BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Aftreeplanne. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Aftreeplanne. Wys alle plasings

Vrydag 03 Augustus 2018

RENTMEESTERSKAP

- Leef met vreugde voluit en verantwoordelik! 



Is geld en goed gevaarlik? Ons het al gekyk na die dwaasheid van hebsug (Kliek op DWAAS), maar nou moet ons positief vra, wat nou? Miskien is jy bekommerd oor jou selfgesentreerde en geldgedrewe leefstyl en wil jy graag leef soos God wil hê. Nou wonder jy : “Wat moet ek maak met geld en besittings, maar ook al my ander bates soos gesondheid, verstand en geleenthede? Hoe moet ek my plaas benut of my besigheid bestuur? En veral tyd wat seker die kosbaarste bate is, hoe moet ek dit aanwend?” Die gelykenis van die TIEN MUNTSTUKKE in Lukas 19:11-27 is fundamenteel belangrik om reg te lewe as kind van God. 

ONS TYD OP HIERDIE AARDE 

Die agtergrond van die gelykenis is baie belangrik. “Terwyl die mense na Jesus geluister het, het Hy nog ‘n gelykenis vertel, aangesien Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het die koninkryk van God sou nou enige oomblik kom.” (11) Die dissipels het gedink die Koninkryk van God gaan sommer nou dadelik aanbreek in Jerusalem. Hierdie gelykenis maak dit duidelik dat daar nog ’n tydsverloop sal wees tot by die finale koms van die Koninkryk eers by Jesus se wederkoms. Kinders van God gaan nie dadelik hemel toe nie... Die nuwe hemel en nuwe aarde lê nog in die toekoms. Nou wag daar eers werk vir ons... 

Die gelykenis sê vir ons hoe ons hierdie tyd moet benut tot by die wederkoms. 

Hierdie tyd op aarde voor die wederkoms is baie belangrik, ons moet dit reg gebruik. Ons sal rekenskap hieroor gee. As jy ‘n kind van God geword het, het jy ‘n baie spesifiek taak en roeping hier en nou op aarde. Hierdie taak en roeping kan mens saamvat met die term RENTMEESTERSKAP. Hierdie begrip word mooi in die gelykenis duidelik gemaak! 

Sommige mense is teen Jesus se koningskap gekant, die onbekeerdes. Dis hulle wat die koningskap van Jesus doelbewus verwerp! “Sy landgenote het hom egter gehaat en ‘n afvaardiging agterna gestuur om te sê: ‘Ons wil nie hierdie man as koning hê nie.’ Maar hy het tog die koningskap ontvang.” (14) Hulle sal by die wederkoms gestraf word. “En daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek hulle koning moet wees nie, bring hulle en maak hulle hier voor my dood!" (27) Ons moet sommer nou al besef - Die regte gebruik van geld en alle ander bates begin by bekering tot Christus. Die regte leef van die lewe begin wanneer ek regtig Jesus se koningskap aanvaar! As ek Jesus as my Verlosserkoning aanvaar word ek vertrou en bemagtig met sekere gawes en goedere. Terloops : Het jy al voor Hom gebuig? 

Die klem van dié gelykenis lê egter op die geleenthede en verpligtinge van die diensknegte van Jesus (God se kinders) in hierdie tyd voor die wederkoms. Elke kind van God word as ’n rentmeester aangestel. “Hy het gesê: "‘n Man van adellike afkoms het na ‘n ver land toe op reis gegaan om as koning aangestel te word en dan terug te kom. 
Vooraf het hy tien van sy slawe geroep en aan hulle tien goue muntstukke gegee en gesê: ‘Dryf handel daarmee totdat ek terugkom.’ (12,13) 

Dit beteken prakties dat die Here geleenthede, mense, werk, bates ens. aan jou spesifiek toevertrou het tot by sy wederkoms en dan sal jy rekenskap moet gee van wat jy hiermee gedoen het. 

