BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Selfdegeslagverhoudings. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Selfdegeslagverhoudings. Wys alle plasings

Maandag 21 Maart 2022

DEURBRAAK BY SINODE

Die sinode van die NGK in Namibië het op haar vergadering van 17-19 Maart 2022 te Windhoek wat gehou is in die NGK Pionierspark 'n baie drastiese besluit aanvaar. Dit kom neer op 'n baie duidelike standpunt teen die dwalinge van die Algemene Sinode van die NGK, terwyl daar gepoog word om nog 'n geleentheid tot bekering te gee.



VOORSTEL

Die voorstel wat met 'n groot meerderheid (70-14) aanvaar is lui as volg

T.o.v. die Sinode se handeling i.t.v. Kerkorde Artikel 37 (losmaking van die Algemene Sinode), word die volgende besluit:

1. Die Sinode maak sy voorneme bekend om die Jesus-pad van Matteus 18:15-20 met die Algemene Sinode end-uit te stap tot die mate dat uit die band met die Algemene Sinode getree word op grond van Artikel 37. Die nuwe moderamen ontvang die opdrag om hierdie voorneme aan die ASM te kommunikeer. 

2. Om so ‘n stap voor God in die lig van sy Woord te regverdig op grond van: 

2.1 die teleurstelling in die Algemene Sinode 2019 se besluit oor Selfdegeslagverhoudings; 

2.2 die onvoldoende kerklike opsig en tug van die Algemene Sinode ten opsigte van teologiese opleiding aan NG Kerk geakkrediteerde opleidingsinstellings; 

2.3 die gevolglike wantroue wat die verhouding met die Algemene Sinode kenmerk. 

3. Nooi die ander deelnemende Streeksinodes uit om saam met die Namibiese sinode hierdie pad van kerklike dissipline met die Algemene Sinode te stap en hulle op te roep tot ‘n berouvolle en hartgrondige bekering. 

4. Die Algemene Sinode word gevra om skriftelik hierop te antwoord. 

5. Stel die volgende dokumente voor as getuienis en werksdokumente vir die Jesus-pad van Matteus 18 met die Algemene Sinode: 

5.1 Namibiese Sinode Getuienis oor Selfde Geslagverhoudings (2016); 

5.2 Namibiese Sinode Getuienis oor Skrifinterpretasie en -gesag (2016); 

5.3 Besluit van Namibiese Taakspan Teologiese Vorming t o v dosente en fasiliteerders aan opleidingsinstellings (2022). 

6. Die besluit word van krag wanneer die volgende prosesse - nie later as einde November 2022 - afgehandel is: 

6.1 Uitklaring van regskwessies rakende artikel 37 

6.2 Uitklaring rakende ‘n kerkordelike herindeling van gemeentes van die NGK 

6.3 Uitklaring rakende toekomstige teologiese opleiding. 

6.4 Uitklaring rakende finansiële kompensasie vanaf AS 

6.5 Deeglike kommunikasie met gemeentes om hulle te betrek in die besluit en onderskeie prosesse. 

7. ‘n Ad-hoc taakspan in samewerking met die Moderamen rapporteer by wyse van ‘n verslag, wat teen einde November 2022 voor die Namibiese moderamen dien, dat bogenoemde prosesse afgehandel is en met verdere proses-voorstelle. 8. Hierdie taakspan sal bestaan uit die volgende lede: Dubois du Toit, De Wet Strauss, Willem Burger, Kenneth McKenzie, Zack Pienaar, Christo van Heerden en twee addisionele lede van die nuut-verkose Moderamen.

PERSVERKLARING

Na die vergadering is daar ook 'n persverklaring uitgereik, wat die besluit soos volg verduidelik :

Namibiese sinode Persverklaring insake Artikel 37 voorneme: 

Die Namibiese sinode is van voorneme om die pad van kerklike tug en dissipline met die Algemene Sinode te stap soos uitgespel in Jesus se woorde in Matteus 18:15-17. 

Die Namibiese sinode oordeel dat die Algemene Sinode nie die breë kerk met kerklike leierskap gedien het nie. 

Indien die pad van tug en dissipline nie binne die volgende ses maande uitloop op ‘n vaste voorneme om bepaalde besluite van die Algemene Sinode te herroep nie, sal die Namibiese Sinode haar band met die Algemene Sinode losmaak. In kerkorde taal word daarna verwys as die Artikel 37-proses. 

Die Namibiese Sinode wys veral op die besluite oor selfdegeslagverhoudings en die bestuur van teologiese opleiding aan die fakulteite wat die kerk toenemend vervreem. 

Die Namibiese Sinode sal in die komende maande hulle NG gemeentes betrek en toelig in die verskillende prosesse wat hierdie ingrypende optrede tot gevolg het. 

