BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Vertroue op die Woord. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Vertroue op die Woord. Wys alle plasings

Maandag 30 Oktober 2017

ONAFSKEIDBARE TWEELING

- Gehoorsaam aan WOORD en GEES sal ons gedurig reformeer en getrou bly aan ons evangeliese roeping!



Jesus het die genoegsame losprys vir sondaars aan die kruis betaal. Daarna het Hy opgestaan uit die dood. Regtig. Histories. Liggaamlik. “Voel aan My.” Hy eet ‘n gebakte stuk vis voor hulle oë! Maar daarna doen Hy nog iets belangrik. Hy gee aan sy dissipels (aan sy kerk) :
  • ‘n Vaste verwysingspunt (Skrif)
  • ‘n Helder roepingsopdrag (Evangelieverkondiging deur getuienis)
  • ‘n Heerlike belofte (Heilige Gees)
Dis baie belangrik om raak te sien wat Jesus na sy opstanding doen en waarop Hy fokus in die kort tydjie tussen sy opstanding en hemelvaart. Ons lees hiervan in Lukas 24. Hy doen nie nuwe dramatiese wonders nie. Hy verwys sy dissipels (ons!) terug na die Skrifte! “Daarna sê Hy vir hulle: "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is." Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.” (44,45) En Hy maak die belofte van die Gawe! Die Heilige Gees! “En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.” (49)

WOORD EN GEES

Belangrik! Hier in die laaste hoofstuk van Lukas lees ons hoe lê Jesus die fondasie vir gesonde en doelgerigte kerk wees. Woord en Gees. Gehoorsaam aan die Woord en bekragtig deur die Gees kan ons ons evangeliese roeping vervul. Hierdie kern roeping is baie duidelik. Die verkondiging van bekering en vergifnis in Jesus se Naam. “Verder sê Hy vir hulle: "So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’” (46,47) Mag ons dit sommer weer duidelik hoor : Die kerk se primêre fokus mag nooit selfoorlewing, geldinsameling, sosiale betrokkenheid of kultuurprojekte wees nie. Ons moet die verlossingsboodskap aan alle mense bring. Bekering en vergifnis van sonde. 

Maar terug by die fondasie van Woord en Gees. Dis hierdie fondasie wat as’t ware weer herontdek is tydens die Protestantse Reformasie. Die gesag van die Woord en die Gees. Die leiding van die Woord en die Gees. Bemagtiging deur Woord en Gees. 

Wat beteken dit prakties? Woord en Gees gaan saam. Die Woord is ons norm. Enigste norm. Sola Scriptura. Die Woord en die alleen sê vir ons wat is reg en verkeerd. Nie die Huisgenoot, Hollywood of die algemene opinie op straat nie. Die Woord is dus onmisbaar belangrik. Maar die Heilige Gees is net so onmisbaar. Die Heilige Gees maak vir ons die betekenis van die Woord oop en bekragtig ons om dit te gehoorsaam. Hy gebruik die Woord om ons te heilige, te verander, te vernuwe... Hy bewerk die gehoorsaamheid om die evangelie van Jesus uit te leef en te verkondig. 

Die resep vir volharding en roepingsvervulling is om tegelykertyd aan beide vas te hou – Woord en Gees.

Die kerke van die reformasie het natuurlik soos dit menslik is, telkens weggedwaal van hierdie beginsel. En dit gee in ons dag steeds aanleiding tot groot verwarring, gruwelike onkunde en dwaling!


