BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Biografiese skets. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Biografiese skets. Wys alle plasings

Woensdag 12 November 2014

HAPPY LIFE

- Hannah Whitall Smith se geheim van “heiligheid en geluk” wat toe al die tyd ‘n leuen was!



Die verhaal van Hannah Whitall Smith (1832-1911) is in meer as een opsig ‘n enorme tragedie. Haar drie oorlewende kinders (vier sterf vroeg) se lewens illustreer dit op hartseer en skokkende wyse. Die een dogter raak betrokke in ‘n buite egtelike verhouding en verlaat haar man en kinders. ‘n Ander dogter trou met die bekende ateïs Bertrand Russel en die huwelik loop ook op die rotse. Haar seun is ook nie ‘n Christen nie. Dit alles sou mens nog as beproewings kon verklaar... Maar erger is dat dit met Hannah se eie huwelik ook alles behalwe goed gaan. Haar man Robert het ‘n beroemde prediker geword in Europa en ‘n groot rol gespeel in die “higher life movement.” Hy het alleen sonder sy vrou gereis en in morele skande verval. Hannah het in die ongelukkige huwelik aangebly, maar haar briewe getuig van ellende. Hierin het sy met haar self opgelegde seksuele onthouding en feminisme beslis ‘n groot bydrae gelewer om die huwelik onder permanente druk te plaas tot met Robert se dood in 1898.

Die grootste tragedie is dat hierdie einste Hannah Whitall Smith deur baie gesien word as ‘n geestelike reus en haar deurmekaar teologie as die geheim van ‘n dieper geestelike lewe! Haar klassieke werk, “The Christian’s Secret of a Happy Life” het vir baie die standaard handboek geword vir ‘n dieper geestelike lewe van oorwinning. Dit is ‘n sombere herinnering (en gepaste waarskuwing) dat titels van boeke nie noodwendig die waarheid omtrent die inhoud daarvan reflekteer nie! G. Richard Fisher noem dit ‘n boek, “that overpromises and underdelivers and still sells well despite its 1875 publication date.” Die Smiths se uiters ongelukkige lewe, maak ‘n bespotting van die resep vir ‘n “Happy Life”! Hulle diep “ongelukkigheid” strek egter baie verder as persoonlike omstandighede en sondigheid. Hannah het later ‘n vorm van dwaalleer naamlik universalisme (dat almal uiteindelik gered sal word) geleer en Robert het ‘n afvallige en agnostikus geword.

Smith se heiligmakingsteorie is ‘n soort van passiewe en heiligheidsleer toegedraai in mistisisme. Dit leer ‘n tipe van “oorgawe” aan God wat die gelowige passief maak. Haar boek vorm een van die fondasies van die Keswick teologie. Dit druis in teen die duidelike lering van die Skrif dat heiligmaking ‘n voortdurende stryd is waarin die gelowige aktief betrokke is om sonde deur die krag van die Heilige Gees uit te roei. (Hiermee word hoegenaamd nie beweer dat almal wie se name aan die Keswick konferensies gekoppel word, ketters was of is nie! Dis eerder 'n kwessie van gebrekkige en verwarrende lering deur mense wat baie erns gemaak het met heiligheid en toewyding)

As Hannah Whitall Smith se mislukkings ons een ding kan leer is dit om nie enige teorie op ander se (beweerde) persoonlike belewenisse of ervarings te bou nie, maar erns te maak met deeglike Skrifuitleg! (kliek op SKRIF ALLEEN)

Vir meer oor die Smiths kliek op UNHAPPY 

Vir ‘n gebalanseerde bespreking van Keswick Teologie kliek op KESWICK  

Vrydag 01 Februarie 2013

WAARLIK VRY!

– die laaste sigaret.

[Ek is besig om ‘n boek te skryf oor die lewe van my Pa, Johan de Koning wat laasjaar oorlede is. Vir meer kliek op ONS BEGRAWE PA. Ek beoog om so van tyd tot tyd uittreksels daaruit op hierdie webjoernaal te plaas.]