Namibië vertrou dat die Algemene Sinode begrip sal toon en tot inkeer sal kom. 

Die Namibiese Sinode nooi ook ander streeksinodes uit om deel te neem aan hierdie proses en ontmoeting met verteenwoordigers van die Algemene Sinode.

OPMERKINGS (myne)

Dis 'n geweldige deurbraak waarvoor ons inderdaad God alleen voor dankbaar moet wees. Vir die eerste keer in 'n lang tyd kan gelowiges moed skep uit 'n besluit wat 'n sinode geneem het om op te staan teen dwaling en misleiding. Dit het harde werk gekos (baie dankie Dubois du Toit), maar daar was baie gebede. Die besluit is geneem eers na 'n lang en baie taai debat. So 'n groot meerderheid is beslis nie verwag nie.Tog moet ons ook besef dat die eintlike harde werk nou voorlê en dat die taakspan wat hiermee gemoeid gaan wees ons VOORBIDDING uiters nodig gaan hê. Die duiwel is uiteraard nie gelukkig met hierdie sterk evangeliese besluit nie - hy gaan hard brul en onmin probeer saai!


Belangrike dokument - daar is ook 'n andere besondere dokument op die sinode as werksdokument aanvaar. Kliek op SELIBAATSKAP



Dinsdag 14 September 2021

NG Kerk Tsumeb doleer!


Die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb het op sy vergadering van 13 September 2021 eenparig besluit om te doleer deur middel van die onderstaande verklaring:

NG Kerk Tsumeb doleer.

Die NG Kerk Tsumeb se kerkraad gee hiermee kennis aan die ring van die Noorde, die moderatuur van die NGKN en die NGK in breër verband dat ons formeel doleer (treur) en voortaan amptelik bekend sal staan as die NG Kerk Tsumeb (dolerend). Hierdie is nie ‘n ligtelike stap nie en moet verstaan word teen die agtergrond van die Sola Scriptura verklaring wat reeds in 2019 deur hierdie kerkraad en leraar goedgekeur is. (Sien Bylaag A)


Ons mag nie meer stilbly nie.

Om te treur oor die benarde toestand van God se volk is ‘n handeling wat duidelik in die Skrif gefundeer is. Twee bekende voorbeelde van sodanige treur oor die vervalle toestand van God se kerk is te vinde by  Esra en Daniël. (Esra 9:3; Daniël 9:3) Ons neem die besluit tot dolering (treur) met volle bewustheid van ons eie gebrokenheid en tekortkominge as gemeente van ons Here Jesus. Tog mag ons nie stilbly oor die dwalinge wat in ons kerkverband gepropageer en geduld word nie, want :

Ons het Jesus lief en as ons Hom lief het moet ons sy opdragte uitvoer.  (Johannes 14:15)

Ons as gemeente het ‘n verantwoordelikheid ten opsigte van die beskerming van die waarheid. “Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid.” (1 Timoteus 3:15)

Ons besef die gevaar van valse lering wat in die kerk geduld word. Dit vernietig mense se geloof. (2 Timoteus 2:18)

Ons vrees nie mense nie, maar God wat beide siel en liggaam in die hel kan werp. (Matteus 10:28)

Ons mag nie skaam wees om Jesus te bely voor die mense nie, al is ons uit pas met die tydsgees.  (Matteus 10:32,33)

Ons sou dwaas wees om dinge te doen of goed te keur wat God se toorn opwek. (Romeine 1:18-32)

Ons verstaan van ware liefde is juis om medegelowiges teen dwaling te beskerm en dwalendes tot bekering op te roep. (Galasiërs brief)

Ons leer uit die Skrif dat dit gemeentes se plig is om alle kompromie met dwaling en sedeloosheid te vermy en aan te spreek. (Openbaring 2:1-3:21)

Waaroor treur ons?

Ons treur oor die Algemene Sinode wat vir jare reeds ’n stelselmatige, doelgerigte afwatering, ontheiliging  en minagting van God se Woord aanvoor en toelaat.  Dit het gekulmineer in (maar is nie beperk tot) die onhoudbare besluite van die AS 2019 wat selfdegeslagverbintenisse nie net goedkeur nie, maar ook voorsiening maak dat dit kerklik geseën kan word.

Ons treur oor die toelating van leerdwaling in die NGK en die Teologiese fakulteite waar voornemende leraars van ons kerk opgelei word. (Voorbeelde hiervan is die ontkenning van Jesus se liggaamlike historiese opstanding en ‘n radikale feministiese teologie wat daartoe aanleiding gee dat God met vroulike terme aangespreek word.)

