Wat 'n voorreg om die kosbare Woord van God hier in ons pragtige dorp Tsumeb te verkondig. Tsumeb word geassosieer met minerale rykdom. Mag die Heilige Gees die prediking van die Skrif gebruik om die (onuitputlike) Woord-Skatte van Waarheid te ontsluit vir elkeen wat wil luister. So beleef ons die rykdom van God se genade as Hy aan ons redding uit vrye guns skenk deur vertroue op Jesus. Hiervoor moet God alleen die eer kry!
Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Vaderlike seëninge. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Vaderlike seëninge. Wys alle plasings
[JI Packer (1926-2020) is verlede
maand oorlede. Hy was ‘n behoudende Anglikaanse teoloog en kampvegter vir die
waarheid*. Sy bekendste werk is seker sy blitsverkoper, Knowing God. Ek deel
hieronder enkele gedagtes uit die boek oor die heerlike onderwerp van aanneming
tot kinders.]
Het jy besef? God neem verloste
sondaars aan as sy eie kinders!
“Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny
om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders,
deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons
kinders van God is;"(Romeine 8:15,16)
Die vraag “Wat is ‘n Christen?”
kan op baie maniere beantwoord word. Die rykste antwoord is : ‘n Christen is
iemand wat God as sy eie Vader het.
Net terloops,
nie alle mense is kinders van God in hierdie sin nie. Inteendeel Paulus stel dit duidelik dat
ons almal, voor ons redding deur Jesus, kinders van die toorn was. Met ander
woorde ons het onder God se oordeel en raak gestaan.“…en ons was van nature kinders van die toorn net
soos ook die ander.” (Efesiërs 2:3)
Die aanneming tot kinders is ‘n
uitsonderlike stuk genade endie
grootste voorreg wat die evangelie ons bring.
Ja, daar is ook ander voorregte.
Soos vryspraak. Ons ken die betekenis….Regverdiging, vryspraak (justification)
is ‘n forensiese saak.Dit gaan oor die
wet en oor God as regter. In die vryspraak spreek God ons vry van al ons skuld
via ons geloof in Jesus op grond van sy volmaakte skuldoffer en boetedoening
aan die kruis. Dit beteken , ek wat glo staan onskuldig, strafloos voor God
omdat Jesus my straf gedra het. Dis heerlik.Genadig!
Aanneming tot kinders gaan egter nog verder. Dis ‘n
familiesaak. Hier gaan dit nie oor die wet nie, maar oor liefde, nie oor God as
Regter nie, maar oor God as Vader. Die aanneming tot kinders behels dat God ons
in sy eie huisgesin opneem, ons word aangeneem as sy kinders en hanteer as sy
erfgename! “Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God. En omdat
jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.” (Galasiërs 4:7)
Ons hele praktiese Christelike
lewe word beheer deur hierdie wonderlike waarheidsfeit. Ek is ‘n kind van God.
Ons gaan spesifiek kyk hoe dit in die bergrede uitgespel word in praktiese
terme. God se familiekode.
Kom ons kyk na drie praktiese terreine in ons
lewens waar die besef dat God ons Vader is ‘n reuse verskil sal maak:
1. Hierdie feit van kindskap bepaal my gedrag en lewenswandel.
Op 3 maniere beïnvloed ons
kindskap van die Vader ons gedrag:
As kinders is ons nabootsers van die Vader. Jesus leer -"Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerddoen.” (Matt 5:44,45) As kinders moet ons die karaktereienskappe van die Vader vertoon . Terloops, as ons vol van vrees is, as ons dronk word, as ons te lui is om op ‘n Sondag na die Vader se woorde te kom luister... wat vertel dit vir die wêreld van ons Vader? Gaan iemand God eer omdat jy dronk word?
As kinders moet ons die Vader se naam eer aan doen. Anders gestel ons moet Hom verheerlik. As mense na ons gedrag kyk, moet hulle sê : “Kyk watse goeie Pa het hy!” Hoor Jesus se woorde - “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik." (Matt 5:16) Word ander mense na God toe getrek deur jou voorbeeld en gedrag. Of stoot jy hulle weg van God en die evangelie?
As kinders moet dit ons begeerte wees om ons Vader gelukkig te maak. Dink bietjie mooi – Is jou Hemelse Vader gelukkig ... met jou gedagtes, met jou grappe langs die braaivleisvuur, hoe jy jou geld of tyd bestee? As ons goeie dinge doen moet ons nie na mense se goedkeuring soek nie, maar die Vader se goedkeuring in gedagte hou. Sy beloning is wat tel! "Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.” 6:1 Die implikasie is dat wat God van ons dade dink, dis wat saakmaak!
