BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Korrupsie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Korrupsie. Wys alle plasings

Dinsdag 07 Maart 2023

GOD SE BUITENGEWONE BRIEF VAN BEMOEDIGING (1)

- wat ek en jy nou baie nodig het!

Negatiwiteit, pessimisme en selfbejammering kom so maklik. Daar is so baie dinge wat ons sien, hoor en aan ons eie lyf voel, wat ons soms kan laat wonder, is alles nog die moeite werd? (Dink ESKOM, oorlog, grootskaalse armoede....)  Kyk al die korrupsie en onreg en onbevoegdheid…Is daar nog ‘n toekoms op hierdie aarde, maak dit nog sin om te werk, te gaan studeer,  loopbane te bou, kinders te hê, met vreugde te lewe? Is ons aardse lewe nog enigsins, hoegenaamd sinvol?  Weet julle ons is nie die eerste mense wat hierdie tipe vrae vra nie. Die profeet Jeremia het juis ‘n brief vir so ‘n groep mense geskryf. Die ballinge in Babel…(dis die Israelite wat uit hulle land ontvoer is en na die verre Babel gebring is) Dis ‘n brief vol verrassings en hoop!  Lees  gerus Jeremia 29:1-14

Kom ons kyk net kortliks na ‘n paar feite uit hierdie brief. (Dit gaan nie oor 'n volledige verklaring van die hele brief nie) Ons kry ook hier vaste altyd geldende beginsels wat vir ons insig en hoop kan bring. Vandag kyk na twee opvallende groot verrassings in hierdie brief:


Hier in vers 4 verwys God na Homself as die "Heerser oor alle magte" – Ons moet altyd onthou, God is in beheer van die geskiedenis. "Heerser oor alle magte." Dis nie die wêreldleiers, geheime organisasies, bose geeste of Satan self wat die finale sê het nie. Ook nie die sogenaamde noodlot nie. God het die laaste sê! Dit word baie treffend en verrassend hier gestel! Let op :  “aan al die ballinge wat EK uit Jerusalem na Babel in ballingskap weggevoer het.” Die ballingskap was ‘n groot en wrede tragedie. Mense is met geweld weggevoer na ‘n ver en vreemde land – weg van hulle geliefdes, weg van hulle besittings, in die verre eensaamheid – hulle toekoms en ideale het aan skerwe gelê. Ons weet die koning van Babel, Nebukadnesar het dit gedoen. Maar nou die opvallende – die Here sê : "Ek het dit gedoen." Wat gebeur hier? God is in beheer van die geskiedenis en Hy het Nebukadnesar gebruik om sy eie volk te straf, sodat hulle weer gehoorsaam kan word en na Hom sou terugkeer! God kan enige bose organisasie, mag of persoon gebruik om Sy doelwitte te bereik! Laat ons dit maar onthou as ons so maklik kla… Kyk verby die ellendes en sien God raak!


Lees weer vers 5-7 Wat sê God hier? "Bou huise, plant tuine, trou en vermeerder!" \met ander woorde - "Aanvaar julle situasie waarin Ek julle gebring het en maak die beste daarvan." Hoe maklik sou hierdie ballinge in die verre Babel kon verval in negatiwiteit en passiewe selfbejammering. 


God het geen simpatie met selfbejammering en niksdoen nie! 

Nee, Hy beveel hierdie volk om positief die lewe aan te pak met geesdrif! Wees entrepreneurs – werk met dit wat julle het! Bou julle huisgesinne en word meer! Lewer ‘n positiewe bydra tot die gemeenskap waarin julle julle bevind! Neem positief deel aan die aktiwiteite daar waar julle woon. En dis nog nie al nie – bid vir die plek waar julle woon. (Ja, hulle vyande) Onthou dis tot julle eie voordeel as dit goed gaan met die plek waar julle nou bly, al is dit julle vyande, al is dit die mense wat julle soveel leed en onreg aangedoen het. Kan ons sien, God het geen plek vir ‘n negatiewe, wraaksugtige, passiewe houding nie.



God se duidelike boodskap vir sy mense in nood is dus : "Wees positief en doen wat Ek sê en moenie julle ore uitleen vir die boodskap van die valse profete nie." (Ons sal volgende keer hierop ingaan, maar die valse profete het gesê die ballingskap sal gou verby wees. Hulle was verkeerd, die ballingskap sou lank duur en daarom moes die ballinge positief besig wees en betrokke wees by hulle omgewing)

Hoe raak hierdie positiewe boodskap ons as volgelinge van Jesus?  Die Nuwe Testamentiese parallel is die 1 Petrus brief. Dis geskryf aan die vreemdelinge in die diaspora (verstrooiing), God se kinders wat as vreemdelinge dwarsoor die wêreld leef. Ons as God se kinders is eintlik ook maar ballinge in ‘n vreemde land. Ons burgerskap is nie van hierdie wêreld nie. Ons pas nie in hierdie wêreld nie. Petrus lê baie klem daarop. (2:11)  



Ons gewoontes, leefstyl, visie, gedrag en selfs kleredrag… is anders (en behoort anders te wees)  as die goddelose wêreld rondom ons. En wat beveel Petrus dan aan vir God se kinders in so ‘n situasie? Gaan lees gerus  1 Petrus 2:12-17  Die kernboodskap is : "Wees goeie burgers, wat deur julle onkreukbare, voorbeeldige en eerlike leefstyl ander se respek sal afdwing en op so ‘n manier hulle ook daartoe sal beweeg om te erken dat God die ware God is!"

GEEN PLEK VIR NEGATIWITEIT NIE!

Pasop om te verval in ‘n negatiewe gemor – "Ag, die wêreld is so sleg, die regering is so korrup…ek gaan nou maar in ‘n hoekie sit, myself jammer kry en wag vir die dood of die wederkoms." NEE! Leef elke dag positief as kind van God. Gaan aan met jou daaglikse pligte en werk, bou positief aan huisgesinne wat God eer en bid vir alle mense!  Wees ‘n voorbidder! God plaas ons met ‘n doel in moeilike situasies en plekke, ons moet dit gebruik om positief gehoorsaamheid te leer. Ons ellendes is nie maar toevallig nie – God laat dit toe in ons lewens om sy doelwitte te bereik. Hou op kla en Benut jou huidige omstandighede positief om sinvol en heilig te leef tot God se eer! 

Die groot punt is : As jy aan Jesus behoort het jy altyd rede om positief voluit te leef maak nie saak waar of in watter omstandighede nie. God het vir jou ‘n positiewe getuienistaak daar waar jy is, terwyl jy op pad is en uitsien na jou finale tuiste!

LUISTER na hierdie boodskap op YouTube, kliek op BID, BOU EN TROU!

                                                                                                                                                                                            

Dinsdag 27 September 2022

ONREG EN KORRUPSIE

- sou God dit in sy diens tot sy eer kon gebruik?


