BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Kerkorde Artikel 1. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Kerkorde Artikel 1. Wys alle plasings

Sondag 12 Oktober 2014

STIG ‘N NUWE KERK?

- wat staan ons te doen as die kerkleiding klaarblyklik die pad byster raak?

Dis geen geheim dat daar die afgelope dekades reuse woelinge en koersveranderings in kerklike geledere (en onder andere ook by name in die NG Kerk) was nie.

Oor kernleerstellings soos die liggaamlik historiese opstanding van Jesus, Skrifbeskouing, die bestaan van die duiwel, die kerk se hantering van homoseksualiteit en baie ander sake (soos die vrou in die lerende amp) is daar hewige debat gevoer en is daar in sommige gevalle Sinodale besluite geneem wat baie diep gelowige lidmate geskok laat wonder het of ons nog ‘n plek het in die kerk en of ons nog met ‘n goeie gewete lidmate kan bly van ‘n bepaalde denominasie. Inderdaad het duisende van die room van ons lidmate ander kerklike tuistes gevind of gemeentelose swerwers geword... Die voorstel rakende die verandering van Kerkorde Artikel 1* van die NG Kerk is nou weer so ‘n kwessie wat gemoedere gaande kan maak en weereens ‘n besinning oor lidmaatskap tot gevolg kan hê. Om dit prontuit te stel, daar is lidmate wat diep ongelukkig is met die koers waarin die kerkleiding klaarblyklik beweeg. Sommige oorweeg dit dalk weer om die pad te vat... “Wanneer is genoeg , genoeg en moet ons afskeid neem?”, word gevra.

AFSKEIDING EN AFSTIGTING?

Moet ons wegbreek en afstig as die kerkleiding ‘n koers inslaan wat volgens ons mening nie reg aan die Skrif en ons belydenis laat geskied nie? Ek dink dat daar (ten minste tans) goeie praktiese, historiese en teologiese redes is, waarom ons uiters, maar uiters versigtig moet wees om sommer ‘n kerkverband te verlaat en ons “eie” ding te doen.

Prakties : Afskeidings lei tot kerkversplintering en dikwels tot ‘n ongebreidelde individualisme wat uiteindelik ontaard in kerklosheid en chaos. Rondom ons is daar baie sigbare voorbeelde. As jy eers begin afstig en afstig word dit later ‘n eindelose proses van afstigting en kerkhoppery, want kort voor lank kom daar in die nuwe groep ook verskille na vore wat weer afstigting of afskeiding “regverdig”. Die gevolg is op die ou end klompies opregte, maar dikwels verdwaalde skape van die Here wat hulle eie koers inslaan en die prooi word van verwaarlosing en wrede wolwe. Los individue wat elkeen die Here op sy eie manier probeer dien, is nie die Nuwe Testamentiese siening van Christenskap nie!

Histories : Die geskiedenis bewys by herhaling dat afstigtings gewoonlik op die lange duur nie lei tot suiwerder kerkwees nie. (Dink maar aan Nederland!) En dis ook by ons die geval : hoeveel van diegene wat hulle spesifiek van die NGK afgeskei het se bedienings het in ’n doodloopstraat beland en nie juis tekens gelewer van God se seën en goedkeuring nie? Wat van die 16de eeuse reformasie sal mense vra, dit was tog ‘n radikale afskeiding van die Roomse kerk, of hoe? Die geskiedenis wys dat dit nie die reformatore soos Luther se aanvanklike idee was om af te skei nie. Hulle is uiteindelik gedwing om dit te doen. Om weg te loop is een ding, om weg gejaag te word is iets heel anders...

Teologies : Die verbondsvolk van God in die Ou Testament was dikwels (meestal) in ’n uiterste toestand van verval en het selfs polities geskeur na Salomo se regering. Tog word godsdienstige afskeiding of skeuring nêrens as ’n oplossing voorgehou nie. Dis ’n minderheid van die Verbondsvolk wat die ware God by tye gedien het, maar die sewe duisend wat nie die knie voor Baäl buig nie, kry nie die opdrag om eenkant hulle eie ding te gaan doen nie.

