BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Progressiewe Christendom. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Progressiewe Christendom. Wys alle plasings

Vrydag 31 Januarie 2020

WAARHEIDSKOMPAS

- God se WOORD in tye van misleiding en lyding! 


Die lering van die valse profete word gekenmerk deur ‘n liefde vir die self. (Kliek op Selfbeheptheid) Teenoor die leer van die vals leraars het Timoteus die voorbeeld van Paulus, die ware apostel gevolg. Ons lees hiervan in 2 Timoteus 3:10-17. Dis ook in hierdie gedeelte waar Paulus positief vir Timoteus (en ook vir jou en my) aanmoedig! 

‘N LEWE VAN VRUG ÉN VERVOLGING 

Dit is ‘n totaal teenoorgestelde koers en rigting. Die pad van die valse leraars is ‘n pad van selfgesentreerdheid – selfbeheptheid, selfbelang, ‘n liefde vir geld en ‘n liefde vir genot eerder as vir God! Die leefstyl en loopbaan van Paulus staan in skrille kontras met die van die vals leraars. 

Paulus se lewe word bepaal deur ‘n liefde vir God en selfopoffering. Die pad wat Paulus geloop het en wat Timoteus nagevolg het is ‘n lewenswyse gekenmerk deur geloof, geduld, liefde en dit lei noodwendig tot vervolging en ontbering. “Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word.” (12) Kategoriese uitspraak! En dis waar van alle Christene, alle tye, in alle omstandighede... As jy dus nog nooit teenstand, bespotting of vervolging gekry het ter wille van jou Christenskap nie, dan is daar iewers fout... Hoor mooi ter wille van Christenskap – met ander woorde as jy ly omdat jy nie jou skuld betaal nie, is dit jou eie fout en nalatigheid. Dis iets heel anders as Christelike lyding! 

Terloops, Paulus het op baie plekke gely, maar hy noem waarskynlik juis hierdie drie stede in Galasië, naamlik Antiochië, Ikónium, en Listra, omdat Timoteus self ‘n inwoner van Listra was en heel moontlik ‘n ooggetuie was toe ‘n skare hom daar buite die stad uitgesleep het en met klippe gegooi het. (Vgl. Hand 16:1)* 

Die punt wat Paulus maak is – “Timoteus, daar sal altyd vervolging en swaarkry wees vir Christene en daar sal altyd die gevaar wees van goddelose bedrieërs wat ander mislei. Jy weet mos wat het met my gebeur!” 

AANMOEDIGING 

Timoteus het die regte pad geloop en nou wil Paulus hom aanmoedig om in die toekoms nog steeds die regte pad te bewandel. Teen die agtergrond van die misleiding van die mensgesentreerde boodskap van die dwaalleraars word Timoteus nou aangemoedig. (14) Die hoofsaak is: “Bly by wat jy geleer het.” Die boodskap wat jy by my as apostel geleer het. Moenie nou agter hierdie nuwe rigting en nuwe idees aanloop nie. Pasop vir die sogenaamde progressiewes! Progressiewe Christenskap is niks anders as regressiewe dwaling nie! Bly by die oorspronklike evangelie boodskap wat ek Paulus die apostel aan jou verkondig het. Terloops – as mense beweer dat hulle nou ‘n nuwe openbaring ontvang het, of dat God nou iets nuuts aan die kerk in die laaste dae bekend gemaak het- dan moet die rooi ligte flikker. Die evangelie is vir eens en altyd oorgelewer. God sal nooit n nuwe boodskap gee in stryd met die Skrif nie. Orals in die NT word ons opgeroep om vas te hou aan die boodskap wat reeds aan die apostels en kerk gegee is. “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.” (Judas 3) 

Pasop vir nuwe morele waardes. Byvoorbeeld- Dwarsdeur die Bybel was God se bedoeling vir die huwelik ‘n lewenslange verbintenis tussen man en vrou – nou skielik wil mense dit verander, omdat ons in nuwe tye woon! Paulus vermaan Timoteus om te bly by wat hy van hom (Paulus) geleer het. 

DIE HEILIGE SKRIF HOU ONS OP KOERS! 

Maar nou - baie belangrik! Paulus se prediking het nie sommer uit die lug geval nie. Paulus se prediking was vanuit die Skrifte, gebou op die Skrifte! Luister na wat Paulus aan koning Agrippa tydens sy verhoor vertel in Handelinge 26:22. “Omdat God my tot vandag toe bewaar het, staan ek hier as sy getuie voor klein en groot. Ek verkondig maar net waarvan die profete en Moses gepraat het” (Vgl. Romeine 1:2) 

In ’n vyandige omgewing van misleiding en swaarkry, is daar net een manier hoe jy gaan oorleef - ken die Skrif! 

In die stormsee van teenstand en dwalings is daar net een manier hoe jy veilig gaan seil - as jy die kompas van die Woord het. Hoe gaan jy volhard as jy nie die beloftes van God ken wat mens krag gee om vas te byt nie? Hoe op aarde gaan jy onderskei wat is misleiding en wat is waarheid as jy nie spesifieke Bybelse kriteria en voorskrifte ken nie? Geestelike dwaling kom waar mense nie die Skrif ken nie... “Maar Jesus antwoord hulle: "Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie.” (Matteus 22:29) Die groot vyand is Satan en sy bose magte - hoe oorwin ons en bly staande? Ons het 'n kragtige wapen nodig. Wat is dit? Die swaard van die Gees. En wat is dit? Die Woord van God! (Efesiërs 6:10ev)  Selfs Jesus het hierdie wapen gebruik tydens sy versoeking in die woestyn. "Daar staan geskrywe..." (Matteus 4.) 