Na matriek het Johan de Koning  by die Tabakkoöperasie op Patensie in die Oos-Kaap gaan werk. Seker baie aangename werksomstandighede vir ‘n groot roker soos hy!  Sy  hoërskoolvriend, Eugene Toerien het hom egter vertel van werksgeleentheid in die Aartappelraad en so het hy in 1952 in Pretoria by dié te lande gekom. Spoedig sou dit baie duidelik word dat God dit so beskik  en ‘n besondere afspraak daar met hom gehad het.  So ‘n ontmoeting was baie nodig voordat God Johan sou kon gebruik vir sy lewenstaak as sendeling wat voorgelê het. Ja, hy het weliswaar ‘n goeie paadjie in Pretoria probeer bewandel. Hy was aktief betrokke by kerklike dinge as Sondagskoolonderwyser en diaken en was in Christelike kringe bekend as Christen, maar diep in sy hart was daar onsekerheid. Kragteloosheid. Dan was hy ook nog vasgevang in die rookgewoonte wat al op ‘n jong ouderdom begin  en hom meer as eenkeer in die moeilikheid laat beland het.  Maar al die moeilikheid, selfs ook nie ‘n pakslae met ‘n bandolier kon hom van die gewoonte bevry nie.  Johan het wel probeer om ‘n stryd teen die verslawing te voer en kon soms tot  5 maande uithou,  om dan maar net weer te begin en erger te rook .  Teen hierdie tyd het hy daagliks ‘n groot klomp Kommando sigarette en tussenin in nog pyp ook gerook.

Johan was besig met sy finale jaar CIS (Chartered Institute of Secretaries)  studies en die eksamen was voor die deur.  Dit was ‘n Donderdagaand. Terwyl hy besig was om sy werk deur te gaan, wat hy gemeen het dat hy goed ken, het iets vreemds gebeur. Dit was asof elke deel wat hy deurgaan eerder uitgewis word uit sy geheue. ‘n Bewustheid van sonde het oor hom gekom en hy het sy onreinheid besef. In sy nood vat Johan die Bybel. Dit  het oopgegaan by Romeine 7.  Hier lees hy onder andere in vers 19 “Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, doen ek” Hy het besef, hy het geen krag tot oorwinning oor die sonde nie.

In hierdie toestand van radeloosheid het Johan besluit om na die konferensie op Kaalfontein,  die plaas van oom Lardus Erasmus te gaan. (Oom Hansie Kleynhans, ‘n vriend  en ook by die Aartappelraad werksaam het hom alreeds hierheen uitgenooi.  Johan het egter die studies as verskoning voorgehou.)  Vrydag oggend het hy op sy fiets geklim, werk toe gery en vir oom Hansie gaan sê: “Oom Hansie, ek ry saam.” Daar in oom Hansie se  kantoor by die Aartappelraad het hy nog ‘n laaste sigaret gerook, sonder om te besef dat dit die laaste sigaret in sy lewe sou wees!

By die konferensie was daar pragtige Christen mense en leiers soos  Prof. H.D.A. du Toit, Dr. O’Brien Geldenhuys, Ds. Bennie Buys, Ds. Gerhard Cruywagen, Oom Dries Steyn en nog ander.  Almal was vrolik en vriendelik.  Niemand kon sy innerlike stryd sien nie.  Met sy kennis van die jeug het Oom Dries Steyn dalk iets vermoed.  Op sy vraag: “Johan de Koning, ken jy die Groot Koning?” het Johan wel positief geantwoord en toe sê hy: “Ek sien jou April DV  by Winklespruit se CSV kamp.” 

Duidelik praat die Here met Johan uit die preek van Dr. Geldenhuys oor die oes wat groot is en die arbeiders  wat min  is uit Matt 9:35-39, en sluit af deur te sê: “Daar eenkant staan ‘n tent, as iemand voel die Here het met hom gepraat, gaan daarheen en praat met die Here.”

Gou was hy in die tent, maar twee dames was voor hom daar.  Hy  wou egter alleen wees met die Here.  Hulle drie het eers saam gebid en toe hulle uit is was sy gebed omtrent iets soos: “Here, ek wil krag hê om u te dien.” Hy het ook sonde bely en gesê, hy sal dinge gaan regmaak as hy by die huis kom.

Al het Johan nie presies  geweet wat hy vra nie, het die Here geweet wat Hy wou gee.  Daardie dag,  3 Oktober 1954 het die Heilige Gees besit geneem van sy lewe en het 2 Korintiërs 5:17 vir hom waar geword: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel, die ou dinge het verby gegaan, kyk dit het alles nuut geword.”

Johan het borrelende vreugde beleef.  Mense kon dit raak sien.  Oom Hansie wat eintlik vroeër wou ry, vra  toe of  hy nie wil bly om ‘n getuienis te gee nie. Van iets soos ‘n getuienis het Johan min geweet, behalwe dat "sektes" getuig.  “Die Here het my geseën,” was min of meer wat  hy gesê het, tog het die mense op sy gesig gesien dit wat in woorde nie gesê is nie. Dit was die eerste van baie getuienisse wat sou volg.


