BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Protestante. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Protestante. Wys alle plasings

Sondag 28 Oktober 2012

WIE GOD KEN

... vrees nie vlamme of leeus nie.

Wat is die ewige lewe?  Is dit bloot die inhoud van ‘n “polis” wat uitbetaal as ek die dag sou sterf? Nee, by verre nie! Die ewige lewe is om God en sy Seun Jesus  te ken. Jesus sê dit self in sy aangrypende gebed: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U die ware God ken en Jesus Christus wat deur U gestuur is!” (Johannes 17:3)  Om in gemeenskap met God te wees is ware  lewe, ewige lewe! Dis die grootste opwindendste voorreg wat die mens beskore is : om die ewig heerlike en ontsagwekkende God te kan ken!  

As iemand God ken is dit nooit bloot ‘n teoretiese of akademiese saak nie. Dit het ingrypende praktiese  implikasies. Dit word daagliks  sigbaar. Mense wat God ken en dus gereed is vir die wederkoms, sal anders optree! Ander sal dit sien en kan sê : “Daardie man, vrou, kind, ken God!”  Hoe lyk iemand in die alledaagse lewe wat God ken? Die boek Daniël antwoord dit op ‘n praktiese manier. Blaai gerus saam met my deur hierdie wonderlike boek!* 


Daniël was nie ‘n professionele leeutemmer nie, Daniël was ‘n man wat God waarlik geken het. 

Dit word op ten minste drie maniere duidelik :

1. Mense wat God ken besef, bedink en bely sy heerlikheid.

Die hele boek Daniël is ‘n getuienis oor die grootheid, soewereiniteit en almag van die Lewende God! Dis veral merkwaardig as mens die omstandighede van destyds in agneem. Die  magtige Babiloniese ryk het die klein volkie van Juda ingesluk en baie is weggevoer na die groot wêreldstad Babel. Dit het gelyk asof die Babiloniërs kon maak net wat hulle. Maar Daniël het God geken en geweet dat God, en nie die heersers van Babel nie, die geskiedenis bepaal! Ons kry al ‘n voorbeeld hiervan in Daniël se gebed, toe hy God geprys het dat Hy  hom insig in Nebukadneser se droom  gegee het. “Hy wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel...” (Daniël 2:20-22) Nie Babel nie, maar God is soewerein in beheer!  Dis ook hierdie heerlike wete van wie God is, wat Daniël daartoe bring om die heidense koning se opdragte te minag en God meer gehoorsaam te wees as mense. Ons sien dit al in hoofstuk 1 waar hy en sy vriende weier om die heidense kos te eet, ons sien dit in Daniël 6:11-13 waar hy weier om die koning se opdrag te gehoorsaam wat hom wou verbied om tot die ware God te bid! Dekreet ten spyt! Leeus ten spyt! Daniël se besef van wie God is bewaar hom daarvan om met die stroom saam te gaan! Daniël besef nie net die grootheid van God nie,  maar ook sy regverdigheid, genade en getrouheid. Ons sien dit in Daniël se roerende gebed in hoofstuk 9. (Kyk na vers 4,7,9,14) “Ag, Here groot en ontsagwekkende God....U is regverdig Here ...” Hierdie heerlike wete wie God is laat Daniël vertrou en maak hom vreesloos! Wat is ons siening oor God? Wat vertel ons gebede oor wat ons van God dink? Het ons ‘n besef van God se almagtige heerlikheid, sy heilige volmaaktheid en sy genadige getrouheid? As ons God ken en bewus is van hierdie eienskappe sal dit duidelik wys in die bewondering wat ons vir Hom het, ons nederige afhanklikheid van Hom en ook in daaglikse gehoorsaamheid. Daniël se dapper gehoorsaamheid aan God, tot binne die leeukuil kom uit sy diepe besef van wie God is en sy groot respek vir hierdie God ! Weet ek en jy al wie God is? Is ons proefondervindelik bewus van sy attribute (eienskappe) soos sy almag, alomteenwoordigheid, alwetenheid, soewereiniteit, heiligheid, getrouheid, liefde, genade... en maak dit ‘n verskil in ons lewensbeskouing en leefstyl? So baie mense wat beweer dat hulle Jesus aangeneem het se denke en dade openbaar na jare nog steeds ‘n totale onkunde oor God! 