God se opregte kinders ervaar dikwels onreg. Ons ly onder die gevolge van ander mense se sonde, blatante bedrog en skrikwekkende korrupsie. (Dink nou maar sommer aan die ellendes wat die ESKOM korrupsie veroorsaak!) Dan is daar natuurlik ook nog rampe en ongelukke wat ons diep kan raak. In sulke tye voel dit vir ons so maklik - "Ek kry onregverdiglik swaar!" Dit maak ons moedeloos, depressief en soms ook opstandig teen God. "Here, hoe kan U dit toelaat? Waar is U? Sien U nie die onreg raak nie? Here, het U van my vergeet?"

Ek wil jou herinner aan die veelbewoë geskiedenis van twee Bybelfigure. Josef in die Ou Tstament en Paulus in die Nuwe Testament. Dis nou twee persone wat met reg sou kon vra – “Here, waar is U, het U van my vergeet?”

JOSEF

Ons ken die geskiedenis van Josef. Hy was die dromer, hy was ook die witbroodjie van sy pa. Sy broers doen ‘n vreeslike sonde en verkoop hom as ‘n slaaf in Egipte. Onregverdig! Hy word aangestel in die huis van Potifar. Hy is ‘n getroue en betroubare slaaf. Hy doen als wat reg is. Potifar se vrou probeer hom verlei. Josef weier, want hy weet dis sonde teen God. Hy doen die regte ding. Maar wat gebeur? Potifar se vrou beskuldig hom valslik en hy word in die tronk gegooi. Onregverdig! Hy lê die bakker en skinker se drome reg uit. 'n Goeie daad aan sy naaste. Dit bring eer aan die ware God. Maar wat is die gevolg? Skynbaar niks. Die skinker vergeet van Josef en nog twee jaar moet Josef as onskuldige persoon sy lewe in ‘n Egiptiese tronk slyt. Onregverdig! Toe droom Farao ook en die res is geskiedenis… 

Josef word onderkoning van Egipte en red so ook die lewens van sy familie en dus die volk Israel. Hoe sien Josef sy eie geskiedenis? Na sy pa, Jakob se dood was die broers bekommerd dat Josef uiteindelik sou wraak neem, maar Josef stel hulle gerus. “Moenie bang wees nie, want is ek in God se plek? Julle het kwaad teen my beplan, maar God het dit vir iets goeds in gedagte gehad, met die doel om te doen wat vandag gebeur – om ‘n groot volk aan die lewe te hou.” (Genesis 50:19,20) Ja, Josef se broers doen sonde, Josef ly onreg as gevolg van hulle sonde, maar God het ‘n wonderlike plan daarmee gehad – om sy volk Israel te spaar! In al die tye wat Josef so onregverdig gely het, het God nie vir Josef vergeet nie, maar het God ‘n groter heerliker doel gehad. God was deurgaans met Josef, al het dit dalk nie so gelyk nie. (Genesis 39:2,23)

PAULUS

Ons ken ook die geskiedenis van Paulus. Hy was ‘n vyand van die evangelie, maar Jesus gryp in sy lewe in op pad na Damaskus. Die Here het toe vir Annanias na Paulus gestuur met die woorde : “Gaan, want Ek het hom uitgekies as instrument om my Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel. Ek sal boonop aan hom toon hoeveel hy ter wille van my Naam moet ly.” (Handelinge 9:15,16)  Let op - LYDING is deel van God se "wonderlike plan" met Paulus se lewe! En dis presies wat met Paulus se lewe gebeur het… dink aan die baie ontberings, gevangenskappe en martelings wat hy moes verduur. Uiteindelik het God dit so beskik dat hy tot in Rome voor die keiser moes gaan getuig. Maar hoe het dit gebeur? Hy is onskuldig gevang in Jerusalem. Na sy verhoor deur die Joodse raad het die Here Jesus self Paulus kom bemoedig.  Daardie nag het die Here by Paulus kom staan en gesê : "Hou moed! Want net soos jy in Jerusalem oor My getuig het, so moet jy ook in Rome getuig." (Handelinge 23:11) 

Dit was God se plan vir hom – getuienis in Rome! Toe volg daar een onregverdige verhoor na die ander… niemand kon hom skuldig bevind nie, maar hy word ook nie vrygelaat nie. Beide Feliks en Festus wou die Jode se guns soek en het Paulus onregmatig onder arres gehou. Daar was omkoopgeld betrokke! Onregverdig! Uiteindelik moes Paulus noodgedwonge appelleer na die keiser en Festus het dit toegestaan. 

Sien jy – God gebruik onreg en korrupsie om te sorg dat Paulus voor die keiser kon getuig! 

Maar dit was nog nie die einde van die storie nie – op pad na Rome beland die skip waarmee Paulus gereis het in ‘n woeste storm – dit lyk of die einde gaan kom. Wat gebeur? Die Here stuur 'n engel na Paulus om Hom te verseker dat God se plan dat hy in Rome moet getuig steeds op koers is!  Hy vertel die vreesbevange mense in die skio daarvan. Verlede nag het 'n engel van die God aan wie ek behoort en vir wie ek dien, by my kom staan en gesê, "Moenie bang wees nie, Paulus, jy moet nog voor die keiser verskyn. Kyk, God het in sy genade die behoud van almal wat saam met jou vaar, aan jou geskenk." (Handelinge 27:23-24!) Niks kan God se planne dwarsboom of keer nie! God se weë is onbegryplik vir ons, maar God weet wat Hy doen. Ek en jy kan Hom vertrou!

GOD SE VOORSIENIGHEID

Ons kan natuurlik baie leer uit God se werksaamheid in beide Josef en Paulus se lewens.

Ek wil net een groot saak uitlig – GOD SE VOORSIENIGHEID. Beide se lewens en ook spesifiek die onreg wat hulle gely het is ‘n illustrasie van God se voorsienigheid. Kyk hoe die NGB dit opsom Artikel 13 DIE VOORSIENIGHEID VAN GOD. (Sien hieronder ook die HK Sondag 10)*

Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie, maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie. Tog is God nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie, en dra Hy ook nie die skuld daarvoor nie. (Dis nie God se sonde wat maak dat Josef verkoop word as slaaf of dat Paulus onregverdig aangehou word nie, maar Hy gebruik dit!)

Sy mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense onregverdig. (Soos Josef se broers, soos Feliks en Festus...) Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry. Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per toeval oor ons kan kom nie maar alles deur die beskikking van ons hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop - hulle is almal getel - en ook nie een mossie op die aarde kan val nie. (Matt. 10:29-30). 

Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwel en ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie. Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van die Epikureërs, wat sê dat God Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die toeval oorlaat. 

DIE GROOTSTE ONREG

Beleef jy onreg? Moenie moed verloor of in opstand kom nie. Glo in God se voorsienigheid. Hy is met jou juis ook in daardie donker onverstaanbare tye. Hy sal sy doel met jou bereik! En dis altyd 'n saak van blydskap, al huil ons nou. Vertrou Hom. Dis hoe God werk. Van die heel grootste onreg het ons nog nie eers gepraat nie. En wat was dit? Jesus se kruisiging. Pilatus kon Jesus op geen regsgronde of bewyse skuldig bevind nie, maar lewer hom tog oor aan die Jode. Veroordeling van die enigste Onskuldige op aarde!  Korrupsie! Onreg! Maar juis deur Jesus se kruisiging het God finaal bewys dat Hy onreg in sy diens kan gebruik om die grootste en heerlikste triomf te behaal. Juis daarom het ons hoop en kan ons God blindelings vertrou!

