BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Aardbewings. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Aardbewings. Wys alle plasings

Donderdag 25 April 2019

TERWYL ALLES WANKEL...

WEET DAN JY IS ‘N ONTVANGER VAN ‘N ONWANKELBARE KONINKRYK EN WEES DANKBAAR! 


Een van die rykste biljoenêrs in Denemarke verloor drie van sy vier kinders in die onlangse bomaanvalle deur Moslem ekstremiste in Sri Lanka.* Tragies! Ook ons hier op Tsumeb is die afgelope tyd amper op ‘n wrede manier herinner daaraan dat die geskape werklikheid wankelbaar, tydelik, broos en verganklik is : Die onsinnige moorde op Arandis, die !Uris Lodge wat afgebrand het en talle ellendes en siektes! O, ja en dan is daar ook nog die Notre Dame... 


In HEBREËRS 12:25-29 lees ons van wankelbare en onwankelbare dinge. Daar is inderdaad net twee soorte goed in die ganse heelal : wankelbaar en onwankelbaar! Ons kan alles onder hierdie twee noemers indeel. Reeds in die Ou Testament word hierdie feit duidelik gemeld. Psalm 102:27,28 vertel : "Die hemel en die aarde sal vergaan, maar U sal bly. Soos ‘n kledingstuk verslyt, so sal alles vergaan, soos klere wat uitgedien raak, so sal U alles laat verdwyn. Maar U bly dieselfde, u jare het geen einde nie." 

Die geskape sigbare werklikheid is wankelbaar, eindig, nietig, tydelik! God alleen daarteenoor is onwankelbaar, ewig, onvernietigbaar! 


WEES GEWAARSKU! 

Ongelukkig spandeer mense meestal hulle tyd en energie op die wankelbare dinge. Die hartseer feit is, meeste mense plaas al hulle hoop en toekomsvreugde op die wankelbare dinge. Met kinders van God moet dit anders wees – ons is die ontvangers van ‘n onwankelbare koninkryk. Kom ons kyk mooi wat die skrywer hier vir ons wil leer: 

Hy rig ‘n kragtige waarskuwing! “Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie. Hulle wat Hom afgewys het toe Hy sy Goddelike woord op aarde laat hoor het, het nie ontkom nie. Hoeveel minder sal ons ontkom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie?” (25) 

Pasop! Luister na God! Dit was een van die bittere lesse wat uit die woestyntog geleer is – keer op keer het Israel nie op God se waarskuwings ag gegee nie en die skrikwekkende gevolge gedra! 

Dis nou nog belangriker om te luister. Hy stel hier ‘n kontras met die Sinaï gebeure : destyds het God se stem gekom van ‘n aardse berg om die bepalings van die Ou Verbond af te kondig, nou word die Nuwe Verbond (evangelie) vanuit die onsigbare Sion uit die hemel afgekondig! Hoeveel minder sal ons die oordeel nou vryspring as ons hierdie Woord van God verwerp. Ongehoorsaamheid aan die evangelie bring nog ‘n erger oordeel as ongehoorsaamheid aan die wet van die Ou Verbond! Die Goeie nuus het ‘n keersy,’n anderkant van die muntstuk. Die genade is groter in die Nuwe Verbond, maar die skrikwekkende konsekwensies as ek my nie aan hierdie genade steur nie is ook groter! 

Toe God vanaf Sinai gepraat het was daar ‘n aardbewing. “Destyds het sy stem die aarde laat wankel, maar nou het Hy aangekondig: "Nog een maal sal Ek nie alleen die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel." (26) Nou met die aankondiging van die Nuwe Verbond gaan dit nog verder. Hy haal aan uit die profeet Haggai. “So sê die Here die Almagtige: Nog een keer, binnekort, sal Ek hemel en aarde, see en land laat bewe.” (Haggai 2:6) Die aankondiging van die begin van ‘n nuwe bedeling! Die bedeling wat deur Jesus aangekondig en ingelui is!