Voordat die Woord vir jou tot nut kan wees, moet jy dit lees en ken. Toe onder die stof op jou bedkassie is die Bybel wat jou ouma jou geskenk het van weinig waarde! Ken die Woord soos jy die alfabet of maaltafels ken. Iewers het jy dit geleer - anders sou jy dit nie geken het nie. Iewers moet jy die Woord leer ken. En neem tog kennis, Timoteus het dit van kleins af geken. “en jy ken van kleins af die heilige Skrif.” (15) Die belangrikste kennis wat jy jou kind kan leer, is kennis van die Skrif. In Timoteus se geval was dit waarskynlik sy ma en ouma wat dit vir hom geleer het. 

DIE WAARDE VAN DIE WOORD 

Watter praktiese verskil maak Skrifkennis aan ’n mens? Anders gesê, waarom moet ek die Bybel ken? 

1) Dit vertel jou hoe jy verlos kan word. Dit lei jou na die Persoon, Jesus! “...Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.” (15) Ken jy dit? Weet jy wat ’n mens moet doen om gered te word? Sal jy dit met beloftes uit die Skrif kan verduidelik? As jy dit nie vir ander kan verduidelik nie, ken jy dit self waarskynlik ook nie. Dis tog op grond van die Skrifbeloftes wat mens glo, dat jy gered word. 

2) Dit rus jou as reeds verloste toe vir goeie werke. Dit vertel jou hoe om as kind van God op die regte manier uit dankbaarheid te leef. Paulus noem ’n paar praktiese dinge in vers 16. “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek,” Dis ‘n mondvol. Dink bietjie daaroor. 

Voel jy geestelik onseker, moedeloos en verward? Word jy gebombardeer deur versoekings en beskuldigings van Satan? Begin erns maak met die Woord. Dit verg ’n doelbewuste poging. 

Vat daai Bybel en begin dit lees en leer! Gaan na 'n kerk waar die Woord suiwer binne konteks uitgelê word!

GOD PRAAT MET JOU! 

Die kruks van die saak kry ons in 16. “die hele Skrif is deur God geïnspireer...” Glo jy werklik dat God deur hierdie boek praat? Die lewende God, die Skeppergod wat alles gemaak het, die genadige Verlossergod, ook die God wat ons eendag gaan oordeel... Hier in hierdie boek praat Hy duidelik en persoonlik met jou en my... Stel jy belang om te hoor wat Hy sê? 

Wat jy met hierdie Woord maak, gaan ’n radikale verskil in jou lewe maak NOU en EWIG! 

* “Paulus het in Derbe gekom en daarna in Listra. Dáár was ‘n gelowige met die naam Timoteus. Sy ma, ook ‘n gelowige, was ‘n Joodse vrou en sy pa ‘n Griek.”

Maandag 25 Junie 2018

THE SHACK

- beslis 'n tranetrekker, maar gaan dit my nader na die waarheid trek?

Die blitsverkoperboek se boodskap doen nou weer die rondte nadat dit as ‘n film in 2017 uitgereik is. Baie mense getuig van ‘n positiewe impak op hulle lewens... 

Geskryf deur William P. Young, wat op die sendingveld grootgeword het, is die boek en film (geredigeer deur Stuart Hazeldine) waarskynlik ‘n eerlike poging om antwoorde te probeer gee oor die vraag na “onregverdige lyding” in hierdie gebroke wêreld van ons. “Waar is God in ‘n wêreld van onbeskryflike pyn?” Die verhaalvorm waarin die boek geskryf word is maar net die voertuig om teologie op ‘n verstaanbare manier aan die gewone man oor te dra. Die bedoeling van die boek en film is dus teologie en nie fiksie nie. Die kwessie is dus nie of dit ‘n oulike storie is nie. Hierdie werk moet teologies beoordeel word in die lig van die Skrif. 

Die vraag voor ons is of The Shack, Bybelse teologie of menslike spekulasie en verdraaiing is? 

Young se argumente in die bespreking van lyding word min of meer soos volg deur die uiters bekwame evangeliese teoloog en kerkplanter van New York, Tim Keller opgesom : 

Die ellende in die wêreld is die gevolg van die mens se misbruik van sy vrye wil. God het nie die kwaad gekeer nie sodat Hy ‘n groter en heerliker doel kan bereik, ‘n doel wat vir ons menslike verstand onverstaanbaar is. As mens verbitterd bly teenoor God weens ‘n bepaalde tragedie, dan plaas ons onsself in die plek van die Regter van die aarde. Dis ‘n taak waarvoor ons as nietige mense uiteraard nie opgewasse is nie! Daarom moet ons liewers ‘n ewige perspektief probeer kry waarin ons God se mense vol vreugde in sy heerlike teenwoordigheid sien. Dis wat met Mack die bedroefde vader van die vermoorde dogtertjie, Missy gebeur, as hy sy oorlede dogtertjie sien in die vreugdevolle teenwoordigheid van Jesus. So word sy hartseer genees. Hierdie is alles basiese waarhede van standaard pastorale teologie, alhoewel daar dalk te veel gemaak word van die vrye wil begrip. Tog soos Keller dan verder uitwys is daar ernstige vrae en probleme rondom hierdie storie van Young... 

Wat regtig pla is dat daar deurgaans in Young se verhaal elemente* is wat basiese Bybelse waarhede oor God ondermyn. 

Die God van die Bybel vind jy nie in die Shack nie! 