* Heidelbergse Kategismus

Sondag 10 - VRAAG EN ANTWOORD: 27

Vraag: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?

Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God1 waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte,  vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom. 



Sondag:10 - VRAAG EN ANTWOORD: 28

Vraag: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?

Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader  kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.

Dinsdag 08 Junie 2021

VERGEET DEUR DIE KERK

  - JA, DAAR IS 'N WOORD WAT STILWEG DEUR DIE KERK VERGEET IS!

'n Woord wat mens baie selde van kansels af hoor. En letterlik ken die meeste van ons jong lidmate glad nie eers meer die betekenis van die woord in Afrikaans nie. Dis egter ‘n woord wat gebruik is deur die heiliges van beide die Ou en die Nuwe Testament. Johannes die Doper het dit ook gebruik. Ons lees daarvan in sy prediking in Lukas 3:1-19 (lees dit gerus eers deur in jou Bybel)

Wat is dit?  TOORN



  Die woord het so skaars geword, kom ons kyk net eers wat dit beteken. Toorn gaan oor God se heilige regverdige woede, wraak en oordeel.  Dis nie ‘n sondige wispelturige onbeheerbare uitbarsting van woede  soos ons by mense kry nie. Dis God se heilige afsku van als wat sleg en verfoeilik is omdat God waarlik God is en net   GOED en HEILIG is! 


Johannes die Doper gebruik hierdie woord in die konteks van die komende oordeel. (9)

God se toorn is deel van wie Hy is, soos Hy Homself openbaar het in die geskiedenis, in die mond van sy profete , deur die laaste groot profeet Johannes die Doper maar, ook in die geskrifte van die apostels. Ja, dis deel van God se liefde, want sy liefde is gekant teen als wat sleg is!   Kom ons vat die pad vanaf die Ou Testament.

Voorbeelde uit die Ou Testament

 "Jy mag nie ander gode aanhang nie, ook nie gode van die volke in jou omgewing nie,want die Here jou God eis onverdeelde trou aan Hom. Hy is by jou, en as jy ander gode aanhang, sal sy toorn teen jou ontvlam en sal Hy jou van die aarde af wegvee."  (Deuteronomium 6:14,15)

"Die dag van die Here het nou gekom, dit is ‘n wrede dag, ‘n dag van gramskap en gloeiende toorn, ‘n dag waarop die land verwoes en sy sondaars uitgeroei word." (Jesaja 13:9)

 “My volk het koring gesaai maar dorings geoes, hulle moeite was tevergeefs. Hulle staan verslae, sonder oes, want die gloeiende toorn van die Here het hulle getref.” (Jeremia 12:13)

Nuwe Testament

Nou redeneer mense : “Ja, maar dit was voor Jesus se kruis. Ons leef nou mos na die kruis. Nou bestaan die toorn van God mos nie meer nie. Nou leef ons in die Nuwe Testament. Die tyd van Jesus en sy kerk en dis net liefde sonder toorn.”  Vriend, wees vriendelik gewaarsku, dis ‘n vals idee. As Paulus die evangelie verduidelik in Romeine dan doen hy dit teen die agtergrond van die toorn van God. Dis waar hy begin :  “God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.” (Romeine 1:18)

En terloops dis in hierdie konteks dat hy daarop wys dat God die mens weens sy ontkenning en minagting van God oorgegee het aan dit wat boos en onbetaamlik is... en heel eerste noem hy dan die gruwel van mense wat die natuurlike geslagsverkeer tussen man en vrou verander na ‘n onnatuurlike verkeer tussen vrou en vrou en man en man! 



Hierdie verskriklike verval en verdierliking van die mens is juis deel van God se uitgieting van sy toorn oor ‘n sondige mensdom.





Dis die deurlopende boodskap van Genesis tot Openbaring is  - sonde wek God se toorn op en Hy straf dit. Die uitdryf van Adam en Eva uit die paradys, die vervloeking van die aarde, die verwoesting deur die sondvloed in die tyd van Noag, die uitwissing van Sodom en Gomorra,  die oordele oor Egipte en later die Kanaäniete, God wat telkens sy eie volk straf met oorloë en hongersnood, die verwoesting van Jerusalem en die tempel, die uitdryf van Israel uit hulle land en die wegvoering in ballingskap... Ja, ook die sterwe van Jesus aan die kruis en die finale oordeel met die skeiding van skape en bokke.  Die ewige hel! Dit alles maak net sin vanweë God se regverdige TOORN teen sonde! 

GENADE

Maar dis ook net teen hierdie donker agtergrond (van God se toorn) wat die genade sin maak en heerlik helder skyn!. Dis waarom Jesus gekom het, om ons van die toekomstige toorn te verlos.  Paulus skryf hieroor aan die  Christene  in Tessalonika... “Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien  en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.”  (1 Tessalonisense 1:9,10)

Wat van my en jou? Het ons al besef ons sonde wek God se toorn? Ja, ook die dinge wat die gemeenskap oor grappe maak (dronk word, los verhoudings) en maar stilswyend aanvaar. Ook die dinge wat deur Hollywood en die Huisgenoot goedgepraat word. Laat ons maar weet : God sal nooit sonde goedpraat nie, God sal nooit sy standaarde by ons sondigheid aanpas nie...

Mense is vir baie dinge bang.... vir die Sjinese virus, ekonomiese ineenstorting, vir die donker wolke van wanbestuur, korrupsie  en anargie. Ons moet eerder  bang wees vir God se toorn

En ja in sy liefde het God inderdaad vir ons 'n uitkoms gegee!

Die enigste skuilplek  is Jesus!   Die volledige vergifnis in Hom is ons enigste hoop. Draai jou rug op sonde vlug na Hom. Vlug soos Lot die opdrag gekry het om uit Sodom te vlug weens die aankomende toorn en  wraak van God. Hy het reageer, maar sy aanstaande skoonseuns het gedink dis ‘n grap. (Genesis 19:14) 

Het jy al van sonde gevlug en kom skuil by Jesus?

et jy al kom skuil by jesus?Het HHHHH


Terug by Johannes die Doper. Was Johannes dan net ‘n verdoemende oordeelsprediker? NEE. Nee hy was nié ‘n tipiese raasbek helvuurnar nie. Hy was  volgens Lukas ‘n verkondiger van die evangelie, die goeie nuus! 

Maar neem kennis, die verkondiging van God se toorn is deel van evangelieverkondiging in die volledige sin van die woord. En belangrik,  Johannes het nie net van die toorn van God gepraat as dit vir hom veilig was nie. Nee hy het hierdie boodskap van God se haat vir sonde persoonlik aan Herodes oorgedra. Herodes het sy broer se vrou gevat en Johannes het hom dapper aangevat!  “Hy het ook vir Herodes, die heerser, tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen het.” (19) Ons weet dit het uiteindelik sy lewe (kop) gekos! 