Die volgende oggend op pad terug in die motor na Pretoria terwyl hy diep ingedagte al die gebeure weer sit en deurleef vra oom Hansie: “En toe, wanneer koop jy vir ons weer sigarette?”  Johan antwoord verbaas: “Haai Oom, dit is nou drie dae wat ek nie meer gerook het nie!” Nooit weer het hy gerook nie. Baie jare later sou hy nog steeds kon getuig dat Johannes 8:36 die waarheid is: 

“As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” 



Saterdag 05 Januarie 2013

PLAASARBEIDER MET 'N PASSIE

- Praying Johny 


Die Quarterly Meeting van die Primitive Methodist Connexion, gehou in Bridlington, 1823 moes ‘n belangrike besluit neem. Die evangelisasiewerk in die dorpie Filey, in die noorde van Engeland was in die weegskaal. Alle pogings om in hierdie goddelose dorpie ‘n impak met die evangelie te maak het misluk. Die inwoners het verhard en onverskillig gebly. Miskien het die tyd gekom om waardevolle werkers na ander gebiede wat meer ontvanklik was te verskuif.   

Praying Johny, oftewel John Oxtoby het na die argumente geluister. Sy hart vol medelye is diep geraak deur die moontlikheid dat hierdie dorp so aan ongeloof oorgelaat moes word. Toe sy opinie gevra is, het hy passievol gereageer : “What do I think? I think the Lord has a great work tot do at Filey, and if you will send me I will go and live upon potatoes and salt, and lie on a board if necesarry before it shall be given up.”

Oxtoby se aanbod is aanvaar, en hy het met sy karige besittinkies in ‘n sak die pad gevat na Filey toe. Toe een van sy vriende hom vra waarheen hy gaan het hy geantwoord : “To Filey, where the Lord is gannin to revive his work.” 

Toe Johny die dorpie in sig kry, het hy op sy knieë agter ‘n heining neergeval en by God begin pleit vir die plek. ‘n Paar uur later het ‘n meulenaar toevallig daar verby gegaan en vreemde geluide gehoor agter die heining. Dit het vir hom geklink soos twee persone wat  in ‘n argument betrokke was. Johny het soos Jakob van ouds met God geworstel totdat hy seker was dat God hom verhoor het. Terwyl hy van sy knieë opstaan het hy uitgeroep : “It is done Lord, it is done! Filey is taken! Filey is taken!” Dit was inderdaad die geval.  ‘n Herlewing het in Filey uitgebreek.

Wie was hierdie merkwaardige gebedstryder, John Oxtoby? Geen geleerde nie, maar ‘n eenvoudige plaasarbeider. Hy is gebore in 1767 op ‘n plaas by Little Givendale naby York. As ‘n kind van plaaswerkers het hy slegs basiese skoolopleiding ontvang. Vir baie jare het  Oxtoby ‘n lewe sonder kennis van God geleef, maar in 1804 het sy koers drasties verander. Deur die woorde van ‘n rondreisende Metodiste prediker is sy gewete aangespreek. So ontsteld was hy dat hy nie kon slaap of eet nie. Hy het tot God geroep vir genade. Hy het nie onmiddellik ‘n antwoord ontvang nie. Eers na ‘n langdurige stryd van etlike maande het hy die versekering van God se vergifnis deur Jesus Christus gekry. Nou  het sy begeerte om hierdie vreugde met familie en vriende te deel, geen perke geken nie. Sy pogings is met vyandskap en onverskilligheid begroet, maar het tog later begin vrugte afwerp weens sy volharding.

Die dramatiese verandering in Oxtoby kon ook nie misgekyk word deur die mense van die dorpie, Warter nie. Johny het elke huisie en gehuggie besoek. Aanvanklik is die deure dikwels in sy gesig toegeklap, maar gaandeweg het daar verandering gekom. Johny het opregte belangstelling in die huismense se nood en probleme getoon en altyd saam met hulle gebid. So het hy die bynaam, “Praying Johny” gekry. Die mense van Warter het spoedig ook verlang om hulle eie kerkgeboutjie te hê, en dit was Johny self wat ‘n geskikte stuk grond geskenk het sowel as ‘n bydra vir die oprigting van ‘n gebou. Vir die volgende 15 jaar het Praying Johny persoonlik evangelisasiewerk gedoen in die dorpies van Oos Yorkshire. Hy het in assosiasie gewerk met die Weslyaanse Metodiste, maar het steeds sy beroep as plaaswerker beoefen.