Die god van die Shack en die Drie-enige God van die Bybel kan moeilik met mekaar versoen word. In Young se storie word God die Vader deur ‘n Afro-Amerikaanse vrou, Papa uitgebeeld, Jesus bly (meer realisties) Jesus, ‘n Midde Oosterse skrynwerker en die Heilige Gees is ‘n Asiatiese vrou, Sarayu. Dis om die minste te sê, ‘n vreemde en selfs bisarre uitbeelding van die Drie-eenheid! Waarskynlik is dit Young se manier om te sê dat ons moet pasop om nie vooropgestelde idees oor God te koester nie. Mens sou net wou vra, wat het geword van die tweede gebod? Verbied dit nie juis alle spekulasie en selfgemaakte uitbeeldings van God nie? Moet ons nie maar eerder by die Skrif bly nie?

Te min Skrif en te veel filosofiese spekulasie! 

Die Bybel vertel vir ons immers duidelik genoeg wie God is en hoe Hy “lyk.” Jesus Christus, die vleesgeworde Woord is die beeld van die onsienlike God, die God wat Gees is! Jesus vertoon die heerlikheid van God aan ons, ‘n heerlikheid wat vol genade en waarheid is! (Johannes 1:1,14; Johannes 14:9,10; Kolossense 1:15-20) 

Om maar net een aspek van Young se uitbeelding van God te noem wat krap. Dis opvallend en steurend dat God die Vader uitgebeeld word as ‘n vrou. Ja, ek weet, inderdaad word daar by verskeie geleenthede in die Skrif moederlike en sagte eienskappe aan God toegedig, maar deurgaans in Sy amptelike titels gebruik God manlike titels : vader en nie moeder nie, koning en nie koningin nie!**  Jesus praat met sy Vader in die Hemel, nie met sy Moeder in die hemel nie! Die misleiding oor God gaan egter veel meer as oor ‘n metafoor wat vir sommige aan Godslastering mag grens. 

Die Shack swyg oor Goddelike toorn en straf. 

Die basiese Bybelse waarhede rondom sonde en verlossing is in gedrang en dit lei weereens tot ‘n skeeftrekking van God se karakter. So is die boodskap van die profete duidelik dat God sonde haat en straf, maar in The Shack word die indruk geskep dat sonde God glad nie meer pla nie! Dit blyk ook dat Young die totale verdorwenheid van die mens ontken en die skeiding wat sonde tussen God en mens veroorsaak ignoreer. 

"Papa" sê in die verhaal : “I am not who you think I am Mackenzie. I don’t need to punish people for sin. Sin is its own punishment, devouring from the inside. It is not my purpose to punish; it is my joy to cure it.” Dit terwyl die hele Bybel daarvan vol is dat God sonde straf! Wat dan van die sondvloed, die vernietiging van Sodom en Gomorra, die verwoesting van Jerusalem en die ballingskap, wonder mens? En vir diegene wat verder wonder, dis nie net in die Ou Testament dat God se toorn teenoor sondaars ontbrand nie! 

Ja, die Nuwe Testament leer nog steeds dat God sonde haat en dat elkeen wat die offer van Jesus verwerp die ewige straf tegemoet gaan. Van offer gepraat, dis juis as dit by die betekenis van die kruis kom dat die valse teologie van Young die duidelikste ontbloot word! In Young se onlangse boek, “Lies we believe about God” raak Hy skokkende bewerings kwyt oor die kruis. As God die oorsprong is van die kruis is, is Hy volgens Young ‘n “cosmic abuser” wat “cruel and monstrous” is! Mens sou wou vra, wat maak Young met die Bybelse gegewens oor God se beskikking van die kruis soos in Jesaja 53:10 en Handelinge 2:23.*** 

Die Shack is 'n aantasting van die kruisboodskap!

In ag genome Young se verdraaide beeld van God se heiligheid en die noodsaak van ‘n kruisoffer is dit ook te verstane dat The Shack se boodskap grens aan die leer van die universalisme, die teorie dat alle mense uiteindelik gered sal word. Natuurlik het die universalisme baie variasies. Young noem homself ‘n “hopeful universalist” en glo dat God sy Seun vir elke enkele sondaar gestuur het en dat die oordeel daarop sal uitloop dat elke sondaar Christus sal aanvaar en so met God versoen word. In “Lies we believe about God” is Young egter baie meer eksplisiet en gevaarlik as hy openlik verklaar: “Are you suggesting that everyone is saved? That you believe in universal salvation? That is exactly what I am saying!” En nog verder die skokkende kettery : “Every human being you meet . . . is a child of God” Dis nie hoe die Bybel oor kindskap van God praat nie!

Deur menslike verdorwenheid, sonde en skuld te herdefinieer word ‘n valse evangelie omhels wat dalk baie gewild gaan wees in ons dag, maar wat nie meer die krag van God is tot redding vir elkeen wat glo nie! 

The Shack, hoe goed ook al bedoel is nie waarheidsteologie nie! Ons gaan nie antwoorde kry vir ons vrae deur aan God se karakter en wese te torring nie! Ons kry die antwoorde in die Skrif!**** Ons gaan nie genesing vir ons sonde en pyn vind deur fiksie verhale nie. Die Woord is duidelik, ons almal word uitgenooi na die evangelie, God se oplossing vir die sonde en lyding van die wêreld, die kruisevangelie. Hierdie oplossing vereis geloof en lei tot bekering. Wie hierdie “groot verlossing” verwerp bly sonder hoop en sal nie die wraak van God kan ontvlug nie! (Hebreërs 2:3) 

Wie God wil ontmoet moet maar liefs wegbly van Young se kasarmte en gaan skuiling soek by die kruis! Daar kom God se liefde vir die mens en sy toorn oor sonde bymekaar. Dis waar die onbegryplike groot liefde van God vir sondaars aan ons bekend word en vrede, vergifnis en vreugde ons harte vervul! 