Ware profete van die volle waarheid van God soos Johannes die Doper is skaars. Dis net hulle wat durf praat oor die komende oordeel en toorn van God! Die rede is eenvoudig : Normaalweg kry hulle nie erepennings, eredoktorsgrade of Nobelpryse nie, nee, hulle koppe eindig op skinkborde! Die skinkbord van openbare veragting, familie verwerping  of  selfs sinodale uitsluiting en isolasie!  Maar dit maak nie saak nie - ons moet erns maak met die volle waarheid van God se Woord!

Belangrike naskrif!  Miskien het jy nog steeds 'n beswaar : "Ja, ek verstaan dat God toornig kan wees, maar
TOORN is nog steeds nie vir my 'n woord wat by Jesus pas nie! Jesus is tog so sag en liefdevol. Hy is tog die LAM!"  Jy is reg vriend, Jesus is inderdaad liefdevol. Die Lam wat sy lewe vir ons geoffer het! Maar ons lees inderdaad direk van sy TOORN. Mense sal eendag in angs vir sy toorn probeer wegkruip. Ons lees in Openbaring 6:16 - "
Hulle het vir die berge en die kranse gesê: "Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam."

Vrydag 05 Maart 2021

BEGIN BY DIE BEGIN

- DIE BASIESE VERTREKPUNT VAN ALLE WAARHEID!

Waar kry ek ‘n antwoord vir al my baie vrae? Waar kry ek bevryding van al my vrese? Waar kry ek weer hoop in ‘n chaotiese, bose, korrupte en hartseer wêreld?  Begin by die begin! Ons weet daar is groot verwarring in ons tyd. Daar is ‘n ontelbare duisternis van opinies, talryke teorieë, soveel  slimmighede...Jy weet nie aldag wie om te glo en na wie om te luister nie... Waar gaan ek vastigheid kry?  Wat is die eerste heel basiese waarheid? Die fondament waarop alle antwoorde berus? Die basiese vertrekpunt? Begin by die begin!

Ons kry dit in Genesis 1:1!


Hieruit volg ‘n paar basiese vertrekpunte en vaste hoekpenne:


God alleen is die ewige oneindige Skepper.

Alle ander persone of dinge is skepsels of geskape dinge. Daar is ‘n basiese fundamentele onderskeid tussen God en sy skepping. God alleen is van ewigheid tot ewigheid. Sonder enige begin en einde. God alleen kan skep. Iets uit niks. Deur sy Woord. Hierdie unieke andersheid van God word vandag betwyfel deur iemand soos Benny Hinn wat leer dat die mens ‘n klein godjie is*, deur die panteïsme wat leer dat alles en almal goddelik is, ja ook deur die “spreek lewe” beweging wat leer dat die mens se woorde skeppingskrag het! Die basiese oersonde is om God nie as God te dank en te eer nie Om die skepsele te eer in plaas van die Skepper. Paulus skryf hieroor : “Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie, omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister... Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Amen.” (Romeine 1:20.21, 25)

God bepaal die sin van als want Hy het als met ‘n doel gemaak. 

Jy en ek het ‘n doel. Daar is ‘n rede vir ons bestaan. En die rede kom verder in die skeppingsverhaal duidelik na vore. Om God te eer en namens Hom oor sy skepping te heers! Ons as mense is geskape na sy beeld. Dit plaas ons in ‘n ander kategorie as byvoorbeeld diere en plante. Ons het ‘n verstand om God te kan ken, ‘n wil om Hom te kies en ‘n emosie om Hom lief te hê. God self is die doel en die vreugde van my bestaan. Dit word so mooi gestel deur die Westminster Shorter Catechism wat vra : “What is the chief end of man?” (die mens se hoofdoel?) En dan die antwoord : “Man's chief end is to glorify God, and to enjoy him forever.” Dis waaroor alles gaan – om God te eer en te GENIET! 

Geen mens kan ware vervulling beleef sonder die aanbidding van God nie, want dis waarvoor ons ontwerp is!

God alleen is in beheer van sy skepping. 

Die ganse heelal. God bestuur die heelal. Alles gebeur volgens God se raadsplanne. “Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit." (Efesiërs 1:11) Daar is geen mag groter as God nie. En ja, die duiwel is voorwaar soos ‘n brullende leeu, maar hy is ook net ‘n geskape wese. God het ook mag oor die duiwel en daar is nie ‘n kwessie van wie sal wen nie. Die uitkoms van die geskiedenis is nie in die weegskaal nie! Dit bring ontsaglike troos om te weet dat die Almagtige God volkome in beheer is van sy skepping – al lyk dit nie so nie. Dit het nie so gelyk tydens die kruisiging nie – dit het gelyk asof die Satan en bose mense die oorhand het, maar eintlik was hulle besig om God se triomfantlike plan uit te voer. Petrus praat op Pinksterdag met die Jode oor die kruisiging en dan sê hy : “God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak.” (Handelinge 2:23) Ja, die Jode en heidene het verkeerd opgetree, hulle staan skuldig, maar ten diepste het hulle God se raadsplan uitgevoer!

God alleen (as Skepper en Eienaar) maak die reëls en Hy alleen het die reg om sy skepsele tot verantwoording te roep.

Daar SAL dus ‘n oordeel wees en daar is ‘n hel ongeag wat verdorwe mense ons vertel. Paulus praat hiervan in sy toespraak in Athene : “God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan." (Handelinge 17:30,31) 

Dit beteken ons moet so lewe dat ons Hom behaag. Leef - Coram Deo Voor die aangesig van God! God se opinie is al wat tel! En moenie dat dwase mense vir God wil vertel dat sy oordele onregverdig is nie! Hoe kan mense wat absoluut onregverdig is vir die heilige God probeer beskuldig van onregverdigheid? Al God se besluite en oordele is goed, regverdig en volmaak!

God laat vaar nie die werke van sy hande nie. 

Hy gooi nie sy skepping weg nie. Hy onttrek Homself nie aan sy skepping nie. Dit gee vir ons hoop. Ons weet weens die sondeval is hierdie skepping verganklik en uiteindelik gedoem tot vuur! Maar dit gaan nie die einde wees nie. Daar kom ‘n nuwe hemel en nuwe aarde. “Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.” ( 2 Petrus 3:13)

ALLES DRAAI OM JESUS!

Die Bybel se boodskap oor God stop natuurlik nie hier by Genesis 1 nie. Dis maar die begin van ‘n asemrowende en aangrypende verhaal wat uitloop op die hoogtepunt van Jesus Christus se koms en werk. Die Nuwe Testament onthul vir ons die verrassende heerlikheid – die hele skepping draai eintlik rondom Jesus! Dis die heerlike waarheid van die Christelike lied in Kolossense 1:15-20.

“Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.