Vir die skrywer is hierdie woorde ‘n duidelike bewys - Die materiële dinge (wankelbare, tydelike dinge) gaan geskud word, gaan tot niet gaan, om plek te maak vir ‘n hele nuwe onverganklike bedeling. Alle geskape dinge is tydelik. Maar daar gaan ‘n herskepping plaasvind! Die koninkryk van God wat aan die kom is, is onwankelbaar en ewig! (Dink sommer aan die droom van Nebukadnesar - die groot klip wat die beeld vernietig!) God se koninkryk is nie maar net ‘n verbygaande tydelike instelling soos alle aardse dinge nie! Dis nie ‘n lugkasteel of bedrogspul nie. Dis nie maar die lee beloftes van ‘n Obama, Trump, Zuma of Ramaphosa wat almal uiteindelik weer gaan teleurstel nie... God se koninkryk is onaantasbaar, volmaak, onwankelbaar... 

WEES DANKBAAR! 

En nou die heerlike ongelooflike nuus : Ons wat glo in ons volmaakte Hoëpriester Jesus is ontvangers hiervan! Ons wat staatmaak op sy offer en nie op ons eie goedheid nie, is burgers van die onwankelbare koninkryk! Ons het ‘n vaste belegging in ‘n ewige onverganklike bate! 

Die enigste logiese, redelike reaksie : Wees dankbaar! “Laat ons wat ‘n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil” (28) Die essensie van ons reaksie op God se genade is altyd dankbaarheid. Dankbaarheid is natuurlik iets konkreet, nie net teorie of gevoel nie... Dit moet behels dat ons God dien met eerbied en ontsag! Eerbiedige respek is nie onvanpas in die konteks van dankbare liefde vir God nie. (God is ‘n Vader, ja maar ‘n Vader vir wie ons respek het, nie ‘n speelmaatjie nie!) Prakties : Ons moet Hom dien soos Hy dit wil. Dit druis direk in teen die humanisme wat die mens in die middelpunt stel. Ons moenie God dien soos ons voel of soos dit vir ons lekker of voordelig is nie, maar soos Hy dit wil! Ons kry konkrete voorbeelde van hierdie dankbare diens in hoofstuk 13 : Broederliefde, gasvryheid, praktiese medelye, respek vir die huwelik en seksuele reinheid, ‘n lewe vry van gierigheid en vol vergenoegdheid, die bring van lofoffers! 

GOD IS VUUR! 

Nou hoekom is die dien van God in dankbaarheid en respek so ‘n ernstige saak? Die skrywer draai gee doekies om nie! “want ons God is ‘n verterende vuur.” (29) Nooit mag ons vergeet wie God is nie – ‘n verterende vuur! Ook in die konteks van die Nuwe Verbond waarop die Hebreërskrywer soveel klem lê! God se karakter is nie nou skielik anders nie! Hy het nie skielik in die Nuwe Testament ongeërg en slap oor sonde geword nie! Vuur simboliseer die angswekkende heiligheid van God, sy onverdraagsaamheid en toorn oor alle sonde. Dink aan: Sodom en Gomorra (met vuur uit die hemel verwoes), doringbos (die vuur wat brand), Sinaï (vuur en rook). Ook in die profete kry ons hierdie waarheid: 

“Die Lig van Israel sal die vuur wees, die Heilige van Israel die vlam: in ‘n enkele oomblik sal die vlam hulle geringes, die dorings en dissels, verbrand en verteer, en ook hulle aansienlikes, die vrugteboorde en die vrugbare velde. Dit sal hulle volkome vernietig.” (Jesaja 10:17,18) 

God is ‘n verterende vuur! Hierdie aspek van sy karakter word vandag feitlik volkome verswyg... 

Wanneer laas het ‘n sinode lidmate hieraan herinner? Ons sal oneerlik wees en ontrou aan die Woord as ons dit verswyg! 

God as vuur en God as liefde is nie teenstrydig nie, maar deel van dieselfde werklikheid. Respek en verwondering oor sy groot genade gaan saam met ‘n besef van sy skrikwekkende heilighed! 