Die Shack is dalk gewild, maar dis gevaarlik! Dis in my opinie maar net nog ‘n voorbeeld van die sogenaamde Progressiewe Christendom wat eintlik maar 'n terugkeer na ou en gevaarlike dwalings is!

*Die bedoeling van hierdie kort kritiek op The Shack is nie om alle moontlike dwalinge hierin uit te wys nie. Daar is vele en baie ander teoloë het dit reeds elders aangespreek. 

**Hierdie dwaling om God te probeer “vervroulik” of skimpe in daardie rigting te maak, het lankal reeds ook in ons eie teologiese opleiding begin kop uitsteek. Prof. Johan Heyns het al tydens ons studiejare gesê dat God Homself as Moeder kon openbaar het en sy enigste dogter na die wêreld kon gestuur het. Natuurlik God kan enigiets doen. Die punt is, Hy het nie! Hy het Homself as Vader openbaar en Sy enigste Seun gestuur. In die teologie en lewenspraktyk moet ons ons met die Woord besig hou en nie met spekulasie nie! 

*** Jesaja 53:10 “Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly. As hy sy lewe as skuldoffer gee, sal hy ‘n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik.” 

Handelinge 2:23 “God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak.”

**** Moet jy dus gaan kyk? Goeie raad van David Mathis:
"We do not need a wilderness shack to hear from God. He gave us his word, through his appointed prophets and apostles in the Great Book, and he gave us the Spirit to illumine and apply our hearing. In short, the voices in your head are not God; they are you. If you want to hear God audibly, then read the Bible out loud." Ek sou hiermee graag wou saamstem!


Woensdag 08 Julie 2015

AL GESIEN OP FACEBOOK?

- PROGRESSIEWE CHRISTENDOM*: sagter benadering of sluwe beswaddering van die ware evangelie?

Jy moes al van hulle gehoor het… Marcus Borg, Rob Bell, Roger Wolsey se boek, Kissing Fish: Christianity for People Who Don't Like Christianity of meer onlangs in die nuus was Nadia Bolz Weber (amptelik deel van die Lutherse kerk in Amerika) en vele ander... Maar leraars wat hulle denkwyse deel word al hoe meer in NG geledere ook aangetref... kyk maar hoe word progressiewe Christendom op Facebook blaaie en Twitter rekenings geprys en gepropageer...


Wat glo die sogenaamde Progressive Christianity (ook genoem emerging church)? Dis ‘n benadering wat baie sterk gekleur word deur post-liberalisme en post modernisme. Alle vaste waarhede en dogma is onder verdenking... Op die oog af beklemtoon hulle die radikale aard van Jesus se lewe en lering. Jesus se meng met die sondaars is ‘n geliefkoosde tema... Vir hulle is die hier en nou belangriker as die eendag en die ewigheid, sosiale geregtigheid is belangriker as die korrekte dogma. Hulle beweer om erns te maak met die Bybel, maar verkies ‘n meer metaforiese verstaan. Om reg te doen is belangriker as om die regte dinge te glo. In die proses word baie Bybelse waarhede egter oorboord gegooi en as “outdated” beskou. Natuurlik is daar baie variasies en verskillende beklemtonings.

Soos met bykans alle strominge en dwalinge die geval is, vind ons by hulle ‘n buitensporige reaksie teen sekere foute in die kerk. Ja, inderdaad... die kerk was dikwels nie oop genoeg vir die nood van die wêreld nie, afsydig teenoor die tollenaars en sondaars van ons tyd, te vas aan ‘n bepaalde tydgebonde kulturele inkleding in erediens en leefstyl, vasgevang in haarklowery oor minder belangrike dogmas... Dis alles foute waarvoor ons gerus maar meer sensitief kan wees. En tog moet mens ongelukkig sê dat die hierdie sogenaamde progressiewe Christene in baie opsigte so ver verwyderd geraak het van die evangelie en die heilige algemene Christelike kerk van alle eeue, dat hulle hulle buite die waarheid van die Woord en die evangeliese Christendom bevind.

Hierdie “progressives” maak ‘n indruk op sommiges met hulle tatoes en kru taal, maar is bra skrikkerig vir die Bybelse boodskap oor sonde, bekering en kruis!

Maar wat dan van die liefde? Is die progressiewes se beklemtoning van die liefde dan nie ‘n Bybelse waarmerk van egtheid nie? Liefde is tog immers die groot gebod? Ja, beslis staan liefde sentraal in God se boodskap, liefde word egter baie duidelik in die Bybel gedefinieer. Dink maar aan Jesus se woorde (ook waarskuwings) en dade, asook Paulus se radikale beskrywing daarvan in 1 Korintiërs 13. Johannes die apostel van die liefde, maak dit duidelik dat liefde nie ‘n normlose sentimentele gevoel is nie, as Hy Jesus se woorde onder ons aandag bring : "As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer." (Johannes 14:15) Jesus het nogals radikale opdragte in terme van naaste liefde ja, maar ook oor sake soos seksuele reinheid... iets waaroor die “Progressives” graag swyg...

Dis juis as dit kom by die opdragte en waarhede van die Woord dat mens verstom staan oor die dwalinge van hierdie progressiewe profete van ons dag:

Die Woord leer dat Jesus die enigste weg na God is (Johannes 14:6), die “Progressives” beweer dat Jesus een van baie roetes na God is.

Die Woord veronderstel die beginsel van absolute waarheid (Johannes 17:3), die “progressives” is relatiwiste en glo dat elkeen sy eie waarheid het.

Die Woord leer ons dat Jesus juis gekom het om ons van ons sonde te verlos (Matteus 1:21), die “Progressives” is maar baie lugtig vir die begrip sonde. Dis blykbaar wel "sonde" om iets sonde te noem!

