BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket heilige vuur (okoruwo). Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket heilige vuur (okoruwo). Wys alle plasings

Woensdag 23 Augustus 2017

DOMINEE SOEKMAN

- ‘n bediening aan die “ander kant”


Helder klink die sang van Opuwa se koor in Otjiherero, Engels en Afrikaans. Gesigte wat straal van God se liefde. Ons is ‘n hele bonte verskeidenheid hier bymekaar in die nederige kerkgeboutjie van Kamanjab in die noordweste van ons pragtige land Namibië – Afrikaners, Himbas, Herero’s, maar ook Hai//om, Kxoe en !Xu. Die NGKN se Noordering het op Kamanjab vergader en op Sondag 20 Augustus 2017 kom ons bymekaar vir ‘n nagmaalsdiens. Dis egter meer as net ‘n gewone nagmaal, dis ook die geleentheid waartydens ds. Jacob Schoeman, een van die Kaokoland pioniers in die sendingwerk van die NGKN amptelik sy demissie ontvang, nadat hy reeds vroeër vanjaar afgetree het. Sy bedieningstyd het ook die gevaarlike jare van die Bosoorlog ingesluit.


[Ds. Schoeman het onder andere van hierdie "SPOOK" gebruik gemaak tydens die oorlog, want landmyne was 'n wesentlike gevaar.]

Ds. Schoeman (in Kaokoland ook soms genoem ds. Soekman) lewer ‘n besondere preek met die tema afkomstig uit Markus 4:35 waar Jesus vir sy dissipels sê : "Laat ons oorvaar na die ander kant.” Jesus het tot op hierdie stadium ‘n suksesvolle bediening in die Joodse gebied wes van die See van Galilea gehad, maar nou gaan Hy na die heidense gebied oos van die meer. Van hierdie kant na die ander kant… Aan die ander kant het heiden nasies gewoon wat met varke geboer het… Hierdie eerste besoek lewer nie veel op nie. Slegs een man word aangeraak, maar dis ‘n besondere bekeerling, die besetene van Gadara wat bevry is! Later keer Jesus weer terug na hierdie gebied en het sy bediening ‘n groot impak. (Markus 8) Ons word geroep om grense oor te steek na mense wat anders lyk en doen en dink as ons. Wanneer ons na die “anderkant” gaan is Jesus met ons! Ds. Schoeman vertel so tussen deur van hoe die Here hulle gelei en beskerm het, ja ook deur die tyd van die oorlog. Hy beklemtoon dat hyself nie veel gedoen het nie, maar eintlik maar net ‘n getuie was van dit wat God vermag het. ‘n Pragtige voorbeeld van uitreik na die “ander kant” was hulle toenadering tot die sinkretistiese Oruuano kerk, wat die voorvadergeeste en heilige vuur (okoruwo) akkommodeer. Toe die bekende Oruuano profeet Kanambunga (Katjovikuapa) tot sterwe kom is ds. Schoeman gevra om ‘n boodskap te lewer. Die Here het Deuteronomium 18 op sy hart gelê waaruit hy die bedroefde mense kon vertel dat die groot profeet wat deur God belowe is gekom het, Jesus Christus! Dit het daartoe gelei dat biskop Kamburona versoek het dat sy mense opleiding moes ontvang. Dit het toe gebeur by die Windhoek Teologiese Seminarie (waarby my vader ook betrokke was) en later NETS.

Ja, die vertelling oor Kaokoland en die werk daar raak my ook op ‘n persoonlike vlak. My vader, Johan de Koning was op ‘n tyd ‘n dosent by Orumana in Kaokoland nog voor ds. Schoeman se koms na hierdie gebied en het ook vir baie jare nou saam met hom gewerk. Dit het my later ook bygeval dat ds. Schoeman die preek gelewer het op Pa se “aftree” geleentheid te Meersig gemeente in Walvisbaai op 21 September 2003. As jong man kon ek ook iets beleef van ds. Schoeman se toewyding en omstandighede toe ek en van my studente vriende soos Charl van Niekerk, Sas Conradie, Pierre van der Merwe en Christo Heiberg saam met hom in Kaokoland gewerk het.