BESITTINGS 

Terloops ons besit niks nie! (Hoor ons mooi?) Dis ‘n totale illusie as jy dink iets is regtig joune! 

God is die enigste Besitter in die heelal. 

Alles wat ons het is net vir ons geleen. Dit behoort aan God, Hy gee dit soos Hy wil en Hy kan dit vat wanneer Hy wil. Toets dit maar – jy het geen waarborg dat jy more oggend eiendom, gesondheid of verstand gaan hê nie! Ook nie eens vrou of kinders nie! Ons het nie besittings nie, maar wel verantwoordelikhede! As rentmeesters van dit wat aan ons toevertrou is moet ons verantwoording doen aan die Eienaar. 

Dink ‘n slag ernstig oor die verantwoordelikhede wat God aan jou gegee het in jou posisie as : kind van God in ’n gemeente (heel eerste moet ek God met my alles eer en liefhê, maar ook my broers en susters), man van ’n vrou, pa/ma van kinders, bestuurder van eiendom, geld, bates, ‘n werkgewer/werknemer. En moenie vergeet nie, elke kind van God is geroep as dissipelmaker! In jou kring en jou omgewing. Wees eerlik, praat jy met mense oor Jesus?

Wend jy jou geld, kragte, tyd en geleenthede aan op 'n manier wat wys dat jy God en jou naaste liefhet, of gaan alles oor jou eie gerief en roem?

Onthou al hierdie posisies of gawes is net deur God aan jou tydelik geleen, dis nie regtig joune nie, dis soos die muntstukke wat aan die diensknegte toevertrou word om iets mee te doen. 

Alles wat ons het (of is) moet benut, bestuur en versorg word in belang van God en sy Koninkryk! 

Doen ek dit? Dink ’n bietjie na. Van ons word inisiatief gevra op grond van ons liefde vir ons Here en Verlosser. Die tyd wat ek nou nog op aarde het moet tot die Here se eer en voordeel gebruik word. Dit was die probleem met die ryk dwaas in Lukas 12. Sy entrepreneurskap was nie die probleem nie, sy selfgesentreerdheid was sy sonde. Hy het vir homself geleef, want hy het God nie geken nie! 

BELONING 

Vir die wat hulle geleenthede benut het en hulle verantwoordelikhede nagekom het wag daar heerlike lof en beloning. 

“Nadat hy teruggekom het, het hy die slawe aan wie hy die geld gegee het, na hom toe laat roep, sodat hy kon verneem wat hulle met die handeldryf verdien het. 
Die eerste het vorentoe gekom en gesê: ‘Meneer, u muntstuk het tien muntstukke opgelewer.’ 
Daarop antwoord hy: ‘Mooi so, jy is ‘n goeie slaaf. Omdat jy in ‘n saak van min belang getrou was, kry jy nou die bestuur oor tien stede.’ 
"Toe kom die tweede slaaf en sê: ‘Meneer, u muntstuk het vyf muntstukke opgelewer.’ 
Aan hierdie een sê hy: ‘En jy kry die bestuur oor vyf stede.’ 
(15-19) 

Interessant! Die koning het nie hulle winste juis nodig gehad nie, Hy het net hulle getrouheid en liefde getoets! Hy het hulle ‘n geleentheid gegee om die vreugde van betrokkenheid by sy koninkryk te ervaar! 

DIE GEVAAR AN PASSIWITEIT 

Vir die ontroue dienskneg wag daar ’n vreeslike lot. 

"Nog ‘n ander het gekom en gesê: ‘Meneer, hier is u muntstuk. Ek het dit in ‘n doek gebêre. 
Ek was bang vir u, want u is ‘n harde man. U eis op wat u nie belê het nie, en oes wat u nie gesaai het nie.’ 
Toe sê hy vir hom: ‘Met jou eie woorde sal ek jou veroordeel. Jy is ‘n slegte slaaf! As jy geweet het ek is ‘n harde man wat opeis wat ek nie belê het nie, en oes wat ek nie gesaai het nie, waarom het jy dan nie my geld in die bank gesit nie? Dan sou ek dit by my terugkoms darem met rente kon getrek het.’ 
Daarop sê hy vir dié wat daar staan: ‘Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit vir die een wat die tien muntstukke het.’ (20-24) Vergelyk ook Matteus 25:29,30.* Ontrouheid in rentmeesterskap is ‘n ernstige saak. Dis afvalligheid, dis ongehoorsaamheid, rebellie, sonde! Dit wek God se wraak op! 