2. Hierdie feit van kindskap is die basis van my gebedslewe.
Ons vrymoedige gebedslewe berus op die voorreg dat ons God ons Vader kan noem. Dis die spesiale voorreg van God se kinders in die Nuwe Verbond om God as Vader aan te spreek as ons bid. Dink maar aan die “Onse Vader” gebed wat Jesus sy dissipels geleer het. (Dit was nie so in die Ou Verbond nie!) Die Vader is altyd toeganklik vir sy kinders. Hy weet wat ons nodig het en wil die beste vir ons gee. Dit impliseer natuurlik nie dat ons altyd kry wat ons wil hê nie, want ons vra dinge wat nie altyd die beste is nie. (Weens onkunde, selfsug, sondige begeertes ens.) En tog, kind van God kan jy seker weet dat die Vader net jou beste belange op die hart dra! Jy hoef nooit daaraan te twyfel nie! “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?” (Matteus 7:11)
3. Hierdie feit van kindskap bepaal my geloofsvertroue op God om in al my behoeftes te voorsien.
Ons hemelse Vader is ‘n omvattende versorger soos enige goeie Pa, net baie meer. Jesus verseker ons -"Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matteus 6:31-33)
Miskien moet elkeen van ons weer opnuut gaan dink : Is ek ‘n kind van God deur my vertroue op Jesus en sy offer? As ek daarvan seker is wat is die heerlike implikasies dat ek die Almagtige en liefdevolle God, my eie Vader kan noem?
*In 2002 toe die sinode van die Anglikaanse diosees van New Westminster in Vancouver goedgekeur het dat sy biskop selfdegeslagverbintenisse mag seën, was Packer een van die sinodegangers wat in protes uitgestap het. Sy rede vir hierdie drastiese optrede was soos volg :
“Because this decision, taken in its context, falsifies the gospel of Christ, abandons the authority of Scripture, jeopardizes the salvation of fellow human beings, and betrays the church in its God-appointed role as the bastion and bulwark of divine truth.”
Maak Jesus en die evangelie regtig ‘n verskil vir mense wat worstel met droogtes, geldelike probleme en siektes? Bied die evangelie enigsins hulp vir mense met hartseer, pyn, bekommernisse of vrese? Kom ons wees eerlik - Die meeste mense dink die evangelie is nie meer relevant nie! Daarom doen hulle selde die moeite om daarna te luister en nog minder moeite om dit te glo en daarvolgens te leef!
Jesus sê vir ons baie duidelik wat die relevansie en die belangrikheid van die evangelie is in MARKUS 10:28-31. Die agtergrond van Jesus se woorde is natuurlik sy ontmoeting met die ryk jongman. Die ryk jongman wou baie graag die ewige lewe verkry, maar hy was nie bereid om afstand te doen van die een groot ding wat hom verhinder het om Jesus te volg nie. Ons weet sy groot probleem, sy sonde wat tussen Hom en Jesus gestaan het was sy gierigheid – sy liefde vir geld en besittings. Toe Jesus hom dus uitdaag om afstand te doen daarvan en Hom te volg het hy bedruk weggegaan.
So baie mense sien nie kans om Jesus te volg nie weens een of ander ding wat ‘n houvas op hulle het....
In teenstelling met die ryk jongman het Jesus se dissipels wel alles verlaat om Jesus te volg. Dit klink byna of Petrus so bietjie daarmee wil spog. “Petrus sê toe vir Hom: "Kyk, óns het alles verlaat en ons volg U." (28) Dis asof hy wil sê, “Here neem asseblief net kennis, ons het alles opgeoffer om U te volg, wat sal ons beloning wees? Watse voordele gaan ons kry? Ons het gedoen waarvoor die ryk jongman nie kans gesien het nie” Jesus se antwoord sou ‘n baie insiggewende perspektief gee...
Kom ons vra net weer die vraag. Is die evangelie relevant? Maak dit ‘n positiewe verskil? Antwoord : JA! Hoekom?
Die evangelie is relevant in die eerste plek omdat ons sondaars is. Ons sonde is ons grootste probleem al besef ons dit nie, want ons sonde maak skeiding tussen ons en God en as daar nie iets aan gedoen word nie sal dit ewige finale skeiding (in die hel) bring. Dit was juis die ryk jongman se probleem. Hy het nie besef dat hy regtig ‘n sondaar was nie. Hy het uiterlik ‘n mooi lewe gehad- hy het nie egbreuk of moord gepleeg nie en ook nie gesteel nie... Maar intussen is sy lewe deur gierigheid oorheers. En toe Jesus hom uitnooi om Hom te volg en teen sy sonde van gierigheid te kies was hy nie bereid nie en moes teleurgesteld weggaan van Jesus. (22) So het hy die vergifnis en verlossing in Jesus misgeloop.