Ons treur ook omdat NGKN (of ons dit wil weet of nie) geassosieer word met die dwalende AS en NGK in Suid-Afrika ten spyte daarvan dat daar reeds by die NGKN sinode van 2016 ‘n sterk gevoel was ten gunste van afskeiding van die AS. 

Ons treur omdat die NGKN se leierskap skynbaar nie ons bekommernisse, angs en getuienis oor die verval in ons kerk  kan begryp nie. (So is daar geweier om Sola Scriptura se verklaring in reaksie op die AS 2019 se besluite oor selfdegeslagverhoudings in die Feldmuis te plaas ten spyte daarvan dat ‘n beduidende aantal bedienaars van die Woord in die NGKN dit onderteken het.)

Die doel van ons treur.

Met ons dolering wil ons die hartseer vervalle toestand van ons dierbare NGK onder die aandag bring van almal wat belang het by die welstand van die kerk van Christus ter wille van die eer van God.

Deur ons openbare treur distansieer ons onsself van die leerdwaling wat tans in ons kerkverband geleer en geduld word.

Ons wil hierdeur die NGK as geheel en sy onderskeie vergaderings soos die AS tot bekering oproep. Bekering terug na God en sy Woord.

Ons wil op so ‘n wyse weereens by die NGKN pleit om so gou moontlik die bande met die AS te verbreek op grond van Artikel 37 in die Kerkorde.

Deur ons getuienis wil ons ook ander gelowiges aanmoedig om op te staan vir die waarheid en die eer van God.

Ten slotte

Ons besef natuurlik dat verootmoediging en bekering eerstens by onsself moet begin. Dit mag ons egter nie keer om ook die wyer kerkverband tot berou en bekering op te roep nie.

Dolering is vir ons ‘n eerste stap. As bekering by ons kerkverband wegbly sal ons indringend na alternatiewe wyses van optrede en kerkwees in die praktyk moet kyk.

Goedgekeur deur die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb (dolerend) op sy vergadering van 13 September 2021

Voorsitter : Herman Fuls

Skriba : Ria Struwig              

Leraar : Johannes de Koning

 

 

 

 

BYLAAG A VERKLARING 2019

 

Dit is met groot hartseer, verslaendheid en gebrokenheid voor God dat ons, as leraars van die NG kerk in Namibië, kennis geneem het van die Algemene Sinode van die NG Kerk se besluit (Benoni, 8 Oktober 2019) wat ruimte maak vir selfdegeslagverhoudings en selfdegeslagverbintenisse in die kerk. Ons is van mening dat dit nie ʼn besluit is wat deur die Heilige Gees bepaal is nie, maar eerder deur die heersende sekulêre humanistiese tydgees. 

 

Ons betreur hierdie besluit ten diepste as in stryd met God se Woord en dus as ’n minagting van die gesag van God se Woord. Dit is genadeloos en liefdeloos, omdat die Sinode met hierdie besluit sekere sondaars (1 Korintiërs 6:9 -10) ontsondig en vryspreek. Dit los hulle onder die toorn van God (Johannes 3:36; Romeine 1:18) en weerhou hul die geleentheid om God se genade te ervaar. Hierdeur word hulle die voorreg ontneem om deur geloof in Christus Jesus vrygespreek en vrygemaak te word van die sonde van homoseksualiteit (1 Korintiërs 6:11). 

 

Ons doen hierdie verklaring met ’n besef van ons eie gebrokenheid en worstelstryd teen sonde en met die vaste wete dat net die vryspraak van Christus ons red. Ons is oortuig dat homoseksualiteit, soos enige ander sonde, siekte, lyding en onvolkomenheid, die gevolg is van die gebrokenheid wat met die sondeval in die wêreld gekom het. Ons wil daarom medegelowiges wat worstel met hul homoseksuele oriëntasie, in liefde vashou en begelei om hul Godgegewe roeping as kinders van God uit te leef. Ware lewensvervulling as kind van God word immers nie gevind in die uitleef van enige seksuele oriëntasie nie, maar in gehoorsaamheid aan my Goddelike roeping en in die uitleef van my identiteit in Christus: 

 

· Ons glo heelhartig dat, in ons nadenke oor selfdegeslagverhoudings, ons alleen die Woord van God as ons vertrekpunt en finale gesagvolle bron kan gebruik om God se wil te onderskei. Die Woord, en nie die jongste navorsing uit die vloeibare menswetenskappe nie, het altyd die laaste woord te spreek. 

 

· Ons glo heelhartig dat die Bybel ons leer dat die huwelik tussen een man en een vrou, saamgebind deur die liefde van Christus, ’n lewenslange verbintenis is en God se wil vir sy kerk is. Dit is ook die enigste wyse waarop ’n Christelike huwelik tot stand kan kom. 