Die Woord leer dat sekere dinge sonde is (baie dinge waaronder homoseksuele gedrag), die “Progressives” aanvaar homoseksuele gedrag en ‘n gruwel soos “gay huwelike” as normaal. Die Bybelse veroordeling van homoseksualiteit is vir hulle nie meer geldig nie.

Die Woord leer dat God man en vrou gemaak het met verskillende rolle (Efesiërs 5), die “Progressives” wil niks van hierdie onderskeie rolle en gesagstrukture weet nie.

Die Woord en veral Jesus in sy eie woorde, waarsku oor ‘n hel en eindoordeel, “Progressives” is maar eintlik universaliste wat glo dat almal gered sal word. Inklusiwiteit is die norm, alle eksklusiwiteit word gehaat, al leer die Bybel dit duidelik dat daar nie net skape is nie, maar ook bokke!

Die Woord leer dat Jesus nie maar net ‘n wonderwerker of wyse prediker was nie, maar sy lewe aan die kruis as losprys gegee het (Markus 10:45), die “Progressives” se Christus is weinig meer as ‘n liefdevolle morele navolgingswaardige persoon. Van die versoeningsoffer, die plaasvervangende sterwe, met ander woorde die boodskap van die kruis (1 Korintiërs 1:18ev) hoor jy nie by hulle nie.

Die mens is die norm...

Die “Progressives” maak baie en graag daarvan melding dat hulle die ouens is wat na die stukkende mensdom uitreik. Die vraag is net met watter “evangelie” word daar uitgereik? Oor Jesus en die apostels se opdrag om te bekeer swyg hulle.

Kom ons wees billik en hoor wat skryf Roger Wolseley self: "Progressive Christianity is about loving more deeply and living more meaningfully. It’s about following Jesus’ invitations for practicing radical compassion and loving-kindness, living-out Jesus’ Kingdom values, and experiencing a fuller, more profoundly connected and meaningful life. You don’t have to believe in any of the theologies about God that have been used to damn, judge or exclude people. You don’t have to believe in Satan or the Devil. You don’t have to believe in Heaven or Hell. You don’t have to believe in a virgin birth or a physical resurrection, or that someone walked on water, or that Christianity is the only way that God is at work in the world (though many progressive Christians believe many of those things). Instead, it’s about cultivating a sense of appreciation for what God has done for the world though Jesus. It’s about nurturing direct experience with the Divine and practical actions to inclusively live in right relationships and make a positive difference in the world in the name of Christ – without denying that God is at work in the world in other ways."

Dis duidelik, hierdie sogenaamde progressiewe Christenskap is ‘n sentimentele humanistiese (en baie idealistiese) boodskap oor ‘n ongedefinieerde Christus wat die kern Bybelse waarhede soos die uniekheid van Jesus, sy liggaamlike opstandig en ‘n finale oordeel onder die mat invee. Wat bly oor? ‘n Vae mistieke gemeenskap met ‘n god wat die mens vir homself geskep het en wat heeltemal inpas by ons sondige begeertes en dade! Hierdie ouens glo blykbaar nie in ‘n duiwel se bestaan nie, maar hulle word wel deeglik deur hom gebruik! En ja, dikwels is die "kindness" ook net gaafgeit soos en wanneer dit hulle pas...



[Om uit te reik na gemarginaliseerdes is dit nie nodig om die kernwaarhede van die evangelie prys te gee nie. Dis juis wat hulle ook nodig het! Hier bring ons die Woord en sommer 'n klomp groente na 'n arm San gemeenskap net buite Tsintsabis.]

*Neem tog net in ag dat hierdie nie 'n teologiese studie oor die Progressiewe Christendom is nie, maar bloot 'n inleiding vir die gewone man in die kerkbanke...




Sondag 01 Februarie 2015

DIE BESTE NOU OF EENDAG?

- ‘n belangrike vraag met reuse implikasies!

Gaan Christenskap oor hierdie lewe of eintlik oor die lewe hierna? Wanneer en hoe kry Christene hulle beloning? Nou of eers eendag na die dood? Waarop moet ons fokus wees? Is die beste nou reeds hier, of kom dit nog? Wat is die verband tussen die nou en die eendag?


Evangeliese Christene, dis nou mense wat God se Woord as waar beskou, wat erns maak met begrippe soos sonde, bekering, geloof, verlossing, hemel en hel word deesdae taamlik algemeen uitgekryt dat ons net in siele belangstel, dat ons met ons koppe in die hemel lewe, dat ons so uitsien na ‘n eendag dat ons vandag se probleme en ellende miskyk. Daar word geïnsinueer dat ons nie juis vir mense en ook nie vir die natuur omgee nie. Dis natuurlik nie waar nie. Dis ‘n karikatuur en moedswillige verdraaiing. Dis ‘n growwe veralgemening wat nie water hou nie.

Ons weet mos en die Bybel getuig daarvan : As iemand waarlik gered is en van sonde bevry is, kry hy mos nou ‘n nuwe uitkyk op die lewe. As jy gered is dan leef jy uit dankbaarheid deur die dubbele liefdesgebod na te jaag: Lief vir God en my naaste! (Toe die tronkbewaarder van Filippi verlossing deur die geloof in Jesus gevind het, het hy dit onmiddellik opgevolg deur naasteliefde en Paulus en Silas se wonde versorg en vir hulle ‘n maaltyd te gee.)

As bekeerde mense kyk ons anders na God en vind nou ons vreugde in Hom. Ons kyk ook anders na mense en sien hulle geestelike sowel as fisiese nood raak. (Deur al die eeue het Christen sendelinge die evangelie gebring as eerste prioriteit sodat mense gered kan word, maar daar is ook aandag gegee aan mediese sorg, onderwys, landbou ens.)