Goeie mense sonder Jesus is nog steeds verlore!
Die voordeel en relevansie van die evangelie is dat dit vergifnis en verlossing bring, vir die wat tot geloof en bekering kom. Jesus is die enigste oplossing vir ons sondenood en slawerny! En al word ons geknel deur droogte, al druk die skoen van finansiële verpligtinge en al mergel een of ander siekte ons uit – ons grootste las is ons sondelas en net Jesus kan ons van hierdie las bevry. Droogte is erg, maar dit kan ons nie uit die hemel hou nie, finansiële probleme is bitterlik swaar, maar dit kan ons nie uit die koninkryk weer nie, siekte is pynlik en vernietigend, maar weereens dit kan ons nie van God se liefde skei nie! Dis net sonde wat kan maak dat ons vir ewig in die buitenste duisternis sal beland, en dis hiervoor wat Jesus gekom het. Ons lees gelukkig van ‘n ander ryk man wat wel bereid was om Jesus in sy lewe te ontvang, Saggeus! Hy het bevryding gekry van sy gierigheid en bedrog. Dit het bewys dat niks vir God onmoontlik is nie. “Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom." Dit het hulle geweldig ontstel en hulle het vir mekaar gesê: "Wie kan dan gered word?" Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: "Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik." (25-27) Vergifnis van sonde en die herstel van ons verhouding met God is die groot voordeel van die evangelie!
Maar daar is ook ander "voordele". Kyk weer na 29-30. “Jesus antwoord: "Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie, of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe.”
Jesus sê in effek : Ja, mens verloor inderdaad baie om my te volg. Jy kan familie verloor (en ons weet dit gebeur, mense se familie draai teen hulle as hulle Jesus werklik wil dien), jy kan besittings verloor. (ons weet dit gebeur dat as mense eerlik in gehoorsaamheid wil leef dat hulle finansiële verliese ly) En tog gee die Here vir ons soveel meer seëninge. Moenie dt verkeerd verstaan nie, dit betken nie as jy Jesus begin volg gaan jy nou skielik 'n eiendomsmagnaat word nie! Nee, dit gaan oor Vaderlike seëninge binne die konteks van die Nuwe Verbond soos die Here dit wil geen en nodig mag ag. Dit gebeur veral binne die heerlike gemeenskap van gelowges. Dit kan wees in die vorm van geestelike broers en susters wat nader aan ons is as ons eie bloedfamilie. Geestelike tuistes! Natuurlik, die Here voorsien ook op wonderlike maniere in ons materiële behoeftes soos HY wil. Die punt wat Jesus wil maak is, nou reeds in hierdie lewe wen julle baie meer as wat julle ter wille van My verloor het! Maar dan voeg Hy onmiddellik by – “saam met baie vervolging.” In hierdie lewe sal die kind van God nooit net seëninge kry nie, vervolging en swaarkry ter wille van Jesus is onmisbaar deel van die pakket. Elke kind van God sal vervolging beleef – hetsy beledigings, valse beskuldigings, verwerping ... (2 Tim 3:12) In die bedeling wat kom, in die hiernamaals kry ons die ewige lewe. In hierdie lewe is die kind van God se seëninge altyd gemeng met swaarkry, maar in die toekomstige bedeling wag daar vir ons net seëninge. Anders gesê, nou is ons deel van die strydende kerk, eendag deel van die triomferende kerk!
Nou bring die evangelie voordele gemeng met nadele, eendag sal dit net ewige voordeel wees!
Net ‘n slotwoord. Wat beteken vers 31? “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste." Dis moontlik ‘n subtiele berisping van Petrus. Jesus het dalk so ‘n tikkie selfvoldaanheid, ‘n bietjie gespog by Petrus opgetel. “Here, U moet darem net kennis neem ons het als verlaat ter wille van U, ons is darem oraait of hoe?” Jesus wil vir hom sê: “Onthou Petrus dis alles nog steeds net genade, die feit dat julle My volg is net genade. Moenie op julleself en julle goedheid vertrou nie. Ook julle wat My volg verdien niks nie. Moenie spesiale behandeling verwag nie. Alles, alles is genade, daarom is daar ook hoop vir laastes!” Ja, vir mense soos die ryk jongman is daar steeds hoop as hulle hulle bekeer en Jesus begin volg...