Die Nuwe Testament se herhaalde en ernstige waarskuwings om gereed te wees, om selfondersoek te doen, om in die geloof te bly en ook die oproep tot bekering byv. tot die gemeente van Laodicea, wys dat daar nie ’n is-gelyk-aan-teken tussen kerk en ewige burgers van die Koninkryk is nie. Almal in die kerk sal nooit ware volgelinge van Jesus wees nie. Die volmaakte kerk bestaan nie, selfs onder Jesus se binnekring van dissipels was daar ‘n Judas en ook die ander het by tye ernstig gedwaal. Die toestand van die kerk op aarde kan natuurlik wissel in gesondheid en waarheid, soos die briewe aan die sewe gemeentes in Openbaring duidelik aantoon. Dit blyk dat dit met party gemeentes heel goed gaan, terwyl sommige kerke (gemeentes) bloot nog net die naam het dat hulle leef. So was dit met die gemeente van Sardis. “Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood.” (Openbaring 3:1) Tog word selfs hulle nog steeds as gemeente van die Here vermaan en aangespreek en opgeroep tot bekering. Die getroue gelowiges in hierdie afvallige gemeentes kry nie in ’n enkele geval die raad om hulle af te skei nie! Nee, hulle moet optree teen verkeerde elemente en hulleself weer toewy in gehoorsaamheid en liefde vir die Here. Die kerk in Korinte word steeds as gemeente van Christus deur Paulus hanteer al was daar gruwelike voorbeelde van twis en seksuele losbandigheid... Kyk hoe spreek Paulus hierdie gemeente korporatief aan. “aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges,” (1 Kor 1:2 OAV) En ja, beslis, hy raas baie ernstig met hulle vorentoe in die brief, maar tog herinner hy hulle as gemeente daaraan dat Jesus Christus getrou is om hulle te laat vasstaan. (1 Kor 1:8,9)


Gelukkig is die deurslaggewende faktor nie kerkrade, ringe en sinodes nie, maar ons GETROUE HERE JESUS CHRISTUS!

WAT STAAN ONS TE DOEN?

As afstigting nie ‘n opsie is nie, wat dan wel?

Die selfstandigheid van elke gemeente bied bewegingsruimte en kan dien as ’n vertrekpunt vir reformasie. Ons moet tog waak om nie die beginsel van ecclesia completa te vergeet en kollegialisties oor die kerk te dink nie. Die plaaslike gemeente is volledig kerk en nie bloot ‘n tak van ’n instituut nie. Elke plaaslike kerk staan direk onder die regering van Christus deur middel van die Woord en onder leiding van die ampte. Elke plaaslike gemeente wat dit ernstig opneem, het die heerlike voorreg, ruimte (en verantwoordelikheid!) om toe te neem in insig van God se wil en gehoorsame gelykvormigheid aan Christus. Meerdere vergaderings (ringe en sinodes) is slegs meerdere vergaderings omdat meer kerke teenwoordig is en nie omdat hulle meerdere gesag het nie. ‘n Sinode, moet ons onthou is nie ‘n hiërargiese (pouslike) liggaam nie, maar eerder ‘n gebeurtenis! Een kerk (gemeente) het wel ’n getuienistaak ten opsigte van ander kerke (gemeentes) wat die pad byster geraak het, maar kan tog nie verantwoordelik gehou word vir hulle sondes nie. Waarop kom dit neer? Die plaaslike kerk onder leiding van die plaaslike kerkraad, moet na groter gehoorsaamheid aan die Skrif streef en voortdurende reformasie najaag. Ons eerste verantwoordelikheid is hier by onsself! Ek wil amper sê (sonder om die belangrikheid van 'n besluit rondom Artikel 1 te ontken) : "Wees dus asseblief minder bekommerd oor Belhar en meer bekommerd oor die geestelike toestand van ons eie jeug, sedelike norme, kerkbywoning en diensbaarheid!" As ons euwels soos onsedelikheid (saamwonery) en los dissipline (byvoorbeeld oor versuim van kerkbywoning) sommer goedsmoeds in eie geledere duld, hoe kan ons dan die groter kerkverband oor “sondes” aanspreek? Positief gestel, niks wat ‘n sinode sou kan besluit kan ons verhinder om getrou aan Jesus en Sy Woord voluit kerk te wees nie. Laat ons hiermee erns maak!

Kerkrade moet groter verantwoordelikheid vat in praktiese aangeleenthede soos die beroeping van leraars wat die Woord suiwer verkondig, ondersteuning aan Skrifgetroue bedienings en die bestuur van gemeentes in eerlike gehoorsaamheid aan die Woord. Vir hierdie tak moet kerkraadslede hulleself toerus (en laat toerus) sodat hulle kan standpunt inneem teen wat verkeerd is en kan bevorder dit wat reg is.