Who can behold the blazing light? 
Who can approach consuming flame? 
None but Thy wisdom knows Thy might; 
None but The word can speak Thy name. (Isaac Watts) 

Is jy ‘n ontvanger van hierdie onwankelbare koninkryk? Wys jou lewe dit? Onthou weer die onwankelbare koninkryk van God is die enigste vaste bate in die heelal wat ware sekuriteit bied! (Terloops - Materialisme is die aanbidding en verering van hierdie einste wankelbare dinge...dis nie net afgodery nie, dis dwase afgodery!) Maak ons skatte in die hemel bymekaar of is al ons aandag steeds gefokus op die koorsagtige gejaag na aardse bates en aansien? Bates wat gaan brand...

Dien ons God met eerbied en ontsag? Of dien ons die eie ego en eie ek? 

Leef soos mense wat ‘n onwankelbare bate besit wat God ons gegee het! Leef heilig, leef dankbaar!  En wees nou eerlik:

Waar is jou hart, jou hoop, jou belangstelling, jou beleggings...?

*Anders Holch Povlsen is die eienaar van die klere kettinggroep Bestseller en grootste aandeelhouer in die klere reus Asos. Hy is ook volgens Times die grootste grondeienaar in die Verenigde Koninkryk.



Woensdag 13 September 2017

HARVEY, IRMA EN DIE BRANDERS…

Wat wil Jesus in sy profetiese rede vir ons sê?



“…angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe.” (Lukas 21:25)







Met Harvey, Irma, Maria en soveel ander vloede, aardbewings   (Meksiko) en rampe vars in die geheue dink mens onwillekeurig aan hierdie waarskuwende woorde van Jesus wat deel is van sy beroemde profetiese rede. (Sien Lukas 21:5ev) 

Wat wil Jesus vir ons nou sê, wat beteken hierdie dinge vir ons vandag? Ons moet myns insiens pasop vir twee slaggate as ons hierdie stuk lering van Jesus vandag oordink. Die een slaggat is om op ‘n simplistiese wyse gevolgtrekkings en berekenings te maak oor Jesus se wederkoms. Die tipe van uitlatings...“Jong, kyk hierdie klomp rampe, die wederkoms gaan beslis in 2017/18 plaasvind...” Die onlangse geskiedenis van die kerk lê besaai met die skelette van teleurstellings en mislukkings in die verband. Maar daar is ook ‘n ander slaggat - om Jesus se woorde maar net te ignoreer of te reduseer tot ‘n stuk geskiedenis wat net vir die dissipels van destyds belangrik was! Al Jesus se woorde is gesaghebbend en aktueel, nog meer so as dit nie net ‘n enkele teks is nie, maar ‘n uitvoerige stuk lering wat in drie evangelies voorkom!

NIE SO INGEWIKKELD!

Daar is min Skrifgedeeltes wat tot soveel uiteenlopende interpretasies aanleiding gegee het. Tog is die hoofboodskap eintlik baie duidelik en eenvoudig! (al sou mens bly verskil oor sommige van die detail)

Die agtergrond van Jesus se uitsprake is baie insiggewend. Die dissipels het ‘n onmiddellike koms van die koninkryk verwag!* Dinge gaan nou gebeur! Jesus het mos so pas triomfantelik as Koning, Jerusalem binnegery! (Lukas 19) 

VERWOESTING VAN JERUSALEM EN DIE WEDERKOMS

Jesus se hoofdoel met hierdie rede is om hulle verkeerde verwagtings reg te stel en hulle aandag te kanaliseer op wat belangrik is in hierdie tyd voor die finale koms van die koninkryk. Vir die korrekte verstaan van hierdie gedeelte is dit belangrik om raak te sien dat Jesus se woorde rofweg oor twee gebeurtenisse handel : Verwoesting van Jerusalem (wat gebeur het in 70 nC) en Sy wederkoms! Dis twee gebeurtenisse wat deur ‘n lang tydinterval geskei word, maar die dissipels en eerste Christene het dit natuurlik nie besef nie. So ‘n gemengde en verweefde tema is vir ons ‘n vreemde manier van praat, maar dit maak sin as mens iets verstaan van die manier waarop die Ou Testament en spesifiek die profete oor God se werkinge in die geskiedenis praat... Volgens hierdie manier van dink volg God se oordele en reddingsdade sekere patrone, want dis dieselfde God wat dwarsdeur die geskiedenis werk. Daarom byvoorbeeld word die verlossing uit Egipte, die eksodus ‘n model vir alle verlossingsdade van God, ja ook vir die verlossingswerk van Jesus! Ook in God se oordele is daar duidelike patrone sigbaar wat telkens weer herhaal word tot en met die finale oordeel.