God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, gesagvoerders of magte. Alles is deur Hom en vir Hom geskep.

Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand.

Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.

God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon

en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.”

‘n Meer verhewe beskrywing van Jesus se persoon en werk kan mens kwalik iewers anders vind! God het deur Hom als geskep, maar alles is ook vir Hom geskep. Alles bestaan dus ter wille van Jesus. En Hy self hou alles in stand! En hier kom die heerlikste - deur Jesus word ons met God ons Skepper versoen. 

Deur Jesus kan ek dus die almagtige Skeppergod my VADER noem.

Deur die vrug van Jesus se volmaakte soenoffer word die beeld van God wat deur die sondeval geskend is weer in my nuut gemaak en herstel. Hoe? Die Heilige Gees kom woon in my en heilig en verhelder my verstand om God te ken, Hy verander my wil sodat ek kan kies om God te eer en te gehoorsaam, Hy gee my ‘n nuwe hart, ‘n nuwe emosie om God waarlik lief te hê!

Kom ons bely met nuwe vreugde en sekerheid en vertroue- die waarheid van Genesis 1:1 : 


Wanneer ons hierdie belydenis regtig glo kwyn ons vrese algaande en groei ons lofprysing tot ‘n heerlike klimaks van aanbidding en bewondering vir ons Almagtige God! AMEN!

*Benny Hin : “May I say it like this? You are a little god on earth running around" (Praise-a-Thon, TBN, 6th November'90)

Donderdag 08 November 2018

AS DIE BEURSIE LEEGRAAK…

- God het heerlike beloftes gemaak oor geldsake, maar ons moet sy opdragte hieroor natuurlik net so ernstig opneem! 

[Pasop vir die rosyntjiebrood sindroom as ons die Bybel oor geldsake ondersoek. Moenie die Woord hoor soos stout kinders ‘n rosyntjie brood eet nie…. Hulle eet net die lekker rosyntjies en los die res van die brood...] 

DIS MOEILIKE TYE 

Dis geen geheim nie, moeilike finansiële tye is op ons! En die ergste is nog op pad! Die gevolge van die geldmorsmanewales van die korrupte Zuma en die plundering van sy Gupta vriende het ons hier in Namibië ook ingehaal. Natuurlik is nie als hulle skuld nie. Plaaslike spandabelrigheid en korrupsie het ook by ons ‘n verdere spoor van ekonomiese verwoesting nagelaat. Dit gaan nog knyp... 

Die goeie nuus is dat die Woord baie oor geldsake te sê het.

Ons moet  net gehoorsaam luister! Een so ‘n gedeelte vind ons hier aan die einde van Hebreërs. 

Maak gerus self die Bybel oop by Hebreërs 13:1-6. Ons kry hier ‘n hele paar etiese kwessies wat aangespreek word. Praktiese opdragte oor die konkrete uitlewe van Christenskap. Broederliefde, gasvryheid, medelye, reinheid en tevredenheid. As ons regtig die troos wil ervaar van God se beloftes oor finansies moet ons ook erns maak met wat Hy oor hierdie ander sake te sê… Anders gesê, hierdie belofte oor finansiële versorging waarna ons gaan kyk, gaan my niks baat solank ek nie my broers liefhet nie, solank ek weier om gasvry te wees, as ek hardvogtig is, solank ek nie die huwelik respekteer nie en so lank ek deur gierigheid oorheers word nie…

(Wie van ons is nie skuldig nie? Gelukkig vertel hierdie skrywer in die voorafgaande hoofstukke juis va ons Hoëpriester Jesus se volmaakte offer wat ons volkome reinig...)

Kom ons kyk wat sê hierdie gedeelte oor finansies: 

“Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: "Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie." 
Daarom kan ons met vertroue sê: "Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?" (Hebreërs 13:5,6) 

Hier kry ons ‘n OPDRAG, ‘n BELOFTE en die heerlike EFFEK VAN DIE BELOFTE. 

1.OPDRAG 

Wat beteken, "Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het."? Wat is die implikasies op die grond? Paar praktiese opmerkings: 

Leef in onderwerping aan God se soewereine beskikking. Aanvaar geduldig en nederig dit wat God oor jou pad bring. Wees dankbaar vir wat God jou gee. God is in beheer van als, ook jou finansies. Ook wat jy nou beleef ten opsigte van finansies is nie toevallig nie. Hy is besig met jou...

Leef in verantwoordelikheid met wat jy het en pas jou leefstyl daarby aan. Wees eerlik met jouself : "Wat kan ek bekostig en wat het ek regtig nodig? Hoe wil God hê ek moet my geld en tyd en kragte spandeer? Is dit verantwoordelik en bekostigbaar om te gaan uiteet? Is dit verantwoordelik en bekostigbaar om DSTV aan te hou? (Het ek daai sepies nodig in my lewe?) Is dit verantwoordelik en bekostigbaar om lag-lag N$1000 op te rook as daar nie geld is vir basiese behoeftes nie? Is die malle gejaag agter sportbyeenkomste aan terwyl ek nie my skulde kan betaal nie, verantwoordelik?" Verantwoordelike rentmeesterskap – als wat ek het kom van God af, ek moet dit verantwoordelik bestuur soos wat Hy daarvan sal hou… Niks is regtig my eie nie, God leen dit vir my om te gebruik in belang van sy eer en koninkryk.. 

Leef met ‘n gesindheid van vergenoegdheid. (Filippense 4:11,12) “…ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees. Ek weet wat dit is om gebrek te ly en ek weet wat dit is om oorvloed te hê…” (DVL) Maak ‘n punt daarvan om God opreg te dank vir elke goeie gawe! Geniet die klein kosbare dinge wat God ons gee… vars oggendlug, vriendskap, vrede in die huis, die wonderlike skepping rondom ons. (Daar is vreugde in eenvoud!) Laat ons tafelgebede opreg wees… 

Leef volgens ‘n ewige waardebepaling. Het jy skatte in die hemel? Met ander woorde, ken jy Jesus en bedink jy die dinge wat daarbo is? Leef jy heilig, besigmet goeie werke? Hoe beoordeel jy sukses? Is dit net karre, huise en vakansies wat jou opgewonde maak, of is jy opgewonde oor Jesus en die Woord en die ewige teenwoordigheid van God? Onthou Jesus se woorde in Lukas 12:15. “Toe sê Hy vir hulle: "Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie." 

Leef vry van die verslawende liefde vir geld. Dis vir jou eie beswil. “Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.” (1 Timoteus 6:10) Die gierige mens is nooit ‘n gelukkige mens nie. Sy hart is altyd met angs vervul. Geldgierigheid is net so ‘n sterk verslawing soos alkohol of nikotien verslawing. Vra die Here Jesus om jou te bevry... 