 

· Ons glo heelhartig dat die Bybel alle seksuele verhoudings buite die huwelik as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. 

 

· Ons glo heelhartig dat die Bybel alle homoseksuele dade in die sterkste sin as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. Soos met alle ander sonde, is daar ook vir die sonde van homoseksuele dade vergifnis en vrymaking moontlik deur die krag van die bloed van Christus. 

 

· Ons glo heelhartig dat die integriteit, geloofwaardigheid en heiligheid van die kerk van Christus op die spel is wanneer mense wat bely dat hulle Christene is, terselfdertyd ook volhard in ’n lewenswyse van homoseksuele dade. Sodanige homoseksuele lewenswyse, soos trouens met volharding in enige ander sonde soos beskryf in 1 Korintiërs 6:9-11, diskwalifiseer sulke persone vir enige ampte in die kerk van Christus, sowel as vir die Koninkryk van God. 

 

· Ons bely en erken die menswaardigheid van alle mense voor God, omdat alle mense geskep is na die beeld van God en Jesus Christus vir alle mense gesterf het. Daarom staan ons deure en harte oop om met die deernis en liefde van Christus, alle sondaars, ongeag hul seksuele oriëntasie, te verwelkom, te bedien en pastoraal te begelei met die evangelie van liefde in Christus Jesus. 

 

Gedring deur Christus se liefde, moet ons mekaar se sonde ernstig opneem, sodat ook in die NG kerk ons op geen ander plek skuiling sal soek as in die vryspraak en bloed van Jesus Christus nie. In Christus wag die oorwinnaarskroon anderkant die graf en sal ons aardse stryd teen sonde vir ewig verby wees. 

 


Maandag 04 November 2019

SAAM OP REIS?

So dikwels moet ons hoor : “Moenie sê dis reg of verkeerd nie, moenie verdelende standpunte stel nie, kom ons reis eerder saam op soek na die waarheid!” Byvoorbeeld: “Kom ons doen studie oor die bestaan van die duiwel. Kom ons doen nog verdere studie oor die wese van die huwelik...” En ons weet daar is selfs ook deesdae vrae by baie teoloë oor die uniekheid van Jesus as enigste Middelaar en die feit van die opstanding. 


PASOP VIR HIERDIE REIS!

Hierdie versoek tot saamreis klink so vroom en nederig. Maar kom ons bekyk dit bietjie van nader... Hierdie reis van die liberalisme is ‘n gedoemde reis. 



Dis ‘n reis wat onvermydelik eindig in sinkretisme, agnostisisme en ateïsme. 



Hierdie reis maak dat baie mense reeds hulle respek vir die NGK op groot skaal verloor het. Een voorbeeld: Hierdie reis het al veroorsaak dat ons NG studente gemeentes bykans leeggeloop het en ons eie gelowige kinders na ander denominasies gaan om 'n geestelike tuiste te soek. 

Die reis van die liberale agenda is ‘n reis van swerwers sonder rigting en soekers wat nooit vind... Hierdie reis geskied op ‘n afdraaipad na die dood. Hierdie reisigers het die smal pad van die lewe verloor... 

Ek wonder, waarheen wil die liberaliste in die NGK heen reis? Na watter waarheid wil hulle soek? 

Vir 2000 jaar bely die kerk van Jesus, dat Jesus Christus die Seun van God is, wat vlees geword het en dat Hy alleen die weg, die waarheid en die lewe is. Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! 

Vir 2000 jaar bely die kerk dat Jesus, deur sy kruis en opstanding Satan, sonde, dood en hel oorwin het. Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! 

Vir 2000 jaar weet die kerk dat daar ‘n duiwel bestaan, maar gelukkig ook dat Hy op Golgota die onderspit gedelf het en dat die poel van vuur vir hom en sy meelopers wag. Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! 

Vir 2000 jaar bely die kerk dat Jesus, liggaamlik en histories opgestaan het en dat sy graf leeg is. Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! 

EN JA! JA! Vir 2000 verstaan die kerk dat ‘n huwelik die vaste verbintenis is tussen een man en een vrou. Dat die huwelik ‘n Goddelike instelling is wat die besondere band tussen Jesus as Bruidegom en die kerk as bruid uitbeeld! Weereens, Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! (Veral nie na BENONI toe nie!)

DIE REIS NA SION!

Maar natuurlik is God se kinders wel op reis. Ons reis juis met die waarheid as vertrekpunt. Ons reis nie omdat ons nog na die waarheid soek nie, maar juis omdat ons die waarheid het. Omdat Jesus Homself deur sy Woord en Sy Gees aan ons uit genade geopenbaar het! Ons reis, ja. 