Opvallend : die ontroue dienskneg het nie juis iets verkeerds gedoen nie, hy het net niks gedoen nie! Pasop dat al jou Godgegewe kanse en verantwoordelikhede by jou verbygaan en jy doen net niks daaraan nie. (Anders gestel – wat moet ‘n mens doen om veroordeel te staan? Niks !) Hou maar net aan om vir jouself te leef ! 

Interessant : vrees was die oorsaak dat die nuttelose dienskneg niks gedoen het nie! (21) Dis ’n valse selfsugtige vrees, dis skynvroomheid, want wie werklik ontsag vir die Here het sal juis waag en inisiatief neem om dinge aan te pak. Dis juis die feit van genade wat my bevry van vrees, sodat ek (al is ek bewus van my swakheid) ten volle kan leef, gee en werk in diens aan God. Die volledige vergifnis en vryspraak wat ons as sondaars kry die oomblik wanneer ek my volkome vertroue op Jesus alleen stel, skep vir my die ruimte om voluit vir my Verlosser te leef in al die geleenthede wat hy my bied. Die geleenthede en kanse wat ek kry as lidmaat, in huwelik en gesinsverband, as eienaar en bestuurder van bates, as medemens in die algemeen. 

Kind van God, daar is werk om te doen! Jy het iets beter en belangrikers om aan te werk as net jou eie aftreeplanne!

Onthou jy het ‘n roeping! Dis elke kind van God se roeping : WEES GETROU IN JOU RENTMEESTERSKAP! 

*Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. 
En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners." (Matteus 25:29,30)


Het jy al so 'n enkele laaaang wors gesien!

Donderdag 14 Junie 2018

“GESEËNDE” DWAAS


- vol skure en reuse bankbalans, maar vir ewig bankrot! 



“Kyk net hoe geseënd is hy, hy het al weer sy besigheid uitgebrei, al weer ‘n nuwe motor gekoop, nog ‘n luukse eiendom by Langstrand, Kampsbaai of Clifton... Die Here is baie goed vir hom...” Dis hoe mense praat en dink. Die harde realiteit is dat hierdie sogenaamde geseëndes egter dikwels op pad is na die verderf. Hierdie “seëninge” is baie keer net ‘n mooi woord vir hebsug en gierigheid. 

Hebsug is die hoofpad na die hel! 

Gierigheid is die groot gevaar wat lei na die ewige vuur! Dis juis so gevaarlik omdat ons dit nie as ‘n sogenaamde groot sonde soos egbreuk of moord sien nie. Tog is dit een van die sake waaroor Jesus die meeste teen gewaarsku het. Waarom is gierigheid of hebsug so subtiel gevaarlik en vernietigend? Ons kry hier in LUKAS 12:13-21 (die gelykenis van die ryk dwaas) ‘n paar belangrike insigte oor die gruwel van gierigheid en hebsug. 

DIE VROOM GESIG VAN HEBSUG. 

“En een van die skare sê vir Hom: Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel.” (13) Ai, tog hoe respekvol, vroom en eerbiedig klink dit! Hierdie man vra raad by Jesus. Maar luister mooi, hy roep Jesus se hulp in ter wille van sy hebsug. Nie om van sy hebsug bevry te word nie, maar om dit te bevorder. Dis tipies van baie godsdienstige mense. Hulle misbruik Jesus om hulle eie belange te bevorder. Die Here moet my nou help, want ek het nog nie genoeg nie... Natuurlik het Jesus Hom nie laat vang nie en gebruik hierdie versoek nou as aanknopingspunt om te wys op die gevaar van gierigheid/hebsug. 