Ware bekering bring ‘n besef van wie God werklik is!

2.  Mense wat God ken is vergenoeg en tevrede  in God.

Die mens wat God ken het vrede, vervulling en rustigheid in God. Ook in gevaarlike en onstuimige tye. Toe Daniël hoor van die nuwe wet/dekreet wat bedoel was om hom skade aan te doen het hy rustig soos altyd voortgegaan om te bid. (6:11) Geen paniek of vrees! Ongestoord! Ons sien ook hierdie vrede en tevredenheid in die gesindheid van Daniël se drie vriende Sadrag, Mesag en Abednego toe hulle met ‘n brandende oond gedreig is omdat hulle nie Nebukadneser se goue beeld wou aanbid nie. Hulle dapper maar kalm antwoord in die flikkering van die vlamme,  spreek boekdele van rustige vergenoegdheid in God. Luister bietjie : “Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.” (Daniël 3:16-18) Die koning word wit van woede, maar dié  drie manne wat God ken is vol berusting en vrede in die aangesig van die dood. Hierdie vrede is ‘n vrede onder alle omstandighede. Dit word so treffend in Romeine 8:35-39 (lees) 
Beleef ek en  jy ‘n tevredenheid in God? Ook in die aangesig van slegte landsomstandighede of persoonlike krisisse?  Dit sal wys tot watter mate ek en jy Hom waarlik ken!

3. Mense wat God ken vertoon dapper standvastigheid en lojaliteit teenoor God. 

Hierdie beginsel word pragtig gestel in Daniël 11:32 “...maar dié wat God ken sal vasstaan.”  Dit was waar van Daniël self. Hy en sy vriende weier dapper om die koning se heidense kos te eet en hulle  met afgodery te besoedel!** Daniël verseg vreesloos om die koning se wet dat hy nie tot God mag bid nie, te gehoorsaam. Hy bid voor sy venster, oop en bloot daar waar almal dit kan sien! Diegene wat God ken het ‘n passie vir sy eer! Hulle wat God ken is lojaal en radikaal in hulle toewyding.  Ware Godskennis bring ons in beweging tot gebed, diens en  getuienis, maak nie saak wat die gevolge is nie!  Ware kennis van God gee ons ‘n ywer om Hom in ons lewe te eer en ons nie met sondekompromie te besoedel nie.  Wie God ken, kan NEE sê! Dwarsdeur die eeue was dit ‘n kenmerk van God se kinders.  So was die gesindheid van die apostels.(Handelinge 5:29) Dit was die dapper houding van Paulus. “Ek weet dat die Heilige Gees  my in elke stad verseker dat gevangeneskap en vervolging op my wag. Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van Jesus Christus gekry het, kan klaar maak : dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.”  (Handelinge 20:23,24) 

Natuurlik kan God se kinders ook in ‘n oomblik van swakheid swig, soos Petrus. (Wie van ons was nog nooit lafhartig nie?) Maar as hulle God waarlik ken, kry hulle deur die genade weer nuwe moed en volg Hom daarna weer met groter dapperheid soos Petrus se verdere geskiedenis bewys. (Hy het uiteindelik ‘n marteldood vir sy Verlosser gesterf)