Leef vrygewig! "Hoe nou? Ek kry dan self swaar", wil jy beswaar maak. Maar hoor die opdrag tot mededeelsaamheid. Gee aan ander wat minder as jy het! Jesus het ‘n duidelike radikale belofte hieroor gemaak. (Sekerlik gaan dit oor gaan oor meer as geldsake, oor barmhartigheid in die wyse sin van die woord “Gee, en vir julle sal gegee word: ‘n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word." (Lukas 6:38) Hierdie beginsel van Jesus word nogal kragtig geïllustreer deur ‘n ondervinding van Martin de Lange wat saam met sy gesin as sendelinge in Turkye gewerk het. Toe hulle moes terugkom na SA het hulle bereken dat hulle so R200,000.00 nodig sou hê vir die verhuising. Na ‘n paar weke het hulle daarin geslaag om so R10,000.00 bymekaar te maak nie eens genoeg vir vliegkaartjies nie. Sekerlik in ‘n half moedelose toetstand het Martin saggies gebid en vir die Here gevra : “Wat is ek veronderstel om te doen met net R10,000.00?” Die verbasende opdrag wat sy maag laat draai het kom toe : “Gee dit weg!” Hulle was gehoorsaam en het die bedrag aan ‘n ander sendeling gegee wat dit baie nodig gehad het, en ja... die Here het voorsien in al hulle kostes!* Hoor wat Jesus sê, konsentreer op gee en nie op ontvang nie! Paulus verwys hierna in sy gesprek met die ouderlinge van Efese. “Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang." (Handelinge 20:35) 

Laat God jou denke oor geldsake verander en begin sy opdragte hieroor gehoorsaam!

2.BELOFTE 

Hierdie vergenoegdheid en tevredenheid waartoe ons opgeroep word, is nie gebou op roekelose ongeergdheid en onverantwoordelikheid nie. Dis nie sommer net ‘n ongeërgde “Don’t worry be happy” houding nie! Dit kom voort uit ‘n doelbewuste nugter intelligente vertroue op God se belofte. En watter heerlike en kosbare belofte is dit nie! Nimmer as nooit ooit! (vyf negatiewe in die Grieks) Sterker kon die skrywer dit sekerlik nie gestel het nie. Daarom vriend : Maak ‘n keuse om God te vertrou! 

3. EFFEK 

Wat is die gevolg van vertroue op God se beloftes? Vreeslose geloofsdapperheid! Wie hierdie belofte van God vir homself toe-eien kan gelowig vreesloos sy vertroue uitspreek in die woorde van die psalmis : “Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan ‘n mens aan my doen?” (Psalm 118:6) 

Finansiële bekommernisse skep vrees, en van hierdie vrees word ons bevry deur God se beloftes soos klein kindertjies te glo! 



SWAARKRY IS ‘N KOSBARE LEERSKOOL VAN GENADE EN VERTROUE! 

Finansiële swaarkry tye is nie lekker tye nie. Vir die kind van God is dit egter ‘n waardevolle leerskool. Dis ‘n skool waar ons leer wat is nederigheid, tevredenheid, afhanklikheid en vertroue. Hierdie vakke kan nie op ‘n ander manier geleer word nie. Laat ons nie klae oor ons swaarkry nie, maar dit sien as ‘n geleentheid om God ons Vader op ‘n nuwe dieper manier te leer ken! Kom ons stort ons harte voor Hom uit…. Filippense 4:6! God verhoor in detail die gebed vir ons praktiese behoeftes.


Ek wil ‘n aangrypende voorbeeld hiervan met jou deel wat plaasgevind het tydens die Anglo-Boere Oorlog. Ouma Hamman (Anna Elizabeth Retief) was 'n merkwaardige vrou van gebed. Tydens die Boereoorlog was sy in 'n konsentrasiekamp, wat bestaan het uit ontruimde huise in Barberton. Haar suster met haar twee kinders was saam met Ouma Hamman in die huis. Weens die hitte van daardie streek het die suster siek geword. Die kampkommandant het goedgunstiglik besluit om haar na Graaff-Reinet, na haar ouerhuis, toe te stuur. Sy moes net vir haar eie padkos sorg. Ouma Hamman en sy het besluit dit sal die beste wees as sy 'n groot baksel beskuit kan saamneem. Met moeite het hulle die bestanddele vir die beskuitbakkery bymekaar gekry. Die vet wat hulle nodig gehad het, was egter onbekombaar – van botter nie eens te praat nie! Hulle het, soos altyd, hulle toevlug tot die Here geneem. Maar om vet vir 'n baksel beskuit, in oorlogskaarste, in die konsentrasiekamp, te bekom, was nie so eenvoudig nie! Ouma Hamman vertel dit so: 

"Drie dae voor ons sou vertrek, en die laaste dag waarop ek nog kon bak, staan ek voor die kombuisvenster wat op die straat uitkyk met die skottel meel voor my op 'n tafeltjie. Ek bid met 'n swaar hart: 'My Vader, het U my dan hierdie keer vergeet?' Op daardie oomblik kom muilwaens met die troepe se kosvoorraad met groot geraas verbygejaag. 'n Harde klop hamer op die voordeur. Ek gaan maak haastig oop. Voor die deur staan 'n hygende soldaat met 'n yslike blik vet in sy hande. 'Dit het van die wa afgeval. Wil jy dit hê?' Sonder om vir 'n antwoord te wag, rol hy die blik in die gang in en laat vat agter die wa aan."

Voorwaar Goddelike detail op die tyd gebedsverhoring! 

God kan enige tyd en enige plek ons gebede verhoor. Selfs ook in 'n konsentrasiekamp!

*Martin de Lange, Op die rand van die Paradys, p 163,164

Vrydag 01 September 2017

EN TOE SIEN HY...

- aanskoue van die onsigbare werklikheid bevry ons van vrees.



Wat sien ons? Zuma, Trump, korrupsie, wanorde, valsheid, ekonomiese druk... of die onsigbare God? Dis nogal baie belangrik. Wat ons sien het ‘n geweldige effek op ons...


Wat ons sien bepaal ons hele perspektief en gemoedstoestand, ons vreugdes of vrese. 

Dit kom pragtig na vore in die besondere verhaal in 2 KONINGS 6:8-23. (lees dit gerus eers deur) Die koning van Aram (Israel se vyand) stuur ‘n sterk leërmag en omsingel die stadjie Dotan. In hierdie stadjie woon die profeet Elisa (die vyand wil juis vir Elisa vang) en sy dienskneg. Hulle bly dus in dieselfde plek, maar hulle beleef elkeen ’n verskillende werklikheid :


~ Die dienskneg verval in vrees en paniek, want hy sien die gevaarlike situasie ... omsingeling deur ‘n gevaarlike vyand. Hoor bietjie hoe reageer hy : “Die môre vroeg het die slaaf van die man van God opgestaan, en toe hy uitgaan, sien hy ‘n leër rondom die stad, met perde en strydwaens. "Ag, Meneer!" sê die slaaf vir Elisa, "wat gaan ons nou maak?" (15) Hy sien waarskynlik al die dood en verwoesting. Bloed en bedreiging.