Dis die pelgrimsreis van volharding waarvan John Bunyan so duidelik skryf in sy PELGRIM SE REIS NA DIE EWIGHEID. Dis die reis na die ewige stad Sion waar daar geen sonde, trane en dood meer sal wees nie! Op hierdie reis het ons inderdaad broers en susters, medereisigers nodig wat ons bemoedig, vermaan, ophelp as ons geval het en reghelp as ons verdwaal het. Maar ons hoef nie te soek na die waarheid nie, ons het die sleutel van die waarheid wat die seldeur in die donkerste ondergrondse kerker van die kasteel vertwyfeling kan oopsluit . So ontglip ons die martelings van die Reus Wanhoop en kry ons weer nuwe HOOP! 

Sterkte vir jou, my broer en suster vir die reis van volharding in die navolging van Jesus!





'n Tipiese voorbeeld na waarheen hierdie reis van die liberalisme mens neem, sien ons nou by die Universiteit van Pretoria se Fakulteit vir Teologie en Religie. Die studentekomitee het 'n nuwe embleem vir hulleself aanvaar. (Die studente groep)



Let wel dis nie die fakulteit self se embleem nie, maar die studente komitee s'n. Nietemin is dit 'n duidelike aanduiding van die teologiese klimaat en denkstrome op ons teologiese fakulteite. Prof. Ernest van Eck, die vise-dekaan het wel sy kommer gelug oor die reaksie wat hierdie embleem op sosiale media veroorsaak het en sou met die studente daaroor in gesprek gaan.








Woensdag 09 Oktober 2019

DIE ALGEMENE SINODE 2019


se besluit oor SELFDEGESLAGVERHOUDINGS (sien onderaan) is ‘n meesterlike voorbeeld van kwalik bedekte oëverblindery, slinkse sagmaak tegniek en eintlik niks anders as verbale diarree nie! ‘n Teologiese maagwerksel wat erg aansteeklik is en tot ‘n epidemie van die dood gaan aanleiding gee! 



Die besluit klink so mooi en versoenend (want die behoudende lidmate moet gepaai word), maar kyk jy mooi is hier ‘n vrypas vir die legitimasie van aktiewe homoseksuele en terstond beoefenaars van bykans enige seksuele afwyking en vergrype. Solank dit in “integriteit” gedoen word! Hoe word dit bepaal? En deur wie? ‘n Saamblyer, poligamis of biseksueel wat in sogenaamde “integriteit” lewe met al sy aanhangsels sal dus ook predikant kan word! 

Daar word slegs die illusie van gesprekvoering en verdraagsaamheid geskep, want die opdrag word reeds aan ATLAS gegee om ‘n “kerklike formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.” Ons praat nog, maar ons maak solank ‘n formulier om sonde amptelik te seën! En let op hulle kies hulle woorde mooi. Nogal “burgerlike verbintenisse”. Hierdie term word weereens as kompromis gebruik om die behoudendes te paai. Hulle noem dit nie nou al ‘n “huwelik” nie. Dis uiterste skynheilige bedrog! Sommige predikante het alreeds “huwelike” bevestig tussen homoseksuele en daar word nie teen hulle opgetree nie. 

Die besluit wil maar net die Bybelgetroue lidmate tydelik paai om ‘n massa uittog uit die kerk te probeer verhoed. Die taktiek is duidelik om te probeer tyd koop om die onrustige lidmate mettertyd te oortuig om nie meer die Bybel te glo en God se standaarde te handhaaf nie! En diegene wat uiteindelik nie gaan saamloop nie, sal aktief vervolg word. “Mark my words!” 

Ekself glo dat daar inderdaad in liefde en deernis met alle mense omgegaan moet word wat stry teen die sonde en in gebrokenheid voor die Here die pad van heiligmaking wil stap. Dit sluit homoseksuele in... Hierdie besluit van die AS gaan egter nie daaroor nie, maar is ‘n slinkse plan om sonde te sanksioneer en uiteindelik die regverdiges te vervolg. 

Die Algemene Sinode het ‘n wolweskuilplek geword. Polities korrek, maar teologies verward. Die skape van Jesus moet hiervan kennis neem en die pad vorentoe loop met slangversigtigheid en duifopregtheid, anders gaan ons onkant gevang en opgevreet word! (Matteus 10:16) 