‘n Ander voorbeeld hiervan is die bekende Thomas Cranmer. Cranmer was ‘n leidende figuur in die Protestantse Reformasie in Engeland. In die tyd van Mary Tudor is hy gevange geneem. Hy is gedwing om die verbranding van twee ander Protestantse leiers, Latimer en Ridley te aanskou. Cranmer het uiteindelik onder druk geswig en ‘n dokument waarin hy sy Reformatoriese oortuigings terugtrek geteken. Ten spyte hiervan het Mary voortgegaan met sy teregstelling op die brandstapel. Cranmer se dapperheid het genadiglik teruggekeer. Kort voor sy martelaarsdood het hy  sy verloëning van sy geloof teruggetrek en teen die Pous te velde getrek. Toe die vuur  aangesteek is, het hy sy regterhand wat die dokumente onderteken het, uitgestrek sodat dit eerste kon brand. By herhaling het hy gesê : “This unworthy right hand” Cranmer het dapper geëindig, want hy het God geken!

Ken ons God? Die heerlike almagtige lewende God? Wie Hom ken sal ‘n ander gesindheid en lewensstyl hê. Ons sal sy almag besef, ons sal sy vrede beleef, ons sal dapper weier om kompromie met die wêreld en sonde te maak!  Diegene wat God ken kan vlamme blus, leeus oorwin, ook die Brullende leeu wat soek om te verslind...

* met erkenning aan JI Packer, “Knowing God”
** Die heidense kos was waarskynlik eers aan die Babiloniese afgode gewy.

Maandag 22 Oktober 2012

ROOMSE RAAISELS EN RELIKWIEË

- Kateri word ‘n “heilige”.

Verlede Sondag (21 Oktober 2012)  het Pous Benediktus XVI, ‘n Indiaanse meisie  wat alreeds in 1680 in Quebec,  Kanada oorlede is, tot  heilige verklaar oftewel gekanoniseer. Catherine (Kateri) Tekakwitha is die eerste inheemse Noord-Amerikaner wat hierdie “eer” te beurt val.  Die geskiedenis van Kateri voor haar dood as jongmeisie, maar ook wat na haar dood met haar (nagedagtenis en beendere!) gebeur het, laat mens diep aangeraak, hartseer, maar juis ook met dankbaarheid teenoor God dat Hy die Reformasie van die 16de eeu gebruik het om ons van baie Roomse dwalinge te bevry.

Kateri was die dogter van Kenneronkwa, ‘n Mohawk hoofman en Tagaskouita, ‘n Alogonquin Indiaanse vrou wat tot die Roomse geloof behoort het. Haar ouers is beide oorlede weens pokke en sy het as weeskind by haar oom grootgeword. Sy het die pokke aanslag, wat in daardie jare onder die inheemse bevolking gemaai het, oorleef, maar dit het merke op haar gesig gelaat en haar sig belemmer. In 1667 toe Kateri 11 jaar oud was, het sy met Jesuïte sendelinge in aanraking gekom. Haar oom was gekant teen kontak met hulle, want hy wou nie dat sy ‘n Christen word nie. In die lente van 1675 ontmoet sy vader Jacques de Lamberville en hy begin haar katkiseer. Hy het haar op die ouderdom van 20 jaar gedoop op Paassondag, 18 April 1676. Sy het teenstand van die ander Mohawks ondervind en het op die Jesuïte sendingstasie van Kahnawake, suid van Montreal gaan woon.

Kateri het haarself aan ekstreme selfkastyding onderwerp soos om langdurig te vas, haarself te slaan, met kole te brand, op ‘n bed met dorings te slaap... Dit wil voorkom asof sy van hierdie praktyke vanuit die Mohawk kultuur oorgeneem het. In 1679 het sy die eed van kuisheid afgelê en onderneem om nooit te trou nie.

Die jong Kateri is op die ouderdom van net 24 jaar oorlede. Vanaf haar dood het gerugte van wonderwerke die rondte begin doen. Die Jesuïte by haar sterfbed het beweer dat die pokke letsels op haar gesig heeltemal verdwyn het en kort daarna het mense visioene van haar begin sien. (Eeue later, in 1943 het Pous Pius XII die verdwyning van die pokmerke op Kateri se gesig as ‘n outentieke wonder verklaar.)  Vader Chauchetière, wat ook by haar sterfbed was,  het ‘n kapel naby haar graf gebou en teen 1684 het pelgrims haar begin vereer.

