BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Progressive Christianity. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Progressive Christianity. Wys alle plasings

Maandag 25 Junie 2018

THE SHACK

- beslis 'n tranetrekker, maar gaan dit my nader na die waarheid trek?

Die blitsverkoperboek se boodskap doen nou weer die rondte nadat dit as ‘n film in 2017 uitgereik is. Baie mense getuig van ‘n positiewe impak op hulle lewens... 

Geskryf deur William P. Young, wat op die sendingveld grootgeword het, is die boek en film (geredigeer deur Stuart Hazeldine) waarskynlik ‘n eerlike poging om antwoorde te probeer gee oor die vraag na “onregverdige lyding” in hierdie gebroke wêreld van ons. “Waar is God in ‘n wêreld van onbeskryflike pyn?” Die verhaalvorm waarin die boek geskryf word is maar net die voertuig om teologie op ‘n verstaanbare manier aan die gewone man oor te dra. Die bedoeling van die boek en film is dus teologie en nie fiksie nie. Die kwessie is dus nie of dit ‘n oulike storie is nie. Hierdie werk moet teologies beoordeel word in die lig van die Skrif. 

Die vraag voor ons is of The Shack, Bybelse teologie of menslike spekulasie en verdraaiing is? 

Young se argumente in die bespreking van lyding word min of meer soos volg deur die uiters bekwame evangeliese teoloog en kerkplanter van New York, Tim Keller opgesom : 

Die ellende in die wêreld is die gevolg van die mens se misbruik van sy vrye wil. God het nie die kwaad gekeer nie sodat Hy ‘n groter en heerliker doel kan bereik, ‘n doel wat vir ons menslike verstand onverstaanbaar is. As mens verbitterd bly teenoor God weens ‘n bepaalde tragedie, dan plaas ons onsself in die plek van die Regter van die aarde. Dis ‘n taak waarvoor ons as nietige mense uiteraard nie opgewasse is nie! Daarom moet ons liewers ‘n ewige perspektief probeer kry waarin ons God se mense vol vreugde in sy heerlike teenwoordigheid sien. Dis wat met Mack die bedroefde vader van die vermoorde dogtertjie, Missy gebeur, as hy sy oorlede dogtertjie sien in die vreugdevolle teenwoordigheid van Jesus. So word sy hartseer genees. Hierdie is alles basiese waarhede van standaard pastorale teologie, alhoewel daar dalk te veel gemaak word van die vrye wil begrip. Tog soos Keller dan verder uitwys is daar ernstige vrae en probleme rondom hierdie storie van Young... 

Wat regtig pla is dat daar deurgaans in Young se verhaal elemente* is wat basiese Bybelse waarhede oor God ondermyn. 

Die God van die Bybel vind jy nie in die Shack nie! 

Die god van die Shack en die Drie-enige God van die Bybel kan moeilik met mekaar versoen word. In Young se storie word God die Vader deur ‘n Afro-Amerikaanse vrou, Papa uitgebeeld, Jesus bly (meer realisties) Jesus, ‘n Midde Oosterse skrynwerker en die Heilige Gees is ‘n Asiatiese vrou, Sarayu. Dis om die minste te sê, ‘n vreemde en selfs bisarre uitbeelding van die Drie-eenheid! Waarskynlik is dit Young se manier om te sê dat ons moet pasop om nie vooropgestelde idees oor God te koester nie. Mens sou net wou vra, wat het geword van die tweede gebod? Verbied dit nie juis alle spekulasie en selfgemaakte uitbeeldings van God nie? Moet ons nie maar eerder by die Skrif bly nie?

Te min Skrif en te veel filosofiese spekulasie! 

Die Bybel vertel vir ons immers duidelik genoeg wie God is en hoe Hy “lyk.” Jesus Christus, die vleesgeworde Woord is die beeld van die onsienlike God, die God wat Gees is! Jesus vertoon die heerlikheid van God aan ons, ‘n heerlikheid wat vol genade en waarheid is! (Johannes 1:1,14; Johannes 14:9,10; Kolossense 1:15-20) 

Om maar net een aspek van Young se uitbeelding van God te noem wat krap. Dis opvallend en steurend dat God die Vader uitgebeeld word as ‘n vrou. Ja, ek weet, inderdaad word daar by verskeie geleenthede in die Skrif moederlike en sagte eienskappe aan God toegedig, maar deurgaans in Sy amptelike titels gebruik God manlike titels : vader en nie moeder nie, koning en nie koningin nie!**  Jesus praat met sy Vader in die Hemel, nie met sy Moeder in die hemel nie! Die misleiding oor God gaan egter veel meer as oor ‘n metafoor wat vir sommige aan Godslastering mag grens. 

Die Shack swyg oor Goddelike toorn en straf. 

Die basiese Bybelse waarhede rondom sonde en verlossing is in gedrang en dit lei weereens tot ‘n skeeftrekking van God se karakter. So is die boodskap van die profete duidelik dat God sonde haat en straf, maar in The Shack word die indruk geskep dat sonde God glad nie meer pla nie! Dit blyk ook dat Young die totale verdorwenheid van die mens ontken en die skeiding wat sonde tussen God en mens veroorsaak ignoreer. 