Dit was vir my lekker om op Kamanjab deel te wees van die NG Kerk. Onder andere was dit heerlik om van ds. Erik van Zyl, ds. Schoeman se opvolger te hoor van die wonders wat God tans nog in Kaokoland doen. Ek is lief vir hierdie NG Kerk, die kerk wat ten spyte van baie foute die ware evangelie van die verlossing van sondaars deur Jesus Christus verkondig het sodat ons weer op ‘n Sondagoggend op Kamanjab die vrug daarvan kon sien.

Dr. Jan Woest het vir ons tydens die ringsitting prontuit gesê : “Die NG Kerk is ernstig siek.” Ek stem heelhartig saam. Maar hierdie kerk kan weer gesond word as sy haar tot die Here bekeer en weer haar eerste liefde begin uitleef. Sy sal gesond word as sy weer die waarheid tot redding aanneem en die dwaling verwerp wat ongelukkig tans openlik geduld en selfs gepropageer word. Sy sal gesond word as sy ophou luister na mense, die humanistiese agenda en die postmodernistiese tydsgees van relativisme, maar eerder eerlik vra : “Wat wil God hê moet ons doen?” Sy sal herstel en vernuwing ondervind as ons ophou om filosofies oor God te praat en meer met Hom praat en onsself voor Hom verootmoedig. By God is alle dinge moontlik! Hy kan ons ook opnuut bekragtig met sy Gees om duskant en anderkant die Blye Boodskap uit te dra!


[NG Sendelinge in die ou Suidwes. Ds. Schoeman is voor heel links.]



[Ds. Jacob Schoeman op Kamanjab tydens die ontvangs van sy demissie.]


[Ek saam met twee Kaokoland veterane, di. Sarel Visser en Jason Ngambue.]


[Koorlede van Opuwa in Kamanjab se kerkgebou.]


[Op pad na Kamanjab op die Otavi-Outjo grondpad, haal my mede afgevaardigde van Tsumeb, Andries Gous eers iets uit om die innerlike mee te versterk.]

Dinsdag 27 Mei 2014

KRAG IN KAOKOLAND

- ons beleef heerlike verrassings van God se kragtige genade.



‘n Man wat sy stoel vir kilometers dra om ‘n Sondagdiens te kan bywoon... Dis maar een voorbeeld van God se verrassende genadekrag wat ons groepie tydens ons afgelope 4x4 manne uitstappie in Kaokoland beleef het.

Eintlik het die verrassings vir my al Vrydagoggend begin toe ek moes ontdek dat Roelf van Tonder, wat vir ons reëlings verantwoordelik was, se swaer, Mario van Vuuren ‘n ou skoolkennis van my is vir wie ek meer as dertig jaar gelede gesien het. Dit was aangenaam om baie jare te kon invul... Op pad na Kaokoland via Ovamboland het ons ook vlugtig aangedoen by Olukonda, waar mens die bewyse van God se krag weer op ‘n ander manier kon sien in die reusewerk wat die Finse pioniersendeling, Martin Rautanen onder moeilike omstandighede vir God se Koninkryk gedoen het. Wat anders as die krag van God stel iemand in staat om soveel offers te bring? Die vier kinder graffies* langs sy eie een is ‘n stil maar kragtige getuienis, dat niks, ook geen smart en verlies God se werk op aarde sal stuit en sy Koninkryk sal kan kelder nie.



Op die polsende Opuwa (met sy bedrywige mengsel van kulture) het ons vir ds. Erik van Zyl en hoofman Jan Kasupi gekry en daarvan die pad gevat na Etanga. Die son het toe vinnig gesak en net buite Etanga het ons die eerste nag in ‘n rivierbedding ons kamp opgeslaan.