Lewer ‘n helder en blymoedige getuienis binne jou kerkverband sowel as na buite met die Skrif en belydenisskrifte as basis. ‘n Helder getuienis – laat ons duidelik sê waar ons verskil en dit deeglik vanuit die Woord en belydenis fundeer. Maar ook belangrik – ‘n blymoedige getuienis – sommige kampvegters vir die waarheid verval in ‘n oorkritiese, siniese dikbek gesindheid en kelder so hulle eie standpunte. Oor die waarheid kan en moet ons altyd bly wees. Daarom moet ons bereid wees om ons standpunte met beskaafdheid, vriendelikheid en innerlike vreugde aan almal te stel wat maar wil luister.

Soek groter kontak en eenheid met ander gemeentes wat opreg na Woordgehoorsaamheid streef. Pasop vir die “net ons is reg” sindroom. In elke kerkverband en daarbuite is baie gemeentes en gelowiges wat die Here getrou wil dien in hierdie tye van chaos. (Nooit sal ons ook oor elke "i" se dotjie en "t" se strepie presies dieselfde dink nie. En ons hoef ook nie...) Laat ons wat oor ons baisiese geloofsfondamente dit eens is, mekaar opsoek en die hande vat. Ons het mekaar nodig.

Laat ons ons verootmoedig in gebed en berou oor die gebroke toestand van ons eie gemeente en kerkverband en groter kerk as geheel. Die geestelike temperatuur in die 18de eeuse Engeland is nie deur wegbreekaksies, formele kerkdebatte en besluite verander nie, maar deur ‘n Godgewerkte herlewing! Ja, God het menslike instrumente in hierdie herlewing soos Whitefield en Wesley gebruik, maar dit was in die eerste plek ‘n bonatuurlike ingryping van God self! Hoe nodig het ons Hom nie! Wie ernstig is oor die welsyn van die kerk sal begin bid! God is nog steeds God en vir Hom is niks onmoontlik nie. Ons mag en hoef nie moed te verloor weens die uitsprake van diegene in leiersposisies nie; ons is ook nie afhanklik van sommige misleide akademici aan ons universiteite nie. God kan ’n magtige werk op voetsoolvlak doen as ons Hom entoesiasties gehoorsaam en die waarheid biddend verkondig. Die werk van  (kliek op) Hans Hauge (1771-1824) in Noorweë is ’n pragtige en besielende voorbeeld hiervan.

POSITIEWE HOOP

Solank die Woord binne die kerk gevind word (en onthou sowel die ou as die voorgestelde Kerkorde Artikel 1 begin met : “Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God.”) en ons hierdie Woord mag verkondig is daar hoop! Hierdie Woord is ons basis en vertrekpunt van reformasie.  Maar daar rus ook ’n nederige verpligting op elkeen wat hierdie Woord glo, om dit gehoorsaam uit te leef. Ons hoef nie vir iemand te wag nie - ek en jy kan mos deur die genade dit begin gehoorsaam... 


Die plek om te begin is my eie hart en daarnaas ook in ons eie gemeente. Die versoeking om die pad te vat is dalk soms groot. (Jy het dit dalk alreeds gedoen en ek het baie begrip daarvoor. Jy het dalk geen ander keuse nie, want jy moet Sondag na Sondag die gruwelikste dwaallering aanhoor – daar kan sekerlik situasies ontstaan, wanneer daar geen ander opsie is as om by ‘n ander gemeente of kerkverband in te skakel nie. Moet asseblief net nie die LONE RANGER OPSIE kies nie! ) Elkeen wat dit oorweeg moet egter eers eerlike selfondersoek doen of dit in die lig van die breë beginsels van die Skrif die regte ding is. Het God jou nie juis geplaas waar jy is, binne-in ‘n bepaalde gemeente, met die oog op ‘n tyd soos hierdie nie? Mag Hy jou duidelik deur Sy Gees en Woord lei!

Afskeiding kan maklik ‘n afgrond word...



*Huidige Artikel 1 

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls.


Voorgestelde Nuwe Artikel 1 

1. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. 

2.1 Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, word verwoord in die ekumeniese belydenisse, naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius; en die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls. 

2.2 Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ’n wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ’n belydenisskrif onderskryf nie. 

3. Die Kerk aanvaar dat haar roeping om haar geloof te bely, altyd geld en dat ’n uitbreiding van haar belydenisgrondslag sonder dwang geskied. 


[Die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb het op 12 Oktober 2014 met ‘n groot meerderheid , NEE gestem, teen die voorgestelde verandering van Kerkorde Artikel 1.]