"Papa" sê in die verhaal : “I am not who you think I am Mackenzie. I don’t need to punish people for sin. Sin is its own punishment, devouring from the inside. It is not my purpose to punish; it is my joy to cure it.” Dit terwyl die hele Bybel daarvan vol is dat God sonde straf! Wat dan van die sondvloed, die vernietiging van Sodom en Gomorra, die verwoesting van Jerusalem en die ballingskap, wonder mens? En vir diegene wat verder wonder, dis nie net in die Ou Testament dat God se toorn teenoor sondaars ontbrand nie! 

Ja, die Nuwe Testament leer nog steeds dat God sonde haat en dat elkeen wat die offer van Jesus verwerp die ewige straf tegemoet gaan. Van offer gepraat, dis juis as dit by die betekenis van die kruis kom dat die valse teologie van Young die duidelikste ontbloot word! In Young se onlangse boek, “Lies we believe about God” raak Hy skokkende bewerings kwyt oor die kruis. As God die oorsprong is van die kruis is, is Hy volgens Young ‘n “cosmic abuser” wat “cruel and monstrous” is! Mens sou wou vra, wat maak Young met die Bybelse gegewens oor God se beskikking van die kruis soos in Jesaja 53:10 en Handelinge 2:23.*** 

Die Shack is 'n aantasting van die kruisboodskap!

In ag genome Young se verdraaide beeld van God se heiligheid en die noodsaak van ‘n kruisoffer is dit ook te verstane dat The Shack se boodskap grens aan die leer van die universalisme, die teorie dat alle mense uiteindelik gered sal word. Natuurlik het die universalisme baie variasies. Young noem homself ‘n “hopeful universalist” en glo dat God sy Seun vir elke enkele sondaar gestuur het en dat die oordeel daarop sal uitloop dat elke sondaar Christus sal aanvaar en so met God versoen word. In “Lies we believe about God” is Young egter baie meer eksplisiet en gevaarlik as hy openlik verklaar: “Are you suggesting that everyone is saved? That you believe in universal salvation? That is exactly what I am saying!” En nog verder die skokkende kettery : “Every human being you meet . . . is a child of God” Dis nie hoe die Bybel oor kindskap van God praat nie!

Deur menslike verdorwenheid, sonde en skuld te herdefinieer word ‘n valse evangelie omhels wat dalk baie gewild gaan wees in ons dag, maar wat nie meer die krag van God is tot redding vir elkeen wat glo nie! 

The Shack, hoe goed ook al bedoel is nie waarheidsteologie nie! Ons gaan nie antwoorde kry vir ons vrae deur aan God se karakter en wese te torring nie! Ons kry die antwoorde in die Skrif!**** Ons gaan nie genesing vir ons sonde en pyn vind deur fiksie verhale nie. Die Woord is duidelik, ons almal word uitgenooi na die evangelie, God se oplossing vir die sonde en lyding van die wêreld, die kruisevangelie. Hierdie oplossing vereis geloof en lei tot bekering. Wie hierdie “groot verlossing” verwerp bly sonder hoop en sal nie die wraak van God kan ontvlug nie! (Hebreërs 2:3) 

Wie God wil ontmoet moet maar liefs wegbly van Young se kasarmte en gaan skuiling soek by die kruis! Daar kom God se liefde vir die mens en sy toorn oor sonde bymekaar. Dis waar die onbegryplike groot liefde van God vir sondaars aan ons bekend word en vrede, vergifnis en vreugde ons harte vervul! 

Die Shack is dalk gewild, maar dis gevaarlik! Dis in my opinie maar net nog ‘n voorbeeld van die sogenaamde Progressiewe Christendom wat eintlik maar 'n terugkeer na ou en gevaarlike dwalings is!

*Die bedoeling van hierdie kort kritiek op The Shack is nie om alle moontlike dwalinge hierin uit te wys nie. Daar is vele en baie ander teoloë het dit reeds elders aangespreek. 

**Hierdie dwaling om God te probeer “vervroulik” of skimpe in daardie rigting te maak, het lankal reeds ook in ons eie teologiese opleiding begin kop uitsteek. Prof. Johan Heyns het al tydens ons studiejare gesê dat God Homself as Moeder kon openbaar het en sy enigste dogter na die wêreld kon gestuur het. Natuurlik God kan enigiets doen. Die punt is, Hy het nie! Hy het Homself as Vader openbaar en Sy enigste Seun gestuur. In die teologie en lewenspraktyk moet ons ons met die Woord besig hou en nie met spekulasie nie! 

*** Jesaja 53:10 “Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly. As hy sy lewe as skuldoffer gee, sal hy ‘n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik.” 

Handelinge 2:23 “God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak.”

**** Moet jy dus gaan kyk? Goeie raad van David Mathis:
"We do not need a wilderness shack to hear from God. He gave us his word, through his appointed prophets and apostles in the Great Book, and he gave us the Spirit to illumine and apply our hearing. In short, the voices in your head are not God; they are you. If you want to hear God audibly, then read the Bible out loud." Ek sou hiermee graag wou saamstem!


Woensdag 01 Maart 2017

DIE NG KERK IS BANKROT

- Waarom het die kerk nie meer geld nie?


