- Kateri word ‘n “heilige”.
Verlede Sondag (21 Oktober 2012) het Pous Benediktus XVI, ‘n Indiaanse meisie wat alreeds in 1680 in Quebec, Kanada oorlede is, tot heilige verklaar oftewel gekanoniseer. Catherine (Kateri) Tekakwitha is die eerste inheemse Noord-Amerikaner wat hierdie “eer” te beurt val. Die geskiedenis van Kateri voor haar dood as jongmeisie, maar ook wat na haar dood met haar (nagedagtenis en beendere!) gebeur het, laat mens diep aangeraak, hartseer, maar juis ook met dankbaarheid teenoor God dat Hy die Reformasie van die 16de eeu gebruik het om ons van baie Roomse dwalinge te bevry.
Kateri was die dogter van Kenneronkwa, ‘n Mohawk hoofman en Tagaskouita, ‘n Alogonquin Indiaanse vrou wat tot die Roomse geloof behoort het. Haar ouers is beide oorlede weens pokke en sy het as weeskind by haar oom grootgeword. Sy het die pokke aanslag, wat in daardie jare onder die inheemse bevolking gemaai het, oorleef, maar dit het merke op haar gesig gelaat en haar sig belemmer. In 1667 toe Kateri 11 jaar oud was, het sy met Jesuïte sendelinge in aanraking gekom. Haar oom was gekant teen kontak met hulle, want hy wou nie dat sy ‘n Christen word nie. In die lente van 1675 ontmoet sy vader Jacques de Lamberville en hy begin haar katkiseer. Hy het haar op die ouderdom van 20 jaar gedoop op Paassondag, 18 April 1676. Sy het teenstand van die ander Mohawks ondervind en het op die Jesuïte sendingstasie van Kahnawake, suid van Montreal gaan woon.
Kateri het haarself aan ekstreme selfkastyding onderwerp soos om langdurig te vas, haarself te slaan, met kole te brand, op ‘n bed met dorings te slaap... Dit wil voorkom asof sy van hierdie praktyke vanuit die Mohawk kultuur oorgeneem het. In 1679 het sy die eed van kuisheid afgelê en onderneem om nooit te trou nie.
Die jong Kateri is op die ouderdom van net 24 jaar oorlede. Vanaf haar dood het gerugte van wonderwerke die rondte begin doen. Die Jesuïte by haar sterfbed het beweer dat die pokke letsels op haar gesig heeltemal verdwyn het en kort daarna het mense visioene van haar begin sien. (Eeue later, in 1943 het Pous Pius XII die verdwyning van die pokmerke op Kateri se gesig as ‘n outentieke wonder verklaar.) Vader Chauchetière, wat ook by haar sterfbed was, het ‘n kapel naby haar graf gebou en teen 1684 het pelgrims haar begin vereer.
Daar is aansprake dat relikwieë* wat verband hou met Kateri genesings tot gevolg gehad het. So is ‘n seun, Joseph Kellogg na bewering in die 18de eeu van pokke genees deur ‘n stukkie hout van Kateri se kis. Tot vandag toe is daar mense wat wonderwerke aan haar toeskryf. In 2006 het daar na bewering so ‘n genesingswonder deur haar plaasgevind toe ‘n jong seun, Jake Finkbonner van ‘n potensieël dodelike bakteriese infeksie genees is. ‘n Sekere Suster Kateri (!) Mitchell het ‘n stukkie van Kateri se polsbeen na die seun in ‘n hospitaal in Seattle geneem, wat sy teen sy liggaam gesit het en toe saam met sy ouers gebid het. Jake is nou 12 en het nog steeds mediese aandag nodig, maar sy herstel word deur sommige Rooms Katolieke as ‘n wonderwerk beskou. Dis hierdie wonder wat Kateri laat “kwalifiseer” het vir die status van Heilige** volgens die Roomse vereistes.
In die lig van komende Hervormingssondag, voel dit vir my dat Kateri se lewensverhaal die steeds diepgaande verskille tussen ons as Protestante en die Rooms Katolieke opnuut beklemtoon. Anders gesê, die kort maar veelbewoë lewe van hierdie meisie en die Roomse interpretasie van haar lewe, maak mens opnuut dankbaar vir die kosbare kernwaarhede wat die Reformasie van die 16de eeu vir ons nagelaat het. Kom ons vergewis onsself weer hiervan:
SOLA SCRIPTURA. Die Woord van God alleen is die enigste basis en bron van dit wat ons glo en hoe ons moet lewe. (2 Timoteus 3:14-17) En die Woord is genoegsaam! Sogenaamde of beweerde wonders bewys nog nie dat ‘n bepaalde persoon of lering aan die kant van die waarheid is nie! Valse profete vanaf die Egiptiese towenaars in die tyd van Moses tot die Antichris self is instaat tot buitengewone wonders. (Vgl. 2 Tessalonisense 2:9-12) ‘n Menigte Roomse tradisies soos die rol van Maria, gebruike soos relikwieë of die verklaring van sekere persone as heiliges het geen steun vanuit God se Woord nie!