Op 52 jarige leeeftyd het Johny by die Primitive Methodists aangesluit. Dit was ‘n groep wat ontstaan het vanuit die werk van Hugh Bourne, William Clowes en Daniel Shubotham. Dit was  manne met ‘n passievolle geestelike energie. Op hierdie tydstip het die oorsponklike Metodiste baie van hulle eertydse vuur verloor en Bourne en sy vriende is uitgeskop uit die plaaslike Methodist Society weens hulle aandrang op evangelisasie metodes wat nie vir die Society aanvaarbaar was nie. In 1812 het hierdie manne en talle van die gelowiges wat die resultaat van hulle prediking was ‘n nuwe assosiasie gevorm. Hulle het die naam, Primitive Methodists gekies as ‘n uitdrukking van hulle begeerte om iets te herwin van die evangeliese ywer wat voorheen by die Wesley broers, George Whitefield en ander vroeëre Metodiste aanwesig was.

Benewens die gawe van gebed, het Praying Johny ook die verwante gawe van geloof gehad en baie verhale het die rondte gedoen van merkwaardige antwoorde wat hy op sy gebede ontvang het. Een so ‘n verhaal gaan oor ‘n meneer Stephenson van Hull wat in groot angs verkeer het oor ‘n  skip van hom wat nie op die verwagte tyd teruggekeer het nie. Verlies van die skip sou groot skade meebring, maar om als te vererger was sy eie seun ook aanboord van die skip. Hy het sy probleem met Johny gedeel, wat homself gewend het tot vas en gebed oor die saak. Na ‘n tyd het God aan Johny die innerlike sekerheid gegee dat als goed sou afloop en dat die vaartuig en almal aan boord veilig sou wees.  Johny het met die oog van geloof, die skip “gesien”. So seker was hy van sy saak dat hy vir Stephenson verseker het dat hy die skip sou herken as hy terugkeer sonder dat hy dit self ooit met sy fisiese oë gesien het. Weke het verbygegaan sonder enige nuus. Einde ten laaste het die skip teruggekeer. Stephenson het Johny laat haal en hom gevra of hy die skip sou kon uitwys tussen die honderde ander in die hawe. Johny het hulle deurgekyk en skielik uitgeroep : “That’s the ship which God had showed me while at prayer! I knew she would come home safely and that I would see her.”  Hy was reg!

John Oxtoby was ‘n gedetermineerde sielewenner. Sy joernaal gee duidelike bewyse van die genade en krag van God wat gepaard gegaan het met sy prediking en ‘n ryke oes van bekeerlinge tot eer van God opgelewer het.

Soos Johny geleef het, het hy ook gesterf. Hy wat naby Jesus geleef het, het  ook sy  Verlosser se teenwoordigheid in sy sterwe ervaar. Aan ‘n vriend het hy gesê Christus was “present and precious – wonderfully precious to my soul.” Vir ‘n ander vriend : “Tell them, all the former manifestations I have had are nothing compared with those I now feel.”  Tydens sy lewe het hy ‘n las vir siele gehad wat hom aangevuur het om in gebed in te tree.  Met sy laaste kragte het hy nog fluisterend gebid : “Lord, save souls : do not let them perish” Sy finale woorde was : “Glory, glory, glory.”  Op 19 Januarie 1830 het Praying Johny in die heerlikheid van sy Heer ingegaan! Hy is in Warter begrawe.

Sal hierdie nederige kneg van God se lewe ons nie tog ook aanspoor om hierdie jaar volhardend in gebed voor ons Verlosser te leef nie?

Verwerk uit “SINGING IN THE FIRE” van Faith Cook. Die boek bevat ook wonderlike verhale van minder bekende geloofshelde soos Edward Payson, Wang Ming-Dao, Thomas Hogg, William Bramwell, Allen Gardiner, die Saphir familie en andere.


Maandag 12 Maart 2012

VASBYT BRING VREUGDEVOLLE VRUG

- die merkwaardige volharding van Charles Simeon.

Almal wat vir die Here werk ervaar soms ernstige moedeloosheid. Dis sulke tye wat mens vir jouself sê : “Laat iemand anders maar ouderling vir hierdie wyk wees, kry tog maar ’n ander Sondagskoolonderwyser in my plek of laat hierdie gemeente vir hulleself maar elders ’n predikant soek! Ek is moeg vir kritiek, ek is sat vir lek en trek.” Tou opgooi word dan ’n ernstige opsie!