‘n Kollega in die bediening stel dit nou die dag baie kru oor die telefoon : “Die NGK is bankrot!” Inderdaad blyk dit (altans in Namibië) nogal taamlik na aan die waarheid te wees. Met skok verneem mens : “Die Sinode van die NG Kerk Namibië het sy jaarlikse bydrae vir die 2016/2017 boekjaar van N$ 263 000 tot die Kunene vir Christus begroting vir die 2017/2018 boekjaar verminder tot N$ 12 310.” Kunene vir Christus werk onder andere onder die Oavahimba in die noordweste van ons land. Die sinodale hulp aan DEGNOS (wat betrokke is by die sending onder die Boesmans) is op soortgelyke radikale wyse gesny. Maerua Kinderhuis het nog erger deurgeloop. Die enigste afleiding wat mens kan maak as daar aan sulke belangrike werk besnoei word – die kerk se geld is op!

Die gewone redes wat aangevoer word vir hierdie benarde posisie is wel bekend : Dis moeilike ekonomiese tye wat druk, dit was ‘n groot droogte, daar is ‘n dramatiese ontvolking van die platteland, die NGK het ‘n duur bedieningsstruktuur, demografiese tendense soos veroudering en ‘n lae geboortesyfer...

Dis natuurlik nie heeltemal onwaar nie. Al hierdie faktore speel inderdaad ‘n rol. Dis egter nie die volledige prentjie nie. Miskien is dit nodig om eerlik na nog ‘n paar (ongemaklike) feite te kyk:

1.Die NGK het derduisende lidmate verloor. Punt. Die lidmate op die boeke en in die statistieke is net nie meer daar om kollektebordjies vol te maak nie. Miskien word daar gewerk met getalle wat nie bestaan nie? Die Jaarboeksyfers het meer met fiksie as feite in gemeen. Die redes is eenvoudig : in min gemeentes word daar nog deeglike huisbesoek en opnames deur kerkraadslede gedoen en dis al metode om betroubare statistiek in te samel. Neem ook in ag dat mense wat die kerk deesdae verlaat selde nog amptelik bedank. Hulle verdwyn maar net, terwyl die name op die registers bly staan… ‘n Mens wonder het ons dalk ‘n arfgiefkerk geword? Die verlies aan lidmate het veral op drie fronte geskied:

~Die NGK het die afgelope dekades die room van sy getroue lidmate verloor aan ander behoudende kerke. Die groot rede hiervoor is die teologiese koers van liberalisme wat deur die kerk ingeslaan is en die duidelikste op die teologiese fakulteite uitkristalliseer. So het die stief behandeling van Ferdie Mulder toe hy beswaar gemaak het teen die ontkenning van Jesus se liggaamlike opstanding deur dosente van Tukkies nie baie vriende vir die NG Kerk gewen nie… Die skade wat 2015 se AS besluite oor selfdegeslagverhoudings geneem het, het skokgolwe deur die geledere van Bybelgetroue gelowiges gestuur. Dat die besluite toe wel in 2016 (op ‘n manier) omgekeer is het min aan die persepsies oor die NGK verander, want die besluite was nog steeds nie ondubbelsinnig duidelik nie. (Dan praat ons nie eers van iets soos DIE KERKBODE gedrewe heksejag teen ds. Dirkie van der Spuy nie.) Toegewyde gelowige lidmate het hulle vertroue in die kerkleiding verloor en gay aktiviste met T-hempies by sinodes gaan nie juis iets doen om dié vertroue te herstel nie en nog minder om begrotings te laat klop. ‘n Kerk wat nie duidelike standpunte het nie en nog vis nog vlees is verloor op die ou end die ondersteuning van beide die vis en die vlees … ‘n Tipies resente voorbeeld van die kerk se verval in morele relativisme (en HUISGENOOT moraliteit) is die NG Gemeente Rasslouw se konferensie oor die huwelik waar ‘n sekere ds. Lizl-Louise Schoeman verklaar : “Die kerk moenie vir jongmense sê dat hulle nie seks voor die huwelik mag hê nie, maar ook nie dat hulle maar moet laat waai nie.” Nou toe nou... almal kan maar in die wildtuin gaan jag, moet net nie te veel jag nie... 

~‘n Groot klomp lidmate het ook koersgevat na charismatiese kerke en die reuse verskeidenheid van los groeperings beskikbaar in elke smaak en geur. Huiskerke en boskerke. Ook hier is dit nodig om hand in eie boesem te steek. Gebrekkige lering oor jare het mense vatbaar gemaak vir elke nuwe wind van lering en elke nuwe skyn van opwinding.

~Baie voormalige lidmate het bloot net weggeraak en in totale kerkloosheid verval. Toenemende sekularisme eis ‘n al groter tol. Ons kan die tydsgees hiervoor blameer en beslis is dit ‘n algemene verskynsel in die westerse wêreld, maar die kerk self is nie sonder meer vry te spreek nie. Ons het ons geloofwaardigheid verloor. Watter respek moet die wêreld vir ons hê as die kerk nie eers meer weet wat die definisie van ‘n huwelik is nie? Wie gaan nog na ons luister as ons self nie meer weet wat reg en verkeerd is nie? Hoekom moet die wêreld daarbuite ons ernstig opneem as ons nie ons eie belydenisskrifte ernstig opneem nie? Die kerk is klaarblyklik nou nie meer seker oor die opstanding van Jesus nie en ons weet nie of daar ‘n duiwel is of nie. Is ons nog hoegenaamd anders as die wêreld?