GESPOT 

Vandag kry ons die tendens dat die klem eksklusief op die lewe hier en nou gestel word. Daar word gespot met Christene wat glo in ‘n ewige beloning van heerlikheid.

Hierdie aanslag kom van twee kante af:

  • Vanaf die Prosperity Gospel se kant word ons gebombardeer met die siening dat God nou reeds alle seëninge van geluk, gesondheid en geld vir ons wil gee. Jy moet net die regte reseppie ken en op die regte manier glo dan sal jy nooit siek of arm wees nie, word beweer. Een van die groot geeste in hierdie rigting, Benny Hinn laat homself so uit oor finansiële voorspoed: “I am sick and tired of hearing about streets of gold. I don’t need gold in heaven, I gotta have it now!” en oor siekte : “The day is comming, I tell you this, I know it like I know my name, the day is coming there will not be one sick saint in the body of Christ... no one will be raptured out of a hospital bed.”* Dit klink baie aanloklik, want wie wil nou arm of siek wees? Maar daar is net een probleem, Hinn het geen Bybelse gronde vir sy uitsprake nie. Dis wensdenkery en pertinent vals! Eeue van praktiese geloof en Christenskap het ook bewys dat dit onwaar is!

Dis dan ook verstaanbaar dat mense in hierdie rigting nie juis hou van prediking wat Skrifuitleg behels nie, en eerder motiveringspraatjies oor hoe om sukses te bereik, verkies. (Kliek op SPREEK LEWE)

  • Vanaf die liberale teologie en die Progressive Christianity word die klem ook eensydig op die lewe van hier en nou geplaas. Vir baie van hierdie ouens was Jesus maar net ‘n eerste eeuse Palestynse rewolusionêr of sosiale hervormer. Hulle sê ook dat Jesus nie plaasvervangend (Kliek op BORG) vir ons sondes gesterf het nie, maar bloot ‘n voorbeeld vir ons gestel het om goeie mense te wees. Volgens hierdie dwaling is daar nie ‘n hemel nie en ook nie ‘n hel nie, ons moet maar net die beste maak van hierdie lewe. Hulle glo ook nie meer dat Jesus regtig liggaamlik uit die dood opgestaan het nie. Jesus het maar net in hulle gedagtes en harte bly voortleef.

Wat sê God se Woord? 

Paulus maak dit baie duidelik in 1 Korintiërs 15 : Die beste deel lê nog voor vir God se kinders! Hy stel dit eintlik andersom en sommer baie sterk! Die beste kom nog, trouens as ons net vir hierdie lewe hoop op Jesus is ons lot die slegste/ ellendigste/ bejammerenswaardigste van alle mense! “As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.” (19) As Christenskap net oor hierdie lewe sou gaan, sou ons absolute verloorders gewees het. Dis juis so want met Christene gaan dit nie altyd so goed in hierdie lewe nie. (Paulus het dit mos aan sy eie lyf gevoel) Om die waarheid te sê, dikwels uiters sleg! Juis ook omdat Christene weens hulle liefde vir en gehoorsaamheid aan Jesus uitgestoot, beledig en verdruk word.

Die hedendaagse boodskap van die Prosperity Gospel dat Christenskap die deur na sukses, gesondheid en rykdom is, is hoegenaamd nie ‘n Bybelse boodskap nie.

Die boodskap van die Progressive  Christianity dat Jesus maar net vir ons ‘n goeie aardse morele voorbeeld was is ook nie die boodskap van die Bybel nie. 

Nee, die Bybel leer duidelik dat Jesus uit die dood opgewek is en so vir ons ‘n ewige toekoms oopgemaak het. Die opstanding Jesus vorm deel van die kern van die evangelie. Dis ‘n feit wat deur baie getuies gestaaf kon word. 

“Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte;Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn.” (3-8)

Waarom is dit so uiters belangrik om in die liggaamlike opstanding van Jesus te glo? Om te glo dat sy graf leeg was? Hoe raak dit ons lewe nou, maar ook ons hoop op ‘n beter toekoms?

Jesus se opstanding waarborg ons eie opstanding – liggaamlik met nuwe liggame.

Hierdie wete dat ons ook gaan opstaan en hierdie lewe nie die einde van als is nie, laat ons nou heilig leef, want ons sal Hom sien soos Hy is. (1 Johannes 3:3)

Jesus se opstanding motiveer ons juis nou tot aksie, want daar is ‘n beloning wat vas en seker is, wat die lewende Here vir ons sal gee. Die “beker koue water” wat jy gee sal nie ongesiens verbygaan nie en gaan ewigheidsgevolge hê!

Jesus se opstanding gee die enigste sinvolle antwoord en troos op die tirannie van die dood en verganklikheid. Dis ons enigste hoop in ‘n stukkende wêreld vol smart, siekte en sterwensgeskreeu. Dis ons anker by die oop graf van ‘n geliefde! Daar is ‘n opstanding... (‘n Begrafnisrede of boodskap sonder hierdie element, is blote sentimentele lawaai en sinneloos.)

Jesus se opstanding bevestig dat Sy verlossingwerk tot ‘n heerlike voleinding gebring sal word. Sy verlossing gaan nie net oor vergifnis nie, maar oor die herstel van die totale skepping (wat ons liggame insluit)! Die nuwe hemel en die nuwe aarde. (2 Petrus 3:13,14, Romeine 8:17ev)

FOKUS OP DIE TOEKOMS EN LEEF DAAROM VOLUIT NOU!