DIE MISVERSTAND VAN HEBSUG. 

Die saak waaroor Jesus nou wil praat raak almal, nie net die vraagsteller nie. Hy rig Hom tot die skare met hierdie diepsinnige waarheidstelling: "Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie." (15) Jesus waarsku teen hebsug/gierigheid/liefde vir geld. Die lewe vind sy sin en betekenis nie in die omvang van mens se besittings nie! Sukses is nie gelyk aan besit nie! (al dink die meeste mense so) Die volheid van die lewe kan nie gemeet word in terme van aardse bates nie. Dis die groot misverstand van hebsug. Kom ons kyk bietjie na die konteks van Jesus se woorde. Die werk van Jesus in Palestina op daardie stadium was juis gerig op die lewe. Hy het baie wonders gedoen en verleng mense se lewe deur die genesing van siekes ens. Maar dit beteken nie dat lewe as sodanig alles is nie. Dit kom daarop neer dat mense nie moet dink as hulle nou gesondheid ontvang het dat hulle nou alles het nie. “Ek is nou weer pure perd, nou kan ek gaan geld maak!” “Nee”, wil Jesus sê, “julle lewe word verleng dat julle by God kan uitkom en Hom kan ken.” 

Die sin en inhoud van lewe, lê nie in gesondheid en besit nie, nie in materieel meetbare suksesse nie, maar in ons deelwees van God se Koninkryk. 

Dis die groot punt wat Jesus in die gelykenis maak. Dis baie duidelik dat die ryk man nêrens in die verhaal berispe word oor sy rykdom as sodanig nie. Daar is ook geen sprake van oneerlikheid nie. Hy was nie skelm nie, hy was hardwerkend, maar hy het die doel van die lewe gemis! Hy het God gemis! 

DIE VERSKONINGS VIR HEBSUG. 

Hierdie man was volgens alle sigbare aanduidings ‘n geseënde van die Here. Dit lyk asof alles in sy guns was... Goeie grond en sekerlik goeie reën! Hy sou eerlik kon sê: “Die Here seën my so wonderlik! Kyk die goeie talente wat Hy my gegee het om so suksesvol te boer, dis die Here wat my seën met grond, reën en goeie oeste . Ek kan net nie anders nie, ek moet net groter gaan en uitbrei, uitbrei...” Ons steek hebsug weg onder baie vroom praatjies – “Ag, dis die Here wat so goed is vir my, ek moet mos vir my vrou en kinders sorg.” Ja, dis so, maar dis baie keer net ‘n verskoning om meer en meer in te palm. Sorg jy ook geestelik vir jou vrou en kinders? Sorg jy nou so “goed” vir jou vrou en kinders dat hulle en jy nie meer tyd het om by die kerk, huisgodsdiens en gebed uit te kom nie? 

DIE BANKROTSKAP EN ELLENDE VAN HEBSUG. 

Hebsug laat jou eindig met niks. Dis die bitter skokkende ironie. Baie mense wat als het, het eintlik niks. Hulle is so arm hulle het net geld! Hierdie man het baie skatte gehad, maar hy gaan die ewigheid tegemoet sonder enige bates, sonder enige hoop! Hy het groot skure op aarde ja, maar het hy ‘n hemelse tuiste? Baie het hom dalk sy rykdom beny, maar eintlik moes hulle hom bejammer het! Hebsug is die verkeerde en gevaarlike opsie in die lig van die eindtyd. Jakobus spel die gevaar konkreet uit : “En nou, julle rykaards, kerm en kla oor al die swaar wat oor julle gaan kom. Julle rykdom sal tot niet gaan en julle klere sal deur motte opgevreet word, julle goud en silwer sal verroes. Die roes sal teen julle getuig en aan julle vreet soos ‘n vuur. Julle maak skatte bymekaar, en dit terwyl dit die laaste dae is.” (Jakobus 5:1-3) Dis nie woorde wat ons graag wil hoor nie, maar God het besluit dat ons dit moet hoor en gewaarsku moet wees... 