2.Wat die lidmate wat nog oor is betref moet ons ook eerlik wees dat die gehalte van betrokkenheid oor die algemeen sorteer onder dit wat Jesus in die Laodicea gemeente tipeer as louheid. (kliek op NAAR) Dis skokkend sigbaar in gebrekkige erediensbywoning, maar ook morele laksheid. Lidmate volhard lustig in openbare sondes sonder dat ‘n wenkbrou gelig word. Kerklike tug is net iets waarvan daar soms in (baie) ou kerkraadsnotules gelees word, want sien die kerk wil nie die risiko loop om nog van die paar oorblywende lidmate ook te verloor nie. Die materialisme van die groot gros onbekeerde nominale lidmate bevorder natuurlik ook nie offervaardigheid nie. En dis nie dat ons mense so min geld het nie - vir die waansinnige gejaag na skolesport, naweek vir naweek is daar oorgenoeg geld beskikbaar! Ons lidmate ry nog steeds met luukse voertuie, hou nog steeds TV skottels aan en speel nog steeds gholf...

DIE SKAT VAN DIE KERK

Die hartseerste van als – die kerk het nie net baie lidmate en geld verloor nie, maar dit lyk ook al hoe meer of ‘n groot deel van ons kerk die ware skat van die kerk naamlik die evangelie (volgens Luther)*, verloor het. Hoe so? Mens hoor van min bekerings en mens sien min entoesiasme om die evangelie aan verlorenes te verkondig (waar is die manne soos die destydse Dr. Willie Marais en ds. Dana Minnaar?) Natuurlik is daar heerlike uitsonderings, maar dis juis dit - uitsonderings. Ons teologiese fakulteite lei nie meer vurige evangeliedienaars op nie maar skeptici wat Jesus se plaasvervangende kruisdood, die liggaamlike opstanding, die werklikheid van hemel en hel en wie weet wat nog bevraagteken. Dit het vernietigende gevolge onder lidmate se moraal en toewyding en dit wys uiteindelik ook in syfers! Baie jong predikante wie se gemoed en denke deur Marcus Borg en Rob Bell vergiftig is, is dikwels gawe ouens wat die kerk as ‘n NGO beskou (sonder enige beleid), maar van ‘n kruisevangelie wat hoop bring aan verlore sondaars het hulle geen ervaring nie. As hulle iets verkondig is dit die versiersuiker afgod van die sogenaamde Progressive Christianity. Die evangelie, “die krag van God tot redding vir elkeen wat glo…,” het skaars geword op ons kansels. Immers as niks meer verkeerd is nie en niks is meer sonde nie, waarvan het die mens dan nodig om gered te word?

As ons sake wil regstel is dit hier waar ons moet begin. By die reddings boodskap, die kruisboodskap. Vergeet eers bietjie van die biltongfeeste, gholfdae, glansganse, gaskunstenaars en al die vindingryke basaarfoefies… Los eers die mens gefokusde luisterseisoene, labarintuitstappies of spanbousessies en luister weer na die Woord! Ontdek weer die evangelie! Verkondig die evangelie, leef dit! En weet beslis dat mense wie se harte aangeraak word deur die bevrydende boodskap van God se genade se harte en hande ook bevry word om te gee, want hulle juig nou oor die skat in die hemel!

Is ek sinies of hiperkrities? Ek is immers deel van die opset en staan self skuldig in vele opsigte. En ek wonder, verkondig ek die kruisevangelie duidelik genoeg deur die krag van die Heilige Gees? Klink ek wanhopig, fatalisties? Nee, die ergste afvallige gemeentes aan wie die briewe in Openbaring gerig word, word nie afgeskryf nie, maar opgeroep tot bekering. Mag ons dierbare NG Kerk op hierdie bekeringsuitnodiging reageer van Hom wat tussen die sewe kandelare beweeg. Dan sal ons ware rykdom bekom, maar ook genoeg aardse middele hê om die werk te voltooi wat ons Koning vir ons gee om te doen.

*Een van Luther se 95 stellings, stelling 62 lui soos volg : “Die ware skat van die kerk is die mees heilige evangelie van die heerlikheid en die genade van God.”


Die droogte hier by ons is gebreek, maar daar heers wyd en syd nog steeds 'n knellende geestelike droogte...

Vrydag 20 November 2015

DAAR'S HOOP

- maar die afgrond blyk onoorkombaar te wees!


Die stormagtige debat wat ontketen is deur die NGK se Algemene Sinode se toelating van praktiserende homoseksuele predikante is meer as net ‘n hewige gesprek tussen medegelowiges wie se opinies van mekaar verskil. Dit het ‘n onoorbrugbare kloof blootgelê wat lankal binne in die NGK bestaan. 