Wanneer moedeloosheid ons werk vir die Here bedreig, is dit tot groot hulp as mens bietjie terugdink aan al die oposisie en teleurstellings wat vorige knegte van God in die geskiedenis moes oorkom. Dink maar aan die onregverdige behandeling en verwerping wat ’n Johannes Calvyn en ’n Jonathan Edwards moes deurmaak. Ons gaan egter nou bietjie terugdink aan 'n ander  uiters merkwaardige voorbeeld van volharding naamlik, Charles Simeon. (Sy lewe spreek my persoonlik aan.)

Charles is gebore in 1759. Sy vader was welaf, maar nie ’n Christen nie. Sy moeder is vroeg oorlede. Charles het sonder ’n verhouding met Jesus Christus grootgeword. Op die ouderdom van 19 is hy na die Universiteit van Cambridge en dis hier waar God radikaal in sy lewe ingegryp het. Dit het op ’n ongewone manier gebeur, want daar was destyds nie juis ander bekeerde Christene op hierdie universiteit nie. Na Charles se bekering het hy blykbaar vir drie jaar lank nie ’n ander kind van God op kampus raakgeloop nie.

So het sy bekering plaasgevind : Drie dae na sy aankoms op Cambridge in Januarie 1779 het hy gehoor dat hy nagmaal moes gebruik. (Soos dit ’n goeie Anglikaan seker betaam het) Dit het Charles groot laat skrik, want hy het besef dis baie gevaarlik vir hom om die nagmaal te gebruik omdat hy Christus nie as Verlosser geken het nie. Desperaat het hy begin lees en homself probeer verbeter. Alles het niks gehelp nie en hy het daardie Nagmaal as ’n onbekeerde gebruik. Met die begin van die Pase in 1779 het hy egter ’n kind van God geword. So vertel hy in sy eie woorde wat gebeur het:

In Passion Week, as I was reading Bishop Wilson on the Lord's Supper, I met with an expression to this effect - "That the Jews knew what they did, when they transferred their sin to the head of their offering." The thought came into my mind, What, may I transfer all my guilt to another? Has God provided an Offering for me, that I may lay my sins on His head? Then, God willing, I will not bear them on my own soul one moment longer. Accordingly I sought to lay my sins upon the sacred head of Jesus; and on the Wednesday began to have a hope of mercy; on the Thursday that hope increased; on the Friday and Saturday it became more strong; and on the Sunday morning, Easter-day, April 4, I awoke early with those words upon my heart and lips, 'Jesus Christ is risen to-day! Hallelujah! Hallelujah!' From that hour peace flowed in rich abundance into my soul; and at the Lord's Table in our Chapel I had the sweetest access to God through my blessed Saviour.*

Het jy al jou sonde op die Lam van God gelê?

Simeon se bekering na die lees van biskop Wilson se boek het ’n dramatiese verandering in sy lewe tot gevolg gehad. Sy uitspattige lewensstyl het plek gemaak vir eenvoud en toewyding. Hy het dadelik begin om die evangelie aan sy diensmeisie oor te dra. As hy huistoe gegaan het, het hy vir die familie huisgodsdiens gehou. So het sy twee broers ook Jesus gevind. In sy privaat lewe het hy ’n patroon van sterk dissipline in gebed gevolg. Natuurlik het dit nou nie beteken dat Charles oornag volmaak was nie. Hy moes veral ’n stryd voer teen hoogmoed en voortvarendheid wat so eie was aan hom.

Net toe Charles sy studies voltooi het is die leraar van Trinity Church in Cambridge oorlede. Dit was in Oktober 1782. Charles het dikwels verby hierdie kerk geloop en vir homself gesê : “Hoe bly sal ek wees as God my hierdie kerk gee sodat ek die evangelie hier kan preek en ’n boodskapper vir Hom kan wees in die Universiteit.” Sy wens het waar geword toe biskop Yorke hom aangestel het. Sy eerste preek hier was op 10 November 1782.

Dit klink dalk wonderlik, maar die harde werklikheid was dat die gemeentelede glad nie vir Charles Simeon daar wou gehad het nie! Hulle het die assistent kurator Mnr. Hammond verkies! Simeon was gewillig om afstand te doen van sy pos, maar die biskop het verklaar dat hy nie vir Mnr. Hammond sal aanstel nie. Die gevolg?

Charles het vir 54 jaar in die gemeente volhard!

Dit was nie ’n maklike pad nie! Slegs oor ’n tydperk van jare se getroue arbeid het hy die teenstand van die mense oorkom!