  • Soms word die Woord oorbeklemtoon ten koste van die Gees. Dit gebeur wanner die Bybel op ‘n suiwer intellektuele tegniese manier benader word. Kraakdroë ortodoksie. Ons doen deeglike, maar koue eksegese. Ons formuleer als so mooi reg, daar is geen teologiese leerstellige haar uit sy plek nie… Die regte kolletjies op die “i” en die presiese strepies deur die “t”. Maar daar is geen gebrokenheid en berou oor sonde nie, geen ware bekering nie, geen gehoorsaamheid om Jesus se opdragte uit te voer nie. Daar is min opgewondenheid, min opoffering, min liefde. Byvoorbeeld ons formuleer so mooi dat Jesus die enigste Middelaar is, maar ons kom nie prakties by gebed uit nie, ons is nie regtig lief en toegewyd aan hierdie Middelaar nie, ons het geen passie en doen geen moeite om hierdie Middelaar aan ander te verkondig nie. Ek wil vir jou vra wat die Woord en die belydenisskrifte (wat opsommings is van die Woord) so goed ken: Hoor jy nog hoe die Gees deur die Woord met jou praat, oortuig Hy jou deur die Woord van sonde en dryf dit jou opnuut na uit na Jesus om Hom te omhels? Maak die evangelie ‘n verskil in jou liefdeslewe, besigheidslewe, ontspanningslewe? Lei die Heilige Gees jou in ‘n heilige lewe?
  • Soms word die Gees losgemaak van die Woord. Die Woord word effens opsy geskuif. Dit het ook by verskeie kere in die verlede gebeur en gebeur vandag nog baie. Dis wanneer mense redeneer : “Die Gees sal my lei en dis nie nodig om erns maak met die Woord nie. Dis ook nie nodig dat ek na ernstige prediking, na Woorduitleg luister nie.” Natuurlik sal diesulkes nooit openlik die Woord weggooi nie. Hulle sal nog steeds sê : “Ons glo die Bybel.” Maar wat gebeur? Hulle gebruik die Woord op die klank af, ruk tekste uit verband uit (“Spreek Lewe” teologie), maak nie erns met die konteks nie, jaag allerhande nuwighede na wat hoegenaamd nie in die Skrif voorkom nie – “salf huise met olie”. Daar word sommer links en reg beweer : “Die Here het vir my gesê…” Ja, daar is moontlik baie opgewondenheid, baie sentimentaliteit, baie lawaai, baie nuwe idees, maar ook ongelukkig baie verwarring! Maar ongelukkig min standvastigheid, min volharding, min integriteit en heiligheid en min waarheid! Ek wil vir jou wat die Woord afskeep vra: ”Waar anders as in die Woord gaan jy die suiwer wil van God hoor, hoe anders as deur omvattende Woordkennis gaan jy koershou in ‘n chaotiese wêreld, hoe anders gaan jy weerstand bied teen die daagliks propaganda van die Satan?”

VOORTDURENDE REFORMASIE

Altyddeur moet die kerk opnuut luister en opnuut gehoorsaam word aan die Woord en die Gees. Die kerk as geheel, maar ook ek en jy persoonlik. Ons het reformasie weer net so nodig soos vyf honderd jaar gelede. Is jy daarvoor bereid? Is jy bereid om die Woord en Gees te gehoorsaam en standpunt in te neem die oorweldigende materialisme, die Hollywood welluskultuur, die afgodiese sportwaansin en prestasiebeheptheid wat op ons eie voorstoep is…? Martin Luther het teen die hele wêreld opgestaan, omdat die Woord en Gees sy siel oorweldig het. Deur die Woord en Gees het hy vrede gevind vir sy geteisterde siel. Maar dit het vir hom ook baie moeilikheid besorg… Dit het hom in botsing gebring met ‘n afgedwaalde kerk en goddelose wêreld. Hy het die brandstapel net-net vrygespring...  (Kliek op LUTHER)

Is ek en jy bereid om opnuut die Woord en Gees te gehoorsaam en die spot en haat van mense te verduur? Dis die vraag wat elkeen vandag voor God moet antwoord! Dis die voorvereiste vir voortdurende reformasie. Dis so bitter nodig in ons dag...


Ons het op Sondag 29 Oktober 2017 die Reformasie feestelik gevier in 'n vol kerk. By die geleentheid het 'n nuwe lidmaat, Helena Boshoff ook belydenis van geloof afgelê. (en dit was boonop ook nog haar verjaarsdag!) Die Sondagskoolkinders het in 'n kort seremonie die 5 solas van die Reformasie aan 'n houtdeur vasgespyker.

Vrydag 27 Februarie 2015

VERTROUE OP DIE WOORD

- SLUIT ‘N NUWE TOEKOMS OOP!

Die hele nag het hulle hard gewerk, maar nie een enkele vis gevang nie! ‘n Algehele mislukking. Onthou net Petrus en sy makkers was nie hengelaars wat vir ontspanning vis gevang het nie, dit was hulle brood en botter, hulle hele bestaan het van die sukses van hulle vangste afgehang. Petrus moes dus baie mismoedig gewees het,... maar toe maak hy ‘n keuse, ‘n keuse om Jesus op sy woord te vat. ‘n Keuse om Jesus se woord te glo al maak dit nie sin nie en al druis dit teen sy logika in... en toe verander als. Dit lei nie net tot ‘n wondervangs nie, maar ook tot ‘n wonderlike toekoms!

GOD PRAAT

God praat met mense. Hy hou Hom nie maar net stil eenkant en onbetrokke nie. Hy maak bemoeienis met mense. Hoe? Hy doen dit deur sy Woord. Sy beloftes. Wanneer ons God se Woord glo, gebeur daar heerlike en kragtige dinge. Die krag van God se Woord word besonderlik bewys in hierdie gebeurtenis. Die belangrikheid van God se woord en beloftes is ‘n deurlopende tema in hierdie verhaal wat ons vind in LUKAS 5:1-11. Reg aan die begin hoor ons dat die skare vorentoe beur om God se Woord te hoor. (1) Ja, Jesus bring die Woord aan almal wat maar wil luister. Maar dan kom God se Woord baie persoonlik na Petrus. (4) Hy kry ‘n duidelike bevel : “Vaar uit na die diep water...” Dit het nie vir Petrus na ‘n logiese opdrag gelyk nie. Hy was ‘n visser van beroep, hy het die water geken, hy het geweet daar’s niks... Jesus was nie ‘n visserman nie, hy het in ‘n timmermans besigheid grootgeword. 