Selfdegeslagverhoudings

1. Die Algemene Sinode neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot vasgelooptheid gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is.
2. Die Algemene Sinode bely egter dat die eenheid van die kerk gefundeer is in ’n eenheid met Christus en die belydenisgrondslag, en dat hierdie eenheid nie verbrokkel wanneer daar oor Skrifhantering en Skrifuitleg ten opsigte van hierdie saak verskil word nie, maar verryk en verdiep word.
3. Die Algemene Sinode is verbind tot ’n voortgaande en nederige diepe luister na mekaar, met respek vir mekaar se uiteenlopende benaderings, Skrifhantering en hermeneutiek.
4. Die Algemene Sinode moedig gemeentes aan om voort te gaan met die skep van gesprekruimtes vir gesonde geloofsonderskeidende gesprekke oor hierdie (en ander) teologies-etiese kwessies, en toe te sien dat:
4.1 hierdie ruimtes inklusief en divers bly;
4.2 nie oor ánder te praat nie, maar eerlik en broos vanuit die eie posisie, en
4.3 daar werklik erns gemaak word met die Woord van God.
5. Die Algemene Sinode respekteer kerkrade se reg om geloofsonderskeidende gesprekke in hulle eie kontekste te voer en moedig kerkrade aan om deurdagte en verantwoordelike besluite te neem.
6. Die Algemene Sinode moedig kerkrade aan, om by die aanwysing van persone in die ampte,  lidmate se:
6.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,
6.2 toegang tot die sakramente,
6.3 integriteit van verhoudings, en
6.4 geskiktheid vir die spesifieke rol in ag te neem
6.5 ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en -identiteit.
7. By die legitimasie van teologiese studente, moet die studente se:
7.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,
7.2 toegang tot die sakramente,
7.3 integriteit van verhoudings, en
7.4 teologiese- en bedieningsvorming in ag geneem word, ongeag ras, geslag, klas, of seksuele oriëntasie en -identiteit.
8. Die Algemene Sinode erken dat daar:
8.1 kerkrade en predikante is wat nie hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig nie,
8.2 ook kerkrade en predikante is wat wel hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig.
9. Die Algemene Sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep word, om volgens hulle oortuiging op te tree, bevestig. Die Algemene Sinode besluit ook dat daar ‘n span saamgestel word wat elke streeksinode sal besoek om hierdie saak duidelik en deeglik deur te werk. Dit kan ons help om ‘n ingeligte besluit neem.
10. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om ‘n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.
11. Die Algemene Sinode
11.1 betreur dat die verloop van die debat en die besluite in die kerk die afgelope jare lidmate verwar en seergemaak het;
11.2 vra gay-lidmate en hulle families wie se menswaardigheid wetend en onwetend misken is, uitdruklik om verskoning vir die pyn wat hulle in die kerk beleef het;
11.3 verbind hom daartoe om in die gees van hierdie besluit ruimtes te skep vir gesprek waarin almal se menswaardigheid gerespekteer word.
11.4 Die Algemene Sinode bedank gay-lidmate wat volgehou het met waagmoedige en konstruktiewe gesprekke in die kerk.
12. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om voort te gaan met studie oor die huwelik en menslike seksualiteit met die oog op terugvoer aan die volgende sinode.

Dinsdag 15 November 2016

OP HULLE AGTERPOTE

- die liberales het hulle mes in vir Ds. Dirkie van der Spuy.

[Kom ons bid vir hom en ondersteun hom]

Dis nou reeds algemeen bekend dat die Buitengewone Algemene Sinode (BAS) van 2016 'n baie meer Skrifgetroue besluit oor die selfdegeslagkwessie geneem het as die AS 2015 wat aan praktiserende homseksuele predikante die groen lig gegee het. Die BAS 2016 besluite is baie versigtig  (myns insiens te vaag) verwoord, maar dit kom in wese wel neer op 'n omkering van AS 2015 se besluite en kan beslis as 'n oorwinning vir die evangelie beskou word. Ja, inderdaad kan ons die hand van die Here hierin sien, al moet ons besef dat die stryd om die hart en siel van die NG Kerk beslis nie verby is nie. Met die teologiese fakulteite as teelaardes vir liberalisme sou dit uiters kortsigtig wees om te dink dat die draers van die pro-gay agenda nou gaan stilbly en hulle by die BAS 2016 se besluite gaan neerlê. Dit het nou reeds duidelik geword in die aanvallende ope brief wat aanvanklik deur 172 persone onderteken is en gemik is teen ds. Dirkie van der Spuy van Moreleta Park NGK op grond van 'n e-pos wat hy kort na die BAS 2016 besluit uitgestuur het.

Intussen het die getal ondertekenaars aangegroei tot meer as 600. Natuurlik het elke persoon seker die vryheid om te teken wat hy wil, maar ek wonder net of dit nou eties korrek en normaal is dat 'n blad soos DIE KERKBODE as ywerige platform gebruik word om 'n lid van die moderatuur te beswadder? Dit lyk asof die redakteur baie entoesiasties meedoen, want die getal ondertekenaars word gereeld opgedateer... Neels , ek wonder of jy so 'n petisiebrief  teen die professore wat byvoorbeeld die liggaamlike opstanding van Jesus ontken het sou toelaat?