~ Elisa is opvallend rustig en doodkalm. “Hy (Elisa) het geantwoord: "Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is." (16) Hoekom?Is Elisa gerook? (soos ons dagga) Elisa het iets (Iemand) gesien wat sy dienskneg nie gesien het nie... Dit beteken nie Elisa was onrealisties of naïef nie. Ook was hy heeltamal nugter. En ja hy het beslis die gevaar gesien, maar hy het ook meer gesien, die volle werklikheid...


Ons het nodig dat God ons “oë” sal open!


Elisa bid dat die Here sy dienskneg se oë open, dat hy ook die volle werklikheid kan sien. God verhoor die gebed en die dienskneg sien toe ‘n verbysterende toneel... “Elisa het gebid: "Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien." Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur.”(17)


Wat gebeur hier? Waarop kom dit neer? Neem kennis : Daar is ook ‘n onsigbare werklikheid. ‘n Geestelike realm. Wat is die onsigbare werklikheid? Die vurige leërmag bevestig onder andere:


God is alomteenwoordig. Hy is onsigbaar maar Hy is in hierdie situasie. Wat ons sien met ons fisiese oë, is nie die volle prentjie nie! (dink maar aan son agter wolke)


God is almagtig. Hy is daar met sy mag- met ’n leërmag! God is nie swak nie. God se leër op die toneel is baie sterker as die vyand se leër. Enige vyandelike mag! Orals! Altyd!


God is aktief werksaam. God is nie maar net ‘n toeskouer nie. God was besig om op te tree, maar die dienaar het dit nie besef nie - eers toe sy oë geopen is.


Die volle werklikheid, is God, God in aksie!


Dis belangrik dat ons die volle werklikheid sal sien. Die volle werklikheid is nie net ons sigbare omstandighede, probleme of vyande nie, maar die onsigbare geestelike werklikheid. Die volle werklikheid sluit God in.


Pas dit toe op ons eie situasie:


~ Wat is die sigbare werklikheid? Geweld, chaos, onreg, ongelukke, siekte, hartseer, goddeloosheid, kwynende kerk, goddelose kinders, korrupte politici, arrogante wêreldleiers... Dis wat ons sien. Dit wek by ons vrees, selfs paniek, wanhoop, moedeloosheid....


~ Maar wat is die onsigbare werklikheid? In my krisis, my hartseer, my drukte moet ek met my geloofsoë raaksien :


1.God is teenwoordig. Alomteenwoordig. Hy weet van alles. Hy ken ons omstandighede. Meer nog Hy is hier by my in my situasie, al voel dit dalk nie so nie... (dink maar aan die dissipels in die storm, met Jesus wat in die boot slaap...) Paulus wy daarop uit in Romeine 8... “niks kan ons skei van die liefde van God in Christus Jesus nie...”


2.God is in beheer en Hy het ’n plan. Omdat Hy almagtig is kan niemand Hom keer nie, Hy is besig om dit uit te voer. God se plan kan nooit misluk nie, al lyk dit soms so vanuit ons beperkte perspektief. Die groot plan van God is natuurlik Jesus en sy Kruisiging en Opstanding. Dis klaar uitgevoer en nie al die magte van die hel kan dit verander nie.(Terloops, die kruisgebeure het vir die dissipels op sigbare vlak na die grootste mislukking gelyk!)


3. God is besig om sy Koninkryk te bou. God staan nie hande gevou nie. Miskien staan jy skepties hieroor en vra : Hoekom tree Hy nie nou dadelik op teen geweld en onregverdige heersers nie? Hoekom word alle siekes nie nou gesond nie? Johannes 18:36 gee hierop ‘n antwoord as Jesus sê : “My Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.” Sy Koninkryk breek eers finaal aan by sy wederkoms wat die begin van die Voleinding is.


As ons hierdie regte perspektief verander dit ons hele gemoedstemming, ons houding en ons verwagtinge. Wie die onsienlike werklikheid sien :


Vrees ons nie - want God is almagtig en by ons. En God is altyd ‘n meerderheid! Sy liefde bly ook onveranderlik. Selfs ook in lyding en DOOD! Wie God sien hoef nie te vrees nie! (2 Konings 6:16) Dit laat mens sommer dink aan die heerlike waarheid waarvan ons lees in 1 Johannes 4 :17,18. “Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.”


Glo en hoop en is nou reeds bly - want God is teenwoordig, binne ons situasie. Ons kan Hom glo, Hom vertrou en ons verlustig in Hom met die wete dat Hy by ons is.


Bid – want God wat lewend en almagtig is verhoor ons versugtinge volgens sy wil. Hy is heeltemal daartoe in staat. Niks is vir Hom onmoontlik nie. Elisa bid vir geopende oë en dit gebeur. Elisa bid vir blindheid en dit gebeur ook! (18)


Deel genade uit – want die almagtige God is juis ook ‘n genadige God. Hy is besig om mense na Hom te trek en ons moet ook genade uitdeel – selfs aan vyande! (22) Vrees gaan saam met wraak en angs, as ons van vrees bevry is kan ons vol selfbeheersing en genade optree ook teenoor andere!


Mag God ons oë open om die volle werklikheid raak te sien, die werklikheid waar God in beheer is en die hele geskiedenis lei tot ‘n heerlike voleinding. 


Wat sien jy? Dalk eerder, WIE sien jy?


Kom sing saam Lied 190, veral vers 3


U, oor alles God en Hoof,


open oë van geloof


dat ons sien, geen goed of kwaad


word aan toeval oorgelaat:


Bokant ons begrip, verstand,


hou U al wat is in stand.




[Die uitsig vanwaar ek nou vakansie hou op Swakopmund. Die "mis" van die beperkte oomblik kan soms tydelik die uitsig op die werklikheid verberg, maar dit kan dit nie verander nie...]

Donderdag 30 Maart 2017

BANG BEPREEK

- PAULUS MAAK VIR FELIKS BANG MET DIE WAARHEID.

Paulus het onskuldig in die tronk beland weens die komplotte van die Jode. Hy verskyn nou die tweede keer voor goewerneur Feliks wat as regter optree. Hier in Handelinge 24:24-27 gebeur nou iets merkwaardig. Gewoonlik is dit ‘n beskuldigde wat bang word in ‘n regter se teenwoordigheid, maar hier gebeur die teenoorgestelde. Feliks, die regter is die een wat bang word!

Dit lyk asof Feliks meer wou uitvind rondom Jesus. Mens kan aflei dat Feliks nie heeltemal onkundig was oor Jesus nie en nou meer wou hoor. In die berig oor die eerste verskyning van Paulus voor Feliks, lees ons immers : “Hier het Feliks, wat die besonderhede in verband met die leer van Christus taamlik goed geken het, die verhoor onderbreek.” (Hand 24:22)

Nou laat hy Paulus roep om meer te hoor van Jesus. Pragtig! Wat ‘n wonderlike geleentheid vir die evangelie! ‘n Kans wat Paulus kry om met ‘n persoon in ‘n hoë posisie die boodskap van Jesus te kan deel. Wat sou hy vir Feliks sê? Wel, as Paulus ‘n Amerikaanse Prosperity TV evangelis of ‘n ander kwaksalwer profeet was sou hy dalk baie aangename dinge vir Feliks kon gesê het. Miskien... “Edele Feliks, Jesus kan al u probleme oplos. Jesus kan u drome verwesentlik, u gelukkig maak, u suksesvol maak, u ryk maak ... Ag, edele al wat nodig is, maak net ‘n geldelike bydrae tot my “ministry” dan gaan die Here u sommer uit u sokkies uit seën... Ag , Feliks die pad na redding is baie eenvoudig, u kan maar net ‘n gebedjie agter my aanbid en u hart vir Jesus gee, dan is alles reg! Great!”