Die Christen se fokus is op die toekoms, die finale verlossing,  die ewige beloning, maar juis daarom leef en werk ons nou voluit met vreugde in hierdie wêreld tussen die mense waar God ons geplaas het. Juis omdat Jesus se opstanding so seker is en ons so ook seker kan wees van ons eie opstanding en beloning, juis omdat die dood oorwin is, moedig Paulus aan die einde van die wonderlike 1 Korintiërs 15 sy lesers aan tot oorvloedige aksie : "Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie."

Inderdaad skenk God nou reeds heerlike dinge aan ons (ons lewens is nou vol blydskap én swaarkry/vervolging), maar eendag sal daar net blydskap wees!**

JESUS HET OPGESTAAN, DAAROM WAG DIE BESTE NOG VIR ONS!


* Aangehaal deur Hank Hanegraaff in “Counterfeit Revival” p106 

**Vergelyk Jesus se duidelike uitspraak hieroor in Markus 10:29,30. “Jesus antwoord: "Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie, of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe.”




Woensdag 03 Desember 2014

MARCUS BORG

- en sy siening oor Jesus se kruisdood.

Hier is Marcus Borg* se siening oor Jesus se sterwe in sy eie woorde :



"Within this second and historical framework, Holy Week is not the story of Jesus dying for the sins of the world, as if this was his and God’s purpose for his life. Rather, it is the story of Jesus’ passion for God and the kingdom of God, his challenge to the combination of religious and political authority that ruled his world, and his vindication by God...

Within the historical framework, Jesus’ death was a sacrifice – but not a sacrifice required by God as payment for sin. Rather, he was willing to sacrifice his life because of his passion for God and the kingdom of God. In this sense of sacrifice, three Christian martyrs of the 20th century sacrificed their lives because of their passion for a different kind of world: Dietrich Bonhoeffer in Germany, Martin Luther King, Jr., in this country, and Archbishop Oscar Romero in El Salvador. Sacrifice, yes; substitutionary payment, no."

[Om Marcus Borg se hele verduideliking te lees kliek op HOLY WEEK]



Hy sien dus wel Jesus se dood as 'n offer, maar beslis nie as die plaasvervangende offer vir ons sonde nie! Dit wil ook voorkom asof hy Jesus min of meer op dieselfde vlak plaas as ander historiese figure wat gesterf het vir hulle ideale van 'n beter wêreld...



Borg se siening gaan dus direk in teen die Nuwe Testament en ons Belydenisskrifte!


Borg staan reëlreguit teenoor die Skrif :


Markus 10:45 "Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense." 

Romeine 3:25,26 "Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo."

Efesiërs 1:7 "Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God."

1 Petrus 3:18 "Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is."


Borg staan direk teenoor ons Belydenisskrifte:

Heidelbergse Kategismus 40 Vraag: Waarom was dit noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood toe verneder het?


Antwoord: Weens die geregtigheid en waarheid van God (a) kon nie anders as deur die dood van die Seun van God vir ons sondes betaal word nie (b).

(a) Gen 2:17. (b) Rom 8:3, 4; Heb 2:14, 15.



Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 21: Die Versoening deur Christus

Ons glo dat Jesus Christus - kragtens 'n eed - 'n ewige Hoëpriester is volgens die orde van Melgisedek. Hy het Homself in ons naam voor sy Vader gestel om sy toorn met volledige betaling te stil deur Homself aan die kruishout te offer en sy kosbare bloed tot afwassing van ons sondes uit te stort soos die profete dit voorspel het. Daar staan geskrywe dat die straf wat vir ons die vrede aanbring, op die Seun van God was en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom; dat Hy soos 'n lam na die slagpale gelei en by die misdadigers gereken is (Jes 53: 5, 7, 9); dat Hy as 'n misdadiger deur Pontius Pilatus veroordeel is al het dié Hom eers onskuldig verklaar. Hy het teruggegee wat Hy nie geroof het nie (Ps 69:5); Hy het na liggaam en siel as regverdige vir die onregverdiges gely (1 Pet 3:18); Hy het die verskriklike straf wat ons sondes verdien, ervaar, sodat sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val (Luk 22:44) en Hy het uitgeroep: "My God, my God, waarom het U my verlaat" (Matt 27:26). Dit alles het Hy ter wille van die vergewing van ons sondes gely. Ons sê daarom tereg saam met die apostel Paulus dat ons met julle oor niks praat nie as oor Jesus Christus en wel oor Hom as gekruisigde (1 Kor 2: 2); dat ons alles as waardeloos beskou, want om Christus Jesus, ons Here, te ken oortref alles in waarde (Fil 3:8); dat ons volkome vertroosting in sy wonde vind en dat ons nie enige ander middel hoef te soek of uit te dink om ons met God te versoen nie as slegs hierdie offerande wat net een maal gebring is, waardeur die gelowiges vir altyd volmaak word (Heb 10:14). Dit is dan ook die rede waarom Hy deur die engel van die God Jesus, dit is Verlosser, genoem is, want Hy sou sy volk van hulle sondes verlos (Mat 1:21). 

Ps. 110.4; Heb. 5:10; Rom. 5:8,9; Kol. 2:14; Heb. 2:9,17; Rom. 4:25; Joh. 15:13; Hand. 2:24; Joh. 3:16; Rom. 8:32; 1 Tim. 1:15; Jes. 53:5,7; Heb. 9:14; 1 Pet. 2:24; Maat. 15:28; Joh. 18:38; Ps. 69:5; Eks. 12:6; Ps. 22:16; Dan. 9:26; 1 Kor. 2:2; Rom. 5:6; Filip. 2:8; Heb. 9:12; 1 Pet. 1:18; Joh. 10:9; Heb. 9:25,26; 10:14; Joh. 5:10; Matt. 1:21; Hand. 4:12; Luk. 1:31. 