Onderaan is die brief wat ds. Dirkie in sy privaat hoedanigheid gestuur het. Oordeel maar self of hy iets verkeerds gedoen het. My siening is NEE. Is dit verkeerd om bly te wwes vir 'n oorwinning van die Woord? Wil die liberales wat wyd en syd hulle dwalinge verkondig nou aan 'n predikant kom voorskryf oor wat hy mag skryf en sê? (Die ironie is dat van die ondergetekendes self die allergruwelikste dwaalleer in die openbaar kwytgeraak het)

DS. VAN DER SPUY SE BRIEF

Broers en susters,

Hier is die besluit van vanmiddag.

Baie dankie vir julle gebede en ondersteuning.

Dit was ‘n geweldige stryd maar uiteindelik ‘n wonderlike oorwinning vir God en sy Woord.

Die Here het Moreletapark se besluit wat goedgekeur is deur die AS, gebruik om ‘n keerpunt in die besluite te bring en die hele koers van besluite in ‘n nuwe rigting te stuur.

2015 se ongelukkige besluite wat soveel stryd en ongelukkigheid veroorsaak het, is van die tafel af en met nuwe behoudende besluite vervang.

Dit was weereens vir my wonderlik om te sien hoe die Here self kom oorneem het en ‘n wonderwerk in Sy kerk kom doen het.

Sien ook: Die NG Kerk se buitengewone Algemene Sinode het hard en duidelik nee gesê vir enige seksuele verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. Die sinode het herbevestig “dat die huwelik deur God ingestel is as ‘n heilige en lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou en dat enige seksuele gemeenskap buite so ‘n vaste formele ▸▸▸ http://kerkbode.christians.co.za/2016/11/10/ng-kerk-se-nee-vir-gay-verhoudings/


Seënwense
Dirkie


OPE BRIEF VAN 172 (aan dr. Claassen die algemene sekretaris van die NGK)

Beste dr Claassen

Ons het met onsteltenis kennis geneem van ‘n e-pos wat direk na afloop van die Buitengewone Algemene Sinode deur ds Dirkie van der Spuy aan onder andere gemeenteleiers van die NG Gemeente Moreletapark gestuur is. (Die e-pos word by hierdie skrywe aangeheg).

Ons wil ten sterkste beswaar maak teen sowel die inhoud as die triomfantelike toon van sy skrywe.

Uit sy verwysing na die “geweldige stryd” en die “wonderlike oorwinning vir God en sy Woord” is dit duidelik dat dit hier oor veel meer gaan as persoonlike instemming met die besluit wat deur die sinode geneem is.

Die duidelike implikasie van sy woordkeuse is dat die standpunt van die persone wat tydens die vergadering in die minderheid gestem het, in stryd is met God en met sy Woord. Dit word bevestig deur die feit dat die uitslag van die besluitneming deur hom beskryf word as ‘n bewys dat “die Here self kom oorneem het en ‘n wonderwerk in Sy kerk kom doen het.”

Behalwe dat ons op ‘n baie diep vlak aanstoot neem aan hierdie kwalik bedekte beskuldiging van kettery en/of leerdwaling, dink ons ook dat dit uiters onverantwoordelik van ‘n persoon in ‘n leiersposisie in die NG Kerk is om hom op so manier uit te spreek – veral in hierdie tyd van groot spanning en dreigende skeuring in die kerk waarvoor ons almal lief is.

Ons is ook besorgd oor die verwysing in ds Van der Spuy se skrywe na “Moreletapark se besluit wat goedgekeur is deur die AS.” Dit wek die indruk dat daar ‘n versteekte agenda agter die verloop van die vergadering was, en dat die vergadering dus op ‘n onaanvaarbare wyse gemanipuleer is.

Dit is vir ons moeilik om te dink dat hy kan voortgaan om hierdie leiersrol in die moderatuur en in die moderamen te vervul sonder om die verdeeldheid wat daar reeds in die kerk is, verder te versterk.

Ons sal dit waardeer as daar dringend aan hierdie aangeleentheid aandag gegee kan word en hoop dat die optrede wat daaruit voorspruit, die vertroue in die leierskap van die Algemene Sinode sal herstel.