TWEE KANTE VAN DIE KLOOF

Aan die eenkant kry ons die evangeliegesindes binne die NG Kerk wat die Bybel as onfeilbare Woord van God aanvaar en op grond daarvan alle mense en soorte sondaars oproep tot geloof, bekering en ‘n heilige wandel meet God. Hierdie groep (waarby ek myself insluit) word dikwels as fundamentaliste en verkramptes uitgekryt. En die groot verwyt na ons kant is dat ons liefdeloos is!

Aan die anderkant is daar ‘n groter wordende groep van vrysinnige liberales wat diep gedrink het uit die troebel waters van die sogenaamde Progressive Christianity. Hulle verkoop hulleself as liefdevol en inklusief. Hulle evangelie is : "Moenie stress nie als gaan OK wees!" Die feit is egter dat hierdie groep nie meer erns met die Woord en die evangelie maak nie. (begrippe soos vryspraak, kruisoffer, hemel en hel is vir baie van hulle totaal vreemd)  In hierdie kringe word die Bybel dikwels teenoor Jesus gestel. Die Woord word soms beskryf as ‘n “papierpous” wat die liefde van Jesus versmoor.

Die afstand tussen hierdie twee groepe is eenvoudig net te groot. Dit gaan nie hier oor middelmatige sake waarin ons maar van mekaar kan verskil terwyl ons mekaar verdra nie. Die evangelie self is op die spel. Dis ‘n geveg om die siel van die NG Kerk. Die uitslag gaan tot vir die verre nageslag gevolge hê. Ewigheidsgevolge! Geen kompromie of draadsittery is dus moontlik nie!

Daarom is die omvangryke weerstand van binne die NG Kerk baie bemoedigend. Benewens talle gemeentes (byvoorbeeld Moreleta Park) wat die AS besluite verwerp het, het die moderamen van Namibië se sinode en die Sinode van Wes Transvaal hulle nou reeds teen die AS besluit uitgespreek. As gevolg van appèlle is die moderamen van die Algemene Sinode reeds gedwing om die inwerkingstelling van die AS besluite hangende die appèlle vir minstens twee jaar uit te stel. Dit als gee mens hoop.

En tog...

Hierdie saak sal nie sommer net verbygaan nie. Die groot probleem lê by ons teologiese fakulteite en wat daar geleer word. Nie een dosent van enige van ons fakulteite het sover ek weet hom teen hierdie besluit uitgespreek nie. En dis hierdie manne wat die nuwe geslag predikante vorm! As daar nie ‘n nuwe alternatief vir die huidige stelsel van teologiese opleiding gevind word nie, sal dinge al donkerder word. Hier in Namibië het ons vir NETS wat goeie Skrifgefundeerde opleiding aanbied, dis beslis ‘n moontlikheid wat ondersoek moet word. Gooi die juk van die teologiese fakulteite af, sodat ons weer die Here kan dien in die lig van sy Woord!

DERDE GROEP

Ek het aan die begin gesê dat daar twee groepe onderskeibaar in die huidige debat is. Dis bietjie van ‘n oorvereenvoudiging. Daar is myns insiens ook ‘n derde groep. Dis predikante (en lidmate) wat waarlik die Here liefhet en Hom wil dien, maar weens ‘n verskeidenheid van redes nie hulle stem tans laat hoor nie. Hulle is dikwels ook nie voldoende ingelig nie en val maklik die propaganda van “julle is liefdeloos teenoor gays” ten prooi. Hulle is ook teologies onseker, want hulle word nou al jare lank beïnvloed deur die teologie van twyfel wat aan ons almal opgedis word op universiteit. (Baie van hierdie broers is tydens hulle opleiding nooit aan goeie Gereformeerde teologie blootgestel nie. Ek het simpatie met hulle, want ek moes ook TUKKIES se opleiding verduur!) Teenoor hierdie groep het Bybelbehoudendes ‘n groot plig. Ons sal hulle met groot geduld en dade van barmhartigheid van ons Christusliefde vir alle sondaars moet oortuig. Ons sal daarom met deernis en begrip na hulle standpunte moet luister en op so ‘n manier daarop antwoord dat hulle sal kan sien dat dit vir ons waarlik oor die heil van die sondaar, gehoorsaamheid aan die Woord en die eer van God gaan.

KEUSE

Uiteindelik sal die NG Kerk tot ‘n keuse gedwing word. Lig en duisternis kan op die ou end nie saam bestaan nie. Mag die lig wen en die duisternis padgee! Die Bybel en ons kerk se belydenisskrifte is immers aan die lig se kant. Die wat na alles nie die pad van die lig wil loop nie, moet liefs dan maar gaan...

Vrydag 06 November 2015

Teen-Evangelie strategie

- die besluite van die Algemene Sinode om selfdegeslagverhoudings goed te keur en kerklik te seën, is baie meer as maar net ‘n etiese kwessie!

Oor etiese kwessies en die fynere toepassings daarvan sal daar altyd verskille onder Christene wees. Mag ‘n Christen rook, kaartspeel of sport op Sondag beoefen? Watter dae is belangrik en watter kos mag ons eet of nie...? Die Bybelse beginsel in sodanige sake is verdraagsaamheid, vryheid en die inagneming van die swakker broeder se gevoelens...