DIE BEGIN

Nee, toe nou nie! Paulus is nie ‘n selfaangestelde kommersiële profeet nie, maar ‘n geroepene van God. Omdat Paulus die ware evangelie hier aan ‘n verharde selfversekerde sondaar verkondig, begin hy by die begin. En wat is die begin? Waar moet ons begin voor ons mense van genade en vergifnis kan vertel (of beter gestel voordat genade en vergifnis vir hulle gaan sin maak?) Ons moet hulle wys op wat God se Woord te sê het oor hulle sondige toestand en die gevaarlike posisie waarin hulle hulself bevind. Dis presies wat Paulus hier doen. 

Hy praat met Feliks oor drie dinge:

  • ’n Lewe in gehoorsaamheid aan God. (geregtigheid - OAV) Die lewe wat God van mense verwag. Ja, God het ‘n bepaalde leefstyl wat Hy van ons verwag. Hy het die reg om sekere dinge van ons te vra. Hy is mos ons Maker. Daar is dinge waarvan Hy hou en daar is dinge waarvan Hy nie hou nie. Hy maak die reëls en nie onsself, die Huisgenoot of die algemene opinie van die dag nie! Hy en Hy alleen besluit wat is reg en verkeerd! (Nie eens die Algemene Sinode wat kort-kort van opinie verander nie.)
  • Selfbeheersing. Miskien was ‘n gebrek aan selfbeheersing persoonlik Feliks se swak punt. Dit wil voorkom dat hy in elk geval nie ‘n man met vaste beginsels en integriteit was nie. Eintlik is ‘n gebrek aan selfbeheersing ‘n wesentlike kenmerk van alle onbekeerde sondaars Efesiërs 2:13 gee ‘n beskrywing van die onbekeerde mens en dis duidelik die mens sonder God leef en maak net soos hy wil, sonder enige selfbeheersing! “So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word.” Ja, dis die mens sonder God, hy word deur sy luste aan die neus rondgelei...
  • Die komende oordeel. "Feliks jy moet besef, daar is ‘n God wat jou gaan verantwoordelik hou vir jou dade!"  Dis seker die laaste ding wat hierdie selfsugtige en gierige jakkals wou hoor! Die boodskap van die oordeel was egter deel van Paulus se evangelieverkondiging, so Feliks moes maar luister... Paulus het hierdie boodskap ook aan die gekultiveerde Atheners gebring. "God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan." (Hand 17:30,31) Hy verwys ook hierna in die Romeine brief in Rom 2:16. “...Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig.” Dit was nie net Paulus wat oor die oordeel gepraat het nie. Die komende oordeel was deel van die Johannes die Doper se prediking en dit was ook ‘n belangrike deel van Jesus se prediking! Vandag is dit natuurlik taboe om na die oordeel en hel te verwys. Dit val buite die postmoderne mens se verwysingsraamwerk, want alles is mos maar reg en als is mos relatief! 
Die werklikheid van ‘n oordeel is deel van die onveranderde Bybelse boodskap!


EK HET JESUS REGTIG NODIG!

Hierdie feite, hoe ongemaklik ook al, onderstreep die sondaar se nood en behoefte aan Jesus! Hierdie is basiese waarhede wat nodig is om te verstaan voordat ‘n sondaar regtig na Jesus sal kom en regtig genade sal verlang. Dis net Jesus wat vergifnis kan skenk aan my vir my ongehoorsaamheid en ongeregtigheid. Dis net Jesus wat my kan nuutmaak en vir my selfbeheersing deur sy Gees kan gee. Dis net Jesus wat my kan red van die komende oordeel.

Sonder die feit van die oordeel maak die evangelie van God se genade geen sin nie en sal geen mens ook daarin belangstel nie. Hierdie dinge is natuurlik nie lekker om te hoor nie. Dis vandag nog nie lekker om te hoor dat jy ‘n rebel is nie. Trouens hierdie sake het Feliks so ontstel en verskrik dat hy uitroep : “Dit is nou genoeg….!”

EN DIE GENADE?

Miskien wonder jy tog nog of Paulus op hierdie stadium dan vergeet het van die boodskap van genade? Nee, beslis nie. Nie lank voor hierdie gebeure op sy reis na Jerusalem waar hy toe gevang is, het Paulus weereens bevestig – sy hele loopbaan gaan om een sentrale saak, die verkondiging van die goeie nuus oor genade! “Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.” (Handelinge 20:24) Nee, Paulus se boodskap was en bly die genadeboodskap, maar dit is net relevant vir sondaars binne die konteks van God se geregtigheid en oordeel.

TYDELIKE INDRUKKE

Feliks het bang geword, maar dit was ook net vir ‘n tydjie. Sy hart het onaangeraak gebly. Dit gebeur met baie mense . In tye van siekte of dood, begin hulle nadink oor die dood en oordeel en toon selfs vir ‘n kort rukkie belangstelling in die Woord. Hulle kom selfs ‘n paar keer kerk toe. Maar helaas, dis net tydelike indrukke. Gou-gou waai die vrese en bekommernisse oor en gaan hulle weer aan op dieselfde pad van sonde. Feliks het geen ware belangstelling gehad in die Woord van God nie. Geen ware begeerte om gered te word nie. Hoekom nie? Sy groot passie was GELD! “Hy het die hele tyd ook gehoop Paulus sou hom omkoopgeld aanbied om los te kom. Daarom het hy hom so dikwels moontlik laat haal om met hom te praat.” (26) Terloops, korrupsie is nie iets wat deur Zuma uitgedink is nie! Dit kom van ver af. ‘n Liefde vir geld verdring alle bekommernisse oor my saligheid. Nou kan mens sommer ook verstaan waarom Paulus nie vir Feliks gesê het dat Jesus hom kan ryk maak nie. Vir seker sou Feliks dan sommer baie belang gestel het in ‘n rykmaak Jesus, maar hy stel nie belang in ‘n Jesus wat van sonde verlos nie! 

SO TRAGIES

Hierdie hoofstuk het ‘n tragiese einde. “Twee jaar later is Feliks deur Porcius Festus opgevolg. En omdat Feliks die Jode ‘n guns wou bewys, het hy Paulus as gevangene agtergelaat.” (27) Feliks is nog steeds vasgevang in ‘n lewe van korrupsie, ongeregtigheid en onbeheersde hebsug. Feliks het die kans gehad om die evangelie te hoor, maar hy het dit laat verbygaan…

Mag ons van sulke dwaasheid bewaar word!