Uiteindellik het hy ’n merkwaardige geseënde bediening en invloed gehad. Hy was ’n kragtige stem vir die evangeliese invloed in die Anglikaanse kerk en sy posisie by die universiteit het veroorsaak dat hy jong evangeliese studente vir die kerk kon werf. Hy het ook ’n hart vir sending gehad en was die geestelike vader van die beroemde Henry Martyn. Hy was betrokke by die Church Missionary Society, die British and Foreign Bible Society en die Society for Promoting Christianity among the Jews.. Sy grootste invloed was egter deur sy jarelange getroue Bybelse prediking.

Al hierdie vrug het gekom ten spyte van die ergste verwerping en vervolging denkbaar.

Volharding bring vrug!

Ons moet net aanhou met die werk wat God ons gegee het! (in ons gemeente, in ons huis, in ons werkplek)

Simeon leer met sy lewe vir ons ’n les om vas te byt en te volhard te midde van die sterkste teenstand. Ons moenie emosioneel pieperig wees en sommer gaan lê as dinge rof raak nie!


Kom ons kyk bietjie na die erge teenstand wat hy moes verduur:

Die eerste ding was Simeon se gemeente gedoen het om die lewe vir hom moeilik te maak was om die tweede Sondag lesing (amper iets soos ons aanddiens) aan Mnr Hammond toe te ken. Dit was in hulle mag. Vir 5 jaar het Mnr Hammond hierdie byeenkoms hanteer. Toe hy uiteindellik weg is, vra die gemeente ’n ander man om dit waar te neem, vir die volgende sewe jaar! Eers in 1794 (na 12 jaar!) kry Simeon die geleentheid om die tweede diens in sy eie gemeente te hanteer! Dink net hoe sal ’n leraar voel as die gemeente iemand van buite af kry om die aanddiens in sy plek te hou, net omdat hulle nie van jou hou nie! Simeon het wel op ’n stadium probeer om later in die Sondag nog 'n diens te hou en die dorpsmense het gekom, maar toe het die kosters die deure gesluit!

Die tweede groot vyandige aksie wat die gemeente teen Simeon gevoer het was om die kerkbanke (pews) te sluit. Die “pewholders” het geweier om kerk toe te kom, maar ook geweier om ander mense in hulle persoonlike banke te laat sit. Simeon het toe op sy eie koste ander sitplekke laat inrig in die paadjies en hoeke van die kerk! Hierdie sitplekke is egter uitgevat en in die kerk se werf gegooi! Die rekords wys, in 1792 het Simeon ’n hofbvel gekry dat die “pewholders” nie onbepaald hulle banke kan sluit en wegbly nie. Maar hy het dit egter nie afgedwing nie.

Simeon het nie met geweld opgetree nie, maar eerder deur ’n standvastige bediening van die Woord, gebed en getuienis in die gemeenskap die teenstand teen hom oorwin.

Moet egter nie dink dat alle teenstand na 12 jaar verdwyn het nie. Na dertig jaar in die bediening was daar nog steeds teenstanders wat die lewe vir hom moeilik gemaak het. In 1812 skryf hy aan ’n vriend : "I used to sail in the Pacific; I am now learning to navigate the Red Sea that is full of shoals and rocks." In 1816 kon hy darem skryf dat daar vrede is en dat die kerk beter bygewoon word as ooit tevore!

Hoe het Charles Simeon dit reggeky om ten spyte van soveel teenstand te volhard? John Piper noem ’n paar dinge. Daar was twee kernredes vir sy volharding:

1) ’n Toegwyde Gebedslewe. ’n Vriend, wat vir ’n paar maande saam met hom gebly het vertel dat Simeon 4 uur in die oggend opgestaan het en die eerste vier ure van die dag aan gebed en die bestudering van die Woord gewy het!

2) Hy het toegeneem in nederigheid en gegroei in sy bewondering en aanbidding van Jesus. Hy was voortdurend en ernstig bewus van sy sonde, maar ook bewus dat hy net op grond van Jesus se werk by God aanvaarbaar is.

Daar was ook ander eienskappe en beginsels wat Simeon staande gehou het (en wat ons ook kan toepas):

1) Hy het ’n sterk verantwoordelikheidsgevoel gehad vir sy kudde voor God of hulle van hom gehou het of nie.

2) Hy het nie dat gerugte ( "rumours") hom onderkry nie. “Die mense sê” is nie iets waaraan hy hom gesteur het nie!

3) Sy prediking selfs te midde van teenstand was nie byterig nie. (Dis ’n slaggat waarin ’n leraar so maklik kan val. As mense my kwaadmaak, dan kom ek hulle by vanaf die kansel! Pasop hiervoor.)