Die eerste tema is dus die val van Jerusalem en verwoesting van die tempel. ‘n Gebeurtenis van ontsagwekkende ingrypende groot betekenis. Dit was God se oordeel oor Israel omdat hulle Jesus verwerp het. “Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: "As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor. Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie." (Lukas 19:41-44) 

Jesus wil verder nog iets belangriks sê : Die oordeel oor Jerusalem gaan ‘n skrikwekkende en dramatiese gebeurtenis wees, maar onthou dis nog nie die end nie! Pasop vir verkeerde voortydige gevolgtrekkings! Die stad en die tempel gaan wel verwoes word, maar die kerk en haar getuienis gaan voort. Dit gaan vervolging meebring en dit gaan volharding en waaksaamheid vra. Dit opsigself sou vir die eerste dissipels ‘n vreemde gedagte wees. Hulle sou dink :”Ons is mos die mense van die Messias, die Christus, ons gaan triomfeer en oorwinnaars wees! Maar wat nou, nou hoor ons van vervolging en verdrukking, hoe werk dit?” Hier kom ons dan by die verdere en groot doel van Jesus se rede. Om sy volgelinge voor te berei en te bemoedig vir die moeilike tye wat kom. Sy fokus is eintlik gerig op die tyd van wag vir die finale koms van die koninkryk.

GEEN TYDSROOSTER NIE

Jesus voorsien nie ‘n kalender met datums nie, maar ‘n wye omvattende prentjie. Die wederkoms word in terme van kosmiese tekens beskryf – son, maan, sterre. Die see word ook in besonder genoem, want in die antieke wêreld en veral vir Israel het die see geweldig vrees ingeboesem. Dit gaan dus oor meer as net letterlike tekens, eerder ‘n beskrywing van die geweldige katastrofale, verbysterende en aardskuddende karakter van Jesus se koms. Dit gaan iets wees sonder weerga. Gewone taal is nie genoeg nie. Die impak is bonatuurlik en angswekkend groots. Iets van die angs en verslaendheid waarmee Harvey en Irma gepaard gegaan het... maar nog baie meer! Daarom is gebeure soos Harvey en Irma inderdaad 'n aanmaning ("reminder") en wekroep om gereed te wees vir die laaste angswekkende GROOT DAG!

Jesus beklemtoon ook die dringendheid, sekerheid en nabyheid van die gebeure.  Hierdie dinge is nie teorie, bangmaakstories of studeerkamerpraatjies nie, maar werklikheid! Vers 32. “Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal al hierdie dinge gebeur.” Natuurlik het dit betrekking op die val van Jerusalem wat in die leeftyd van daardie geslag gebeur het. Maar daarmee saam word die werklikheid van sy wederkoms ook onderstreep. Een moontlike manier om hierdie teks te verstaan is dat dit wil sê : “In hierdie geslag nog sal hierdie dinge beslis begin gebeur, die geskiedenis het in beweging gekom en is onvermydelik op pad na die finale oordeel en wederkoms!***

PASOP!

In die lig van die werklikheid van sy koms, kom Jesus met ‘n dringende waarskuwing en oproep! Dit bring ons by die klimaks van sy boodskap! "Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos ‘n vangnet oorval nie. Daardie dag sal skielik op al die bewoners van die hele aarde neerkom. Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn." (34-36) 

Hoe uiters noodsaaklik vir die kerk van ons tyd om dit te hoor! 