Wanneer iets wat die Bybel duidelik sonde noem egter nie alleenlik oorgesien, goedgepraat, maar selfs kerklik gesanksioneer en geseën word, dan is die hart van die evangelie op die spel. My vriend dr. Hein Strauss het dit baie skerp opgesom in sy opmerking : “Dit bly my verstom dat die hele gay-kwessie tot so 'n uiters doeltreffende teen-Evangelie strategie ontwikkel het...” Dis presies waaroor dit gaan – die gay agenda is ‘n teen-Evangelie aksie! Die Algemene Sinode besluit is ‘n besluit teen Christus en sy evangelie!

Kan mens so sê? JA! Ek gaan verduidelik hoekom.

Kom ons kyk na 1 Korintiërs 6:9-11 "Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God."

Hier is ‘n lys van dinge wat die Here baie ernstig opvat. En ja, laat ons baie konsekwent wees, nie alleenlik homoseks is ‘n afskuwelike sonde nie, maar ook dronkenskap of skinder! Dis ‘n teks wat ons almal weer moet laat sidder... Nou waarom is die sinodebesluit oor homoseksualiteit dan so erg?



Kan ons dit nie maar goedpraat nie, want is ons nie almal maar in elk geval skuldig aan iets soos gierigheid of bedrog (daai belastingopgawe!) nie?



Hier kom ons nou by die verskil. Geen sinode (so ver ek weet) het dronkenskap of gierigheid al tot ‘n aanvaarbare leefstyl verklaar wat amptelik deur die kerk geseën mag word nie!



As sonde tot niet verklaar word, word die evangelie ook oorbodig verklaar! Dan was die plaasvervangende kruisdood van Jesus en sy liggaamlik historiese opstanding ook mos nie nodig nie! En hier kan ons twee en twee bymekaar begin tel. Die groot voorpraters van die gay agenda is nie juis bekend as mense wat sterk staan vir die kruisboodskap en die historiese opstanding nie. Gaan kyk maar. (daar sou wel uitsonderings kon wees) Diegene wat die Algemene Sinode se gaybesluit bevorder het of nou toejuig is (meestal?) mense wat dikwels ander basiese Bybelwaarhede ontken. Dis mense wat binne die dampkringe van die sogenaamde Progressive Christianity beweeg en opereer. Hierdie rigting verkondig lankal nie meer die kruisevangelie van verlossing deur die bloed van Jesus nie. Hulle praat wel van sy kruisdood maar slegs in die sin van ‘n heldedood vir ‘n goeie saak. In die sin waarvolgens Martin Luther King of Dietrich Bonhoefer ook hulle lewens vir ‘n goeie saak opgeoffer het. (Kliek op MARCUS BORG) Hulle staan nie by die raamwerk van die Heidelbergse Kategismus van sonde, verlossing en dankbaarheid nie. Jesus is vir hulle maar net ‘n morele hervormer. En Hy is vir hulle ook maar net een van baie hervormers in dieselfde klas as 'n Boeddha of 'n Mandela.



Die Algemene Sinode besluit raak die hart van die evangelie! Die saak is baie belangriker as wat ons dalk besef.



Die NG Kerk staan hier voor ‘n lakmoestoets of ons hoegenaamd voor die openbaring van God se woord gaan buig en of ons ‘n mens gemaakte godsdiens beoefen? Eer ons God of is ons gedienstig aan die grille en giere van die sondige mens?


Die verwyt word gehoor : “Seksualiteit is hoegenaamd nie so ’n kern-saak in die geloof dat dit afskeiding regverdig nie.”

So op die oor af klink dit na ‘n heel aanneemlike stelling. Die Christelike boodskap het immers baie meer om die lyf as ‘n bepaalde seksuele moraal of gedragskode. Maar kom ons dink ‘n bietjie dieper en luister na die wyd erkende wyd erkende en bekwame teoloog, D.A. Carson :


"At one level I want to say that homosexuality is the wrong issue to divide the church over. It reminds me a bit of what happened at the reformation when Martin Luther nailed the 95 thesis to the gate, to the door of the Wittenberg church in 1517. The trigger issue was selling of indulgences. Imagine splitting the entire western church over indulgences! In one sense it was the wrong issue, but it became the trigger issue about whether you live under the Bible or not…….it affected everything. Homosexuality has become in our day, in many denominations a trigger for a very simple issue; will we live under the authority of the word of God or will we not? And that is absolutely everything. You just can’t duck that one. Sooner or latter you face that issue or you die."



Nie net die Baptis, Carson help ons hier nie, ook die Anglikaan, JI Packer

Nadat die Anglikaanse kerk se sinode van New Westminster in Junie 2002 aan biskoppe in hulle gebied die reg gegee het om homoseksuele persone te trou, het dr JI Packer (bekende gereformeerde Christen skrywer en teoloog) saam met ’n aantal sinodegangers as teken van protes die sinodesaal verlaat. Dr JI Packer het ’n artikel geskryf om sy protes-optrede te verduidelik. Sy hoofrede oor hoekom hy uitgestap het, spel hy vir ons baie duidelik uit. “Why did I walk out with the others? Because this decision, taken in its context, falsifies the gospel of Christ, abandons the authority of Scripture, jeopardizes the salvation of fellow human beings, and betrays the church in its God-appointed role as the bastion and bulwark of divine truth.” 