Daar kan geen misverstand en onduidelikheid wees nie; Marcus Borg se interpretasie van Jesus se sterwe soos ook onder andere uitgespel in sy "THE LAST WEEK - WHAT THE GOSPELS REALLY TEACH ABOUT JESUS'S FINAL DAYS IN JERUSALEM" druis direk in teen die Bybel en ons Gereformeerde Belydenis. Tog word sy boek(e) in 'n positiewe lofrede deur 'n resensent besing in ons amptelike kerkblad, DIE KERKBODE. 

Ek vra dus: Behoort DIE KERKBODE (al is dit via 'n resensent) so 'n persoon se boek aan te beveel of dalk eerder ons daarteen te waarsku?

[Vir die oorspronklike beswaar en opmerkings, kliek op BORG BOEK]

*foto - Wiki

Dinsdag 02 Desember 2014

KERKBODE ONTSTEL

- Is DIE KERKBODE hoegenaamd nog opbouende leesstof vir gelowiges?

In die KERKBODE van 7 November 2014* is daar ‘n rubriek getiteld LEES DIÉ BOEK deur Ronell Bezuidenhout, ‘n leraar van die NG Kerk. Sy kies toe die boek, “THE LAST WEEK” geskryf deur Marcus Borg en John Dominic Crossan. Ronell raak liries oor die boek, soveel so dat sy haarself beskryf as ‘n “Borg meisie!” Is besondere bewondering vir een of ander teoloog noodwendig verkeerd? Seker nie. Nou wat pla my dan?


Marcus Borg is een van die leidende figure van die sogenaamde Progressiewe Christendom, wat radikaal verskil van die behoudende Evangeliese Christendom. Met Evangeliese Christendom bedoel ons diegene wat vashou aan die kernwaarhede van die historiese Christelike geloof van alle eeue soos sonde en vergifnis, die plaasvervangende en versoenende sterwe van Jesus Christus, redding deur geloof in Jesus as die engste weg tot saligheid en lewe na die dood. Die sogenaamde Progressiewe Christendom gaan ‘n heel ander koers op. Hulle sê dat God in elke godsdiens geken kan word, dat leerstellige waarheid nie belangrik is nie en is meer gesteld op die bevordering van sosiale en politieke sienings as die redding van sondaars! 

Soos te verwagte word die gesag van die Bybel deur hulle ernstig onder verdenking geplaas. Borg beweer: “I let go of the notion that the Bible is a divine product. I learned that it is a human cultural product, the product of two ancient communities, biblical Israel and early Christianity. As such, it contained their understandings and affirmations, not statements coming directly or somewhat directly from God.” Oor Jesus se geboorte en kruisdood het hy die volgende te sê : “Jesus almost certainly was not born of a virgin, did not think of himself as the Son of God, and did not see his purpose as dying for the sins of the world.” Ook word die liggaamlik historiese opstanding van Jesus deur Borg ontken: “I do not think that the gospel stories of Easter require us to think of the resurrection in material physical terms. I see them as parables of the resurrection. Parables are about meaning. They are truth-filled and truthful stories, even as they may not be literally factual.” Borg aanvaar wel die opstanding, maar bloot as ‘n “ervaringsmatige werklikheid.”** Volgens hom beleef Christene Jesus na sy dood as iemand wat die kwaliteite van God het. 

Crossan is net so ver van die waarheid af. Sy siening van die opstanding word onder andere so beskryf : “He proposes that it is historically probable that, like all but one known victim of crucifixion, Jesus' body was scavenged by animals rather than being placed in a tomb.” (n.a.l.v. Jesus: A Revolutionary Biography -1994) Nou is die vraag net, kan sogenaamde teoloë wat al hierdie basiese leerstellings van die Christelike geloof ontken, nog hoegenaamd as Christene beskou word? (Wat sou jou sienings dan moes wees om as ongelowige geklassifiseer te word?) En hoe kan ‘n NG predikant in gloeiende terme oor diesulkes se boeke skryf? Wat verkondig sy dan? Mens wonder...

‘n Mens wonder ook of DIE KERKBODE nog enigsins aanspraak kan maak om ‘n Christelike tydskrif te wees, laat staan nog die amptelike koerant van ‘n kerk wat beweer om die Drie Formuliere van Eenheid te bely. Dwaling word dan nou positief gepropageer. Hoeveel "kerk" is nog oor of het dit dalk bloot 'n "bode" geword, en van wat?***

*My reaksie is bietjie laat, ek weet. Ons gemeente is egter nie ingeteken op DIE KERKBODE nie. Hier kom net so af en toe ‘n gratis promosie eksemplaar aan.

**Lees gerus Adrio König se “DIE EVANGELIE IS OP DIE SPEL” Hierin skryf hy duidelik oor die dwalings onder ons teoloë en die gevolge daarvan vir die kerk.

*** Ja, ek weet in die einste uitgawe van die Kerkbode is 'n inspirerende artikel oor sendingwerk in Papua Nieu-Guinee. Sulke mooi nuus kan egter nie mens se teleurstelling oor die Kerkbode uitkanselleer nie. Een vlieg bederf immers 'n hele bord kos!

KAN ONS IN DIE LIGGAAMLIK HISTORIESE OPSTANDING VAN JESUS GLO? (Kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE)


Die sogenaamde Progressiewe Christendom wil soms suggereer dat Evangeliese Christene net bekommerd is oor siele en die hiernamaals. Dis natuurlik nie waar nie. Evangeliese Christene het nog altyd besef dat waar ons die evangelie bring daar ook aan mense se fisiese behoeftes en omstandighede hier en nou aandag gegee moet word. So is ons gemeente tans by die Boesmans op Tsintsabis betrokke deur verkondiging van die Woord, maar ook deur praktiese optrede om nood te help verlig!