Daar is aansprake dat relikwieë* wat verband hou met Kateri genesings tot gevolg gehad het.  So is ‘n seun, Joseph Kellogg na bewering in die 18de eeu van pokke genees deur ‘n stukkie hout van Kateri se kis. Tot vandag toe is daar mense wat wonderwerke aan haar toeskryf. In 2006 het daar na bewering so ‘n genesingswonder deur haar plaasgevind toe ‘n jong seun, Jake Finkbonner van ‘n potensieël dodelike bakteriese infeksie genees is. ‘n Sekere Suster Kateri (!) Mitchell het ‘n stukkie van Kateri se polsbeen na die seun in ‘n hospitaal in Seattle geneem, wat sy teen sy liggaam gesit het en toe saam met sy ouers gebid het. Jake is nou 12 en het nog steeds mediese aandag nodig, maar sy herstel word deur sommige Rooms Katolieke as ‘n wonderwerk beskou. Dis hierdie wonder wat Kateri laat “kwalifiseer” het vir die status van Heilige** volgens die Roomse vereistes.

In die lig van komende Hervormingssondag, voel dit vir my dat Kateri se lewensverhaal die steeds diepgaande verskille tussen ons as Protestante en die Rooms Katolieke opnuut beklemtoon. Anders gesê, die kort maar  veelbewoë lewe van hierdie meisie en die Roomse interpretasie van haar lewe,  maak mens opnuut dankbaar vir die kosbare kernwaarhede wat die Reformasie van die 16de eeu vir ons nagelaat het.  Kom ons vergewis onsself weer hiervan:

SOLA SCRIPTURA. Die Woord van God  alleen is die enigste basis en bron van dit wat ons glo en hoe ons moet lewe. (2 Timoteus 3:14-17) En die Woord is genoegsaam!  Sogenaamde of beweerde wonders bewys nog nie dat ‘n bepaalde persoon of lering aan die kant van die waarheid is nie! Valse profete vanaf die  Egiptiese towenaars in die tyd van Moses tot die Antichris self is instaat tot buitengewone wonders. (Vgl.  2 Tessalonisense 2:9-12) ‘n Menigte Roomse tradisies soos die rol van Maria, gebruike soos relikwieë  of die verklaring van sekere persone as heiliges het geen steun vanuit God se Woord nie!

SOLA GRATIA. Ons word gered uit genade alleen sonder enige menslike verdienste of bydra. (Romeine 3:23,24)  Geen selfkastyding of selfopgelegde strafmaatreëls kan my saak by God bevorder nie. Omdat alle kinders van God alleen op grond van sy genade in Jesus vryspraak ontvang het, is ons status gelyk voor God.  Ja, die Bybel leer immers duidelik dat alle gelowiges, “heiliges” is in Christus (1 Korintiërs 1:2 OAV). Geen Pous hoef ons eers heilig te verklaar op grond van beweerde wonderwerke nie. Kinders van God, as geheiligdes in Jesus Christus is seker van hulle ewige saligheid op grond van sy soenverdienste en die beloftes van God en hoef nie te wag op een of ander amptelike  kerklike bevestiging hiervan nie.

SOLA FIDEI. Redding geskied uit genade alleen deur die geloof alleen. (Efesiërs 2:8)  Geloof is ook nie ‘n stuk menslike verdienste nie, maar ‘n leë hand waarmee ons God se geskenk van vergifnis ontvang. Ons geloof en verwagting is gerig op God en dit wat Hyself deur Jesus vir ons gedoen het en nie op besondere mense of sogenaamde heiliges nie. Nog minder is ons hoop op enige goeie werk van ons kant af, terwyl ons die belangrikheid besef dat ons geloof goeie werke as vrug moet voortbring.