Ja, op sigself is seksualiteit miskien nie so ‘n kernsaak nie, maar in ons huidige debat en konteks, gaan dit wel oor een geloofsbelangrike kernsaak : Erken ons nog die Woord van God as die finale gesag in leer en lewe? Staan ons nog hoegenaamd by die evangelie van Jesus Christus? Dis die antwoord wat die NG Kerk en elke lidmaat nou afsonderlik moet gee..

"Ja, maar julle oordryf als. Die Algemene Sinode besluit stel tog duidelik dat elke kerkraad sy eie diskresie mag gebruik...", so word ons gepaai. D.A.Carson het weer wyse woorde in die verband :

"You see they’ll start off by saying “We’ll allow each church to decide on their personal preference” and so it seems big hearted and wide minded to allow diversity of opinion on this, but pretty soon when more of those people get into office, what I’ve discovered is that, in the vast majority of cases, the least liberal people in the world are liberals, that is they are the least yielding, the least flexible, and pretty soon they start saying that unless you espouse egalitarianism, unless you espouse the legitimacy of homosexuality therefore you are out of here! Well at some point then it becomes a matter of absolute conscience, you have got no choice in the matter."

Mag ons hierdie wyse waarskuwing ter harte neem...

Diegene van ons wat sterk oor die AS se besluit voel en ons daarvoor beywer dat Ringe en Sinodes drasties moet standpunt inneem, word nou beskuldig van verwaandheid, onregverdigheid en natuurlik liefdeloosheid. Ons hoor ook verwyte dat ons nie weet hoe om 'n teks binne konteks te interpreteer nie, ons is bloot moraliste wat dan nou kwansuis nie weet Christenskap gaan oor 'n verhouding nie, ons sou dan net in 'n toornige God glo wat straf en nie in die verlossing wat Jesus bring nie... Dis alles pogings om 'n karikatuur te maak van mense wat maar net in nederigheid aan God se Woord gehoorsaam wil wees. Maar laat ons maar hierdie beledigings met blymoedigheid dra ter wille van die eer van God en die saak van die evangelie!

Naskrif : Die groep Suid Kaapse rings verteenwoordigers se sterk protes, is myns insiens dus geregverdig! (Kliek op SUID KAAP) Die stryd gaan daaroor of daar nog hoegenaamd plek vir die evangelie in die NG Kerk is!

Woensdag 08 Julie 2015

AL GESIEN OP FACEBOOK?

- PROGRESSIEWE CHRISTENDOM*: sagter benadering of sluwe beswaddering van die ware evangelie?

Jy moes al van hulle gehoor het… Marcus Borg, Rob Bell, Roger Wolsey se boek, Kissing Fish: Christianity for People Who Don't Like Christianity of meer onlangs in die nuus was Nadia Bolz Weber (amptelik deel van die Lutherse kerk in Amerika) en vele ander... Maar leraars wat hulle denkwyse deel word al hoe meer in NG geledere ook aangetref... kyk maar hoe word progressiewe Christendom op Facebook blaaie en Twitter rekenings geprys en gepropageer...


Wat glo die sogenaamde Progressive Christianity (ook genoem emerging church)? Dis ‘n benadering wat baie sterk gekleur word deur post-liberalisme en post modernisme. Alle vaste waarhede en dogma is onder verdenking... Op die oog af beklemtoon hulle die radikale aard van Jesus se lewe en lering. Jesus se meng met die sondaars is ‘n geliefkoosde tema... Vir hulle is die hier en nou belangriker as die eendag en die ewigheid, sosiale geregtigheid is belangriker as die korrekte dogma. Hulle beweer om erns te maak met die Bybel, maar verkies ‘n meer metaforiese verstaan. Om reg te doen is belangriker as om die regte dinge te glo. In die proses word baie Bybelse waarhede egter oorboord gegooi en as “outdated” beskou. Natuurlik is daar baie variasies en verskillende beklemtonings.

Soos met bykans alle strominge en dwalinge die geval is, vind ons by hulle ‘n buitensporige reaksie teen sekere foute in die kerk. Ja, inderdaad... die kerk was dikwels nie oop genoeg vir die nood van die wêreld nie, afsydig teenoor die tollenaars en sondaars van ons tyd, te vas aan ‘n bepaalde tydgebonde kulturele inkleding in erediens en leefstyl, vasgevang in haarklowery oor minder belangrike dogmas... Dis alles foute waarvoor ons gerus maar meer sensitief kan wees. En tog moet mens ongelukkig sê dat die hierdie sogenaamde progressiewe Christene in baie opsigte so ver verwyderd geraak het van die evangelie en die heilige algemene Christelike kerk van alle eeue, dat hulle hulle buite die waarheid van die Woord en die evangeliese Christendom bevind.

Hierdie “progressives” maak ‘n indruk op sommiges met hulle tatoes en kru taal, maar is bra skrikkerig vir die Bybelse boodskap oor sonde, bekering en kruis!