4) Hy het sy teenstanders hanteer van aangesig tot aangesig. (Praat dinge persoonlik uit met mense wat jou vyandig gesind is.)

5) Hy kon kritiek en teregwysing hanteer en daaruit leer.

6) Hy kon hoopvol en positief kyk na ontmoedigende negatiewe omstandighede. Hy kon dus die silwerrandjie van die donker wolk raaksien.

7) Hy was onberispelik wat finansies betref en geen liefhebber van geld nie.

8) Hy het sy lyding gesien as ’n wonderlike voorreg om die kruis van Christus te dra.

In April 1831 was Chares Simeon 71 jaar oud. Hy was toe reeds 49 jaar in die gemeente. ’n Vriend, Joseph Gurney het hom gevra hoe hy die vervolging kon oorkom en al die vooroordele teen hom kon oorleef in sy 49 jaar lange bediening.

Sy antwoord was : "My dear brother, we must not mind a little suffering for Christ's sake. When I am getting through a hedge, if my head and shoulders are safely through, I can bear the pricking of my legs. Let us rejoice in the remembrance that our holy Head has surmounted all His suffering and triumphed over death. Let us follow Him patiently; we shall soon be partakers of His victory" *

* Aangehaal deur John Piper uit H.C.G. Moule, Charles Simeon, London: InterVarsity, 1948.

Hierdie is 'n verwerking en opsomming van John Piper se biografiese skets oor Charles Simeon. Lees gerus die volledige skets  by desiringgod.org




Maandag 26 Desember 2011

HERLEWING IN DIE SOUTPANSBERG

Kan God in ons goddelose tye nog steeds kragtig werk en mense harte verander? Ja, beslis! Dis baie belangrik dat die Christelike kerk (en ook ons hier op Tsumeb) sal weet dat niks vir God onmoontlik is nie. In hierdie tye van morele verval, ongeloof en valse teologie is Hy steeds instaat om mense te red en by sy kerk by te voeg. Die kragtige dade van God in die verlede moet ons aanspoor om ook met ’n verwagting te bid vir ’n huidige ruim werking van die Heilige Gees!



Een van die groot ingrypings van God se genade in die verlede in Suider Afrika was die herlewing in die Soutpansberg gebied in 1875-76. Die menslike instrument wat God in hierdie werk gebruik het was Stephanus Hofmeyer, ’n sendeling van die Kaapse NG Kerk.



Eers iets oor sy eie bekering en roeping. Volgens homself het die Here van kleinsaf in sy lewe gewek, maar hy was maar ’n wilde en ongehoorsame kind. ’n Voorperd van die duiwel wat die breë pad van die verderf met al sy krag bewandel het! Later het hy wel vroom en godsdienstig geword en selfs vir die bediendes huisgodsdiens gehou. Diep in homself het hy egter geweet dat hy verlore was, omdat hy nog nie wedergebore was nie. Hy het hom al meer oor sy eie geestelike toestand bekommer.

 

In April 1862 het God met Hofmeyer ontmoet by die stookketel in die kelder op die plaas en het hy kragdadig tot bekering gekom. Hy beskryf dit so : “Terwijl ik zoo stond zeide ik, Ach Heer, wat zal ik doen, ik heb alles geprobeerd en niets helpt, ik kan niet meer bidden of weenen, krij tog voor mij jammer.” Op daardie oomblik was dit asof die hemel en sy hart gelyk oopsprig. Die liefde van Jesus het vir hom ’n werklikheid geword en dit het vir hom gevoel asof hy deur duisend vure na Hom sou kon loop. Die trane het uit sy oë gebars. Hy het uitgeroep : “O, dat ik toch een hoogen berg kon beklimmen en de geheele wêreld toeroepen en verzekeren, dat de Heer Jezus zondaars lieft heeft!”



Na opleiding en ander arbeid vir die Here is hy op 21 November 1864 in die kerk op Stellenbosch vir sendingwerk in die Soutpansberg (in die noorde van Transvaal) afgesonder. Sy veld was die Buyse en die heidene rondom.



Die herlewing wat in 1876 uitgebreek het, het klein en groot aangeraak. Dit het eintlik in die kinderbiduur begin. Terwyl Hofmeyer oor die geskiedenis van Josef gepraat het, het die plegtige stilte hom getref. Toe hy geleentheid vir gebed gee, het daar ’n opgekropte smart losgebars. Een van die dogters het met trane haar sonde bely en gesê : “ons gaan verlore, ons van sovele gebede en genademiddele; ander heidene neem die Koninkryk van die hemele voor ons weg.”