Pasop, wees waaksaam, wees op julle hoede - veral vir twee dinge: Plesier en Bekommernis! 

Dit lei mens se aandag af, dit stomp mens af vir die werklikhede van die aanbreek van die koninkryk en gaan veroorsaak dat mense nie gereed gaan wees as Jesus kom nie! Want onthou niemand weet wanneer Hy gaan kom nie!**** Dis wat ons sien gebeur. Ons mense word meegesleur en geokkupeer deur so baie dinge... Daar is ‘n oorweldigende spyskaart van plesiere en oordadigheid! Daar is ‘n oordonderende las van bekommernisse en kwellings. Die gevolg is? Ons is altyd net té besig... met een of ander sport of vermaak...met ‘n eindelose gerondhardloop om finansiële sekuriteit te probeer verseker.

IN BIDDENDE AFWAGTING

Positief, is Jesus se opdrag – bid! Dis sy raad vir die eindtyd! 

Mense wat gereed wil wees vir Jesus se koms sal erns met gebed maak. Mense wat die wederkomsboodskap glo, gaan nie hulle lewe wy aan plesier, bekommernisse, berekenings (en stryery) nie , maar aan gebed!

Die kernboodskap en fokus van Jesus se profetiese woorde is baie duidelik : Nie berekenings nie, maar paraatheid. Nie ’n tydskema nie, maar ‘n benadrukking en onderstreping van die werklikheid van ‘n wêreldeinde, van ‘n oordeel, van ‘n dag van afrekening en beloning! Nie soseer ‘n toekomsprofesie nie, maar onderwys in Christelike gedrag tydens die tyd wat ons wag. Getrouheid in die interim tyd voor Sy koms! Hierdie getrouheid sal veral waaksaamheid en gebed behels!

VOETNOTAS

*Selfs na Jesus se opstanding het hulle nog steeds so ‘n onmiddellike verwagting van die koninkryk se koms gehad en Jesus moes hulle weer reghelp in hulle verkeerde verstaan van dinge. “Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: "Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?"Hy het hulle geantwoord: "Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld." (Handelinge 1:6-8)


** Psalm 46:2-4; 65:7; 89:9; 107:23-32 Sien die rol van kosmiese tekens in die Ou Testament in Jesaja 13:7-13; 24:18-20; 33:9; 34:1-15; Jeremia 4:23-26; Esegiël 32:7-8; Daniël 8:10; Joël 2:10, 30-31; 3:15; Amos 8:9; Nahum 1:4-5; Haggai 2:6, 21

*** Daar is natuurlik baie pogings om die term “hierdie geslag” op ‘n ander manier te verklaar, maar dis nie baie suksesvol nie. In die Nuwe Testament beteken “hierdie geslag” normaalweg die geslag van die skrywer of spreker. Die hoog aangeskrewe geleerde D.A. Carson stel dit so : “‘This generation’ . . . can only with the greatest difficulty be made to mean anything other than the generation living when Jesus spoke.” ‘n Interpretasie wat “hierdie geslag” so verstaan en ernstige oorweging behoort te geniet is as volg : It takes the verb γένηται as an ingressive aorist. The same verb is found in all three Synoptics and is translated “takes place” (Matt. 24:34; Mark 13:30; Luke 21:32). As an ingressive aorist it emphasizes the beginning of the action with the meaning “begin to take place.” All those things would begin in that generation and find their ultimate completion at the Second Advent. This fits with the idea of not being deceived by the events mentioned in Matthew 24:4-8. The Lord specifically referred to these as “the beginning of birth pangs” (v. 8). [Stanley D. Toussaint, BibSac 161:644 (Oct 2004) p. 483-86] Lukas 21:32 sou ook so vertaal kon word : “Amen/voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal beslis/glad nie tot ‘n einde kom voordat/totdat al hierdie dinge (begin) gebeur het nie.” My Gereformeerde broer Janré van Jaarsveld het met die vertaling gehelp.

**** Matteus 24:36 "Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.” En die ironie is, ten spyte van hierdie duidelike uitspraak hou mense aan om die tyd te probeer bereken!