Groete in Christus




André Bartlett
Julian Müller
Ronell Bezuidenhout
Cecile Cilliers
Annemie Bosch
Nico van Rensburg
Wentzel van Huyssteen
Carike Noeth
Jan Viljoen
Benjan Knoetze
Tielman Roux
Jacobie M. Helena Visser
Eduard Enslin
Delene van Dyk
Riaan de Villiers
Ghisnene Muller
Hennie Pienaar (jr)
Deon Kitching
Johann Enslin
Johan Janse van Rensburg
Corneil Oberholzer
Johan Stander
Johan van der Merwe
Carin van Schalkwyk
Anje Zeeman
Elzanne van der Westhuizen
Jan Coetzer
Michelle Nieuwoudt-Boonzaaier
Nina Müller van Velden
Leon Forsmann
Willie Badenhorst
Renier Lourens
Felix Smith
Hennie Pienaar (sr)
Emma Pienaar
Pieter Visser
Samuel Heine
Lyn van Rooyen
Gideon van der Watt
Andries Erwee
Stefan de Klerk
Helgard Pretorius
Phillip Potgieter
Luané Buys McLachlan
Coenie Nolte
Johan Conradie
Lulani Vermeulen
Wynand du Plessis
Martin Lazenby
Charon Buchner Marais
Sunelle Stander Lays
Marlene Schader
JP Ellis
Christi Thirion
Gerhard Bothma
Alphonso Groenewald
Johan Vorster Beyer
Judith Kotzé
Douw G Willemse
Pieter Dorey
Hein Kotzé
Fanus Hansen
Izak Muller
Johan Janse van Rensburg
Schalk van Wyk
Auke Compaan
Johan Botha
Elize Morkel
Marietjie van Loggerenberg
Frans Klopper
Ben du Toit
Jacob Meiring
Jaco Botha
Bianca Botha
Tiana Bosman
Liezel van der Westhuizen
Erna van der Westhuizen
Annelet Slazus
Lidia Theron
Barend Nel
Esmarie Mare
Danie Veldsman
Chris McLachlan
Louis van Niekerk
Evert Knoesen
Etienne van Zyl
Elretha Bartlett
Andreas van Rooyen
Amanda Strydom
Marna Nel-Steyn
Aletta Ellis
Sanel Roux
Marilize Kalis
André Kalis
James Kirkpatrick
Gerda-Marié van Rooyen
Retief Müller
Johann Meylahn
Irma Nel
Jan Nel
Lou-Maré Denton
George Rauch
Linette Retief
Freddie van der Westhuizen
Wouter de Wet
Sias Botha
Etienne Pheiffer
Louis Jonker
Neels du Plooy
Julie Claassens
Charlene van der Walt
Michiel Strauss
Cobus Bester
Llewellyn Jackson
Werner Venter
Han Janse van Rensburg
Francois Claassens
Eureka Oosthuizen
Anton Bester
André Agenbag
Daniel D de Kock
Schalk W Naudé
Sara Fouche
Eulogia Murray
Attie Botha
Adriaan van der Wart
André Smuts
Charles Naudé
Colleen Naudé
Terence Cooke
Jana Dickason
Johan van den Heever
Dawfré Theron
Arno Meiring
Lieze Meiring
Frans du Plessis
Dirk Cilliers
Brando Smit
Piet Meiring
Dawid de Villiers
Gerda de Villiers
Cas Wepener
Dieter de Bruin
Nadia Marais
Marié Britz
Eugene Malan
Murray Coetzee
Gys Loubser
Johan van der Merwe
Ida Brink
Almatine Leene
FD Hugo
Anton Pienaar
Dewald Niemandt
André de Villiers
Antje du Plessis
Doret Niemandt
Charl Janse van Rensburg
Marius J Nel
Jeremy Punt
Laurie Gaum
Steyn Kleynhans
Braam le Roux
Robert Vosloo
Wiehahn Maritz
Michelle Marais
Jeanine Hepburn
André de Villiers
Aneleh Fourie le Roux*

My verdere kommentaar : Nou wonder ek maar net wat is fout as 'n predikant aan sy gemeente leiers 'n e-pos stuur waarin hy die Here dank vir 'n oorwinning van die waarheid oor die leuen? Die liberales (waaronder teologiese proffesore) verkondig  wyd en syd hulle teologiese voorkeure op sosiale media en in die pers... Het mens nie meer reg op eie opinie as dit indruis teen die vrysinnige teologie nie?  Hierdie lys name is meestal ou bekendes in die kringe van die liberale teologie, gay propaganda saak en saampraters in Jean Oosthuizen se Facebook en Twitterkoor... Ongelukkig is daar ook persone uit Namibië wat hierdie heksejag teen ds. Dirkie (voormalige predikant van die gemeente Pionierspark) blykbaar goedpraat. Voorwaar, alle Godvrugtiges sal vervolg word...  Kom ons ondersteun ds. Dirkie van der Spuy in die gebed en soos die Here ons mag lei.

*slegs die name van die aanvanlike groep word hier genoem

Vir die jongste verwikkeling (Vrydag 18 November) kliek op VRYE REG