GOD SE BEOORDELING VAN HEBSUG. 

Hierdie man voel baie tevrede met homself. Sy aftreeplanne is in plek. Hy kan gaan op vervroegde pensioen. Hy hoef nie meer te werk nie; hy kan nou sonder sorge gholf speel en na Thailand toer! Maar wat is God se opinie? “Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’ Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’” (19,20) Skokkend! God self noem hierdie slim, vlytige, flukse en vooruitstrewende entrepreneur, ‘n dwaas! God kyk so anders as ons. God se beoordeling van ‘n suksesvolle gierigaard verskil hemelsbreed van mense se siening. Die wêreld en sy vriende sê : “Kyk wat ‘n sukses!” Die prosperity gospel aanhangers mymer baie vroom : “Kyk hoe geseënd!” God sê: “Kyk wat ‘n dwase mislukking!” Mense het hom dalk geprys, maar God beskou hom as ‘n swaap! Daar was dalk pragtige huldeblyke by sy begrafnis, maar God se opinie is dat hy ‘n pateet was. Wat gaan God oor ons lewe sê, as jy of ek vannag sou sterf? Hebsug het van hierdie man ‘n dwaas gemaak. Hebsug is ‘n skrikwekkende sonde, dit laat ons ons ware doel op aarde mis. En vir ewig...

DIE LEWE!

En wat is dan die ware sin van ons bestaan en ons eintlike doel? Wat is LEWE? Om na te jaag om God te ken! Om Hom te eer en Hom te geniet vir altyd! As my hoof ambisie en lewensdoel word om geld en besittings bymekaar te maak dan verloor ek visie op my eintlike doel om God te leer ken. Ook op ‘n praktiese vlak verhinder hebsug kennis van God. Ons bestee soveel tyd om ons onversadigbare dors na besittings te bevredig, dat ons nie tyd het om God se aangesig te soek nie. Hebsug maak ook dat ons nie lus het vir God nie. Al die mooi en blink dinge, bring ‘n skyn versadiging, dis eintlik net ‘n aptyt bederwer vir die ware voedsel, en dis om God te ken en sy wil te doen. 

Hierdie gelykenis stel ons voor ‘n vraag. Die eintlike vraag is nie vandag hoeveel geld jy het nie, die vraag is : Is jy ryk by God? Ken jy Hom? Is jy geseënd met die ewige lewe? Is dit dalk juis hebsug en gierigheid wat keer dat jy Hom ken? Gelukkig is daar ook vergifnis vir hebsug! Wees ryk by God, leef vir Hom deur Jesus te volg!




Maandag 20 Junie 2016

DIS NOU DIE LEWE!

Die kind van God is in ‘n wen-wen situasie.

“Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.”

Hierdie is ‘n radikale uitspraak in Filippense 1:21 wat die kern en hart van egte Christenskap vir ons ontsluit en verduidelik. Dis ook seker die duidelikste toets van waar elkeen van ons regtig staan met betrekking tot die Verlosser Jesus Christus. (Dit wys my sommer wat gaan regtig in my hart aan?) Natuurlik val hierdie uitspraak van Paulus nie uit die lug nie. Paulus sit in die tronk en hy is nie seker dat hy lewend gaan uitkom nie. Juis daarom is dit so merkwaardig dat hierdie hele brief aan die Filippense oorheersend die tema van blydskap onderstreep. Paulus sê in effek dit maak nie regtig saak wat met hom gebeur nie, as hy bly lewe is dit goed, want dan kan hy nog vrugbare arbeid verrig, maar as hy sterwe is dit eintlik vir hom die beste, want dan is hy by Jesus. Hy bevind homself eintlik in ‘n wen-wen situasie, maak nie saak wat gebeur nie, lewe of dood, hy wen, want alles draai vir hom om Jesus Christus. 