Maar Petrus neem ‘n geloofsbesluit - "Meneer," antwoord Simon, "ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi." (5) – met ander woorde - “Ek sal gehoorsaam en vertrou al maak dit nie vir my sin nie! Net omdat U so gesê het sal ek dit doen! Dit klink nie vir my reg nie, dit lyk nie vir my reg nie, dit voel nie vir my reg nie, maar net omdat U so gesê het sal ek dit doen.”

Dis op hierdie punt (in ‘n sekere sin) waar Christenskap begin. Dis die draaipunt. Wanneer ek ‘n keuse maak om God op sy Woord te vat, maak nie saak wat die feite, vrese en omstandighede is nie. Ek moet doelbewus reageer op God se beloftes. As Petrus Jesus se opdrag gehoor het, maar vol verduidelikings, verskonings en ekskuse gebly het, sou hy ‘n wonderwerk gemis het.

Die wonderwerk wat Petrus beleef het was natuurlik baie meer as net ‘n groot vangs van visse. [God het 'n baie groter plan vir Petrus gehad as bloot materiële welvaart. Kyk, as Petrus hulle elke dag met elke vangs hulle skuite kon volmaak, sou hulle lekker kon leef en dalk luukse villas daar langs die see kon bou... maar nee, Jesus was besig om Homself aan Petrus te openbaar en hom vir 'n nuwe toekoms voor te berei, wat alles behalwe rykdom en gerief sou behels...] Daar gebeur ‘n groter wonder in Petrus hart as in die skuit. “Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: "Gaan weg van my af, Here, want ek is ‘n sondige mens." (8) Hy besef sy eie sonde. Hy kom onder sonde oortuiging. Die belofte van Esegiël 36:31 word waar in sy lewe.* (Dis inderdaad ‘n groot wonderwerk en teken van God se genade as mens jou ware sonde toestand voor die Here besef, want van nature is ons mos baie oulik en goed in ons eie oë!) Petrus word bang toe hy sy sonde besef... Soos die profeet Jesaja in Jesaja 6...

Maar weer kom die Woord na Petrus (soos destyds ook na Jesaja). “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” (10) Dis ‘n kosbare woord van uitnodiging, liefde, vergifnis, hoop en 'n nuwe toekoms van bruikbaarheid in God se diens. En wat maak Petrus? Hy kies weer om Jesus se woorde te glo en maak so ‘n keuse om Jesus te volg. 

Belofte. Geloof. Bekering.

God se Woord, God se Beloftes kom na jou toe. Sy beloftes van vergifnis, van kindskap, van die ewige lewe...

Wanneer ek hierdie beloftes glo en daarop reageer, kry ek vergifnis en sluit dit ‘n nuwe lewe en toekoms vir my oop. Ek moet hierdie beloftes glo ongeag my toestand van mislukking en sonde. Ja, dis waar ek het al hoeveel keer misluk, ja dis waar my sonde is baie se groot. Ja dis waar ek voel moedeloos en bang. Maar onthou, God se beloftes bly waar in alle omstandighede. God se beloftes tel meer as my gevoelens en die sigbare feite (Dink aan Abram se keuse om God se belofte te glo oor ‘n nageslag al was hy en Sara oud en oor die muur!).

Geliefde, hoor weer opnuut die beloftes van God... Wat gaan jy daarmee maak? Jy het vandag dit gehoor en jy het dit al baie keer gehoor, het jy gereageer?

Maak soos Petrus, kies om Jesus se Woorde te glo. Maak nie saak wat my sonde is nie, maak nie saak hoe baie my mislukkings is nie, maak nie saak wat ander mense gaan dink nie, maak nie saak wat die duiwel vir my fluister nie... “op U woord sal ek...” Onthou, as als misluk het, as als verkeerd gegaan het, as als donker lyk, dan is God se Woord, God se beloftes daar vir ons... En God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie...

GOD SE BELOFTES IS GROTER AS ONS MISLUKKINGS! 

* Dis deel van die uitwerking van die beloofde Nuwe Verbond - “Dan sal julle terugdink aan julle bose optrede en julle gedrag wat nie goed was nie, en julle sal ‘n afsku hê van julleself oor julle sonde en julle afskuwelike dade.”