Vanaf 3 Januarie 1876 was die begeerte om God se Woord te hoor so groot dat daar elke dag ’n biduur gehou is. Grysaards, towenaars, moordenaars, hoereerders ens. het saam met kinders gehuil. Selfs vreemdelinge het verbaas erken : “Dié God is die lewende!” ’n Skare pasbekeerde kinders het vir drie dae nie geëet en vir drie nagte nie geslaap nie, maar bidure in die veld gehou en singende rondgegaan.



Hofmeyer was self verras en verbaas oor die groot werk van God. “... ik was aan mijne zitplaats genageld. Ach, heeft God waarlijk mijn gebed... verhoord? Beschaamd zat ik daar verbrijzeld. Nu zag ik het ongeloof dat immer mijn werk aankleefde, nu zag ik de perken ik den Allerhoogsten gesteld had.”



Die invloed van die herlewing was nie net tot die gekleurdes beperk nie. God het ook kragtig in die Blanke gemeenskap gewerk. ’n Sekere diaken Grobler het met ’n biduur op Renosterpoort begin. Eers het ’n bediende tot bekering gekom en toe is die Blankes ook aangeraak. Hele huisgesinne is omgekeer. Hofmeyer het vertel van voetpaaie wat deur bekommerde bidders na die bosse en slote oopgetrap is.



Mag die Here ons tog van ons ongeloof bevry. Kom ons spoor mekaar aan om met passie en ’n verwagting te bid dat God ook nog ’n groot genadwerk in ons dag sal doen!




(Bron : W.L. Maree, Lig in die Soutpansberg)


















Woensdag 14 Desember 2011

HESSIE BOSMAN - SENDINGPIONIER

Die Kaapse NG Kerk se eerste twee buitelandse sendelinge (in Transvaal) was ’n Switser, ds. Henri Gonin en ’n Skot, Alexander Mackidd. Alexander Mackidd is op 41 jarige ouderdom met die 36 jarige Ester Susanna Bosman op 25 Junie 1862 deur ds. Andrew Murray in Bloemfontein in die huwelik bevestig. Sy was die eerste Afrikaner wat buitelandse sendingwerk gedoen het en ook die eerste Afrikaner wat haar lewe in die sendingveld afgelê het.

Hessie is in 1826 gebore en het op ’n plaas naby Worcester grootgeword. Sy het onder die prediking van ds. G.W. Stegmann tot bekering gekom. Tydens die herlewing op Worcester wou sy een aand na ’n byeenkoms op die dorp gaan. Sy is afgeraai om te gaan, aangesien sy baie swak was. Sy het egter geantwoord : “Nee, ek gaan. Ek het soveel daarvoor gebid en daarna verlang, om nou nie te gaan nie? Nee, ek gaan, al kos dit wat.” Sy het toe wel gegaan en was die derde persoon wat die aand gebid het. Tydens haar gebed het die hele skare begin bid. Sy het flou geword en moes na die pastorie gedra word, waar daar gesukkel is om haar by te kry.

Hessie is klaarblyklik op ’n wonderbaarlike wyse deur middel van ’n droom tot die sending geroep. Sy sou in haar droom aan die bopunt van ’n akker ryp koring gestaan het, met ’n sekel in die hand. ’n Stem het beveel : “Sny!” Sy het haar oë oor die koringland laat gaan en sugtend geroep : “Wanneer of hoe sal ek dit alles afgeoes kry?” Die stem het gesê : “Begin maar!” Toe sy buk om te begin oes, het sy wakker geword. Sy was gehoorsaam en het haar lewe van toe af aan die sending gewy. Sy is na Bloemfontein waar sy skoolgehou het vir Kleurlingkinders.


Na hulle huwelik het die MacKidd egpaar in 1862 in Rustenburg aangekom. Hier wou dinge nie vlot nie, maar ’n deur het oopgegaan in die Soutpansberg gebied en in 1863 vertrek hulle soontoe, waar hulle hoofsaaklik onder die Buyse, ’n groep van gemengde afkoms gewerk het. (nasate van die legendariese Coenraad de Buys)

Hoe onverstaanbaar is die Here se weë egter nie! Hessie se gelukkige huwelik en hulle gesamentlike arbeid in die sendingveld was helaas van baie korte duur. Minder as vier maande na hulle aankoms op Goedgedacht in die Soutpansberg het sy siek geword en sterf op 4 Mei 1864. Sy was maar net 38 jaar oud! Die belangrikste is egter, die lewe wat sy geleef het, het sy vir haar Here geleef!

Vir Wie leef jy?


(Bron : W.L. Maree, Lig In Soutpansberg)