Hoe raak dit my en jou as Paulus sê : “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Beslis, gaan dit nie net oor Paulus nie, dit gaan oor elkeen van ons. “Ja, maar ek is nie Paulus nie hoor, Paulus was darem ‘n apostel.”, hoor ek. Vriend, ons glo nie in die Roomse onderskeiding van geestelikes en leke nie, ons glo nie in super Christene en gewones nie. Daar is net twee soorte mense : Christene en nie-Christene. (Daar is wel in die liggaam van Christus ‘n verskeidenheid gawes en ampte.) Paulus se woorde behoort dus die eerlike belydenisverklaring van elke kind van God te wees.

In die woorde van Paulus vind ons juis die duidelikste onderskeiding tussen die Christen en die wêreldling – net die wedergeborene kan sê dat die lewe vir hom/haar Christus is! Ander (minder of meer godsdienstige) mense kan wel sê dat hulle soms tot Jesus bid, dat hulle van Jesus hou of van die kerk hou of graag soos Jesus wil lewe, maar hulle kan nie eerlik verklaar vir my IS die lewe Christus nie!

VERSKEIE SIENINGS OOR DIE LEWE

“Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Waarom draai die lewe vir jou? Wat IS lewe vir jou? Nou baie mense dink natuurlik nooit oor hierdie saak nie, hulle bestaan maar net van dag tot dag soos ‘n hond bestaan, eet sy kos, blaf as hy moet, kry kleintjies... en op ‘n dag is hy nie meer daar nie. 

Maar jy wat dink jy oor die lewe, waaroor gaan dit vir jou? 

Daar is natuurlik verskeie sienings : 

Hedonisme. Dit beteken prakties, ek melk die lewe vir elke krieseltjie plesier. Net een ding tel - hoeveel lekker dinge kan ek doen of ervaar. My maatstaf vir als is of dit my pret en plesier kan verskaf.

Vasbyter, sterkman siening. (stoïsyns) Ek moet die lewe maar vat soos hy kom, die lewe is iets om te verduur. Dis die “Cowboys don’t cry, ek sal nie huil nie korporaal” houding. Als draai om my eie oorlewing en belang. Ek het niks of niemand nodig nie.

Humanistiese beskouing. Ek moet net soveel as moontlik probeer goed doen aan ander mense. Wees net ‘n goeie mens, doen maar net altyd die regte ding. Daar is nie ‘n hemel of hel nie, dis als hier op aarde. Doen maar goed solank jy kan, want eendag is jy nie meer daar nie. 

Mistisisme. ‘n Passiewe houding van dood wees vir die wêreld se pyne en vreugdes, ‘n ontsnapping in ‘n mistieke sfeer. Vir sommige beteken dit ‘n kontak maak met jou dieper self.

Die gemiddelde, algemene materialistiese siening. Ag, ek dink nie veel oor die lewe nie, maar ek lewe maar vir my vrou en kinders, vir my werk en al die aktiwiteite waarmee ek besig is. Vir baie is dit hulle aftreeplanne! Toets jouself : Die dinge wat maar gedurig in my agterkop draai, dis maar die dinge waaruit my lewe bestaan en waarvoor ek regtig leef... My lewe bestaan uit en vir mense en dinge wat ek kan sien en tel. As hierdie dinge van my weggevat word is daar niks om voor te lewe en niks om na uit te sien nie. 

Soms kom die Here in sy groot genade en vat van hierdie “kosbare dinge” weg sodat ons die leegheid van ons lewe kan besef en Hom as sin en vreugde van die lewe kan soek!

Godsdienstige siening. (Dit lyk baie soos Christenskap, maar dit is nie.) Ek lewe vir my Christelike aktiwiteite en projekte wat ek aanpak. Die dinge wat ek DOEN vir die kerk gee sin aan my bestaan. Dit laat my nuttig voel. Ek geniet dit om besig te wees met “die dinge van die Here” Dis nie wat Paulus hier bedoel nie. As hy sy sin gevind het in sy avontuurlike sendingreise sou hy op hierdie stadium in depressie verval het, want hy kon nie nou reis nie, hy is gevange tussen die mure van die tronk. Vir Paulus het die lewe oor iets (Iemand) meer gegaan as sendingwerk, dit het gegaan oor Jesus self!