SOLUS CHRISTUS. Ons verlossing geskied alleenlik deur Jesus Christus as volkome en unieke  Middelaar tussen ons en God. (1 Timoteus 2:5) Roomse teologie en trouens alle ander dwalings en afwykings (soos ook die Hebrew Roots Movement)  struikel juis op hierdie vraag : Was Jesus se eenmalige offer aan die kruis volledig genoegsaam vir ons versoening en ewige geluksaligheid? Die sondaar wat besef dat hy vrye toegang tot die genadetroon van God het deur ons volmaakte Hoëpriester, Jesus Christus,  het geen verdere behoefte aan hulpmiddels soos rosekranse, relikwieë en heiliges nie. Ons gebede in die naam van Jesus op grond van sy verdienste is genoeg en benodig nie die magiese versterking van stukkies hout en been nie! Inteendeel, alle menslike krukke van verdienste bedreig ons belydenis oor Jesus se algenoegsaamheid en verlei ons maklik om ons oog van Hom weg te neem.!

SOLI DEO GLORIA. Aan God alleen kom alle eer en aanbidding  toe. God is gesteld op sy eer - Hy deel dit met niemand nie. Een praktiese implikasie van hierdie waarheid is  dat ons Hom slegs sal aanbid op die manier wat Hyself in sy Woord vir ons voorskryf. Watter logiese redes nou ook al deur die Roomse tradisie uitgedink kan word vir die gebruik van relikwieë of die rol van gestorwe heiliges, bly dit vir ons onaanvaarbaar en grens dit aan afgodery, want God het nie opdrag gegee dat ons Hom op sodanige maniere moet aanbid nie.

En wat nou van Kateri? Ek het baie simpatie met haar. Ek hoop dat sy ten spyte van baie mensgemaakte tradisies en onkunde tog die genade ontvang het om haar persoonlike vertroue op Jesus alleen as enigste Verlosser te plaas. Haar laaste woorde voor sy gesterf het,  was immers  na wat berig word : “Jesus, ek het U lief.”   Met die Roomse kerk as instituut het ek egter weinig simpatie. Ek verwyt hulle dat hulle nie die suiwer eenvoudige evangelie van genade in Jesus aan mense soos Kateri duidelik verkondig  nie. Ek dink dis afgryslik tragies dat hulle vandag nog waarde kan heg aan onskriftuurlike praktyke soos relikwieë en die verering van heiliges. Maar natuurlik as ek (en ons) hierdie beskuldigings maak, moet ons dit met nederige versigtigheid doen, wetende dat ook ons  (as Protestante) so maklik van die voorskrifte van God se Woord afwyk en leringe van mense navolg. Mag God ons deur sy genade van dwaling bewaar!


* Relikwieë is liggaamlike oorblyfsels van heiliges en voorwerpe wat met hulle in aanraking was. Hierdie voorwerpe word dan vereer. Hoe mooi die Roomse Kerk dit probeer regverdig, lei die gebruik van relikwieë ongetwyfeld tot bygeloof en blatante afgodery, om natuurlik nie van uitbuiting van die liggelowiges en onkundiges te praat nie  

** Heiliges (gekanoniseerdes) is volgens die Roomse teologie persone van wie die  kerk amptelik erken dat hulle in die hemel is. Kanonisering geskied na deeglike ondersoek, wat moet kan bewys dat twee wonders aan die betrokke persoon gekoppel kan word. Om as heilige verklaar te word, het die volgende praktiese implikasies :
So ‘n heilige se naam word geskryf in die katalogus van heiliges.
Die  heilige se naam word aangeroep in die openbare gebede van die kerk.
Kerke mag aan God toegewy word ter herinnering aan sulke heiliges.
Die Eugaristie word gevier tot eer van ‘n heilige.
So ‘n heilige se feesdag word deur die kerk gevier.
Op prente van die betrokke heilige word hy/sy met ‘n stralekrans (halo) afgebeeld.
Relikwieë wat met die heilige verband hou word in kosbare houers geplaas en in die openbaar vereer.