat geslag was. Hy het sewe horings en sewe oë gehad. Die sewe oë is die sewe Geeste van God, wat oor die hele aarde uitgestuur is.
Hy het toe gegaan en die boek ontvang uit die regterhand van Hom wat op die troon sit.
Net toe die Lam die boek neem, het die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor Hom gekniel. Elkeen van hulle het ‘n siter gehad en ‘n goue bak vol wierook, die gebede van die gelowiges.
Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.
U het hulle ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer."
Toe het ek rondom die troon en die lewende wesens en die ouderlinge ‘n groot menigte engele gesien. Daar was duisende der duisende, ja, miljoene der miljoene. Ek het hulle hard hoor uitroep: "Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang."
Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: "Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid."
Die vier lewende wesens het gesê: "Amen!" En die ouderlinge het gekniel en God aanbid." (Openbaring 5:6-14)

Kniel jy saam?

Naskrif 1 : Dis duidelik, God werk deur Woord en Wurms. Hy gebruik genadeverkondiging en oordeel om sy koninkryksdoelwitte te bereik. Nou staan die Woord, die evangelie voorop en dis 'n geleentheid wat ons nie moet versmaai nie, maar eendag sal Hy defnitief ook geëer word deur die ongehoorsames weg te werp in die plek waar die wurms nooit sal sterf nie....

Naskrif 2

Ook die spotprentkunstenaar Zapiro word meegevoer deur die Mandela kultus... Nee, vriend, dis nie Mandela wat die bron van goeie werke is nie, maar Jesus Christus alleen...


Donderdag 27 Junie 2013

SOOS JESUS?

- Kok sing ook in die koor.

Volgens die dagblad BEELD het prof. Kobus Kok van Tukkies gesê daar is aspekte van Mandela se lewe wat hom herinner aan Jesus. Hy wys gelukkig darem gou daarop dat hy Jesus nie met Mandela wil gelykstel nie. Dankie prof., maar weet, net bloot om Jesus en Mandela (en ook sommer Ghandi en Martin Luther King)* se name in dieselfde asem te noem wil 'n Christen klaar laat gril! Mensverering bereik in hierdie dae skynbaar nuwe hoogtes...

Ek sou sê Jesus se lewe onderstreep juis dit wat met Mandela s'n fout gegaan het. 

Beide het hulleself in samelewings bevind waar hulle medevolksgenote marginalisering en onreg beleef het.  Maar hulle optrede binne in hierdie situasies was so verskillend en ver van mekaar verwyder soos die Ooste en die Weste! Jesus het nooit opstand of geweld teen die Romeinse onderdrukkers bepleit nie, Mandela was die aanstigter van geweld! Terloops, president Zuma het nou die dag opposisiepartye daarvan beskuldig dat hulle Mandela eensydig voorstel (as die versoenener?), maar die res van sy loopbaan ignoreer of verswyg. Ek dink Zuma is heeltemal reg op hierdie punt! So baie van die loftoeswaaiers het blykbaar heeltemal vergeet waarom Mandela deur 'n hof tronk toe gestuur is en is hardkoppig blind vir al die gruwels wat Umkhonto we Sizwe gepleeg het!

Jesus is onskuldig veroordeel, juis omdat Hy God se wil ten alle tye gedoen het. Dit kan geensins van Mandela gesê word nie!

Die grootste onderskeid tussen Jesus se aardse loopbaan en die van Mandela word egter sigbaar as dit gemeet word aan die norm van God se wil. Jesus het volmaak die wil van sy Vader eerste gestel en nêrens kom dit duideliker na vore as in sy worstelgebed in die tuin van Getsemane nie : "Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!" Het Mandela hom beywer vir God se wil of was hy dalk meer gedienstig aan die sekulêre humanisme en die ideale en inspirasie van sy rewolusionêre mentors soos Castro en kie? Die feite is daar vir elkeen om na te gaan...

Ek kom nie tot dieselfde konklusies as Kok nie!

*Die berig meld ook onder andere : Alle groot profete-leiers is gebore in omstandighede van krisis en wanhoop. Dit is wat van visioenêre leiers maak wat hulle is, sê Kok. Leiers soos Moses, Jesus, Gandhi, Martin Luther King en Mandela het almal ’n lang lydingspad geloop ter wille van ander.
Dís hoe profete werk. Profete is ikone, simbole, aantreklike voorbeelde van dít wat hulle in gedagte het.