Wat bedoel Paulus met lewe en dat die lewe vir hom Christus is? Lewe is dit wat die belangrikste is vir my, dit wat sin en doel gee aan my bestaan as mens. Dis wat my laat “tiek”! Anders gestel dit is dit waarsonder die lewe geen betekenis sou hê nie. Dis dit wat my lewe oorheers, dit waarom my lewe draai. My GROOT LIEFDE! Sien Paulus daar sit in die tronk en dink... “Terwyl ek hier sit, vasgekeer, waaroor gaan my lewe, waarin kan ek vreugde vind, wat maak als sinvol? Ja, Jesus Christus maak die verskil, solank ek Hom kan liefhê, kan ek bly wees, ook terwyl ek agter tralies is. Die tronkkos en harde slaapplek kan niks aan sy liefde vir my verander nie. En as ek hier uitkom, het ek ook geen ander begeerte as om Christus beter te leer ken nie. Die kwaliteit van my lewe hang nie af van my omstandighede of my geleenthede om iets te doen nie, Jesus self gee kwaliteit aan my lewe en Hy verander nie. My blydskap is nie gebou op omstandighede nie, my blydskap is gebou op Jesus wat my so liefgehad het en sy lewe vir my gegee het. (Vgl. Gal 2:20ev) Die waarde van my lewe is nie afhanklik van wat ek besit of wat ek bereik nie, maar van Jesus en wie Hy is en wat Hy vir my reeds gedoen het.” Paulus se lewensideaal is Christus Jesus self. Hy vat dit pragtig saam in 3:10 as sy groot wens : “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood,”

Hoe het dit gebeur dat Jesus self Paulus se kosbaarste bate en die sin van sy bestaan geword het? Paulus het eers op ander bates staatgemaak en ander ideale gehad. Hy het op ander dinge en prestasies geleun om God te probeer beïndruk... Dit was inherent goeie dinge soos sy Joodse afkoms, sy suiwer ywerige godsdiens, sy hoë morele waardes.... Maar toe word hy op pad na Damaskus gegryp deur Jesus en hy besef al hierdie dinge is waardeloos om hom van sy sonde vry te spreek. Hy beskryf dit treffend in Fil. 3:3-9 soos volg : 

“As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: ek is op die agste dag besny, van geboorte ‘n Israeliet, uit die stam Benjamin, ‘n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ‘n Fariseër, in my ywer ‘n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik. Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo."

JESUS SE WAARDE IS ALLESOORTREFFEND!

Paulus moes tot die besef kom dat geen menslike bates hom kan red en voor God regverdig stel nie, net Jesus. So het Paulus die allesoortreffende waarde van Jesus besef en daarom het hy tot ‘n heel nuwe waardasie van die sin van die lewe gekom.

Jesus is my lewe sê Paulus. In Hom is daar vryspraak, vreugde, vrede. Hyself is genoegsaam vir al my behoeftes. Hy skenk my ‘n diepe tevredenheid in alle omstandighede.* As dit goed gaan en ek het oorvloed, as dit sleg gaan en ek gebrek ly. As vry is en kan rondbeweeg en ook as ek in die tronk sit agter tralies. Hy gee my krag om goed en sleg te hanteer. (Fil 4:13) Jesus is my doelwit, my skat, my onuitputlike bron, my alles! En ja, selfs as ek moet sterwe, ook dan kan ek nie skade ly of verloor nie, dan wen ek ook, dan is dit wins, want dan is ek by HOM! 

*Doen jouself ‘n guns en lees weer ten minste die hele Filippense hoofstuk 4.


Christuskirche - Windhoek