[Ds. Erik van Zyl en Hoofman Jan Kasupi]

Die geskraapte pad hou by Etanga op. Die volgende dag kon die manne hulle viertrekvoertuie behoorlik toets oor die bergpaadjie na Ondije. Dis ‘n pad wat deur die Himbas self gebou is. Almal en alles (ook nog 18 sakke sement) is darem uiteindelik veilig oor die berg. Die sement is by Ondije se besondere klipkerkie gestoor. Dit gaan gebruik word om die binnekant te pleister omdat die slange baie pla. Ons moes juis hoor van ‘n sebraslang en ‘n ander slang (“met twee skerp kante” -?) wat daar doodgemaak is!



In die Omaravarava vlakte het ons weer kamp opgeslaan. (Andre Barnard, baie dankie vir daai puik stort!) Die aand is die Jesus film gewys en sommige Himbas het sommer net daar waar hulle gekyk het oornag. Hulle het ook versoek dat die Woord aan hulle na die tyd gebring moes word, want hulle sou nie die volgende dag se diens op Ondije kon bywoon nie. Die volgende Sondag oggend voor ons vertrek is die Woord weer gebring. Dis duidelik dat God in hierdie gemeenskap werk. Hierdie openheid vir die Woord is ‘n bewys van die werking van God se Gees. Dis beslis nie orals in Kaokoland die geval nie, dis heerlik en uniek!



Die kerkdiens op Ondije was iets besonders vir die manne wat saam was. Die sang en musiek (wat deur ‘n jong kind op ‘n waterkan voortgeslaan is) was besonders. Dit was my voorreg om die boodskap uit Romeine 1:16 te bring, oor die evangelie as die krag van God! Na die tyd het die aanwesiges die geleentheid gehad om iets sê. Twee manne het hulle dank uitgespreek. Daarna het ‘n meisie ‘n getuienis gelewer en ander uitgedaag om hulle ook te bekeer. ‘n Jong seun, Yakutwa Tjavara het opgestaan as teken dat hy ook Jesus wil volg. Na die diens het ds. Erik en Jan met hom ‘n gesprek gevoer. Hy het gebid en die Here gevra dat sy lewe vrug mag dra.

Ds. Erik het deurentyd wonderlike verhale van God se genade vertel en ons aan Himba Christene voorgestel. Stralende gesigte het van verlossing en die blydskap in die Here getuig. Ook Jan het sy getuienis met ons gedeel van die pad wat God al vir jare met hom loop. Ja,op soveel maniere bewys God sy krag en genade. Jan het al baie wel en weë beleef en selfs sy een vingerpunt in ‘n worsteling met ‘n leeu verloor!



Die terugpad via ‘n ander roete het weer vir ‘n goeie 4x4 ervaring gesorg. Die blywende indruk was egter nie bloot die bestyging van klipperige bergpaadjies nie, maar hoe God alles beheer tot sy eer te midde van die lewe se af en opdraendes. Die laaste oggend, kort voor ons vertrek het ‘n Himba man en vrou op donkies by ons kampplek in die rivierbedding opgedaag en selfs hulle het ‘n begeerte gehad om God se Woord te hoor! ‘n Kort boodskap is ook toe met hulle gedeel.


[Selfs hierdie kinders in 'n afgeleë gebied dra nou Westerse klere.]

Mense het baie illusies oor Kaokoland. Pasop maar daarvoor. Diegene wat die Himbas as lewende kuriositeite beskou en so wil behou gaan teleurgesteld wees. Die tradisionele leefwyse en kleredrag is reeds ingrypend deur die Westerse leefstyl (en euwels) verander. Ekologies gaan dit ook nie goed in Kaokoland nie. Daar is skrikwekkende erosie en oorbenutting van natuurlike hulpbronne. Dis hartseer om te sien hoe die skepping vernietig word. As jy egter ‘n hart het vir God en graag eerstehands wil beleef hoe Hy Homself aan eenvoudige mense openbaar is hierdie deel van ons land voorwaar ‘n skatkamer van ondervindings. Dalk lei God jou om self ook hierby betrokke te raak...



In die land van die heilige vuur (die heidense "okoruwo") brand die vuur van God se Gees in mense se harte!


*Hulle het ses van hul nege kinders vroeg aan die dood afgestaan.