Maar wat dan van die liefde? Is die progressiewes se beklemtoning van die liefde dan nie ‘n Bybelse waarmerk van egtheid nie? Liefde is tog immers die groot gebod? Ja, beslis staan liefde sentraal in God se boodskap, liefde word egter baie duidelik in die Bybel gedefinieer. Dink maar aan Jesus se woorde (ook waarskuwings) en dade, asook Paulus se radikale beskrywing daarvan in 1 Korintiërs 13. Johannes die apostel van die liefde, maak dit duidelik dat liefde nie ‘n normlose sentimentele gevoel is nie, as Hy Jesus se woorde onder ons aandag bring : "As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer." (Johannes 14:15) Jesus het nogals radikale opdragte in terme van naaste liefde ja, maar ook oor sake soos seksuele reinheid... iets waaroor die “Progressives” graag swyg...

Dis juis as dit kom by die opdragte en waarhede van die Woord dat mens verstom staan oor die dwalinge van hierdie progressiewe profete van ons dag:

Die Woord leer dat Jesus die enigste weg na God is (Johannes 14:6), die “Progressives” beweer dat Jesus een van baie roetes na God is.

Die Woord veronderstel die beginsel van absolute waarheid (Johannes 17:3), die “progressives” is relatiwiste en glo dat elkeen sy eie waarheid het.

Die Woord leer ons dat Jesus juis gekom het om ons van ons sonde te verlos (Matteus 1:21), die “Progressives” is maar baie lugtig vir die begrip sonde. Dis blykbaar wel "sonde" om iets sonde te noem!

Die Woord leer dat sekere dinge sonde is (baie dinge waaronder homoseksuele gedrag), die “Progressives” aanvaar homoseksuele gedrag en ‘n gruwel soos “gay huwelike” as normaal. Die Bybelse veroordeling van homoseksualiteit is vir hulle nie meer geldig nie.

Die Woord leer dat God man en vrou gemaak het met verskillende rolle (Efesiërs 5), die “Progressives” wil niks van hierdie onderskeie rolle en gesagstrukture weet nie.

Die Woord en veral Jesus in sy eie woorde, waarsku oor ‘n hel en eindoordeel, “Progressives” is maar eintlik universaliste wat glo dat almal gered sal word. Inklusiwiteit is die norm, alle eksklusiwiteit word gehaat, al leer die Bybel dit duidelik dat daar nie net skape is nie, maar ook bokke!

Die Woord leer dat Jesus nie maar net ‘n wonderwerker of wyse prediker was nie, maar sy lewe aan die kruis as losprys gegee het (Markus 10:45), die “Progressives” se Christus is weinig meer as ‘n liefdevolle morele navolgingswaardige persoon. Van die versoeningsoffer, die plaasvervangende sterwe, met ander woorde die boodskap van die kruis (1 Korintiërs 1:18ev) hoor jy nie by hulle nie.

Die mens is die norm...

Die “Progressives” maak baie en graag daarvan melding dat hulle die ouens is wat na die stukkende mensdom uitreik. Die vraag is net met watter “evangelie” word daar uitgereik? Oor Jesus en die apostels se opdrag om te bekeer swyg hulle.

Kom ons wees billik en hoor wat skryf Roger Wolseley self: "Progressive Christianity is about loving more deeply and living more meaningfully. It’s about following Jesus’ invitations for practicing radical compassion and loving-kindness, living-out Jesus’ Kingdom values, and experiencing a fuller, more profoundly connected and meaningful life. You don’t have to believe in any of the theologies about God that have been used to damn, judge or exclude people. You don’t have to believe in Satan or the Devil. You don’t have to believe in Heaven or Hell. You don’t have to believe in a virgin birth or a physical resurrection, or that someone walked on water, or that Christianity is the only way that God is at work in the world (though many progressive Christians believe many of those things). Instead, it’s about cultivating a sense of appreciation for what God has done for the world though Jesus. It’s about nurturing direct experience with the Divine and practical actions to inclusively live in right relationships and make a positive difference in the world in the name of Christ – without denying that God is at work in the world in other ways."

Dis duidelik, hierdie sogenaamde progressiewe Christenskap is ‘n sentimentele humanistiese (en baie idealistiese) boodskap oor ‘n ongedefinieerde Christus wat die kern Bybelse waarhede soos die uniekheid van Jesus, sy liggaamlike opstandig en ‘n finale oordeel onder die mat invee. Wat bly oor? ‘n Vae mistieke gemeenskap met ‘n god wat die mens vir homself geskep het en wat heeltemal inpas by ons sondige begeertes en dade! Hierdie ouens glo blykbaar nie in ‘n duiwel se bestaan nie, maar hulle word wel deeglik deur hom gebruik! En ja, dikwels is die "kindness" ook net gaafgeit soos en wanneer dit hulle pas...



[Om uit te reik na gemarginaliseerdes is dit nie nodig om die kernwaarhede van die evangelie prys te gee nie. Dis juis wat hulle ook nodig het! Hier bring ons die Woord en sommer 'n klomp groente na 'n arm San gemeenskap net buite Tsintsabis.]

*Neem tog net in ag dat hierdie nie 'n teologiese studie oor die Progressiewe Christendom is nie, maar bloot 'n inleiding vir die gewone man in die kerkbanke...