SOLA GRATIA. Ons word gered uit genade alleen sonder enige menslike verdienste of bydra. (Romeine 3:23,24) Geen selfkastyding of selfopgelegde strafmaatreëls kan my saak by God bevorder nie. Omdat alle kinders van God alleen op grond van sy genade in Jesus vryspraak ontvang het, is ons status gelyk voor God. Ja, die Bybel leer immers duidelik dat alle gelowiges, “heiliges” is in Christus (1 Korintiërs 1:2 OAV). Geen Pous hoef ons eers heilig te verklaar op grond van beweerde wonderwerke nie. Kinders van God, as geheiligdes in Jesus Christus is seker van hulle ewige saligheid op grond van sy soenverdienste en die beloftes van God en hoef nie te wag op een of ander amptelike kerklike bevestiging hiervan nie.
SOLA FIDEI. Redding geskied uit genade alleen deur die geloof alleen. (Efesiërs 2:8) Geloof is ook nie ‘n stuk menslike verdienste nie, maar ‘n leë hand waarmee ons God se geskenk van vergifnis ontvang. Ons geloof en verwagting is gerig op God en dit wat Hyself deur Jesus vir ons gedoen het en nie op besondere mense of sogenaamde heiliges nie. Nog minder is ons hoop op enige goeie werk van ons kant af, terwyl ons die belangrikheid besef dat ons geloof goeie werke as vrug moet voortbring.
SOLUS CHRISTUS. Ons verlossing geskied alleenlik deur Jesus Christus as volkome en unieke Middelaar tussen ons en God. (1 Timoteus 2:5) Roomse teologie en trouens alle ander dwalings en afwykings (soos ook die Hebrew Roots Movement) struikel juis op hierdie vraag : Was Jesus se eenmalige offer aan die kruis volledig genoegsaam vir ons versoening en ewige geluksaligheid? Die sondaar wat besef dat hy vrye toegang tot die genadetroon van God het deur ons volmaakte Hoëpriester, Jesus Christus, het geen verdere behoefte aan hulpmiddels soos rosekranse, relikwieë en heiliges nie. Ons gebede in die naam van Jesus op grond van sy verdienste is genoeg en benodig nie die magiese versterking van stukkies hout en been nie! Inteendeel, alle menslike krukke van verdienste bedreig ons belydenis oor Jesus se algenoegsaamheid en verlei ons maklik om ons oog van Hom weg te neem.!
SOLI DEO GLORIA. Aan God alleen kom alle eer en aanbidding toe. God is gesteld op sy eer - Hy deel dit met niemand nie. Een praktiese implikasie van hierdie waarheid is dat ons Hom slegs sal aanbid op die manier wat Hyself in sy Woord vir ons voorskryf. Watter logiese redes nou ook al deur die Roomse tradisie uitgedink kan word vir die gebruik van relikwieë of die rol van gestorwe heiliges, bly dit vir ons onaanvaarbaar en grens dit aan afgodery, want God het nie opdrag gegee dat ons Hom op sodanige maniere moet aanbid nie.
En wat nou van Kateri? Ek het baie simpatie met haar. Ek hoop dat sy ten spyte van baie mensgemaakte tradisies en onkunde tog die genade ontvang het om haar persoonlike vertroue op Jesus alleen as enigste Verlosser te plaas. Haar laaste woorde voor sy gesterf het, was immers na wat berig word : “Jesus, ek het U lief.” Met die Roomse kerk as instituut het ek egter weinig simpatie. Ek verwyt hulle dat hulle nie die suiwer eenvoudige evangelie van genade in Jesus aan mense soos Kateri duidelik verkondig nie. Ek dink dis afgryslik tragies dat hulle vandag nog waarde kan heg aan onskriftuurlike praktyke soos relikwieë en die verering van heiliges. Maar natuurlik as ek (en ons) hierdie beskuldigings maak, moet ons dit met nederige versigtigheid doen, wetende dat ook ons (as Protestante) so maklik van die voorskrifte van God se Woord afwyk en leringe van mense navolg. Mag God ons deur sy genade van dwaling bewaar!
* Relikwieë is liggaamlike oorblyfsels van heiliges en voorwerpe wat met hulle in aanraking was. Hierdie voorwerpe word dan vereer. Hoe mooi die Roomse Kerk dit probeer regverdig, lei die gebruik van relikwieë ongetwyfeld tot bygeloof en blatante afgodery, om natuurlik nie van uitbuiting van die liggelowiges en onkundiges te praat nie
** Heiliges (gekanoniseerdes) is volgens die Roomse teologie persone van wie die kerk amptelik erken dat hulle in die hemel is. Kanonisering geskied na deeglike ondersoek, wat moet kan bewys dat twee wonders aan die betrokke persoon gekoppel kan word. Om as heilige verklaar te word, het die volgende praktiese implikasies :
So ‘n heilige se naam word geskryf in die katalogus van heiliges.
Die heilige se naam word aangeroep in die openbare gebede van die kerk.
Kerke mag aan God toegewy word ter herinnering aan sulke heiliges.
Die Eugaristie word gevier tot eer van ‘n heilige.
So ‘n heilige se feesdag word deur die kerk gevier.
Op prente van die betrokke heilige word hy/sy met ‘n stralekrans (halo) afgebeeld.
Relikwieë wat met die heilige verband hou word in kosbare houers geplaas en in die openbaar vereer.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.